Showing posts with label Alfred Schaffer. Show all posts
Showing posts with label Alfred Schaffer. Show all posts

Thursday, August 5, 2021

Resensie | Alfred Schaffer - Wie was ik. Strafregels | De Bezige Bij, Amsterdam, 2020

Alfred Schaffer – Wie was ik. Strafregels. De Bezige Bij Amsterdam, 2020. ISBN 978403 183 107

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Alfred Schaffer is bekroon met die gesogte PC Hooft-prys. Sedert sy debuut Zijn opkomst in de voorstad (2000) het daar agt ander bundels gevolg. Mens dier ding (2014) het besondere uitdagings aan die leser gestel en dit is ook uitstekend vertaal deur Zandra Bezuidenhout vir Afrikaanse lesers. Hiervoor ontvang hy drie pryse: die Awater-, die Paul Snoek- en Charlotte Köhler-pryse. Die digter Daniel Hugo het eweneens 'n gerf van sy verse vertaal. Verder is sy gedigte beskikbaar in Engels en Frans.

 

Die verhoudings tussen ouers en kinders het al tot fassinerende gedigte aanleiding gegee. In Afrikaans is daar Breytenbach se "'n brief van hul vakansie" waar die ouer en kind in 'n ewige inkarnasie-verhouding tot mekaar staan, soos Henning Snyman uitwys in Mirakel en muse (1983).

 

In Schaffer se jongste bundel gee hy stem aan die moeder wat die Karibiese eiland (en haar familie verlaat) en in Nederland trou met 'n Nederlander. Die swart vrou en wit man het 'n dogter en seun; die dogter sterf vroeg en die seun gee nou 'n stem aan hierdie geskiedenis wat migrasie, kulturele verskille, rassisme en al die komplekse kwessies aanraak. In die verantwoording word daar erkenning gegee aan Frantz Omar Fanon, die psigiater en politieke filosoof van Martinique, se Peau noire, masque blanc (1952), Black Skin, White Masks, en die werk van Susie King Taylor, o.a.

 

Postkolonialisme, "the empire writes back", agentskap en dekolonisasie het belangrike konsepte geword in ons tyd. Die stemlose het stemhebbend geword. In hierdie bundel word die digtende spreker 'n buikspreker vir die geskiedenis van sy ouers en sosiale onreg. Fanon is bekend vir die term "double consciousness". In Les damnés de la terre, 1961 (The wretched of the earth) verdedig hy geweld teen verdrukking. Hierdie boek is in Frankryk verbied en Schaffer speel hierop in:

 

Tijd dag plaats - mensen wat een drama

 

Ik weet wel wat de bromvlieg drijft

Die continu tegen mijn vensterraam blijft vliegen.

––

Zijn geblokte bewegingen.

Een kleine zwarte held die lak heeft aan censuur.

Het is zo lang geleden allemaal.

Ik hoop dat hij snel vrijkomt.  (34)

 

Die digter buikspreek vir die ouer (41) en die stem van die vertellende digter word onderbreek deur prosa-insette of selfs deur 'n dreigende e-pos. Die lewe van die migrant word beskryf as 'n bestaan van 'n muisval met 'n blokkie kaas.

 

Taal en vervreemding word ook aangespreek: die eerste taal is in bruikleen; die tweede een word vir noodgevalle agter die hand bewaar.

 

In die gedig "Wie was ik" (84) vind ons 'n enumerasie van onreg en pyn. Hierdie gedig resoneer met Johann de Lange se gedig "Ek is my" in Die meeste sterre is lankal dood (2020).

 

Dit is 'n melancholiese bundel met verskillende stylsoorte wat die werklike en emosionele grense tussen lig en duisternis ondersoek. Die bundel bestaan uit fragmente, gedigte in kursief, opgebreekte reëls, afwaartse reëls, e-posse, chiasmus en prolepsis, oftewel die vraagstelling en beantwoording van daardie dikwels retoriese vrae. Dit is 'n metamodernistiese bundel wat implisiete vrae vra oor die boomstruktuktuur van ontelbare werklikhede (97)

 

"tegen de patrijspoort / van my isolement" (105) lees ons. Is kleur (huid) 'n seën of vloek? Die bundel sit vol ironieë soos 'n e-pos wat aanbeveel dat 'n mens iets uit 'n krisis moet leer (78).

 

Schaffer is woonagtig in Suid-Afrika en doseer in die Afrikaans en Neerlandistiek departement  aan die Universiteit van Stellenbosch. So bekyk (en versoen) hy dus drie wêrelddele as buitestaander én kritiese waarnemer. Waar Elisabeth Eybers na Suid-Afrika in 'n tussentaal terugbeweeg het, reik Schaffer uit na Nederland en haar kolonies in sy eie taal.

