Showing posts with label ihilihili press. Show all posts
Showing posts with label ihilihili press. Show all posts

Thursday, February 7, 2013

Graham Ellis (e.a.). - Off the wall (2007)



Graham Ellis, Primrose Mrwebi & Heather Parker Lewis (Redakteurs.). Off the wall. ihilihili press, 2007. ISBN 1 920103 03 1.


Resensent: Joan Hambidge

Elke Maandagaand by Touch of Madness in Observatory tree ‘n genooide digter op. Hierna word die mikrofoon oorhandig aan enigeen wat ‘n gedig wil voordra. Hugh Hodge is die sameroeper van hierdie geleentheid.

Off the Wall is die versameling van gedigte van digters wat hier opgetree het en bekendes soos Geoffrey Haresnape, Gus Ferguson, Deborah Steinmair, Mike Cope saam met Ian McCallum en Jacques Coetzee se gedigte word gebundel met minder bekende name. Willem Fransman (jnr.), Primrose Mrwebi (wat die inleiding geskryf het) en Khadija Heeger is ook hier te lese. Swart, wit, Moeslem, Protestants, Katoliek saam.

Die bundel sal waarskynlik veral vir die digters ‘n lekker versamelstuk wees en die bundel moet in alle waarskynlikheid benader word vir wat dit is, naamlik ‘n verslag van gedigte wat voorgedra word.

Hier is ‘n gehoor aanwesig en die tegnieke van die orale vers – soos herhaling, sterk ritmes, klankeffekte, en dies meer -  word hier aangetref.

Gus Ferguson se kragtige “While his wife is away” ondersoek die ellendes van alleenwees en verlange. Terwyl hy kook, eet hy alreeds die bestanddele op!

Geoffrey Haresnape se “Cross Currents” skeer die gek met die “outage” wat ons in Kaapstad beleef het en wat die implikasies van hierdie woord behels. Dit is politiek korrek en die teenoorgestelde van “inage”! Hierdie skerp satire ontmasker die leuens en die effek wat dit op ons almal se lewens gehad het.

Gill Gimberg bewys met haar “Bathroom Schizophrenia” dat humor ‘n noodsaaklike deel van die digkuns kan wees. Die name op die tandeborsels in haar badkamer korrespondeer nie met die name van die huisgenote nie. Te wyte aan ‘n spesiale aanbod, staan hierdie halfprys-tandeborsels in die badkamer. ‘n Speelse analise van hoe jou naam jy is en jou eiesoortigheid vergestalt en in welke mate ons almal uitgelewer is aan die verbruikersgemeenskap se spesiale aanbod. Hierdie gedig sou waarskynlik  baie goed werk by so optrede, omdat dit iets is waarmee almal kan identifiseer.

Vir die leser wat hou van gedigte wat werk met dubbelsprake, komplekse verwysings,
sal daar nie veel gedigte wees wat die paal haal nie. Wanneer ‘n mens hierdie bundel lees, moet jy dit lees asof elke gedig voorgedra word.

“The preparation of food” van Graham Ellis is ‘n voorbeeld van ‘n gedig wat met ‘n voordrag sterker word. Trouens, Willem Fransman neem sterk standpunt in téén sogenaamde “fênsie poetry”. Hy wil skryf soos daar in die Townships gepraat word “soelat ammal my kan ve’staan”. ‘n Loflike gedagte, maar dan weet ons dat Adam Small met hierdie soort praattaal vers groot hoogtes bereik het wat sowel die gewone as ernstige leser behaag (het).

Daar word die afgelope tyd dikwels gemor oor die posisie van die digkuns. Orals is daar egter optredes, bemarkers van die digkuns, gigs waar digters optree met musikante, ensomeer. In By word ons elke week bekend gestel aan nuwe name en reeds gepubliseerde digters se kommentaar hierop, wat tereg al skerp kritiek uitgelok het. Gelukkig skryf die meeste digters ‘n gedig ten spyte van die kritiek wat hulle vir ‘n appel-en-ei verkoop! Anders as wat die meeste mense meen, verskyn daar steeds genoeg bundels en is daar  name name aan die wroet en werskaf. Rome is nie in een dag gebou nie. En ‘n digterlike kentering gebeur ook nie sommer oornag nie. Net die tyd sal oordeel.

