Showing posts with label Elsa Joubert. Show all posts
Showing posts with label Elsa Joubert. Show all posts

Monday, February 21, 2022

Resensie | Elsa Joubert – Die verste grens verby (Thys Human red.) | 2022

Elsa Joubert - Die verse grens verby (Thys Human red.). Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap vir Kuns, 2022. ISBN 978-0949977-05-2

Resensent: Joan Hambidge

 

Elsa Joubert beklee ‘n unieke posisie binne die Afrikaanse letterkunde. Die swerfjare van Poppie Nongena word op die lys van 100 invloedrykste werke uit Afrika gereken. Haar uitgewer, wyle Danie van Niekerk, het dit as een van die hoogtepunte in sy uitgewersloopbaan beskou. Die redakteur Thys Human gee ‘n sober blik wat uitstekend aansluit by Willie Burger se profiel in Perspektief & Profiel.

 

Bladsye 185 – 210 gee ‘n bibliografiese verwysing en om hierdie boek te probeer opsom, sou beteken jy moet die oseaan in ‘n visbak probeer opvang. Daar is eweneens pragtige foto’s opgeneem. Ek volstaan dus met enkele kanttekeninge oor hierdie belangrike huldigingsbundel.

 

Joubert is romanskrywer, kortverhaalskrywer, reisverhaalskrywer en outobiograaf. Die verste grens verby is ‘n gepaste opsomming vir haar uitsonderlike werk waar sy as jong vrou alleen reis in Afrika en na Madagaskar. Louise Viljoen wys op drie fases in haar skryfwerk: in die 1950’s begin sy met reisverhale; in die 1960’s begin sy fiksie en latere jare, toe sy al tagtig was, outobiografiese besinnings geskryf waarvan Spertyd ‘n hoogtepunt is. Hieroor skryf Hennie van Coller insigryk. Hy lewer kritiek op veralgemende gevolgtrekkings oor die taal van bejaardes; gebaseer op een teks. Wat hier relevant is – en wat later weer in ander bydraes na vore kom – is dat Joubert styl- en struktuurgrepe strategies aanwend en manipuleer. Soos in Die swerfjare van Poppie Nongena.

 

Om hierdie teks indertyd as wanordelik, slordig en gefragmenteerd af te maak, word deur lesers verkeerd bewys (42).

 

Willie Burger tipeer haar tereg as ‘n reisgids, want sowel haar reisverhale as die genoemde Poppie het mense anders laat kyk na hulle eng-Afrikaanse wêreld. Anne McClintock gee ‘n besondere ondersoek weer van die sogenaamde “onbetaamlikheid van hibriditeit” en swart vroue se weerstands- en narratiewe dubbelsinnigheid. Die “tweemondige samewerking” tussen Joubert en Poppie word in hierdie briljante stuk verduidelik.

 

Hierdie professor aan Princeton gee ‘n sober buiteblik op die resepsie van die roman en ‘n vertelling vol teenstrydighede. Hierdie bydrae wys op die outeur (Joubert) se outoriteit (via Edward Said) en die politiek van samewerking oor die grense van ras- en klasverskille heen. Die geheue as wapen word betrek en die herbelyning van mag. Die verskillende (en verkeerde) interpretasies word ondersoek in hierdie uitsonderlike artikel wat ook die hele kwessie van hoe manlike kritici die teks anders as vroue kritici gelees het. Sy wys op die Prokustiese sfeer van die manlike tradisie (toe) en hoe vroueskrywers ‘n ander leesaksie opeis (42). Ook hoe Afrikaanse lesers verskil het van Engelse, liberale lesers en hoe daar in sekere kringe ‘n dawerende stilte was.

 

Lucie Valerie Graham wys tereg daarop dat die transkripsies van die onderhoude met “Poppie” nie ‘n woordelikse verslaggewing is nie. Etlike prosesse het plaasgevind wat op ‘n paradoksale manier bewys dat geen teks gelyk aan die werklikheid is nie; dit is “geproduseer” (via David Schalkwyk, 75).