 

Dis 'n uitdagende en ontroerende bundel. Een waarin die kind stem gee aan die moeder wat anders net sou verdwyn het. Aruba en Curaçao word geplaas teenoor die Lae Lande: en mense mag grondwetlik gelyk wees, maar die realiteit wys iets anders op. Alles staan hier in tweevoud: die "double consciousness" van Fanon word poëties ondersoek. Schaffer begryp die "ultrasoniese vibrasies" van sy tyd soos hy dit klinkend stel soos opgestel in die programvers "Mira Akí!".

 

Daar is reëls wat my altyd sal bybly:

 

ik ben als de liefde een veeg uit de pan

een harde emotie (56)

 

blijt ineengezakt achter op de bodem van mijn geest

als een marionet zonder touwtjes (57)

 

'n Bundel van afskeid en vertrek; vertrek en aankoms. Die bundel stel besondere eise aan haar leser, maar aanhouer wen! 

 

Sunday, February 3, 2019

Resensie | Alfred Schaffer -Mens dier ding (2018)

Alfred Schaffer -Mens dier ding. Human & Rousseau, 2018. ISBN13: 978 07981 78143 (Vertaal deur Zandra Bezuidenhout)

Resensent: Joan Hambidge

I
Die digter gebruik anachronismes en intertekste om die lewe van Shaka Zoeloe oor te vertel. Daar is films (Apocalypse now en Raging bull, o.a.), 'n perskonferensie, selfone, drome, UFO's, die Lonely Planet-gidsboek, komiekstrips, Kafka, Plath, die blinde digter Borges, Superman o.a. wat die storie uit die perspektief van 'n spreker wat soms hoog op dagga is, weergee. Susan Sontag se Illnes as Metaphor luier ook in die agtergrond. Verskillende vertellers en stemme dus. Schaffer teenoor Thomas Mofolo se Chaka, die roman uit 1931 met 'n voorblad van Mohau Modisakeng: Qhata (2011). Die tirannie van indertyd teenoor die geweld van nou. Die bemarking van die bundel wys op die spel tussen mite en werklikhede:
Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme. Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê? [1]
Die bekroonde digter Alfred Schaffer (vertaal deur Zandra Bezuidenhout) word 'n buikspreker vir hierdie figuur. Maar meer as dit. Hy kyk as Nederlander van buite na die kolonistiese landskap. En ook van binne. Schaffer het hier in 2002 sy doktorsgraad voltooi (onder wyle Henning Snyman) en gee klas aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was ook mede-redakteur van Nuwe stemme saam met Antjie Krog.

Kom in, dit vries daar buite (vertalings deur Daniel Hugo in 2013) som iets van sy posisie op as inkommer én buitestander.

Mens dier ding is 'n pragboek. My eksemplaar sit vol uitroepe van beelde wat bybly en kwel.

II

Hoe moet 'n mens hierdie bundel benader? Is dit 'n gedig-as-draaiboek? 'n Kreatiewe onderhoud met die historiese figuur, Shaka? 'n Dagdroom? 'n Hallusinasie? Iets geskryf op lekker twakkies? 'n Skaakspel?

Daar is kort vinnige gedigte (soos "Lekker!", 64) en dan weer 'n prosavers (67).

Die stylversnellings en -veranderings plaas die leser pens en pootjies binne die metamodernisme. Brian McHale se Postmodernist Fiction (Methuen, 1987: 36 - 37) op die sosiale konstruksies van die (on)werklikheid. Dit wat ons dink ons weet, word dikwels op sy kop gekeer. Die anargistiese landskap van die wêreld in meervoude ...

III
Dewald Koen beskou hierdie bundel tereg as 'n tour de force

Hy skryf:
Die bundel is veelsydig van aard en word Koning Sjaka se lewensverhaal deur middel van dagboekinskrywings, monoloë, dagdrome, briewe en herinneringe aangebied. (Versindaba » Resensie/ Mens Dier Ding (Alfred Schaffer). Vert. Zandra BezuidenhoutBesoek 3 Februarie 2019)

'n Mens sou kon byvoeg: 'n mens sien ook die binnewerkinge in 'n dagboek van 'n digter se kreatiewe prosesse. Dit tree nie alleen in gesprek met Lady Anne nie, maar ook met Raka.

'n Moderne epos met stylbreuke. Soms liries. Soms verhalend.

Hierdie gevoel word bevestig deur die volgende op bladsy 109:

Nog nie 'n paragraaf verder nie, of Shaka se moeder
lê vir altyd in 'n voetnoot plat op die grond.

