Showing posts with label Jorge Luis Borges. Show all posts
Showing posts with label Jorge Luis Borges. Show all posts

Saturday, January 10, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel IX



DEEL IX


Op die spoor van Borges

Die afgelope drie dae is my reis versuur en ómvergewerp deur terrorisme in Parys. Dit gooi 'n skadu oor alles. Dis al waaraan 'n mens dink. Saans kan jy nie wag om CNN te kyk en die jongste verslae aan te hoor nie. Is dit dalk die begin van 'n slopende wêreldoorlog?

Die Groot Sinagoge van Parys. (Foto: Wikimedia 
Commons)

'n Kenner van terreur - met 'n pienk das - vergelyk dit met kanker. 'n Mens sal elke keer 'n nuwe groeisel of melanoom moet verwyder. Op Vrydagaand is die sinagoge in Parys gesluit; die eerste keer sedert WO II, uit vrees vir 'n Jodeslagting. Die supermark in Parys waar vier gyselaars doodgeskiet is, is kosjer. Die niggie van die vroulike psigoanalis wat by Charlie Hebdo doodgeskiet is, verduidelik dit is omdat sy Joods was.

                                                              
Dis ons 9/11/. Dis oorlog. Dis verskriklik. Dis 'n aanval op spraakvryheid. Houllebecq se uitgewer is vreesbevange ...

Maar dis nie Islam teen die Christendom nie. Vele Franse is nie meer Christene nie. Dis eerder die opstand van jong mense wat oewerloos ronddobber in Parys en deur fundamentaliste opgesweep word. Maar 'n mens kan nie vergeet hoe WO I begin het nie ... dit kos net een waansinnige.

Dis moeilik om die footage uit 'n mens se bewussyn te weer. Maar vanoggend besluit ek om te sê: Je suis Charlie en die stad binne te vaar. Op die spoor van Borges om die besoedeling in my gemoed af te weer.

Uiteraard het Buenos Aires ook al terroristiese aanvalle beleef: op 17 Maart 1992 is daar 'n bom gegooi op die Israeli Ambassade (29 mense dood; 242 beseer) en op 18 Julie 1994 is 85 mense gedood in 'n gebou wat verskillende Joodse organisasies gehuisves het.

Moderne media maak egter alles intenser. CNN is orals aan. Nuuskanale domineer gesprekke in restaurante en hotelle.

Buenos Aires se mense is porteñas, letterlik mense van die hawe. Die stad is toegegooi onder toeriste (selfs twee Afrikaanses raakgeloop!). Wanneer mens met die inwoners gesels, onthou hulle almal die tragedie toe die nagklub aan die brand geslaan het en ongeveer 200 mense doodgebrand het. Dit was in Desember 2004 by die Republica Cromagnon-nagklub.

Buite om die stad heers daar armoede. Op die platteland is daar selfs modderhuisies, genaamd villas miserias. Op elke toer word 'n mens daarop attent gemaak dat daar nie genoeg parke is in hierdie stad nie. Die swembad bo-op my hotel (9e verdieping) gee 'n panoramiese blik op die stad wat bewys hoe min parke daar is - selfs minder as in New York wat uiteraard nadelig is vir 'n mens se gesondheid.

Daar is 'n besondere groot Joodse gemeenskap in die stad en selfs 'n park geskenk deur die Japannese; wat aanvanklik hul geld gemaak het uit blomme en wasserye!

Dit is besonder warm en humied hier: die weer is presies dieselfde as Durban s'n. Die kwik kan tot 33 grade styg. Ek hou van sulke warm weer - dit gee die liggaam kans om van al die toksienes ontslae te raak wanneer jy wandel.

Ek vertoef in die ouer, gevestigde gedeelte van Buenos Aires met sy statige geboue. Moderne blouoog-geboue skiet na vore net buite die ouer gedeelte óm sodat 'n mens 'n duidelike skeidslyn kan sien tussen oud en nuut. Die Barolo-gebou is o.a. 'n voorbeeld van Art Nouveau.

Daar is geweldig baie teater te siene (te oordeel aan die plakkate) en die operahuis (Teatro Colón) is internasionaal gereken. Placido Domingo het al dikwels hier opgtree. Daar is baie boekwinkels en oor die 200 museums om te besoek. En 'n dieretuin.

Behalwe vir die sterk Spaanse invloed, is hierdie stad ook 'n plek wat huisvesting gebied het aan vele Italianers aan die begin van die twintigste eeu. Cocoliche is die pidgin wat gepraat is, 'n vermenging van Italiaans en Spaans. Helaas word dit nie meer gepraat nie ...

