Showing posts with label Beijing. Show all posts
Showing posts with label Beijing. Show all posts

Sunday, April 3, 2016

Joan Hambidge - ’n Nota by ’n vers



Tafereel

’n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls wat sing,
staan in die agtertuin van ’n huisie beskeie
in Beijing. Die oompies speel mahjong,
die tantes spoel al skinderend die wasgoed,
mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan
staan daar ’n voël opgesluit in ’n hok. Sy kraalogies
draai soos ’n arend s’n reg om dié gedoente.
Hy droom van ’n ander bestaan, ’n beter wêreld,
verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure
veel, veel langer as sesduisend kilometer klip. 
’n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op
en knoop dit vas in haar geheue. So vredig
om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig,
in hierdie digterlike tuin.

 Dit is die openingsgedig in die bundel Meditasies (Human & Rousseau, 2014), ’n bundel wat ontstaan het tydens ’n sabbatsreis toe ek in 2011 van Hong Kong gereis het om die aarde en in Istanboel tot rus gekom het.

Nou onlangs moet ek lesing gee vir die Amerikaanse studente wat per skip om die aarde vaar ("Semester Abroad") oor die digkuns. Die opdrag: praat oor die digproses en hoe ’n vers ontstaan. Danksy Charl JF Cilliers se vertalings van my gedigte, kon ek met die jongelinge praat en Meditasies, wat handel oor ’n reis per vliegtuig-om-die-aarde, sluit dus aan by hulle verwysingsraamwerk.

So lui Cilliers se vertaling:

Scene

A dark green tree
leafy, full of birds singing,
stands modestly in the back yard of a small house
in Beijing. The uncles are playing mah-jong,
the aunts, with gossiping chatter, doing the wash,
people cycling past, the end-of-school bell just rung.
In this small scene depicting the human condition
there is a bird locked up in a cage. His beady eyes
sweep round like an eagle’s to survey these goings-on.
He dreams of another existence, a better world,
beyond restrictions, far, far away, over huge walls
so much longer than six thousand kilometres of stone.
A chance visitor sees it all, folds it away,
in fixed depths of her memory. It is so peaceful
to be in this moment’s unbelievable uniqueness.

Die lesing neem ’n mens uiteraard na ’n vergelyking tussen die verse, maar vir die doeleindes van die lesing word daar gefokus op die Engelse vers.

Die ontstaan van die vers:

Agter my duur hotel in Beijing ontdek ek as wandelaar ’n klein village. Dit is weggesteek en net die geoefende oog sal die klein gehuggie ontdek waar daar ’n slaghuisie is, ooms en tantes ronddwaal, vroue wasgoed was, kinders speel ... Vredig, dog armoedig. Toe ek ’n foto probeer neem, word ek bruusk versoek om my kamera weg te sit. Die gedagte dat ek hulle siele mag steel, kom uiteraard by my op.

Ek stap verder.

Dis September en warm. Daar is babas in slaappakkies. Die gleufie voor is oop; so ’n mens kan die kroonjuwele sien. (In die hotel later verduidelik ’n vrou vir my dat dit teruggaan na die tye toe ’n Chinese gesin baie kinders gehad het en daar nie tyd was om doeke om te ruil nie!)

Ek gaan na ’n klein kafee. Ek bestel ’n bier. Langs my sit ’n Oubasie, ongeveer 90 jaar oud. Sy ou vroutjie is besig om voor hul huisie te vee met ’n besempie. Dis ’n shack. Uit haar stemtoon kan ek hoor dat sy hom aanpraat oor iets. Haar stem gaan op, en dan weer af. Jy kan sien hy is gewoon aan skellery. Hy kyk na haar, maar reageer nie. Ek bied vir hom van my bier aan, wat hy vriendelik weier - jy kan sien sy is baas.

’n Uur later kom hulle dogter per fiets aan en hy stap met ’n wiegraam terug huis toe. Alles is meteens stil.