Hierdie vers word dan parodies oor die volksaal en met 'n verwysing na method acting:

Die aarde, donkerpers vandag en leeg
is glad soos 'n enorme rolbalbaan.
Daar kom die eerste bal al aangerol.  (110)

Hierdie bundel is reeds met die Awater Poëzieprijs, Paul Snoekprijs asook die Charlotte Köhlerprijs bekroon. Die vertaling sal waarskynlik geloof word. Dit dans naatloos van Nederlands na Afrikaans.

dag(droom) # 0

Ek kan nie slaap nie ysige naglig hou my wakker.
Soos ’n boomblaar wieg ek heen en weer
hierdie gewieg bring geen rus nie.
In ’n refleks van vraatsug skiet my pote vorentoe
maar ek is versadig, ek is verlate in hierdie oerbos
met sy sonverskroeide bome –
dronk van vermoeidheid ná alles wat ek vernietig het.
Dit was soos ’n geploeter oor ’n eindelose grondpad
in ’n verderflike hitte.
Herwaarts en derwaarts tussen die stamme en die struike
brokstukke mens, gebars of gesmelt.
Hulle sê dit spook hier hulle sê
wat nie beweeg nie moet bevrore wees van angs.
Maar ek het net lief.
Soos in ’n baie ou sprokie.
As ek regop kom dan bid ek, ek bid dan en so bid ek
en ek bid dat iemand my gebed verhoor.
Sirenes swel aan tot anderkant die verte.
Ek het na U gesoek maar kon geen weerstand vind nie.

Hierdie bundel is 'n noodlyn vir die moderne leser. Boonop lees ons in die verantwoording dat De Sovjet UFO dossiers van Paul Stonehill (1998) besoek is. Aha. 

Ons is terug by McHill en Patricia Waugh.

Ek het goed om my rondgekyk maar ek was heeltemal alleen
as mens as dier as ding ... (68)

Endnoot:
1. Versindaba » Nuwe bundels. Besoek 3 Februarie 2019.

Inderwaarheid weet ons baie min oor die legendariese geskiedkundige figuur, Sjaka Zulu. Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme. Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê?

In dié vertaling van Alfred Schaffer se bekroonde Nederlandse bundel, Mens dier ding, ondersoek die digter die mite van Sjaka deur kort dagboekinskrywings, monoloë, herinneringe, briewe en dagdrome. Sjaka word vergestalt as ’n kleurryke figuur; die mites rondom sy geskiedenis word op die kop gedraai en ondermyn, en eindelik, soos almal van ons, word hy akteur in sy eie lewensverhaal.

’n Poëtiese kragtoer, en voorwaar ’n hoogtepunt ter plaatse dat dié vertaling (deur Zandra Bezuidenhout) eindelik in Afrikaans sal beskikbaar wees.

Oor die digter

Die bekroonde Nederlandse digter Alfred Schaffer is in 1973 in Leidschendam gebore. Sy ma was van die Karibiese eiland Aruba, en sy pa was ’n Nederlander. Hy voltooi sy voorgraadse studie in Leiden en verwerf in 2002 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna werk hy as redakteur by die uitgewery De Bezige Bij en later by die tydskrif Bunker Hill. Tans doseer hy Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sy debuutbundel, Zijn opkomst in de voorstadt, verskyn in 2000 en word gevolg deur Schuim (2006), Kooi (2008), Mens Dier Ding (2014) en Een lofzang (2016). Sy gedigte is onder meer vertaal in Engels, Frans, Duits, Spaans, Turks en Chinees, en in 2013 verskyn ’n keur van sy gedigte in Afrikaans, vertaal deur Daniel Hugo en getiteld Kom in, dit vries daar buite.

Schaffer ontvang ook die volgende toekennings vir sy digkuns: die Jo Peters-poësieprys, die Hugues C. Pernath-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys en die Jan Campert-prys.  

Friday, April 19, 2013

Alfred Schaffer - Kom in, dit vries daar buite (Vertaal deur Daniel Hugo) (2013)



Alfred Schaffer. Kom in, dit vries daar buite. (Vertaal deur Daniel Hugo) Protea Boekehuis, 2013. ISBN 978 1 86919 912 8.

Resensent: Joan Hambidge


Die volgehoue gesprek met die Ander

Daniel Hugo is ‘n gesiene vertaler van Nederlandse digters. Vir my is Hugo en Johann de Lange se vertalings presies hoé ‘n goeie vertaling daar moet uitsien. Op sy Kaapse paragrawe, sy blog, illustreer De Lange die werkswyse van die goeie vertaler: vorm en inhoud word één. As die digter ‘n sonnet skryf, moet jy die gedig in die sonnetvorm behou. Daniel Hugo begryp hierdie werkswyse ook. Hy het vir ons Herman de Coninck, Gerrit Komrij, Rutger Kopland, o.a. vertaal (behalwe vir sy uitstekende prosa-vertalings) en nou het hy die jong, dog vaardige digter, in ‘n seleksie byeengebring. Hugo is self ‘n punteneurige digter, sterk ingestel op vormbeheer en sillabes, wat kennelik getel is.

As jong en veelbekroonde Nederlandse digter bevind Schaffer hom in Suid-Afrika. Hy het jare terug ‘n rubriek behartig in Die Burger oor ons digkuns en dikwels met ‘n blik-van-buite interessante, maar soms ook omstrede uitsprake gemaak oor die digkuns. Maar hierdie soort kontensie is goed vir polemiek en hou die digters op hulle tone.