In hierdie bundel sal die bekendes dalk bly staan; die ander ‘n blote geleentheidsdigter bly. Maar dit is soos ‘n skoolportret:  nie almal word bekend of beroemd nie. En party word vergete name.

Off the wall is beslis ‘n versameling indien ‘n mens iets van die tydsgees wil opvang.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

h. Parker - The Interloper (2008)



h. Parker. The Interloperihilihili press, . ISBN 978 1 920 103 07 1.

Resensent: Joan Hambidge

Die roman vertel die verhaal van ‘n mislukte romanskrywer wat na haar dood ‘n skrywersgroep ontmoet met Olive Schreiner, Katherine Mansfield en die Brontë-susters.
Die roman word tipeer as ‘n interaktiewe roman met ‘n bymekaarplasing van ‘n veelheid van tekste soos essays, kortverhale, herinneringe en wat nog.

In die voorwoord tref ons alreeds ‘n persoon aan met haar tong diep in haar kies en sy verwys na alles wat in verlede verdwyn het: soos ‘n skool wat toegemaak het en ‘n universiteitsdepartement waar sy gewerk het waar die naam verander het. Boonop besef sy dat haar skryfwerk niks tot gevolg gehad het nie: sy het nie pryse gewen nie, nog minder is sy genooi na skrywersfeeste of boekpromosies.

Nog nooit is sy gevra om iets te te teken nie – behalwe verkoopslippies!

Vir hierdie leser is ‘interaktiewe’ romans of roman wat begaan is oor die skryfproses ‘n aangename leeservaring. Op die voorblad is daar ‘n familiefoto: die getroudes staan egter op die agterblad en nie die voorblad waar die leser hul sou verwag nie.

Dieselfde geld die vertelling met sy onverwagse draaie, maar die leser wat belangstel in metafiksie á la Barthelme is hierdie soort wendings presies wat die teks wil wees.

Hierdie soort roman werk altyd met die oog-knip of ‘in’-grappie. Op bladsy 25 verneem ons dat dit ‘work in progress’ is en die teks voorveronderstel o.a. ‘n kennis van Katherine Mansfield se lewe en tekste om die pastichering daarvan te begryp.

Daar is ook ‘n e-pos met aanwysings van wat lesers verwag van ‘n boek: lesers hou nie daarvan om ge-cock-tease te word nie. Maar party van ons hou wel van hierdie soort spel. Die ‘roman’ wat ons lees, is self uitgegee en die skrywende verteller neem die hele proses in oënskou.

Jane Austen word deur Katherine Mansfield beskou as die ‘chic-lit dolly from the Regency Period’ en die roman sit vol van hierdie soort  kostelike opmerkings. Of Mr Foster wat opmerk oor resensente: “One grows accustomed to being praised or blamed, or being advised, but it is unusual to be understood”(p. 169). Plek-plek is die boek myns insiens te selfkoesterend en sou dit by beter redigering of verkorting gebaat het. Maar die konsep is knap en tersydes interessant.

Die roman bevat ‘n uitgebreide verwysing na die Brontës, Charles Dickens, Mansfield, Beatrix Potter en Karel Schoeman se studie oor Olive Schreiner.

Ons vind ook ‘n verduideliking van wat ‘circle dance’ behels. Daar is sterk spirituele onderbou in die teks met verwysings onder andere na karma.

Daar is selfs ‘n resep om seep te maak op bladsy 77 , foto’s, familiebome en verwysings na werklike mense. Die Kaapse leser sal sekere bakens herken en retro-ervarings soos vrye liefde, die ontdekking van die pil en The twist.

Of die roman uiteindelik getipeer kan word as ‘faction’ is die uwe nie so seker van nie.
Lees die boek gerus as jy van selfrefleksiewe prosatekste hou, maar ‘n sterker redigerende hand sou die roman sterker kon maak.

Interloper in die sin van indringer, smokkelaar, onderkruiper ja.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]