Showing posts with label André Brink. Show all posts
Showing posts with label André Brink. Show all posts

Sunday, November 15, 2015

Francis Galloway (red.) – Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker (2015)


Francis Galloway (red.) – Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker. Umuzi, 2015. ISBN 9781415208816. R350

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie briewe is deur die skrywer aangebied vir die uitgewer, Fourie Botha. Dit word gekontekstualiseer deur Willie Burger en geredigeer deur Francis Galloway. Met ’n indeks vir die speurende leser wat kan sien wie Jonker se rival was.

Met die aanbod word die onfatsoenlike voyeurisme opgehef – iets wat werklik problematies was toe Anne Sexton se psigoanalis haar terapie-bande aan die New York Times gelek het en agterna, skouerophalend opgemerk het dat dit tog mos alles in die gedigte staan?

Die Jonker-Brink-verhouding is alreeds in Orgie gefiksionaliseer. En synde self ’n skrywer, weet hierdie leser watter komplekse prosesse tussen lewe en teks lê.

Adrienne Rich het immers gevra: “What kind of beast would turn its life into words?”

En dis hoe ek hierdie liefdesbriewe lees: Nie as ’n skandalige onthulling van ’n privaat-pynlike liefdesverhouding wat in die selfdood van die een party geëindig het nie, maar as ’n openbarende psigoanalitiese verslag van hóé mense wat skryf (en in ’n intieme relasie staan) se skryfwerk beïnvloed en gekalibreer word deur ’n wedersydse skryfverhouding. Wat het in die skrywer-Brink se kop aangegaan toe hy in hierdie verbintenis gestaan het? En in die digter-Jonker se gemoed?

’n Mens lees hierdie briewe met die wete dat jy die slot van hierdie mitiese liefdesverhouding ken.

Die briewe is afwisselend sentimenteel (Brink veral) en intieme seksuele besonderhede word verklap. Onthou, Brink het sy briewe op deurslagpapier geskryf en sodoende kopieë bewaar, juis omdat hierdie briewe nie net ’n verslag van ’n liefdesverhouding was nie, maar ook inspirasie was vir hom. Jonker het soms geskryf, soms haar briewe getik. Sekere briewe ontbreek, soos van dié tydens ’n oorsese reis aan haar versend. Sommige opgeskeurde briewe is in die Gerrit Komrij-argief in Portugal en kon nie opgeneem word nie. Die kundige Francis Galloway, kenner van die sestiger-letterkunde, gee ’n goeie verduideliking vir die chronologie en samestelling van dié papierverhouding. Die titel staan in ’n brief van Ingrid Jonker.

Indien ’n mens ’n boek soos hierdie publiseer, weet jy dit gaan kontensieus wees en juis omdat hierdie twee skrywers teen sensuur gekant was, sou ’n gekuiste uitgawe – soos Ted Hughes se versnippering van die Plath-briewe – nie deug nie.

Hoe benader ’n mens hierdie briewe uiteindelik?

Daar gaan vermoedelik twee tipe lesers wees. Diegene wat dit gaan lees vir die vlymbekkige opmerkings van sowel Brink as Jonker oor medeskrywers, die ingebedde skinderpraatjies (hoe dan anders, dit is immers briewe, oorspronklik private gesprekke), vir die storie-agter-die-storie. Daar gaan ook ander wees wat dit gaan benader as ’n tydsdokument en as ’n fassinerende spel tussen twee skrywers se kommentaar op mekaar se werk en die angstigheid van die een om die proewe te sien van die roman Orgie om haar te beskerm teen moontlike kritiek en aanvalle. (Daar is die pynlike brief van haar vader wat haar politieke standpunte nie aanvaarbaar vind nie.)

’n Mens kry inderdaad ’n blik op die hardwerkende Brink, immer aan die vertaal om ekstra geld te maak wat hy ook aan haar versend; sy betrokkenheid by sy seuntjie Anton; sy eensaamheid; sy verskeurdheid tussen sy huwelik (en werk) en die veeleisende verhouding met ’n ingewikkelde vrou. Sy brei vir hom ’n trui en is bekommerd oor haar kind se welstand; hy op sý beurt is besorg oor Si­mone en verlang na ’n dogtertjie van sy eie. Hy is dosent. sy is onder meer proefleser, werk in kantore en stuur selfs vir hom geld as ’n geskenk. Haar geestesgesondheid is broos.

