Showing posts with label Antjie Krog. Show all posts
Showing posts with label Antjie Krog. Show all posts

Wednesday, November 16, 2022

Resensie | Antjie Krog – Plunder | Human & Rousseau, 2022

Antjie Krog – Plunder. Human & Rousseau, 2022. ISBN: 9780798183178. R 260.00, 126pp. 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Antjie Krog se bundel Plunder analiseer en ondersoek al die bekende temas van vrouwees – nou in hierdie jongste bundel met ‘n strenger fokus weens die gepaardgaande tyd van onrus post-Covid. Ons vind ook hier die spanning tussen die wit staar en swart staar wat die politieke dimensie aktiveer. Bekend aan haar digkuns word die magsverhoudinge in die huwelik beskou en van die mooiste en ontroerendste gedigte tref ons hier aan (“dis wanneer ek weg is van jou”, 17; “dis wanneer ek by jou is”, 18). Kleinkinders, die dood van ouers, die wegteken van die familieplaas Middenspruit teen die agtergrond van grondonteiening (“Koopkontrak”, 84), siekte, geheuverlies wat uitloop in die crescendo van hierdie bundel met “o brose aarde …: ‘n misorde vir die nuwe verbond”, 107) .

 

Musikaliteit, verstommende beelde en ‘n meedoënlose selfgesprek met die bevraagtekening van die “ek” is verdere aspekte van hierdie bundel wat ontroer en steur.

 

“die sigbaarmaking van allerlei strooptogte” (38) is ‘n sentrale vers róndom die digter wat haar speels posisioneer as kolonis. Sy gee ruim erkenning agterin van wie en waaruit sy plunder.

 

Female Fear Factory (2021) van Pumla Dineo Gqola is tersaaklik. Die vrou as gevreesde en die een wat vrees word geplaas teenoor die mitologiese Baubo wat haar genitalieë wys. Krog se Plunder is ‘n meedoënlose analise van die wit Afrikaanse vrouedigter. Hoe lank? Wie gaan eendag hierdie opgawes verstaan?

 

Haar pryslied vir Biskop Tutu ruk aan die keel, nes haar digterlike reaksies op weerloses, verskoppelinge, bedelaars. Sy bely sy glo nie in heiligmaking nie (68); tog bly die leser deurgaans bewus van gedigte as gebede – dan weer selfironie en self-ontering.

 

Die bundel is eintlik ‘n opera.

 

Voëls soos die bottergat, sperwer, slanghals, groenvlerkduif is hier aanwesig met die Vrystaatse landskap wat die ondergrond van die bundel vorm.

 

Die bundel beslaan ses afdelings: die 1e een is ars poëties in opset; die 2e begin met ‘n sterk politieke aanslag en meer spesifiek die #FeesMustFall-beweging; die 3e werk met die Bybel en die mitologiese figure soos Baubo, uit die Griekse mitologie wat haar rok lig vir Demeter ná die dood van haar dogter, Persefone; die 4e handel oor familieskap en in die 5e word die wit staar/swart staar-problematiek ondersoek. In die laaste afdeling is die mis (“o brose aarde”) die sluitstuk.

 

II

 

Die titel Plunder word op verskillende vlakke ondersoek. Strooptogte en die politieke werklikheid van grondonteiening soos die kwessie van besitreg. Die Engelse titel heet Pillage en die gedigte is vertaal deur Karen Press.

 

Die hele kwessie van stroop of plundering word ‘n metaforiese werkswyse in hierdie komplekse bundel.

 

‘n Sentrale vers is “die sigbaarmaking van allerlei strooptogte”(38):

 

*

 

as digter is my wese dié van ‘n Kolonis

ek val ander se werk binne

ek ossilleer van ekstase, bewondering

verander, teken op, neem klein aandenkinkies

want die tekste gryp my aan, landskappe tuimel

kom ek af op ‘n beeld, ‘n ongerepte kloof

ontdek ek ‘n verblindende berg

dan omhels ek, verorber, stroop

en stop my kop vol, my onderbewussyn

die oorloop verdwyn in notaboeke

want alles wat gesê word is al gesê

       is al voorheen oor en oor nooit só gesê

ek probeer byhou om bronne en oorsprong op te spoor

maar uiteindelik word die hele kelderkaboedel

                                                          kollektief verslinde buit

 

pluiings vir die verrinneweerde liggaam van latenstyd (39)

 

*

 

Agterin die bundel word bronne vermeld en digters waaruit sy “geskaai” het. Sy verwys ook na haarself en die herbesoek van veral Lady Anne is opvallend in hierdie bundel.