Schaffer skryf ‘n besonder boeiende soort gedig. Hy spreek ‘n “jy” of ‘n tweedepersoon aan – ons, die lesers, word dan sáám met die intiem-aangesprokene, daardie jy.

Die gedigte word gekenmerk deur ‘n vreemde mengsel van gewone, alledaagse beelde wat dan vermeng word met die aweregse blik of onkant-beeld soos in “Exit muse” (95). In hierdie vers word die geliefde-as-muse gelykgestel aan die gedig: ”Eindproduk van breedvoerige sinne”. Die gedigte is dikwels verhulde ars poeticas of te wel, gedigte-oor-die-digproses, soos “Impasse” (93). Die assosiasies tussen ‘n afspraakboek, die lewe op Mars (gesien op televisie) en ‘n pelgrimstog aktiveer die spel tussen werklikheid en verbeelding. Ook in hierdie gedig is die leser (die jy!) nie altyd seker wanneer die oorgang presies gebeur het nie.

Die gedig “die tyd laat ons koud”, vir die vermoorde Lisbé Smuts, is hartgrypend.

Die slotwoorde:

“maar ek is nie meer dieselfde nie en ewemin is ek jy. En daar kom die verdriet” (67),

problematiseer die verhouding tussen die persone, een lewend; die ander een oorlede.

Beide is deur die proses verander; iets wat nooit weer reggestel kan word nie.

“A love supreme” (65) werk met die Hoofse liefde en hoe moderne liefdesgedigte te familiêr geword het. Hierdie slim toespeling maak die gedig besonder interessant.

Die leser wat die moderne Nederlandse digkuns ken, sal verdere toespelings en intertekste kan raaklees. Op die agterblad word daar verwys na die “oorrompelende direktheid” en hoe die digter taal in sy vreemdheid laat funksioneer. Dit is natuurlik die waarmerk van die ware digter: om die klip klipperiger te maak. ‘n Ander kritikus verwys na die “koel, observerende oppervlakte en daaronder ‘n borrelende emosionaliteit”. En dit is presies hoe dit is. Met elke lees, sien jy iets wat bedreig, ontstig, seermaak – jy word ingenooi van buite na binne. Van die koue, vriesende landskap na die ruimte van die gedig: “Voorbeeld van ‘n besluit” (37) illustreer al hierdie kwessies wat Michael Riffaterre in sy Semiotics of poetry (Methuen, 1978) beskou as die interpretant van die gedig. Daardie teken wat die teks se oppervlak-tekens dra en verduidelik. In elke gedig is daar so ‘n teken wat al die ander tekens dan “verhelder”.

“Die dagbreek stol in sigbaarheid” (53) illustreer dit:

“‘n Dik rooi spoor verklaar sy tog in minute of dae.”

Die digter is besonder verbeeldingryk en sy vermoë om paradoksale toestande saam te dig, is aanskoulik.

Daar is ‘n setfout: mesdom in plaas van mensdom (101)

Dit is ‘n belangrike bundel vir alle poësieliefhebbers.Die digter het in pas in 2000 gedebuteer met Zijn opkomst in de voorstad, maar al diep spore getrap in die landskap van die digkuns. Vir my is hy ‘n moderne Lucebert.

Die gesprek met die ander (die jy) en die ewige gesprek tussen Afrikaans en die oorspronklike teks, maak van hierdie bundel ‘n uitdaging vir die leser.

Kom gerus in, Alfred Schaffer. Dit vries nie hier by ons nie.

Die situasie teen sluitingstyd

In die vlak deel van die swembad blaas ‘n man
klein wolkies in die aandlug.
‘n Paar meter verder omhels ‘n seun en meisie mekaar
vir die eerste keer – hulle skuur saggies met hul onderlywe,
hulle wil dans in ‘n nagklub, liefs tot die volgende oggend,
onder water na mekaar toe swem
en mekaar vasgryp soos wat hulle dit eenkeer in ‘n film gesien het.
Of waai en roep na die intens starende man
wat lyk of hy hom skielik bedink en maak of hy
versigtig uit die swembad klim noudat die trappelende bene
van die twee verliefdes allerlei vorms begin aanneem
in die voortdurend bewegende water.


Narkose

Die koffers in die gang die kaste leeg die vensters toe
ek wil nou niks meer hê nie. Hoe lank was ek weg
dae weke ‘n sekonde. Ek is lief vir jou dwaal soos
‘n mantra deur my kop die maan ‘n erfstuk
so naby ek kan met albei hande daaraan raak.
Drie hoera’s vir hierdie weersien, vir die sirkuswiel
vas langs die see ingeplant, die neonvrolikheid my teddiebeer
wat ek in die skiettent gewen het met net een probeerslag.
Ek het die diertjie warm gehou onder my baadjie, ‘n gryns
op sy gesig gestik – as ek hom sou oopsny
en watte uitpeul by die maag die rug die kop, sal hy aanhou
lag, stil en stug. Die nag het my ingehaal op pad terug
die lampe langs die kusweg soos ‘n string pêrels
‘n genadige gids, ‘n felle lyn elektriese lig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Tuesday, February 26, 2013

Antjie Krog & Alfred Schaffer (Samest.) - Nuwe stemme 3 (2005)



Antjie Krog & Alfred Schaffer (Samest.). Nuwe stemme 3Tafelberg Uitgewers, 2005.  ISBN: 0 624 04288 X.

