Showing posts with label US. Show all posts
Showing posts with label US. Show all posts

Monday, July 4, 2016

Michelle van der Spuy in gesprek met Joan Hambidge (Eikestadnuus, 2016)


1. Waarom het jy besluit om jouself vierkiesbaar vir die raad te stel?

Ek is ‘n oud-Matie (dus alumna, vroulik!) van Stellenbosch. Ek is ‘n professor aan die UK en beleef as lid van die Skool vir Tale hoe tale al hoe meer uitgerangeer geraak het die afgelope dekade. Ons beleef tans ‘n vloedgolf van anti-intellektualisme wêreldwyd. Facebook en sosiale media het aan almal stem gegee en die demokratisering van Jan en Alleman se mening is die konsekwensie van die postmodernisme. My mening is gelyk aan joune. Wat uiteraard nie so is nie. Wat taalsake betref, moet taalbeplaning en –politiek oorgelaat word aan kundiges en nie aan bestuurslui wat universiteite as semi-besighede (probeer) bestuur nie. Universiteite behoort akademiese en intellektuele ruimtes te wees. Die sogenaamde hutsmerk-generasie is die kollektief van opstand. ‘n Woede wat ons terugneem na die 1968 met die studente-opstande in Parys. Tans is owerhede bang vir studenteonlus en hierdie subliminale vrese het dikwels krisisbesluitneming tot gevolg. John Searle se The campus war lees ‘n mens asof alles nou, sopas gebeur het.

Universiteit – nie mono nie!


2. Is daar spesifieke doelwitte wat jy hoop om by die raad te bereik?

Bepaald. Ten minste ‘n gelyke kans vir Afrikaans en Engels. Sowel Afrikaans as Engelse onderrig. Nicol Stassen (van Protea-boekwinkel) het nou onlangs op Facebook daarop gewys dat studente aan die UP steeds Afrikaanse handboeke koop. So is die gedagte dat studente Engels verkies met vraelyste getoets? Of is dit bloot persepsies en aannames?


3. Wat beskou jy as die US-raad se grootste uitdagings?

Om kongruent en eerlik te wees.

Die dubbelpratery (of dan die ervaring daarvan in die Afrikaanse pers ) moet beter bestuur en geartikuleer word.


4. Wat verwag jy gaan jou grootste uitdaging as raadslid wees?

Om samewerking te gee tussen die verskillende partye. Op komitees moet ‘n mens altyd luister – goed luister – na wat jou opponent sê. Dit help dikwels om jou standpunt te verander. As Afrikaanse skrywer behoort ek tot ‘n minderheidsgroep, ook weens my genderidentiteit; so ek weet hoe om die standpunt van die minderheid te verwoord. En dit is in hierdie geval: Afrikaans, soos 2000 ander klein tale op die kontinent, word gepraat deur mense van alle skakeringe en oortuigings. Met een groot verskil: Afrikaans, soos Hebreeus, onder andere, het ontwikkel binne ‘n kort bestek tot wetenskapstaal. Kyk onder meer na die digter Olga Kirsch wie se Afrikaanse gedigte sterker as haar Engelse verse is.

Hoekom moet ‘n taal wat hier ontstaan het – en gegroei het met Bybelvertalings, verseboeke, woordeboeke, stylhandleidings, uitgewershuise, koerante, die internet en wat nog – trustaan vir ‘n patois-Engels of selfs taxi-Engels? As Afrikaans dui op uitsluiting, hoor ek bepaald iets anders in die Wes-Kaap en selfs aan die UK wat ‘n Engels-medium universiteit is.


5. Jy betree die US-raad aan die begin van wat sekere raadslede die begin van die taalstryd noem. Gaan jy saam veg vir Afrikaans se saak by die US?