 

“om te roei sonder hawe” (Lady Anne Barnard ontmoet Samuel Johnson), 64 is só ‘n voorbeeld nes die meerstemmige tekste wat terugkeer na o.a. Januarie-suite.

 

Anna Jean Smith se Reading Julia Kristeva: Estrangement and the Female Intellectual (Canterbury Universiteit, 1992) vang hierdie leser se oog: die matrioska, meerstemmigheid, die chora, o.a. word so geaktiveer. Die belangrike bibliografie verskaf kodes vir die oopmaak van hierdie bundel: “skin memories”, erotiek in die Babiloniese tydvak, trauma-narratiewe, ras en representasie, black bodies versus white gazes, die evoluerende heelal, ensomeer.

 

Pyn en vreugde; die banale en die sublieme (“ons binnestes ruk deur die sublieme”, 117).


Die famieskap van die digkuns teenoor die familieskap van die werklike familie.

 

III

 

Hierdie bundel funksioneer soos ‘n opera in verskillende bedrywe.

 

Met verskillende stemme wat die leser terugneem na al haar bundels waar sy eksperimenteer met die voordrag, die pryslied en dus aansluit by die sterk orale Afrika-tradisie. 

 

Terselfdertyd is daar gesprekke met die buiteland (J.M. Coetzee en Remco Campert, o.a.), maar haar ondersoek na die “leegte van stilte” en ‘n teruggryp na haar Vrystaatse jeug (en pragtige erotiek) het hierdie leser mateloos geïmponeer.

 

Dit val nie te betwyfel nie dat hierdie bundel een van die hoogtepunte van die jaar is. Die saamdig van verskillende dimensies waar die private en die politiese saamgesnoer word.


 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, February 1, 2021

Resensie | Antjie Krog – Met die oog op môre | Protea: 2019

Antjie Krog – Met die oog op môre. Protea Boekehuis, 2019. ISBN 148531125X

Resensent: Joan Hambidge

 

 

Met die oog op môre is 'n versdrama van die digter Antjie Krog. Hierdie ervare digter het alreeds haar hand gewaag aan die herdigting van Tom Lanoye se tekste, en veral haar verwerking van Koningin Lear in 2019 (met Marthinus Basson as regisseur) was as teaterervaring, en is as  leesteks vir hierdie kritikus 'n hoogtepunt.

 

Met haar versdrama word die woorde A re shweleng fatshe la rona (Laat ons sterf, die grond is ons s'n) die subteks, wat 'n verbeelde interaksie tussen twee figure weergee. Hierdie mito-poëtiese gesprek waaier uit na ons huidige situasie.

 

Die skering en inslag van hierdie teks is sowel poëties as feitelik. Hier is baie woordhandeling, soos kenners van die versdrama dit beskryf.

 

Die twee hoofspelers is Moshoeshoe 1 en Eugène Casalis, 'n Franse sendeling in 1837 - 1855 in Basoetoeland. 'n Swart koning word geplaas  teenoor 'n wit sendeling. In hul poging om saam te werk word die spanninge en verskille tussen hulle uitgewerk. Die koning van prysliedere teenoor die man van God.

 

Grondbesit is die ondergrond van die drama en hoé wit trekkers hulself as superieur ervaar. Aan wie behoort die grond? Die drama ondersoek eweneens die hele problematiese kwessie van die sendeling wat "heidene" wil kersten en dink hy het die waarheid in pag. Met die koning wat priemende vrae stel oor die heilige Drie-eenheid en die betekenis van Jesus Christus.

 

Is hy nie maar net 'n voorvadergees wat intree nie? 

 

Krog se opposisies tussen wit/swart, man/vrou, Afrika/Engeland, hede/verlede word kompleks uitgewerk. Sy wys op die ideologiese verskille en maak van haar karakters werklike mense met foute en mistastinge. So vermy sy die maklike slaggat wat die drama eentonig of enkellynig sou maak. Sy aktiveer 'n gender- en rasdiskoerse wat volgens moderne teoretici beide as konstruksies benader moet word. Die rol van vroue as teenspelers en hier 'n gewete, soos verbeeld in Mevrou Casalis en haar dogter wat oorneem by die vader, word 'n teenpool.