Resensent: Joan Hambidge

Hoe maak ‘n jong digter binne die Afrikaanse letterkunde tans sy of haar debuut? Daar is Litnet, onder die voormalige bekwame leiding van Nèlleke de Jager, little magazines soos New Contrast en ander tydskrifte met meer gesag. Maar om vandag met jou eie bundel met ‘n eerste probeerslag te debuteer, is nie meer vir elke digter ‘n moontlikheid nie. Die bedryf het verander. Die voorskryfmark het verdwyn en boeke is duur. Die mite dat mense nie meer gedigte lees nie word verder deur redakteurs die wêreld ingejaag, maar feit bly staan: kreatiewe werkswinkels bewys die teendeel.

Nuwe Stemme 3 word behartig deur Antjie Krog en Alfred Schaffer. Nuwe Stemme 1 se redakteurs was Anastasia de Vries en George Weideman en Nuwe Stemme 2 was deur Petra Müller en Nèlleke de Jager waargeneem.

Dus ‘n gevestigde naam met ‘n jonger skrywer of redakteur wat vir ‘n goeie balans sorg. Ons moet altyd na die jongeres luister, maar ons mag ook nie die tradisie binne ‘n letterkunde versaak nie. ‘n Digter kan net ‘n stempel afdruk as die tradisie bekend is aan hom of haar. En dis nie ‘n akademiese foefie soos Ronel Nel dikwels wil beweer in haar rubrieke nie, maar ‘n feit soos ‘n digterlike koei. Jy kan net vernuwe as jy weet waar om te verander…

In Nuwe Stemme 3 is daar gelet op dit wat nog nie gesê is nie. Is dit moontlik? As daar hoegenaamd iets nuuts onder die son?

Ek meen van ja. As ‘n mens die bundel vanuit hierdie hoek benader, is daar ‘n handvol gedigte wat nuwe temas en tegnieke inspan. Kom ons begin by die tematiek.  Illona Edwards se “Ek noem hom” gee ‘n skrynende blik op bloedskande. Die leser word hier met vele digterlike kodes gekonfronteer. Dit is ‘n vrou aan die woord, en daarby, ‘n brawe vrou. Hoe gaan hierdie gedig haar lewe verander? Wat beteken dit om so uit te praat?

Ook word die leser verder gekonfronteer met verse wat die geweld van hierdie land beskryf. Hier is Thérèse Bartman se “Blommekyk” ‘n kragtige gedig wat die sinnelose moorde binne ons samelewing oopvlek.

Daar is digters op reis. Danie Marais se gedigte kyk van buite na binne. Dit beskryf melancholie op ‘n nuwe en verrassende manier en kyk onder andere vanuit Barcelona en Duitsland na die vaderland. Ook gebruik hy, soos ander digters, Engelse woorde, maar op ‘n sinvolle en aanvaarbare manier.

Dit beskryf dien onsêbare soos in Liesel Kruger se “Fit”:

o mure val my liggaam weg
o tower spreek my sere seg
o iemand neem my kaarte leg
die ritme’s te ontsteg.

‘n Klein vers wat ingaan op dit Julia Kristeva die “chora” van die digterlike taal genoem het, of dan taal wat pre-simbolies en beeldend werk.

In W.L. van der Merwe se “En toe was daar God” word ‘n ontroerende gedig vir ons gegee asof dit ‘n resep/spyskaart is. ‘n Mens besef in welke mate die media se obsessie met kosprogramme onbewustelik inwerk op so ‘n meesleurende vers:

Voorgeregte

1. Joodse lappies, berei op ‘n spitbraai, met appelmoes
    en rosyne uit die wingerd van De Hoop en die godvergete
    vlakte van Garies
2. Lewertjies van swart opstandelinge uit Kwamatsu
    op ‘n bedjie van prei


Erns Grundlingh neem die postmodernistiese tradisie tot sy uiterste wanneer hy die parodie versoen met TV-ikone en die internet.  Google, George Bush en Oprah Winfrey maak ook hier ‘n buiging. Die verlatenheid van die moderne mens wat in “Kuberkulose” op ‘n adres land van www.waardefokisons.com vertel iets van web-surfer se enorme eensaamheid en isolasie en wat sy geluk soek in die kletskamers van die internet.

Vernie Plaatjies se gedigte registreer ‘n sinisme oor die nuwe-Suid-Afrika en mense wie se lewens deur apartheid benadeel is en hulle in ‘n onrustige “catch-22” van geweld, ongeletterheid en pondokke bevind.

