Showing posts with label Eveleen Castelyn. Show all posts
Showing posts with label Eveleen Castelyn. Show all posts

Wednesday, March 20, 2013

Eveleen Castelyn - Kubermens (1999)



Eveleen Castelyn. Kubermens. Human & Rousseau, 1999. ISBN 0 7981 3922 6.

Resensent: Joan Hambidge

Eveleen Castelyn is vir haar debuutbundel Tussen hemel en aarde tereg met die Eugène Marais-prys bekroon. Haar gedigte het nog altyd geïmponeer om hul eenvoud, die gewone praattrant en ironiese selfvermindering wat skerp blik op menslike lyding en bedrog meebring. Daar is ook Menslikerwys gesproke (1984) en Minder as die engele (1990).

Haar jongste bundel is 'n klein kragtoer. Kubermens bepaal die invloed van die moderne media soos rekenaars, e-pos, televisie op ons psiges en in welke mate dit die binneste domein van die mens aangetas en verander het. Ook word die digter se naam geskryf asof dit 'n @-adres is is! Ons lees of onderskep dus haar e-pos aan die wêreld.

Dit is waarskynlik ook tersaaklik om te vermeld dat mevrou Castelyn nie 'n jong mens is nie en dat sy eintlik as 'n ryp, ouer mens na die wêreld kyk aan die einde van die millennium en dat sy verstommende raak uitsprake maak. Soos dat die mens rekenaars skep wat hom weer skep. En dat rekenaars persoonlikhede van hul eie ontwikkel.

Die bundel word tereg tipeer as 'n eksistensiële bundel en deurgaans bly die leser bewus van die skerp blik op die mens se (self)vernietiging.

Manuel Castells se The information age is van toepassing op hierdie bundel om die effek wat komputers, e-pos, die internet op ons psiges het. As Marshall Mcluhann beweer het ons leef in 'n global village, lyk ons psiges seker nou soos besige markplein.

Die bundel bevat onpretensieuse, egte verse wat die menslike kondisie besê. Sy dig dan ook na die soeke en ervaring van liefde (“Begin van 'n dag”) en seksualiteit. Trouens, mevrou Castelyn het al vir ons mooie gedigte op die babbeljoentjie gegee. Daar is verse van 'n verlangende, tobbende moeder en ouma. 'n Bekommerde intelligente mens wat tersaaklike vrae vra oor die deurmekaar-land waarin ons woon.

Wrang-ironies is die gedig oor 'n huishulp wat spaar vir 'n eie huis en skerp blik op siekte en die aftakeling wat ouderdom meebring. Dis verse wat mineurgestem is. Maar hulle tref 'n mens en bly lank na die lees in jou nawerk.

Soos in haar bundel Minder as die engele word die religieuse en bparapsigologiese ook betrek. 'n Voorgevoel oor die dood van 'n broer en die aanvoeling van iets onsigbaars by iemand se sterfte word ook deur haar beskryf.

Haar gedigte oor kuberruimte bring 'n tematiese verruiming in ons digkuns (soos “Die reus van IBM”, p. 11 en “Kuberkomponis”, p. 15), maar vir my is mevrou Castelyn trefseker wanneer sy oor die kleinste, bykans onbenullige momente dig. Hierom dan was haar haikoes in vorige bundels ook so goed:

Roosblare bêre
hartvormig in die laaie
die as van liefde (uit Minder as die engele).

Die bundel bevat ten slotte ook 'n paar tankas (oftewel waka of uta gedigte), die sogenaamde Japannese liriek bestaande uit 31 sillabes in reëls van 5,7,5,7,7 sillabes.

Die vorm is waarskynlik in die Weste minder bekend as die haikoe en hierom maak mevrou Castelyn dus 'n verdere bydrae. Die soort gedig handel oor die natuur, die liefde, gelukwensing of verdriet.

die maan is aandblom
blink satyn op swart fluweel
die nag se juweel
skitter aan die hemeldak
môre bleek gebleikte blom
p. 62

*

Die Here het gegee
die Here het geneem
sê die predikant by die kissie
van die kind, droewig
huil die moeder en die wind
p. 52

En 'n verdere voorbeeld van hoe aangrypend sy dig:

Begin van 'n dag

die maan sit laag
voor die agterdeur
soos winterverdriet
in 'n boom swaai
'n sjinese lantern
aan 'n dun swart riet

die dag begin bibberend
in my kamerjapon:  roosterbrood
en tee bitter marmelade
verkluimde lemoen
soos 'n liefdesballade
soet op my tong
die wildepiesang-smaak
van jou gulsige soen (p. 40)

Kubermens was die wag werd. Eveleen Castelyn is 'n suiwer digter waarsonder die Afrikaanse letterkunde veel, veel armer sou wees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Tuesday, March 5, 2013

Huldeblyk: Eveleen Castelyn (1928 - 2004)


Dis ‘n Saterdagoggend in 2001 en my foon lui bittervroeg. My parodiese roman, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het het sopas verskyn. Dis Eveleen Castelyn uit Pretoria. 
“Joan, ek is lam van die lag. Passiebomme, Sonja se digbundel is wonderlik.”

