Showing posts with label Kleinboer. Show all posts
Showing posts with label Kleinboer. Show all posts

Sunday, April 12, 2020

Resensie | Kleinboer - Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels (2020)

Kleinboer – Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels. Naledi 2020. ISBN: 9781928518327

Resensent: Joan Hambidge

Kleinboer het 'n sterk aanwesigheid as prosaskrywer in Afrikaans. In sy romans ontgin hy sy bestaan in Yeoville met sy swart vrou, Lungi, en hul kind.  Besoeke aan dames van die nag word eweneens sonder skroom beskryf. Die kontrei van die verloopte en afvalliges is aanwesig in sy vertellinge wat eerlik en direk vertel word. Sy ruimte is 'n boerewerf in Yeoville met blaffende honde.

Min romans het soveel agting ontlok as sy debuut Kontrei (2003). Hy was dan ook tereg die eerste wenner van die Jan Rabie/Rapport-prys.

'n Gedig word begelei met die motto van Marcel Proust: Die enigste ware paradyse is die verlore paradyse.

En dit is inderdaad hoe 'n mens Kleinboer se werk moet benader. Ten spyte van sy bestaan as buitestaander en afvallige vind 'n mens telkens verwysings na sy Calvinistiese jeug en die impak van die kerk en sosialisering in sy werk.

In "Sunlight" word sy mond met seep uitgewas deur die vaderfiguur:

my kop het gejissis
my mond Jesus

Die verhouding met die vader, die ou patriarg, loop regdeur sy werk. Kleinboer ontgin hierdie verhouding waar die vader staan vir die Kerk en ou Afrikaner-waardes. 

"Nie ’n gedig nie, net opgetjopte prosa" lui die titel van 'n vers asof die digter weet die leser gaan krities kyk na sy gedigte.

20 (vier)

afrigters is gespuis
coaches are upstanding
rusbanke sweer trou
couches lie 
jokkies lieg oor gewig
en Sofia ry my skelm

Daar is mooi beelde:

my kop is bloot ’n koppelteken tussen my ore
en ek sukkel jaarliks om herfs te transendeer  ("Orde in die wanorde").

Hy ken die tradisie van liefdesgedigte en 'n wye belesenheid is opvallend. Hier vind 'n mens met die spel met die geliefde wat nie Afrikaans magtig is nie, maar die leser begryp hoe belangrik hierdie vrou vir hom is. Al is hy dan geen liefdesdigter nie, word hy tog een:

Nie

ek’s nie ’n liefdesdigter nie
maar sal een maal in hierdie bundel
uitbasuin ek’s baie lief vir my vrou
al kan sy nie Afrikaans lees
en weet sy nie ons lê
tussen Mars en Venus nie

stilte nou tussen ons
’n uitgedrukte swartkoppie
word vanaf die stoeptrap weggeskiet
tot in die agterplaas se ruie mini-woud 
waar iets kleins in die natuur dit sekerlik sal misbruik
en ek dit gelukkig nie hoef te aanskou en beskryf nie

Die paradoksale ontkenning word dan juis 'n erkenning; die nie word wel uitgeknikker.

Die spel met woorde - Kleinboer is immers 'n taalpraktisyn - is ook aanwesig:

Sprokie 

’n wrede woordeboekmaker het my sonder rede
in ’n sterk rivier van alfabetsop gesmyt

ek probeer stroomop en skuinserig
na ’n woordewal swem
maar die vloei is onverbiddelik en die sop dik

ek dryf magteloos na ’n suigende sopval
gryp vergeefs die letters a,n,k,e,r 
hulle glip uit my hande in die wiergegeurde sop

a,n,g,s en p,i,s verswelg my
en ek hoor die wrede skepper se gelag
teen die steil hange weergalm

enige oomblik gaan ek oor die sopval
se rand verdwyn en pletter

maar jis, my verlosser leef!
skielik sien ek doer onder ’n hoop
broodrolle in plaas van rotse

Hy dryf dikwels die spot met sy drank- en rookgewoontes. Grensoorskrydende ervarings soos besoeke aan die dokter en gesprekke oor die private dele mag vir sommiges ontstellend wees, maar hy verpak dit met humor en ironie.

As

as drank dan volgens kenners ’n depressant is
hoekom skater suipers so heerlik?

as ’n mier ’n siel het
dan ’n kakkerlak ook?

indien verbrande hout rondom wortels ingespit
as bemesting dien en nuwe lewe kry
mag hierdie strofe maar
tot vier reëls strek?

