Showing posts with label Danie Marais. Show all posts
Showing posts with label Danie Marais. Show all posts

Sunday, October 30, 2016

Bob Dylan en die Nobelprys 2016


The times they are a-changin'

Die Nobelprys is dikwels 'n omstrede prys en 'n mens kan 'n lys saamstel van groot skrywers wat dit nog nooit ontvang het nie. Waarskynlik was niemand meer verbaas as Bob Dylan toe hy die prys ontvang het nie. BY (30 deser) plaas tereg 'n onderstebo-foto van die sanger.

Wat is verkeerd met hierdie toekenning? Wel, soos Nadine Gordimer jare gelede opgemerk het toe hy op die kortlys was, hy is in die eerste instansie 'n sanger en nie 'n gepubliseerde skrywer nie. En die benoeming as daar 'n werklik gevestigde skrywer soos Philip Roth met 'n "body of work" is? 'n Skrywer wat bepaald kon aanspraak maak, omdat sy tekste nie alleen goeie letterkundige werk is nie, maar terselfdertyd sosiale kommentaar lewer. En al sou 'n vroulike kritikus van Doer Onder hom wil afboender van die Booker glo omdat sy werk te misogonisties is, kan sy kennelik nie die verskil tussen die verteller (of implisiete outeur) en die werklike outeur raaksien nie.

Hier te lande probeer kritici tereg om Breytenbach benoem te kry.

Jurie Wessels verduidelik in By van 30 deser oor waarom Dylan moes wen. Die tyd is ryp daarvoor. Absoluut: die tsoenami van anti-intellektualisme wat die wêreld getref het, word hierdeur bevestig, myns insiens. Maar Dylan 'n oerdigter?

Danie Marais, 'n uiters kundige musiekkritikus, meen dat Dylan wél bekroon kon word. (Oor Bob Dylan en sy Nobelprys vir letterkunde | LitNet. Besoek 30 Oktober 2016.

Hy noem hom 'n groot sanger-liedskrywer. Groot sanger? Nou ja, mens hoef net te kyk na Karen Zoid se program om te weet hoe misleidend die term "groot sanger" kan wees. Ek kyk na die program en skud dikwels net die kop.

"Snobisme is tog niks anders as ’n houding gebaseer op halwe waarhede en onkunde nie", meen Marais. Oor populêre musiek - dit weet ons almal - kan niemand hom troef nie. Maar oor letterkundige kwessies, is daar wel ander menings. Soos oor kanonisering, onder andere. Die kanon kan byvoorbeeld nie "verdwyn" nie; ons kan net her-kanoniseer of de-kanoniseer. En die toekenning aan Dylan as liriekskrywer is ook nie bo kritiek verhewe nie.

"Dis die uitsonderlike skryfwerk in sy liedtekste wat die saak in sy guns beklink het", meen Marais wat eweneens Harold Bloom gebruik om sy argument te staaf:

“All canonical writing possesses the quality of making you feel strangeness at home,” skryf hy in sy The Western Canon: The books and schools of the ages (1994).

As hy na Leonard Cohen verwys as 'n goeie liriekskrywer of Bertolt Brecht, seg ek amen. Die Brecht/Weill-duo (veral wanneer Anne Sofie von Otter dit vertolk) aanvaar ek.

Is dit 'n groot liriek?

Look out kid
Don't matter what you did
Walk on your tip toes
Don’t tie no bows

Better stay away from those
That carry around a fire hose
Keep a clean nose
Wash the plain clothes
You don’t need a weather man

To know which way the wind blows.

Die "visions" van hierdie Johanna is bepaald nie op dieselfde "song page" as Jurie Wessels en Danie Marais nie.

Maar ek wil nie hul ikoon belaster nie. Maar geniet en waardeer dit vir wat dit is. Dis werklik nie hoogstaande letterkunde nie.

Ek lees eerder Saul Bellow of Frank Bidart. Gaan lees "Ellen West":


Callas is my favorite singer, but I’ve only   
seen her once—;

I’ve never forgotten that night ...