Diegene wat meen dat die Nuwe Stemme-reeks ‘n cul de sac is of dat dit “stemmige” stemmetjies opgeneem het, het myns insiens nie die bundel deeglik genoeg gelees nie. Tom Dreyer het ‘n belangrike prosadebuut gemaak na Nuwe Stemme 1 en Ilse van Staden is ‘n waardige, pryswennende digter uit Nommer 2. Hoe sommige van hierdie digters verder gaan ontwikkel, sal goed wees om dop te hou. 

Martjie Bosman het eweneens ‘n belangrike digter geword (sy het in Nuwe Stemme 1 gedebuteer). ‘n Letterkunde ‘n jong digters nodig. Hulle bestaan en dit is goed dat Tafelberg Uitgewers hierdie bundel gepubliseer het. Daar is digters. Daar is talent. Dit kan helaas net gesnoei of ontwikkel as daar publikasie in boekvorm plaasvind. Krog en Schaffer het meer as vierduisend bydraes ontvang. En hulle het die “engel uit die klip” verlos. Die leser word ook voorsien van ‘n woordelys in hierdie pragtige bundel met omslag van die talentvolle Claudette Schreuders.

Daar is vele praatverse in hierdie bundel, soos o.a. by Jasper van Zyl, maar ook verse wat van beheer getuig soos die aangrypende mini-gedig van Bartman:

Inkopielys Kamer 21
Huis Avondrus

voëlsaad
sout
hawermout
Landbouweekblad
Boxer
2 X Wilsons-perperment
Steradent
ingelegde perskes (klein)
Stopain

Daar sal hopelik ‘n Nuwe Stemme 4 wees, want alle poësielesers gaan voortdurend terug na ook die minder bekende en dikwels, vergete name in ons digkuns. Wie onthou nog vir Freda Plekker? Of Menno Stenvert? Of Carol Clark?

Of ken die werk van Elizabeth C.M. du Toit?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Antjie Krog & Alfred Schaffer (Samest.) - Nuwe stemme 3 (2005)



Antjie Krog & Alfred Schaffer (Samest.). Nuwe stemme 3Tafelberg Uitgewers, 2005.  ISBN: 0 624 04288 X.

Resensent: Joan Hambidge

Onder die bekwame leiding van Antjie Krog en Alfred Schaffer verskyn Nuwe stemme 3. Nou kom: ‘n redakteur/samesteller se eie voorkeure of implisiete siening oor die digkuns gaan iewers verdiskonteer word. En dis reg so. Ons lees dus hierdie jong digters se bydraes teen die agtergrond van Krog se nou onlangse belangrike N.P. van Wyk Louw-gedenklesing waarin sy meen dat ons jongelinge eerder in ‘n band wil speel as om pooizie te skryf soos Groot verseboek en die kanon eis.

‘n Heel ongewone manier van sê, of, om iets te sê wat nog nie voorheen gesê is nie, was die uitgangspunt. En goed so. Jong skrywers, al is dit nog hoe onbehendig, moet die aannames van wat poësie is of behoort te wees, afbreek. Krog het immers gedebuteer met die sogenaamde kaalvoet-vers sonder fênsie leestekens en het as die dogter van Jefta van toe en nou, in bundel na bundel die kodes en verwagtinge van die (Afrikaanse) leser afgebreek.

Schaffer is bekend uit sy skitterende, soms omstrede rubrieke. Ook as digter van anti-poësie weet hy (instinkmatig) dat jy juis die kanon moet ken sodat jy iets nuuts kan presteer of bydra.

Dit is duidelik dat hierdie digters wil wegbreek van die tradisie. Hierom die gebruik van EngAfrikaans, die aanwending van die internet(taal), massamedia, pop-indrukke, praattaal, Kaaps, ensomeer. Nuwe stemme was nog altyd ‘n arena waar ‘n nuwe digter uitgestal word. Sommige digters beweeg aan en word digters in eie reg (Ilse van Staden) en ander word prosaskrywers (Tom Dreyer). Vir die meeste gaan dit helaas die eerste èn laaste publikasiegeleentheid wees. En dalk sal ‘n leser hulle jare later herontdek in hierdie versamelbundel, want papier is mos geduldig nie waar nie?

Hier is pragtige verse opgeneem. Inderdaad die delikate gedigte van Thérèse Bartman wat in ‘n pragtige mini-vers soveel oor pyn en eensaamheid oordra:

Inkopielys Kamer 21
Huis Avondrus

voëlsaad
sout
hawermout
Landbouweekblad
Boxer
2 X Wilsons-perperment
Steradent
ingelegde perskes (klein)
Stopain

Ook is hier al die vermoë om emosies te transponeer in ander se ellendes en waarnemings wat die gedigte buite die ek-gerigtheid van die jong digter verhef. ‘n Aangename verrassing is die verse van Eckhard Cloete wat intertekstueel speel met Breytenbach en Ingrid Jonker. Sy “Riglyne vir die voorbereiding van ‘n kreatiewe werkstuk” is werklik ‘n briljante vers wat die gevare van die pastiche speels ontmasker. 