Uiteindelik is die briewe tussen André P. Brink en Ingrid Jonker iets wat ’n mens eenvoudig meesleur.

Tristia is ’n fassinerende interteks en ’n mens besef hoe produktief en gedrewe Brink was. Sy dinkwerk rondom Elders mooi weer en warm het hierdie leser gefassineer. Haar kommentaar op Die ambassadeur is op sy beurt insigryk.

Dit het alles verskriklik skeef geloop. ’n Mens raak bewus van sy ambivalensie en uiteindelik sy distansie. Maar jy weet ook dat sy hom frustreer met haar verbintenisse met ander mans (o.a. Jack Cope). Sy droom hy gaan haar los en hierdie droom is ’n pynlike prospeksie van wat gebeur en die slotbrief tref jou tussen die oë . . .

’n Mens sou opmerkings oor medeskrywers (of hul vroue) kon aanhaal. Hierdie skrywers moet eerder self die uitsprake lees en dit probeer kontekstualiseer: Dit is geskryf deur twee jong mense in ’n stormagtige tyd. Die eerste brief begin op Sondag 21 April 1963; die slotbrief is geskryf op Dinsdagaand 27 April 1965.

Op 4 Desember 1963 pos hy vir haar ’n doring wat in sy toon was en uitgesweer het ná ’n Gordonsbaai besoek. Simbolies van hoe ’n mens hierdie boek moet benader? Hy noem haar selfs Doringrosie op ’n keer . . .

’n Mens bly deurgaans bewus van die “hoë emosionele tempo” van die briefwisseling; die kommentaar van ander; Jonker se vriendskap met Chris Lombard, iemand wat haar ondersteun; en die moeilike verbintenis met Freda Linde.

Hoe die lewendes hierop gaan reageer, is nie my besigheid nie. Selfs ná sy dood gaan André P. Brink, soos in sy gevegte teen sensuur, in sy skerpsinnige resensies en laaste roman en memoir, ’n Vurk in die pad, steeds vir polemiek sorg. Net soos sy korrespondent wat stééds met haar gedigte kommentaar ontlok in flieks, gedigte oor haar, studies oor haar werk, ’n prys met haar naam, en bespiegelinge, ook nie tot rus kan kom nie. Dit is die soort gegewe waaroor Janet Malcolm waarskynlik ’n studie sou kon skryf.

Dit is ’n boek wat ’n mens eenvoudig meesleur. En ’n mens kan die teks nie “skoon” of onbevange lees nie. Daar is telkens iets wat jy invul tússen die briewe.

Ingrid Jonker & Jack Cope


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Tuesday, March 26, 2013

André P. Brink (Samest.) - Groot verseboek 2000 (2000)



André P. Brink. Groot verseboek 2000. Tafelberg Uitgewers/Human & Rousseau, 2000.
ISBN: 0 624 03931 5.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is waarskynlik ironies dat die nuwe Groot verseboek 2000 in sy uiterlike voorkoms nogal sterk herinner aan Harold Bloom se The western canon! Beide is tome van boeke. Maar waar Bloom se epogmakende studie die kanon probeer herstel en die Groot Boek wil huldig, is Brink se bloemlesing in vele opsigte 'n bevraagtekening, selfs dekonstruksie van die kanon met 'n groot K. Opperman se “barometer van gehalte” het 'n huis met baie kamers, aangeboude vertrekke en buitekamers geword.

Groot verseboek 2000 verskyn teen die agtergrond van 'n polemiek waarin Gerrit Komrij se keuse Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte bevraagteken èn aangeprys is. Dit verskyn ook te midde van vraagtekens oor die keuring van die bundel. Onder meer is die uwe aangestel as keurder en moes, na 'n versoek van die uitgewer Hannes van Zyl, liefs die “leesskap” neerlê weens besware dat 'n digter nie keurder kan of mag wees nie.

