Showing posts with label Jonathan Cape. Show all posts
Showing posts with label Jonathan Cape. Show all posts

Sunday, November 17, 2019

Resensie | Ian McEwan – The cockroach (2019)

Ian McEwan – The cockroach. Jonathan Cape, 2019. ISBN 978 1 529 11 292 4

Resensent: Joan Hambidge

Literêre duimgooiery ('n term van T.T. Cloete) is hoe 'n mens die jongste novelle, The Cockroach van Ian McEwan, ten beste sou kon beskryf. Dit is 'n klein boekie van honderd bladsye wat in gesprek tree met Franz Kafka se Metamorfose en al die bekende satirici wat politieke en sosiale omgerymdhede aan die kaak gestel het. Boonop gooi hy duim ook langs die politieke woelinge in die Verenigde Koninkryk.

Hier te lande is Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein van 1976 'n briljante voorbeeld van satire: die skrywer plant 'n teoretikus se siening oor satire in die roman as 'n sleutel.

Satire werk immer met ironie, hiperbool én sarkasme. D.C. Muecke se bekende studie The Compass of Irony (Methuen,1969), en al die merkers van ironie, word ryklik deur McEwan se novelle geaktiveer. Ene Jim Sams word een oggend wakker en besef hy het verander in 'n groot kreatuur. Hierdie metamorfose verwys natuurlik na Kafka. McEwan plaas die gegewe binne die Britse domein: die mees gesiene man in Engeland word nie deur reëls aan bande gelê nie. Nie eens deur sy eie party nie ...

Brexit is kompleks en wat 'n mens waarneem op CNN is net die tippie van die ysberg. Hoe meer 'n mens lees as buitestaander, hoe minder begryp jy al die intriges. Wat ons onmiddellik by die eerste kwessie van hierdie novelle bring: dit is geskryf vir 'n in-leser wat al die nudge-nudge, wink-wink-verwysings sal snap. Die buite-leser geniet wel die besondere styl en aanslag.

Die ooreenkomste tussen lewendes en dooies (so lees ons in die opdrag) is toevallig. Jy kan egter nie die rolspelers met vreemde haarstyle en 'n vreemde gebit miskyk nie. Of die "scorn of derision" (97) nie. Downingstraat is hier, die Division Bell, en ene President Tupper.

In Love Actually, Richard Curtis se briljante film van 2003, vertolk Hugh Grant die eerste minister. Sy ikoniese danstoneel op Jump for my Love laai alles met speelse satire. Hier is daar ‘n banket met ‘n Sinatra-nabootser wat “My Way” sing. Gloria Gaynor se “I Will Survive” laat ‘n tranerige gehoor opstaan.

Die sogenaamde "vices and follies" van die oortreders in enige vorm van satire word aan die kaak gestel met die hoop dat daar 'n beter bestel gevind sal word. Hiermee besef 'n mens dat 'n satirikus in wese iets van 'n romantikus of dromer is om te dink dat sý, of háár boek of traktaat, die magshebbers in hul spore gaan stuit. Waarskynlik waarom satirici so onsteld is wanneer hulle gesensureer word; hulle het immers 'n beter orde in gedagte. (Leroux; Anton Kannemeyer, et al.)

Waar McEwan homself oortref, is wanneer die kokkerot (blattodea) sy ellendes bely in ‘n toespraak.  Die liefde vir die donker - wat net soos by mense - 'n lewenswyse is! En die "repulsive taste for clean water" (98) word uiteraard ironies bedoel. Daar word ook 'n dwarsklap gegee na aardverwarming, oorlog en bedrog in 'n hiperboliese beskrywing wat 'n mens laat skaterlag. (Die kodewoord hier: Reversalism.)

Kafka se boek speel in 1915 af wanneer Gregor Samsa verander in ‘n insek.

In ‘n “ungeheures Ungeziefer” het Nabokof soos volg oor hierdie boek geskryf: The transparency of his style underlines the dark richness of his fantasy world. Contrast and uniformity, style and the depicted, portrayal and fable are seamlessly intertwined" in sy beroemde Lectures on Literature (Weidenfeld and Nicholson, 1980: 260). 

Dit is eweneens van toepassing op McEwan se novelle.

