Showing posts with label H&R. Show all posts
Showing posts with label H&R. Show all posts

Monday, October 4, 2021

Resensie | Zandra Bezuidenhout - Derde gety | H&R, 2021

Zandra Bezuidenhout – Derde gety. H&R, 2001. ISBN 798 0 7981 8170 9 

Resensent: Joan Hambidge

 

‘n Soeke na die staning in die self

 

Zandra Bezuidenhout het haarself al onderskei as 'n uitnemende vertaler van Alfred Schaffer en Anna Enquist se poësie. Haar jongste bundel heet Derde gety.

 

Bezuidenhout is verteenwoordig in Karen de Wet se Vers & vrou (2020) waarin 258 vrouedigters saam-groepeer word róndom al die aspekte van vrouwees. Ons vind hier haar gedig "Falliese vrou" wat inspeel op Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman wat in 1992 verskyn het. Hierdie Jungiaanse cantadora (oftwel storieverteller) analiseer die krag van die vrygeworde vrou.

 

In De Wet se antologie word die leser deur die verskillende aspekte van vrouwees geneem. Lankal nie meer is sy die "vroulike aanvulling" of die tweede seks nie. Vroue binne die Afrikaanse digkuns het agentskap. The empire writes back. Tegnies bedrewe (soos Elisabeth Eybers) of liries-besinnend (soos Antjie Krog). Trouens, dit sou 'n hele studie kon word om te kyk hoé vrouedigters oor die vaderfiguur skryf: wetend dat hy 'n mens met gebreke was en dikwels nie 'n man van staal nie (Marlise Joubert). Of liefdevol-teer (soos Olga Kirsch). 

 

Vroue moes deur die manlike orde van goedkeuring beweeg en bloemlesings, saamgestel deur vroue, se klem word anders geplaas soos in Lina Spies se Sy sien webbe roer (1999) en die reeds genoemde een van Karen de Wet. Die skokkende of transgressiewe word eweneens verteenwoordig: die vrou as hoer, die one night stand, lesbiese seks, die woman-identified woman, die vrou as Amasone of huisvrou, die verliefde of versaakte vrou; menstruasie en swangerskap.  Die zipless fuck en verslawings. Swangerskap en aborsie.

 

Van Julia Kristeva, Hélène Cixous (White ink, 2008) tot by Luce Iragaray en Elaine Showalter word die vroulike begeerte, fantasie en kreatiwiteit beskryf waarmee die leser hierdie tekste kan oopmaak. Elke gedig skep en vra vir haar eie teoretiese benadering of leesmodel.

 

In die jongste bundel van Bezuidenhout word daar 'n blik gegee op verskillende aspekte van vrouwees: die dogter teenoor die moeder; die kind wat probeer vredemaak met die vader (met die wete dat sy soos hy is); die vrou as moeder verbind aan bloedgenote verbeeld in "Donker raam" (71).

 

By Bezuidenhout is daar 'n meer konvensionele vrou aan die woord en hierom is dit tersaaklik dat sy aanklank vind by Eybers soos in die aangrypende "In memoriam Eybers" (91) waar sy hulde bring aan die "elegante hand" (letterlik en figuurlik) van ons eerste gekanoniseerde vrouedigter. Hier word verwys na  "… die ligval deur haar raam" wat Eybers vir ons in ‘n portret plaas.

 

Stilte in hierdie gedig dui op die dood, maar dit is 'n belangrike kode in vrouepoësie, al word hulle 'n "ongehoorde soort" later. Die mooi voorblad van Andries Gouws heet Stoel in ateljee, Molyvos, Lesbos, Griekeland wat verdere stilte en verlatenheid impliseer.

 

Die eb/vloed van die lewe word in die derde gety ondersoek met 'n verwysing dalk na die derde golf van die feminisme waar vroueregte ook krities ondersoek word en denkfoute uitgewys word?

 

In hierdie bundel word daar besin oor die kwessie van herdoping van name binne die postkoloniale tydvak en in “Perspektief” word daar krities gekyk na die einde van die orde van bevoorregting. Genderissues word betrek en in “Dubbelvisie” gekyk na die “transgender Kaapse suster / is soos die oorstewind ‘n heer” (27) waarin Bezuidenhout tereg begryp dat die begrip transgender dui op die versamelterm van verskillende genderdwarshede; en nie net na geslagsverandering nie.