Van Illona Edwards is daar die skitterende vers “Ek noem hom” wat die taboe van bloedskande rondom die naam van die pa beskryf. Dit is ‘n vers wat ‘n mens tussen die oë tref. Soos ook die vers “Ek is klaar vervloek” waar aborsie die uiteinde is.

Dit is opvallend dat geweld in ons samelewing in hierdie verse geregistreer word: “Blommekyk”en “Ek is klaar vervloek” word moord en emosionele geweld vanuit ‘n vroulike perspektief aangespreek. En die ontnugtering met die ‘nuwe’ Suid-Afrika in die gedigte van Kiwidore Fillis verdien eweneens vermelding. Charlton Lee George skryf in sogenaamde “slawetaal” oor die lewe van verloorders. 

Vanselfsprekend sal Krog dan ook digters insluit wat deur wit lesers ge-Ander word. By die letterkundige Karen de Wet vind ons weer die spel veral met aanwesigheid/afwesigheid en verse geskryf rondom die “onthou”-struktuur. Erns Grundlingh se bydrae bevat parodieë op die Onse Vader. Veral die vers oor George Bush is kragtig en die een oor die webruimte slim! En “Kuberkulose” speel nie alleen klaar met Jan F. Celliers nie, maar ook met die wye en droewe land. Die digter maak ook van die internet ‘n seksuele spel.

Pappa, waar is die wakis, is die osse nog honger?
nee, boetie, die osse wei by www.graan/godsverlate.co.za
gaan soek eerder by www.waardefokisons.com
vir ‘n kaart om eendag iewers uit te .kom

Cornel Judels  imponeer met vars seggings oor die liefde en Ronelda S. Kamfer djol lekker met die taal. Angie Kleijn mymer oor die skryfdaad oor Siener van Rensburg in sterk, oortuigende verse. Liesel Kruger speel oortuigend met taalkonvensies. In Danie Marais se bydrae vind ons die praatvers: hy ontgin die wêreld van die vreemdeling in ‘n buite-bestaan wat pragtige nostalgiese verse oplewer. Verse oor die ‘olifantbegraafplaas vir drome’! Ook die gebruik van Duitse woorde word goed aangewend in sy gedigte wat die liefde en sy geskiedenis goed uitbeeld. 

Loftus Marais ondersoek die ‘slang in die gras’ van die l-woord deur Engelse woorde oortuigend in te span in sy aweregse blik op die liefde en die skryfproses, terwyl Vernie Plaatjies se imposante “’n wind waai deur die Vlakte” beloof myns insiens iets groots van hierdie digter wat die bestaan van bruin mense oortuigend uitbeeld in outentieke beelde en taal. Om teen Adam Smal in te dig, vra moed. Maar hy kry dit reg, omdat hy die huidige stand van sake beeldend aan die kaak stel. En Gerard Rasch meen “want die liefde is ‘n perske sonder perke” in sy aweregse verse met ryk beelde. Ook die gesprek met Leipoldt in “Mamparra loop los, hy soek kos…” verdien vermelding.

Ronel Scheffer skryf oor lesbiese liefde en ongebore kinders; oor die liefde wat ‘n lady is. En allerlieflik is haar vers met sy Arabiese name (“Yushra verjaar”) en die speelse vers oor soene waar die geliefde wegloop van alles wat ‘n soen kan vermag!  Tilla Schoeman dig oor die windboef (hmm, ja) en die “Bitterbek Dating Games” – en hier is humor, baie daarvan. 

By W.L. van der Merwe is daar ‘n intelligente spel met die mitologie (“Aphrodite vandag”) en ‘n vars blik op die religie. Hier is heelwat intelligensie en spel met digterlike konvensie soos veral “Beeldspraak” en “Droogte” dan bewys. ‘n Uitstaande vers is die ironiese “En toe was daar God” wat aansit vir ‘n maaltyd waar die spyskaart uitwys hoe sleg dit met die mensdom gegaan het toe God afwesig was op kernoomblikke in die geskiedenis.

Hierteenoor is Karen van der Vyver en Jasper van Zyl jongelinge: eersgenoemde presteer die uitstekende “’n Moeder” en “Kruietaal”, terwyl laasgenoemde ‘n vers soos “Atticus Finch” vir ons gee, beeldend-trefseker.

Van die digters het al lank terug verse begin skryf soos Bartman, Willie van der Merwe en Karen de Wet, maar ‘n digter se ouderdom word geregistreer vanaf die debuut. Hierdie is ‘n pragtige versameling met digters wat hopelik met nog verse sal kom!  Dit is net jammer van ‘n handvol liederlike en onaanvaarbare setfoute in hierdie pragpublikasie met ‘n beeld van Claudette Schreuders as ontwerp.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Monday, February 4, 2013

Alfred Schaffer - Kooi (2008)



Alfred Schaffer. KooiDe Bezige Bij, 2008. ISBN 9789023432210. 

