Showing posts with label Isabel Allende. Show all posts
Showing posts with label Isabel Allende. Show all posts

Friday, April 11, 2014

Isabel Allende - Ripper (2014)



Isabel Allende. Ripper. Jonathan Ball, 2014. ISBN13: 9780062291400 
Resensent: Joan Hambidge

Isabel Allende is ’n legendariese skrywer en haar The House of the Spirits (1982) beklee ’n ereplek op my boekrak.

Haar jongste heet Ripper.

Die hoofkarakter, Amanda Martín, se webwerf werk met die bekende gegewe van Jack the Ripper.

Die Victoriaanse tyd word in die moderne tyd van die rekenaar nuwe lewe gegee.

Die werklikheid word egter gemanipuleer deur die rekenaarspel. Met die werklike dood van Ed Staton, en ander, ruk sake handuit.

Die roman is opgedra aan ­Allende se eggenoot, William C. Gordon, “my partner in love and crime” en self ’n bekende speurverhaalskrywer.

Op bladsy 106 laat ’n karakter een van Gordon se romans agter en ’n karakter tel dit op. Op bladsy 317 lees die karakter waarskynlik Isabel Allende. Hierdie in-verwysings maak die roman uiters plesierig.

Hugh Grant se avontuur met ’n prostituut word ook gesatiriseer en Umberto Eco se bekende studies oor die speurverhaal en fiksionele karakters se ervaring van die werklikheid word eweneens geaktiveer.

Die domein van die speurverhaal is al lankal nie meer ’n manlike terrein nie. Ons weet dit al sedert Agatha Christie, P.D. James en Ruth Rendell, en in Afrikaans is daar Karin ­Brynard. Op die buiteflap word Allende beskryf as “mistress storyteller”.

Die roman val met die deur in die huis. Ons verneem die moeder van Amanda, ene Indi­ana Jackson, gaan om middernag op Goeie Vrydag vermoor word.

Vyf tieners en ’n ouer man span saam om ’n oplossing te vind. Op 11 Oktober 2011 om 08:00 word ’n lyk ontdek by ’n skool in San Francisco.

Met besonder noukeurige forensiese presisie word ons vertel hoe die persoon vermoor is en hoe die toneel daar uitsien.

Ed Staton, toevallig ook ’n veiligheidswag, is die vermoorde. En tipies van ons tyd is daar grensoorskrydende lekkasies aan die media en transgressiewe vrae.

In hierdie dae van die Oscar Pistorius-saak weet almal hoe die media se interpretasies en menings ’n “spin” aan ’n moordsaak kan gee.

Die toespelings op die gay-gemeenskap en wat met Ed se lyk alles gebeur het, is nogal ontstigtend.

Amanda se pa, Indiana se eks, is boonop die adjunkpolisiehoof. Op ’n werklike en kubervlak word daar na die moordenaar gesoek.

Verskillende identiteite word geskep. Een van die spelers is Sherlock Holmes – die mistige Londen van 1888 geplaas teenoor San Francisco in 2011.

Diegene wat hierdie teks as “minder” of “swak” afgemaak het, kyk die besondere snelle vertelpas mis, die briljante speurkodes en die kommentaar op die moderne elektronika.

Allende se karakters is onder meer psigies. Een is ’n masseuse wat mense se chakras manipuleer.

Die jonge Amanda is op pad na die Massachusetts-instituut van tegnologie (MIT) en sy is briljant.

Van haar medespelers is haar oupa, ’n parapleeg uit Nieu-Seeland en ’n Kanadese meisie met ’n eetversteuring. Dus, almal wat so ’n bietjie buite die “normale” sfeer beweeg.

Speurverhale aktiveer immers die liminaliteit of grensbestaan. Dit is waarom die moderne Sherlock Holmes-reeks kykers so boei.

Allende betrek ook hipnose en die paranormale by haar roman.

Speurverhale word dikwels afgemaak as “populisties”, maar Eco se The Name of the Rose (1980) het immers gewys dit hoef nie so te wees nie.

Kerneels Breytenbach het met sy Piekniek by Hangklip (2011) self die kodes van populistiese en ernstige literatuur vermeng.

Die roman is goed gekonstrueer en gee vals leidrade wat die leser volg om dan uiteindelik by die oplossing uit te kom.

Daar is vele “inferential walks”, in Eco se terme – Tosca, Jeffrey Dahmer, Susanna en die ouderlinge, Woody Allen se flieks, O.J. Simpson, ensomeer – wat die teks ook vir die letterkundige speurder ’n feesmaal maak.

Daar is soms ook te lang uitgebreide passasies, soos besoeke aan Alkoholiste Anoniem, wat die verhaalgang vertraag.

As jy Steppenwolf ken en boonop sir Arthur Conan ­Doyle, besef jy watter (kuber-) spore jy moet volg . . .

Dis ’n wonderlike boek wat ’n mens opnuut laat besef hoe goed Agatha Christie is met vals leidrade.

En die vraag bly: Wat sou ­Samuel Hamilton of Hercule Poirot hiervan gemaak het?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Friday, March 15, 2013

Isabel Allende - Daughter of fortune (2000) (Exclusive Boeke Prys 2001)



Isabel Allende. Daughter of fortune. Flamingo, 2000. ISBN 0 00 655231 5.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Allende (uitgespreek Ajende) is 'n Chileense skrywer wat onder meer die magies realisme bedryf soos Marquez. Haar verhale is besondere vertellings en haar vorige roman Paula is die reaksie op haar dogter se koma.

Daughter of fortune is bekende Allende-dramatiek. Dit vertel die verhaal van Eliza wat voor 'n deur van die Britse Invoer en uitvoermaatskappy in 1830's in Chile gevind word. Rose Sommers neem haar aan en teen haar aangenome moeder se pogings om van haar 'n dame te maak, raak sy op sestienjarige ouderdom verlief op 'n rewolusionêr, Joaqúin Andieta. Sy vertrek saam met hom op die sogenaamde 'gold rush' en die verhaal van die vondeling en troebadoer word vanuit 'n vroulike perspektief aangebied.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]