My standpunt oor die toekoms van Afrikaans is bekend. Afrikaans as spreektaal is veilig. ‘n Mens moet egter die hoër funksies van ‘n taal beskerm. As voormalige Direkteur aan die Skool vir Tale het ek álle tale beskerm, want inheemse en vreemde tale is verbind aan mekaar. Afrika-tale – so sal linguiste uitwys – kan leer by Afrikaans. Ons is al oor die twintig jaar in ‘n demokrasie en dit is pynlik dat ons regering nie juis iets gedoen het vir die ontwikkeling van Afrika-tale nie. Ek moes egter toekyk hoe Latyn (en Afrikaans!) afgeskaf is by die opleiding van regstudente. Aan die UK het ons ‘n kursus ontwikkel (“Becoming a Doctor”) waarin die jong dokter sowel Xhosa as Afrikaans leer sodat hy sy pasiënt se kwaal reg kan interpreteer. Vra advokate wat gebeur wanneer iemand nie in sy moedertaal kan getuig nie! En hierdie kursus is al langer as tien jaar met ons.

Hoekom moet ons in ‘n land waar diversiteit ‘n modefrase geword het in ‘n eentalige land leef.  Met Engels, wat terloops, op sekere plekke op aarde nie gepraat word nie. Reis na Chili en Engels is in sekere areas niks werd nie. In Brasilië word kolleges begin vir klein dialekte …
Hoekom ‘n taaluitwis wat archi-ideologies benader moet word, aldus Slavoj Žiżek?


6. Die vroue akademici en -studente by die US het die afgelope tyd hul stem dik gemaak sekere kwessies. Wat dink jy is vroue by die US se grootste uitdaging? Is daar spesifieke kwessies wat jy hoop aangespreek sal word tydens jou termyn?

Ek is ‘n genderteoretikus. Uiteraard is genderkwessies iets waaroor ek my dikwels uitlaat. Ek dink ons moet versigtig wees om te praat van ‘n “verkragtingskultuur” aan die US. Dit ontneem vroue van hul agentskap.


7. Is die verteenwoordiging van vroue se belange by die US-raad vir jou belangrik?

As genderteoretikus is die belange van álle minderheidsgroepe vir my van belang: gay, transgender, vroue, mense wat wil Afrikaans praat en vertel word dit is nie polities-korrek nie, ensomeer.


Tuesday, June 28, 2016

Joan Hambidge nuwe lid van US se raad



Kaapstad. – Prof. Joan Hambidge is deur lede van die Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasie tot die universiteitsraad verkies.

Hambidge is verbonde aan die Skool vir Tale aan die Universiteit van Kaapstad.

Luidens ’n verklaring deur die US strek haar termyn van 22 Junie 2016 tot 1 April 2018.

Sy is aangewys in die plek van dr. George du Toit wat voor die einde van sy termyn, 1 April 2018, bedank het.

Lede van die konvokasie het vroeër vanjaar benoemings ingedien vir dié vakature. ’n Verkiesing is gehou nadat meer as een kandidaat benoem is.

Die ander kandidate was prof. Tito Mboweni, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, dr. C.J. Oosthuizen,’n kliniese sielkundige en konsultant, C.G. van Schalkwyk, US-alumnus, prokureur en geoktrooieerde rekenmeester, en J.S. Amupanda,’n akademikus verbonde aan die Universiteit van Namibië.

Thursday, December 3, 2015

Joan Hambidge: Reaksie op Amanda Gouws se "Identiteit is nie die vertrekpunt" (2015)

Amanda Gouws

Brief: Die Burger, 03.12.2015

Amanda Gouws se reaksie in Die Burger (“Identiteit is nie die vertrekpunt”, 1 deser) bring ‘n paar kwessies aan bod wat ek graag hier beantwoord.

Oor die verdwene Randse Afrikaanse Universiteit en waarom Afrikaanse sprekers toe nie hewig reageer het nie. Ek onthou dit anders. Wyle professor FIJ van Rensburg en JC Steyn, en andere,  het hulle sterk uitgespreek hierteen, maar die demografie van Johannesburg kan nie met Stellenbosch vergelyk word nie. Johannesburg is ‘n sterk Engelstalige stadsgemeenskap; Stellenbosch is in die Wes-Kaap geleë met ‘n Afrikaanse gemeenskap. Dis soos om Wallonië met Vlaandere te vergelyk.

