Showing posts with label Helize van Vuuren. Show all posts
Showing posts with label Helize van Vuuren. Show all posts

Tuesday, February 12, 2019

Resensie | H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations (2018)

H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations. Protea Boekhuis. 2018. ISBN 978-1-4853-0694-8

Resensent: Joan Hambidge

In Andrei Tarkofsky se Nostalgia (1983) lees die gids Eugenia ‘n vertaling van gedigte. Haar reismaat Andrei wys op die onvertaalbaarheid van alle kuns. Sy reageer en wys hom tereg daarop dat as dit nie vir vertalings was nie, ons geen groot Russiese skrywers sou kon lees nie.

Daar verskyn tans etlike vertalings van Afrikaanse gedigte: in 2015 verskyn In a Burning Sea (Marlise Joubert, red.), en sopas het daar ‘n derde uitgawe van Michael Chapman se The New Century of South African Poetry (Ad Donker / Jonathan Ball) verskyn. Daniel Hugo en Zandra Bezuidenhout is aktiewe vertalers van Vlaams en Nederlands. Haar vertaling van Alfred Schaffer se Mens dier ding is puik. Helize van Vuuren vertaal moeilike gedigte op Versindaba.

Hierdie hersiene weergawe van C.J.D. Harvey en A.P. Grové se bloemlesing Afrikaans poems with English translations wat in 1962 verskyn het, is behartig deur drie gesiene literatore: H.P. van Coller (o.a. die redakteur van Perspektief & Profiel), Helize van Vuuren (‘n deeglike Opperman en Breytenbach navorser) en Louise Viljoen, ‘n antoloog van Poskaarte saam met Ronel Foster; met gepubliseerde studies oor Krog en Breytenbach.

‘n Mens sal nie ‘n poësiekenner vind in Afrikaans wat nie by dié projek betrokke was op ‘n manier nie. Twee van my verse is opgeneem (ek verklaar my belange toe ek gevra word om te resenseer); ‘n ander kommentator het vrae gevra oor waarom sekere digters nie opgeneem is nie. Hierdie kwessie sou waarskynlik ‘n hele dagblad kon volmaak.

‘n Handvol digters het opname geweier en die bloemlesing is ‘n projek van die Akademie vir Wetenskap en Kuns (uitgegee deur Protea). Soms berus die kopiereg by eersgenoemde; soms by die skrywer.

Met Groot Verseboek wat alreeds drie kluiwe beslaan, sou ‘n nuwe uitgawe waarskynlik vier volumes opeis. En een leser sou in elk geval nie tans ‘n genoegsame oorsig oor ons poësietoneel kon hê nie. Ten minste vier kenners word benodig; dis nou te sê, as die kleiner uitgewers kopiereg verleen sónder die enorme onkostes hieraan verbonde.

Dalk moet ‘n mens eerder fokus op die vertalers en hoe die digkunstoneel verander en getransformeer het.

Vertalers wat hier hul merk maak, is uiteraard die Branfords, terwyl gesoute digters  soos Guy Butler, Anthony Delius, Sheila Cussons, Charl J.F. Cilliers, en Ernst van Heerden (o.a.) ook behendige vertalers is. Daar is ook Tony en Gisela Ullyatt.

Lost in translation heet Sofia Coppola se film uit 2003. Wat fluister Bob Harris (Bill Murray) in Charlotte (Scarlett Johannson) se oor ten slotte? 

En dis hoe ‘n mens ‘n bundel met vertalings moet lees. Elke vertaler (soos elke kyker) sal ‘n ander afleiding maak, oor wat gesegge word. Sekere digters word moeiliker getransporteer van Afrikaans na Engels, omdat die gedigte te idiomaties, boers; vol kwinte én kwinkslae sit. Byvoorbeeld Breytenbach en Krog. Hoe kan ‘n mens “ek skryf omdat ek woedend is” reg vertaal? Philander se “die bome is kiets” word vertaal as “upright” deur Andries Wessels (162). Die vertaler wou kennelik ‘n rympatroon behou, maar die woord “kiets” se betekenis gaan verlore. 

