Showing posts with label Film. Show all posts
Showing posts with label Film. Show all posts

Tuesday, May 9, 2023

Film | Beau is Afraid | 2023

Beau is Afraid | Jaquin Phoenix, Parker Posey, Amy Ryan, Nathan Lane | Regisseur Ari Aster, VSA 2023

Resensent: Joan Hambidge


Die eerste doodsonde van die filmkuns is ‘n film wat te lank is (179 min), behalwe as jy Federico Fellini of Orson Welles is. Of dalk Béla Tarr.

 

Die tweede doodsonde is om vir jou kyker te interpreteer. In geval jy nie die simboliek verstaan nie, hier is dit nog ‘n keer.

 

Die derde doodsonde is om ‘n mélange van style saam te gooi soos geweld, hallusinasies en ‘n verwysing na primordialiteit soos die lewe-as-‘n-reis deur verskillende jaargetye (“O laat alles val wat prul en voorgee was”).

 

Die vierde doodsonde is om sommer dadelik ‘n film as kultusfilm te tipeer. Altyd gedag die tyd moet hieroor oordeel.

 

Die vyfde doodsonde is om hierdie film as ‘n soort Odusseia te sien.

 

Die sesde doodsonde is om verwysings aan die hare by te sleep. Soos oor die Joodse geloof. En die letterlike verloor van ‘n kop. 

 

Die sewende doodsonde is om ‘n fliek op ‘n Saterdagmiddag te gaan kyk, in plaas van om te wonder oor hoogmoed, gierigheid, gramskap, afguns, wellus, gulsigheid en luiheid, terwyl twee rugbyspanne in ‘n Titaniese stryd gewikkel is. Wat jy misgeloop het …

 

Genoeg genoeg. 

 

Daar is wel knap vinjette soos die ondersoek na paranoia aan die begin van die film waar Joaquin Phoenix sy hart uitspeel as Beau Wassermann tussen verlooptes en ‘n waansinnige messteker.

 

Wat verbeel hy en wat is werklik?

 

Ook die hilariese verblyf by die Amerikaanse gesin waar ons die impak van die Viëtnam-oorlog sien op hul lewe. Almal is aangetas en daar is self ‘n legkaart wat gebou word, gebaseer op die foto van die seun. ‘n Flinke analise van die “greening of America” vind ‘n mens hier.

 

Die jeugervarings met Elaine wat later terugkeer in sy lewe. Word goed uitgebeeld. Ewige liefdestrou word hier ‘n doodskoot. Die twee jonge maagde wat mekaar as volwassenes ontmoet en dan uitloop op die dood. 

 

Joaquin Phoenix

Die begin van die rolprent met ‘n manipulerende sielkundige en die impak van depressie-medikasie is vol in die kol. Hy lewer kommentaar op hoe ambivalent die moeder-seun-verhouding is.

 

Die welvarende moeder as ‘n soort superego wat die seun verminder en kritiseer neem ons na Oedipus Rex.

 

Hoe die hoofkarakter verwek is, is komies en belangrik vir die oedipale stryd met die afwesige vader, letterlik ‘n monster. Wat natuurlik weer inspeel op Sofokles.

 

Die oorgang van realistiese film na tekenprent (soos in Japannese filmkuns) is goed gedoen. Die ontmoeting met The Orphans of the Forest met teater as self-herkenning oortuig.

 

Die grimeerkunstenaars het hul werk gedoen.

 

Die gehoor in die Labia (jonger as die uwe) het soms gespanne gelag.

 

Nathan Lane

Ari Aster, die regisseur, het glo ‘n voorliefde vir riller-rolprente. Terwyl hierdie kyker die film meemaak, dink ‘n mens onvermydelik aan Alfred Hitchcock se analise van die moeder-seun-verhouding in Psycho (1960) waar die die dooie moeder die kind se gedrag bepaal.

 

Die legkaart is uiteraard ‘n belangrike kode vir die verstaan van die film. As geheel, helaas, oortuig dit nie. 

 

Te veel temas. Te lank.



