Showing posts with label Marlise Joubert. Show all posts
Showing posts with label Marlise Joubert. Show all posts

Wednesday, August 2, 2023

Resensie | Marlise Joubert – Laatnageilande | Naledi, 2023

Marlise Joubert – Laatnageilande. Naledi, 2023. ISBN: 9 781991 256089 


Resensent: Joan Hambidge

 

I

Laatnageilande is Marlise Joubert se elfde digbundel. Sy is skilder, dramaturg en romansier van onder andere, ‘n  belangrike gefiksionaliseerde lesbiese teks Klipkus (1978), vertaal as Rode granaat

 

‘n Roman wat die manlike orde teenoor die feminiene een plaas.

 

Joubert is eweneens ‘n bloemleser van die 2014 antologie In a burning sea. Contemporary Afrikaans Poetry in translation.

 

Die titel van die jongste bundel verwys na die bekende siening dat geen mens ‘n eiland is nie en verskeie skrywers en sangers het al die idee van die eiland gebruik. ‘n Plek van ontvlugting soms; maar ook een van eensaamheid.

 

Daar is uiteenlopende vrouedigters in Afrikaans: Elisabeth Eybers, Olga Kirsch, Sheila Cussons tot by Antjie Krog en Ronelda Kamfer, om ‘n paar name te noem. Van die vrou as ontheemde, tot die woedende een; van die gekwelde tot die versorgende moeder; van die aktivis tot die stilgeworde een. Huisvrou tot minnares. Karen de Wet se Vrou en vers (2020) gee ‘n blik op hoé uiteenlopend hierdie stemme is.

 

Elke teoretiese benadering kan op vrouedigters van toepassing gemaak word. Lankal nie meer digteresse of vroulike aanvullings nie.  Cixous, Irigaray, Kristeva, ensomeer.

 

Die skryfproses impliseer ‘n komplekse verhouding met taal soos Julia Kristeva dan aantoon in Begeerte in taal (1969) en haar siening van die skilpoppe.

 

Verskillende vrouedigters vra spesifieke leesbenaderings. By Marlise Joubert is dit veral moederskap in al haar gedaantes: moeder, grootmoeder, verhoudings met haar biologiese moeder én haar ouma.

 

Daar is in hierdie bundel ‘n besinning oor oudword en siekte; dood en geboorte; verhoudings met ‘n werklike geliefde en die digkuns. Politieke verse.

 

II

In die gedig “diepseeduiker” vra sy vrae oor haar verbintenis met skryf wat meer oordra as praat.


Uiteraard ‘n terugkyk op ‘n lewe-van-skryf. Joubert het immers in 1970 gedebuteer met ‘n Boot in die woestyn.

 

Die digter beoefen veral die vrye vers, soms die ballade en rondeel. Die passies en passasies van dig.

 

tussenruimte

 

dialoog laat gapings

en stulp slegs vermoedens

by die luisteraar. praat

skep vele misverstande.

 

skryf is ’n diepseeduiker.

dit kan jou soveel méér vertel.

 

maar toe ek na my

skryfhand kyk, asof ’n leë nis

sonder beeld of artefak,

sien ek vae buitelyne: die impasto

van ’n lewensreis het verbleik.

’n ander vraag doem op:

wie was die geskryfde ek?

 

dis iets om van hier en nou af

dodelik mee rekening te hou.

 

die naderende tussenruimte

vou ’n raaisel oop wat nie praat

of skryf nie:

 

die oorgang

van ’n ingesoute hart

na die wrakstiltes van been.

 

III

Yehuda Amichai is weer ‘n besielende rigtingwyser in hierdie digterskap wat op die tydelikheid van alles dui. Jy was hier, eenmalig; met ‘n wêreld wat dig sluit agter jou.

 

Hier is ‘n handvol gedigte wat ‘n mens altyd sal bybly soos “visgedig” (126) wat imperfeksie en verwonding artikuleer. En “die verlede loop leeg” (123) met die sterk beeld:”die gisterklanke ontheem en leeg”. 

