Showing posts with label Amanda Gouws. Show all posts
Showing posts with label Amanda Gouws. Show all posts

Tuesday, November 16, 2021

Onderhoud | met Amanda Gouws | 2021

1. As gerekende feminis het jy onlangs ‘n boek saam met Olivia Ezeobi uitgebring: Covid Diaries: Women's Experiences of the Pandemic (Imbali uitgewers). In hierdie studie gee jy en jou mede-redakteur verskillende vroue kans om te kyk na die impak van Covid-19 op jul lewens. Hoe het jy die vroue gekies?

 

Ons het besluit dat vroue hul eie stories oor hul ervaring van die pandemie, en spesifiek die staat van inperking, moes vertel.  Ons het ‘n aanlyn roep gedoen wat ons wyd op ons netwerke versprei het en 50 vroue het aangedui dat hulle wil skryf.  Op die ou end het 35 vroue hulle stories gelewer.

 

2. Die boek val in verskillende afdelings uiteen: “The Political is Personal", “The Personal is Political", “A Woman's Work is Never Done", “Of Motherhood and Care" en “The Body on the Front Line". In hierdie vyf afdelings word die hele politiek van die feminisme sedert die 60’s opgesom. Kommentaar.

 

Die sestiger en sewentiger jare was die hooggety van die tweede golf feminisme of radikale feminisme, wat bekendstaan vir hul slagspreuk – “the personal is political”.  Dit beteken dat wat ook al in die private sfeer van die huis of tuiste gebeur ook ‘n politieke dimensie het en dat oplossings vir diskriminasie en onderdrukking in hierdie ruimte wel polities van aard is, soos byvoorbeeld deur wetgewing om gesinsgeweld te stuit, te maak.  In die geval van die pandemie was die politieke ook persoonlik in die sin dat die politiek van die pandemie ons in ons huise toegesluit het.  Die tweede golf feministe het ook die onderdrukking van vroue aan die onbetaalde versorgingswerk wat vroue in die huis doen, toegeskryf. Versorgingswerk word vanselfsprekend as die vrou se werk aanvaar en die pandemie het ons gewys dat dit wel vandag nog die geval is, soos dit spreek uit die stories.  Feministe besin ook oor die liggaamlike, veral hoe die vroueliggaam uitgebuit word, geobjektifeer word of die slagveld van geweld en verminking word.  In die boek spreek die stories tot die ongelooflike liggaamlike uitputting wat die pandemie tot gevolg gehad het.

 

3. Vroue het agentskap. Tog voel dit vir my asof feminismes tans huiwer om dwase politiek-korrekte uitsprake aan te vat. Het dit dalk te make met die geweldige sterk posisionering van transgender-persone? Ek dink hier aan die onlangse debakel in Sussex. Daar is immers verskillende posisies: woman-identified-woman, straight, lesbies, bi …

 

Ons leef in die tyd van “cancel culture” wat beteken dat as feministe en veral radikale feministe (die radikaal verwys na die oplossings wat hierdie feministe voorstaan – wat die radikale idee van die beeïndiging van patriargie insluit) hulle uitspreek oor kontroversiële sake, soos die Sussex-debakel, waar ‘n filosofie professor in haar boek van die standpunt uitgaan dat sosiale gender belangriker is as biologiese gender.  Sy is as transfobies uitgekryt tot so ‘n mate so dat sy bedank het.  Sy het aangevoer dat sy genoeg van die boelietaktieke gehad het. Hierdie onverdraagsaamheid róndom seksualiteit en verskillende begrippe van wat seksuele begeerte en seksuele identifikasie is, lei tot selfsensorskap onder feministe wat vrees dat hulle op dieselfde manier behandel sal word. Dit sluit akademiese debat hieroor af en universiteite word plekke waar oop gesprekke met groot moeite gevoer kan word – iets wat teen die aard van die universiteit indruis. 

 

4. Die geboorte van feminisme was waarskynlik die wasmasjien eerder as die pil. Tog vergeet gay en transgender-persone van die geweldige werk van feministe wat ‘n bydrae gelewer het tydens Stonewall. Kommentaar.

 

Die Stonewall-opstand was die begin van ‘n sigbare gay-gemeenskap in die VSA.  Gay mans en vroue het polisieteistering teengestaan in sigbare protes wat later oor die hele land versprei het.  Talle feministe was bondgenote in hierdie protes en het hulle geskaar by die gaygemeenskap.  Meeste feministe verwerp die binêre identifikasie man/vrou en glo dat seksuele identiteit vloeibaar is en dat seksuele begeerte kompleks is. Maar wat meeste feministe voorstaan is keuse – dat elke persoon die reg sal hê om te kies met wie hy/sy/hulle (transgender) in ‘n verhouding wil wees.  Enige vorm van dwang is onaanvaarbaar.

