Showing posts with label Heilna du Plooy. Show all posts
Showing posts with label Heilna du Plooy. Show all posts

Saturday, September 23, 2017

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot. ’n Brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017) | Deel II

Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Samesteller: Heilna du Plooy). Litera Publikasies, 2017. ISBN: 9781-920188535

D E E L  II

In hierdie ryke versameling van briewe, staan ons vervolgens stil by ‘n paar briewe wat vir hierdie leser tot nadenke gestem het. Elize Botha was ‘n gespreksgenoot vir vele uiteenlopende mense binne die literatuur. ‘n Jong M.C. Botha vra haar om raad en sy gee dit. Sonder omhaal van woorde – met respek vir sy werk wat sy toe reeds eien as besonders. In hierdie briefwisseling beleef die leser persoonlike krisisse wat nie by die naam genoem word nie, maar wat die jong M.C. optel. Elize wens hom voorspoed toe met sy voorgenome huwelik en drink vele glasies op hom.

Waarskynlik is die briewe van Jeanne Goosen stukke waarna ‘n mens by herhaling gaan terugkeer. Dis vintage-Goosen, huiwerend tussen surrealistiese waarnemings en suiwer poësie.

‘n Mens huil van die lag oor die verhaal van ‘n man wat by gebrek aan aas met ‘n liddoring vis vang!

Hierdie is ‘n inloer in Goosen se kreatiewe denke. ‘n Mens sien byvoorbeeld hoe sy Om ‘n mens na te boots gekonstrueer het. Waarnemings wat deur die fantasie omgetower word.

“‘n Mens is darem vreeslik absurd – dis nou as jy nie die slag ‘n mens naboots nie.”

Sy vertel van haar vleuelklavier (en Goosen kon vertolk) wat haar verwyt, omdat sy nie meer op hom speel nie (570). Sy voel sy is nie opgewasse vir hom nie.

Hierdie briewe is tydsdokumente. Koos Prinsloo skryf oor Jonkmanskas en van die grens af. Hierby is daar ‘n brief ingesluit van Victor Munnik. Ons verneem van die tragiese dood van Helena Stark – ‘n karakter in ‘n Prinsloo-verhaal – en van Renske Koen se ongeluk, ‘n hartsvriendin van Elize Botha. Vir my ‘n stuk ellende wat hier onverwags terugkeer, omdat ek die vooraand van hul dood by hulle gekuier het en die volgende dag in die koerant dit op straat gelees het …

Hieroor skryf ek ‘n gedig in Bitterlemoene.

Stephan Bouwer se rou brief aan haar – die rou dinge waaroor ‘n mens net kan stotter (601).

Nog ‘n skrywer wat “tannie Elize” skryf, is Fanie Naudé wat vanuit Londen as buitestaander kommentaar lewer op Bram Fischer en die taalbeleid. Hy staan krities teenoor Chris Brink se taalbeleid (598).  En hoe ironies klink sy woorde op in dié brief: Alhoewel, wie weet, as ek eendag vir ‘n ruk die geleentheid kry om behoorlik te konsentreer op skrywe, kan ‘n mens dalk tog iets daarvan maak” (600). Ek sou wat wou gee om Elize Botha se hantering van die Walter Benjamin-gegewe in die manjifieke Die derde spoel te lees!

Ons sien o.a. hoe komplimenterend is Leroux oor haar raaktasting van Onse Hymie en die aard van die entertainment en satire (via Graham Greene).

In latere jare was dit dan ook een van my verskilpunte met Elize Botha, oor die komplekse voertaalkwessie aan die Universiteit van Stellenbosch. Maar vriendskappe moet verskille en anti-teses kan akkommodeer. Ek onthou ‘n besoek aan haar in die hospitaal, sowat ‘n tweejaar voor haar dood. Ons het toe sterk verskil.

Sy bedank vriende deurgaans vir ondersteuning – soos die uitgewer Marietjie Coetzee – en in ‘n brief aan Heilna du Plooy (608) word ‘n brief ‘n meta-refleksie oor presies dit wat hierdie boek doen: die insameling van perspektiewe en verskillende benaderingswyses …

Tussendeur is daar skrywers wat na vore kom: Margaret Drabble, Anita Brookner, Seamus Heaney …

Op ‘n keer het Elize Botha ou uitgawes van Times Literary Supplement en New Yorkers vir my persent gegee – wat ek steeds bewaar …

Hennie Aucamp word telkens erken as ‘n rigtinggewer: “Terwyk ek lees het ek weer só sterk ervaar hoe begunstig ek deur baie jare was, om in voeling te kon bly met jou werk en denke, hoe rigtend en inspirerend dit in my voortgewerk het”(633).

Dis dan ook Aucamp wat raaksien dat die essay by uitnemendheid Elize Botha se uitdrukkingsvorm is!

Onvoltooide gesprekke, maar genadiglik gesprekke wat deur ‘n kundige en fyn leser soos Heilna du Plooy versamel is.

Die boek sluit dan af met ‘n kort nota van Hennie Aucamp op 7 November 2007:
Liewe Elize
Ek stuur gedagtes en gebede na jou toe uit. Jy was dikwels die sentrum van die groot gebeurtenisse in my lewe, en hiervoor sal ek jou altyd dankbaar bly. Hennie
© Joan Hambidge

Monday, September 18, 2017

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017) | Deel I


Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Samesteller: Heilna du Plooy). Litera Publikasies, 2017. ISBN: 9781-920188535

D E E L  I

I

Hierdie is dan my eerste en persoonlike reaksie.

Só word die brieweboek van Elize Botha bemark:

Hierdie lywige bundel van sowat 700 bladsye is deur Heilna du Plooy saamgestel uit briewe van Elize Botha en verskeie skrywers en ander bekendes. Skrywers en digters soos Audrey Blignault, Hennie Aucamp, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Lina Spies en baie ander het met Botha gekorrespondeer. Party briewe is diep ontroerend, ander laat jou hardop lag en ‘n klompie lees jy herhaaldelik om die besonderse insig daarin. Die briefskrywers skets die klein en groot gebeure in hulle lewens, deel hul menings oor boeke en mense en vertel van die dinge wat hul lewens moeilik of vreugdevol maak. Dit is ’n intieme teks wat by baie lesers byval sal vind.

Op die voorblad is daar ‘n foto van ‘n jong en mooi Elize Botha, met daardie bekende handtekening. Agterop ‘n foto van die ouer, meer beleë kanselier.

Hoe beskryf ‘n mens Elize Botha, een van ons grootste prosa-lesers en fynste stiliste?