Ungeziefer is ‘n “dung beetle”, maar volgens Nabokof, ‘n lepidopteris, het ons by Kafka eerder ‘n gogga met vlerke. Nabokof was ‘n uiters punteneurige leser wat elke straat of verwysing in ‘n teks nagespeur het soos ons weet uit sy lesings aan Cornell Universiteit.

En hierdie spitsvondige gekibbel wat ‘n mens in sy notas vind, bewys dan dat Kafka se gogga in Ian McEwan se novelle ingevlieg het.

Inderdaad ‘n Verwandlung of metamorfose. Want die politieke agtergrond het nie verander nie.

Op wie slaan Archie Tupper in Washington? En verwarring rondom taal lei tot misverstand. Soos die “scales will drop” wat die vertaler letterlik interpreteer.

‘n Mediastorm rondom Jane Fish is presies hoe dit werk. Sy word “pipe-smoking Jane” in  spotprente, omdat sy eenkeer in Belfast ‘n pyp se rook in ‘n kind se gesig geblaas het om te wys hoe sleg sekondêre rook vir ‘n mens is (71).

Daar is ‘n spel rondom nabootsing en die “blattodean core”. Mense hier is blote afskynsels van mense. Nabokof sou waarskynlik ook die roete van kokkerot gevolg het. Die Samsa-woonstel het hy ‘n skets van gemaak (257).

As jy ‘n smoel vir satire het, is hierdie geel boekie vir jou.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)

Saturday, August 9, 2014

Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twins (2014)


Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twinsJonathan Cape / Jonathan Ball, 2014. ISBN 978 0 224 08789 6
Resensent: Joan Hambidge

Daar is twee skrywers wat morele grense uitdaag, te wete Irvine Welsh en Michel Houellebecq. Beide laat jou ril en maak jou dikwels uiters onrustig, maar is terselfdertyd meesleurende storievertellers en uitdagende stiliste. Die een Skots, die ander Frans. Toe Welsh gedebuteer het met Trainspotting (1993) kon niemand voorsien dat hy die pas sou volhou nie en met Filth (1998) - wat nes sy debuut verfilm is - het hy hom as die meester van die transgressiewe gevestig, dit wat ons waarskynlik kon beskryf as "hiper-realisme" of selfs "dirty realism".

Met sy jongste roman klim hy kaalvuis in onder die Amerikaanse obsessie met die lyf en voorkoms. Die verhaal begin - en hier is die satiriese Welsh natuurlik aan die werk - wanneer Lucy Brennan, 'n "personal trainer", vir Lena Sorensen, 'n "small fat chick" ontmoet. In Miami. Toevallig. In 'n geweldstoneel wat Lena afneem. Reeds in hierdie kort gegewe maak Welsh 'n skerp analise van die moderne Amerikaanse samelewing: lyfobsessie, geweld, die oralaanwesige, priemende, kliekende moderne media ...

En dan besluit Lena om gewig te verloor en Lucy word haar "trainer". En presies die teenoorgestelde gebeur, tipies Irvine Welsh, wanneer Lucy meer besete raak met Lena as wat die leser sou verwag. Welsh laat hom nooit deur "lesersverwagtinge" voorskryf nie. Hy fnuik dit van ammelee se dae. En presies dít maak hom so 'n goeie skrywer. Jy onthou die dooie babatjie in die kot na 'n nag van dwelmroesemoes en hoe hy uitstel oor die gevolge hiervan in Trainspotting?

In sy jongste roman is Lena van Boston en Lucy van Minnesota en hulle ontmoet in Miami. Sadomasochisme is onderliggend aan hierdie verhouding, wat teen die meeste lesers se morele grein sal ingaan. Gemorskos en "fast food sex" word in jou keel afgedruk. Reeds die titel aktiveer die fantasie van die ongerymde: hoe sou 'n siamese tweeling se sekslewe daar uitsien? Dis 'n roman so reg in die Jerry Springer-kraal: 'n verheerliking van die afwykende en grillige. Trouens, as jy oorgewig is in die sonvelde van Miami word jy hanteer as 'n melaatse, vertel hierdie roman. En ja, die vetste mense het ek in die VSA gesien.