En presies waar word taal en kultuur ooit van mekaar geskei?

Sy meen Afrikaans is “verpolitiseer”. ‘n Eng siening van die geskiedenis, veral met Engels se geskiedenis as sterk bemarkers en voorstanders van konsentrasiekampe wêreldwyd. Opvallend dat Britse historici veral sterk standpunt inneem teen die Britse optrede tydens die ABO.

Sy het dit ook teen “uitheemse taalmodelle”. Wel, hierdie “uitheemse” taalmodelle is van toepassing hier te lande. Afrikaans is ‘n semi-kreoolse taal wat behoort aan hierdie land en waarom dit verpand vir Engels?

Om kultuur wat”floreer” gelyk te stel aan die taaldebat, is nie hier relevant nie. Natuurlik sal Afrikaans gepraat word en woordfeeste van krag tot krag gaan. Ons het dit egter oor die posisie van Afrikaans as wetenskapstaal, ‘n posisie wat wat wys hoe die taal getransformeer het van kombuistaal tot internasionale taal wat, nota bene, deur intellektuele in my vakgebied begryp word by internasionale kongresse, omdat hulle Duits magtig is.

Om landverlaters wat hul prysgee met die taaldebat hier te lande te wil vergelyk, is onhoudbaar. Ofskoon daar plekke in Australië en New Zeeland mense is wat steeds Afrikaans praat, was dit húl keuse om hul land te verlaat. En gaan lees gerus Danie Marais se As almal ver is (2009) oor watter impak ‘n bestaan in die vreemde op identiteit het.

As skrywer en dosent van Afrikaans en alumna van die US, neem ek standpunt in teen diegene wat ‘n sterk inheemse taal met ‘n lang skryftradisie probeer verloën. Ook onrusbarend hoe veel mense en polemici hul tans uitspreek oor taalfilosofie (en-politiek) en daar weinig van weet. Gaan lees gerus JC Steyn se klassieke teks Tuiste in eie taal (1980) en dink na hoe 'n Afrikaanse koerant ook afhanklik is van Afrikaans aan universiteite.


© Joan Hambidge

Sunday, November 29, 2015

Joan Hambidge - Afrikaans Maties II


Afrikaans is 'n wetenskapstaal en die huidige debat erken telkemale die posisie van Afrikaans. Die hewigheid van die debat laat 'n mens nadink oor die volgende:

waarom moet ons luister na rubriekskrywers wat Afrikaans minag? Hoekom word hulle idees nie eerder in 'n Engelse dagblaaie uitgestal nie?

waarom laat polemici  (eerder fulguriete) hulle uit oor taalkwessies as hulle nie eens die verskil tussen 'n senaat se rol en 'n raad begryp nie?

waarom word 'n taal wat hier getransformeer het van Hollands en ander tale in sig dra en 'n semi-kreoolse taal is, verminder word?

waarom 'n taal verklein met soveel skrywers, bloemlesings, woordeboeke en vakwetenskaplike tekste?

waarom laat mense wat nie die kompleksiteite van taal begryp nie, hulle nie maar eerder uit oor hul eie vakgebiede nie?

waarom bydraes lees van mense wat nie die verskil ken tussen alumus en alumna nie?
waarom kyk hierdie napraters van Engels nie eerder na Kanada en België alvorens hulle meen ons moet nou die Rubicon oorsteek nie?

waarom word prosedures aan 'n universiteit geminag en moet 'n raad agterna daarop wys dat 'n taalbeleid nie sito-sito verander kan word sonder om al die taakspanne en rolspelers in ag te neem nie?

waarom word 'n drakoniese beginsel geuiter dat die amptelike voertaal (selfs in koshuise!) voortaan in Engels sal geskied?

waarom luister na diegene wat nie die verskil verstaan tussen 'n taal as gesprekstaal en wetenskapstaal nie?

waarom word die gedagte uitgespreek dat dit nie 'n universiteit se rol is om Afrikaans te beskerm nie, maar tog word hierdie debat (wat bepaald nie histeries is nie) oor 'n universiteit veral in Afrikaans gevoer?

waarom die dawerende stilte van onse groot skrywers woonagtig in die Bos?