 

Die metriese eise van die versdrama kom die digter na. Sy speel met die jambiese versmaat en maak alles dramaties vir die leser-as-kyker. Name word genoem sodat die teaterganger 'n karakter sal herken. Daar is ook toordokters, 'n profetes en 'n koor. "Die draaiende bal van vuur met 'n arend se glurende oë wat niks ontgaan nie",  teenoor koning Salomo se wysheid word 'n verdere spanning in die teks. Primordialiteit, argetipes en Die Bybel word ingespan in hierdie teks van grootse opset.

 

Aan wie behoort wat? Waar word die grense getrek? Dit is 'n teks van liminaliteite en grense wat oorgesteek word.

 

Ook die geskiedenis word betrek met die rol van Cathcart en Brittanje se hantering van protektorate. Koningin Victoria en Prins Albert is in die agtergrond aanwesig. 'n Luiperdvel as geskenk aan Koningin Victoria begrond alles verder.

 

Die ellendes van misverstand: Basotho's sit opmekaargedruk soos paddavisse in 'n skepkalbas (85). Krog se beeldende vermoë is hier oortuigend in aksie en in haar digkuns het sy deur die jare verskeie koorsange in bundels geskryf, bykans as voorlopers of oefeninge vir hierdie teks.

 

Die leser word van 'n uitgebreide leeslys voorsien vir verdere navorsing. 

 

Een punt van kritiek: die p-woord val vir my buite die toonaard van die koning se manier van praat en sy denke.

 

Krog se Met die oog op môre moet teen die volgende tekste geplaas word, omdat die leser al hierdie intertekste saamdra. Dalk is dit haar antwoord op Louw se Germanicus (1956), daardie uitsonderlike epiese drama? Gaan lees Jo-Marie Claassen, 'n klassikus, se voortreflike analise van hierdie drama op Litnet. Wat histories onwaarskynlik mag wees, is wel dramaties regverdigbaar, sowel by Louw as in Krog se versdrama.

 

Die epos het in Afrikaans hoogtepunte beleef met Van Wyk Louw se Raka (1941) en Opperman se Joernaal van Jorik(1949) en hierdie teks praat implisiet met hierdie twee klassieke werke. 

 

Hierna was daar Lucas Malan se Hongergrond (1994) en meer onlangs Hein Viljoen se Brisant (2019), al beskryf as 'n postmodernistiese epiese gedig, met verskillende betekenislae, wat besondere eise aan die leser stel. 

 

Jolyn Phillips se Bientang, 'n !naugedig (2020) werk met "stofpadgedigte" van die geskiedenis sowel binnelands as buitelands róndom die figuur Bientang met verskillende metriese patrone.

 

Nogal 'n ryk skat in Afrikaans van 'n besondere moeilike digvorm wat gehoor moet gee aan die eise van die digkuns én die luisteraar moet bevredig indien dit uitgesaai word. En die opvoering eis weer iets anders want hier het jy kyker én toehoorder.

 

Hoeveel weergawes het Raka nie al met sukses beleef nie. Raka is selfs al as 'n ballet verwerk. Die grootsheid van 'n teks word aan sy antwoorde of parodieë herken.


Dink maar aan Tennessee Williams se A streetcar named desire  van 1947 wat Almodóvar so voortreflik ingeweef het in sy film All about my mother (1999). En Williams was ook digter; hierom is die musikaliteit van sy dramas tersaaklik. Elke punt en aandagstreep moet nagekom word.

 

In hierdie dae waar teaters in beleg is en opvoerings tans onmoontlik geword het, sal RSG se vindingryke Kobus Burger hopelik die uitdaging sien om hierdie teks vir die radio aan te bied. Anders is my geld op Marthinus Basson sodra die teaters weer volskaals funksioneer.

 

© Joan Hambidge

Monday, November 2, 2020

Resensie | Antjie Krog – 'n Vry vrou | H&R, 2020

Antjie Krog – 'n Vry vrou. H&R, 2020. ISBN 978 0 7981 805 11 

Resensent: Joan Hambidge

 

Karen de Wet het reeds met die bloemlesing oor vrouedigters Vers & Vrou: 250 gedigte haar onderskei as 'n uitstekende samesteller. Haar keuse van Antjie Krog se vele bundels word 'n besondere én idiosinkratiese verslag.