Op ‘n keer is daar na haar – ietwat sardonies – verwys as die boegbeeld van die Afrikaanse letterkunde. Haar lewe van 1930 – 2007 is gekenmerk deur groot vriendskappe en lojaliteite. Van Van Wyk Louw, die Oppermans, Audrey Blignault, Alba Bouwer, Etienne Leroux, T.T. Cloete, J.C. Steyn …

As jong student begin ek ‘n MA by haar. En daarmee saam het ‘n kosbare lees-vriendskap begin.

Die uitgebreide feesmale aan’t huise in Colbynstraat was soos gister; later in restaurante toe sy dikwels moes reis om haar verpligtinge as voorsitter of komiteelid na te kom.

Op ‘n keer bring Elize (ek het haar altyd formeel (en met respek) as doktor aangespreek totdat sy op ‘n keer my versoek het om haar Elize te noem) vir my die jongste Saul Bellow van ‘n oorsese reis: The dean’s December.

Op ‘n keer koop ek vir haar, op versoek, George Steiner se roman The Portage to San Cristobal of A.H. (1981) op ‘n reis in die buiteland.

En sowel Bellow as Steiner is vir hierdie bespreking ter sake. Bellow se onvergeetlike brieweboek is meer as briewe. Dit is ‘n kroniek van ‘n briljante skrywer, intellektueel, gesaghebbende – en ook mens. ‘n Mens sien sy humoristiese kant in briewe aan Philip Roth en wat hy maak van Hannah Arendt. Jy sien sy verhoudings met sy kinders, sy geliefdes, sy donker kant. Dit heet Saul Bellow – letters (Penguin, 2010).

In ‘n laaste brief aan my (daarna was daar vele telefoongesprekke en boodskappe op my antwoordmasjien, veral die laaste een het ek bewaar) verwys sy na Steiner se lesing aan die UP: "Around a table we will take a text, no critics, no secondary journals, no critics of criticism … we’d learn to read it together again …” (14 Januarie 2001).

Hierdie brief was lank soek en daar ontdek ek dit een middag in ‘n laai saam met ‘n brief van Eybers aan my. Ek skandeer dit dadelik en stuur dit vir Heilna vir opname.

Dit inspireer my ook om ‘n gedig vir haar te skryf na haar kommentaar op my Louw-vers in Lykdigte:

Elize Botha (1930 - 2007)

    Shatter your leaves before the mellowing year.
    Bitter constraint and sad occasion dear
    Compels me to disturb your season due ...
   
    Milton

Gyselaar van sentimentaliteit,
tipeer jy jouself speels in 'n brief
aan my op 14 Januarie 2001 gestuur.
Jou stem bewaar ek steeds digitaal
op 'n moderne antwoordapparaat.
Oor die lotgevalle van 'n gedig
- wat weggeneem word, wat bykom -
skryf jy insigryk in jou mooi handskrif.
Jy dink na oor George Steiner:
"Around a table we will take a text, no critics ..."
Vannag kyk ek na jou dubbellees, 'n keerweer,
van 'n lykdig oor jou mentor in Amsterdam.
Agter die sigwaarde van 'n gedig
kon jy inkyk en hierdie variant
van afskeid én erkenning, 'n eulogie ja,
laat my wonder oor toeval en toeverlaat:
'n brief uit Amosstraat 34, Colbyn 0083,
herversend deur die Posman van AllesWeet.

III

My M.A. onder haar begeleiding het ironies genoeg gehandel oor Die ek-verteller in die belydenisroman. En dit is hoe ‘n mens hierdie brieweboek moet benader: as belydenis, konfessie – maar uiteraard die ingeboude aspek van die belydenis is ter sprake. Daar is ‘n toehoorder (aanhoorder) aan wie die brief gerig word met tegnieke wat beheer, selfs afstand, impliseer. Hierdie “naked I” verdoesel dikwels meer as wat sy bely deur tegnieke van ironie en die bybring van tekste. En ‘n brief moet binne ‘n bepaalde tydsgewrig gelees word. Só beskou, is dit dan ook ‘n dokumentasie van ons taal en letterkunde.

Daar is geweldig baie te waardeer uit hierdie boek. Ek onthou hoe sy vir my as jong student gedigte wys van ‘n onbekende digter, opgeneem in Tydskrif vir letterkunde.

“Dis fantasties!”, roep ek uit.
“Dink jy ook so?”, vra sy. Later sou ek uitvind dat die skuilnaam T.T. Cloete was.

Deur die jare was daar ontmoetings – dikwels by glansgeleenthede – waar sy ‘n boekprys moes oorhandig. Op panele was sy ‘n sterk teenwoordigheid – wat dikwels teen die mode van die tyd sou argumenteer vir die sterker letterkundige teks.

Vandag gee ek haar gelyk vir tweekeer wat ek saamgesleep is deur die tsoenami van ‘n “gewilde” keuse wat by nabaat iets verraai van die tyd. Maar hierdie toekennings is altyd ‘n stuk werklikheid wat skrywers daaraan herinner dat pryse subjektief is en deur die tyd bepaal word.

IV

Watter briewe sal ‘n mens bybly?

Sy noem haarself ‘n beroepsleser, selfs verminderend ‘n amateurleser. Dit was sy nie. Elize Botha kon Etienne Leroux lees; ook Opperman. In haar brief aan wyle Paul Cilliers, die filosoof,  artikuleer sy hoe onderdele / sitate in ‘n teks “geartikuleer” moet word na aanleiding van sy intreerede. [1] Haar sieninge in navolging van die werk onder Louw en die impak van Hellinga en Scholtz se Kreatiewe analise van taalgebruik (620).

Hier verduidelik sy haar sensibilities en die impak van T.S. Eliot op haar denke.

Hierdie gesprek tussen twee intellektuele karteer Elize ten beste. Afgerond, stilisties in beheer, immer bereid om in gesprek te tree. Hierom is ‘n Festscfrift aan haar tereg benaam as ‘n Lewe in woorde. In die inleiding beklemtoon Heilna du Plooy dat briewe wel ‘n vorm van literatuur is, maar dat dit eerder nader aan die lewe lê in die onafgerondheid daarvan. “Die brief is uiteraard meer soos die lewe self, vol onnodige detail en ‘n bietjie rommelrig omdat dinge herhaaldelik gebeur en herhaaldelik vertel word, omdat belangrike dinge soms verswyg word en ander per ongeluk weggelaat word “ ( xviii).

Die gesprekke tussen haar en Hennie Aucamp wys hoe twee meester-stiliste op gebeurtenisse reageer.

Elize Botha se belangrikse bydrae, afgesien as haar posisie as ‘n eerste vrou op soveel vlakke, is nie alleen tot die prosa nie, maar veral tot die essay. [2] Daardie kort prosa-stuk rondom ‘n lewenswaarheid. Vele van hierdie briewe is essayisties in aanbod.