Omdat 'n geliefde digter met onttrekking van sy eie werk, en 'n groot digter gedreig het, was dit dus wenslik om hierdie roete te volg. Meer nog, die versoek het na hierdie leser gekom tydens 'n reisbesoek aan Harvard en die kleingeestige eis was te midde van die Cambridge, Massachusetts intellektuele aura belaglik. Terselfdertyd is 'n belangrike lesing gemis weens 'n dringende oproep uit die Suid-Afrika en wou hierdie leser die saak afhandel, ook die digkuns ontwille. (Die Afrikaanse letterkunde kan nogal so vanuit die vreemde na 'n kaartehuis lyk, hoor.)

In retrospek, reflekteer hierdie reaksie egter iets omtrent kanonisering. So 'n beswaar - dat 'n digter ook nie leser/keurder/kritikus mag wees nie - wys dat daar nog geglo word aan die idee van kanonisering as 'n Tempel.

Die postmodernistiese klimaat maak van die Tempel 'n “take away”. Die Ewige, immer blywende, duursame Tempel van marmer het nou iets van 'n tydelikheid gekry. Môre is daar dalk 'n ander winkel in die plek van die “oue”. Die postmodernisme maak ook plek vir 'n nuwe blik op ras, seksualiteit, stemhebbend, swygend, identiteit, mooi, lelik, goed, sleg.

Trouens, vir elke uitspraak of waardeoordeel, kan 'n maar of miskien geponeer word. 'n Gedugte leser soos Brink is nie net 'n bekwame kritikus nie, maar hy ken ook al die slaggate. Hy weet dat die al span jy die net hoe wyd, sal daar altyd 'n vissie verlore kan gaan. Of die net mag skeur onder die gewig van 'n ou walvis. Maar vaderdank vir die forelle wat hy wel gevang het!

Maar laat ons nou nie in slim beelde verval nie. Die Tempel vs die “take away” of die beeld van die bloemleser as visvanger. Die boek, soos Foster & Viljoen se Poskaarte, vul 'n hiaat vir die dosent van die digkuns.

Pablo Neruda het by geleentheid geskryf dat daar nie digters is nie; alleen 'n digkuns. As 'n mens hierdie verseboek so benader, kan jy die volledige psige van die (Suid)Afrikaanse gemeenskap hierin aflees. Ook dat Afrikaans 'n lewende, bruisende taal is wat sy man kan staan! Dit is 'n bloemlesing wat sy plek kan  inneem langs Rosenthal se deftige versameling van die Engelse poësie.

En diegene wat kerm dat Brink met Opperman se kalwers boer: dit is gebruik binne die letterkunde dat na die afsterwe van 'n kritikus word die naam van die eerste redakteur behou en die nuwes word of in die kolofon genoem, of op die buiteblad vermeld. Omdat hierdie versameling so 'n grondige hersiening van die ou verseboek word, is Brink se naam buite op en die 2000 bygesit. Opperman se handskrif is wel op die buiteblad wat dus as 'n erkenning gelees kan word.

Dis 'n ongelooflike uitgebreide versameling. Vir die dosent is dit meer as welkom (al sou dit dalk vir die jong student 'n duur boek wees). Met Poskaarte en Komrij neffens Groot verseboek 2000 kan jy letterlik alles, of dan, die belangrikste, wat jy behoort te lees, gelees kry.

In sy inleiding (wat nou eers gelees word sodat die oordeel nie beïnvloed word nie) artikuleer Brink die belangrikste probleme rondom kanonisering en bloemlesings. (Moet 'n mens dalk ook dink aan verbloem, om weg te steek en verblom om mooi te maak?)

Daar word akkoord gegaan met Brink se bevraagtekening van die ouer verseboek as die enigste verseboek. Hy wys op hiate en verkeerde voorstellings: soos dat Visser verkeerd voorgestel is en dat daar hopeloos te min verse van Peter Blum opgeneem is. Visser is nie net geestig nie; hy is ook 'n voortreflike liefdesdigter.

Ook wys hy op die onreg om vertalings weg te laat. In hierdie opsig is Uys Krige sterk te na gekom. Vertalings is in elk geval die mees radikale vorm van intertekstualiteit!

Krige se Neruda vertalings is waarskynlik 'n hoogtepunt in ons digkuns en Spaanse dans (onder redaksie van M.M. Walters) is 'n lieflike bundel.