 

Hier word gedigte achronologies róndom temas saamgeplaas sodat die leser 'n nuwe blik kry op hierdie komplekse digterskap. 'n Mens sou 'n hele studie kon doen oor die ontwikkeling vanaf jong kind, verliefde student tot swanger en geskeide vrou. Dan moeder; later grootmoeder wat met enorme emosionaliteit oor 'n kleinkind in 'n vreemde ruimte en taal skryf. Daar is eweneens die politieke aktivis. Sy is dus vir 'n navorser oor gender-konstruksies 'n goudmyn vir die ontmaskering van stereotipes én leuens. Sy behoort tot die ongehoorde soort: eens nie gehoor nie; nou ongehoord en grensoorskrydend.

 

Louise Viljoen, 'n kenner van Krog se werk, se seminale studie heet dan: Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog (2009) en ondersoek o.a. skuldgevoel, plig, begeerte, transgressie; alles psigologiese merkers van hierdie reisende digter, soos Viljoen tereg uitwys. Ons sien en ruik die abjekte. Sy span die plat woord funksioneel in tot die verbystering van menige konvensionele leser. 

 

Die klankaspek van haar gedigte is van kardinale belang. 

 

"om op 'n oggend wakker te word binne-in klank", skryf sy in "digter wordende" (162).

 

So gesien is sy 'n hibridiese digter: een vir stiplees, maar dan ook vir voordra, hóór. 'n Gedig heet dan "twee wêrelde" (154). Die klipretoriek van die Richtersveld beskou sy en sy buikspreek namens ander karakters: 'n man wat afwysend is teenoor sy vrou in 'n reeks dorpsgedigte; sauna-verse wat die woman-identified-woman-problematiek ondersoek.

 

Die orale tradisie byvoorbeeld kom sterk na vore in die reis met ‘n poësiekaravaan tot Timboektoe waar sy mites en legendes deel inweef in haar verse. Sy skryf prysliedere in die tradisie van inheemse tale soos in "lied van Peter Labase" (93).

 

Krog verander die male gaze na die blik van die (fokken bevryde) vrou wat die man tot objek verklaar. Die spel met betekenis van fallus is dalk "toe-fallus"? Kan die vrou ooit ontsnap uit die patriargale orde?

 

Met hierdie bloemlesing word 'n mens opnuut bewus van Krog se metaforiek en haar verskillende stylsoorte. Sowel die rondeel, villanelle as die vrye vers hanteer sy moeiteloos. Sy is teer, maar ook woedend en dwars. Sy skryf immers ómdat sy woedend is. Sy is soos Leipoldt melancholies en vrolik; opstandig en teer. Sy is selfs satiries-snaaks in "Man ek lus 'n twakkie" (60). Sy kan namens anders praat en buikspreek. Soms is sy self aan die woord; ander kere is dit randfigure wat sy stemhebbend maak. Sy dra 'n masker dus in navolging van Opperman, 'n mentor, wat verskillende figure aan die woord kon stel.

 

Haar blik op haar ouers is van die grootste en waarskynlik aangrypendste gedigte in haar oeuvre. Die begrafnis van haar pa getuig van soveel teerheid en deernis. Sy reken af met vaderdigters - soos D.J. Opperman - en word simbolies bevry van die manlike blik van goedkeuring. 

 

Wyle Barbara Johnson het in 'n onderhoud met Imre Salusinzky (Criticism in Society. Methuen, 1979)  opgemerk dat vroue natuurlike dekonstrueerders is. Dit is neem 'n vroueskrywer langer om haar self te vestig as skrywer binne die skryfrangorde waar mans oorheers. Sy moet die manlike orde binnedring en sommige teoretici, soos Hélène Cixous, agiteer vir 'n unieke vrouetaal om hierdie prosesse te ontmasker en problematiseer.

 

Vir my is Krog se mooiste gedigte wanneer sy die skryfproses ondersoek en aan die kaak stel. Swangerskap wat handel oor die skryfproses; 'n liefdesvers wat die liefde blootstel in skryfbeelde; 'n sonnet waarin die vorm op sy kop gekeer word. Haar gedigte beweeg tussen die buite- en binneruimte van die gedig. Die intieme aard van gedigte skryf, is haar opdrag via Ottone M. Riccio.  En dit is wat Karen de Wet begryp. Sy skuif die locus van die gedigte se publikasiedatums, en soos J. Hillis Miller in die gelyknamige studie van Salusinszky, ondersoek dit die komplekse verhouding tussen teks en leser. Tyd verander interpretasies van tekste en lees is nooit 'n eensame aksie nie; daar is altyd werklikhede en ander lesers wat oor jou skouer loer, aldus J. Hillis Miller.

