Showing posts with label Filmresensie. Show all posts
Showing posts with label Filmresensie. Show all posts

Monday, October 8, 2018

Rubriek | The Talented Mr Ripley (1999)

I

Hierdie verbysterende film, uit 1999 van Anthony Minghella (ook die regisseur van The English Patient) neem 'n mens terug na hoé een leuen 'n volgende skep of genereer. Tom (Matt Damon) wat 'n vaal bestaan voer as 'n klavierbegeleier word deur 'n ryk man raakgesien by 'n party in New York. Hy dra as pianis 'n Princeton-baadjie en lieg dat hy daar studeer het. Meneer Herbert Greenleaf, 'n skeepsmagnaat vra hom om na Italië te gaan en sy seun, Dickie, wat aan Princeton studeer het, terug te bring huis toe.

Wat dan afspeel voor die kyker se oë is, hoe Tom Ripley, 'n swendelaar en bedrieër van formaat, hom inwurm in Dickie (vertolk deur Jude Law) se lewe op Mongibello.  

Ripley se talent is vervalsing. Vervalsings van identiteit, handtekeninge, stemme – wat hom al deur allerlei teenstand gedra het. (In 'n onderhoud erken Matt Damon hoe hy as kind gesukkel het met identiteit; hierom waarskynlik dat hy so goed oorkom in die film).

Die verhaal speel af in die Vyftigs, die naoorlogse jare, en in sy filmkommentaar wys die regisseur daarop dat hy veral die klasverskille tussen mense wou uitwys. So beskou, is dit 'n relevante film oor status. Tom wil ryk wees; hy begeer die lewe van Dickie wat in die klein Italiaanse dorpie 'n meisie swanger maak. Sy verdrink haarself om die skandaal van 'n buite-egtelike kind te vermy. Dickie voel skuldig, want hy het nie vir haar geld gegee toe sy hulp gesoek het nie. (Waarskynlik vir 'n aborsie.)

Die regisseur vertel hoe hy bekende Italiaanse akteurs gebruik. Kyk, hier stap sy seun oor die straat ...

Die regisseur wys tereg daarop dat net wanneer Tom "geluk" vind, daar 'n karakter is wat dit binnedring. Freddie (Philip Seymour Hoffman) daag onverwags in Rome op in Tom se nuwe geskepte lewe as Dickie, en besef hy is 'n indringer; of in die slottoneel op die skip Griekeland toe wanneer Meredith (Cate Blanchett) hom herken as Dickie, terwyl hy weer Tom is saam met sy nuwe homoseksuele lover, Peter Smith-Kingsley, met wie hy 'n liefde vir klassieke musiek deel.

Tom gee voor hy is 'n jazz-liefhebber om by Dickie uit te kom – maar hy is in wese 'n liefhebber van Bach. Die film gebruik ook musiek om die storie verder in te kleur en opposisies uit te wys.

Die Stabat Mater
Tu Vuo' Fa L'Americano
My Funny Valentine
Italia – Harry Rabinowitz
Lullaby for Cain
Crazy Tom– Instrumental - Harry Rabinowitz
Ko-Ko - Instrumental – Charlie Parke
Nature Boy – Instrumental – Miles Davis.

In 'n kroegtoneel is dit Tom wat improviseer en loslittig raak via musiek, nie Dickie nie. Tom ontwikkel van 'n lompe, bleek aankomeling met 'n groen swembroek tot 'n behendige man van die wêreld. 

Dis ook wanneer Freddie in Rome begin tokkel op Tom se klavier dat alle waansin losbars. Musiek is nou nie meer melodieus nie, maar disharmonies.

Wanneer hy in Dickie se klere voor 'n spieël op musiek dans, is Dickie verontrus; hy besef onbewustelik hoe sy identiteit gesteel word.

II

Die kommentaar van die regisseur is uiters insigryk vir begrip van hierdie film. Hoe daar onder andere gespook is om 'n mooi seetoneel te kry wanneer Dickie reeds dood is in die boot. Hiermee wil Minghella die onverskilligheid van die natuur beklemtoon. Ten spyte van die drama in die boot, is die natuur nié in simpatie nie. En 'n mens bewus raak van hoe goed Gwyneth Paltrow is as Marge in hierdie toneel. Met min dialoog en gebare, beklemtoon die regisseur, is haar toneelspel skitterend. Sy weet Tom het haar geliefde vermoor – sy ontdek immers die ringe in die badkamer in die nuwe huis in Rome. Dickie het beloof hy sou dit nooit afhaal nie.