Haar eensame jeug het waarskynlik haar gesprekke op papier voortgedryf, maar diegene wat haar geken het, weet ook: Elize Botha was ‘n gewer, ‘n óm-gewer.

‘n Paar maande voor haar dood, bel ek haar op. Die pers begin stories skryf (en aas) oor haar naderende dood.

Ek prys haar oor haar pragtige essay wat sy geskryf het oor Doris Lessing wat die Nobelprys gewen het.

“Hoor hier, Joanie. I am still hanging in here.”

Dit was Elize. Sober. Eerlik. Wat ‘n mens. Wat ‘n literator.

(Word vervolg)

Endnote:
1.     Cilliers vereer ek in ‘n gedig in Lot se vrou.
2.     Elize Botha was op soveel vlakke ‘n eerste vrou: Voorsitter van die Akademie, Kanselier, eerste vroulike van die Direksie van Nasionale Pers.

© Joan Hambidge

Thursday, July 17, 2014

Heilna du Plooy - Die stilte opgeskort (2014)


Heilna du Plooy - Die stilte opgeskort. Protea, 2014. ISBN:978-1-4853- (gedrukte boek)   978-1-4853- (e-boek)
Resensent: Joan Hambidge

Dit is die derde digbundel van die akademikus Heilna du Plooy, 'n kenner van die digkuns van TT Cloete en 'n vooraanstaande narratoloog. Wanneer 'n akademikus dig, word die akademiese en kritiese werk onvermydelik deel van die leser se leestrategie, al is dit dan onbewustelik. Du Plooy gee immers blyke van hoe fyn sy lees en in haar lesings van die invloed van Dante en die ikonisiteit van gedigte in Cloete se oeuvre, word die leser deurgaans bewus gemaak van haar fyn sintuig vir die ewewig, die balans tussen vorm en inhoud, of die sogenaamde tegelykertydsaspek van die digkuns.

Daar is dan ook 'n ars poëtiese vers wat heet "Ewewig":

Ewewig

Die vlakte drink die afstromende lig
en kaats dit in die glinsterende grassaad terug.
Die rivier stoot sy loop waar die landskap vou
oop sodat bedding en oewers die water vashou.

Is ek iets verskuldig of is iets verskuldig aan my
as die vloed beddings oopkerf en oewers oorskry,
met die gras aan die brand en die rooi en die rook
wat uitsig en insig verwoed teen mekaar opstook?

Die punt van die pen
lê swaar op die blad
om in die opstuwende lyn

die las te versprei
tussen my
en die grein.

(7)

In hierdie bundel word daar 'n vrou of "sy" aangetref. Die digter distansieer haarself van die belydende ek en hiermee aktiveer sy ook Eybers se gedagte van "die vrou wat stil geword het". Tog word die stilte op verskillende maniere opgehef of opgeskort. Gedigte aktiveer magswanbalanse in ons samelewing en die beeld- of ekfrastiese gedig "Die jag" wat in gesprek tree met Maureen Quin se beeldreeks. Die afdrukke van die beelde maak van hierdie gedigte 'n opwindende gesprek.

Die digter neem ook reis in oënskou, maar duidelik het die reis hier 'n sterk metafsiese inslag:

Om lig te reis

Van ’n reis het sy telkens ’n klip saamgebring,
van die kus van Amerika of van Vesuvius: In ’n klip
sit onthou van gans alles vooraf, maar ook
die gang van haar voete gister en nou oor die aarde.

Tussendeur die bitter klippe, mensgemaak, stapels
rampe, galverhale, te veel om te onthou, aanhoudend
opgedis. En sy begryp sy moenie meer gewig
versamel nie. Sy gooi die klippe uit en kies vir lug.

Dan word haar oë wind, en sy word lig.
Haar nek rank op, haar hande word slap blare.
Sy drink van die son en sluk aan die gloed:
al haar nuwe leegtes word warm en vol.

Soos vergete bloekoms langs ’n vergeleë pad
bondels sonlig stiekem in hulle arms rondrol.

(24)

In die gedig "Die pornografie van oordaad" (54) word skerp kommentaar gelewer op die politieke en sosiale geweld in ons land, die verloedering van standaarde en die soeke na dít wat steeds waarde het:

Uiteindelik wens ek vir my en my huis
dat ons spoelklippe sal pak
langs mekaar tot ’n kring, uit die aarde self, hier
en vir hier, tot ’n gebedestring (...)

Daar word eweneens gekyk na die verhouding met taal - soos in "Leidse dagboek", 16 - met sy toespelings op Eybers en Van Wyk Louw:

II
Nog in die vreemde winter vasgevang
kon hulle in die vroeë lente nie
soos die knoppe swel en pols nie.

Daar was al bloeisels, maar die nagelate
koue het nog diep gevloei soos somber
gragte in ’n Nederlandse stad.

Daar sou nog swart ryp kom
en wind, wit stof en rooi
in storms uit die weste.

Die ou bekende koestering,
die saamsmelt in deurgloeide somers,
sou nog tyd verg. En smeking. En wag.

Daar is eweneens gedigte oor die landskap wat sowel 'n binne- as buitereis aktiveer.

IV
Ou geboue

Vandag se weemoed gaan oor ou geboue
wat van geweld getuig en kon weerstaan.
Oor die luglyn van ’n stad soos Budapest
wat van ’n té lang herkoms bly vertel.
Oor skilderye en klein beeldjies
in galerye en kasteeltjies
wat wonderbaarlik! – wonderbaarlik
ongeskonde deur die eeue kom.

Ontroer oor klip en stene
wat kon uithou onder menslike gewig,
hang ek vandag – een dag
‘n duisend jaar, ’n duisend jaar een dag –
in die breukdeel van die oomblik
vóór die steengelaat van tyd
weer óópkraak en breek
in nog 'n gilgesig.

Hierdie afdeling staan in "Stadgesigte" (23) word die betekenis van stede beskryf: stede in verskillende vorme wat deur geweld en hongersnood bedreig word, maar dan 'n stad soos Budapest wat nietemin "ongeskonde deur die eeue kom". Hierdie vers - geskryf in weemoed - aktiveer iets van die digterlike aanslag: die leser bespeur 'n melancholiese aanslag van mens wat bewus bly van die geweld in verskillende vorme wat die menslike bestaan bedreig.

"In die streke van die wind" (74) word Elize Botha, die literator, se invloed op die digter se lewe gekarteer. 'n Vriendskap oor boeke en 'n wedersydse begrip word helder verwoord:

In die streke van die wind
Vir Elize

Ons sewentig of tagtig is bloot ’n fragment,
’n partikeltjie tyd en ’n spikkeltjie plek
in ’n omvang wat ons nooit kan ken nie.

“Ek dink so baie oor die wind,”
sê jy dikwels in die laaste gesprekke,
soos altyd oor idees, oor stories en oor boeke.