 

Thys Human behandel Die reise van Isobelle as ‘n kroniek. Hy betrek o.a. die struktuur van die Latyns-Amerikaanse kroniek met Isabel Allende se The house of the spirits (1982) wat as ‘n kritiese herskrywing van Gabriel García Márquez se manlik gerigte One Hundred Years of Soltude beskou kan word. Albei tekste is familiekronieke en politieke allegorieëwat uitwaaier na die groter politieke kontekste waarbinne hulle afspeel (108). Met ‘n vroulike perspektief as basis.

 

Die kulturele introspeksie en outo-etnografie word deur Erika Lemmer, Linde Beer en Jan-Ben Rothman onder die loep geneem waarin die Afrika-leefwêreld vir die leser oopgemaak word. Die persoonlike geskiedenis aktiveer die kollektiewe geskiedenis in ‘n Wonderlike geweld.

 

Daar is ‘n skrywersbiografie deur Erika Terblance, ‘n analise van “Bloed” uit Melk  deur Susan Meyer as ‘n soort tuiskoms in Afrika en Réney Warrington kyk na die verfilming van Poppie en wys op die betekenis van kleur in die film deur Christiaan Olwagen.

 

Ena Jansen lewer ‘n pragtige, meelewende huldiging vir die skrywer op versoek van die familie op 4 Julie 2020, Welgemeend.

 

Oor die limietberge en die troos van Leeukop. Sy sou die hiernamaals wou binnegaan, skryf Jansen, met ‘n notaboekie en BIC-pen (180). En soos Willie Burger haar aanhaal:”My lewe beweeg op die periferie van ‘n bestaansvlak wat ek nie ken nie”. En dit is wat sy dan ondersoek en verken in haar oeuvre.

 

Ek onthou hoe Ons wag op die kaptein (1963) my as jong leser aangegryp het as voorgraadse student.

 

Waarskynlik een van die beste huldigingsbundels tot op datum. Met ‘n pragvers van Johann de Lange:

 

Elsa Joubert 1922-2020

 

Van vele reis & deur vele huise

het jy oplaas tuisgekom op jou pad.

In die laaste, laatste foto’s val

die skadu’s jou binne soos ‘n stad.

Die lig buite straal deur jou vensters in

& jy hoor die einde sê: Kom ons begin.

 

Tuesday, December 5, 2017

Resensie | Elsa Joubert - Spertyd (2017)

Elsa Joubert - Spertyd. Tafelberg, 2017. ISBN 9780624084327

Resensent: Joan Hambidge

‘n Wonderlike geweld (2005), Reisiger (2009) en nou Spertyd. Dit is die memoires van Elsa Joubert. Die jongste boek is 207 bladsye lank en dit lees vlot. Dit ‘n merkwaardige boek van ‘n skrywer wat op 95 haar lewe sonder enige sentimentele aanslag vir die leser aanbied.

Sy vermeld die rol van haar kinders en meer spesifiek, haar seun Nico se aanmoediging met die woorde dat sy altyd vreemde plekke besoek het en nou betree sy, in sy woorde, die “kontinent van die ouderdom”. Sy bedank die Berghof-personeel vir hul ondersteuning in die tyd wat sy al hoe “krankliker” geword het.

Enige leser wat ‘n met ‘n bejaarde persoon in aanraking is (of was), sal kan identifiseer met die pynlike ervaring van broosheid (vir sowel die buitestaander as die ouer mens), die afwagting van die dood (‘n taboe-onderwerp in Berghof), die terugkyk op ‘n lewe wat verby is. Indien dit ‘n skrywer is, word ander ervarings bygebring: ‘n letterkundige sisteem wat verander het (hier het Etienne Bloemhof kon oorneem by Riana Barnard) en ‘n politieke sisteem wat daagliks transformeer.