'n Aweregse blik op die wêreld en 'n sardoniese aanslag is opvallend. Hierdie gedig is skaterlag-materiaal:

Kouse

kouse is opreg maar neig dommerig
nie in staat om ’n kousale verband te trek nie

hulle is nederig
tevrede met die laagste posisie
en sonder aggressie
baklei nie terug wanneer stout brakke
hulle stukkend byt nie

hulle is apolities
nie links of regs nie

ek het simpatie met kouse
wat hulself uit die voete maak
om nie in mense se sinistere bestel 
te bly nie maar in hul eie singles bar 
of stinkerige Shangri-La te gedy

Soms, soms slaan die nostalgie hard deur soos in die mooi gedig oor die ontslape ouers:

Klein gedenkdiens

staan poppie staan
en laat jou gedagtes gaan
het my pa soms vir my ma gesing

ook 
boetie sy’s ’n perskeblom

ek twyfel of hy die lirieke self
uitgedink het

nou te laat om hom te vra
sy asse is in die berg 
en my ma s’n in die see

Die ouers - en die tweelingbroer - loop deur sy werk. En Kleinboer se tekste problematiseer telkens die outobiografie. In Kontrei het hy dit so effektief geproblematiseer dat dit meer word as die teks = Fanie de Villiers (Kleinboer).

Dis 'n lywige digbundel vol praatverse waarin die digter dikwels in 'n selfgesprek gewikkel is. Dit wat oënskynlik maklik lyk, sit vol woordspeletjies.

Miskien kon die digter minder verse opgeneem het (daar is sekere herhalings soos die luister na musiek of gedrinkery), maar in die geheel is dit 'n pretensielose, eerlike, sjarmante digbundel van ons Boere-Bukowski.

Lesers en liefhebbers van sy prosatekste sal dit geniet. Hopelik soveel as wat hierdie leser dit geniet het!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Saturday, July 29, 2017

Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel III)

Deel III

Dis 'n dag van binnenshuis swem in die Wellness Centre.

Gisteraand heerlik gekuier met die Windhoekse digter Kobus Lombard hier by die lodge.
(Versindaba » Kobus Lombard. Besoek 29 Julie 2017).

Kantgordyn

jou roerlose hang
het my eens versiende oë
verlei met ragfyn drade
waarmee jy die wêreld sif

noudat my lense verdof
en takke buite sagter wuif
merk ek oplaas
die patrone van die wewer op

Vandat ek hier begin reis het, begryp ek hoe tyd werk en sy "skadu's oor die sonwysers". Hier is alles so wyd en oop. Oos teenoor wes; noord teenoor suid. jy is die hele tyd bewus van die son ...
Nou is dit 'n laatmiddag dierebespieding.

Ons is weer op die Landrover en gelukkig om die gids Rocky mee te maak oor waterbokke wat jy nie kan eet nie, omdat die vel te olierig is. Die vleis is glo ook oneetbaar.

Ons sien vele kameelperde met kleintjies.

"Ons is nou in die Kindergarten," konstateer hy. "En in die natuur is die mannetjies altyd mooier as die wyfies. Kyk nou maar na leeus. Helaas is dit anders in die menselewe maar dit presies andersom werk."

Hierdie diere eet ongeveer 20 kg kos per dag en hy verduidelik as hulle val, moet die kop omhoog bly anders kan hulle nie weer opkom nie. 'n Kwessie van balans, jy sien.

En hulle veg met die nekke.

In Gocheganas - die plek van kameeldoringbome en akasias - sien ons vele diere: renosters, tarentale (bleshoenders), duikers, springbokke, jakkalse, wolwe, meerkaaie, koedoes, duikers, wildbeeste (gnu's) en 'n eensame roofvoël. (Gocheganas Lodge & Spa - Windhoek – Namibia. Besoek 29 Julie 2017).

Toe ek laas hier was, het ons 'n witrenosterwyfie gesien wat dragtig was. Inmiddels is die kleinding gebore (agt weke oud), maar nêrens in sig nie. Daar staan wel twee dikke ooms en 'n tante en wei. Hulle laat ons toe om foto's van naderby te neem soos wafferse "celebrities".

En die renosters is wit, omdat hulle in die modder baai. Boonop is hulle halfblind, maar geseënd met 'n skerp reuksintuig.  Die swart renosters is glo meer aggressief en hierdie renosters - omdat hulle deur Gocheganas gevoer word – minder so.

Hy het veel te vertelle oor die volstruis wat met 'n voorskop jou so kan beseer dat hy in die hospitaal sal beland. Maar as jy bes gee en gaan lê, is jy veilig. Hy sal net op jou rug staan en tjommel. Boonop kan hy teen 90 km per uur beweeg!