 

Karen de Wet herkanoniseer Krog se bydrae as digter en ons kyk met nuwe oë na haar werk as veelkantige vroueskrywer.

 

Antjie Krog is besinnend, meditatief, melancholies, woedend, liries. Mannin en Lady Anne tegelykertyd.

 

Gunstelinge: "visioen van 'n lessenaar" (148), "digter wordende" (162), "twee wêrelde" (154), "die skryfproses as sonnet" (151), "grond" (122), "Richtersveld: narratief van klip" (120), "ek wil 'n graf hê om van om te draai" (188) ... eintlik te veel om op te noem. Daar is eweneens 3 tekste uit O brose aarde.

 

Nou onlangs het 'n manlike digter gemeen dat 'n mens oral in die Lae Lande gedurig die naam Krog hoor. Natuurlik. Sy dig onversetlik, eerlik en skuif telkens die bakens van die digkuns in 'n bloemlesing wat haar 50 jaar in ons digkuns gedenk. Geluk aan die nooi van Middenspruit wat kan skryf oor knotwilge en rooigras ...

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Monday, January 27, 2020

Resensie | Tom Lanoye - Koningin Lear (vertaling deur Antjie Krog, 2019)

Tom Lanoye - Koningin Lear (vertaal & verwerk deur Antjie Krog). Protea Boekhuis, 2019. ISBN  9781485310693

Resensent: Joan Hambidge

Afrikaans het ‘n lang galery van uitmuntende dramaturge: Adam Small, P.G. du Plessis, Pieter Fourie, Bartho Smit, Reza de Wet en ‘n hele boel jong stemme. Die publikasie van Tom Lanoye se Koningin Lear is ‘n belangrike toevoeging tot ons dramaskat. 

Dit is vertaal – en herdig – deur Antjie Krog en so word daar dan aangesluit by die hele vertaalprojek tussen Afrikaans en die Lae lande. Hierdie skitterende toneelstuk sluit aan by die moderne tradisie om Shakespeare vanuit ‘n ander genderperspektief te beskou of om die bekende gegewe te moderniseer. Ethan Hawke vertolk Hamlet in ‘n moderne New Yorkse familiebesigheid in die indrukwekkende film van Michael Almereyda (2000).

Verder terug in die tyd: Roman Polanski se interpretasie van Macbeth.

Dié samewerking tussen Krog en Lanoye is nie die eerste nie. Daar was ook medewerking met Mamma Medea in 2001.

Lanoye se teks word “vry na Shakespeare” aangebied met ‘n motto wat daarop dui dat ons in die tyd is waar alles beheer word deur familie dinastieë. De Montaigne rig die teks vérder met En attendant Godot van Samuel Beckett, Waiting on Godot, ‘n teks wat vir hierdie tyd waarskynlik die grootste rigsnoer is. Absurde eise, korrupsie, self-genoegsaamheid en narcisme kom aan bod. (Met die impak van Steinhoff as 'n subteks.)

Alles wat dus nie deur die karakters uitgespreek is nie, kom ook aan bod (die sogenaamde didaskalia). Die ingangsportaal se marmer en matglastoegangsdeure; wêreldhorlosies en verwysings na panieksituasies: werknemers wat toyi toyi, beursvloere in paniek, klimaatsgeweld (64).

Hoe meer alles verander, hoe meer bly dit dieselfde.

By die lees van hierdie teks – mooi uitgegee met Antoinette Kellerman op die voorblad – is my herbesoek van die teks sterk beïnvloed deur my teaterervaring met Marthinus Basson as die regisseur in die Baxter in Kaapstad. 

Hierdie produksie het weer eens bewys wat ensemble-spel behels: Kellerman as Bettie Lear teenoor Robert Kent, haar regterhand (vertolk deur André Roothman). Haar drie seuns (Greg, Henry, Corneltjie) word goed in beheer gehou deur die twee skoondogters: Connie en Alma. Dan is daar Oleg (die verpleër) en ‘n junkie. Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Neels van Jaarsveld het die verskillende fasette van die broederskap weergegee teenoor die oorspronklike teks waar daar dogters is. 

Lanoye ontgin eweneens die idee van familiehaat en hoe daar gevlei en witvoetjie gesoek word ter wille van eiebelang. Die gegewe word gesitueer in megalopolis – voor en na ‘n storm.