Brink bely in sy skitterende voorwoord dat hierdie verseboek 'n liefdesverklaring aan die digkuns is. Dit is ook so dat hy deur geweldig baie bundels (ek meen 400 het sedert 1980 verskyn) moes werk om hierdie keuse vir die leser te maak.

Nou sal enige resensent kan gaan sit: daar is te min van Lucas Malan en te veel Hambidge. Tom Gouws is nie in 1939 gebore nie! Hy is mos nog 'n jong bokkie, nie waar nie? Is daar setfoute?  Dis die werk van andersoortige snuffelaars.

Hoekom is digters wat hul name soos e.e. cummings met kleinletters skryf (soos fanie olivier, marlise joubert, tom gouws) nou ge-hoofletter?

Waar is Elizabeth M. du Toit se Towertuin (1968)? Sy het weer stem gekry in Komrij se bundel, maar hier is sy afwesig. Daar kon ten minste een gedig hier staan.

Dieselfde geld Freda Plekker wat ook beter verteenwoordig kon wees, omdat die kanon juis belangrik is waar die mindere stem nou helder(der) opklink en ons dus kan besin oor verskillende poëtiese diskoerse. Poskaarte met die klem op 'n meer pomo-gedig het waarskynlik vir die meer snobistiese leser te veel oppervlakkige of speelse verse geplaas. In Johan van Wyk se SA in Poësie / SA in Poetry is daar weer te veel 'raasgedigte'.

Brink stel die perspektief reg: Marius Titus is hier; ook Matthews Phosa; André Boezak; Valda Jansen; Vincent Oliphant (al is dit hopeloos te min. Ook is Koos du Plessis, gedugte liedjieskrywer verteenwoordig en selfs Dan Roodt staan hier. Sy Kommas uit 'n boomzol is nog nie na behore neffens Komas uit 'n bamboesstok geplaas nie. En die ghitaarspeler van “Aartvark”, Willem van der Merwe se “The carnival is over”. (Waar is Robin Hawkins? Was hy nie destyds in so 'n versamelbundel saam met Anlen Marais en Carol Clark nie?)

Johann de Lange word ook hier beter voorgestel en “Twee matrose wat pis” en “Tongnaai II” is opgeneem. Hulde, hulde. Want De Lange is op sy beste in Nagsweet.

Maar wat 'n lekkerte om nie al die waterskeidende digters in Afrikaans te lees nie! As 'n bonus is daar 'n paar nuwe Krog-verse uit haar bundel wat binnekort verskyn. Die digkuns beleef tans 'n bloei en hierom is GV 2000 'n welkome publikasie vir sowel vir gewone leser as die akademiese een.

Wys my jou bloemlesing, en ek vertel jou wie jy is! Die samesteller se siening van die digkuns, kanonisering, representasie en ideologie word verraai deur die samestelling.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Sunday, March 24, 2013

André P. Brink - Duiwelskloof (1998)



André P. Brink. Duiwelskloof. Human & Rousseau, 1998. ISBN  0 7981 3879 3.

Resensent: Joan Hambidge

Telkemale skryf André P. Brink saam met 'n waterskeidende roman 'n akademiese studie. Toe hy destyds Lobola vir die lewe geskryf het, was Aspekte van die nuwe prosa 'n goeie aanduiding van hoe hy gelees wil word. Saam met sy kluif politieke romans kan 'n mens gerus weer gaan kyk na Reinventing a continent (1996).

Nou, saam met sy jongste, Duiwelskloof, besonder keurig uitgegee deur Human & Rousseau, verskyn daar 'n belangrike essay-bundel The novel, gepubliseer deur UCT Press. Hierin gee Brink waarskynlik van die belangrikste sleutels vir hoe 'n mens sy jongste kan (en behoort te) lees. 

Daar is in Duiwelskloof die bevestiging van Brink die briljante, meesleurende storieverteller. Die verskillende hoofstuk-afdelings gaan terug op sy sieninge van die 17e en 18e eeuse roman toe skrywers aangedring het: dit is die werklikheid en ek sweer dis waar! Gaan kyk onder meer wat skryf Brink oor Cervantes en Defoe.