In 2009, so vertel die anonieme stem op die oopbustoer se mikrofoon, het UNESCO die tango tot internasionale bewaring verklaar.

En Pous Franciskus, die huidige Pous, is 'n boorling uit hierdie geweste. Diego Maradona is steeds 'n groot held: hy is bykans elke dag op televisie in 'n onderhoud te sien.





Foto: AFP/GETTY IMAGES

*

Die Gran Café Tortoni is letterlik drie blokke van my hotel geleë. Vroegoggend stap ek na die Avenida de Mayo 825. En bestel 'n koffie met melk. Borges se standbeeld is in die hoek en ek neem die tafel reg langsaan. Om neffens Borges te sit. ('n Japannees neem my af neffens hom.)

Die kafee is in 1858 oopgemaak en is een van die oudste bakens in sy soort. Ten spyte van wat 'n mens verwag, is die pryse billik (in vergelyking wat 'n mens al gewoond begin raak op so 'n reis).

Daar is beroemde avenues hier soos die Avenida Alvear, Avenida de Mayo en 9 Julio de Avenue, een van die wydste strate op aarde.

*

Stede het persoonlikhede. Die klimaat herinner aan Durban, maar die statige ou geboue weer aan Madrid ... en ja selfs die eens statige middestad van Pretoria uit my jeug. En die buite-streke van die stad met sy malls en moderne geboue het 'n klap weg van Toronto.

Dis 'n mooi stad, ja.

Die aand neem ek 'n taxi na die Puerto Madero. Buenos Aires se Waterfront. Die restaurante lok met lekker kos en wyn. Buite wandel toeriste en inwoners. Dis besig om af te koel en die sonsondergang skyn pienk op die mooi nuwe geboue. Niks kom by Edinburgh se pragtige pienk sonsondergange nie, maar nietemin is dit aanskoulik hier.

Hierdie is meer 'n daguitstappie, besef ek. Die vullisblikke is oorvol gemors. Met waterbottels en ander uitskot. Hopelik word dit more verwyder ...

Orals is daar sigaretstompies.

Met my terugkeer beleef ek 'n oomblik wat so uniek is aan reis.

Die taxibestuurder, ene Marcos is van Peru en meer spesifiek van Machu Picchu. Hy jubel van blydskap dat ek al tweekeer daar was. Ons neuriesing “El condor pasa” (Blad besoek 10 Januarie 2015): 

I'd rather be a sparrow than a snail
Yes I would
If I could, I surely would
I'd rather be a hammer than a nail.
Yes I would
If I only could, I surely would.

Away, I'd rather sail away
Like a swan that's here and gone
A man gets tied up to the ground
He gives the world
Its saddest sound, its saddest sound

I'd rather be a forest than a street.
Yes I would
If I could, I surely would.
I'd rather feel the earth beneath my feet
Yes I would
If I only could, I surely would

Die lied is beroemd gemaak en aangepas deur Paul Simon en Art Garfunkel.

Foto: Mario Ruiz/EFE

En die voordeel van só 'n besoek is dat 'n mens nou met meer konkrete verwysings na tekste uit hierdie letterkunde sal kan terugkeer.  En Dakar duur voort. In die sesde skof van Antofagasta na Iquique in Chile sukkel onse Giniel om vir Nasser in te haal.

Bykans van hulle vergeet weens die terreur in Parys.

Ek begin skryf aan 'n gedig oor Borges.

Joan Hambidge


Friday, January 9, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel VIII: Borges en Buenos Aires en Gauchos

Gaucho © Andrew Gibson

DEEL VIII 

Passado

Vroegoggend (gister) is ek op die oopdakbus wat vir meer as vier ure deur die strate van Buenos Aires reis. Dit is snikwarm. Ek het 'n petjie op en drink water om nie te ontwater nie. Die bus staan regoorkant my hotel 725 Continental. Op die negende verdieping is daar 'n piepklein swembadjie waar ek laatmiddag van die dag se sweet en geswoeg ontslae raak.

Vir $40 kan jy opklim en afklim op die Buscar vir 'n hele dag ... die oomblik van opklim tot 24 uur later. En so 'n busreis is bepaald die moeite werd, omdat jy die stad uit 'n ongewone hoek bespied. Jy sien blomme op 'n balkon groei. Jy sien 'n kat wat agter ogiesdraad soos 'n leeu in hok op en af stap. Jy sien 'n halfkaal persoon op 'n dekstoel uitgestrek. Jy sien hoe iemand worsies braai op straat.