 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)


Sunday, October 10, 2021

Rubriek | Film: No time to die | 2021

Die naam is Bond. James Bond. James Bond, 007 het ‘n “licence to kill”. Die 25ste film in hierdie aanskoulike reeks heet No time to die, ‘n dubbel-sinnige titel.

Die hoof van M16 word vertolk deur ‘n ouerwordende, bykans blesgeworde Ralph Fiennes, na Judi Dench se wonderlike, strenge teenwoordigheid. Met ‘n bietjie guitigheid soos wanneer sy vir Bond ‘n whizza aanbied op die agtersitplek en hom enersyds van misogonisme beskuldig en andersyds opdrag gee om die boef se vrou te “pump for information”, siende dat sy ‘n eksminnares is. Jonathan Pryce in Tomorrow never dies (1997) as die media-mogul Elliot Carver is die booswig.

 

Bond-films het deur die jare die genderveranderinge in ons samelewing geregistreer van Sean Connery wat ‘n vrou speels op die sitvlak klap en met name soos Pussy Galore en Ms Goodnight tot die polities-korrekte aanwesigheid van M, vertolk deur Judi Dench. Daar was Roger Moore. Pierce Brosnan. Timothy Dalton …

 

In die verhouding wat Bond met Miss Moneypenny het, word die veranderde seksuele mores geregistreer. Die oujongnooi wat wag op die man teenoor die wulpse Bond-meisies, altyd diensbaar en gewillig. Goeie meisies teenoor die slette.

 

Deur die jare gebruik ek James Bond-films in ‘n genderkursus oor populêre tekste. Alles wat nie mag gebeur nie in die liefdesverhaal met sy streng voorskrifte en uitgestelde begeerte, word ervaar in die thriller en meer spesifiek, in die Bond-verhale. Toelaatbaar teenoor ontoelaatbaar. Wyle Cecilia Britz in haar Perskor-voorskrifte het die volgende eise gestel vir die hygroman:

'n Gelukkige einde met 'n stadig ontwikkelende, maar volgehoue liefdesverhouding tussen held en heldin; 'n bietjie détail oor hoofkarakters nadat hulle bymekaar uitgekom het en liefdestonele met 'n sekere mate van eksplisiete seksuele beskrywing.

'n Ongelukkige einde, fisieke mishandeling of verkragting, sado-masochisme, gang-bangs, masturbasie en gay-seks is verdere taboes, meen sy.


Dit spreek vanself dat al hierdie voorskrifte en kodes in die Bond-verhale op sy kop gekeer (op sy rug?) word. 

 

Daniel Craig het my nog nooit oortuig as Bond nie. Hy te fisies na my sin, te gedrewe, te lyflik, te soutloos.

 

‘n Mens mis die intellektuele (en ironiese) spel van die ware James Bond wat aan Cambridge gestudeer het en Oosterse tale bestudeer het. In die romans van Fleming het hy later ook studeer aan die Universiteit van Geneve en leer ski in Kitzbühel. Dit verklaar waarom Bond dikwels in die Ooste opponente kan fnuik. In die ouer films is die onderhoud met die vervaardigers Albert R Broccoli en sy vrou Barbara insiggewend saam met Harry Saltzman se insette. Ook heerlik om te kyk na die hakkelende Fleming in klein film-opnames. Hulde aan Connery en Roger Moore!

 

As ‘n aksierolprent is die jongste Bond vol in die kol. Jaagtonele (dankie, die Aston Martin is terug), baie geraas, agterdog en angsvlakke.

 

Dis egter nie ware Bond nie. James Bond is hier sentimenteel. Daar is ‘n kind. ‘n Vrou. Trane. Ware liefde. En natuurlik ‘n terugspeel op On her Majesty’s Secret Service uit 1969 met George Lazenby en Diana Rigg, Bond se vrou wat sterf. Die interteks word hier via musiek ingevoer wanneer "We Have All the Time in the World" gesing word deur Louis Armstrong. Wanneer ‘n akteur moeg raak vir ‘n rol, word hy dikwels in ‘n film of sepie doodgemaak in ‘n send off.  Dit is spektakulêr uitgevoer in Dallas

 

In die coulisse wag ‘n swart, vroulike Bond. Nou ja, gelees as films wat ons Zeitgeist vertolk en weergee, mag dit seker. Die ware Bond-films bly Casino RoyaleDr No en die voortréflike From Russia with love wat die voorskrifte van Fleming se boeke volg.