Kyk hoe mooi praat Etienne Bloemhof oor haar boek (Spertyd deur Elsa Joubert/ bekendstellingstoespraak | LitNet. Besoek 5 Desember 2017).

Joubert, ‘n sterk bekroonde skrywer, het immers haar hele lewe lank oor die politiek geskryf: daar was Die swerfjare van poppie Nongena (1978), die reisvertellings, Die reise van Isobelle (1995), te veel om op te noem. ‘n Gunsteling vir hierdie leser bly Die Wahlerbrug (1969).

Hierdie vertelling heet spertyd – soos in dead-line – en hier volg ‘n paar indrukke.

Die boek is absoluut meesleurende leesstof. Ek het dit letterlik in twee sittings deurgelees. ‘n Mens beweeg saam met die skrywer van ervaring na herinnering. Sy skryf: Herinnering wat diep in my hart verborge was, kom nou so sterk na my terug, ander beelde dring tot my deur …” (76). ‘n Paar paragrawe later vra sy: Kan ek my geheue en verbeelding uitmekaar hou? Die landskappe van die gees vloei in mekaar in.” (77)

En dit is wat die leser tref in hierdie bewussynstroom-tegniek: herinneringe, ‘n nadink oor die lewe en spiritualiteit. Sy bely dat min van hulle Sondae kerk toe gaan en sy wonder saam met ‘n vriendin oor die rol van die kerk.

Die vertelling-in-herinnering gaan terug na sleuteloomblikke in haar lewe, waarskynlik momente wat haar as skrywer gevorm het. So ‘n vertelling is die ervaring op ouderdom tien toe hulle op reis is. Padkos met toebroodjies en hoender. Die moeder onthou dat sy vergeet het om die hoender die vorige aand in die yskas te sit en nou is dit op reis nie meer vars nie. Die vader gee opdrag aan die dogter (nie die seuntjie nie) om die hoender aan die karretjiemense te gee. Tog vandag nog wil sy vergifnis vra om die bedorwe hoender wat sy vir hierdie mense gegee het.

Jung het by geleentheid daarop gewys dat ‘n mens in jou ouderdom by jou essensie uitkom. In ‘n film oor sy lewe verwys hy na die agtermiddag van jou lewe en die reis na binne (Senior Circles/ Carl Jung's theories on aging - Baltimore Sun. Besoek 5 Desember 2017). 

Spertyd sit vol vinjette wat vir die leser en Joubert-liefhebber sleutels gee tot haar sosiale gewete.

Dit is ‘n boek waarin die skrywer hardop dink, o.a. oor taal. Sy nuanseer telkens haar gevoelens. Enersyds is sy krities oor die Afrikaner se groepdenke (met Afrikaans wat nou ook in die spervuur is); andersyds weet sy Engels is die wêreld- en kompertaal. Sy is wel ‘n taalpatriot, bely sy, en maan ons om eerder die klein erfie wat jou toebedeel is, te bewerk (128).

Daar is herhalings wat te make het met die sirkelgang, met herbesoeke, met hardop-dink.

Vriendskappe word beskryf (Audrey Blignault, Rita Scholtz, Annari van der Merwe, die taxi-bestuurder …) en die belangrikheid van haar kinders en kleinkinders – en natuurlik: haar man, wyle Klaas Steytler, ‘n onderskatte skrywer.

Wat Elsa Joubert skryf oor die behoud van boeke, moet ons almal ter harte neem. Hoe boeke (regte boeke) vertroos. Sy verwys na ‘n boek uit 1926, Sahara, en hoe onmoontlik dit sou wees om hierdie boek op elektronies te lees. Hoe boeke om haar staan, wegraak, asemhaal, ja dit kan ‘n mens nie vergeet nie.

Eweneens boeiend, is die verhouding met haar liggaam en siekte; die agterbaksheid van die liggaam. Dan is daar ‘n sterk besinning oor stilte wat in ons almal skuil.

Boeiend, prikkelend, sensitief …