William Kowalski. Eddie's
bastard. Black Swan, 1999. ISBN 0 552 99859 1.
Resensent: Joan
Hambidge
Dit is die debuutroman van William Kowalski. Eddie's
bastard ondersoek die betekenis en funksie van die familie en hoe die dood van
'n erfgenaam 'n familie kan beïnvloed. Billy word gelaat op die stoep van
Thomas Mann se huis. Thomas Mann se seun is dood in die Vietnamoorlog, presies
drie maande tevore, en nou het hy 'n kleinkind en erfgenaam.
Die roman is baie vlot geskryf. Dit begin met 'n
herinnering uit die jong kind se perspektief. Hier is ook sprake van 'n soort
magiese realisme en die tradisie van die suidelike roman word hier geaktiveer:
spoke wat in huise ronddwaal, die oupa wat aan die kind die familiegeskiedenis
oor en oor vertel, insinuasies van bloedskande en 'n gestorwe vader wat 'n ogie
hou oor die aangenome kind.
Elke roman word ook aangekondig - soos in die negentiende
eeuse ouktoriale roman - met 'n opsomming van die gebeure in die bepaalde
hoofstuk. Die tegniek impliseer dan dat daar 'n instansie is wat die narratief
orden.
Die effek van hierdie soort tegniek is natuurlik ook dat
die leser deurentyd bewus bly van die feit dat daar 'n fiksionele vertelling
voor jou afspeel. Hierom is dit dan makliker om onmoontlike situasies of die
bonatuurlike te laat inspeel. Alles is immers toelaatbaar binne die grense van
die romanvertelling.
Die kind kan sy afgestorwe vader sien en spoke uit die
verlede bewoon die huis. Soos sy Grandpa voor hom, sal die seun ook die nuwe
geslag deur die huis neem. "My life has been made of stories from
beginning to end, and just when it seems one is ending, a new one begins. The
world itself is woven of stories, each man and woman and child of us threading
our own brightly colored tale into the bigger story that was already being told
as we were born, and that will continue to be woven by others long after our
threads have run out"(p. 479).
Wanneer die jong kind ontdek dat hy kan skryf, maak alles
om hom sin. So kan hy die bloedskendige verhouding van 'n vriendin verwerk en
die gemeenskap se vooroordele. Ook sy verhouding met sy oupa word deurgaans
beskryf as die belangrikste relasie van sy lewe.
Daar is uitmuntende passasies in hierdie boek: soos die
geboorte van 'n baba wat die jong kind sien; die beskrywing van 'n meisie se
ambivalente gevoelens jeens die vader wat haar seksueel molesteer; die weergawe
van die geskiedenis van 'n familie. Ook die beskrywings van Montreal is pakkend
en die invloed wat 'n vreemde stad op 'n mens het.
Ook die werklike ouerskap wat teenoor die kind se
fantasie staan, word onthul op 'n manier kenmerkend aan die belydenisroman: die
brief van die ontslape digter los uiteindelik die geheim op. Op die koop toe
word 'n ander familieskelet uitgehaal wat verduidelik wat die norse verhouding
met die Simpsons verklaar.
Hierom die oupa se vrees dat hy sou verlief raak op
Annie.
Die roman sluit ook aan by die Ierse romantradisie, omdat
die Iers-Amerikaanse geskiedenis betrek word. Die Ierse musikante aan die einde
van die verhaal is miskien 'n bietjie opgeplak.
Die roman moes ek lees ten tyde van 'n besige program,
maar telkemale het ek teruggekeer na die vertelling. Dis 'n roman wat vir
bietjies lees waarskynlik die beste werk. Juis omdat die gegewe so ryk is en
daar is vinjette wat lank na die lees bly draai in die gemoed.
Dis Billie se verhaal. 'n Belydenisteks en die einde dui
weer op 'n nuwe begin of sirkel wat voltooi moet word.
Dit is 'n lekkerlees roman en een wat nogmaals bevestig
dat onder draai die duiwels rond in die ou streng gemeenskappe!
En vir 'n debuutroman moet 'n mens die hoed afhaal vir
die skrywer. Dit vergelyk goed met William Styron se Sophie's choice wat die
insig in die menslike psige betref.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]