 

‘n Jungiaanse analise van die argetipes in James Bond-films is beslis ‘n ondersoek werd; en nie Freudiaanse argetipes soos ‘n resensent nou onlangs beweer het nie (Dekonstruksie as gebundelde terrorisme | Netwerk24. Besoek 10 Oktober 2021). 

 

Dalk is Cary Joji Fukunag, die regisseur, ingesluk deur die polities-korrekte dimensies van ons tyd? Miskien is die hewigheid van alles nou so geregistreer?

 

Kyk o.a. na Q se gay-genderidentiteit as ‘n gay man, en die nuwe 007 wat ‘n swart vrou gaan wees. Uitstekend vertolk deur Lashana Lynch.

 

Daar is baie geraas, ‘n virus, jaagtonele, spanning met Rami Malek as Lyutsifer Safin, die geskonde wraaksugtige boef wat himself veral wil wreek op Bond se liefling, Madeleine Swann (vertolk deur Léa Sedou), ‘n psigiater. Miskien kon sy nog nie haar lesbiese rol afskud om hier te oortuig nie? (Blue is the warmest colour; La Vie d’Adèle  van Abdellatif Kechiche in 2013.)


Uitstekende aksierolprent, maar James Bond?

I was not shaken or stirred.

 

© Joan  Hambidge

 

Tuesday, December 11, 2018

Filmrubriek | Vertellers (2018)

I

Die openingskoot van Lost in Translation (Sofia Coppola, 2003) fokus op Scarlett Johannson se agterstewe. 'n Jonge Scarlett, nog maar net sewentien, lewer 'n sterk vertolking.

Hierdie film ondersoek die misverstande rondom taal ('n r wat in Japannees 'n l word), tydverskille tussen die VSA en Japan, en veral: verskillende aannames oor liefde en verhoudings.

Bob Harris (Bill Murray), 'n bekende Amerikaanse akteur, is in Tokio om 'n whisky-advertensie te maak waarvoor hy goed betaal word. In die hotel ontmoet hy vir Charlotte, 'n afgestudeerde filosofie-student van Yale wat saam met haar man hier is. Hy is 'n fotograaf en telkens op pad uit met suggesties dat hy 'n bekende filmster sien.

Charlotte (Scarlett Johannson) is geïsoleer en sy raak bevriend met Bob. Hy ontvang fakse en oproepe van sy vrou. Hy vergeet sy kind se verjaarsdag en in 'n foonoproep versoek hy haar dat hy gesonder wil leef en minder pasta wil eet. Hoekom bly jy nie sommer daar nie? vra die vrou. Die gesprekke handel dikwels oor oppervlakkige kwessies soos binnehuisversiering of die kleur van 'n mat.

Charlotte luister na oudio-boeke oor die siel, besoek tempels, onder meer ook 'n besoek aan een in Kioto.

Hulle raak vriende na 'n nag saam met Charlotte se vriende in 'n kroeg.

Charlotte is maar twee jaar lank getroud en ontnugter deur John, terwyl Bob na vyf-en-twintig jaar vir Charlotte kan raad gee: hoe kinders jou lewe onherroeplik verander en hoe jy uiteindelik by jouself uitkom.

Bob en Charlotte is beide slapeloos en deel hulle wedersydse frustrasies met mekaar. Hy weerhou hom daarvan om fisies by haar betrokke te raak.

Die kroeg in die Park Hyatt hotel is 'n sentrale fokuspunt en Bob slaap een nag met die sangeres in die kroeg. Dit ontstig Charlotte, maar na 'n alarmparade versoen hulle buite in die straat.