Oor die uiteindelike hiërargieë en die groot
patrone. Nogtans het ons net vermoedens;
die oorkoepelende ordeninge bly onbegryplik.

“Dit is belangrik om wind te verstaan,
te probeer verstaan. Waar lug is, is wind.
Waar lug roer, roer wind.”

Ons praat oor dit wat agter woorde lê,
oor die belang van vaagheid, oor die ryklike
dink wat glip en gly, syig soos asem.

In ’n vriendskap sonder eise, onafhanklik
én verbonde kón ons praat selfs oor onsienlike wind:
ons was mekaar hartgrondig goed gesind.

As ons ’n sentrum of ’n enkelheid
nie kan bedink, omvat of voorstel nie,
is daar onteenseglik nog die oral en die alles:

Deurentyd in voel en weet is daar invulling
en aanwesigheid, soos lug, soos wind
vly iets voortdurend teen ons aan.

Die metgesel, konkreet en wit en asemloos
– “human kind cannot bear very much reality” −
hou jy weg, van hom weerhou jy die bewussyn.

Lewe en begeerte is beweging en net dit wat leef,
kan sterf − “the bitter apple, and the bite in the apple” −
en waar jy was, sal lug en wind en oopte wees.

Nogtans, nogtans, nogtans:

Die groot duif tref die motor voluit, slaan gat
oor kop, sy vlerke uitgesprei en spat dan op,
sy vere verstrooi in die vlugstroom agter die kar.

Op die voorruit lê sy vorm, onderstebo
in fyn poeier geëts, ’n geboë hoof
en vlerke wat afwaarts bly duik.

Wat asem was, kan ook lug wees.
As jy lug is, kan jy ook wind wees:
stormwind, dwarrelwind, aandwind.

Daar is drie dinge wat ek nie kan verduur nie,
nee, vier wat ek met ontroering onthou,
jou stem, jou oë, jou stem en jy,

met wie ek steeds in gesprek wil tree.

Hierdie gesprek word tans na 'n ander dimensie verplaas: die digter is besig met 'n biografie oor die mens se "lewe in woorde". Ook Elize Botha se altstem word deur hierdie gedig opgeroep en so word die stilte nogmaals opgeskort ...

In 'n aangrypende lykdig oor die vader ("Vierluik") wat indertyd baie kommentare op  Versindaba ontlok het, word die ewewig-dimensie aan bod gebring. Om die vader se doodsworsteling te begryp, word die verhouding met die brose moeder ook aangespreek:

Vierluik

I
In ’n stewige ou gebou
- die kamer liggroen
onder ’n hoë plafon
en almal om sy bed –
het hy gesterf.
Dit was ’n grootse worsteling
asof die dood iets was
wat hy moes verwerf.

II
Aanvanklik net ’n kleinerige aar:
nogtans genoeg om haar
half agter te laat.
Sonder een arm en een been
het sy bladsye halfvol geskryf:      
’n lewe net      
van die middel       
af éénkant toe.
Eers toe die groot aar bars
was sy weer volledig
in haarself verenig.

III
Op die oomblik van sy val
was hy  alleen:
sy brein onmiddellik
’n donker sampioen.
Drie dae lank gelê
met ’n al hoe gladder gesig
soos foto’s uit sy jeug.
Toe was dit of die wind
’n deur sag toegestoot het;
ferm en finaal,
en ons allenig daar.

IV
Sy is nou al wat ons nog ma kan noem.
Tussen geliefdes sit sy al hoe stiller
asof sy reeds weet van vertrek.
Die dae raak toenemend ligloos
oor die borduurwerk en die porselein;
en sy wat al hoe meer deurskyn.

(75)

Wat 'n mens veral bybly van hierdie derde bundel is die delikate aanslag van die beste verse, gedigte wat in hul ewewig tref.

By 'n verdere lees van hierdie bundel, tref die verskillende wyses waarop stilte na vore kom. Is stilte, wonder hierdie leser, 'n eg-vroulike tema? 'n Mens dink hier onder andere aan Sylvia Plath se beroemde reël uit the "Munich Mannequins":

Voicelessness. The snow has no voice.

Hierdie kwessie van stilte vind ons by Elisabeth Eybers, Petra Müller en Miriam van hee, om drie vrouedigters uit te sonder.

Die digkuns gee aan die vrou 'n stem en verlos haar van die fallokratiese orde waar haar tong dikwels uitgesny word of waar sy gewoon nie 'n stem het nie.

"In die leegtes setel verweer" (9) konstateer Du Plooy en hierdie bundel gee stem aan die dwingende stiltes van vrouwees. Hier is dan dikwels 'n misterie rondom die ervaring van die gedig se ontstaan. Die hele bundel lewer verslag van hierdie balans.

Dog daar is soms ook woede, 'n skreeu teen die ontkenning die negering van die vrou se posisie, soos verbeeld in "Vervreemding" (12).

Die verwysings na die Koragiete uit die Bybel gee 'n besonder komplekse toespeling op die rol van die vrou. Vrouwees word geassosieer met stilte in hierdie bundel en die manlike orde met oorlog (en dus skreeu) soos uitgewerk in "Die jag" (35).

In die digter se woorde:

Ons is die tyd,
die wonde van die ewigheid.

Ten slotte op bladsy 69:

Identiteit

Tussen elke vier mure
is haar rol vooraf bepaal.
Selfs tussen allernaastes
is die sitkamer – beskaafde
jas – ’n hoflike vertrek.
In die eetkamer is sy
by die tafel gasvrou en ma
wat – met die nodige weerstand –
opskep en aanbied, opreg
na elkeen se welstand vra.
Die woonkamer en kombuis
is elkeen ’n gesellige plek,
van – gewraakte voorskoot –
vrolik bak en brou, die nes
van omkrap, koerantlees
en les bes, van tee en beskuit.
Gangaf die kinders se kamers
vir help en gesels, raas – kners –
en preek. Hier maak sy ook elke
aand elke rug liefdevol toe.
Dan is daar die kamer van boeke,
diggepak, opgestapel; veelhanteerde
en altyd nuwe vergesigte uit rakke
vol poorte na nuwe domeine.
Maar in die groot slaapkamer stroop
sy af, al die maskers, vertolkings,
lae en lae klere en gewade.
Daar bly sý oor, in haar eie vel
voor haar geliefde bloot en broos
voor haar – absolute – self.
Sy staan voor die venster. Binne die ruit
bly worstel ’n klein vaal mot wanhopig
gevang in die kantgordyn. Sy duik
deur die glas na ’n streek sonder lyne.
Saam met bont vlinders wil sy
roekeloos stoei tussen rose:
op ’n teug wind, in ’n flits son
uiteindelik lustig omkom.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio.)