In die oue dae het die Duitsers wat as koloniste hier aangedoen het in die mis van die volstruise gekrap. Die diamante wat hulle ingesluk het om die verteringstelsel te laat beweeg, is so gemyn. 

"Diere", beweer ons gids verder, "is banger vir ons, as ons vir hulle. Jy moet net stilstaan - dan gaan alles verby."

'n Jong man uit Brussel is 'n wafferse spoorsnyer - soos Louis Liebenberg - en hy kan spore eien. (Boesmansontleed nou ook antieke spore | Maroela Media. Besoek 28 Julie 2017).

"Hoe weet jy dit alles?"

"Ek het as kind elke dag TV gekyk oor die dierelewe. En omdat kameelperde water kan ruik sover as 15 km van hulle af het die Boesmans hulle nooit doodgemaak nie."

Ek besef hoe min ek weet. Maar ek is hier om my psigiese batterye te laai en dit doen hierdie ervaring van die natuur gewis. Hier tussen die witgatbome, akasias en kameeldoringbome.

Wanneer ek weer kameeldoringboom-vuurhout vir 'n braai koop tuis, sal ek weet hoe sterk hulle hier staan.

Nou begin ek dink aan 'n vers ...

(Tierra de sombra
come mi boca.)

Federico García Lorca

En ek begin lees aan Kleinboer. Wat lekker! (Kleinboer – Hierdie huis. Penguin, 2017)

So lui die publisiteitspamflet van Kleinboer se jongste roman:
Kleinboer woon steeds in rowwe Yeoville naby Johannesburg se middestad. Hy is verknog aan sy erf, maar is ’n speldjie wat telkens na ander magnete aangetrek word.  Sommige lesers het dalk gehoop hy het al ophou rondloop. Maar nee, hy is steeds verslaaf aan die versoekings wat bordele bied. Sy rondlopery strek nou wyer en hy gaan loer selfs wat bo in Afrika aangaan. Sy Zoeloe-vrou worstel teen ander magnete, hoofsaaklik die sjebiens binne stap- of strompelafstand van die huis. Deur dit als woel Kleinboer se obsessie met die Lotto, waaruit hy getalle én woorde maak. 
Beter kan 'n mens nie hierdie roman wat Hierdie huis heet, opsom nie. Met hierdie boek voltooi hy 'n drieluik wat begin het met Kontrei en Werfsonde.

Kleinboer het met sy debuut opslae gemaak. Met daardie hiper-realistiese beskrywing van seks oor die kleurgrens en die inbeweeg in die skemerwêreld van sjebiens, het hy homself as 'n eerste gevestig.

Die jongste boek is nes die voriges in stylaanbod: sonder skroom, op die man af - daar is geen selfbejammering nie, ofskoon hierdie boek jou van die begin af aan die keel ruk. Ons beleef die dood van sy geliefde Lungi, met wie hy 'n komplekse verhouding het.

Daar is 'n moeilike, opstandige tiener. 

Daar is Kleinboer se spel met die Lotto wat dui op 'n soort eksistensiële bemoeienis met die wêreld óm hom. Hy gebruik ook die Lotto as matriks om die mees absurde en ontoepaslike idees te "verduidelik".

Dan is daar Kleinboer as taalpuris. Ou lesers van Litnet sal goed onthou hoe hy deur die jare sober briewe geplaas het oor taalfoute.

Hierdie man kan vertel. Iemand behoort 'n studie te onderneem oor die ooreenkomste en verskille tussen Kleinboer en Ryk Hattingh se Huilboek.

Beide wit mans. Buite die orde van die patriagrie en "aanvaarbare" gedrag. Kleinboer hier te lande; Hattingh ekspat. En beide uitstekende romansiers.

Laataand sms my voormalige uitgewer my. "Ek hoor jy is in Windhoek?"

Ek sms terug. Ons ontmoet more, voor ek woestyn toe vertrek vir koffie.

© Joan Hambidge


Friday, March 1, 2013

Kleinboer - Kontrei (2003)



Kleinboer. Kontrei. Uitgewery Praag, 2003. ISBN 0 9584635 4 9.

Resensent: Joan Hambidge

Kleinboer se debuutroman Kontrei (met sy plat woordspeling) geniet wye media-dekking. Moenie dat dit jou as leser vervreem nie, want dikwels kan lesers juis boeke wat oorbelig word as ‘n soort leesversperring ervaar. Dit was destyds die geval met Triomf.