Wanneer Bob vertek, vra hy die taxi om te stop. Hy roep na Charlotte wat in die straat wegstap. Hy soen en omhels haar.

En laat haar agter.

Die kyker weet nie wat hy in haar oor fluister nie. 'n Belofte van 'n wedersiens?

Waarskynlik nie. Lost in translation: verlore in oorvertel of vertaling. Altyd net-net nie daar nie. Soos wanneer hulle in 'n karaoke-bar 'n bekende liedjie van die noot afsing.

II

So klink die dialoog wanneer die advertensie gemaak word:

Director (in Japanese, to the interpreter): "The translation is very important, O.K.? The translation."
Interpreter (in Japanese, to the director): "Yes, of course. I understand."
Director (in Japanese, to Bob): "Mr. Bob. You are sitting quietly in your study. And then there is a bottle of Suntory whisky on top of the table. You understand, right? With wholehearted feeling, slowly, look at the camera, tenderly, and as if you are meeting old friends, say the words. As if you are Bogie in Casablanca, saying, 'Here's looking at you, kid,'—Suntory time!"
Interpreter (In English, to Bob): "He wants you to turn, look in camera. O.K.?"
Bob: "...Is that all he said?"

En die verwysing na Casablanca hier is 'n kode oor hoe die film gaan afloop. Verydelde drome ...

III

Dit is tersaaklik dat hierdie film gemaak is deur 'n vrou en meer spesifiek, die dogter van een van die grootste filmmakers: Francis Ford Coppola. 

Sy is die dogter van Michael Corleone (vertolk deur Al Pacino) wat sterf in Godfather III in 'n wraakaksie teen haar vader.

Haar spel is destyds deur die media gestriem, maar Sofia Coppola het ondertussen 'n gerekende filmmaker geword.  Sy het in 1990 'n bitsige prys verower vir die Swakste Ondersteunende Aktrise.


Hieroor was sy neutraal, omdat sy nooit werklik 'n aktrise wou wees nie. En stellig was dit op haar posisie gemik as behorende tot wat beskou word as die Adel van Hollywood.

 Marie Antoinette (2006) en La Traviata (2017) is verdere uitstaande werk.

IV

Roland Barthes se L'Empire des signes verskyn in 1970, en in 1982 vertaal Richard Howard dit as The Empire of Signs. Dit verskyn by Farrar, Straus and Giroux, Inc. in New York.

Tokio as 'n stad sonder straatnommers en Japan as 'n semiologiese sisteem. Dit het Barthes goed begryp.

Soos Sofia Coppola wat die kyker voorstel aan die tekens van 'n frenetiese stad, Tokio met die Westerling wat interpreteer en verkeerd verstaan. Of uitgesluit voel.

Trouens, indien 'n mens in Japan op besoek was, begryp jy die ryk-van-tekens. 

Sofia Coppola jukstaponeer die Japannese tekens met die binneruimte van 'n hotelkamer waar die Westerling hom of haar afsluit van die semiologiese sisteem.

Treine en tempels. Neonligte en videospeletjies.

Manga en boeke.

Japan signifieer 'n ou en nuwe kultuur wat saambestaan.

V

Uiteraard is Casablanca die ondergrond van hierdie teks.

Kognitiewe dissonansie.

Twee kulture in stryd: die Duitsers en die Franse wat in die kroeg hul volksliedere teen  mekaar sing.

'n Liefde in Parys tussen Rick en Ilsa.

Wat nou weens die oorlog 'n herbesoek word van misverstande, verlating en verraad.

Hierdie 1942 film van Michael Curtiz - waaroor Umberto Eco so insigryk geskryf het in The Role of the Reader (1979) - bly 'n baken. Al geparodieer in advertensies met die lieflike Ingrid Bergman en Humphrey Bogart wat haar red. Woody Allen se Play it again, Sam (1972) aktiveer ook hierdie rolprent.

Politieke ambisies word gesinkopeer met persoonlike verbintenisse - wat nooit in die herinnering sal verbygaan nie, herinner Rick ons.

