Showing posts with label Matriks. Show all posts
Showing posts with label Matriks. Show all posts
Thursday, April 16, 2015
RSG: Joan Hambidge lees verse voor uit Matriks
RSG/Vers & Klank: Joan Hambidge lees verse voor uit haar jongste digbundel Matriks
http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20150414_VERS_EN_KLANK.mp3
Monday, April 6, 2015
Tien vrae: Joan Hambidge oor Matriks
Foto: Naomi Meyer
Digters oor hulle nuwe bundels: Joan Hambidge oor Matriks
Naomi Meyer
Wie/wat is jou muse? Waar ontspring ’n gedig, of dan die kiem vir Matriks, vir jou?
My muse vind ek wanneer ek reis. In vreemde hotelkamers, straathoeke, in kerkhowe …
Matriks het oor ’n lang periode ontstaan, soos die leser kan aflei uit die lykdigte oor bekende figure soos Eveleen Castelyn, Izak de Villiers, Natasha Richardson …
Die voorblad is afgeneem in Ljubljana. Ek neem altyd deure in vreemde ruimtes af en hierdie pragtige deur (in die Zaprtostraat) het ek toevallig gesien en dit bevat al die argetipes van die menslike bestaan: foltering, die ouer-kind-verhouding, die liefde, die priester, oorlog, en so meer. In Jungiaanse terme.
Dit is ook die stad van Žiżek en wanneer ek reis, neem ek altyd sy Pervert’s guide to the cinema saam en ’n Franse en Italiaanse grammatikaboek.
Psigoanalises interesseer my en reis is waarskynlik die beste manier om die onbewuste oop te maak: jy ontdek altyd iets van jouself in ’n vreemde ruimte. Jy kom tot besinning of helderheid.
Wat is die moeilikste deel van die digproses vir jou?
Ek vind dit ’n wonderlike proses. Die enigste moeilike deel daarvan is dat dit ’n mens tydens intense kreatiewe prosesse kan slaaploos maak. Wat dikwels ongemak veroorsaak indien jy die volgende dag afsprake moet nakom of klasgee.
Kom jy as digter soms te staan voor die “Kalahari’s wit papier”? Indien wel, hoe oorkom jy hierdie struikelblok?
Indien ek nie ’n gedig kan skryf nie, skryf ek iets anders. Ek word nooit ongeduldig nie. Die gedig sal terugkom of sig aanmeld wanneer die tyd reg is. Skryf is ’n dissipline. Inspirasie moet daar wees, maar die werklike digproses is om al die buie te kan akkommodeer: ’n pynlike ervaring of herinnering; die dood van ’n geliefde of verhouding.
Melancholie. Ek ken al die anatomie van my melancholie.
Selfs ’n gelukskoot wanneer jy iets oorwin, kan help met ’n struikelblok. Maar dig spruit juis uit teenstand …
Sou jy sê dat jy in jou digkuns fyner ingestel is op klank of op beeld; of is klank en beeld vir jou intiem verweef?
Die digkuns is vir my sowel klank as beeld. Sintuie is werktuie, het Opperman geleer. Ek lees my gedigte ook voor om die balans tussen klank en beeld te kry en oortollige woorde uit te haal. ’n Ruk terug moes ek ’n gedig van een minuut voorlees vir kykNET: “The drama of being a child” uit Lot se vrou.
Die gedig was langer en ek het woorde uitgehaal wat dit die lengte laat oorskry het en die gedig verander na Zanzibar in sy beeldvorm omdat ek foto’s van Zanzibar had.
Hiermee illustreer ek dat gedigte ook maakwerk is.
Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?
Ek luister altyd na redigeerders en fyn lesers. My eerste leser is die digter Johann de Lange. Dan kyk ek na keurverslae en kyk na klein aanwysings soos woordorde of parenteses wat moet waai.
Tot op die laaste oomblik is ek altyd in die hande van my redakteur en ek aanvaar (met dank) die uitwys van klein foute of voorstelle.
Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?