'n Mens kan net 'n satiriese opera oor hierdie kwessie skryf: Macchiavelli in Stellenbosch. Met die senaat as 'n koor wat mymer "Wiff all respect, Mistah Blyde Boodskap" en "We speaka da Engliesh so internashional and inclusif". Met manlike castrati, fopdos-soprane jubelend op "O moenie huil nie, o moenie treur nie ...". Met die Eersterivier as 'n Rubicon.

Mag die paar helderdenkendes - wat nog oor is - die ryke tradisie van kreatiewe skrywers aan hierdie instansie eer waar hulle manuskripte in bewaring is vir 'n nageslag. Is dit te veel gevra dat daar herbesin word juis omdat die implikasies hiervan ander Afrikaanse departemente en almal wat in Afrikaans werk, mag raak?

Goed dat soveel mense buite die universiteit hierdie ding sien presies vir wat dit is: nogmaals 'n geswig voor die regering van die dag se kortsigtige politieke eise.

Soos dit opgeteken staan: Geniet die oorlog; die vrede gaan erger wees.

© Joan Hambidge

Thursday, November 19, 2015

Joan Hambidge - Afrikaans Maties I

I

Die onthulling van professor Wim de Villiers, rektor aan die Universiteit van Stellenbosch, oor die toekoms van Afrikaans as voertaal is met skok begroet. Dit is geen geheim dat universiteite tans in 'n krisis gedompel is nie en aan Stellenbosch, my alma mater, is die studenteverset - gelei deur die Open Stellenbosch Forum - veral teen Afrikaans geloods. Ons het almal die Luister-video gesien.

'n Nagraadse student aan die UK spekuleer die rektor het voor 'n kruispad gestaan: toegee aan die studente se eise of die kritiek van Afrikaanse simpatisante. Kennelik besluit die studente belangriker is as die dosente, konvokasie, alumni, en ander ondersteuners van die US. Ondertussen het Breyten Breytenbach en Johann Rossouw met skerp en oortuigende argumente gekom oor waarom dit 'n dwase besluit sou wees. Die rektor krabbel terug na die persverklaring en omsendskrywe wat ek in die nag van 12 November gelees het en 'n e-pos waarin hy deur die studente toegejuig word oor sy taalplan wat nog nie deur die raad of senaat goedgekeur is nie. Een e-pos van studente word selfs met 'n Amandla afgesluit. Die senaat moet eers só 'n beleid goedkeur en 'n mens maak die afleiding dat die korrekte prosedure nie gevolg is nie. 'n Raadslid het immers in die pers hiervan kennis geneem.

II

'n Mens onthou hoe daar 'n paar maande terug in die pers berig is (op 'n Sondagoggend in Rapport) dat die Geesteswetenskappe voortaan in Engels sou kommunikeer. Na skerp reaksie is dit ontken, teruggetrek, weggepak, toegedoek. Die jongste besluit het 'n lang geskiedenis (as ek reg onthou): dubbelspraak, 'n voormalige rektor se skuinspraatjies, lekkasies uit die Raad waar een ding besluit word, en in die werklikheid iets anders. Ons het deur die jare verskillende taalplanne aangehoor: T-opsie, tolkdienste, parallelle medium-onderrig; alles woorde wat volgens my strategieë was om Afrikaans al hoe meer uit te rangeer. Hermann Giliomee en Marié Heese (volledig tweetalig en ingelig oor taalonderrig) het telkens gewys op die gevare van verengelsing indien die kwessie van moedertaalsprekers nie in ag geneem word nie. Dus: jy het 'n student wat nie Engels is nie, wat onderrig word deur 'n dosent vir wie Engels eweneens nie 'n eerste taal is nie. Self was ek al by lesings waar hierdie interaksie tussen dosent en student in die sogenaamde "common language" nie deug nie.

