Showing posts with label André P. Brink en die spel van die liefde. Show all posts
Showing posts with label André P. Brink en die spel van die liefde. Show all posts

Sunday, May 26, 2019

Polemies | Sexton – Brink – De Kock

I

Leon de Kock se biografie van André P. Brink (André P. Brink en die spel van die liefde) aktiveer 'n belangrike debats- en brandpunt. Wát mag in 'n biografie opgeneem word en wát moet liefs verswyg word?

Is dit dalk hierom dat Barthes sy outobiografie in die derdepersoon geskryf het: Roland Barthes par Roland Barthes?

V.S. Naipaul het indertyd opgemerk dat hy nie omgee wat oor sy turbulente lewe geskryf word nie. Kennelik 'n man wat gevoel het dat sy romans steeds sou bly staan.

My life is short. I can't listen to banality.

Daar is ook skrywers wat soos 'n poppemeester beheer word deur die biograaf sodat lesers wat die werklike skrywer geken het dikwels voel dis 'n hagiografie.

Mag 'n ander mens ingesleep word by die skrywer se vuil wasgoed wat in die openbaar gewas word? Hoe gemaak met 'n kwalik-bedekte skuilnaam, terwyl almal weet wié Mevrou so-en-so presies is?

Die biografie het nou oorgespoel na 'n ander dimensie met die biograaf wat beskuldig word van rassisme, 'n uitgewer wat hulle glo wil distansieer van hom indien dit waar is en verdere berigte oor 'n opname in 'n inrigting.

Ek het reeds in my resensie geskryf dat 'n Janet Malcolm-analise (via haar knap analise van Plath) gemaak sou kon word van die biograaf se belangstelling in die skrywer – 'n insig gepubliseer vóór die hele debakel. De Kock is immers die skrywer van 'n roman met die titel Bad Sex; Brink het bad sex ondersoek in al sy avatare.

Truth is always stranger than fiction.

II

Kom ons beweeg buitedie arena van Suid-Afrikaanse landskap na die VSA om hierdie problematiek beter te begryp.

An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski wat by Routledge in 2012 verskyn het, is 'n relevante toetsgeval. De Kock verwys eweneens na Sexton in sy studie.

Anne Sexton (1928 - 1974) was (en bly) 'n belangrike Amerikaanse digter wat belydenisverse geskryf en uiteindelik selfmoord gepleeg het, onder andere weens bipolariteit. Sy sien 'n terapeut, ene dr Martin Orne, wat haar aanmoedig om gedigte te skryf om die pynlike verhouding met haar vader te verwerk.

Sy was 'n tydgenoot van Robert Lowell en Sylvia Plath, beide troebel figure, maar uitstaande digters.

The Awful Rowing Toward God (1975) is een van haar belangrikste bundels. Uiteindelik vergas sy haarself tuis in haar motor.

Diane Middlebrook, haar biograaf, ontvang bande van dr Orne waarin sy suggereer dat sy haar dogter seksueel aangerand het en dat sy deur haar vader gemolesteer is. (Die dogter het toestemming gegee dat Middlebrook dit mog gebruik en nadoods het die dogter Linda Gray as redakteur van haar versamelde gedigte opgetree). Die biografie verskyn in 1991, uitgegee deur Houghton Mifflin Company.

Problematies dat die terapeut hierdie inligting verklap het. En nog meer problematies: wat is waar? Wat is fantasie?

In 1994 publiseer die dogter haar memoir: Searching for Mercy Street: My Journey Back to My Mother, Anne Sexton. (Little, Brown & Company).

Johann de Lange het haar in een van sy vadergedigte verewig en die uwe het eweneens in gesprek getree met haar.

So lui De Lange se vers:

Pa

Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.
Anne Sexton

Ander miskien nie maar ek onthou
dat jy ’n bouer was
met groot hande wat steen
op steen kon pas,
so sekuur was in wat jy doen
& tog tuis alles kon verbrou.

Maar ek vergewe jou.

Die hart hou sy eie almanak.
Stene kon jy beter as woorde vat:
skielik was daar ’n wolkekrabber,
’n padkafeetjie langs die pad;
jy kon lugkastele bou, na cowboy-flieks gaan kyk,
of vuurhoutjiepatrone op my Bybel plak.

Maar ek vergewe jou.

Ander aande het jy mandrax gedrink
& vroeg gaan slaap, moeg,
die woonstel onherbergsaam gemaak
met jou hortende asem. Die kroeg,
enklave waar jy kon ophou kwel,
het sy grys vergetelheid geskink.

Maar ek vergewe jou.