Vir my is skryf joernaalhou. Toe ek onlangs weer in Buenos Aires was, het ek na Verdraaide raaisels gekyk. Met deernis na die mens wat ek was. Maar uit hierdie leeservaring kon ek opnuut na Suid-Amerika kyk, ’n landskap wat my begeester. Ek is reeds besig om ’n reis na Chili te beplan, vir ’n tweede besoek, aan die einde van die jaar.
Santiago de Chile. Ek sien uit om weer na Neruda se huis te gaan …
Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?
Ek skryf aan ’n bundel, Indeks, ’n kortverhaalbundel Kortaf, ’n opera Anti-Laius en ja, ’n roman: Die buikspreker. Verder het ek ’n blog waarop ek my reaksie op films of boeke plaas. Dit heet Woorde wat weeg.
Om te skryf is om intenser te lewe. Jy lewe eintlik twee keer: eers werklik en dan in die skryfwerk.
Watter digters of skrywers lees jy graag?
Dit verander voortdurend. Maar ek keer altyd terug na Opperman en Eybers. Verder lees ek alles wat in Afrikaans verskyn en probeer byhou met resensies en reaksies. Verder lees ek De Lange indringend vir ’n studie oor sy werk en ek gee ook ’n kursus oor hom.
Ek is gaande oor “verlore digters” soos Freda Plekker.
Tans is ek opnuut begeester deur Sheila Cussons. Die swart kombuis is gewoon briljant.
As jy terugkyk oor die landskap van die Afrikaanse digkuns, wat val jou op, indien enigiets? Is hier vir jou patrone of enigiets wat verander het of aan die verander is?
Daar is waarskynlik meer digters, meer stemme. Die populistiese stem is meer hoorbaar. Maar die digkuns het te make met stamina … “the loneliness of the long distance rhymer”. Jong digters met talent is daar bepaald, maar ’n mens wonder hoeveel gaan aanhou, uithou.
Hoeveel van hierdie talente sal die drif hê om aan te gaan, want hoe meer stemme daar is, hoe beter vir ’n digkuns.
Hierom meet ek my aan my tydgenote wat in die tagtigerjare saam met my begin het en steeds voortdreun: De Lange, Johann Lodewyk Marais, Daniel Hugo, Louis Esterhuizen, Tom Gouws, onder andere. Daar is vir my geen digters nie, net ’n digkuns – om Neruda aan te haal. Daardie gedig wat jou tref tussen die oë en in die maag. En daar is gode sy dank ’n hele klomp van hulle …
Jy is ook baie bekend as resensent. Wat sou jou wens wees vir resensies of resensente in die Afrikaanse boekebedryf op die oomblik?
Dat meer van my kollegas bereid sou wees om te resenseer. Wanneer ’n mens deur die jare kyk hoeveel resensies van ’n boek verskyn het (tot tien reaksies in die tagtigerjare), is dit dikwels jammer dat ’n boek na vier (halfhartige) resensies “verdwyn”.
Baie digters en skrywers het veel te sê agter die bakhand. My wens is: sê dit op skrif, want ’n skrywer baat by ’n reaksie. Literatore beskou dit ook as tydmors. Ek helaas nie.
By FineMusicRadio lewer ek elke week ’n kort resensie vir die luisteraar om hulle op hoogte te hou van die jongste ontwikkelinge in Afrikaans. Die impak van ’n resensie is dikwels nie onmiddellik nie; dit help wel later die jong navorser of skrywer om by iets anders uit te kom. Hierom is polemiek in ’n letterkunde gesond.
Maar openlike akademiese argumente, nie Facebook-verdagmakery wat ’n negatiewe of kritiese resensie onmiddellik as venynig of as ’n aandagsoekery afmaak nie.
Alle skrywers moet negatiewe kritiek kan hanteer. Selfs die grote Susan Sontag is gestriem in ’n stadium oor swak films of mindere romans, so wie is ’n Vinnige Fanie of Hansworsie om te meesmuil as sy of haar boek nie die treffer van die oomblik is nie?
’n Kritikus moet streef na die Orde van die Goue Skerpioen eerder as na die Orde van die Goue Heuningkwas.