III

Daar word toenemend gepraat van "dekoloniseer ons universiteite" en 'n ander mantra is destabiliseer witheid.  (Al wanneer ek bereid is om witheid te destabiliseer, is wanneer ek 'n bottel wit wyn oopmaak.) Hoe ironies dat mense wat universiteite wil de-koloniseer, dit juis doen in die taal van kolonisering. Engels is nie net 'n taal nie; dis 'n magsbasis. Die jongste taaldebat, eerder taalherrie, dui ook daarop dat dit nie net om Afrikaans gaan nie, maar meertaligheid ontken en minag. Boonop word daar 'n Bestuur (die kollektief vir Outoriteit) besluite geneem, terwyl gesiene taalkundiges soos Neville Alexander, Raj Mesthrie en Ana Deumert sou kon help met die aanspreek van hierdie taalkwessie. Alexander se werk bly 'n baken; en laasgenoemde twee linguiste is verbonde aan die UK en sou 'n buite-blik kon gee. Aan die US is daar eweneens gesiene taalkundiges, taalpraktisyne en woordeboekmakers wat sou kon hand bysit.

IV

Maar as 'n Bestuur dit nodig ag om die kar voor die perde in te span, dui dit daarop dat 'n politiek korrekte besluit swaarder weeg as 'n kulturele een. Waarom moet die komplekse kulturele samestelling van 'n kampus vereng word? Afrikaans is Kaaps; daar is tsotsitaal; Moeslem-Afrikaans; Facebook-Afrikaans, Stellenbosch-Afrikaans, ensomeer: maar dit is veral 'n wetenskapstaal en 'n taal met kreatiewe uitsette ('n lekker universiteitswoord) met bekroonde en internasionaal gerekende skrywers. En 'n hele paar woon op dáárdie dorp. Dit is eweneens 'n ruimte waar woordeboekmakers woorde opteken en bewaar. En kundige vertaalkursusse aangebied word.

V

In een omsendskrywe word Afrikaans met vier a's gespel.  'n Verskrywing wat dui op die druk waaronder die skrywer was. Waarom, vra 'n mens jouself af, na hierdie jaar van etlike krisisse (waarvan geen universiteit in die nabye toekoms gaan herstel nie), moet die aankondiging teen latenstyd gemaak word? Dit, terwyl dosente bereid is om uitgestelde eksamens te akkommodeer, etlike aanpassings maak met betrekking tot verlof, ekstra lesings gee, studente bystaan, e-posse uitstuur om nóg 'n krisis af te weer. Administratiewe personeel se werkslading het eweneens verdubbel met die uitstel van eksamens.

Boonop word dit in die pers aangekondig op Vrydag die dertiende.

Krisisbestuur of 'n berekende stap? Maak die aankondiging wanneer almal reeds vuis- en media-voos is van brandende klaviere en traanrook. 'n Senaatsvergadering met waterbottels wat deur die lug vlieg. En nog 'n # op 'n ondeurdagte wyse deur die media flits. Slagspreuke eerder as denke.

Heyneke Meyer se ongewildheid word tans net deur  professor Wim de Villiers se omstredenheid getroef.



Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.


Friday, November 13, 2015

Jean Oosthuizen vra Joan Hambidge oor die US se taalbeleid


1. Daar word gesê almal is mislei. Dit was nog deurgaans die beleid dat Stellenbosch nie ʼn  Afrikaanse of Engelse Universiteit is nie maar hoe nou? Het Engels nou gewen?

Die teerling is gewerp, behalwe as die personeel hulle gaan verset teen die rektor se besluit. Die komplekse debatte rondom Afrikaans as voertaal word met so 'n aankondiging geminag. Afrikaans is 'n wetenskaptaal met woordeboeke, gerekende skrywers en 'n veelrassige taalgemeenskap wat hiermee spreekwoordelik van die taal gevee word. Dit was immers Caesar se woorde toe hy die Rubikon oor is in 49 VC: die teerling is gewerp.