En dit word gesinkopeer met binnestorms: die een vrou se kinderloosheid; die ander een kitsch en vol eiewaarde, met Rolanda Marais en Anna-Mart van der Merwe as vertolkers.

Wanneer ‘n mens ‘n teateropvoering beleef, mis jy dikwels belangrike dialoog en skakels. Hierdie teks het die eerste ervaring nog groter gemaak.

So klink Lear op bladsy 130:

Ons giggel, ons pleeg horribale laster
Uit die koerante waar ons onder slaap.
Snags stry ons vir die grap oor besighede!
Wie van die beursbedrieërs sneuwel eerste,
Of wen? Wie is nog in, en wie al uit?
…
En ek die ponzi schemers, the old boys,
The Stellenbosch élite en die Sjinese,
Almal in eb en vloed net aan die maan
Gehoorsaam …

So word alles flink binne ons konteks geplaas met al die slangkuile van bedrog.

Wanneer die Koningin in spanning verkeer, is haar taal op die spits gedryf en dus poëties:

"'n Tumor met die voorkoms van 'n mens, 
 'n pitsweer wat ek met 'n seun verwar ..."

En:

"'n Hond, 'n perd, 'n rot besit 'n lewe.
'n Asem. Jy nie. God dis tog 'n skande!"

Wanneer jy hierdie reëls skandeer, is die sluimerende woede sigbaar.

Lanoye en Krog herposisioneer Shakespeare. In die vertaling word die teks "huis toe gebring" in die vertaalkenner Lawrence Venuti se terme, omdat dit aards is en vol verwysings na ons hier-en-nou. Soos die akteurs se vertolkings ensemblespel weergegee het, is hier 'n vennootskap tussen Krog en Lanoye. 

Sowel Krog as Lanoye is vreesloos (vir sommige mense grensoorskrydend). In die produksie weet Marthinus Basson ook hoe om dit reg te vertolk. Hy het immers Breytenbach se werk geregisseer.

Die ondersoek van waansin en demensie en die afbraak van taal is imposant. En kyk hoe word die "fool" in die oorpronklike teks nou 'n nuwe raadgewer.

George Bernard Shaw het glo gemeen dat King Lear die grootste tragedie is wat die meester geskryf het. Met Koningin Lear in Afrikaans het ons ‘n teks waar twee kreatiewe talente die teks toe-eien en nuut maak. 

Nuwe wyn in ou vate.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, November 10, 2019

Resensie | Koningin Lear (2019)

Tom Lanoye se stuk (vertaal en gekontekstualiseer deur Antjie Krog), met die uitstaande regisseur Marthinus Basson, is 'n komplekse, briljante teaterervaring. Dit ontstig en boei om verskeie redes.

Die herwerking van Shakespeare se King Lear word 'n stereoskopiese ervaring van 'n teks verplaas na Vlaams en Afrikaans bekend aan vertalings. Die magspanninge in die oorspronklike drama word na hierdie land verplant met verwysings na Steinhoff. Op die televisieskerm bó – wat die storie vorentoe dryf – is Julius Malema en tornado's in Miami. Eers stilte: geboue in New York wat dan al hoe meer spannend en verwoestend raak. Die storm en oorlog in die oorspronklike teks word so geaktiveer.

'n Gesprek met 'n seun in die Ooste vind plaas op Skype. Daar is selfone. So behalwe vir die vertaling/verwerking wat alreeds stereoskopies in aanbod is, vind ons ook moderne tegnologie wat elke gesprek verder kompliseer.

George Steiner het in The death of tragedy (1961) geskryf dat in King Lear "the weight of the suffering lies in the prose." Hy wys op die verskillende taaldimensies in die stuk; iets wat sowel Lanoye as Krog ópvang.

Verder ruil Lanoye die gegewe om en maak hy van die magsbasis 'n genderkwessie. Ons het nou 'n Koningin Lear, 'n matriarg, vertolk deur Antoinette Kellerman wat haar register volledig bestryk. Eers as die beheerder van haar kinders en welvaart; dan as 'n verloederde persoon wat psigiese beheer verloor. Die waansin – so bekend aan vele Shakespeare dramas – word hier ondersoek. Die klere verander. Eers korporatiewe drag; dan slaapklere, 'n deursigtige rokkie ...

Van hakkies na plakkies. En 'n kapsel wat maller en deurmekaarder raak.