Rick's Café heet 'n restaurant in Tamboerskloof. Nie die regte Rick's Café Américain nie. In die film is die VSA nog neutraal teenoor die Franse Vichy's en die Duitsers.

Rick (Bogart) gee voor hy is neutraal en onbetrokke - maar hy word ten slotte uitgewys as 'n man wat 'n keuse moet maak vir sy geliefde. Al gee hy voor om net in homself geïnteresseerd te wees, bely hy immers aan Ilsa dat hul ervaring in Parys vir altyd sal bly bestaan. (As Time goes by...)

Dit is 'n film wat kommentaar lewer op mense se politieke betrokkenhede (Laszlo, Ilse se man was in 'n konsentrasiekamp) en is bewus van Rick se gevoelens vir Ilsa.

Met die herkyk, kan 'n mens net sê: Here's looking at you kid.

En die film kry telkens 'n nuwe lewe!

© Joan Hambidge

Friday, October 12, 2018

Rubriek | Magnolia (1999)

I
Paul Thomas Anderson se Magnolia (1999) is om verskillende redes ‘n verbluffende film. Soos Robert Altman se Short Cuts (1993) vertel dit verskillende verhale en ondersoek die rol van toeval op mense se lewens. Tom Cruise, Philip Seymour Hoffman, Julianne Moore, Jason Robards, William H. Macy, en Philip Baker Hall o.a. lewer kragtige toneelspel.

Boonop heraktiveer dit weer vir hierdie kyker Supertramp se musiek en Goodbye stranger word in ‘n kroeg gespeel:

Sweet devotion (Goodbye, Mary)
It's not for me (Goodbye, Jane)
Just give me motion (Will we ever)
To set me free (Meet again?)
In the land and the ocean (Feel no sorrow)
Far away (Feel no shame)
It's the life I've chosen (Come tomorrow)
Every day (Feel no pain)
So goodbye, Mary (Goodbye, Mary)
Goodbye, Jane (Goodbye, Jane)
Will we ever (Will we ever)
Meet again? (Meet again?)
Now some they do and some they don't
And some you just can't tell


Die verhaal begin met die impak van toeval, onder andere hoe ‘n man wat selfmoord wil deur uit ‘n venster te spring, toevallig voor sy ma se venster verby val die oomblik toe sy ‘ʼn skoot afvuur, en noodlottig deur haar getref word. (Sy word dan van moord aangekla.)

Die verhaal sluit af met paddas wat uit die hemel val, ‘n verwysing na Exodus 8:2. (Hiermee bewys God sy almagtigheid volgens die Bybel.)

Burt Ramsey is die verteller (Ricky Jay) en syvoice overraam die verhaal.

Dit is ‘n baie komplekse film (3 ure lank) en ‘n mens kan dit vanuit verskillende perpektiewe beskou.

II
Die verhaalgang beweeg tussen verskillende insidente wat ten slotte saamgenoer word en ek wil dit nie bederf vir die voornemende kyker nie.

Daar word eerder gefokus op enkele temas in hierdie film.

Die verhouding tussen ouer en kind is ‘n deurlopende tema: die sterwende vader wat wag op sy seun en versoening behoef.  Die seun – vertolk deur Tom Cruise – heet Frank T.J. Mackey. Hy het sy naam verander en is ‘n motiveringspreker om mans seksueel op te rui. Die man moet oorheers en Cruise se werklike verbintenis met Scientology word ook hier geaktiveer: jy is die heerser van jou gedagtes en begeertes. In 'n onderhoud weet ons dat hy ook sy verlede gefabriseer het.

In die toneel waar hy sy sterwende vader besoek, is versoening helaas nie moontlik nie. Hy verag sy vader, omdat hy hom en sy moeder verlaat het. Hy moes ook omsien na sy moeder, sterwend aan kanker. Die vader Earl Partridge word vertolk deur Jason Robards. Die bekende siening dat die sterwende net kan vertrek indien daar vrede gemaak word met agtergeblewenes word in ‘n sterk toneel uitgespeel. Met Cruise wat die vader vloek en skel.