Kontrei is ‘n belydenisroman. ‘n Outobiografiese vertelling van ‘n soekende ek wat aan sy tweelingbroer die storie vertel. ‘n Mens kan dit as ‘n parodiese antwoord lees op Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan: Maria/Marie se analise van onbeantwoorde liefde en haar verdrietige verliteraturing daarvan. In Kleinboer se roman gaan dit oor besoeke aan hoerhuise en die  die soektog na die uigestelde O. Kleinboer is ‘n soort Henry Miller-figuur wat die fallus verheerlik en die leser blootstel aan die bestaan van die soekende, wandelende ek.

Geplaas teen die moderne Johannesburg – Yeoville en Hillbrow – kom motorkapings, Vigs, die lewe in ‘n moderne stad, liefdeloosheid, geweld, en al die onsekerhede van ‘n grys bestaan na vore. Die romantitel is ironies, omdat dit ‘n soort plaas-idille wil oproep. Maar Kleinboer woon in die stad, ofskoon hy dikwels tuin maak en filosofeer oor die betonoerwoud waarbinne hy hom bevind en wat hom frustreer.

Hy maak ook spelfoute in hoerhuise reg en gereelde lesers van Litnet se briewekolom sal die werklike skrywer se beheptheid met woorde alreeds ken. Dit is dan in die eerste instansie ‘n skrywer wat jou bewus maak van die skryfproses en soos in die metaroman dikwels gebeur, verneem ons teen die einde dat ons die beoogde roman sopas gelees het.

Dis ook ‘n roman wat bewustelik inskryf teen die plaaroman se kodes van die boer op die land. Hier is die boer ‘n cruiser wat hoerhuise besoek en sy voorkeur vir swart vroue uitspel. Wanneer hy by geleentheid emosioneel betrokke raak, ondermyn dit die hele jag(s)tog. Ook die verhouding met sy swart huisgenoot en haar kind, wat hom Daddy noem, word besonder goed verbeeld. Hy is die jagter, maar wanneer sý dalk ontrou mag wees, raak hy jaloers op die man wat besoek aflê. Op ‘n deernisvolle manier word die verhouding met die kind beskryf en die woedeuitbarstings tussen die twee huisgenote is driftig. Sy noem hom ‘n Boer in woede en die leser word betrek by al die pynlike misverstande in ons samelewing.

Nie alleen is dit pakkend en goed geskryf nie, maar ek dink die leser word ook betrek by ‘n eerlike bekentenis.  Wees net gewaarsku: die ‘naked I’ is dikwels die mees gedistansieerde verteller denkbaar en hoewel ons dikwels sy fallus sien is daar maskers en intertekste ingebou om afstand te skep.  Die verwysings na die jeug is hartverskeurend (veral die vader se reaksie op ‘n swart huwelik) en Bybeltekste verïroniseer die huidige verloedering.  Die skrywer is dieselfde jaar as hierdie leser gebore en baie subtiele retro-verwysings kan dus met ‘n glimlag waardeer word. Die ou en nuwe Suid-Afrika word baie slim teenoor mekaar geplaas en die seun se opstand teen die stoere vader (wat selfs die toiletgewoontes wou beheer om water te spaar), word knap verbeeld.

Een leser mag nooit namens ‘n ander leser praat nie, maar ek meen die boek se krag lê in sy eerlikheid opgesluit en die varse, nie-studeerkamer-agtige prosa wat dikwels sieldodend is nie. Hy skryf uit sy ‘gut’. Miskien selfs verder af, sou ‘n mens speels kon aanvoer. Tog is dit terselfdertyd ‘n slim  boek vol verwysings en sydelingse klappies. Koos Kombuis is daar; ook ander herkenbare mense word by die naam genoem.

Dis nie ‘n boek wat jou ‘opwerk’ nie; daarvoor is dit te slim geskryf en word te veel intellektuele kwessies soos identiteit, taal, herkoms, die dood betrek. Ook is daar ‘n soort “sonde met die bure” ter sprake wanneer die honde in die buurt stilgemaak moet word. Daar is ‘n blik op die absurde in die lewe: hy woon ‘n Jim Rose-vertoning by en lag vir sy eie seksbeheptheid. Waarom “cruise” hy? Kleinboer se roman openbaar dieselfde obsessie as wat ‘n mens in Nagsweet van Johann de Lange kry: die opstand teen die vader, die soeke na die self, die onvermoë om die nostalgiese jeug en die harde werklikheid te versoen dalk. Kleinboer wys meer as sy ploegskaar.

Praag het hierdie roman gepubliseer en gerugte doen die ronde dat Naspers dit afgekeur het. Sal daardie redakteur asseblief opstaan en verduidelik waarom vrot, lewelose boeke bó hierdie kragtoer verkies is? Dis nou as jy uit jou skaamte kan opkyk.

Uitgewery Praag: Posbus 3103, Dainfern, 2055

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]