Maar die roman het ook 'n klap weg van die magies-realisme, van die bo-natuurlike (hier kan 'n mens gerus die essay oor Márquez bestudeer). En ja, daar is ook 'n postmodernistiese blik - en veral die hoofstuk oor Calvino se If on a winter's night a traveller is tersaaklik.

Duiwelskloof is 'n bedrewe roman geskryf deur 'n storieverteller. In hierdie roman gaan hy terug op die oer-gegewe van die roman, naamlik om die leser te oortuig dat iets “waar” is (anders as in die pomo-roman waar die skrywer juis weer wil oortuig alles is fiksie.) Maar hoe meer jy beklemtoon dis “waar”, des te meer gebeur die omgekeerde.

En dis met hierdie “suspension of disbelief” waarmee Brink toor. Sy mislukte joernalis-hoofkarakter, Flip Lochner (hy het dieselfde “stem” as die hoofkarakter in Gerugte van reën, terloops) se skunnige aanslag word gesinkopeer met 'n outydse, gek klomp vertellers. Hier gebeur die moontlike èn onmoontlike. Die leser, egter is die hele tyd meegevoer en oortuig: dis moontlik!

Die verhale betrek die dood van 'n jong seun en die Lochner se reis na Duiwelskloof ten einde dit te verstaan. Hier word hy met nog 'n kind se dood en etlike bo-natuurlike ervarings gekronfonteer. Die misdaad-verslaggewer verloor sy objektiwiteit. Die outydse gemeenskap kan as 'n allegorie van ons land gelees word, maar veral as 'n terug-beweeg in die tyd word dit bykans 'n soort Middeleeuse gegewe wat vasgevang word. Veral die Suid-Amerikaanse letterkunde praat hier saam in die beskrywing van die bo-werklike.

'n Biddag vir reent, 'n vrou met vier borste, heldersiendes, doodskiste wat as beddens funksioneer en nog vele ander verskynsels maak van hierdie roman 'n hutspot van die buitenissige. Tussendeur is die joernalis wat filsofeer oor die betekenis van geskiedskrywing, en ja, die funksie van stories wat nie uitgepraat word nie. En hoe dit dan tog na vore kom.

Dis 'n soort ouktoriale roman met hoofstuk-aanwysings en opsommings van onderafdelings. Daardie soort negentiende-eeuse tegniek wil immer die implikasie van “waarheid” skep, wat ook terselfdertyd ondermyn word deur die storie wat sy eie stertjies kry.

Dus dan ook 'n metafiksionele roman en die self-bewustheid met betrekking tot geskiedenis en waarheid het bepaalde resonansies vir die werklikheid. Dit is iets waarmee Brink al besig is sedert Kennis van die aand. Jungiaans gelees her-skryf die romanskrywer sy belangrikste obsessies: die mistieke vrou, die dood, die seksuele, God wat ons oorlaat aan onsself. Dis dan die werk van 'n ryp outeur wat as't ware 'n bestekopname maak van sy eie kreatiewe onbewuste.

'n Mens lees in hierdie boek ook iets van die gevoelige mens se onsekerhede met taal, met waarheid, en: met erkenning. Dit bly dan altyd 'n ironie dat die skrywer wat waarskynlik die meeste gedoen het om die vertel-bakens te verskuif en die oer-Afrikaanse gegewe oop te maak, nie na waarde geag word in sy eie taal nie.

Miskien het Brink in die tagtigerjare meer vir die buitelandse leser geskryf, terwyl Duiwelskloof juis praat met die leser wat al die primordiale verwysings en toespelings sal snap. Die politieke gegewe word dan ook meer indirek aangebied.

Die name van die karakters is glo veral by Langenhoven en Leipoldt gekry en dit op sigself maak ook 'n ander vergelykende studie vir die speurende leser oop. Dit is 'n roman wat van enorme navorsing getuig, maar die magiese hand van die storieverteller verdoesel al die harde werk van die tapisserie wat voor 'n mens uitgestal word. (En die opsetlike fout laat ek aan die leser oor om te vind!)

Waarskynlik het Brink met hierdie roman al sy beste kwaliteite in een roman ten toon gestel. En die gevolg is 'n werklik heerlike roman wat hierdie leser duiwelsveel geniet het.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]