Kellerman word ondersteun deur mede-spelers: die twee skoondogters (vertolk deur Rolanda Marais en Anna-Mart van der Merwe) se klere verraai ook hul innerlikes. (Alison Lurie wys immers hierna in The language of clothes (1981) dat klere 'n persoon opsom). Roland Marais is spoggerig geklee en Anna-Mart van der Merwe dra blink, uitspattige klere. Hul aksente verraai ook hul stand en wanneer Marais brry, is sy weerloos in die rusie oor kinderloosheid en die jaloesie tussen die skoonsusters. Van der Merwe is skitterend in haar vertolking van 'n dom, manipulerende vrou. Die matriarg noem hulle pofadders.

Want die matriarg wat haar naam wil afdruk op aandele, beheer haar kinders met afpersing. Die emosionele geweld in hierdie familie-romanse word 'n tragedie met die waansin en dood van 'n kind.

André Roothman se transformasie van raadgewer tot blinde man simboliseer wat in hierdie drama gebeur. Sy liggaamsbeheer is oortuigend. Kyk hoe staan hy eers ... Neels van Jaarsveld bewys weer vierkantig hoé veelsydig hy is. In sy benepe blou pak klere probeer hy sy broers troef: Wilhelm van der Walt en Edwin van der Walt wat puik is in hul vertolkings. Matthew Stuurman praat Engels en Afrikaans – om die spieëlaspek van vertaling verder te beklemtoon. Edwin van der Walt (as Cornald) ruk aan die hart wanneer hy 'n vertrapte, verslaafde vertolk.

'n Mens sou ook oor die musiek kon skryf wat verder die dramatiek van alles beklemtoon. Die naaktheid en sekstoneel is goed ingebed. Basson is 'n ou hand. Hy weet presies hoé om die grensoorskrydende te navigeer.

Die gehoor het dikwels gelag vir die taal wat skerp, beeldend en selfs vuig is. Nou ja, lag is 'n komplekse emosie.

In die eerste helfte van die drieuurlange produksie word die sleutels gegee wat die kyker in die tweede helte sien ontplof. Van klein besigheid tot sakeryk. Lojaliteite wat geeïs word met 'n jongste broer wat nie wil saamspeel nie. Familietwis en hebsug.

Hierdie teks is 'n hérverbeelding van die oorspronklike soos Michael Almereyda se Hamlet (2000) met Ethan Hawke.

Harold Bloom het insigryk geskryf oor King Lear wat hy as meer ironies as Hamlet beskou het in sy studie oor hierdie drama in Lear: The great image of authority (2018).

Kyk wat gebeur in hierdie drama met Cordelia, Goneril en Regan ... en kyk hoe die props verwyder word deur behendige teaterlui.

En Elizabeth Lear se jambes oortuig: “'n Tumor met die voorkoms van 'n mens, / 'n pitsweer wat ek met 'n seun verwar ...”

Hugo Theart het dit as opdragstuk opgevoer vir die 25e bestaansjaar van die KKNK en so 'n man moet eweneens die eer kry.

Teater uit die boonste rakke.


© Joan Hambidge  

Saturday, July 1, 2017

Polemies | Studeerkamers


Ek kom uit die Karoo en ek maak toe vriende met die Paul Roos-seuns en baie van hulle ouers was professore, en dié ouens se studeerkamers was vir my . . . Jy kan mos nou sien ek is ’n man vir ’n studeerkamer. André Brink, terloops, was ook ’n ou vir ’n studeerkamer. Daar is baie kritiek wat jy kan uitspreek teen die manlike skrywer in sy studeerkamer. Ek weet nie of vroueskrywers soveel moeite doen om ’n fort te bou nie . . . (Etienne van Heerden/ Die siklusse van slegvoel | Netwerk24. Besoek 30 Junie 2017).


En nou kyk jy na die letterkunde – die lesers is eintlik vroue, oral waar jy kom, sien jy vroue; die meeste van die mense wat klasgee in die letterkunde, is vroue; al hoe meer van jou resensente is vroue. En soos wat dit gebeur, kan jy sien hoe die mag uit die letterkunde verdwyn.

In die argitektuur en die mediese beroepe gebeur dit ook; “hulle sê die beroep word vervroulik.

En dan sê hulle mans gaan nooit net weg nie, mans vat ook die mag saam met hulle weg en dan bly daar nou net ’n klomp vrouens oor en skielik daal die statuur van daai beroep. Om ’n argitek te wees is nie meer daai aangrypende Fountainhead-ding van die ou dae nie. So hulle gaan word dan spesialiste, die mans of hulle gaan in geld in. (Antjie Krog/ ‘Vreemd sal die nuwer taal moet lê’ | Netwerk24. Besoek 30 Junie 2017).