’n Pa stap met sy mongooldogtertjie verby ...

Skielik voel ek iemand raak aan my arm. Aan my regterkant sit ’n ouer vrou, kennelik ’n ouma. Met haar kleinseun in haar arms, wat sy trots vir my wys. ’n Bulletjie wat my reg in die oog kyk.

Hy lag oopbekkie, vriendelik, omdat sy derdeoog nog oop is, kan hy my welwillendheid sien.

En toe ek na links kyk, sien ek die voëlhokkie ...

Die volgende dag besoek ek die beroemde Groot Muur.

Wat jy uitlaat en wat jy insit word deur die gedig bepaal. Ek wou die opposisie tussen inperking (die hok) en die wydsheid van die Groot Muur aktiveer wat gebou is om die land en sy mense teen indringers te beskerm. (China Great Wall Facts/ How Long, Who, When, Why Built It. Besoek 3 April 2016).

Terselfdertyd wou ek iets van my tevredenheid en geluksaligheid oordra. Die unheimliche wat hier heimlich word.

Op die regte oomblik beleef ek hierdie klein tafereel en skryf die gedig, wat soos ’n foto, ’n gelukskoot is.


© Joan Hambidge

Saturday, March 9, 2013

Reisjoernaal | Wêreld - Stad 2. Beijing, stad van erbarming of (karuna)



Die groot muur van Sjina wat volgens 'n volkslegende die enigste struktuur is wat van die maan af sigbaar is. Neil Armstrong het hierdie dwaling die nek in geslaan. Om te glo jy kan dit van die maan af sien met die blote oog, is dieselfde as om sê jy kan ‘n haar op ‘n afstand van twee kilometer uitmaak. Beijing se tempels en groot muur is ‘n verpligtige stop, en met elke besoek sien ‘n mens iets meer. ‘n Mens kan wel die muur uit die ruimte (space) sien soos ruimtevaarders al bely het.

Die lughawe is oop en modern met treine wat jou van verskillende afdelings vervoer. Pas op die lughawe aangekom met my tas op ‘n karretjie en ‘n polisieman kom nadergestap met sy snuffelende spanjoel. Die hond snuif driftig aan my tas.

“Het jy kos in jou tas?”, vra die polisieman nurks. Ek wil eers antwoord, ja, Nando’s om julle Peking-eend te troef, maar toe dag ek liefs nie grappies maak nie.

Hy maak my tas oop. Na ‘n tydsame deursoekery blyk dit die spanjoel is deur my sonbrandolie om die bos gelei, en ek word toegelaat om deur te stap.

Aangesien daar geen hotelbussies van die lughawe na die hotel is nie, kry ek ‘n gawe huurmotorbestuurder wat Engels magtig is en my na die hotel neem (gebaretaal is meermale die enigste uitweg). Die rit van die lughawe na die lieflike ouwêreldse hotel Quianmen Jianguo hotel waar ek tuisgaan duur ongeveer 50 minute.

Beijing, © Travelnix.com 

Onderweg gee my huurmotorbestuurder my ‘n imprompto oorsig van die stadsgeskiedenis. Langs die pad hang daar ‘n groot plakkaat van Mao TseTung. Hy vertel my van die studente-opstande op Tiananmen-plein. Dankbaar dink ek terug aan ‘n geskiedenis-module oor Sjina en die Ming-dinastieë. Dit is makliker om die ouer Sjina te verstaan as die moderne een. Dit is meer vertroud.

Taalprobleme sorg vir onthoubare oomblikke. Die aand in die hotelkroeg is die wyn gekurk en na ‘n lang gesukkel met gebaretaal bestel ek maar bier. Die twee kroegmannetjies is bitterjonk.

Toe ek die rekening vra met my vinger wat skryf in die palm van die hand, lag hulle. Die een kom nader met sy selfoon, hou dit na aan my oor: ”Invoice, invoice”, sketter dit op Engels. Hulle lag uitbundig oor hul eie grappie.