 

Daar is herinneringsverse, reisgedigte en ‘n beeldvers vir Marlene Dumas wat “Intiem” (45) heet. In hierdie gedig word ‘n hele feministiese diskoers rondom intimiteit (en skaamte) met ‘n ferm digterlike hand oopgemaak en ons lees ook verwysings raak na Antjie Krog.

 

Daar is ars poëtiese besinnings (soos in “Ongenooide gaste”, 82) waar ‘n spel met woorde-as-gaste verbeeld word:

 

Slegs genooides kry toegang

tot die knap woonruimte van ‘n gedig (82).

 

En in “Repliek op kritiek” (83) aktiveer sy Eybers se skerp siening van die dagbladkritikus en hoe modes en smake soos die seisoene wissel. Die ewige onsekerhede waarmee elke digter worstel oor die weegskaal wat implisiet of eksplisiet ter sprake is.

 

Die verskillende afdelings (Kontreie, Sinneryk, Vrou-beeldig, Dinkgoed, Die makers, Lament) gee ‘n aanduiding van die digter se besinning oor die lewe van ‘n woordmaker wat nostalgies terugkyk en die vreugde van digtersfeeste besing.

 

En daardie walvis het baie simboliese lae binne die letterkunde. Die seekalender het sy eie tyd en in hierdie bundel word daar baie keer na tyd gekyk. Letterlike tyd, herinneringstyd en die sterreskrif wat dui op verdwene tyd.

 

 

Met hierdie bundel vind ons ‘n belangrike aansluiting by die groot aantal “vroulike aanvullings” wat oor alle fasette van vrouwees skryf sonder skroom. Nie net oor die potte of panne nie, maar oor die einders en reise, verlos van die wasgoedbalie. Al is dit net tydelik. Die vrou is nie langer voorbeeldig nie, maar vrou-beeldig.

 

Zandra Bezuidenhout


 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld) 

 

 

Monday, November 2, 2020

Resensie | Antjie Krog – 'n Vry vrou | H&R, 2020

Antjie Krog – 'n Vry vrou. H&R, 2020. ISBN 978 0 7981 805 11 

Resensent: Joan Hambidge

 

Karen de Wet het reeds met die bloemlesing oor vrouedigters Vers & Vrou: 250 gedigte haar onderskei as 'n uitstekende samesteller. Haar keuse van Antjie Krog se vele bundels word 'n besondere én idiosinkratiese verslag.

 

Hier word gedigte achronologies róndom temas saamgeplaas sodat die leser 'n nuwe blik kry op hierdie komplekse digterskap. 'n Mens sou 'n hele studie kon doen oor die ontwikkeling vanaf jong kind, verliefde student tot swanger en geskeide vrou. Dan moeder; later grootmoeder wat met enorme emosionaliteit oor 'n kleinkind in 'n vreemde ruimte en taal skryf. Daar is eweneens die politieke aktivis. Sy is dus vir 'n navorser oor gender-konstruksies 'n goudmyn vir die ontmaskering van stereotipes én leuens. Sy behoort tot die ongehoorde soort: eens nie gehoor nie; nou ongehoord en grensoorskrydend.

 

Louise Viljoen, 'n kenner van Krog se werk, se seminale studie heet dan: Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog (2009) en ondersoek o.a. skuldgevoel, plig, begeerte, transgressie; alles psigologiese merkers van hierdie reisende digter, soos Viljoen tereg uitwys. Ons sien en ruik die abjekte. Sy span die plat woord funksioneel in tot die verbystering van menige konvensionele leser. 

 

Die klankaspek van haar gedigte is van kardinale belang. 

 

"om op 'n oggend wakker te word binne-in klank", skryf sy in "digter wordende" (162).

 

So gesien is sy 'n hibridiese digter: een vir stiplees, maar dan ook vir voordra, hóór. 'n Gedig heet dan "twee wêrelde" (154). Die klipretoriek van die Richtersveld beskou sy en sy buikspreek namens ander karakters: 'n man wat afwysend is teenoor sy vrou in 'n reeks dorpsgedigte; sauna-verse wat die woman-identified-woman-problematiek ondersoek.