Ek het soveel van jou liefde verwag,
asof dit sement was
wat ons almal bymekaar moes hou.
Ons kon nooit juis waterpas
oor sake sien nie:
ek was haaks & jy was veels te sag.

Maar ek vergewe jou.

Hoe gaan ek daardie trotse onbegrip
ooit weer agterhaal, die gebroke huis weer heel?
My dapper swye verbreek ek nou,
& mag dié onvolkome stene my nie faal.
Onbeholpe cowboy van my jeug,
jou naam bly leef in klip.

Ander miskien nie maar ek onthou.

† 17 April 1936 - 16 Mei 1975

Sexton se gedig "All my pretty ones" is 'n klassiek:

So lui die slot:

I hold a five-year diary that my mother kept
for three years, telling all she does not say
of your alcoholic tendency. You overslept,
she writes. My God, father, each Christmas Day
with your blood, will I drink down your glass
of wine? The diary of your hurly-burly years
goes to my shelf to wait for my age to pass.
Only in this hoarded span will love persevere.
Whether you are pretty or not, I outlive you,
bend down my strange face to yours and forgive you.

III

Karina Szczurek © Conrad Bornman

Mevrou Brink die Vyfde het die joernale aan De Kock gegee. En toe sy besef dat die biografie ontspoor, dit probeer terugeis.

Vir my gevoel is sy verantwoordelik vir die skending van mense se privaathede en briewe wat sonder toestemming in die biografie opgeneem is. Uiteraard het dit aan Brink behoort, maar ek is daar seker van dat Brink die outeur nie sou vrede hê met wat nou afspeel nie. Boonop verminder dit sy statuur as romanskrywer. Die dagboeke was doodles en om sy gemoed skoon te maak en beslis nie – volgens my – vir die openbare oog bedoel nie. Al meen die eksekuteurs nou anders.

Hierdie hele onaangename insident bewys opnuut dat dit beter is om net die romans of gedigte te lees en nie kennis te neem van die gebroke / morsige "mens agter die boek" nie.

Joernale mag psigoanalities en teoreties beskou word, maar dan nie met so 'n skinderlistige aanslag nie.

Monday, May 20, 2019

Resensie | Leon de Kock – André P. Brink en die spel van die liefde (2019)

Leon de Kock – André P. Brink en die spel van die liefdeJonathan Ball, 2019. ISBN 9781868427949

Resensent: Joan Hambidge

Nommer Asseblief!

Hierdie biografie aktiveer die Afrikaanse letterkunde as een groot plaastelefoon met vele inluisteraars.

Brink was en bly 'n belangrike teoretikus, 'n uitnemende kritikus, behalwe oor Karel Schoeman se werk of 'n paar opponente soos Pieter van der Lugt wie se digkuns hy verminder het. As hy gedink het Eleanor Baker skryf goed, moes Rita Gilfillan en Jorda Louw uit die pad gevee word.

As 'n romanskrywer het hy etlike bakens geskep: Lobola vir die leweDie ambassadeurKennis van die aandInteendeel, om 'n handvol te noem.

Sy dwarsklap na Nadine Gordimer wys op 'n breuk tussen die openbare beeld en persoonlike siening: applous vir Gordimer in die openbaar; venynig agter die hand. Hy noem haar 'n "colonial Tory" (166).

Die skrywer Wilhelm Liebenberg, wat die voortreflike parodie As die nood hoog is (1993) gepubliseer het, kry wel die kans om sý kant van die saak te stel as voormalige kollega van Brink op Rhodes. 

Brink se werkvermoë en -drif is bekend: kyk gerus na sy bydrae ook as vertaler en mentor vir ander skrywers. Sy politieke profiel en optredes kan eweneens vermeld word, nes sy kritiek op apartheid en sensuur. 'n Ware Don Kiesjot. (En dit is 'n roman wat hy vertaal het en waaroor hy insigryk geskryf het.)

Sy verhouding met Ingrid Jonker is opgeteken in Vlam in die sneeu (2015). In hierdie briefwisseling sien 'n mens Brink in aksie: venynige opmerkings o.a. oor wyle Chris Barnard. Die uwe het self in Philida geland wat in 2012 verskyn het as 'n bedenklike karakter, omdat ek hom durf kritiseer het oor die Rabie/Wallace-beurs. Ek bly egter steeds wonder: hy was tog 'n gevestigde skrywer met 'n internasionale aansien. Met twee huise, nie waar nie? Nou blyk die geldnood in die biografie...

'n Vurk in die pad word dan ook bittergou 'n Vark in die pad (soos 'n woedende literator homself weerspreek het). 