Eveleen Castelyn en haar man, Cas het ek in die laat-tagtigerjare in Pretoria ontmoet en deur die jare het ek ‘n warm toegeneentheid jeens hulle gekoester. Cas, verlede jaar oorlede, was ‘n gul, ruimhartige, ‘larger than life’ persoonlikheid en sy vrou, ‘n goeie vriendin van Elisabeth Eybers en in eie reg, ‘n voortreflike digter wat in 1978 gedebuteer het met Tussen hemel en aarde. Hierna volg Menslikerwys gesproke in 1984, Minder as die engele in 1990 en Kubermens in 1999.

Mevrou Castelyn se bydrae tot die Afrikaanse digkuns is veral die haikoe en tanka wat sy meesterlik bedryf het. Ook haar verse oor kleinkinders, siekte, ouderdomsaftakeling en naderende dood verdien vermelding. Sy is die digter van die mineurstem en teer waarneming. Haar verse is melancholies en in ‘n laaste brief aan my (27 Februarie) skryf sy: Ek is nou net ‘n halwe mens wat nooit weer heel sal wees nie. Ek mis hom elke dag meer”.

En dit is hierdie intieme gesprekke tussen geesgenote wat sy onder meer so voortreflik verwoord het:

Jy dra ‘n silwer
kransie gevleg om jou kop
oorwinningsteken
in die marathon-wedloop
tussen ouderdom en dood

In ‘n ander pragtige tanka, ook uit Kubermens, skryf soos volg oor die verlange na haar kleinkinders:

Die lekkerruikseep
en die bottels groen sjampoe
het agtergebly –
die geur van my kleinkinders
talm nog in die leë huis

Ook besing sy in “Danseur noble” (Menslikerwys gesproke) die liefdesgeluk van die ouer mens:

my man is ‘n sjinese mandaryn
in sy flambojante jas
kom hy veroweraar binne –
bloedsteen aan sy vinger,
swart romaanse
oë, danseur noble
gryp my hou my vas
vir die asemrowende
jeté en l’air
in die pas de deux
wat ons uitvoer
op die gloeiende afgaanse
tapyt van ons liefdesbed

Reeds die titels van haar gedigte dui op die melancholie van hierdie onderskatte digterskap: “Séance van verlange”, “Treurige inkantasies”, “Sterfliedjie op ‘n ou deuntjie” en in Minder as die engele word die metafisika aangespreek. In die aangrypende “Wat sal wees” skryf sy:

die dooies weet glad niks nie –
beween nie die dooies nie
daar is geen kennis
of wysheid in die doderyk nie
hulle liefde en haat
het verdwyn

Die kortstondigheid van geluk en volmaaktheid is ook ‘n deurlopende refrein in haar digterskap. In “Tristesse” (Minder as die engele) skryf sy so oor verdriet:

triestigheid
sit vamôre
soos ‘n drel
op my dreskas

En beskryf sy die “verlepte monde” van die rose…wat weer inspeel op haar voortreflike haikoe later in die bundel:

Roosblare bêre
hartvormig in diep laaie
die as van liefde

Nou onlangs wou ek in Pretoria by haar gaan kuier, maar weens tyddruk kon ek nie by haar uitkom nie. Hoe verlang ek nie na daardie jare toe Cas my sou opbel en nooi: ”Come, honey. I’ll make you a hamboiger.” 

Op my rak staan ‘n pragtige biografie oor Maria Callas, ‘n geskenk van die Castelyns. Sy wou ook alles weet van my reis na Japan, ‘n land wat haar diep betower het.

Vanaand sal ek na Callas luister en ons vriendskap ‘menslikerwys gesproke’ herdenk. En nadink oor die gedig “Pynlike vraag” (uit Minder as die engele):

altyd dieselfde pynlike vraag
as die voël opvlieg en die vlerkliggies
soos reisigers in die nag verdwyn –
sal hulle ooit weer uit die niet verskyn?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]


Huldeblyk Eveleen Castelyn
Joan Hambidge

Liewe vrou,
met smartsiek oë,
wat verlange na jou kleinkinders
en seuns in verre, verre lande
soos Brasilië of Nederland
só eenvoudig-aangrypend kon vertolk,
daar waar jy nou is,
lees hulle jou haikoes
en ruik hulle die geur van jou klein soenoffers?
Dalk minder as die engele mag jy glo,
afgesluit van liefde of haat
sal ons steeds saans die séance
vir al jou verlore, vertrekkende geliefdes oproep.
Dalk sal ons minder bly uitstel,
leef vir die tevergeefse oomblik,
op ‘n soekende kuberreis
tot stilte kom.
As jy vanaand vir Cas sien,
jou sjinese mandaryn,
sê vir hom ek bewaar
sy bottel Franse sjampanje
net tot en met sonsopkoms. Op
‘n vol en gulle samesyn. 

7 Desember 2004

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]