Welsh is tans woonagtig in Chicago en hy verstaan dus die verpletterde Amerikaanse droom ten volle. Hierom dat terme soos Amerika, demokrasie, Vryheid en God vandag alleen spottend en ironies gebruik word, mymer ‘n verteller. Die slot is skokkend en sinies oor die rol van kuns en letterkunde in ons samelewing. Uiteraard sou die kritiese leser ook die uitsprake op Welsh se skryfwerk van toepassing kon maak; of dalk dink hy die uitsprake oor “crappy novels” en “fake asses”  is nie op hóm van toepassing nie?

Die boek is veelstemmig: notaboeke, oggendmeditasies, e-posse, vertellings in kursief aangebied. Hierdie tegnieke is eweneens aanwesig in Sarah Lotz se onlangs verskene roman The three en hierom lyk dit bykans na ‘n nuwe modegier binne die moderne  romankuns. Dalk kommentaar dat daar soveel stemme is dat geen styl meer baas speel oor ‘n ander nie? Dat selfs skyfsels op Facebook deesdae paradeer as skryfwerk?

Op 'n keer het Houellebecq opgemerk: "I admit that invective is one of my pleasures. This only brings me problems in life, but that's it. I attack, I insult. I have a gift for that, for insults, for provocation. So I am tempted to use it."  'n Mens kan hierdie opmerking eweneens van toepassing maak op Irvine Welsh.

Welsh, soos sy Franse skryfvennoot, hou jou aandag; bykans soos by 'n motorongeluk waar jy teen wil en dank kyk na die lyke. Beide weet watter knoppies om te druk sodat jy verder lees aan 'n mistroostige, opgefoeste bestaan

Maar skryf kan hy skryf. Dis nou maar wors. Ek moet bely ek is reeds besig met Porno (2002), terwyl Lars von Trier se Antichrist knor in die dvd-speler. Moreel staan dit my egter nie aan; ek bewonder wel hierdie uitinge as siniese kunswerke.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld.)

Tuesday, March 26, 2013

Tom Wolfe - A man in full (1998)



Tom Wolfe. A man in full. Jonathan Cape, 1998. ISBN 0 224 0306 1.

Resensent: Joan Hambidge

Tom  Wolfe het in die sewentigerjare bekendheid verwerf vir sy New Journalism-tekste, oftewel faksie. Vertellinge waarin die  tydsgees joernalisties, “objektief” ondersoek word met 'n skeutjie fiksionalisering daarby. Hiervan was Radical chic & mau-mauing the flak catchers (1970) vir my die innoverendeste en The electric cool-aid acid test (1968) insgelyks belangrik.

Daar is ook tekste wat gewoon studies wil wees soos The painted word (1975) en The right stuff (1979. Verder het sy roman The bonfire of the vanities (1987) 'n nuwe begrip aan die term best-seller gegee met die suksesvolle verkope. Ook die film was interessant.

Wolfe se ander bekende waarmerk is sy dandyisme, sy “natty” skoene en pakke. Die outeur as stylvolle poseur.

Die jongste roman A man in full maak opslae. Die New Yorkse kritici wys tandjies en naeltjies. Is die lewe lank genoeg dat 'n mens so 'n lange roman kan inpas?, vra 'n bitsbek. En ag, is Wolfe darem nie nou weer aan die rol nie? 742 bladsye? Ook word dit bemark as die roman waarna die meeste uitgesien is in die twintigste eeu!

My liefde vir lang, deurgekomponeerde romans is bekend. Gee vir my 'n lang Flaubert of Balzac en ek is stil; of Byatt se The babel tower. A man in full is gewoon net wat omvang betref, 'n prestasie. Daar is skerp dialoog en helder beskrywings van 'n komplekse gemeenskap: die VSA aan die einde van die twintigste eeu.

Die storie: Atlanta, Georgia. Charles Crocker, 'n voormalige voetbalspeler en nou verloopte magnaat met 'n landgoed waarop kwarteleiers geskiet word. Conrad Hensley, in Oakland, ontdek die gatkant van die Amerikaanse regssisteem en verder is daar aantygings van “date rape” teen Fanon, 'n agtergestelde - met al die implikasies van 'n swart-wit-spanninge.

Dit is 'n ambisieuse roman met 'n wye doek-aanslag.  

Die bemarking alleen was by die $500 00m en ongeveer $1.2 miljoen is gespandeer op die druk van die boek. Dan praat ons nie eens van die regte wat die skrywer gekry het om die boek se regte aan Rolling Stone -tydskrif te verkoop nie ($600 000).