Wednesday, June 26, 2013

Heilna du Plooy & Loftus Marais - Nuwe stemme 5 (2013)



Heilna du Plooy & Loftus Marais (Red.). Nuwe stemme 5. Tafelberg, 2013. ISBN 978 0 624 058861

Resensent: Joan Hambidge

‘n Eksperimentele werkswinkel-essay

I. Mirakels en muses

Op versoek van die webmeester, Marlise Joubert skryf ek hierdie verslag oor Nuwe stemme 5.

Goed willig ek in, maar verduidelik: dit kan nie ‘n gedistansieerde resensie wees nie. Ek is immers self besig met die begeleiding en ontdekking van jong talent. Hierom besluit ek dan op ‘n essay wat die prosesse sal verduidelik. ‘n Soort apologia pro domo. Maar sonder om kritiese afstand in te boet.

Nuwe stemme is nou reeds ‘n instelling in ons digkuns en as aktiewe kreatiewe skryfwerk-begeleier van die digkuns (in sowel Afrikaans as Engels) word daar na tendense én prosesse gekyk. Kreatiewe Skryfwerk word tans aan verskeie universiteite aangebied en by die UP se Winterskool het ek die afgelope paar jaar in ‘n koue winter voornemende digters van raad bedien. Hier is drie nuwe stemmers meegemaak. (Een nuwe stemmer was in my kursus.) Binne een week probeer jy as gepubliseerde skrywer fabrieksgeheime verklap. Nie altyd met sukses nie. ‘n Jong, seergemaakte digter daag na twee dae op nie; ‘n ander een weier om jou raad te aanvaar (en jy wonder waarom is jy hier?) Selfs ‘n klagte dat jy nie genoeg aandag gee aan iemand se “uitstaande” werk nie…

En my mantras is algemeen bekend. Jy kan net dig as jy kan lees (en gelees het). Jy moet ten minste Groot verseboek ken en handleidings oor die digkuns plunder soos Ottone M. Riccio se The intimate art of poetry. Dit is gepubliseer deur Prentice Hall in 1978.

Daar is nie ‘n metafisiese reël wat vir elke gedig geld nie. Die goeie digter skep sy/haar eie reëls. Maar jy moet dit ken om dit te kan breek. En jy skryf altyd teen die back drop van ‘n tradisie.

1 ‘n Goeie gedig is konkreet;
2 ‘n Goeie gedig se beelde klop (kongrueer) soos ‘n kasboek;
3 ‘n Goeie gedig se slot vang alles op;
4  Skryf met ‘n woordeboek langs jou; verkieslik ook ‘n sinoniemwoordeboek;
5  Moenie ‘n woord herhaal in ‘n gedig nie (‘n les geleer by De Lange) tensy dit 
    funksioneel is;
6 Gebruik leestekens;
7 Bly weg van verkleinwoorde;
8 Bestudeer digterlike vorme en oefen om ‘n distigon te skryf (o.a.) soos ‘n 
    tennisspeler afslane oefen;
9 Wees bedag op die maklike rymwoord;
10 Bly weg van geykte beelde
11 en gebruik uitroeptekens spaars!
12 Kontroleer feite, behalwe as jy opsetlik ‘n gat in die betekenis van die gedig 
     wil los;
13 Vermy geleerde of grootdoenerige woorde;
14 Moenie die gedig vir die leser interpreteer nie; die gedig moet sélf die 
      betekenis oordra;
15 Probeer die woord “wat” vermy, omdat dit al te maklik in prosa mag oorgaan;
16 Moenie preek nie;
17 Sorg dat die interne grammatika van die gedig reg is. Die sintaksis moet die gedig
      voortdryf. Miskien iets soos klippe in troebel waters waaroor ‘n mens kan loop;
18 Tel die sillabes sodat jy die metriese patroon noukeurig kan volg.

Hier is nog raad: "Fabrieksgeheime: 3 digters gee raad".

Alle digters het mentors, al is dit net simboliese mentors wat hulle raaklees in bundels of bloemlesings. Toe ek as jong digter op die toneel gekom het in 1982 was publikasie in Standpunte of Tydskrif virletterkunde ‘n eer. Deesdae is daar die internet met vele webruimtes (o.a. Litnet & Versindaba) waar digters kan publiseer. Persoonlik gebruik ek beide ruimtes as ‘n toetsterrein en skroom nie om ‘n vers te herskryf nie. Studente wat onder my studeer aan die UK mag nie publiseer tydens die kursus nie, omdat die portefeulje oorspronklik moet wees. Daar is wel “publikasie” in die vorm van klasbywoning en die blootstelling aan ‘n sirkel van lesers. En voortydige blootstelling is sleg vir jong digters wat aan hierdie swak debuut geken sal word.

Die mentor moet eweneens die verbintenis óphef wanneer die bundel voltooi is sodat die jong digter sy/haar eie stem alleen kan ontwikkel. Werklike mentorskap moet dan verplaas word na simboliese mentorskap.

Digterlike stamina. Dit is waarskynlik die belangrikste eis vir die digterskap. Kan jy aanhou en uithou soos ‘n Comrades-atleet?

En wees eerlik met jouself: hoekom dig jy? Heilna du Plooy spreek hierdie kwessie aan in haar inleiding. Volgens my is die digkuns nie ‘n plek vir hipertrofiese, selfingenome mense nie. In jou hart moet jy altyd twyfel aan jou talent en nederig bly voor die groter figure wat al die terrein bestryk het. As jy skryf vir pryse, trofees, applous of simboliese onderskeidings, mis jy die punt van hierdie bedryf volledig.

Nou onlangs het ek begin met ‘n essay oor Lacan en Kreatiewe Skryfwerk na aanleiding van die TV-reeks In Treatment. Net soos die analysand sy/haar analis kies, bly dit die reg van die voornemende kreatiewe student om te besluit watter skryfkursus jou sal pas. Aniel Botha, Fourie Botha, Karen Kuhn, Martina Klopper, Hennie Nortjé, Carina Stander – in alfabetiese volgorde – het onder my gestudeer en solo-bundels gelewer. Daar is nog ander talent wat wag op solo-publikasie.

Ook ek had my mentors. In boeke was dit nog altyd Eybers en Van Wyk Louw; Sylvia Plath en Anne Sexton; nóú Michael Donaghy en immer Wallace Stevens – te veel om op te noem. In lewende lywe was dit Opperman in 1977 in ‘n derdejaarkursus met sy befaamde letterkundige laboratorium waar hy sinryke lesse geleer het.

