Thursday, April 6, 2023

Gedig | Joan Hambidge - Don’t look now | 2023

Sielskerwe glo hierdie besoeke

van die dooies aan ons,

vertel ek vir my digtersvriend

 

vanoggend ná ‘n droom

oor geliefdes en dooies

roepend na ons.

 

Sedert die mees onlangse

vertrekkende roep ‘n swart kraai

voor my venster nie in Venesië nie.

 

Verbeelding of fausse reconnaissance?

Op die beginsel van cui prodest

is ons almal skuldig

 

aan verlange en fantasie

en weier ons om die dooies

‘n ruskans te gun.

 

Ek het die sleutel toegesluit

in die kluis waar jy rus,

Monsieur Joyeux,

 

sibariet, skeptikus, regsman:

met hierdie vers bewys

ek jou tog verkeerd oor

 

die Anderkant.


© Joan Hambidge 

Resensie | Pieter Marais – Konkel | Protea, 2023

Pieter Marais – Konkel. Protea, 2023. ISBN: 978-1-4853-1447-9

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Konkel van Pieter Marais is satiries in aanbod. En satire is een van die moeilikste genres binne die kunste, omdat die teiken van die satirikus dikwels verdwyn of verouder. Ander kwessies bly egter konstantes. Die selfwaan, -oorskatting en belaglikhede van persone (of gemeenskappe) word ontmasker in oordrywing.

 

Archilochus (700 V.C) was die eerste satyros-skrywer met aanvalle op Lycambes. In Afrikaans is Etienne Leroux die meester.

 

In Konkel vind ons reeds in die name ‘n satiriese blik (Jurida, Giel – ons ken almal die ou grappie –, Laetitia Snoek,  Peester Pienaar, Oom Stywelyne, Goebbels von Messerschmitt, Vrede Volmoed …). Bennie Griessel is hier ‘n karakter, ‘n afgetrede speurder van die Kaap, en só word dus ‘n stekie uitgedeel na ‘n medeskrywer. Boonop is daar ‘n sepie Lawaaiwater, wat veral op manlike kykers gerig is (115).

 

Die ruimte is Joegaai en daar is ‘n verwysing na Lexington-sigarette en ons ken die meme van die meisie wat die sigaret rook (onpoets) en hier sterf ‘n karakter (vrou) onverwags. En daar is verwysings na ‘n dildo. NEST (‘n knipoog na James Bond) en samesweringsteorieë. Paranoia en Elon Musk wat meen dat gevorderde kunsmatige intelligensie gevaarliker as kernwapens kan wees (125). Die leerstellings van die Ma’at teenoor New Age-gelowe. Khoi-Renaissance-olies is ook in die opstuur-mengsel. Soos die leuse IbaLapha en huise in die buitenste ruimte. 

 

Vuige taal en die abjekte kenmerk ook die satire.

 

Douglas Adams lei ook die leser verder nes Aucamp.

 

Die Dwerg is ‘n reus van ‘n man. By Etienne Leroux is dit natuurlik die reus in Een vir Azazel.

 

II

Alles tersaaklik om by die eintlike punt uit te kom: maskuliniteite en die manlike fantasie. Hierdie roman moet saamgelees word met Jaco Alant se Is mos oos; Piet van Rooyen se Antraks en Ruan Kemp se Wit leuen

 

Joegaai by Marais; Uiopa, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad by Kemp.

 

Piet van Rooyen steek die draak met die krimi-kultuur en Ruan Kemp wys op hoe leuens ons lewe reguleer. En manlikheid word vanuit verskillende hoeke belig in hierdie romans.

 

In die tagtigerjare het verskillende manlike skrywers oor die grensoorlog geskryf. Nou het ons hierdie satiriese aanbod met die suffering joker, soos in Malcolm Bradbury se The History Man (1975), hierdie soort karakters en vertellers tipeer. Bradbury se roman bly ‘n baken in satires oor die kampuslewe.

 

Indien vroueskrywers alles mag oopskryf, is die manlike blik eweneens tersaaklik. Gay en straight.


Al hierdie romans vra vrae oor toksiese manlikheid. By Marais is daar ‘n kritiese blik met satire se handlangers: parodie, sarkasme en ironie.

 

Is hierdie roman ‘n korrektief op dit wat dit kritiseer of satiriseer? Die satirikus hou immers ‘n spieël voor die leser. Agter dit is daar immers die implisiete norm van hoe alles kon wees. En dit wil alles in die bek ruk.

 

En die slot lees: “Hy ry met vlieënde vaandels; galop selfs met die branders se perdjies sodat sy hare in die wind waai en seesproei op sy arms en gesig spat. Hy kyk in die truspieëltjie en sien ’n fees.” Dis Vrede Volmoed se binnespraak.

 

Ten spyte van die feit dat die e-pos aan Bielefeld se munisipaliteit terugkeer.

 

Die werklikheid en die beheptheid met maklik-toeganklike literatuur word opgestuur. En hoe ons steeds deur RP-publikasies (Antraks) en sepies (Konkel) beheer word.

 

III

So tussen die Meisie van Avignon en Assegaai is daar lekker grappies soos “hy voel gestroop. Soos ’n kaalgeëete sosatiestokkie …” in Konkel.

 

Identiteitsverandering is hier die belangrikste sleutel, eweneens ‘n verpesting van ons moderne tyd.

 

Inderdaad lees ons: “Jy leef net twee keer – jou eie lewe en die lewe waarvan jy droom.”

 

Inderdaad. Die Utopia bestaan nie. Dis distopia en die harde werklikheid.

 

Die skerp assegaaipunt van die satirikus begelei die afdelings

 

Is daar ‘n konkel of kinkel in die kabel?

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)