(Hierdie onderhoud het voorheen op Litnet verskyn.)
Thursday, March 12, 2015
Matriks bekendstelling
Monday, March 9, 2015
Onderhoud:Willem de Vries gesels met Joan Hambidge oor haar jongste bundel, Matriks
Is die manier waarop die bundel saamgestel is iets meer as wat die individuele gedigte weergee?
Dit is ’n eenheidsbundel waarin ek die verskillende betekenisse van die begrip matriks ontgin, soos die leser kan aflei uit die gedig “Doubling the point”.
Gedigte binne bundelverband kry altyd ander betekenisse wanneer dit ’n familieskap sluit met gedigte róndom hulle. Só wen hulle aan betekenis.
Dit bly egter die leser se voorreg om gedigte saam te snoer en Keanu Reeves te speel.
Wat was vir jou rigtend toe jy die verse van Matriks georden het?
’n Titel is die rigtingwyser waaromheen ek die gedigte uitbou. Dit is die bouplan vir die katedraal waaraan ek werk.
Die bundel het oor ’n lang periode beslag gekry. Verse wat uit ander bundels gehaal is, kon hier ’n rusplek vind. My belangstelling in psigoanalises, let op die meervoud, het my by herhaling na die belangrikheid van die matriks geneem.
Vertel asseblief van die omslagbeeld en hoe dit met die inhoud skakel.
Ek neem altyd deure af in vreemde ruimtes en hierdie pragtige deur het mý afgeneem, soos iemand opgemerk het. Ek het eers later presies gesien wat alles daarop uitgekerf is: die hele lewe is hierin opgesluit, soos die moeder en kind, die priester, die geliefdes, foltering . . .
Al die belangrike argetipes dus.
Ek het die foto – ’n gelukskoot – afgeneem op ’n deur in Ljubljana op ’n reis verlede jaar deur Serwië en Kroasië. Die deur se straatnaam kan die speurende leser opmerk. Dit staan na regs.
Ek gaan haal my gedigte ver, het T.T. Cloete eenkeer vir my in ’n e-pos geskryf. In vreemde ruimtes is dit net jy sonder die stutte en beskermingsmeganismes wat jou dikwels wegneem van belangrike sake.
In hoe ’n mate is die verse in hierdie bundel ’n bewuste (en kritiese) spel met syn en skyn, fiksie en feit? Die gedig as egodokument lyk vir my op die voorgrond in van die verse.
Die gefiksionaliseerde ego eerder, ja. Die ek wat namens ander praat. Stem gee aan die oorledenes, die selfdoders, kunstenaars (soos Robin Williams) wat my aanspreek.
Egodokument? Gedigte is nooit egodokumente nie; dan slaag dit nie. Dagboekinskrywings is eerder egodokumente. Die poëtiese ek is nie gelyk aan die werklike ek nie. Hierom fiksionaliseer ek dan ook deur ander digters gesprekke met familie. ’n Gedig is nie ’n getuigskrif nie. Die gedig word ’n “objective correlative”, ’n masker waaragter die “ek” skuil. Hierom word die digter ook as akteur voorgestel.
Die digter van Matriks knoop bewuste gesprekke in verse aan met ander digters en kunstenaars in ander genres. Vertel van jou hantering van hierdie soort gesprek. In hoe ’n mate verskaf ander digters se werk slotte om verse te ontsluit?
Slotte is ook sleutels, het ’n digter ons geleer. Kyk na die sleutel op die voorblad! Dit lê in die leser se vermoë om intertekste of gesprekke te ontsluit. Maar die gedig laat haar nie vaspen nie.
My gesprekke – met Opperman en Eybers – wys op die familieskap van die digkuns. Ook met ander bekendes: Wallace Stevens en Emily Dickinson. En ek spreek Johann de Lange ook aan, ’n werklike vriend, maar ook digterlike broer.
Dit gaan hier in die eerste instansie om die matriks van taal, die chora, soos Julia Kristeva dit tipeer. Marlene Dumas se skildery oor Marilyn Monroe aktiveer die gesprek met al die gedigte, binnelands en buitelands, oor hierdie ikoniese figuur.