Gedigte is anoniem voorgelê in ‘n boekie saamgebind en Opperman was die fasiliteerder wat jou geweldig baie geleer oor die prosesse ágter die digkuns. Hy het gewys daarop dat daar stryd is. Sy digterlike loopbaan was dikwels antwoorde op Van Wyk Louw. Ons ken Harold Bloom se “the anxiety of influence” en die siening van “belatedness” – ‘n mens veg in jou gemoed met diegene wat reeds dit wat jy wil sê soveel beter gedoen het.

En natuurlik is daar Johann de Lange wat deur die jare my verse gelees het. By hom het ek die wáárdevolste les geleer: om te kan dig, moet jy kan lees; stiplees. En wanneer ‘n gedig voltooi is, moet jy jou eie kritikus word en kyk na die gedig asof jy dit nie geskryf het nie.

Jy moet dus met jouself kan skaduboks. Ek rond nou ‘n bundel af en keer terug na die gedigte: Vir wie skryf jy jou gedigte? wat ek verander na:

44 Vir wie skryf jy jou gedigte?
Vir Johann de Lange

Vir woordfeeste waar, uitgestal
saam met ander “gewilde digters”,
jou optrede verydel word
deur laatkommers of feesgangers
op soek na iets beters
wat die deur oop en
toe laat konsertina?
Vir daardie geliefde wat nooit die gedig
oor jou hunkering en pyn
sal lees nie en net onthou
dat die bed immer haaks was?
Vir ‘n vlymbekkige kritikus
‘n byltjie aan't slyp
oor ‘n onbetaalde rekening
op ‘n ander plek en tyd?
Vir skoolkennisse van wie jy nóg die naam,
en nóg minder die bynaam kan onthou,
wat familiêre groete stuur
via ‘n ander onbekende siel?
Vir jou pa aan die "ander kant"
wat in drome verskyn
aan jou oudste suster
in ‘n blazer en das
en met woorde van vertroosting?
Vir jou ma wat jy versoek
om eerder nie die gedigte te lees nie,
sodat die pyn van ‘n troostelose jeug
stiekem kan verbygaan?
Vir jou terapeut met wie jy laatnag-gesprekke
voer oor jou verknoopte psige
en wat jou aanmoedig om tóg aan te hou?
Vir jou vriend wie se kind
selfdood pleeg sonder ‘n afskeidsnota?
Vir jou mede-digters wat smaal
“die voorlaaste bundel was beter”?
Vir buitelandse digters wat ontsyfer
aan vertalings getransporteer
van een taal na ‘n ander, immer in transit?
Vir jou susterskind
skrywend aan ‘n opstel oor jou digkuns
timmer timmer laatnag?

L’envoi

Vergewe die wrang aanslag, liewe leser,
(en ‘n gedig wat oop-en-toe konsertina)
keer terug na Auden, o amateur, en weet:
‘n gedig laat niks gebeur!

Wat die belangrike vraag aktiveer: vir WIE skryf jy jou gedigte? (En vir WAT?)

Wees genadeloos. Skryf die vers af. Gooi hom weg. Of sit dit in ‘n legger: op die regte tyd sal die vers sig aanmeld.

II. Woord en wederwoord

Die belangrikste aspek van die Nuwe stemme-reeks is dat dit ‘n seleksie bevat van digters wat ook werkswinkels aangebied het. Heilna du Plooy het dan ook in ‘n onderhoud op hierdie aspek kommentaar gelewer. (Onderhoud met Heilna du Plooy oor Nuwe Stemme 5).

Geen mentor kan “objektief” of “neutraal” wees nie. Maar die student kies die mentor en moet die simboliese gesag van die mentor aanvaar anders kan die proses nie voltooi word nie. Hierom verwys hierdie mentor haar studente altyd na sang. Daar bestaan vele voorbeelde, maar kyk op YouTube na hierdie een met Monserrat Cabballé as die leermeester. (Ilona Domnich, Soprano-Master class with Montserrat Caballe 2008)

What makes a great soprano?

Kiri te Kanawa seg dit kos jare se oefen. En kyk hoe gee sy praktiese raad oor asemhaling. Ek leer ook my student om gedigte hardop voor te lees.

En gee Kiri te Kanawa die volgende raad: “simplify the technique”.

En jy moet sterk, fiks, in “proper shape” wees – net soos die digter eweneens emosioneel moet fiks bly. Soos die operasanger moet vasstaan om die hoë note uit te kry, moet die digter weer en weer terugkeer na die gedig en daaraan skaaf.

Of gaan goegeloer hoe Leonard Bernstein met Carreras se gal werk in die repetisie van West Side Story. (Leonard Bernstein/ West Side Story, studio-takes.)

Carreras! Carreras!

Of wat van Sutherland! (1995 Masterclass - Joan Sutherland)

Daar is uiters talentvolle digters wat saam met my op die toneel verskyn het, wat jammer genoeg verdwyn het. Dalk is dit ‘n blote gebrek aan belangstelling, maar ek dink dit het ook iets te make met dit wat Renée Fleming benadruk: ‘n opvoering duur drie ure; dit is emosioneel uitmergelend want jy sing dikwels oor verlies en pyn. En wie wil nou jaar in en jaar uit gedigte skryf oor die afwesige vader, isolasie, nostalgie, verlore liefdes as jy ‘n ryk sakeman kan wees? Of ‘n gigolo?

III. Dolosgooiers van die woord

Ware digters mag verskil in aansien, maar hulle het almal dieselfde DNA. Hulle bly aanhou, aanhou, aanhou totdat hulle ‘n uitgewer vind wat belangstel. En bly hulle voortskryf – ten spyte van wat ander mag sê of nie sê nie. Trouens, daar is digters wat doodgeswyg is en tog aangehou is. Thomas Wentworth Higginson het na sy kritiese reaksie nie vir Emily Dickinson stilgemaak nie. Sy het nou wel in haar lewe net 7 verse gepubliseer nie, maar steeds bly dig.

Neem kritiese raad ter harte en move on.

Gaan kyk na die resepsie van De Lange se bundels deur die jare en wat ‘n opdraande stryd dit was vir hom om te kom tot waar hy nou as ‘n gerekende digter staan. (Die resepsie van die digkuns en prosa van Johann de Lange. Polemieke en enkele onderhoude)

IV. Digterlike diagnose

‘n Gevestigde digter en jonger digter is die samestellers van Nuwe stemme wat nou al die vyfde nommer beleef. Dit is ‘n vertoonkas vir jong digters wat nog nie genoeg gedigte het vir ‘n solo-bundel nie, maar genoegsame belofte vertoon. Daar is vele talente wat deur hierdie proses van werkswinkels en publikasies beweeg het tot ‘n volwaardige digdebuut. Die werkswinkels, so verneem ons, is al hoe “dringender”. In die pers noem Loftus Marais die bundel “byderwets, vernuwend en relevant” ("18 nuwe stemme klink op", Beeld, 14 Mei 2013 ) [1].