 

Gender is ‘n konstruksie wat deur gemeenskapsopvattings en rolverwysings gevorm word en is dus wyer as die bloot biologiese.  Vroue word van geboorte af in die simboliese orde van patriargie ingelei sodat wat ons as normaal aanvaar diep in ons psiges ingebed word oor ‘n lang tydperk.  Dit is slegs deur bewusmaking en bevraagtekening (wat feministe by uitstek doen) dat hierdie begrippe van wat “normaal” is ontwrig word.  Transgender-vrouw (wat eers mans was) het nie dieselfde ervaring van die simboliese orde of die sosialisering van vroue gehad, terwyl hulle mans was nie.  Dit is ‘n tipe manlike bevoorregting wat nie noodwendig met transisie verdwyn nie.

 

5. Virginia Woolf se A room of one’s own is ‘n belangrike dokument. Net soos die werk van Doris Lessing. Of die tekste van Cixous en Kristeva. Gaan vroue en vroue-teorie altyd ‘n supplement bly?

 

Ek dink dit is reeds besig om te verander en het reeds baie verander. Mense soos ek en jy dra daartoe by dat genderteorie baie meer “mainstream” word.  Ons werk is subversief,  omdat ons nie bloot ivoortoring-teoretici is nie.  Ons leef ons feminisme en ons is rolmodelle vir ons studente.  Daar word nou baie geskryf oor die distopiese wêreld waarin ons tans leef met die pandemie en so baie van die oplossings wat voorgestel word (veral deur mans) verwys na die belang van gemeenskap, versorgingsetiek en interafhanklikheid.  Dit is goed waaroor feministe al reeds vir jare skryf.  Die belang van ons werk word nou sentraal gestel.

 

6. Vrouedigters in Afrikaans skryf dikwels oor die vaderfiguur wat beslis broos en vol foute is. Waarom word die Vader dan nog steeds nagestreef as ‘n simbool van Sterkheid. Ek dink o.a. aan Fellini wat dit ondermyn in City of women. Kommentaar.


Afrikanerkultuur is diep partriargaal, soos jy weet, so die vaderfiguur is altyd aanwesig, al is hy ook afwesig.  Met die bevryding van vroue en die toekenning van regte word patriargie die hele tyd bedreig en op die oomblik voel dit vir my of patriargie vroue slegs deur geweld kan beheer.  Dit is een rede hoekom ons die skokkende statistiek vir geweld teen vroue het wêreldwyd.  Dit is dikwels moeilik om oor die moeder te skryf sonder om moederblaam te pleeg.  So, om oor die vader of die moeder te skryf  is om tussen die duiwel en die diep blou see te wees.  Maar dit is juis wanneer mans die patriargale orde ondermyn omdat hulle hul eie aandeel aan patriargie erken dat hulle die bondgenote van vroue word.

 

7. Jy skryf rubrieke waarin jy moeilike konsepte oopmaak vir gewone lesers. Tog kry hierdie leser dikwels die gevoel dat mense nie werklik lees wat jy skryf nie en jou aanval omdat jy feministies skryf. Kommentaar.

 

Ja, ek dink dat veral mans hulle blindstaar teen my naam.  Ek is soms verbysterd oor die onnoselheid van die haatspraak wat ek kry. Dit wys daarop dat hulle nie gelees het of nie verstaan het wat hulle gelees het nie.  Ek het baie respek vir deurdagte argumente, maar dit kry ek selde.  Die sterk reaksie op my werk laat my glo dat ek tog my vinger op sensitiewe plekke plaas en dat dit mense iets gee om oor te dink.  (Ek wonder of sommiges dink voordat hulle ‘n meltdown het!).

 

© Joan Hambidge

Saturday, December 15, 2018

Resensie | Joy Watson & Amanda Gouws (Reds.) - Nasty Women Talk Back (2018)

Joy Watson & Amanda Gouws (Redakteurs) - Nasty Women Talk Back. Imbali Academic Publications, 2018. ISBN 978-0-639-96360-0

Resensent: Joan Hambidge

I

Joy Watson en Amanda Gouws is die redakteurs van hierdie boek wat gelanseer word onder die sub-titel: Feminist Essays On the Global Women’s Marches.