Sintuie is werktuie, het Opperman geleer. So hoe maak jy ’n abstraksie of idee konkreet? Daar is ook foto’s by gedigte om die onmag van woorde te aktiveer.
Soms kan die foto of afdruk wél die gedig oorweldig; hierom is ek afgeraai om die foto van Reeva te gebruik. Marilyn se lykshuisfoto is versag deur Dumas. Die tyd het waarskynlik al sand hieroor gewaai.
In die lykverse in hierdie bundel gaan dit telkens om die manier waarop die popkulturele sowel as persoonlike geheue werk, ook die soort verhale- en mite-matryse wat resoneer met die mense oor wie jy skryf. Waar pas dit in by die geheel van die bundel, in hierdie matriks?
Ek het ’n bundel, Lykdigte, in 2000 gepubliseer. En die lykdig as vorm lê my na aan die hart se skrif. Gedigte skryf, is joernaal hou van die tyd waarbinne ons leef en ek probeer iets vasvang in ’n vervlietende en moeilike tydsgewrig waar ons weens tegnologie te veel beleef, te veel sien, te veel weet . . .
Toe Charlie Hebdo gebeur het, kon ek dit alles volg. Dit het my agtervolg tot in ’n hotelkamer in Buenos Aires.
Om te leer om ’n digter te word, is om die lewe te ontleer, aldus Michel Houellebecq . . .
Daar is verdraaiings en vertalings ook, want die onbewuste is in Lacan se terme, teenstrydig. So wat ek hier skryf, mag elders anders uitloop . . .
Só lui die openingsgedig, “Matriks”:
Ek is ek is op
my eie sofa
my eie analis
luisterend
na die analisant
vis na klarigheid
Ek is ek is
op soek na stilte
dansend derwies
Rumi in ’n sirkel
Ek is ek is
op weg van pyn
mis-
lukking
ingeslukte woorde
my tong uitgesny
Ek is ek is
op pad om te sien
hoe die digkuns
se matriks
die gietvorm
moedervorm
deur letterparades
van die Ek
ontset word
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)
Labels:
2015,
Human en Rousseau,
Joan Hambidge,
Matriks,
Onderhoud
Thursday, February 12, 2015
Nuwe publikasie: Matriks (Joan Hambidge)
Die digter se poging tot lewe-deur-poësie, tot skrywende sinmaak uit wat tans gebeur en gebeur het en die ewige wordingsproses van ’n skrywerslewe kom in hierdie ryk bundel aan bod, met al die elemente wat aanhangers van ’n Hambidge-bundel verwag: Die verhouding met die ouers en familie, gesprekvoering met ander skrywers, liefdesverhoudings en hul eindes, reise na verre plekke en gedigte met beelde en bekende sterftes as vertrekpunt. En altyd ’n flink digterlike reaksie op gebeure wat die tydvak ontwrig of ontstem, veral waar dit afskeid en aflegging behels.
Joan Hambidge is een van die bekendste literêre figure in Suid-Afrika. As kritikus en resensent skroom sy nie om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig nie. Sy het al ’n twintigstuks digbundels op haar kerfstok en verskeie romans. Sy is professor in Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. In 2012 is haar bundel Visums by verstek met die ATKV-Woordveertjie vir Poësie bekroon. (Human & Rousseau, R175)
Analepsis
Verslaaf aan die parentese, dit is ek,
wagtend op die finale punt, ook dit is ek.
Niks word ooit ópgehef, niks word vergeet,
aan herinneringe vasgebind soos jy weet.
Ons skeiding (’n soeke na rus) word ’n kommapunt.
Eer ek opnuut begin, tel ek sillabes, dalk ’n amfibrag?
Anadiplosis? Herhaling, liewe leser, my knelpunt.
Geen Pindarus, geen anti-strofe, net ek wag.
Ek is net dit: aan die parentese verslaaf.
(Uit: Matriks. Joan Hambidge)
Subscribe to:
Posts (Atom)


.jpg)