Die roman analiseer die Amerikaanse obsessie, te wete geld en skuld. Deur New York af te speel teenoor Kalifornië word die volledige Amerikaanse droom betrek. Die roman is 'n antwoord op F. Scott Fitzgerald se The great Gatsby, meen 'n kritikus. Maar dan 'n roman met groter kwashale geskilder as eersgenoemde.

In die karakter, Charlie Croker, 'n man in sy sestigerjare – hy word ook op die voorblad van die roman afgedruk as mens die skutblad oplig – word 'n tipiese Balzaciaanse gegewe behandel: as jy diep in die skuld is ($5 00 miljoen) word jou mens-heid en eer diep beproef. Veral as geld deur die jare dit so gerieflik gemaak het om van die goeie waardes te vergeet...

In die film, Cousin Bette word hierdie situasie ook behandel; met Jessica Lange as 'n aangrypende Bette.

Lees Wolfe. Hy het baie belangrike dinge te sê oor die moderne samelewing aan die einde van 'n millennium.

As kultuurwaarnemer word daar skerp kommentaar gelewer op 'n gemeenskap van “thugs” en terapie. Die geweld van hierdie samlewing word byvoorbeeld baie oortuigend beskryf op bladsy 675 in Wolfe se kenkmerkende staccato-styl.

En hoe briljant, ondergesteld kan Wolfe nie beskryf nie. Wanneer Jill (p. 262) verneem dat daar geen geld meer oor is nie, word die leser oortuig van die totale verplettering.

Die slotsin lees ek as 'n waarskuwing dat daar dalk 'n opvolg mag wees...

Om so 'n roman op 'n tikmasjien te kon skryf, wil gedoen wees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Irvine Welsh - Filth (1998)



Irvine Welsh. Filth. Jonathan Cape, 1998. ISBN 0 224 04118 5.

Resensent: Joan Hambidge

Met een woord: verstommend. Filth van Irvine Welsh kan 'n mens nie anders beskryf as met uitroepe nie. Verstommend, walglik, ontroerend, ontstellend, verskriklik. En briljant.

Die vuige lewe van Bruce Robertson, 'n polisiespeurder beland in Amsterdam om 'n saak op te los. Hy is egter korrup tot in sy siel toe: hy is verslaaf aan kokaïne, seks (met allerlei genitaliese probleme wat in fyn détail vertel word), skroom nie vir geweld nie. Trouens, hy is speursersant Maigret (van Georges Simenon) se vollledige teenpool. Waar Maigret handewringend hom bekommer oor die gemeenskap se agteruitgang, is Bruce deel daarvan.

En ons verneem dan ook die redes hiervoor. Lesers wat nie hul pret bederf wil hê nie, of nie 'n sterk maag het nie, moet nou asseblief nie verder lees nie. Bruce is verwek in 'n aaklige verkragtingsituasie en die stem van sy vrou werp lig op sy morele verval.

Ook het hy 'n wurm-probleem, en hierdie lintwurm, ja glo my vry, word 'n “stem” wat kommentaar lewer en dikwels sommer oor die vertelling spoel! Nou daar's vir jou 'n nuwe bewussynstroom-tegniek wat James Joyce waarskynlik in sy graf laat tol! Dit sal waarskynlik ook as blasfemies ervaar word deur die meer puriteinse leser, maar 'n mens moet ágter die vergelykings met die Katolisisme kyk.

Irvine Welsh het die wêreld verower met Trainspotting, 'n roman wat my nie geraak het nie, omdat ek nie die dwelmkultuur begryp nie. Maar ek moes dit lees om my studente beter te verstaan ten einde te weet waarmee hulle identifiseer. Ook die film het gewys dat mense hou van sy aweregse lewenshouding. In een van die motto's word Arthur Schopenhauer aangehaal en sy siening van “desengano” en dat die lewe uiteindelik afstuur op ontnugtering.

Daar is min skrywers wat so 'n troostelose beeld van die mens kan gee en jou terselfdertyd kan gevange hou. Dit is 'n roman wat waarskynlik die debat van “welgevoeg” en “welvoeglik” sal aktiveer. Maar feit bly staan: die skrywer het 'n kreatiewe energie wat min hom kan nadoen.

