Michael Chapman (Ed.). The New Century of South African Poetry. Ad Donker, 2002. ISBN 0 86852
224 4.
Resensent: Joan
Hambidge
Michael Chapman is professor in Engels aan die
Universiteit van Natal wat dikwels al die wind van voor gekry het oor sy
omstrede uitlatinge oor die Suid-Afrikaanse letterkunde. Oor kanonisering is hy al gestriem deur Johan van Wyk en
Helize van Vuuren. Tog is die konsep van “Southern African Literatures”
(waaroor hy ‘n boek laat verskyn het in 1996) nie ‘n verkeerde rigting nie,
hoewel daar min, indien enige, litetarore bestaan wat al die verskillende tale
en literature in ons Suiderland ken en kan behartig.
The New
Century of South African Poetry probeer dan om die
verskillende tale in hierdie land in digvorm te representeer. Die voertaal is
natuurlik veral Engels. Hier en daar slaan ‘n swart taal en Afrikaans deur. ‘n
Ysingwekkende werk. En ‘n bloemlesing wat by die titel al vra om polemiek,
kanttekening, kritiek en vraag.
Die Afrikaanse letterkunde het onlangs die Brink en
Komrij bloemlesings gesien. Eersgenoemde het redelik ‘stil’ en met ‘n akkoord
verbygegaan, terwyl Komrij se samestelling met groot geraas begroet is. Wanneer
‘n samesteller afwyk van die bekende norme of opvattinge moet reaksie te wagte
wees.
Die positiewe aspek van ‘n aweregse samestelling soos
Chapman s’n wat as ‘n ‘post-apartheid’ en ‘nuwe millennium’ bloemelsing
aangebied word, is dat dit vir die leser nuwe insette bring. Dieselfde geld ook
Krog se vertaling en herdigting van swart digters in Met woorde soos met kerse:
die leser word van die stilgemaakte stem bewus.
Bekende figure soos Roy Campbell, Van Wyk Louw, Kunene, Douglas Livingstone, Mongane Wally
Serote, Kelwyn Sole en Antjie Krog is hier, maar waar is Breytenbach?
Peter Blum is daar, Jan F. Celliers, Johann de Lange,
Clinton V. du Plessis, Eybers, Us Krige, Langenhoven, Leipoldt, om ‘n paar name
uit te sonder. Johann de Lange is
eintlik meer as een keer daar weens sy skitterende vertalings van ander digters
wat opgeneem is.
Daar word ook handige en bondige notas geplaas. Dikwels
van hulp, soms niksseggend. Soos onder meer oor Tatamkhula Afrika wat raakvat,
maar waar ‘n hele boel digters onder een noemer ‘saamgegooi’ word soos De Lange
saam met Ingrid de Kok en Metelerkamp, word die indelings gesog. Soos dat hulle
almal aan universiteite verbonde is! En dis hierdie kwashaal oor die doek wat
‘n mens laat besef dat daar dikwels met veralgemenings gewerk word wat nie
korrek is nie.
Boonop word daar ook ‘n hele spul gedigte opgeneem wat
ook Guy Butler se idee van wat ‘n goeie vers is, dekonstrueer. Is dit werklik
‘gedigte’? Of is dit eerder opstanduitinge? Disparaat word dikwels eerder
desperaat vir my smoel. Dieselfde geld dan ook vir die massiewe (soos Chapman
dit noem) opgawe van Johan van Wyk e.a. in SA in Poësie/ SA in Poetry dat dit
nie net historiese inligting of politieke cliché is wat in korter reëls
opgebrek word nie. Nee, ‘n vers moet as’t ware die wêreld ‘re-make’. Gebeur dit
orals?
Die veralgemenings oor Suid-Afrikaanse digkuns is
eweneens problematies wanneer hy skryf: ”Whereas Eliot believed that modern
poetry was bound to be difficult, poetry in South Africa achieves an immediacy
of communication” (p. xviii). ‘n Fronsontlokkende uitspraak, veral omdat hy ‘n
paar asemteugies voor dit oor Van Wyk Louw skrywe!
Hier meen hy: ”Van Wyk Louw’s massive image-structures
cannot exclude the voice of the Afrikaner Calvinist disgusted at people’s
eagerness to embrace crass bourgeois materialism”. Ek wonder wat dink die
Louw-kenners hiervan? Die aweregse blik hou nie op wanneer hy skryf oor die
invloed van jazz en die Beats op die digkuns nie.
Chapman gaan nie akkoord met Stephen Watson se siening
dat Engels Suid-Afrikaanse digkuns gebuk gaan onder die juk van ‘n linguistiese
dooierigheid nie. Maar is dit nie dalk so nie? Is dit nie dalk wel waar dat ‘n
digter soos Isobel Dixon juis lewe geblaas het in hierdie digkuns nie, omdat ‘n
mens ‘n Afrikaanse invloed kan voel nie?
Aan die positiewe kant word daar wel ‘n klomp
interessante digters vir ons gegee. Maar daar word ook ‘n onnoembare aantal
weggelaat. En wat sou ‘n kenner van ‘n Afrika-letterkunde dink?
Chapman besef die gebreke van sy allamagtige taak: daarom
vra hy sy leser om die bloemlesing te lees saam met ander versamelings of
antologieë. En ja, waarskynlik sou verskillende redakteurs een groot
Bloemlesing met ‘n hoofletter moet saamstel. ‘n Bloemlesing met die
oorspronklike vers neffens die vertaalde gedig.
Wat baie interessante en leersaam was – altans vir
hierdie leser – is om begaafde vertalers soos Guy Butler, Johann de Lange en
Rosa Keet in aksie te sien by ‘n Wilma Stockenström-vers. Miskien is ‘n digter
tog nie altyd die beste vertaler van ‘n eie vers nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]