Showing posts with label Exclusive Boeke Prys 2001. Show all posts
Showing posts with label Exclusive Boeke Prys 2001. Show all posts

Friday, March 15, 2013

Kent Haruf - Plainsong (2001) (Exclusive Boeke Prys 2001)



Kent Haruf. Plainsong. Picador, 2001. ISBN 0 330 39314 6.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Dit is 'n verhaal wat afspeel in Colorado in die tagtigerjare. Victoria Roubideaux is swanger en haweloos. Sy kry herberg by twee skaam beesboere. Ook die onderwyser, Guthrie, se invloed word bespreek.

"Plainsong" word soos volg verduidelik:"unisonous vocal music used in the Christian church from the earliest time; any simple and unadorned melody or air".

Dit is ook so van hierdie roman: eenvoudig, onpretensieus en aangrypend. Die verhaal word direk vertel en daar is geen foefies nie. Ook is die perspektiefwisseling van karakter na karakter maak die verhaal boeiend.

Dit is die drama van gewone mense in 'n landskap wat hul emosies weerkaats.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

William Kowalski - Eddie's bastard (2001) (Exclusive Boeke Prys 2001)



William Kowalski. Eddie's bastard. Black Swan, 2001. ISBN 0 552 99859 1.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Eddie's bastard ondersoek die betekenis en funksie van die familie en hoe die dood van 'n erfgenaam 'n familie kan beïnvloed. Billy word gelaat op die stoep van Thomas Mann se huis. Thomas Mann se seun is dood in die Vietnamoorlog, presies drie maande tevore, en nou het hy 'n kleinkind en erfgenaam.

Die roman begin met 'n herinnering uit die jong kind se perspektief. Hier is ook sprake van 'n soort magiese realisme en die tradisie van die suidelike roman word hier geaktiveer: spoke wat in huise ronddwaal, die oupa wat aan die kind die familiegeskiedenis oor en oor vertel, insinuasies van bloedskande en 'n gestorwe vader wat 'n ogie hou oor die aangenome kind.

Wanneer die jong kind ontdek dat hy kan skryf, maak alles om hom sin. So kan hy die bloedskendige verhouding van 'n vriendin verwerk en die gemeenskap se vooroordele. Ook sy verhouding met sy oupa word deurgaans beskryf as die belangrikste relasie van sy lewe.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Joanne Harris - Blackberry wine (2001) (Exclusive Boeke Prys 2001)



Joanne Harris. Blackberry wine. Black Swan, 2001. ISBN 0 552 99800 1.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Die skryfster het opslae gemaak met Chocolat en hierdie suksesroman gaan waarskynlik - en dit sal jammer wees - minder geesdriftig ontvang word. Die reeds bekende-sensuele aanslag is ook hier aanwesig. Daar bestaan min romans met so 'n pakkende intro. 'n Mens word eenvoudig saamgesleur vanaf die eerste bladsy.

Jay Mackintosh se verlange na die landskap van sy verlede word hier weergegee. Die vreemde Lansquenet en 'n bottel tuisgemaakte wyn verskaf die sleutel tot 'n geheim. Daar is 'n spook wat iets wil oordra uit die verlede.

Natuurlik is daar ook 'n vrou: Marise, 'n kluienaar, en die leser moet dan as't ware haar projeksies oor die verhouding tussen hulle probeer hanteer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Isabel Allende - Daughter of fortune (2000) (Exclusive Boeke Prys 2001)



Isabel Allende. Daughter of fortune. Flamingo, 2000. ISBN 0 00 655231 5.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Allende (uitgespreek Ajende) is 'n Chileense skrywer wat onder meer die magies realisme bedryf soos Marquez. Haar verhale is besondere vertellings en haar vorige roman Paula is die reaksie op haar dogter se koma.

Daughter of fortune is bekende Allende-dramatiek. Dit vertel die verhaal van Eliza wat voor 'n deur van die Britse Invoer en uitvoermaatskappy in 1830's in Chile gevind word. Rose Sommers neem haar aan en teen haar aangenome moeder se pogings om van haar 'n dame te maak, raak sy op sestienjarige ouderdom verlief op 'n rewolusionêr, Joaqúin Andieta. Sy vertrek saam met hom op die sogenaamde 'gold rush' en die verhaal van die vondeling en troebadoer word vanuit 'n vroulike perspektief aangebied.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Michael Ondaatje - Anil's ghost (2000) (Exclusive Boeke Prys 2001)



Michael Ondaatje. Anil's ghost. Picador, 2000. ISBN 0 330 48077 4.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Michael Ondaatje se Anil's ghost is wat my betref die wenner.

Die verhaal speel af in Sri lanka. Anil Tissera, gebore te Sri Lanka, het haar opleiding in Engeland en die VSA ontvang. Sy is forensiese antropoloog en sy word deur 'n internasionale menseregte-organisasie gestuur om die moord deur georganiseerde skenders op die eiland te ondersoek. Die leser moet, soos sy, die kodes analiseer en die roman is 'n soort speurverhaal wat metafories gedronge vertel word.

Sy romans beweeg in konsentriese sirkels en is assosiatief saamgesnoer eerder as liniêr. Dit het te make met die feit dat hy - in sy eie woorde - eerder beeldend werk en 'n roman met 'n assosiasie begin.

Anil's ghost is die digter en romanskrywer se vierde roman. Dit speel af in Sri Lanka, voorheen Ceylon (aan die suidpunt van Indië) tydens die burgeroorlog. 'n Jong vrou, Anil Tissera (gebore hier), maar in die VSA en in Engeland opgelei as forensiese antropoloog, verteenwoordig 'n internasionale menseregte groep ten einde geweld en moord te ondersoek. Dit geskied alles vrywillig.

Die roman is meer as 'n konvensionele speurverhaal. Dit is ook 'n verhulde liefdesverhaal. Sarath, haar teëspeler, was nog altyd op haar verlief, ofskoon sy behoort het aan sy broer. Hulle ontmoeting by 'n party in Colombo is ryk vertel, vol innuendo's. Ook wanneer hy haar finaal groet, word oortuigend verbeeld.

Die geweld is egter die deurlopende motief wat die leser telkens na die asem laat snak. Dit is die onderstroom van die roman wat 'n aura skep van 'n vreemde, onheilspellende droom vol tekens en simbole.

Bekende en alledaagse uitsprake, wyshede en liedjies word ook hier kreatief aangewend.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]