Byderwets en relevant ja, vernuwend dalk nie oral nie. Vernuwing is ‘n groot woord. Die drif-tot-vernuwing is ‘n bo-menslike eis; en wat dikwels as vernuwend gesien word, staan reeds in menige gepubliseerde gedigte. Vernuwend as kritiese eis is dikwels moeilik – en “vernuwend” is digters wat die kanon dramaties verander. Figure soos Opperman, Breytenbach, Cloete, o.a. Andersins praat ons eerder van ‘n eie stem.

Die bloemlesing bevat ‘n deeglike verantwoording van Heilna du Plooy. En ‘n goeie inleiding deur Loftus Marais. Du Plooy skryf sober, akademies en Marais wys op die onnodigheid van so ‘n inleiding, omdat die gedigte op hul eie bene moet staan. Die bundel bevat ook nie biografiese besonderhede van die digters nie; ons word dus gedwing om te fokus op die gedigte.

Nou die bundel – terloops, die lys van name agterop is onvolledig en ons sien net name en gedigte. Geen bio-inleiding wat die aandag aftrek of jou bevooroordeeld maak nie.

Met ‘n eerste lees, val hierdie verse my op:

Gerhard Bothma: Silhoeëtte” (21)

Joan-Mari Barendse: America’s next top poet”(40)

Desmond Painter: By die reünie”(61); “Jy het Griekeland gehaat” (65) ; 
“Sondagmiddag” (67)

Neil Cochrane: Lyfvaart: pastiche” (75)

Fanie Viljoen: dekonstruksie” (85)

Alwyn Roux: Teken” (97)

Ihette Jacobs: The sound-of-silence” (104)

Jaco Barnard-Naudé: Manu magister” (55)

Hilda Smits: deesdae is Londen my stad” (111)

Pieter Odendaal se “die eerste steen” (129); “Meiose” (151)

Natuurlik verraai dit iets van my leesvoorkeure. Ek hou van reisgedigte, reünies, pastiches of postmodernistiese speletjies, intertekste, stiltes, afwesige lover’s wat die vers aanstig en die tegelykertydasapek van die gedig: daar waar die onderwerp en die tegniese aanslag een word. Kortom, ek hou van tegniek. Maar tegniek soos ‘n bedrewe gokker jou kul met ‘n vinnige beweging van die hand.

Met ‘n tweede lees, sien ek hierdie twee verse op die Versindaba se webblad:

Overberg

berge ou seer lywe
in die wind
onder ’n papryp son
gis lande koring
skape drentel rond
’n valk se skadu
volg hom oor die afgrond

(Gerhard Bothma)

Ja, less is more. Die slot en begin is treffend. En hoe meer ‘n mens lees, hoe meer karring die vers aan jou gemoed.

vir pa, soos die ander

pa die sluise bruis vanaand weer soos in kanale are wat bars
deur die nate van tyd pa ek was in amsterdam die water het
geblink in die donker daar was swart vlekke swane en ons het
bier gedrink en geproost soos regte kaaskoppe pa en daar was
sprake van groningen in ’n bar daar was lang mans wangbene
gekap uit been en voor vondelpark het ek vir eybers
raakgeloop en mense het binnensmonds gemompel en ek het
op die punte van my tone geluister soos toe ek as kind julle
geheime taal wou ontsyfer daar was die flits van fietse in lane
my kamera-oog het geknip gefokus die dag het silwer geskarrel
in die tonnel van my oog en in die sekondewaas was ouma
hilda ook daar saam met jou pa

(Hilda Smits)

Die interteks is kennelik Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark”. Ongelukkig oordonder die interteks die vers. Moenie sleg voel nie. Sy sny ons almal se tonge uit. Boonop kry ‘n mens die gevoel die digter het nog nie uitgekom by dit wat sy werklik vir die pa (en ander) wil sê nie.

Wel goed is die bewussynstroomtegniek en die assosiasies wat die spreker maak.

V. Swaarte- en Ligpunte

In haar sinryke inleiding vra Heilna du Plooy onder andere:

Hoekom lees ons gedigte, terwyl gedigte tog nie die wêreld kan verander nie?

Sy wys op die tematiek in die bundel: die liefde, die dood, vigs, die media, die ouers (veral die vaderfiguur), ontnugtering, e.d.m. – bekende bakens in die digkuns…

Hoeveel van hierdie gedigte kom by Roman Jakobson se eis uit, naamlik om gewone taal georganiseerde geweld aan te doen?, soos Du Plooy dan aanhaal. Om die klip dus klipperiger te maak, soos Sklovský dit so netjies geformuleer het.

En hiervoor kyk ‘n mens na beelde en nie na persoonlike opmerkings van die digters nie.

Enkele kanttekeninge:

Georganiseerde geweld of om die klip “klipperiger” te maak is waarskynlik die moeilikste eis van die digkuns. Aan nuutsegging of oorspronklikheid word die digter immers gemeet.

Met my derde lees, is ek veral onder die indruk van die oorspronklike beelde in die gedig “Ballade” (135) van Pieter Odendaal.

Die treintrok het gedig geword
die lied was ons enjambement
en almal was veeltalig een,
behalwe die simpel vent.

En “oë wat sci-fi-strale skiet” is ook skerp.

Die digter bring die wêreld van die digkuns, treinry (ja die strofes is soos treintrokke) en beelde uit die filmwêreld. Ook die aanwesigheid van selfone word hier ingebring met die wete dat die digkuns tóg iets is waarmee die spreker ander kan uitoorlê. En dis hierdie geloof in die digkuns wat waarskynlik soveel belofte inhou vir hierdie digterskap. In die gedig “die see glim soos die weerkaatsings van die boek” (131) is daar dieselfde ont-plooiing van taal.

Ek dink hier aan “die kerktoring se stilblyvinger”, “ry daar ‘n fiets // uit die garage van my harsings” (131).

In “Meiose” (132) lees ons oor die pa: “sy maag peul uit soos ‘n struggle song”.
“die eerste steen” (129) (vir Adam Small) is ‘n vers wat reeds wyd aandag ontlok het. 

Hilda Smits se “Vir Primo Levi” (114) imponeer eweneens.