Dis 392 bladsye van 'n ongelooflike leeservaring -- tot by die stertjie van die wurm.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Salman Rushdie - The ground beneath her feet (1999)



Salman Rushdie. The ground beneath her feet. Jonathan Cape, 1999. ISBN 0-340-73897-9.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is die verhaal van Vina Apsara, 'n geliefde sangeres wat verdwyn in 'n aardbewing. Haar minnaar, Ormus Cama se soektog (op verskeie vlakke) word ook in The ground beneath her feet verbeeld. Dit word hulle storie, maar die gegewe speel ook in op die verhaal van Orpheus en sy Eurydice se verbintenis wat verby die kenbare lewe strek.

Hulle verhaal word nie direk bely nie, maar vertel deur die wyse fotograaf Rai, 'n jeugvriend van Ormus. Die roman wil dan ook in sy wye doekaanslag kommentaar lewer op die verskillende “waarhede” wat ons lewe tans beheer: mitologie, die verbintenis tussen die Ooste en Weste, populêre en hoë kultuur, modernisme en postmodernisme, leuen en waarheid, en les bes, fiksie en werklikheid. Soos die flaptekskrywer tereg opmerk:”In short a tale of love, death and rock'n'roll”.

Rushdie is waarskynlik die één skrywer op aarde wat 'n groot prys moes betaal toe die Ajatolla nie wou glo dat daar 'n verskil tussen feit en fiksie is nie! Hy is voëlvry verklaar en 'n mens kan dan ook nie anders as om hierdie roman te lees as 'n indirekte kommentaar op 'n úiters onaangename periode in sy lewe nie.

The Satanic verses sal waarskynlik altyd die roman bly waarteen hy gemeet sou word, maar The ground beneath her feet word nie om dowe neute nie opgehemel deur 'n ánder voorste kommentator van al die verskillende strominge in ons (post)moderne wêreld, te wete Don DeLillo. Hy noem Rushdie tereg die meester van metamorfose en hierdie roman wys dat die skrywer juis deur middel van fiksie die fatwah kon oorleef.

Die roman lewer kommentaar op die verband tussen mag en liefde en dat 'n mens eers by die verlies daarvan kan bepaal hoé 'n belangrike uitwerking dit op jou lewe had. Rushdie hou 'n baie goeie vertelpas vol. 'n Mens word nooit verveel nie (soos dit dan dikwels die geval is in lang romans). Hy kies dan ook hoofstuk-titels om so à la die negentiende eeuse ouktoriële roman die verhaal kripties op te som en onderbreek.

Toni Morrison verwys na die betowerende invloed wat die taal op die leser het en Rushdie skryf 'n baie poëtiese Engels wat deurgaans met Indiese sleng versier word.

Die tyd in afsondering het kennelik die skrywer baie bewus gemaak van al die strominge wat dreig om ons almal te oorweldig. Ook lewer die roman kommentaar op die funksie van geloof, die mistieke of epifaniese ervaring wat 'n gewone ervaring kan ómtower.

Die hele gegewe is baie sterk ingegee deur die spiritualiteit kenmerkend aan die einde van die millennium en Rushdie, soos DeLillo, se romans is vlymskerp analises van sowel van die modes van ons tyd as die stand van die romankuns as sodanig.

In hierdie verband is uitsprake soos op bladsy 154: ”We leave home not only to make room for ourselves but to avoid the sight of our elders running out of steam (...) Life's bruises demythologise us all. The earth gapes. It can wait. There's plenty of time” of “If friendship is a fuel, the supply of it is not endless” (bladsy 490) waarskynlik  van Rushdie sélf wat die vertelling binnetree soos 'n Thackary of 'n Dickens wat bekend was vir hul wyshede oor die wêreld waarin hul geleef het.

Behalwe vir die kommentaar op musiek, word die vertelling waargeneem deur 'n fotograaf. So word die roman dan ook tersaaklik vir ons begrip van die elektroniese en fotografiese blik wat tans die woord bedreig. En al hierdie media kan, soos die slot benadruk, 'n mens verewig.

In die afdeling “Vina Divina” erken die verteller dat sy geen Callas of Sutherland was nie. Maar haar geheul met die pers - die feit dat sy die private openbaar kon maak - het van haar tot 'n ster verhef en so is lae kultuur verhef tot die hoë! En met haar tragiese dood is sy dan tot Godin verklaar; nes 'n Marilyn Monroe. Rushdie via sy verteller lewer felle kommentaar op skep van gode en in welke mate die populêre kultuur vergelykbaar is met die mitologie.