Sy word ook amper vermoor – maar Tom bedink hom. As kyker vrees mens dit wanneer jy die bebloede skeermeslem in sy sak sien.

III

In sy regisseurskommentaar wys Minghella ook daarop dat Matt Damon, eweneens 'n skrywer, nie sy karakter wou uitbeeld as 'n verfoeide leuenaar nie, maar eerder as iemand wat deur één fout in ellende gedompel word. Die vertelling word geraam met Cate Blanchett as Meredith Logue, 'n ryk persoon wat nie wil ryk wees nie – terwyl dit presies is wat Tom begeer.

Omdat sy voel sy is die versaakte lover en Tom op sy finale bootreis raakloop, moet hy 'n keuse maak: gaan hy haar vermoor, of sy nuutgevonde gay lover? Hy besluit op laasgenoemde, omdat Meredith te veel mense om haar vergader het.

Daar is ook gesukkel om tonele in stede reg te verfilm. En telkens is ander stede gebruik. Die "leuen" van films maak.

IV

En Freddie, die onvergelyklike Philip Seymour Hoffman, is die eerste een wat lont ruik. Die film handel ook oor jaloesie. Wie mag die naaste aan Dickie wees, die een wat telkens moeg raak vir mense en nuwe aandag behoef? 

Dickie raak moeg van Tom se parasitisme en wanneer hy die vriendskap afwys, is Tom woedend. Dit lei dan tot die dood op die boot wanneer Tom beledig voel.

Die subtiele spel van erotiese gevoelens tussen mans word goed verbeeld. Met 'n badtoneel wanneer Tom saam met Dickie wil bad en laasgenoemde hom wegwys. (Hierdie badtoneel word weer openlik eroties gelaai met die twee minnaars in The English Patient.)

Die regisseur lewer ook hier kommentaar op die skote: die omgekeerde gesig van Tom in 'n spieël; 'n kamera wat vry en ongekondsioneerd beweeg wanneer Marge na Dickie soek in Tom se nuwe vesting. 

Hierna is die vervalser wat briewe skryf asof hy Dickie is en almal laat glo dat Dickie selfmoord gepleeg het. In 'n wending het die ryk vader 'n speurder aangestel. Dit blyk dat Dickie 'n aggressiewe jeug had in Princeton en hierom dink die vader dat Dickie Freddie vermoor het.

Marge weet egter wie haar geliefde vermoor het. Sy is openlik in haar woede, in haar vertrek uit Venesië.

Daar is immers nommerplate van die vermoorde Freddie in Dickie se huis gevind.

Die speurder bied hom 'n afkoopboete aan (namens die vader) en Tom sou letterlik met twee moorde wegkom, as dit nie was vir die toevallige terugkeer van Meredith nie. So word die begin en einde gesluit: die fata van Tom. Meredith is sy nemesis. Die een wat sy pret finaal bederf.

En hierom  moet hy 'n derde moord pleeg en die kyker besef: die derde keer is skeepsreg. Met hierdie moord sal hy nie wegkom nie.

Tu Vuo' Fa L'Americano klink dan uiters ironies op (Tu Vuo' Fa l'Americano - The Talented Mr. Ripley (HD) - YouTube. Besoek 7 Oktober 2018)
Tu vuo' fa' ll'americanoMericano, mericanoMa si' nato in ItalySient' a mme, nun ce sta niente 'a fa'Ok, napulitanTu vuo' fa' ll'americanTu vuo' fa' ll'american 
© Joan Hambidge 

Monday, May 29, 2017

Julieta (Pedro Almodóvar, 2016)

I

In 2016 verskyn die rolprent Julieta van die Spaanse filmmaker Pedro Almodóvar.

Dit is gebaseer op drie verhale ("Chance", "Soon" en "Silence") uit Runaway (2004) van die Kanadees Alice Munro, wat die Nobelprys in 2013 verower het en die gesogte Man Booker in 2009. Sy word op die Nobelprys-lys geloof as die meester van die kontemporêre kortverhaal.

Twee uiteenlopende ruimtes en kulture. Kanada as afstandelik, beheers koud. Spanje as meer emosioneel; minder beheers dus.