—It was in Tosca, she had long before
lost weight, her voice
had been, for years,
                               deteriorating, half itself ...

When her career began, of course, she was fat,

enormous—; in the early photographs,   

sometimes I almost don’t recognize her ...

The voice too then was enormous—
healthy; robust; subtle; but capable of   
crude effects, even vulgar,
                                          almost out of   
high spirits, too much health ...

But soon she felt that she must lose weight,—
that all she was trying to express

was obliterated by her body,
buried in flesh—;
                           abruptly, within
four months, she lost at least sixty pounds ...

—The gossip in Milan was that Callas   
had swallowed a tapeworm.

But of course she hadn’t.


                                       The tapeworm
was her soul ... 



© Joan Hambidge

Friday, July 4, 2014

Danie Marais - Solank verlange die sweep swaai (2014)


Danie Marais: Solank verlange die sweep swaai. Tafelberg, 2014. ISBN 978 0 624 06842 6 
Resensent: Joan Hambidge

I

Danie Marais debuteer in 2006 met die bundel In die buitenste ruimte. Hierna volg Al is die maan 'n misverstand (2009). Sopas verskyn sy derde bundel: Solank verlange die sweep swaai.  Die bandontwerp van Anton Kannemeyer is treffend en dit dui reeds 'n krities-satiriese aanslag aan. Transgressie en die oopmaak van taboe-onderwerpe is bekend aan Kannemeyer se strippe-kuns.

Hierdie digter se verse kan aan drie belangrike eienskappe herken word: die sogenaamde praatvers (parlando), die sterk outobiografiese element en 'n besinning oor die digkuns se aard en plek in 'n moderne samelewing.

Die sterk praatelement of voordragverse spreek veral jong lesers aan. Die digter is ook rubriekskrywer, onder andere oor moderne musiek, en vele van sy verse tree in gesprek met figure soos Bruce Springsteen, by implikasie met Leonard Cohen – wat sy loopbaan as digter begin het – en Johnny Cash, om enkele name uit te sonder. Daar is 'n gedig vir Emmylou Harris ("Fok jou, Emmylou Harris", 87) en woede (en depressie) is onderliggend aan vele van die verse. In 'n gedig aan sy kind is Bruce Springsteen die gespreksgenoot: "Bloedneus praat met Bruce Springsteen praat met my dogter" (83).

Soos Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar se verse, daag hierdie gedigte die grense uit van die konvensionele gedig en liriek. Die invloed van Charles Bukowski is aanwesig nes die gesprek met 'n ander verlore romantikus, Raymond Carver.  'n Mens sou ook die invloed van Tony Hoagland kon naspeur.

In "Wit mens se sad" , 70 - begelei met 'n motto uit Ronelda Kamfer - kom hy in opstand teen sy wit, bevoorregte jeug en die geweld wat daarin opgesluit is. Die sterk outobiografiese element - wat reeds van sy debuut af aanwesig is - word weer aan bod gebring met verse oor 'n pynlike egskeiding, die belewenis van vaderskap, liefdesverrraad, die siekte van 'n ouer, die selfdood van 'n neef en ander familiesages. Daar is verse wat 'n mens as ars poëties kan tipeer, soos "Die dronkverdrietige hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê" (91), "Nie 'n vrye vers nie" (47), "1 2 3 blok  myself!" (34), "Digter, basterwit" (24), "Wat swak gedigte weet" (16) met 'n aanhaling uit Auden wat moet lees:

For poetry makes nothing happen: it survives
In the valley of its making where executives
Would never want to tamper, flows on south
From ranches of isolation and the busy griefs,
Raw towns that we believe and die in; it survives,
A way of happening, a mouth.