Twee skrywers aan die woord. Die een manlik, die ander ‘n vrou.

Wat opnuut bewys dat die manlik/vroulik-debat nog lank nie afgehandel is nie in die letterkunde.

Wanneer ‘n manlike skrywer wonder oor vroueskrywers se studeerkamers, is dit ‘n relevante genderdebat: die man wonder of die vrou ‘n fort bou, soos hy, die manlike skrywer. ‘n Fort is immers ‘n manlike ruimte. Is dit bloot ‘n slippage uit die onbewuste, ‘n vraag of vroue ook so sterk kan en mag voel oor ‘n studeerkamer as ‘n manlike eweknie?

Vroue is lankal nie meer ‘n aanvulling of supplement nie. In Digters van dertig het Opperman indertyd Elisabeth Eybers gesien as die “vroulike aanvulling tot dertig”. Geen vroueskrywer is sedert Virginia Woolf se A Room of One’s Own (1929) ‘n blote studeerkamer-versiering of afstoffer nie. Hierna sou vroue-filosowe en –skrywers in eie reg stelling inneem: Simone de Beauvoir tot Hélène Cixous; Jane Gallop tot Shoshana Felman – tot Vito Spatafore. (Talk/Vito Spatafore - Wikipedia. Besoek 30 Junie 2017). 

Antjie Krog wys tereg op die Afrikaanse letterkunde wat deur vroueresensente gedomineer word.

Krog meen dat wanneer mans uit beroepe vertrek, neem hulle die mag saam en die statuur van die beroep daal.

Hiermee verskil ek. Lacan meen immers dat die Orde van die Fallus of mag ook deur mans begeer word.

Dink ‘n vroueresensent – wanneer ‘n boek geresenseer word – eers aan gender? Of kan ‘n leser gender-neutraal lees en resenseer?

Of is jou gender altyd ‘n kwessie? Ek dink ‘n resensent behoort ‘n gender-voorkeur weg te pak en in haarself in die wêreld van die teks in te verbeel. Word dit goed gedoen vir die opset wat dit aanbied? En selfs al is jy gesteur deur die manlike meerderwaardigheid of vroulike onderdanigheid. Om te resenseer, behoort jy vrydenkend te lees en iets te leer van iemand anders se leed, ervarings of geluk.

Jy wals nie deur ander mense se pyn nie, het Jeanne Goosen op ‘n dag opgemerk. En dans is die regte kode. Jy dans nie ‘n wals asof dit ‘n one-two-chachacha is nie. Jy lees ‘n boek op eie terme.

En hier is Antjie Krog weer spot on wanneer sy verduidelik waarom sy graag ‘n das en pak dra:
Ek dink net ’n suit, ’n pak klere, is een van die slimste dinge wat ontwerp is. Niémand weet of het jy tieties nie. Niémand weet jou boude is groot nie. Niémand weet jy’t ’n pens nie. Niemand weet jy’t knock knees eintlik nie. Níks daarvan nie. En jy kan dieselfde pak klere dra na verskeie dinge toe en elke keer miskien ’n ander das en jy’s núút van voor af. Terwyl ’n vrou as jy óp daai verhoog loop en jy’t ’n rok aan . . . hóé daai bene van jou lyk; hóé jou knieë lyk; hóé jou boude lyk . . . Dan hul hare; dis ’n vreeslike weerloosheid wat ’n vrou moet oorkom met ’n rok of met ’n skirt of selfs ’n broekpak. Maar met ’n pák klere is dáái uitgesort. Dis gehanteer: ‘Kyk in my oë en luister wat sê ek!
En daar het ons die belangrike uiting dat manlike dominansie steeds oorheers. As jy nie van die verhoog afgekoekeloer wil word nie, dra eerder iets neutraals. Of ‘n pak klere. Dan is die subliminale boodskap: ek is ‘n Mannin, nie ‘n Beminde Antarktika nie. Ek is hier om ernstig opgeneem te word as intellektueel, nie as seksobjek nie.

Hierom verkies ek om tydens poësievoorlesings te sit – in demokratiese gelykheid met my gehoor. En my hele huis is ‘n studeerkamer – selfs die kombuis sit vol rakke. En in die badkamer staan ‘n bril met boeke.
© Joan Hambidge