“A lone goose dropped a feather light” het nie die ritme en musiek van “‘n berggans het ‘n veer laat val” nie.  By Boerneef, ‘n volksdigter, is die gebruik van “thee” problematies, omdat hy juis so uniek modern was in sy outydsgeit (171).

“Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?” uit Petra Müller se klassieke elegie “Nico”, word “persistent anonimity” wat totaal iets anders is (246 - 247).

“Allogot!” word “Holy fuck!” (Marlene van Niekerk, 252) wat wys hoe woorde in verskillende tale anders resoneer.

“Krakeel” word “quarrel” (254). Vraagteken. C.M. van den Heever se “Voëls in die skemering” aktiveer een van die grootste probleme van die digkuns: klank. Hoe vertaal ‘n mens “Voëlgeklepper in die skemer / oor buigende riet” oortuigend? Dit word deur die Branfords vertaal as “In the twilight, birds alighting / on whispering reeds” (48-49). 

Dieselfde geld die problematiek met gert vlok nel se unieke taal wat Leon de Kock aangedurf het. In “i sagte reën het agtermiddag” (286) word “uitgehol” dan “scooted out”. Tog presteer De Kock om die eiesoortige gebroke sintaksis in die Engels op te vang.

Lawrence Venuti se sieninge oor vertaling kom handig te pas. Moet die vertaler onsigbaar bly? Moet jy die teks huis toe bring of oorsee stuur? Of laat die vertaler maar altyd sy duimafdruk in die teks? (Ek is van mening dat die vertaler altyd tog maar aanwesig bly. Gaan kyk maar na D.M. Thomas se Russiese vertalings.)

Hierdie boek het my teruggeneem na Venuti studie The Translator's Invisibility: A History of Translation wat in 1995 verskyn het. Venuti on beteken tog come on!
‘n Goeie vertaler is soos ‘n goeie stemnabootser of ‘n komediant wat ander kan naboots. (Kevin Spacy kry dit volkome reg om iemand anders te word in sy komiese nabootsings. Maar ons weet dit is Spacy wat dit doen.)

Wat fluister Bill tog vir Charlotte?

Ander gedigte beweeg makliker, flinker en word verander in die vertaling. Loftus Marais klink lekker; Nathan Trantraal se egte Kaapse idioom werk nie in Engels vir my nie.

Die leser kry sowel die Afrikaanse as die Engelse weergawe. ‘n Wit bladsy sou ‘n opsie kon wees vir die lesende vertaler wat wil verskil of bywerk. ‘n Mens vergelyk onder andere die verskille tussen Harvey en J.M. Coetzee se vertalings van Ina Rousseau se “Eden” met ‘n kopknik na Coetzee op bladsy 157.

Maar kom ons fokus eerder op die landskap.

Om ‘n oorsig te gee van hoe die digkuns verander het: ‘n honderd van die mees betekenisvolle gedigte in Afrikaans, dit weet die samestellers, is ‘n saak van onmoontlikheid. ‘n Tradisie gewortel in Afrika en binne ‘n internasionale gesprek, danksy die internet, is hoe sake nou daar uitsien. Die probleme van ‘n klein mark en leesgehoor is terloops iets wat alle digters ervaar; aldus Paul Muldoon, die belangrike Ierse digter, werksaam in die VSA. En Muldoon met sy eg Ierse aanslag (en “slant rhyme”) het hom al uitgelaat oor hoe moeilik dit is om sy gedigte te vertaal.

Die indruk wat hierdie bloemlesing by my as leser laat, is hoe enorm gesofistikeerd ons ouer digters soos Marais, Totius, Leipoldt, Toon van den Heever, I.D. du Plessis en C.M. van den Heever al gedig het. En bly Celliers se “Dis al” nie maar ‘n klassiek nie!

Van formele gedigte tot die parlando; van ‘n standaard-Afrikaans tot kaaps; van rym tot vrye vers; van harde werklikheid tot droom; van artefak tot interteks; van punktuasie tot foefieslaaid; van Hoofletters tot kleinletters; van realisme tot surrealisme; van verhewe word tot vloekwoord; van intieme gedig tot woedende politieke aanklag; van ek-wou-nog-sê tot klaarpraat.