II

Die sjarme van hierdie bundel is geleë in die gemaklike, loslit-aanslag. Alles word letterlik gedig. Maar dit is dan ook die gevaar van die praatvers as sub-genre: die gedig is dikwels (vir my smaak) te lank en kan op enige plek afgesluit word. Maar dis nie hoe hierdie verse beoordeel wil word nie: dit wil as ongebreidelde vers aangebied word. Vele gedigte neem sterk standpunt in téén die konvensionele digkuns en die digkuns as 'n elitistiese bedryf. In "Die dronkverdrietige hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê" (91) tree hy sy tydgenote aan, maar draai die mes ook ten slotte in op homself:

Ek sukkel deesdae om gedigte te lees –
al die woordspel, naskeermiddel en ego terwyl
'n versukkelde weergawe van Rome vol franchises
in vlamme staan wat nie heeltemal eg lyk nie.

Daar word verwys na 'n "on-gedig" (86) en Neruda se liefdesgedigte bring kennelik nie meer vreugde nie: "Vergeet Neruda" (80). In "Nie 'n vrye vers nie" (47) word die woede verwoord wat afloop in sy ontnugterde slot:

'n laeklas soort van sonnet met
'n voorspelbaar verpletterende slotkoeplet.

Die sterk outobiografiese aanslag maak van die leser voyeur in die intieme arena van die liefde, afgelope verhouding, familiedramas en 'n nuwe liefde. Die gebruik van boksmetafore dui op 'n spreker wat hom oorrompel voel in die "ondermaanse ellende" (90).


III  

Uiteindelik sal die leser ook hierdie bundel aan die volgende digterlike uitspraak meet:

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis 'n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché. (17)

'n Handvol verse is werklik uitstekend: daar waar die (outydse) vorm en inhoud een word ...

In die "literêre bestaansboerderytjie" is die korter verse onthoubaar in hul "less is more"-aanslag, soos byvoorbeeld "Zombie" (68) en "Nuwe oë" (15).

Hierdie bundel verwoord ook die gevoel van 'n jonger generasie: hul sinisme, uitsigloosheid, gevoelens oor politieke onregverdigheid. Gelukkig is die digkuns 'n plek waar die digter hom kan uitwoed oor al die ongeregtighede en persoonlike ellendes wat hom getref het:

kop in een mus met die digkuns die hart
se rooi gemors
"Ek"


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)

Sunday, February 24, 2013

Danie Marais - In die buitenste ruimte (2006)



Danie Marais. In die buitenste ruimteTafelberg Uitgewers, 2006. ISBN  0 624 0 4458 0.

Resensent: Joan Hambidge

Met sy debuut-digbundel, In die buitenste ruimte, lewer Danie Marais ‘n genoeglike bydrae tot die sogenaamde praatgedig. Die vers wat uitstekend werk, veral wanneer ‘n mens die digter die verse self hoor voordra. Marais was een van die digters op die onlangse kortlys vir die DaimlerChrysler vir poësie met figure soos Ilse van Staden en Gabeba Baderoon as mededingers. Baderoon het die prys gewen, omdat háár voorlegging, in daardie stadium, meer geskakeerd was – sosio-polities en tegnies - as die bydraes van die ander digters. Dit kan ek bely as ‘n beoordelaar.

Tog is daar beklemtoon dat elkeen van hierdie digters ‘n belangrike aanslag en stem het en dit was fassinerend om Marais te plaas teenoor onder andere die orale digters uit die swart letterkundes. Hy vertolk sy verse mooi en dramaties en aktiveer belangrike sub-tekste vir die luisteraar/leser.

In die buitenste ruimte handel oor gedigte wat o.a. inspeel op ‘n verblyf in Duitsland en die mooi komiekstrip-buiteblad van Karlien de Villiers vang iets van die vervreemding van die gedigte op. Die titel speel eweneens in op Jacques Derrida, die dekontruksie-filosoof, se se siening van teks: dat daar geen buite-teks bestaan nie en elke gedig van Danie Marais praat met ‘n bekende popliedjie, herinnering, liefdesvers, motto sodat die vers inspeel, uitspeel op soveel assosiasies. Op die buiteblad is daar agter ‘n maan, ‘n plant – voor staan die geboue. Hierdie lieflike buiteblad gee soveel weg: stad versus onskuldige jeug; brute daaglikse bestaan versus ongeskondenheid en al die ander bekende opposisies waarmee die digkuns werk.