Die boek bevat 28 essays van verskeie feministe. Daar is nie iets soos Die Feminisme nie; alleen feminismes, met ander woorde, verskillende diskoerse binne die feminisme. 

Radikale feminisme verskil byvoorbeeld van akademiese feminisme, usw. Camille Paglia is byvoorbeeld nie ‘n feminis nie; eerder ‘n gender-teoretikus en -aktivis.

Maar die afgelope tyd het vroue globaal begin stem dik maar oor die patriargie. Dis fassinerend hierdie ongelukkigheid wat onder meer in die #metoo-beweging sterk na vore gekom het. Soms met funeste gevolge waar iemand vals aangekla word soos die beroemde mezzo-sopraan Anne Sofie von Otter wie se man, die Direkteur van die Operahuis in Stockholm, onlangs selfmoord gepleeg het. Agterna is die aantygings verkeerd bewys (soos dat hy ‘n operasangeres wat agt maande swanger was, versoek het om ‘n aborsie te onderneem ten einde ‘n rol te kry). Ander kere is die mat onder ‘n man se gat uitgeruk – soos met die geval Harvey Weinstein.

Daar word druk gedebatteer hieroor. Gaan vroue ooit weer die objek van flirtasie kan wees? Ja of nee? Sal ‘n man ooit weer met ‘n vrou kan dans op die maat van Perfidia soos Humbrey Bogart en Ingrid Bergman in Casablanca

Voel alle vroue oor mans dieselfde? Kan ‘n man ‘n feminis wees?

Die feministiese beweging het in die sestigerjare in die VSA ook stem gegee aan gay-mans. Van hierdie kwessies word aangespreek in Vamps & Tramps van Camille Paglia wat in 1994 verskyn het.

II

Een van die redakteurs is die politiek wetenskaplike professor Amanda Gouws, wat geweldig baie gedoen het om lesers van Die Burger aktief bewus te maak van ongelykhede. Gender aktiveer altyd ras en klas en hierdie triade is aanwesig in die ryke verskeidenheid van die bydraes. Joy Watson is bekend vir haar politieke analises en sienings oor wetgewing.

Jy word nie ‘n vrou gebore nie; jy word een gemáák, is die bekende mantra van Simone de Beauvoir in haar belangwekkende studie: Le Deuxième Sexe (Die Tweede seks) wat in 1949 verskyn het. (‘n Skoonheidsalon in Stellenbosch gebruik dit in hul skoonheidstaktieke vir vroue: missing the point, nogal.)

Agentskap. Gender as ‘n konstruksie. Vroueregte. Aborsie. Reg op gelyke posisies in die werkplek. Seksuele teistering. “Baas over eigen buik”, soos dit in Nederland lui. Womxn. Vrees vir verkragting.

Gouws skroom ook nie om polemici aan te vat en te wys op verkeerde aannames o.a. oor “objektiewe regspleging”. Dikwels tot die chagrin van briefskrywers wat haar (en ook vir Christie van der Westhuizen) loop in vuige en persoonlike aanvalle onderaan hulle skrywes op Media24.

Van Germaine Greer tot Hélène Cixous staan op my rakke. Hoe vrouens uitgerangeer is deur die heteronormatiewe en patriargale orde is bekend. Kyk na bloemlesings hoe lank dit geneem het alvorens vroue byvoorbeeld ‘n regmatige plek in die kanon gegun word. Nes gay-skrywers. Om nie eens te praat van swart skrywers nie. In die Afrikaanse letterkunde het die onsigbares sigbaar geword; die stemloses luid en stemhebbend. Vroueskrywers is nie meer die “mad woman in the attic” nie en die kritiek en teorie word deur intellektuele vroue be-mán.

III

Imbali moet geluk gewens word met hierdie belangrike tydsdokument wat geïnspireer is deur onse Trump se misogonistiese, anti-Islamitiese en dom uitsprake. Ek onthou hoe geskok ek was toe ek verneem het dat hy Hillary Rodham Clinton uitgestof het in die presidentsverkiesing. Raenette Gottardo se analise van die skok tref.

Inderdaad in Trump Tweetland is enigiets moontlik.

Skokkend dat juis daardie land se enorme bydrae tot feminismes so van die tafel gevee is.

“Built Bridges Not Walls” van Daiva Stasiulis wys waarmee die man besig is en Amanda Gouws wys hoe die stryd nooit ophou nie (“My Arms Are Tired of Holding This Sign”).