En hierdie volgende digter se verse verklap hoe mens soek na die regte grein.

“‘n skaap se derms vir die snare…”
skaapderm en boom plus perdehaar
kom in die geheim
in ‘n mensehart bymekaar.

Só praat T.T. Cloete (258). Nou probeer u liewe leser om bg. te vertaal.

Die landskap-omslag van Kristèl de Weerd is pragtig – dit dui ook weer iets aan oor die aard van hierdie land… ‘n pad wat kronkel, berge in die vertes, bome… Elke kyker sal iets anders hierin raaksien en waardeer. 

Soos dit met hierdie bloemlesing gesteld is. Vir die hiate en oorsigte bestaan daar gelukkig ánder bloemlesings.

En ons sê almal so.

Tuesday, October 25, 2016

Helize van Vuuren - A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature (2016)



Helize van Vuuren: A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature. SUN MeDIA Stellenbosch under the SUN PRESS imprint, 2016. ISBN 978-1-920689-89-6 | ISBN 978-1-920689-90-2 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

A Necklace of Springbok Ears is 'n belangwekkende studie geskryf deur Helize van Vuuren. Sy dra dit op aan Hennie Aucamp, Francois Pauw (vriend en mede-bergklimmer) en aan Barend J Toerien, ook kenner van hierdie tradisie. Al drie vriende wat oorlede is.

Die verhale, mites en digkuns van die /Xam en ander Boesmans word ondersoek en veral die ideologiese dimensies van die tekste word ontsluit.

Dis onmoontlik om op al die komplekse aspekte van hierdie studie klem te lê, maar waarskynlik is die belangrikste afdeling die Watson/Krog-debat.

Die verskillende hoofstukke word netjies saamgeweef soos 'n halssnoer van springbokoortjies. Trouens, elke hoofstuk speel in op die daaropvolgende. Wanneer ‘n mens onder andere die hoofstuk lees “Cultural appropriation: Antjie Krog, Stephen Watson, and Eugène Marais” besef jy hoe die kulturele tradisie geminag en ontken is deur Watson. Hy, op sy beurt, is weer indertyd met die publikasie van Return of the Moon beskuldig dat hy die gegewe gebruik het asof hy ‘n trofeejagter is. Hy het eweneens nou saamgewerk met Pippa Skotnes.

Kulturele transplantasie eerder as plagiaat was dit en sy wys op die verskillende figure wat al met hierdie tekste gewerk het.

En waar negatiewe aantygings gemaak word in hierdie verband wanneer tekste gebaseer is op mondelinge tekste, word die gegewe uiters kompleks, aldus van Vuuren (158).

Aanklagte – en sy betrek Tristia wat met verhulde tekste funksioneer – het myns insiens waarskynlik te make met ‘n tydsgees wat verander. (Post)moderne digters verskaf deesdae endnote vir lesers, vermeendelik om aanklagte te systap. Maar tereg is die debat tussen Krog/Watson eerder ‘n komplekse debat oor oraliteit wat be-skryf word.

Van Vuuren maak ‘n geldige punt in haar studie dat alle skrywers van hierdie oertekste meer erkenning moet gee aan die oorspronklike in hul teensange. En dat hulle name meer prominent op die voorblaaie van bundels of bloemlesings behoort te staan.

Hoewel sy uiters krities staan oor Watson se aanklagte en die “long, distasteful and unnecessary controversy”, maak sy ‘n geldige punt: “… it is also evident that the stature of an established poet is enhanced when drawing from this vital source. In the end material from oral traditions are invariably ‘tapped’ for their vitality by living writers. And the dead cannot speak …” (179).

Haar ekskursies deur al die tekste maak die tersaaklike punt dat hierdie tekste ‘n interdissiplinêre benadering opeis ten einde die oertekste ten volle te begryp (109). Gaan kyk onder andere hoe sy ‘n misinterpretasie van die “uintjie”-lied begrond en hoeveel digters in Afrikaans het al gedigte oor Boesmankuns geskryf: Ernst van Heerden, Boerneef, Barend J. Toerien, Lucas Malan, Johan van Wyk en Hennie Aucamp. (Die gedigte is uitstekend vertaal o.a. deur Douglas Reid Skinner wat die dit vir die buitelandse leser toeganklik maak.) Die uintjie-gegewe speel in op ‘n Toerien-gedig.