Almodóvar transporteer hierdie gegewe na 'n Spaanse landskap, omdat hy glo nie kon identifiseer met die koue, onemosionele Kanada nie. (Woorde Wat Weeg/ Met ’n mond vol films/ PedroAlmodóvar. Besoek 28 Mei 2017).

Ek was nog altyd gaande oor Munro se kortverhale, so veel so dat ek 'n resensie in 'n briefvorm aan haar geskryf het. Dit was oor Too Much Happiness wat in 2009 verskyn het. (Woorde Wat Weeg / Alice Munro - Too much happiness, 2009. Besoek 28 Mei 2017).

II

Die film sny die verhouding tussen 'n moeder en dogter aan. Meer spesifiek, 'n kind wat uit weerwraak haar moeder met stilte straf, omdat sy voel dat die moeder verantwoordelik was vir die dood van haar vader. As dit nie vir hul rusie was nie, sou die vader nie daardie dag die stormagtige waters getrotseer het met sy vissersbootjie nie. Die kind se siening berus op 'n buitestaander se skinderstorie, iemand wat deel was van die familie vir baie jare en waarskynlik uit persoonlike onvervuldheid, stories aandra. Daardie persoon word vertolk deur Rossy de Palma, 'n ikoniese figuur in Almodóvar-films.

Emma Suárez en Adriana Ugarte vertolk die jonger en ouer Julieta.

Die verhaal begin in Madrid. Julieta is vervreem van haar dogter, Antia, en sy en haar vriend, Lorenzo, is op pad na Portugal. Sy wil egter nie meer saamgaan nie nadat sy in Bea vasgeloop het en verneem dat haar dogter in Switserland woon met drie kinders. (Die moeder is onbewus van die ware aard van die verhouding tussen die twee meisies, wat later tot gevolg het dat Bea vlug van Antia. Ten slotte wil Antia weer versoen met haar.)

Na hierdie ontmoeting gaan sy na die woonstelblok – die enigste adres wat Antia besit van haar – waar die jong meisies saam gewoon het.

Hier begin Julieta met 'n joernaal en die kyker van die film sien met terugskote van hoe sy haar man Xoan ontmoet het op 'n trein. Ons sien ook die onverwagse dood van die vreemdeling oorkant haar in die trein.

Toevallige ontmoetings: die man oorkant haar in die trein (wat selfdood pleeg) en die ontmoeting met die visserman Xoan word gesinkopeer met die verdere toevallige ontmoeting met Bea waarmee die film begin.

Xoan se vrou is in 'n koma. Hy nooi Julieta, 'n taalonderwyseres, na sy huis. In die agtergrond is Ava, 'n kunstenares met wie hy 'n verhouding gehad het.

Julieta is swanger met Xoan se kind. Sy trou met hom, besoek haar vader (met haar jong kind) wat op sy beurt 'n verhouding het met sy huishulp, terwyl haar moeder ly aan Alzheimer se siekte.

Sowel Xoan se vrou as Julieta se moeder is disfunksioneel.

Inmiddels gaan Antia op 'n kamp, ontmoet Beatrice. Op 'n subtiele wyse word 'n seksuele verbintenis tussen hulle gesuggereer.

Die twee moeders ontmoet. Xoan sterf op 'n vissersboot tydens 'n storm en Julieta vertel haar dogter hiervan.

In die wending vertrek Antia na 'n spirituele retreat (vir drie maande) en wanneer haar moeder met haar kontak probeer maak in die Pirenieë, word sy meegedeel dat sy, Julieta, nie deel is van haar spirituele reis is nie. Op haar 19e, 20e en 21e verjaarsdae ontvang sy verjaarsdagkaarte sonder 'n adres.

Hierdie aspek van die film word pynlik en grafies weergegee: die moeder wat telkens 'n verjaarsdag alleen vier en die verjaarsdagkoeke - in Antia se woonstel - wegsmyt.

Ava, Xoan se minnares, is ondertussen in die hospitaal opgeneem met veelvuldige sklerose en sy onthul aan Julieta dat Antia bewus was van 'n verhouding tussen haar en Xoan – en dat die skinderlistige huishulp verantwoordelik was vir dié onthulling.

By Ava se begrafnis ontmoet sy vir Lorenzo.

En in die hede loop sy vir Bea raak wanneer sy emosioneel uitgemergel na twee jong meisies kyk in 'n balspel. Hier onthul Bea aan Julieta dat sy en Antia geliefdes was – iets wat die kyker reeds weet. Antia se besoek aan die spirituele retreat het haar skaam gemaak vir hierdie aspek van haar lewe.