 

Die orale tradisie byvoorbeeld kom sterk na vore in die reis met ‘n poësiekaravaan tot Timboektoe waar sy mites en legendes deel inweef in haar verse. Sy skryf prysliedere in die tradisie van inheemse tale soos in "lied van Peter Labase" (93).

 

Krog verander die male gaze na die blik van die (fokken bevryde) vrou wat die man tot objek verklaar. Die spel met betekenis van fallus is dalk "toe-fallus"? Kan die vrou ooit ontsnap uit die patriargale orde?

 

Met hierdie bloemlesing word 'n mens opnuut bewus van Krog se metaforiek en haar verskillende stylsoorte. Sowel die rondeel, villanelle as die vrye vers hanteer sy moeiteloos. Sy is teer, maar ook woedend en dwars. Sy skryf immers ómdat sy woedend is. Sy is soos Leipoldt melancholies en vrolik; opstandig en teer. Sy is selfs satiries-snaaks in "Man ek lus 'n twakkie" (60). Sy kan namens anders praat en buikspreek. Soms is sy self aan die woord; ander kere is dit randfigure wat sy stemhebbend maak. Sy dra 'n masker dus in navolging van Opperman, 'n mentor, wat verskillende figure aan die woord kon stel.

 

Haar blik op haar ouers is van die grootste en waarskynlik aangrypendste gedigte in haar oeuvre. Die begrafnis van haar pa getuig van soveel teerheid en deernis. Sy reken af met vaderdigters - soos D.J. Opperman - en word simbolies bevry van die manlike blik van goedkeuring. 

 

Wyle Barbara Johnson het in 'n onderhoud met Imre Salusinzky (Criticism in Society. Methuen, 1979)  opgemerk dat vroue natuurlike dekonstrueerders is. Dit is neem 'n vroueskrywer langer om haar self te vestig as skrywer binne die skryfrangorde waar mans oorheers. Sy moet die manlike orde binnedring en sommige teoretici, soos Hélène Cixous, agiteer vir 'n unieke vrouetaal om hierdie prosesse te ontmasker en problematiseer.

 

Vir my is Krog se mooiste gedigte wanneer sy die skryfproses ondersoek en aan die kaak stel. Swangerskap wat handel oor die skryfproses; 'n liefdesvers wat die liefde blootstel in skryfbeelde; 'n sonnet waarin die vorm op sy kop gekeer word. Haar gedigte beweeg tussen die buite- en binneruimte van die gedig. Die intieme aard van gedigte skryf, is haar opdrag via Ottone M. Riccio.  En dit is wat Karen de Wet begryp. Sy skuif die locus van die gedigte se publikasiedatums, en soos J. Hillis Miller in die gelyknamige studie van Salusinszky, ondersoek dit die komplekse verhouding tussen teks en leser. Tyd verander interpretasies van tekste en lees is nooit 'n eensame aksie nie; daar is altyd werklikhede en ander lesers wat oor jou skouer loer, aldus J. Hillis Miller.

 

Karen de Wet herkanoniseer Krog se bydrae as digter en ons kyk met nuwe oë na haar werk as veelkantige vroueskrywer.

 

Antjie Krog is besinnend, meditatief, melancholies, woedend, liries. Mannin en Lady Anne tegelykertyd.

 

Gunstelinge: "visioen van 'n lessenaar" (148), "digter wordende" (162), "twee wêrelde" (154), "die skryfproses as sonnet" (151), "grond" (122), "Richtersveld: narratief van klip" (120), "ek wil 'n graf hê om van om te draai" (188) ... eintlik te veel om op te noem. Daar is eweneens 3 tekste uit O brose aarde.

 

Nou onlangs het 'n manlike digter gemeen dat 'n mens oral in die Lae Lande gedurig die naam Krog hoor. Natuurlik. Sy dig onversetlik, eerlik en skuif telkens die bakens van die digkuns in 'n bloemlesing wat haar 50 jaar in ons digkuns gedenk. Geluk aan die nooi van Middenspruit wat kan skryf oor knotwilge en rooigras ...

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)