Buenos Aires se honde-eienaars maak agter die brakke skoon. 'n Man plaas selfs 'n koerant onder Vlekkie se holliepatrollie en woerts word dit in die vuilgoedblik gegooi. Nogal 'n skoon stad; behalwe vir die sigaretstompies wat orals rondlê, omdat jy nie binne mag rook nie.

Nou ja. Ek wil Borges se bakens in hierdie stad besoek. En gelukskoot op gelukskoot kry ek sommer op hierdie dag twee: Café Tortoni waar hy gereeld koffie gedrink het en La poesía waar sy volgelinge op die mure mooi woorde oor hom plaas. Op die hoek van Chile en Bolivar. Alles is hier in Spaans - geen Engels nie.

Boheems. Baie dieselfde gevoel - en mense - as The power and the glory daar in my kwartiere te Tamboerskloof; die naam verwys immers na Graham Greene se bekende roman met sy whiskey-priest uit 1940 met die toespeling op die gebed:

"For thine is the kingdom, the power, and the glory, forever and ever, amen." Op die voordeur is daar 'n teken (ietwat speels): Ons praat Afrikaans ...

Café Tortoni, Borges se tafel

Café Tortoni

Ek het vanoggend 'n afspraak om die blinde Borges te ontmoet in sy kafee. Sy sekretaresse het laat weet hy sal presies om elf vm daar wees en moet asseblief nie laat wees nie. 

Ek verseker haar ek is nooit laat nie.

Sy vra ook dat ek asseblief die vrae tersaaklik moet hou en op sy werk moet fokus.

Ek begin 'n paar vrae neerpen in my swart notaboekie. My boekie is soos 'n labirint. Maak nie saak waar ek dit oopmaak nie; daar is altyd 'n belangrike idee opgesluit in hierdie swart boekie.

1. U het by geleentheid opgemerk dat u vader se biblioteek die hele lewe verteenwoordig het. Dink u dat lees die lewe kan vervang of verbeter?

2. U vader het in sy vyftigerjare blind geraak. Het u gevrees dat dit ook u lot sal wees?

3. U werk dikwels met die idee van die labirint? Het u ooit 'n werklike labirint of doolhof besoek alvorens u dit as letterkundige simbool gebruik het?

4. Hoe sou u magiese realisme definieer?

5. U is dikwels in die Palermo Viejo opgemerk? Watter invloed het hierdie wandelinge - dit wat u gehoor en geruik het - gehad op u tekste?

*


Die verhaal word egter onderbreek. Dit is tyd om die gids te ontmoet vir die gauchos-toer net buite Buenos Aires. Ons kom na twee ure aan op die plaas, Santa Susana. Ons ontvang 'n glas wyn en 'n poffertjie by ons aankoms.

Ons gids beloof verskillende danse wat hierdie komplekse kultuur sal voorstel. Casper Schmidt se kortverhaalbundel Die kokende gô kom sterk in die herinnering op.

Borges het nooit braille bemeester nie. Hy het tog verhale en gedigte vertaal – met die hulp van 'n sekretaresse aan wie hy alles dikteer.

Ek sal my vertelling so konkreet beskryf dat Borges my verhaal sal sien. 

Op die tafel is daar beesvelle uitgestal (teen $303). Buite mag 'n mens perdry. Die jongklomp is op 'n perdekarretjie aan die rondrits.

Na die oggendreëns is die lug helder. Alles ruik skoon en vars. 'n Gaucho in uniform van stewels en 'n rybroek braai vleis onder 'n soort lapa. Hy het 'n beret op. 'n Boina. 

Ons eet braaivleis: gestopte varkwors, beeswors, steak ... die Malbec vloei soos bloed. Daarna word die verskillende vorme van die tango vir ons gedemonstreer. En 'n man op 'n kitaar speel hartseermusiek. 

Daarna gaan ons buite toe en sien hoe die gauchos resies jaag en met las chicas op die perde rondjaag. Die skare jil. Daar hang 'n reuk van seks en sweet in die lug. Applous vir die gaucho wat 'n lus kan uithak en die ringetjie aan 'n mooi chica oorhandig met 'n kus.

Vanaand is die gauchos weer sonder vroue.

Nou het ek die pseudo-epigrapha tot die uiterste vorm geneem en u tot lewe gewek, meneer Borges.

*

Thibault Camus/AP Photo

Vroegaand is ek terug by die hotel. Ek is dadelik op CNN. Ek sien die twee broers is doodgeskiet en die derde terroris wat mense in 'n kosjer-winkel aangehou het, is eweneens verwyder van hierdie planeet. Sy vrou is egter steeds soek. Die Franse is onrustig. En Michel Houllebecq se uitgewer vrees dat sy roman Soumission geweld mag uitlok (‘Charlie Hebdo’/ Nuwe Franse boek in die spervuur? Besoek 9 Januarie 2015)

Die afgelope drie dae was dae van hoogspanning.