 

Met “skrywendes” (120):

 

my appelhuise hang nou aan

die laaste draadjie van 

geskryfde taal

 

Hierdie gedig speel terug op “taal” (103) met die wete dat die digtende spreker bykans alles verloor het buiten taal. Die gedig – via Breytenbach – is egter iets delikaats …

 

In “allervrou, ‘n sprokie” (77) word vrouwees via Clarissa Pinkola Estés se Woman who run with the wolves (1992) beskou. Soos vele tydgenootlike digters is daar ‘n huldigingsvers “elisium, ‘n herbesoek” vir Petra Müller (1935 – 2021) oor die “omtes van die hart”. Pragtig-aangrypend is die klein vers oor “ouma bes” (55) wat meen gedigtemaak help teen die gal. Slim beeld oor die digter se naeltjie as die kleinste eiland (46).

 

Die gedigte oor die katte en kleinkinders is nie so sterk nie, terwyl die verse oor die Oekraïne in die maag tref soos “Irina se klavier” (18).

 

Tersaaklik om te sien waarop vrouedigters fokus in hierdie slopende oorlog.

 

IV

Dit is ‘n bundel van oorgange en verliese. Die bundel artikuleer pynlike ervarings van die spreker met kinders (en kleinkinders) in die buiteland en die herinneringe aan die jeug, die vergange lewe met ouers en ‘n begrypende grootouer. Dit registreer ‘n verbygaande era en hoe ons nou in ‘n globale wêreld – post-Covid – oorleef. Met onsekerheid as die wagwoord.


Siekte en liggaamlike veroudering word beskryf. In die laatnag met ‘n terugkyk na wat was dikwels.

 

Dit is ‘n bundel wat op plekke geresoneer met hierdie leser in ‘n tyd van soveel verliese: onder andere aan ‘n pas oorlede vriendin wat moeder en grootmoeder was. [1]

 

Die kunswerk op die voorblad van Jean Dreyer “Resettle I” wat deel vorm van die uitstalling burnt white / brandwit is beeldskoon.


[1]


Sover as ‘n engel te perd kan ry

Joan Hambidge

 

Anita Visser  (1952 – 2023)

 

Jou 70e vier ons

in ‘n Griekse restaurant

met blou teëls en skottels kos;

boonop dra die spreker blou –

glo die kleur van helderte

én melancholie. Nou ook rou.

Danie Visser se vrou is oorlede…

Wars van fieterjasies en voorgee was jy 

soos ‘n spreekwoord:

spits, op die man af, puntig.

Uitstaande sjef en hoeder 

van familie en vriende en kennisse.

Danie Visser se vrou is oorlede…

Ek sien jou frons oor dié gedig;

onthou ons gesprekke oor verloedering,

die brand by UCT met vuurkeëls

wat die lig inskiet en jou biblioteek tref.

By die interbib-afdeling staan jy almal by.

Danie Visser se vrou is oorlede…

Iewers staan dit opgeteken

ons lewe ‘n boek op bruikleen

met net soveel tyd en stempels

voor dit terug gevra word

deur die Onsienlike.

Danie Visser se vrou leef

in ons binnespraak

en herinneringe – al was

die dood ‘n opskepgas.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

 

 

Wednesday, March 6, 2019

Resensie | Marlise Joubert – grondwater (2019)

Marlise Joubert – grondwater. Protea Boekehuis, 2019. ISBN: 978 1 4853 1020 4

Resensent: Joan Hambidge

I

Die kunswerk op die omslag van Elizabeth Miller-Vermeulen uit die Distant Landscape-reeks (akriel op bord, 2017) rig Marlise Joubert se bundel grondwater. Ook die motto van Kristin Hannah Summer Island posisioneer hierdie bundel as een van verlies en melancholie.

A daughter without her mother is a woman broken.
It is a loss that turns to arthritis and settles deep into her bones.