Kinders speel ‘n belangrike rol in die film. Die wonderkind wat ‘n speelding is vir sy pa en aan vasvra-wedstryde moet deelneem om die vader se eie ongeleefde én onsuksesvolle lewe uit te leef. Die kind wil egter nie verder saamspeel nie. Grootmense wou hom nie tydens die wedstryd badkamer toe laat gaan het nie, en hy is verneder hierdeur. Hy konfronteer sy vader en versoek hom om mooier met hom om te gaan. Met die vader wat hom steeds verminder.

Die swart rappertjie red Earl se vrou Linda wat probeer selfmoord pleeg. Hy bel 911 nadat hy geld uit haar beursie steel.

Sy pendant is die ouer, patetiese William H. Macy as "Quiz Kid" Donnie Smith wat graag ortodontiese operasies wil ondergaan, maar afgedank word by Solomon & Solomon. Hierna steel hy geld uit die kluis, kom tot sy sinne, maar kan helaas nie terugaan nie weens die paddas wat neerdaal uit die hemele. Hy word deur die “good cop” Jim Kurring “ (John C. Reilly) gered en die geld word teruggesit.

In ‘n pynlike kroegtoneel (waar Supertramp speel) bely hy sy liefde vir die kroegman.

Lina (Julianna Moore) is ‘n verslaafde en skel op ‘n apteker wat haar ellende raaksien en haar “lady” noem. Jim raak betrokke by Claudia Wilson, die aanbieder van die quiz showse kind. Jimmy Gator (vertolk deur Philip Baker Hall) stort in duie voor die kameras, is eweneens sterwend aan kanker en bely aan sy vrou dat hy ontrou was aan haar. Maar die grootste ontrouheid is dat sy weet dat hy hul dogter Claudia gemolesteer het en hierom is sy waarskynlik ‘n verslaafde. Hy skiet homself dood in ‘n apokaliptiese toneel met die ambulans (met Linda in) en “good cop” Jim oor die paddas kaats. (Jim wat sy pistool verloor het, vind dit terug wanneer die paddas neerdaal.)

In ‘n klein vinjet sien ons ‘n sterwende hond; hy het immers per ongeluk van Earl se pille ingekry en die siektetrooster, Philip Seymour Hofmann, is uiters emosioneel na die konfrontasie tussen vader en seun. Hy is eweneens diep geraak deur die dood van Earl, wat vir hom ‘n soort vaderfiguur geword het.

In ‘n onthutsend-eerlike toneel bestel hy porno-tydskrifte oor die foon en die kyker is intens bewus van sy isolasie.

III
“Desire is a wound of reality,” waarsku Žiżek. Elke karakter in hierdie film se begeertes word gefnuik.

Die film lewer kommentaar op die dood van die Amerikaanse droom lank voor Trump se koms.

Verslawing, siekte, selfmoord, disfunksionaliteit.

© Joan Hambidge

Saturday, July 14, 2018

Film | The shape of water (2018)

I
Hierdie film word tipeer as 'n romantiese, donker-fantasie-film waarvan Guillermo del Toro die regisseur is. Ondertussen het die film met Sally Hawkins, Michael Shannon, Richard Jenkins, Doug Jones, Michael Stuhlbargen Octavia Spencer, etlike pryse ingeoes.

Dit speel af in 'n Baltimore, Maryland in 1962 in 'n laboratorium waar 'n amfibiese-mensdier in water gehou word. Hiermee beweeg ons in die ruimte van sci-fi.

II
Elisa Esposito, die versaakte, stom meisie, raak verlief op die monster waarop navorsing gedoen word in 'n laboratorium. Sy is die skoonmaker in die laboratorium saam met haar swart vriendin, Zelda wat haar gebare vir almal interpreteer. Die verhaal word vertel vanuit die agterna-perspektief van Giles, 'n gay-man wat onsuksesvolle advertensie biljette maak. (Is ons dalk net in ’n storie wat hy skep, omdat hy onsuksesvol is as advertensie-skepper? Is dit alles sy fantasie?)