Resensent: Joan Hambidge

Alfred Schaffer het bekendheid verwerf as ‘n mede-samesteller van Nuwe stemme (met Krog) en hy het indertyd rubrieke (soms omstrede) oor die Afrikaanse digkuns geskryf en sy spesifieke sienings van bewegings, modes en vernuwings aangestip. Hy was / is dus die blik van buite. Die taksering van ‘n bundel buite ‘n mens se taalgemeenskap is altyd ‘n ingewikkelde en terselfdertyd opwindende leeservaring. Die leser moet deur verskeie (lees)versperrings werk, soos taal- en tradisieverskille, ‘n ander poëtika, Nederlands en Afrikaans se dikwels ooreenstemmende woorde waarvan die betekenisse subtiel verskil, ensomeer.

In Afrikaans het Daniel Hugo onbaatsugtige werk gedoen om Nederlandse digters te bly vertaal en die gesprek aan hierdie kant lewend te hou. Ek dink hier aan sy vertalings van Komrij en De Coninck, o.a. Min digters kan hom dit nadoen om ‘n digter so outentiek op te vang en steeds aandag te bly gee aan die vorm van die oorspronklike vers. My resensie moet dus gelees word as die taksering van ‘n buite-leser wat nie al die modes en bewegings van die huidige Nederlandse digkuns ken nie. Ek benader dit soos wat ek ‘n digter uit ‘n ander kultuur (dikwels in vertaling) sou lees, wat ek gewoon op die internet raaklees en waardeer. Sonder om presies te weet teen wie word daar geskryf en watter posisie beklee die digter in sy spesifieke tradisie.

Schaffer is al ‘n hermetiese digter genoem teen die praatvers (parlando) wat tans andag geniet in Afrikaans en veral by jonger digters gesien word as ‘n nuwe mode of beweging. In die bundel vind ons dan ook prosagedigte, daardie ingewikkelde gedig wat lyk na ‘n stuk prosavers, maar wat op ander maniere sy struktuur in bedwang moet hou.

Schaffer se gedigte stel bepaalde eise aan die leser. Die leser moet weer en weer lees om agter die kap van die byl te kom en ‘n mens is dikwels verruk deur ‘n amper surrealistiese beeld wat lank na die lees van die gedig nog in jou kop bly draal.  ‘n Dansende apie in poppekleertjies.

Die bundel se motto van John Ashberry (“Why do I tell you these things? You are not even here.”) aktiveer die spel van die afwesige-aangesprokene. Daardie geliefde / jy /  die Baudelairiaanse leser wat ‘n projeksie uit die self is wat die gedigte laat voortstu. In die openingsgedig “Een meer dan waardig afscheid” (7) word ‘n bedanking uitgspreek. Die leser word dus ingetrek by die skryfproses waar nostalgie soos volg tipeer word:  “Wat is nostalgie toch fotogeniek, net een leeg weefgetouw!” Die gedig loop uit op ‘n beskrywing van die private beeld en die wete dat die leser nooit werklik kan deel hê aan hierdie assosiasies nie. En tog lees ons die gedig en skep ons eie verbintenisse met die beelde voor ons.

Daarom dat die digter in ‘n vers ook kyk of die fantasie nog werk (“Goedkoop is duurkoop”, 12) sodat ons as lesers deel word van die proses van dig. Ons word aan ‘n baie ryk onbewuste voorgestel en ‘n soort verïronisering wanneer hy bly is dat die lugverkoeling nog werk. (Hy noem dit “airconditioning” wat wys hoe moderne Nederlands leen by Engels. Op ‘n ander plek staan “live”, “sorry”, “cake”, o.a..)

Schuim is in 2006 as oorrompelende poësie beskou. Hierdie bundel word tereg tipeer as gedigte oor geheime en onsekerhede. Liefde, siekte, dood, skryf die agterplat.’n Mens sou wou byvoeg: gedigte wat kommentaar lewer op die skryfproses en inderdaad ‘n boeiende bundel van ‘n bekroonde digter. Die gedigte het my persoonlik aangspreek weens die spel met vorm, die onverwagse breuke, aweregse of dwars draaie wat deur die digter in beheer gehou word. Manjifiek verwoord in “Kop of munt” (67).

Die digter kan ook die paradoks en enjambement vernuftig hanteer soos ons sien in “Een huis vol visite”(38) en dit is wat van hierdie bundel by uitstek ‘n onthoubare leeservaring maak. 

Die voorblad verraai iets van die aard van hierdie bundel waar die leser moet saam-skryf aan betekenisse. Daar is ‘n skets van ‘n man sonder gesig. Ons moet dit invul.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]