Hierom moes sy dus vir Bea afsny.

Daar is 'n ongeluk waneer Julieta oor die straat loop en deur 'n motor raakgery word.
Lorenzo ontdek 'n brief van Antia waarin sy bely (met 'n terugkeeradres agter op die koevert) dat sy 'n kind aan die dood afgestaan het en nou besef watter sy leed sy haar moeder aangedoen het met haar stilte.

Die film eindig waar Lorenzo en Julieta na Switserland reis om met Antia te versoen.

Vir die volledige plot besoek Julieta(film) – Wikipedia (Besoek 28 Mei 2017).

III

Hierdie gesprek tussen verhaal en film behoef 'n studie. Dit is sy twintigste film wat hy oorpronklik glo Silencio wou genoem het. Scorcese het egter in 2016 'n film met hierdie titel uitgebring.

Die gegewe word van Vancouver na Spanje verplaas en ondersoek die verhouding tussen vroue.

In Julieta se apartment in Madrid hang 'n Lucian Freud-afdruk. Hiermee word ‘n subtiele melancholiese kode in die filmteks ingedra.

Die film is meer dramaties as die subtiele, gelade kortverhale. Dié filmmaker is immers bekend vir sy hooggestemde films waar emosies en koors hoog loop.

Tog is hierdie film meer spiritueel en minder kamp as sy vorige werk.

Dit is Almodóvar se vertolking of interpretasie van die gegewe. ‘n Mens lees Munro se verhale, geskryf in ‘n ander sleutel, op ‘n ander manier as die film.

Beide is indrukwekkende tekste.

Slavoj Žiżek se bekende uitspraak in The Pervert’s Guide to the Cinema kom weer na vore: begeerte is die wond van realiteit; overgesetsynde: begeerte (desire) bestaan, omdat realiteit onvolledig en gebroke is. En wanneer ons pyn (ellende) ervaar, word die koōrdinate van ons realiteit versteur.

Beide Julieta en haar dogter se lewens is versteur. Die film eindig gelade en jy moet as kyker self besluit of daar wérklik versoening kan wees. Miskien tog wel, maar nie ‘n opheffing van die leed aangedoen nie.


Pedro Almodóvar

Tuesday, January 3, 2017

Paul Thomas Anderson, in drie sleutels

I

Hard Eight is hierdie briljante filmmaker se eerste film en is in 1996 vrygestel. Dit word beskryf as neo-noir met Philip Baker Hall, John C. Reilly, Gwyneth Paltrow en Samuel L. Jackson, en kamee-optredes van  Robert Ridgely, Philip Seymour Hoffman en Melora Walters. Dit is gebaseer op 'n kortfilm: Cigarettes & Coffee (1993).

Hall, Reilly, Ridgely, Hoffman en Walters verskyn ook in latere films van Paul Thomas Anderson.

Die filmstruktuur is 'n sirkelgang. Die begrafnismusiek waarmee die film begin, lui die sentrale tematiek van die dood in.

Dit begin en eindig by 'n diner (Jack's Coffee Shop). 'n Jong man, John (John C. Reilly) sit voor die diner. Hy vertel aan ’n ouer man Sydney dat hy nie geld het om sy moeder te begrawe nie. Sydney (Philip Baker Hall)  neem hom na Las Vegas en wys hom hoe om geld te maak. Die dobbelverhaal is aanvanklik suksesvol.

Dan spring die verhaal na twee jaar later. Die plek: Reno.

John raak bevriend met Jimmy ('n grensoorskrydende sekureiteitsman) en Clementine (Paltrow), 'n kelnerin en prostituut; aanvanklik is net Sydney bewus hiervan.

'n Tweede reddingspoging vind plaas wanneer Sydney haar en John in die slaapkamer langs syne plaas sodat hulle betrokke kan raak by mekaar.

Gwyneth Paltrow, as Clementine

Een nag ontvang Sydney 'n oproep van John en Clementine. 'n Sekstransaksie het skeefgeloop en hul hou 'n ernstig-beseerde man gevange wat nie $300 vir seks wil betaal nie. Hulle het ook die man se vrou gebel en is onseker of sy die polisie gebel het. Hulle vertel Sydney dat hulle ook intussen getroud geraak het. Sydney raai hulle aan om na die Niagara valle te gaan vir hul wittebrood.