Die belangrikste temas, behalwe ‘n verblyf in die vreemde, is die liefde, die dood van grootouers, ‘n obsessie met die digkuns, musiek en taal en ‘n ontroerende blik op jeugherineringe. Ek dink een van die sentrale gedigte in hierdie bundel is die vers “Verleë” (pp. 53 – 56), een van die aangrypendste gedigte wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Die beskrywing van ‘n dogtertjie, Sabine se onvermoë om wiskunde te doen, word dan vir die spreker ‘n simbool van sy eie eensaamheid en belewenis van ‘n wrede lewe. Hy probeer die kind se hoopvolle glimlaggie vernietig – maar dit bly onvernietigbaar, “bullet proof soos ‘n song”.  (Die geweldig baie gedigte oor die eie jeug en gedigte oor jong kinders, aktiveer interessante interpretasies via Melanie Klein, die Oostenrykse kinderpsigoanalis, onder andere.)

‘n Mens sou Marais waarskynlik verder ten beste kon tipeer as die digter van die nostalgie en juis vanweë die buite-blik wat ‘n soort dubbel-perspektief tot gevolg het, kyk hy dikwels met ‘n vreesloosheid na Afrikaans en haar digkuns:

en jy wonder
of jy dalk eendag in ‘n Duitse aftree-oord sal moet antwoord:
die taal waarin ek gebore is het verdwyn soos ‘n tuisland
moes toemaak soos ‘n haarsalon vir honde
aan die verkeerde kant van die spoor 

(uit: “Bundesstrasse 51”, p. 77).

Daar is dikwels verpletterende slotte: ‘n slot wat jou laat mee-leef met die ontnugtering van die spreker wie se ervarings in ‘n buitenste ruimte van eensaamheid en troosteloosheid beweeg. Die intertekste gloei, maar dit is verwerkte en ingesinkte verwysings. Robert Lowell wat onder andere sterk saampraat in hierdie bundel. Hoe dan anders? Hy bly ‘n “poet’s poet”.

Die orale of praatvers maak vanselfsprekend veral op die gehoor aanspraak. Marais skeep nie sy metaforiese of beeldende aspekte af nie.

“Verlange het ons
suutjies melkwit
deur ‘n ou kremetartboom afgeloer” 

(p. 33)

“...verleë soos ‘n Kersboom op Nuwejaar” 

(p. 29)

“Die stort het ‘n breakdown gehad –
hy drup net...” 

(p. 19)

Daar is ‘n sterk buiteblik, ‘n vermoë om onvergeetlike waarnemings in jukstaposisie te plaas en ‘n ongelooflike, hartverskeurende weerloosheid. Ek ken min gedigte waarin die berou oor die afloop van ‘n huwelik met soveel skuld en aandadigheid bely word. En die wete: dat ons eers by nabaat verstaan deur ‘n gedig.

Vir die speurende leser is veral die interessante gesprek met Brinkmann, saam met Enzensberger, vooraanstaande Duitse digters en ‘n hele skare van rock-musici wat netjies ingebed word in gedigte en ‘n enorme musikaliteit aan die verse gee. (Van Brinkmann, terloops, is daar al gesê dat sy eenvoud die leser in ‘n koma kan sit!) Ek hoor ook iets van Bertolt Brecht, die grootse digter, in die begin van “In Duitsland waar die wolke in gelid masjeer”:

Duitsland is waar die wolke in gelid masjeer,
waar die son ‘n permit het om te skyn,
waar die maan nie mag opbly so laat soos sy wil nie. 

(p. 43)

Dis ‘n aangrypende debuut wat waarskynlik min afwisseling in toonaard bied vir sommige lesers en wat miskien, as ‘n klein kritiek in die kantlyn vir die digter, die gevaar mag loop om té woordryk en uitgesponne te raak. Die snoeisker moet soms ‘n bietjie loei.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]