Op dag twee is die Groot Muur my teiken. Eers die gewone tempelbesoeke wat die enorme geskiedenis voorstel. En verdomp, ‘n vliegende mier steek my op my arm. Binne ‘n ommesientjie is my arm geswel. Vir my is dit egter ‘n teken van geluk.

In elke stad tel ek ‘n blaar op en pars dit saans in ‘n moleskin-boekie. Ek het reeds soveel klippe van verskillende stede. Nou is dit blare. Een blaar per stad (en een vir my vriend Johann de Lange).

Bygelowe is aan die orde van die dag. By ‘n tempel mag ons nie foto’s neem nie. Ek steur my nie hieraan nie en lê dit vas op my Fuji.

Alvorens die Groot Muur sélf besoek word, is daar die gewone toeristiese verleidings van winkels wat edelgesteentes verkoop. In een van hulle sit 'n man wat met verbysterende geduld uit 'n beeldjie kerf uit agaat met net ‘n lemmetjie aan ‘n boorpunt wat piepklein skaafsels laat neersif.


In ‘n kabelkarretjie op pad na die Groot Muur. Dit suis in my hart, want die deurtjie is nie heeltemal toe nie. Daar is ‘n skrefie waardeur ek my hand kan steek en die plantegroei bewonder. Die Groot Muur: asemsnakkend, uitdagend, ‘n monument wat eers vyande moes afweer, nou vele toeriste opneem in groen kabelkarretjies soos by die Pretoriase dieretuin. In moderne tye word geskiedenis ‘n toeristiese geldmaakbedryf. Kyk maar na Machu Picchu wat sy ongeskondenheid verloor het. Deesdae is daar meer busse berg op as in Pretoriase middestad. ‘n Jongman het ses maande geneem om die muur se 6 000 km te stap, en is padlangs deur weldoeners van voedsel voorsien.

Om my is daar toeriste van alle soorte wat stamp en stoot. Die Sjinese verál het geen sin vir private ruimte nie. Daar word gedurig aan jou geraak hulle dink niks daarvan om jou private borrel te betree wanneer jy met iets besig is nie of terwyl jy nog besig is met iets. Hamba, raas ek toe ‘n man aan my stamp binne die reeds prekêre kabelkarretjie toe ons inklim. Diep in sy wiek geskiet, vra hy om verskoning. Dit is om hierdie rede dat ek my reis in besigheidsklas aangepak het sodat ek nie die ekonomiese voorreg het van ‘n mede-passasier se snorke en reuke nie. En nie kos met ‘n plastiekvoorwerp hoef te benader nie. Of te hoef luister na lewensverhale en ander dergelikhede nie. ‘n Stad stel immers altyd iets van ‘n mens se persoonlikheid voor en dit moet jy diepgaande ervaar. Vir my is Beijing – en meer spesifiek die Groot Muur – gekoppel aan uitdagings, weliswaar moeilik, wat ‘n mens die hoof moet bied en tog oorwin.

Een aand op televisie is daar ‘n program van soldate wat hul honde oplei. Groot diere wat trappies moet ophardloop en dan oor twee sporte moet spring. Onder is daar ‘n vangnet. 'n Hond val af, spartel tussen die toue en word deur die mans gered. Hy het nie ‘n keuse nie. Hy word gedwing om weer en weer te spring totdat hy dit regkry. ‘n Vinjet van wreedheid.

Ek stap een oggend vroeg deur die ou buurt van Beijing. Ek haal my kamera uit om 'n klein slaghuis met sy netjies bereide vleis af te neem. Fout. Die vrou gil en haar man verbied my om ‘n foto te neem. Natuurlik vrees sy dat my foto haar siel sal steel en druipstert stap ek weg.