Helen Moffett se siening oor aborsie en liggaamlikheid tref ‘n mens tussen die oë (“Womb with a (Very Strong) View”).

In plaas van dankie, skryf sy: fuck you very much. Julle, die ou patriarge, wat nie weet wat aborsie of ‘n ginekologiese prosedure behels nie, gaan weg. En sy verwys spottend na haarself as “A Nasty Woman”.

IV

Verkragting kom om ook telkens aan bod.

Hieroor skryf Rebecca Helman uiters insigryk – die inskripsie op sowel die liggaam as psige word ondersoek. 

Germaine Greer voel weer vroue gee te veel mag aan die manlike geslagsorgaan; kontroversieel, maar ‘n ander kant van die munt (Feminist author Germaine Greer says most rape is 'just bad sex', calls for reduced sentences - Bing. Besoek 14 Desember 2018).

Rebecca Davis tree manlike middelmatigheid aan. Tereg. Hieroor kan elke vrou in die werkplek getuig: hoe slim, sterk vroue tweekeer meer moet doen as die middelmatige manne wat weet die werk gaan in elk geval namens hulle gedoen word. Hierom is dit vroue se plig (nie reg nie) om op ‘n ondubbelsinnige wyse te sê: ek is nie jou mamma/bediende/minnares of watookal nie.

Juliana Claassens neem ook ‘n plek in en Aarti Narsee praat vanuit ‘n Indiese perspektief en hoe sy die sirkel van verdrukking en gereëlde troues gebreek het. Die meeste vroue wat nie mag (of geld het nie) kan helaas nie hieruit ontsnap nie. En vrouens wat uit hierdie verdrukkings ontsnap, weet ook lewenslank hoe hul moeders onderdruk is in ‘n huwelik met min regte of vryheid nie. 

Zama Khanyile analiseer die bekende Zoeloe idioom: Ek is, omdat jy is.”

So die ondersteuning van vroue is tersaaklik. En feminisme is nie feminisme as dit die status quo handhaaf nie, waarsku Stella Viljoen tereg. Melanie Judge analiseer eweneens die implikasies van vroueverbranding: letterlik en figuurlik.

Christi van der Westhuizen wys op die impak van ‘n andersoortige gender-identiteit en die impak hiervan op ‘n jong gemoed en hoe mense steeds bly Other.

V

Hier is verskillende diskoerse aanwesig. Die toonaard wissel van woedend tot neutraal. Van intellektueel tot gewoon emotief.

Van vroue in letterlike en psigiese tronke.

Van bydraes wat Judith Butler ("performing gender") vermeld tot die impak van slow violence (Judith Butler/ Your Behavior Creates Your Gender - YouTube. Besoek 15 Desember 2018).

Van dekonstruksie tot emosionele karterings.

'n Vrou kan met haar stiletto's misogonisme plattrap.

Dis 'n studie wat wys op die mure van vooroordeel wat steeds in die gemoed voortbestaan.

Friday, January 15, 2016

Joan Hambidge: Taalverraad en ou vrot vis


 
’n Psigolinguis sal waarskynlik meer opgewasse wees vir die taak om Amanda Gouws se skrywe ("'Taalstryd' gaan nie net oor taal", Die Burger, 12 deser) te analiseer. Maar aangesien ek buite verband aangehaal word, ’n paar kanttekeninge.

Gouws is reeds daarop gewys dat sy buite haar diepte is deur ’n gesiene taalkundige Ernst Kotzé, maar nou krabbel sy terug dat eintlik is die kwessie aan die US ’n politieke een en vanuit haar meerdere posisie, as politieke wetenskaplike, kan sý ons reghelp. Vergetend dat sy onbewus was van hoe mense indertyd by RAU (nou UJ) die taalkwessie aangespreek het. En kennelik oningelig oor J.C. Steyn se taalstudies.

Behalwe vir die uwe, word Breytenbach en Adam Small, verder ingespan om haar posisie te verstewig.

Met die drog-der-drogredenasies dat dit nie net enkeles is wat die taalplan ondersteun het nie, maar ’n meerderheid van senaatslede.

Dan gaan sy verder: sy swaai kwistig begrippe soos venyn en verraad rond om haar teenstanders verdag te maak.

Ek het gepraat van taalverraad; en ek staan daarby.

Indien Afrikaans as wetenskapstaal uitrangeer word aan die US, sal dit negatief wees vir alle tale, modern, klassiek en inheems.