Ook het die dood van Prinses Diana en die media-histerie wat dit to gevolg gehad het Rushdie se waarnemings beïnvloed. Vina het kennelik ook iets van Madonna.

Dit is 'n lánge kluif van 'n boek, maar 'n wonderbaarlike leeservaring van 575 bladsye, en besonder keurig uitgegee deur Jonathan Cape. Die roman bewys ten slotte dat die suksesvolle romanskrywer ook 'n knap teoretikus is. Dit kon 'n mens al seker van Flaubert gesê het met sy wyse woorde dat die romanskrywer soos God orals aanwesig moet wees in sy skepping, maar nêrens sigbaar nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Susan Sontag - In America (2000)



Susan Sontag. In America. Jonathan Cape, 2000. ISBN: 0 224 04091 X.

Resensent: Joan Hambidge

Die grys streep deur die raafswart hare. Dit is Susan Sontag se kenteken wat helaas deur 'n slopende siekte uitgewis is. Die skrywer van Illness as metaphor en Aids and its metaphors se gesondheid is die afgelope jare erg geknou.

Tog skryf sy steeds en wat my betref is en bly Susan Sontag die belangrike essayis, die skrywer van analises oor pornografie en die betekenis van “camp”. Hoe hard Camille Paglia ookal probeer het om haar af te maai in “Sontag, Bloody Sontag” In Vamps & tramps kan die bydrae van Sontag nie ongeldig gemaak word nie. Sy is 'n kultuurikoon in die VSA. Hierom gebruik Woody Allen haar saam met Saul Bellow in sy film Zelig om kommentaar te lewer op 'n fiktiewe verkleurmannetjie. Van haar het die grote Roland Barthes gesê: “Ja, Susan altyd, altyd getrou.”

Sy het Barthes aan die VSA voorgstel en haar gestroopte, minimalistiese prosa herinner sterk aan RB se vroeë tekste.

Ook die studie oor fotografie - sy is immers Annie Liebovitz se vriendin - bly 'n mylpaal. Van haar is die mooiste foto's geneem: die jongste in Vanity fair plaas haar op 'n boot. Die wind waai stormsterk om metafories die lewenskrisis vas te vang.

Oor Sontag as romanskrywer was ek minder geesdriftig. Hier het Paglia gelyk. Dit is bloedlose, intellektuele konstruksies. The benefactor, Death kit en The Volcano lover kon ek gewoon nie klaarlees nie. Ook haar flirtasie met politieke kwessies - soos die opvoering Waiting on Godot in Sarajevo - het tereg die chagrin van Paglia op die hals gehaal met die stelling: genugtig, kon sy nie 'n play in Harlem opgevoer kry nie? (Terloops, Paglia sluit hierdie skreeusnaakse essay af met die stelling:”It's her party and she can cry if she wants to....”)

Die roman is in wese 'n analise van die rol van die toneelspeler as 'n selflose wese met 'n masker. Daar is waarskynlik min romans waarin die verhoog so gedissekteer word as in hierdie roman wat histories akkuraat is. Sontag se kennis as regisseur kom handig te pas en in die beskrywing van presies wat met 'n akteur gebeur, is haar analises vlymskerp.

Wat doen 'n vrou wanneer haar man haar verlaat en sy aleen gelaat word met 'n pasgebore kind? Wat is/was die rol van die teater binne die laat negentiende eeuse gemeenskap? Ook die invloed van die foto (en die ontwikkeling van die daguerrotipe) word ondersoek. Sontag het eweneens 'n studie hiervan gemaak in On photography.

Dit is 'n goeie roman, maar dit sal nie in almal se smaak val nie. Dit is eg-Sontags, met ander woorde, intellektueel en geskryf vir 'n beperkte mark. Jare gelede is haar woonstel in New York deur 'n brand verwoes en toe Ms. Sontag die nag in 'n hotel wou gaan rus, ontdek sy dat sy geen geld het nie.

Dit is waarskynlik steeds so. Maar vir die klein koterie wat sy skryf, is haar gehalte bo verdenking.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Insig geplaas.]