Na hul vertrek, verwyder Sydney enige bewysstukke.  Dit was Jimmy se rewolwer en hy vertel dat die man die volgende dag by die casino opgedaag het en nie die polisie gebel het nie.

Jimmy (Samuel L. Jackson) en John (John C. Reilly)

Jimmy (Samuel L. Jackson) konfronteer Sydney en dreig hom in die onverwagse slotwending. Die kyker het eerder verwag dat die polisie sou opdaag oor die sekstransaksie in die motel.

Indien Sydney hom nie $10 000 gee nie, sal hy John vertel dat Sydney sy vader doodgemaak het. Sydney gee hom $6 000. Hy gaan later na Jimmy se huis en vermoor hom. Die film eindig weer in die diner en ons sien hoe Sydney die bloed op sy hempsmou bedek.

II
Daar is briljante dialoog. “You know, the first thing they should have taught you at hooker school is to get the money upfront”, sê Sydney aan Clementine, 'n ironiese naam.

Die titel van die film slaan op geluk. “When good luck is a good shot, you have to hedge your bets.” Dit is die film se blakerteks met twee dobbelsteentjies van vier elk, die moeilikste kombinasie om te kry. (Urban Dictionary/Hard Eight. Besoek 1 Januarie 2017)

Waarom help Sydney vir John? Waarom is hy die mentor? Uit 'n skuldgevoel? Die kyker moet self hierdie vrae beantwoord.

Ons is soos Sydney wat na die video kyk van hul troue, en gelaat word met baie vrae ...

III

In sy kultusfilm Inherent Vice (2014), gebaseer op 'n Thomas Pynchon-roman, maak Pynchon ook 'n buiging in die film.  Dit gee nogals 'n speurtog af tussen al die lelike mans om Pynchon te eien in hierdie aweregse send-up van polisiefilms wat beskryf word as 'n crime-comedy.

Daar is waansinnige ekspedisies en ondersoeke met “Doc” Sportello waarin waarneming deur dwelms vertroebel word. Joaquin Phoenix, Josh Brolin en Katherine Waterston lewer uitstekende spel, soos Owen Williams. Om die ingewikkelde roman van 384 bladsye te verfilm, is lofwaardig. Sortilège in die roman, word die voice over in die film.

Die LAPD en FBI word gesatiriseer in hierdie over the top-film. Hierteenoor is Hard Eight sober, gedistansieerd.

In sy epiese There Will be Blood, 2007 (met Daniel Day-Lewis en Paul Dano) is 'n mens deurgaans bewus van die stadige skote van die kamera. Die spanning tussen godsdiens en geldsug word briljant vertel.

Dit begin in Nieu-Mexiko in 1898 en die stadige filmskote wat die harde, ongerepte natuur vasvang is uitstekend. In dramatiese tonele - soos ontploffings - bly die kyker bewus dat hierdie filmmaker in beheer is van die epiese gang.

Teenoor Eli, die religieuse fanatikus wat glo die ongelukke gebeur, omdat die olie-soektog nie geseën is nie, staan Daniel, die harde, ongenaakbare avonturier.

Daniel Plainview (Daniel Day-Lewis) en Eli Sunday (Paul Dano)

Daniel se soeke na olie en die ontdekking daarvan, kleur sy waarneming. Hy neem selfs 'n kind aan om as 'n gesinsman bekend te staan. Tydens 'n ongeluk, word sy seun doof en in 'n ontstellende toneel, stuur hy die kind na 'n skool vir dowes. Hy lieg en bedrieg om iewers te kom en wanneer ene Henry opdaag en hom voordoen as broer, word die film se boodskap duidelik.

Eli Sunday (Paul Dano)

Die lekeprediker wat voorgee hy kan genees en die “broer” wat die werklike broer se dagboek gesteel het, is die dryfkrag van die film. Hy vermoor die “broer”. In 'n ander wrede toneel dryf hy die spot met sy dowe seun en vertel hom dat hy nie sy kind is nie - waarop W.H. bely dat hy bly is hy is nie sy pa nie. In die dramatiese slot is daar 'n konfrontasie tussen hom en Eli, die lekeprediker.  Hy vermoor hom - en die oop einde suggereer dat Daniel Plainview “finished” is, soos hy sê.

Paul Thomas Anderson

Drie uiteenlopende films in verskillende sleutels vertel. Dit wil gedoen wees.

© Joan Hambidge