En die 1976-opstande (wat oor meer as taal gehandel het) word weer afgestof deur Gouws.

Daardie ou vrot vis, soos Tim du Plessis dit so klinkend gestel het nou onlangs in Rapport.

Afrikaans is gebruik in die struggle, professor Gouws. Gaan lees Hein Willemse se insiggewende studies hieroor.

Het Neruda ooit Spaans verwyt toe die militia sy droom aan skerwe laat spat het en sy vriend Allende vernietig het?

Hoe kan ons saamwerk, wonder ek, as ons regsgeleerdes het wat die grondwet interpreteer asof dit ’n postmodernistiese gedig is?

Ons ontken nie die politieke konteks nie. Inteendeel. Nou onlangs weer geluister op YouTube hoe die rektor (sonder skroom) aankondig hoe sy bestuursplan daar uitsien.

Verskeie geesteswetenskaplikes, taalkundiges, skrywers, et al., het reeds hul misnoeë te kenne gegee.

En meen dat rubriekskrywers wat so anti-Afrikaans is, moet maar elders hul heil (of sal ek seg, heiland) gaan soek. Ruimtes in Engelse koerante mag dalk minder krities wees oor sulke uitsprake.

Ofskoon taalkundiges – buite Afrikaans – ook ’n wenkbrou lig oor die eensydige en anglomaanse drif wat inklusiwiteit so verkeerd vertolk.

© Joan Hambidge


Thursday, December 3, 2015

Joan Hambidge: Reaksie op Amanda Gouws se "Identiteit is nie die vertrekpunt" (2015)

Amanda Gouws

Brief: Die Burger, 03.12.2015

Amanda Gouws se reaksie in Die Burger (“Identiteit is nie die vertrekpunt”, 1 deser) bring ‘n paar kwessies aan bod wat ek graag hier beantwoord.

Oor die verdwene Randse Afrikaanse Universiteit en waarom Afrikaanse sprekers toe nie hewig reageer het nie. Ek onthou dit anders. Wyle professor FIJ van Rensburg en JC Steyn, en andere,  het hulle sterk uitgespreek hierteen, maar die demografie van Johannesburg kan nie met Stellenbosch vergelyk word nie. Johannesburg is ‘n sterk Engelstalige stadsgemeenskap; Stellenbosch is in die Wes-Kaap geleë met ‘n Afrikaanse gemeenskap. Dis soos om Wallonië met Vlaandere te vergelyk.

En presies waar word taal en kultuur ooit van mekaar geskei?

Sy meen Afrikaans is “verpolitiseer”. ‘n Eng siening van die geskiedenis, veral met Engels se geskiedenis as sterk bemarkers en voorstanders van konsentrasiekampe wêreldwyd. Opvallend dat Britse historici veral sterk standpunt inneem teen die Britse optrede tydens die ABO.

Sy het dit ook teen “uitheemse taalmodelle”. Wel, hierdie “uitheemse” taalmodelle is van toepassing hier te lande. Afrikaans is ‘n semi-kreoolse taal wat behoort aan hierdie land en waarom dit verpand vir Engels?

Om kultuur wat”floreer” gelyk te stel aan die taaldebat, is nie hier relevant nie. Natuurlik sal Afrikaans gepraat word en woordfeeste van krag tot krag gaan. Ons het dit egter oor die posisie van Afrikaans as wetenskapstaal, ‘n posisie wat wat wys hoe die taal getransformeer het van kombuistaal tot internasionale taal wat, nota bene, deur intellektuele in my vakgebied begryp word by internasionale kongresse, omdat hulle Duits magtig is.

Om landverlaters wat hul prysgee met die taaldebat hier te lande te wil vergelyk, is onhoudbaar. Ofskoon daar plekke in Australië en New Zeeland mense is wat steeds Afrikaans praat, was dit húl keuse om hul land te verlaat. En gaan lees gerus Danie Marais se As almal ver is (2009) oor watter impak ‘n bestaan in die vreemde op identiteit het.

As skrywer en dosent van Afrikaans en alumna van die US, neem ek standpunt in teen diegene wat ‘n sterk inheemse taal met ‘n lang skryftradisie probeer verloën. Ook onrusbarend hoe veel mense en polemici hul tans uitspreek oor taalfilosofie (en-politiek) en daar weinig van weet. Gaan lees gerus JC Steyn se klassieke teks Tuiste in eie taal (1980) en dink na hoe 'n Afrikaanse koerant ook afhanklik is van Afrikaans aan universiteite.


© Joan Hambidge