Vars groentestalletjies, oompies wat mahjong speel, kwispelstertbedelende honde, oumas met kleinkinders (elkeen natuurlik met net één, gedagtig aan Sjinese gesinsbeperkings) vorm die agtergrond van my wandeling. Die babaseuns het almal broekies aan wat sowel voor as agter oop is. Dis hoe hulle die seuntjies hier leer. Die klokkies hang uit en doer ver sit ‘n knapie op sy hurke, terwyl ouma toekyk dat alles vlot verloop. Natuurlik verhoed dit ook dat die kleertjies nat word. Dit gaan alles terug na vroeër tye toe gesinne meer as een kind had en kleintjies maar self moes sorg vir broeklosmaak.

‘n Beijing-riksja is my toergids deur die buurt. Almal wuif. Beijing het ‘n moderne en vinnige lewe teenoor hierdie ou wêreld, gestulp in die tyd. Dieselfde stadige leefwyse as Mosambiek en Kenia. Mense wat geselsies maak, ware verkoop, waarskynlik niks weet van die groter, dwingende wêreld daarbuite nie, dog ook uitgelewer is aan uitdagings, vrese, onsekerhede, geboortes en dood.

In die middag wandel ek deur ‘n buurt agter my hotel waar ‘n ou oom met ‘n loopraam sit. Hy is losweg 90 jaar oud te oordeel aan die plooie en letsels op sy gesig. Oosterlinge word baie oud, volgens navorsing, die oudste op aarde. Hier sit die ou man met sy sikkeneurige ou vrou wat hom die hele tyd die leviete voorlees, as ‘n mens die hoë frekwensie van haar stem in ag neem. Sy wuif haarself koel met ‘n pienk waaiertjie wat sommer ook as vlieëplak diens doen. Sy het ‘n blou pakkie aan en die knie is netjies gelap. Die mense woon in klein pondokke met buite die deur ‘n besempie, potplante, en skoene wat in die son staan.

‘n Kat met ‘n klokkie spring oor ‘n plant. ‘n Verbyganger maak keelskoon en spoeg op straat. Twee jong geliefdes bestel uitgebreid kos. Langs my sit ‘n ander ouma. Ons sit almal onder ‘n ou boom en voer 'n woordelose gesprek. Ek bied vir hulle van my bier aan. Nee dankie, beduie albei beleefd. Die oompie weet natuurlik die hel sal losbars as hy ‘n doppie vat.

‘n Pa stap met sy mongoolseuntjie verby en ‘n dogterjie spring uitgelate op en af. Skielik raak iemand aan my. Dis die ouma met haar kleinseun. ‘n Pragtige dingetjie wat buidel van geluk. Sy haartjies poenskop gesny. ‘n Volledige vinjet van vreugde, hierdie samesyn met die Sjinese op ‘n middag in September. Dié aand is die Peking-eend in die hotel se restourant voortreflik. Alles is perfek.

Tot ek die volgende oggend by die lughawe aankom en twee Zippo-aanstekers moet afstaan. Sjinese lugvaartregulasies. Dit help nie om te neul en te wys op die sentimentele waarde van die aanstekers nie. Wel, gee my dan ten minste die houers en neem net die binnegoedvra ek. Dan kan niemand dit gebruik nie, mor ek in my binneste. (Jou moeder van ‘n Pekinese hond, vloek ek liggies.) Skielik verander die deuntjie. “Ons sal dit aan u terugbesorg. Hier is ‘n kwitansie.”

Alles in Sjina is noodlot, weet hulle te vertelle. En in John Snelling se The elements of Buddhism (Element, 1990) lees ek van koans en waarhede.  

Tafereel

‘n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls wat sing,
staan in die agtertuin van ‘n huisie beskeie
in Beijing. Die oompies speel mahjong,
die tantes spoel al skinderend die wasgoed,
mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan
staan daar ‘n voël opgesluit in ‘n hok. Sy kraalogies
draai soos ‘n arend s’n reg om dié gedoente.
Hy droom van ‘n ander bestaan, ‘n beter wêreld,
verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure
veel, veel langer as sesduisend kilometer klip. 
‘n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op
en knoop dit vas in haar geheue. So vredig
om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig.


Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.