2. Hoe gaan die besluit Afrikaans as akademiese taal raak noudat dit ʼn  minderwaardige plek teenoor Engels gaan beklee?

Hier sal vaktydskrifte steeds Afrikaans se posisie beskerm: Stilet, Literator, Tydskrif vir letterkunde en Litnet-Akademies.  Daar word skynbaar nie besef dat daar bruin studente is wat nie in Engels wil onderrig ontvang nie. Wat van studente wat kies om Stellenbosch toe te gaan? Of maak dit nie saak nie?

3. Wat was die reaksie wat jy tot dusver ontvang het oor die besluit?

Ek het dit laataand verneem, per sms versend na vriende en die reaksie was oorweldigend een van skok en een skrywer, 'n oud-Matie, se sms het gelui: "Veg!" Hierdie aksie is deel van die neo-politiek korrektheid wat tans ons universiteite verswelg. Hoofde van universiteite is besluiteloos en word deur oningeligte drukgroepe rondgeslinger soos 'n skippie in 'n storm. Open Stellenbosch-forum en die verpolitisering van Afrikaans het waarskynlik agter die skerms 'n rol gespeel.

4. Is die nie maar net die begin van die einde van Afrikaans op die kampus nie.

Hier kan 'n mens net The Campus War lees van John Searle (Penguin, 1972). Dis asof dit geskryf is vir hierdie tyd. Searle, die beroemde taalkundige en die skrywer van Speech acts (1969), was verbonde aan Berkeley en lid van die Senate Academic Freedom Committee. Sy analise van drukgroepe se "sincere imbecility" en "preposterousness" wat gebaseer is op 'n utopiese visie (en onkunde) laat 'n mens nadink.

Hierdie taalkwessie moet gelees word teen die agtergrond van Rhodes must fall / Fees must fall wat (as ek my nie verbeel nie) ontaard het in volledige anargisme.

Die aanvanklike protes oor fooie en taal het nou wapens geword in die hande van die massas wat dreig, beset, brand, intimideer; eksamens word selfs geskryf met sekuriteitswagte in die agtergrond aan die UK.

5. Wat is jou boodskap aan almal wat lief is vir Afrikaans en geskok is oor die besluit?

Daar sal 'n groot gefladder wees. PEN-Afrikaans sal reageer, briewe sal deur Die Burger tsoenami en Afrikaanse mense sal in alle waarskynlik gryp na vlugsout, Groot verseboek en CP Hoogenhout se "Vooruitgang" aanhaal:

"Engels! Engels! Alles in Engels! Engels wat jy sien en hor;
in ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor."

En dan sal almal nogmaals besef hoe die wol oor ons oë getrek word. Die aftog blaas en weet dat Hermann Giliomee dit al lank terug voorspel het.

6. Enige iets anders wat jy graag wil  byvoeg na gisteraand se besluit en die aanvanklike reaksie daarop?

Wie het die rektor die mandaat gegee om so 'n aankondiging te maak? Het hy met gesiene taalkenners en filosowe onderhandel? Wie sit op die "language task teams"? Is dit waar dat hy nie die senaat se goedkeuring het nie? Die senaat is die ruimte waar so iets goedgekeur word, nie andersom nie. Selfs die opskorting van Grieks 101 moet deur die senaat gaan.

Die volgende uitspraak wys hoe min die rektoraat (oftewel die bestuur) verstaan van taalhandelinge (ons is terug by Searle).

"In residences and other living environments, students should use English as the common language in house meetings and other official functions. Other languages can be used additionally, and mechanisms like interpretation can be employed."

Ek het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en as alumna verset ek my teen hierdie besluit wat essensieel dui op onkunde, opportunisme en al die sinonieme. O ja, ek sien mense mag protesteer met geen vrees vir viktimisasie nie.

O moenie huil nie, o moenie treur nie, die Stellenbosse boys kom weer.