Die werk van die romanskrywer Piet van Rooyen word uitstekend onder die loep geneem weens sy besondere gesprek met die Boesmankultuur. Sy was tereg daarop dat kritici (onder andere met Gif) in gebreke gebly het om die identifisering met die Boesmankultuur raak te sien. Die verskillende karakters representeer verskillende fases van kulturele en tegnologiese ontwikkeling: die primitiewe teenoor die Westerse ontwikkeling; gewone, koloniale waarnemers wat geplaas word teen ‘n manlike protagonis wat identifiseer met die kultuur en ‘n “Boesman” word (147). Hierdie waardevolle ontleding is van nut vir die leser wat na dieper insigte soek.

Van Vuuren kan die opposisies – bykans soos ‘n moderne Vladimir Propp – uitwys, omdat sy die kodes ken. ‘n Paar jaar gelede het ek ‘n kursus oor die verskillende dierefigure in Marais se Dwaalstories aangebied rondom die bestaande Afrika-tarot.

Primordialiteit en sjamanisme is belangrike kwessies wat in hierdie kursus bespreek is.

Die generiese term “San” – wat politiek-korrektes gebruik – is ‘n negatiewe woord wat “vabond” of “tramp” beteken in Khoi. Die woord Boesman is tans meer aanvaarbaar en Robert J. Gordon en andere wil die begrip weer “rehabiliteer” (155).

Soos altyd die geval met hierdie soort studie is die bronnelys en endnote van onskatbare waarde vir die speurende leser. Byvoorbeeld, die herinnering aan Rialette Wiehahn se artikel oor al die verskillende interpretasies van Wilma Stockenström se “Die eland”. Verder is daar belangrike kodes wat elke navorser sal inspireer vir verdere leeswerk.

“Man as fire beast” is gebaseer op haar uitstekende D. J. Opperman-huldigingslesing ‘n paar jaar gelede te Stellenbosch. Opperman se “Vuurbees” word uitstekend gelees via onder andere Changeaux se jongste navorsing dat kreatiwiteit sterk interne reëls volg (186).

Op ‘n persoonlike vlak het hierdie leser die stuk oor die lewe en werk van G. R. von Wieligh ontroerend gevind. Die ou verroeste trommel as ‘n metafoor vir sy ellendes: huweliksprobleme, finansiële nood, swak sig, ‘n enkelkamer by sy broer in sy laaste jare …

Die sentrale elemente van sy lewe was: taal, die bestudering van verskillende kulture en reis (40). Die einde van sy loopbaan, in 1895, was in konflik gehul toe hy beskuldig was van sogenaamde wanadministrasie as landmeter. Maar daar kon ook politieke motiewe gewees het. Daar was aanvalle teen Kruger en sy manier van doen in die Transvaal. Van Vuuren plaas briewe van Von Wieligh, selfs ‘n telegram op 13 Oktober 1895 waar hy desperaat is vir werk.

Ongeveer 1898 nadat sy vrou en kinders hom versaak en na die Kaapkolonie vertrek het, verbrand al sy dokumente en daarmee is die soektog na die verlore /Xam-dagboeke verby.

Helize van Vuuren

A Necklace of Springbok Ears is ‘n boek geskryf deur ‘n kundige wat jarelange navorsing vir die leser saamsnoer. Helize van Vuuren het met hierdie boek ‘n kleim afgesteek. Niemand sal ooit weer kan skryf oor enige aspek van Boesman-letterkunde sonder ‘n verwysing na hierdie teks nie. Op dieselfde wyse as wat sy ‘n onbetwisbare outoriteit is oor Van Wyk Louw en Breyten Breytenbach.

Agt hoofstukke wat ‘n mens op enige plek kan begin lees. Elke hoofstuk is inderdaad ‘n oortjie in die enkelsnoer soos die pragtige voorbladfoto - Percival R. Kirby se Bushmen ankle-rattles made from springbok ears - reeds aandui.