Leon de Kock had toegang tot die handgeskrewe joernale geskryf in die “teenwoordige tyd onvoltooid". Die laaste eggenoot, Mevrou Brink die 5e, het dit aan hom oorhandig en subiet was daar in die kusdorpie waar ek woon, bespiegel oor of die ander vroue hiermee gediend sou wees? 

Skuilname word gebruik om mense te "beskerm", maar 'n literêre speurder weet onmiddellik wié Angela is, en in Hoofstuk 8 ("Verootmoediging") word 'n minnares wat met Brink ʼn verbintenis had as ene Yvonne beskryf. Ook hier wis ek van wie gepraat word en 'n mens kan maar net dink wat Yvonne en Xavier hiervan gaan dink. Dieselfde geld die vierde mevrou Brink waaroor ander mense, lewend en dood, negatiewe kommentaar lewer.

Of hierdie boek 'n mens help om die skrywer se liefdesobsessies en ambivalensies beter te verstaan, is wel so. 'n Mens kry bepaald insig in 'n komplekse en gedrewe persoonlikheid. Terselfdertyd vind hierdie leser die grensoorskrydende opmerkings oor 'n eggenoot van Brink (en die kommentaar van sy vriende) wreed, onaangenaam, ontoepaslik en uiters gemeen.

Na die dood van die beroemde Amerikaanse digter Anne Sexton het haar terapeut, dr Orne, die onderhoude wat hy opgeneem het, bekend gemaak. Hy is inderdaad geskors as sielkundige, maar sy verweer sal my altyd bybly: "Dit staan tog in die gedigte opgeteken."

Helaas nie. 'n Gedig is nie op 'n een-tot-een-vlak gelyk aan die werklikheid nie en daardie terapeut het kennelik ook nie kon onderskei tussen fantasie en werklikheid nie. Lees gerus An Accident of Hope: The Therapy Tapes of Anne Sexton deur Dawn M. Skorczewski (New York: Routledge, 2012). (Daar word na Sexton verwys in 'n voetnoot.)

Dieselfde geld die joernale. Dit verromantiseer alreeds die werklikheid, en 'n "naked I", op 'n bepaalde manier. De Kock besin wel oor die kwessie dat iets in 'n mate gefiksionaliseer kon wees in die joernale (86). Die beheptheid met seks is reeds in die jeug gewortel en die sublimasie van ervarings en teleurstellings word behendig ondersoek. 'n Mens word as leser ontstel oor 'n jeugervaring met die vader, 'n landdros, se optrede teenoor 'n verskoppeling. Hier word Brink se sin vir geregtigheid gebore wat hy in vele politieke romans sal uitspeel. Die verhouding met die ouers (en die invloed op die skrywer se psige) word helder geteken.  Die soeke na die moeder se goedkeuring loop deur sy lewe.

Die kyksug (skopofilie) van die outeur Brink word behandel (178). Buitelandse resensente se negatiewe kommentaar word geanaliseer; nes die Bad Sex in Fiction-toekenning. Ook die skrywer se onsekerheid oor sy eie vermoëns as skrywer.

As jy lus is vir inluister op die plaastelefoon, is dit die boek vir jou. Nommer Asseblief! Drie lang luie en dis jy. De Kock is inderdaad 'n behendige biograaf: gedistansieerd en analities. En pakkend geskryf.  Hy wys tereg op Brink se teenstrydighede en dat hy in afsonderlike boksies geleef het, by monde van 'n vriendin (241).

Soms is daar 'n voetnoot waar die biograaf sy eie lewe betrek, byvoorbeeld die verwysing na die predikant wat Salomi Louw en Brink in die eg verbind het of in die erkennings.

Die "Brink-tuisargief", soos De Kock dit noem, is deur onderhoude en gesprekke verder geredigeer. Jammer vir onooglike setfoute: finansieël (351, 352, 353), paralelle (176), Andre (177), Eugene (194), potensieël (198), implikase (303) Epos (405), heroïse (426).

As jy glo dat mense die reg tot privaatheid het en daar is iets soos dekorum, lees maar liewers die skrywer se boeke. Want jy gaan 'n hele paar keer stik van verontwaardiging én verbystering. Veral omdat jy nie hierdie boek kan neersit nie.

Lewende mense word nou in hierdie kou vasgevang saam met die veelkantige skrywer, Brink. 'n Mens sou inderdaad De Kock se eie sieninge oor seks (en liefde) soos beskryf in sy tekste kon betrek om te verstaan hoe hy Brink se joernale benader (o.a. Bad Sex gepubliseer in 2011). 'n Mens sou dan 'n psigoanalitiese studie, via Janet Malcolm, kon maak van sowel die biograaf as die geskryfde.

Openhartig, onverbloemd en ongehoord. 'n Fuik in die pad?