Meer spesifiek word die afsterwe (en siekte) van die moeder beskou en die openingsvers “geboorte van ’n wolvin” (8,9) aktiveer Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves – Myths and stories about the wild woman archetype van die Jungiaanse cantadora.

geboorte van ’n wolvin

ek is in droefnis gebore
in die jaar toe ’n groot oorlog verby was
en die as van verwoesting
neergesif het in alle aardse holtes.

trillend het my ma soos ’n wolf getjank
asof te lank in ’n slagyster vasgeklem.
drie dae lank in elim naby levubu
gekraam, terwyl nonne spookwit
met kruise gebid het teen haar buik.

in weemoed moes ek my eerste asem intrek.

soms het pa my teen sy harige lyf gewieg
terwyl hy ontween oor die dood van sy broer
die dood van sy suster, sy ma en pa.
“julle is al wat ek nou het, my welpie,”
het hy my oor ingefluister, “jy
en jou ma met haar bottervingers.”
en op dié droewe noot
het ma se melkkliere opgedroog –
het sy elke eiersel doodgewens.

hulle was ’n wolwepaar
deur elke maer of geil seisoen.
mettertyd het die getjank oor alles
onder die maan opgeklaar.

eensaam het ek grootgeword
versigtig die vlaktes verken
skuilgehou in grasskadu’s teen aanslae
van homo sapiens. tengerstil was ek
met ’n vag melancholie oor elke lit getros.
my jagtog onwennig
my tande bros
my ore waaksaam
en gespits.

alleen en sonder trop het ek gedraf.

ná ’n leeftyd is my winterpels ’n dikker vel
my oë gelouter met die lyding van ’n lam.
kom, waag dit maar
aan my woorde kan jy vat –
byt kan ek nie.

II

Die bundel karteer ’n lewensloop en word opgedra aan die moeder, Didi Joubert (1922 - 2016). Daar is ’n foto van die moeder met ’n jong kind wat die bundel outobiografies laai.

Die moeder is aanvanklik versorger en gespreksgenoot en later weens demensie, ’n blote toeskouer. Die spreker lewer ook kommentaar op haar eie broosheid en die ouer word proses word gesien as een van moegheid en aftakeling.

Die eerste afdeling lewer kommentaar op die lewensloop (“ruite in ’n raam”) en in die tweede afdeling “al die woorde” word daar gekyk na die funksie van die digterskap. Daar is selfs drie gedigte met die titel “resensie” wat gelees kan word as ’n implisiete kommentaar op die resepsie van die digkuns. In “inventaris van ’n geraamde verloop” (43) is daar ’n selfgesprek en verwysings na vorige bundels.

In “digter” (35) kyk sy ook satiries na die verskillende soorte wyses van dig: die digter as fotograaf en die papegaaidigter.

digter

op sy beste is die digter ’n fotograaf
op sy slegste ’n papegaai.

die fotograafdigter neem miljoene foto’s.
hy is uiters gedrewe, wil alles dokumenteer
en terwyl hy hiperventileer in belewenis
skud hy letters uit die beeld
om ’n gedig te ontwikkel. hy flans
ritme, struktuur en betekenisse saam.
hy skep ’n nuwe foto, leesbaar vir almal.
hy skryf soos hy gesluiter is.

die papegaaidigter spog met sy tuiste
op die wye skouers van ander, kruip soms weg
in sy koutjie asof hy ’n geheime deuntjie fluit.
hy steel woorde, hy plagieer luidkeels
hy kwaak agterna en soms laat los hy
gestringde vloeke, net om jou te beïndruk
met goudomlynde neonvlerke, sy snawel
’n diamantboor waarmee hy spieëls
stukkend sny. hy skryf nie regtig
soos hy gebek is nie.

op sy beste is die fotograaf ’n digter
op sy slegste is die papegaai
ook digter.  (35)

In die derde afdeling (“syferwater”) kyk sy na haar self: siekte, ontnugtering, oggend-blues en besef hoe transgressief en gevaarlik hierdie land geword het (“ons is die kinders”, 56). Daar is ’nduidelike tydsbemoeienis in die bundel met die wete:

eindig in ’n flessie as
of met ’n laaste woord stom
gekluit op marmerblad (58).

In die vierdie afdeling (“palm in die hand”) word die siekte en uiteindelike dood met die pynlike begrafnis van die moeder verwoord.

In die vyfde en laaste afdeling (“villa palmeira”) keer sy terug na die plekke van haar jeug. Hier vind ons ook gedigte oor kleinkinders wat minder oortuig as poësie; waarskynlik weens die té sentimentele aard daarvan. 