Dit is gepubliseer deur SUN MeDIA.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Saturday, September 28, 2013

D. J. Opperman-gedenklesing 2013

Joan Hambidge, Ronel de Goede, Lina Spies, Ingrid Winterbach, Helize van Vuuren,  
Louise Viljoen, en Marlene van Niekerk. Foto: Mariheca Otto

Donderdagaand, 26 September, het Helize van Vuuren die D. J. Opperman-gedenklesing gelewer. Die onderwerp: D. J. Opperman se laatwerk

Dit was 'n inspirerende lesing oor die betekenis van laatwerk en Van Vuuren, 'n ingeligte en deurwinterde literator,  het Opperman se "Vuurbees" op 'n briljante en sinryke wyse ontleed. Van Vuuren het deur die jare veral bekendheid verwerf vir haar kennis van rotskuns, en haar tekstuele speurtogte, onder meer rondom verwysings in Tristia en Komas uit 'n bamboesstok.
*

Die vuurbees
'n Paar punte:

Van Vuuren het belangrike aspekte van Celan se ondeurdringbare verse vir die leser "oopgemaak". Sy het Lacoue-Labarthe en Szondi gebruik om die komplekse leesproses te verduidelik.

Sy betrek Said se On late style, Adorno en Clark om laatwerk te verduidelik en Komas uit 'n bamboesstok vir die toehoorder op 'n ander manier te bekyk. By Opperman is die laatwerk egter nie pessimisties nie - hier beweeg hy weg van die pessimisme wat "laatwerk" kenmerk. Daar is egter in Dolosse egter sprake van die katabasis of afbeweeg in die hel.

Op 'n briljante wyse analiseer sy die Hertzog-prys-debakel toe Tristia bó Dolosse bekroon is en die opmerkings van Lindenberg oor lg. Hoe belaglik blyk dit na al die jare om hierdie twee tekste teen mekaar af te speel.

Sy verwys ook na Picasso en die motief van Pompeï en Dionisiese orgies, die teruggaan na neolitiese kunsvorme en die reis deur miljoene jare se geskiedenis van die mensdom  in Opperman se Dolosse


Lascaux

Ons sien ook 'n video van Lascaux en Altamira om die grottonele te verduidelik - Van Vuuren op haar beste!

Sy betrek ook Jacques Perk se gedigtesiklus oor die grottte van Han - 'n reeks waarvan D. J. Opperman beslis kennis geneem het.

Die gesprek met Blum en natuurlik,  Wilma Stockenström, word eweneens onder die loep geneem:

“Wat ek met berge gemeen het” (Monsterverse 1984:32):

Grot is ek: bewaarder van geslagte
se skreeuende gebeentes en hopies klip.
Grot ek: die berghaan se klankversterker.
Die berghaan draal. Hy sleep skalks
sy klein stompstertskadu deur my,
en met die skaduprent op my tong

stamel ek my ganse leegheid.

Opperman het inderdaad die grotte van Han besoek.

Die Laatfase by Opperman staan egter in die teken van anabasis - 'n positiewe proses.

Ook het Van Vuuren kommentaar gelewer - n.a.v. 'n besoek aan die ICLA-kongres aan die Sorbonne - oor die impak van BDE of byna-dood-ervarings.
*
Die opkoms was uitstekend en met vraetyd het die misverstane debat oor Opperman en die filosofie opnuut aan die orde gekom: Opperman -  hier het ekself en Lina Spies beklemtoon - was nie teen die filosofie nie. Hy het egter as mentor jong studente aangeraai om met hul sintuie te werk: sintuie is werktuie. Gaan lees Kannemeyer se biografie gerus vir die bewys as jy nie die voorreg had om dit in die laboratorium te hoor nie!

Opperman het immers oor etlike filosofiese onderwerpe gedig.

Dit is goed om ‘n uitstekende literator en akademikus aan te hoor by ‘n gesogte lesing.


Prof. Helize van Vuuren


(c) Joan Hambidge