“By die reünie” (61) van Desmond Painter is die onthoubare beslis:

Die maan is ‘n semenvlek
op die swart onderbroek
van die aand…

Tegelykertydsaspek:

Daardie gegewe waar die gedig twee sake oormekaar skuif sodat dit één word, vind ons by Jaco Barnard-Naudé in “Manu magister” (55)

Manu magister

die een hand
           reik skielik
oor ’n styfwit tafeldoek
            na die ander
hand
die een hand vreeslik femme
           die ander o so straight:

’n gedig ontspring
by verbode aanraking.

en in “Overberg” (20) van Gerhard Bothma wat ek weer aanhaal om my argument te staaf:

Overberg

berge ou seer lywe
in die wind
onder ’n papryp son
gis lande koring
skape drentel rond
’n valk se skadu
volg hom oor die afgrond

Temas:

Gedigte oor ouers en siekte vind ons hier – soos “Alzheimer” (123) van Izak du Plessis waarin die siektetoestand konkreet verbeeld word. “Die moeitelose selfmoord van dominee De Waal” (126) wys hoe ‘n psigiese dood in wese ‘n soort selfdood word.

Die liefde vind weerklank in die snaakse “The sound-of-silence” (104) van Ihette Jacobs. 

Joan-Mari Barendse se “America’s next top poet” (40) is ironies oor die vraag: kan ‘n mens met toewyding ‘n digter word soos ‘n supermodel? Absoluut!

America’s next top poet

Volgens ’n voorste modelafrigter
kan enigiemand
met toewyding
’n goeie dieet
strawwe oefening
professionele grimering
ontwerpersklere
plastiese chirurgie
en die regte gene
’n supermodel word
ek wonder
geld dit ook vir digters?

Eensaamheid en nostalgie is te vinde in die digkuns van G.P. Terblanche.

Die skryfproses en die bemoeienis met die digkuns is ‘n belangrike tema vir Hendrik van Niekerk wat selfkrities blyk te wees oor die “metaforiese branders” (33, “Verligting in skoon word”). Desmond Painter ervaar ook die skryfproses en die gesprek met die liefdesgedig in Afrikaans wat dikwels op ellende en eensaamheid uitloop (“Sondagmiddag”, 67).

Die “geding met God” vind ons by Wicus Luwes in die aangrypende “’n Beknopte lewe” (43):

ons lewe in skofte
en leer honde om hul pote vir ons te gee…

Oloff de Wet en Desmond Painter gee indrukke van ‘n vreemde landskap soos in “moya” (49) en “Jy het Griekeland gehaat” (65).

Die impak van TV en die impak van plastiek word verïroniseer deur Fanie Viljoen in “plastiek” (87).

Die skilderkuns as uitweg en digterlike konstruk vind ons in “Sneeukoningin” van Gisela Ullyatt (92).

Toespelings:

Adriaan Coetzee se gedig “laat die kind kom” (118) speel in op Leipoldt se oorlogsverse oor die Boereoorlog en Ingrid Jonker se beroemde gedig wat Mandela weer lewendig gemaak. Dit is ‘n slim gedig, omdat die leser se voorkennis van die geskiedenis aangespreek word. Dit aktiveer eweneens die taalstryd.

laat die kind kom

laat die kind kom na my Afrikaansklas
om sy taak oor Leipoldt
in swak skrif op rooi karton
naas plakkate van landmyne en handgranate
teen die muur te plak
laat die kind kom en my halssnoere
op die voorblad bespreek in Voorligting
laat die kind kom na my skoolsale
vol foto’s van Kruger tot Mandela
en Hoe groot is U sing

Neil Cochrane en Alwyn Roux se gesprekke met die tradisie is gesofistikeerd. Eersgenoemde met postmodernistiese aanslag (“Lyfvaart: ‘n pastiche”, 75) en laasgenoemde in sy gesprekke met Breytenbach.

Desmond Painter bely pront hy het ‘n gedig afgekyk (“Aanvaarding”, 62).

Carina van der Walt maak aanspraak met die mona lisa-obsessie in “Amon L’isa” (79) en “kontra-komposisie” (81) word ‘n slim kuns-paper chase.

Fanie Viljoen noem ‘n gedig “dekonstruksie” (85).

Tegnieke:

Facebook maak hier konkreet sy opwagting (Desmond Painter se “Vier Facebook Status Updates”, 71).

Daar is beeelddigte – wat dui op groter afstand van die self – soos die gedig oor Rosa Luxemburg (“Gesoek: Rosa Luxemburg” van Jaco Barnard-Naudé, 58) en die reeds genoemde “Vir Pirmo Levi” (114) van Smits.

Die spel met die sonnetvorm is ook hier (“Jeugfoto: ‘n vals sonnet”, 55) van van Barnard-Naudé. Die vierreëlige vers word aangetref in “Silhoeëtte’ (21) deur Gerhard Bothma.

Die distigon vind ons by Barnard-Naudé in “In transit” (54).

Adriaan Coetzee maak ons attent op die aanwesigheid van die speltoetser (“Instrumentalis”, 117) en die spanning tussen natuur en masjiene.

Die kaberetagtige vers vind ons ook hier, soos by Desmond Painter wat die oeroue spanning tussen die lied en die digkuns aktiveer (“Miss Jesus”, 63).

Neil Cohrane is speels en ironies in sy pomo-verse.

Kritiek:

Die naamregister agterop is onvolledig.

Boeke en internetverwysings vir verdere bestudering:

A.P. Grové: Woord en wonder. Nasou, 1984.
Henning Snyman: Mirakel en muse. Perskor, 1983.
Camille Paglia: Break blow burn. Knopf Doubleday, 2005.
Ottone M. Riccio: The intimate art of writing poetry. Prentice Hall, 1978.
Johann de Lange se blog Kaapse paragrawe.

Heilna du Plooy sluit tereg haar inleiding af met ‘n verwysing na Sheila Cussons, iemand wat destyds in Opperman se Stiebeuel-reeks gedebuteer het en gegroei het tot een van die grootste digters in Afrikaans. Haar debuut Plektrum bly ‘n hoogtepunt.

Kom ons kyk wie gaan genoeg stamina hê om alleen te debuteer. Daar is genoeg blyke van genoegsame talent in hierdie versameling wat ‘n mens hoop gee vir die “loneliness of the long distance poet”.
                  
Ek wil nie al die gedigte aanhaal nie, omdat die leser die boek moet koop!

Junie 2013

Joan Hambidge

Is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK. Haar laaste bundel heet Lot se vrou (2012). In September verskyn Meditasies by Human & Rousseau. Vir Visums by verstek (2011) is sy bekroon met ‘n ATKV-Woordveertjie. Hoe ouer sy word, hoe meer voel sy dat net vleis en tamaties gegradeer behoort te word.

Sy glo ook dat ‘n mens met elke bundel soos ‘n slang moet kan vervel en nuwe tegnieke onder die knie behoort te kry. Haar blog heet Woorde wat weeg

Sy is op pad Viëtnam toe aan die einde van die jaar en probeer haar hand waag aan die luc bát. (Lục bát - Wikipedia, the free encyclopedia)

Endnote:

Rudolf Stehle. 18 nuwe stemme klink op. Beeld, 14 Mei 2013.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Versindaba geplaas.]