In die slotvers “villa palmeira, bela-bela” (105) word daar gedrink van die drupkrake / van ’n krans - in die herinnering dus. Hier sluit die gedig aan by die voorblad van die bundel.

villa palmeira, bela-bela

by die gastehuis skaar
’n woud palmbome

op die lapa se houtdek
mik lense na bo, korrel fyn
tussen pouveerblare in

daar is ’n veelheid palmfoto’s
te neem, oraloor: elke denkbare
tabberd se patroon
waaier oop

ek klik op een met elegante been
die sirkelrok staan wyd en einagroen
soos penne van ’n ystervark
waag dit net en jy word deurboor
selfs die dadels is te hoog
te trots en styf om
gemelk te word

buite die dorp
ruik ek weer karee en laventel
kiepersol en flambojant

langs ’n kleintydse waterplas
word my hand ’n blaarholte
en ek drink vir oulaas
uit die drupkrake
van ’n krans (105)

III

Daar is onthoubare beelde: “tyd is tongdoof” (90), “die dun naelstring van die see” (69), “die oorskietlap van geheue” (68), “in die delta van die oog” (46), “met soms ’n rammeling en spataarflits / agter die horison van ’n volgende eeu” (88).

Jacques Derrida se sous rature (under erasure) word ingespan in die vers “sewe sondes, plus nog een” (31) waar woorde behou en uitgevee word. Helen Moffett gebruik hierdie tegniek in Prunings  (Uhlanga Press, 2016).

In “kringloop” (88) word die langarmdans (die passies en passasies) in die gedig ontgin; die ewige verbintenis tussen lewe en dood. 

IV

Marlies Taljard skryf in haar resensie op die Versindaba:
Joubert is inderdaad een van die beduidendste Afrikaanse digters, veral as vrou wat eerlik skryf en sonder om hinderlik politiek en teoreties (feministies) korrek te probeer wees.
Inderdaad so, maar daar is verskillende soorte feminismes. Antjie Krog se sterk, woedende verse teenoor Elisabeth Eybers se sagter verse karteer vrouwees in al haar fasette. Trouens, ’n mens vind in Krog se digkuns die ontwikkeling van die volledige vrouwees; kind, jong vrou, getroude (en geskeide vrou), moeder, grootmoeder en aktivis.

Hierdie bundel is een veral vir vroue wat ’n moeder moes afstaan aan die dood en daardie oewerlose pyn probeer navigeer.

’n Mens vind dan in hierdie bundel verskillende argetipes van vrouwees soos Pinkola Estés uitwys. Hier is die sterkste een waarskynlik die moeder-argetipe. In die kringloop omgedraai: eers kind van ’n moeder; dan self ’n moeder. 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, June 1, 2015

Marlise Joubert - Bladspieël (2015)


Marlise Joubert - Bladspieël. Human & Rousseau, 2015. ISBN 978 0 7981 6954 7

Resensent: Joan Hambidge

 Dit is Marlise Joubert se agste bundel en haar mees uitstaande bundel bly vir hierdie leser Passies en passasies (2007), 'n teks waarin die liriese aard in 'n digterlike dansvorm uitgewerk word. In Bladspieël word daar oor verhoudinge besin: die verbintenis met die geliefde, die natuur, kinders en kleinkinders, die liggaam en veral die digkuns, soos die titel reeds aandui. Reisgedigte en politieke verse is eweneens hier te vinde. Die gedig dus as setspieël, as uitleg of voorstelling van die hewige emosies wat die gedigte uitdra. Toespelings op hierdie tema vind ons regdeur in die bundel, o.a. in "snags slaap ek onrustig op" (32). Die titel eis dus "close reading" op van die leser.

Daar is etlike selfkonfrontasies en selfgesprekke: in "(1970)" (65) praat sy met haar vorige bundels en die domus of huis kom telkemale in verskillende gedaantes na vore, te wete die erf, grond en ruimtes (binnelands en buitelands). Hierteenoor is "brief uit die boord" (53) vir die liewe Krismisvader, 'n iets sentimenteel. Bestekopnames is bekend aan die werk van die ouer wordende digter. Wanneer sy oor menslike verhoudinge skryf, steek dit alte dikwels vas in die anekdotiese of die gemeenplasige. Die "biografie van bloed" mis die sterk digterlike en grimmiger aanslag wat die ars poëtiese verse kenmerk.