Elisa (Sally Hawkins) is doofstom – Sally Hawkins, terloops, in die werklike lewe, is disleksies. 

Vir die storielyn, kyk hier - om 'n spoiler te verhoed: The Shape of Water - Wikipedia. (Besoek 13 Julie 2018).

Hierdie film speel in op Beauty and the Beast, maar met die Koue-Oorlog in die VSA as agtergrond. Die Russe versus die Amerikaners se verbete pogings om eerste op die maan te land. Daar is verwysings na JFK – ons hoor selfs sy stem – en die verhaal word geamplifiseer met etlike verwysings na films uit die laat vyftiger- en sestigerjare wat 'n uiters romantiese beeld van die samelewing gegee het. 

Die musiek in die film dra die storielyn verder. Glenn Miller, Chica Chica Boom Chic (met Carmen Miranda), Andy Williams se A Summer Place en boonop sing Renée Fleming You'll never know.

III
Ofskoon ek hierdie film met groot skepsis benader het, was ek aangenaam verras deur die fyn politieke kommentaar en hoe mens geAnder word: gays, vreemdelinge, swartmense. Kyk o.a. na die rol van die Russiese navorser, Robert Hoffstetler / Dimitri Mosenkov, die Sovjet spioen, wat as navorser werk in die laboratorium. Michael Stuhlbarg is hier uitstekend op sy pos as 'n voormalige akteur vir die Coen-broers.

Boonop is daar baie spanning wanneer die amfibiese-mensdier verwyder word en die aggressiewe Michael Shannon as Richard Strickland hom wreek op diegene wat hom teengaan.

Puik spel en sosiale kommentaar oor welke mans tweekeer hul hande was in 'n toilet – net swakkelinge, aldus hierdie karakter.

Alles werk met binariteite: teenoor keiharde navorsing is daar danstonele en ligsinnige musicals.

Ons beweeg van diners na die laboratorium na die buite-landskap van geboue.

Die film is 'n skerp analise van die American Dream waar die simboliese waarde van motors en wapens geanaliseer word.

IV
Op een laat winternag lees ek weer Umberto Eco se klassieke artikel: “Casablanca: Cult Movies and Intertextual Collage” opgeneem in David Lodge se Modern Criticism and Theory (Longman, 1988).

Twee clichés laat ons lag; 'n honderd clichés raak ons want ons besef dit praat met mekaar en dit herdenk 'n re-unie (Lodge, 453).

En dis die argetipes wat re-unie hou, aldus Eco, wat hy tipeer as intra-filmiese verwysings en toespelings. Boonop het Casablanca 'n Woody Allen-parodie ontlok in 1972 se Play It Again, Sam.
            
So beskou, is The Shape of Water in wese 'n film wat sóveel tekste in sy buik dra. Geen wonder ons sien die twee minnaars in 'n akwarium wat uiteintlik bars nie.

Eco praat van die “symphonic elaboration” van die ongelukkige geliefdes in Casablanca– in The Shape of Water is daar dieselfde interspel. 

Gedoemde liefde. Die een vertrek op 'n vliegtuig; die ander een verdwyn onderwaters.

Daar is soveel intertekste, na films, boeke en musiek dat geen kyker dit op 'n eerste vlak kan uit-kyk nie. 

Hoe daardie Braziliaanse amfibiese dier geanaliseer word, is die punt van die film. En dit lewer eweneens kommentaar op seks: die doofstomme masturbeer in die bad; die aaklige Strickland se seks met sy vrou is grusaam – met bloeiende vingers.

Iewers lees ons op 'n blog van Hannah Tepoorten:

“The required competence is not only inter-cinematic. It is inter-media, in the sense that the spectator must know not only other movies, but the whole of mass media gossip about the movies.” (“Casablanca”/ Cult Movies and Intertextual Collage. Besoek 14 Julie 2018).

© Joan  Hambidge