Tot diep in die nag kyk ek televisie en luister na al die interpretasies.

Joan Hambidge

Thursday, January 8, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel VII

© WonderWorld


DEEL VII

Media luna

So kom ons aan in Buenos Aires. Die vlug is vol stampe en stote.

Langs my op die vlug sit 'n bejaarde vrou. Ek vertel haar van my plan om Borges se voetspore te volg in die stad.

Sy glimlag. Wonderlike idee. Sy het in die area waar sy gewoon het, hom dikwels sien stap. Sy glimlag skalks. In die Avenue Esmeralda. Later die middag sien ek op die internet dat 'n private toer beskikbaar is.

Jorge Luis Borges © Eduardo Di Baia
THE BUENOS AIRES OF BORGES AND CORTAZAR 
Private tour in Buenos AiresTour Price : Ask me Duration : 3 hours Languages: Spanish, English The rich culture and thriving intellectual community of Buenos Aires had great influence on the works of two of Argentina’s most well-known writers, Jorge Luis Borges and Julio Cortazar. Excursion with private guide in Buenos Aires. This interesting guided tour in Buenos Aires becomes a path of discovery as we visit the scenes that shaped their writing.We will visit some of the real streets and buildings that were settings for some of Borges’ surrealist short stories of science fiction and magic realism. Our guided tour through Buenos Aires will take us to the different houses where he lived with his mother, and we’ll get to know the library where he worked. Tour in Buenos Aires. We’ll also go to the bookstores and cafes where he would spend his days, and tour the location for the setting of one of his most famous works, “The Aleph”.  Our walking tour in Buenos Aires takes us along the streets of Palermo Viejo, where Borges asserts the mythical foundation of the Buenos Aires occurred.During our guided tour of Buenos Aires we will discover some of the places where Jules Cortazar worked and expressed his political views. We’ll see the settings of some of his stories, and the beautiful building he used as a setting for his “Cave of Treasure”. 
Additional information 
Tour information:Tour Price: Ask meDuration: 3 hoursLanguages: Spanish, English 
Tour package includes:Airport Transfer: NOHotel pick-up: YESDrop-off : YESTour Transportation (car, van, limo, boat, etc…): YESFood and Drinks : NO
Other services (fees apply):Attraction tickets (concerts, theater, museum, circus...): YESTranslation services: NOReservations (hotels, restaurants, airline): NOVisa support: NO
Additional information:This tour must be booked at least 7 days in advance of your travel date: NOTour groups must include a minimum of 2 passengers: YESTour prices are flexible and based on your requirements: YES

Het ons lus hiervoor? Of eerder self die plekke uitsnuffel? 'n Mens kan dikwels 'n boel geld betaal en ontdek jy weet meer as die gids.

Skare in Trafalgar Plein, London, hou penne omhoog in protes 
teen die aanval in Parys. © Nicholas Keyworth


Dan ontvang ek die nuus van die dood van die satirici in Parys. 'n Daad van terrorisme. My soektog na Borges word skielik onderbreek. Televisie wys oor en oor hoe die terroriste toeslaan. Verskillende kenners lug hul mening. Daar word selfs 'n cartoon gewys van Michel Houellebecq en hoe hy in sy roman kritiek uitgespreek op Islam. Soumission heet dit.

© Damien Meyer/AFP/GETTY

Die aand op die dak van die hotel sien ek 'n spinnekop in 'n web ... En ja hoe simbolies was daardie likkewaan wat oor die pad geloop het in Iguasso nie!

Die hele wêreld neem standpunt in teen die slagting. Je suis Charlie word 'n slagspreuk vir die vryheid van spraak, vir standpunt inneem teen hierdie terroristiese daad.

Ek lees al die verslae, die weersin - en besluit nou moet ek voortgaan met my reis en fokus op my soektog na Borges se wandelpad.

Oppas vir skelms, oppas vir skelmstreke. Sit jou rugsak voor op jou maag en nie op jou rug nie. Hier sny hulle dit sommer met 'n mes af. En wees op die uitkyk vir vervalste geld. Die hotelbestuurder merk elke 100 peso-noot met 'n geel koki om te waarmerk dit is reg ...

Reg voor die 725 Continental hotel staan daar 'n oopdakbus. So sal ek die dag aanpak en eers probeer om my balans te herwin na die skokkende nuus.

Joan Hambidge