Waar Joubert egter hier van haar sterkste verse lewer, is dit te siene in die verse wat oor die digkuns of digproses handel. In "Vlug", 'n reisgedig, word die elliptiese spel van die gedig op 'n metavlak uitgewerk. Die leser sien die besinning róndom die skryfproses (92). Hierom dan ook gesprekke met haar digtersman, Louis Esterhuizen, soos in "klein reistog" (91) en "'n dag in die lewe van 'n digter" (20), waar die Estlandse digter, Jaan Kaplinksi aangespreek word. "by die lees van" (16) aktiveer sy haar eggenoot se lang epiese vers. Sy vertaal en herdig Octavio Paz se "tussen gaan en bly" (110), 'n gedig wat al etlike herdigtings in Afrikaans beleef het en bepaald 'n interessante studie kan aanstig.

Daar is twee toonaarde te bespeur in hierdie bundel: melancholies (soms selfs sentimenteel) en 'n skerper, gedistansieerde blik op die self en die skryfproses. Hierdie leser verkies laasgenoemde aanslag; die tussenaard dus. Daar is dikwels 'n belewenis van 'n droom of 'n ervaring van wat die gedig of indruk voorafgaan, op soek na die verhale wat skuilhou in frummels papier (56). Die digterlike bestaan word bedreig deur werklike storms en politieke onrus. Die vrees vir doodgaan en die versugting om meer stents in die hart te hê, wys op die bedreiging van 'n bestaan. In die openingsgedig "herfs" (9) word die behoefte om langer te leef, uitgespreek in die dwingende, herhalende refrein wat sy telkens verander.

Daar is uitstekende beelde van die digter wat eens haar rugsak flenters kon droom teen ruite, maar nou in eko-insulasie haarself moet verweer teen die dood.

Moderne kommunikasie en hoe dit ook die digproses bedreig word knap verwoord in "om te dig" (25):


op 'n selfoon
is nie maklik nie.
dis boonop onromanties.

vingers poot 'n skilpad
letter vir letter voort (...)

Ons vind treursange en die pynlike besef dat 'n vroeër bestaan vir ewig verby is. Daarom het die bloed 'n "roesgeheue". Hierteenoor is die jong kinders 'n beeld van 'n nuwe lewe of toekoms.

Daar is "geslote" gesprekke met ander digters (Sappho, Sylvia Plath, om twee vroulike gespreksgenote uit te sonder) teenoor die "oper" gedigte vir kinders en kleinkinders, by die naam genoem. 'n Aangrypende vers oor die vader word róndom sy lessenaar gebou: "en ek vra dikwels nog of hierdie vlek / gekreukel soos 'n bloeisel op die eikehoutblad / die laaste ink was uit jou pen" ("agter die lessenaar", 81) wat weer al die gesprekke van vrouedigters oor hul vaders aktiveer.                                        

'n Kritiese vraag: waarom word Ocatavio Paz uit die Italiaans aangehaal, maar Salvatore Quasimodo in Engels? Wilhelm Knobel het dit immers puik vertaal in Afrikaans!

'n Handvol gedigte is besonders verwoord, nes die lykdig oor die vader ("agter die lessenaar").

Die bundel beslaan 110 bladsye en ons beleef tans in Afrikaans die opmars van die dikker bundel, veral opvallend die afgelope dekade.

agenda

die gestringde gedig
moet ʼn lang gedig wees
ʼn rankplant teen ʼn wit
ringmuur aan die een kant op
en aan die ander kant soos slingers, asb.
webbe om jou voete af
sodat jy nie kan beweeg nie, vasgevang
om die enkels van begeerde ontroering
so moet die gedig jou mettertyd tot
stilstand bring, tot absolute stilte laat basuin
sodat jy die woorde word, self die klank
en die ritme van ʼn verlore tyd, die afstand
van vrugwater na sloot
en later slegs ʼn hartklop
wat jou opraap ver verby

die stingelende dood

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)