Showing posts with label Kwela Boeke. Show all posts
Showing posts with label Kwela Boeke. Show all posts

Saturday, February 22, 2020

Resensie | Nathan Trantraal – Oolog (2020)

Nathan Trantraal – Oolog. Kwela, 2020. ISBN 978 0 79571 7

Resensent: Joan Hambidge


I
Nathan Trantraal debuteer met Chokers en survivors wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys. Die digter het ook 'n ATKV-woordveertjie ontvang in 2014. Die tweede een heet: Alles het niet kom wôd. Oor sy jongste bundel, skryf twee lesers die volgende:

“Meesleurend, leersaam, waaghalsig, dapper, insiggewend, beeldryk, meevoerend, in­your­face en nie ’n moment eendimensionaal nie.” – Alfred Schaffer.

“Trantraal is ’n belangrike teenvoeter vir ’n letterkunde wat te dikwels uit voeling is met ’n groot deel van die potensiële leserspubliek.” – Tertius Kapp.

Trantraal is deel van 'n hele galery van jong bruin stemme wat deur hoofstroom-uitgewers gepubliseer word. Die regstellende aksie is dus besig om te gebeur. Hy skryf eweneens resensies in Rapport in Kaaps. Azille Coetzee se gevoel op Litnet dat die Afrikaanse letterkunde 'n laer is, word helaas verkeerd bewys deur die feite. Skrywers word in Kaaps gepubliseer en nog nooit was die Afrikaanse letterkunde meer transglobaal en demokraties as nou nie (Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem/ ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa | Besoek 22 Februarie 2020).

II
Met enige digbundel word daar 'n kontrak met die leser gesluit. Jy moet as't ware “inkoop” in dit wat die skrywer vir jou weergee van sy of haar ervarings. Dit word van 'n kritikus verwag om die gedigte te beoordeel al sou die temas jou nie aanstaan nie. 

Die bundel werk met die ondergrond van whiteness must fall en plaas die ervaring van die spreker op die voorgrond. Daar is iets van 'n superieure houding in hierdie bundel van wit mense se onkunde. “Petit Roux” (39) word in 'n gedig uitgehaal – saam met sy vrou – oor hul filosofiese onkunde. Jostein Gaarder is onbekend aan die vrou.

Waarskynlik is hierdie leser nie die teikenleser nie soos Annemarié van Niekerk wat dit tipeer as “eeu-oue fort van klip, fors en resoluut”, maar terselfdertyd “delikaat”. Sy gebruik die beeld van “'n vroegoggend spinnerak waaraan miniskule doutrane nog trillend hang.”

Behalwe vir die kritiese houding, is die gebruik van vuige woorde en praattaal kenmerkend van die digterlike aanslag in Kaaps. Die bundel tree in gesprek met Ronelda S. Kamfer se Chinatown, die digter se vrou. 'n Resensent het hulle liefdesverhouding as groter as dié tussen Cussons en Louw of Plath en Hughes beskou.  Deborah Steinmair skryf in die Vrye Weekblad van 21 Februarie 2020 onder die opskrif ‘Oolog’ en die kruidenier van wanhoop soos volg:

Nathan en Ronelda s’n is ’n groot literêre liefdesverhaal, vergeet van Hughes en Plath, Van Wyk Louw en Sheila Cussons. Hulle is aangrypend verwond en as hulle oorleef, “sing ie wind koortjies/ en blaf ie honne tot laat toe”.

Die gedigte is verhalend in aanbod. Hy gee 'n blik – dikwels ontstellend – op die lot van sy bestaan in Kaaps. Hy tree in gesprek met wit skrywers waarteen hy dan sy lotgevalle plaas.

Is dit waar – soos wat Tertius Kapp op die agterblad skryf – dat Trantraal poësie vind waar ander digters te bang is om te soek? Ons het 'n hele galery van vreeslose digters in Afrikaans – Antjie Krog en Johann de Lange, om twee uit te sonder – en 'n digter moet immers skryf oor wat bekend is aan hom of haar.

III

In “Quantum physics” (23) verneem ons direk van ellendes: 'n taxibestuurder kan voortgaan met sy werk ten spyte van ongelukke. Moeiliker om te verstaan as kwantum-fisika. In “House-hunting” (91) word 'n konfrontasie met 'n semi-atomatic beskryf en posttraumatiese stres. En dit is hier waar 'n mens Wyn Roux gelyk moet gee dat dit 'n moeilike bundel is:

Ek herhaal: dis nie ’n maklike bundel om te lees nie – dis oolog op die tuisfront, buite die confines van ’n gemaklike lewe, wat al te dikwels vanuit 'n wit kyk (“White Gaze”) op 'n venynige, rassistiese wyse veroordeel word. (Versindaba » Blog Archive » RESENSIE/ OOLOG (NATHAN TRANTRAAL | Besoek 22 Februarie 2020).

Die motto “Getting on fine/ Catch the next wave/ Get the move right/ Darken the wave”, van Miki Dora, die branderplankryer-fenomeen is alreeds ironies, soos Roux tereg aantoon. Dora was rassisties; selfs op sy branderplank glo 'n swastika gehad.

“If you took James Dean’s cool, Muhammad Ali’s poetics, Harry Houdini’s slipperiness, James Bond’s jet-setting, George Carlin’s irony and Kwai Chang Caine’s Zen, and rolled them into one man with a longboard under his arm, you’d come up with something like Miki Dora, surfing’s mythical antihero, otherwise known as the Black Knight of Malibu.”

Waar Kamfer die wit vrou en skrywers teiken (soos Sylvia Plath) word wit manlike skrywers in hierdie bundel gekritiseer. Kom ons staan by twee voorbeelde stil.

Ted Hughes en J.M. Coetzee.

In “Lupercal” (13) word daar geintimeer dat Hughes se valk 'n imposter is (“'n ou Englishman geplak vol vere”) en in “Funny business” (45) word Coetzee verminder – via Buster Keaton. Vra hier: on who is the joke? 

Vir hierdie digter is die digkuns beslis wat Pope of Walt Whitman daarvan dink nie. In “Gie vir my 'n baby” (56) is poetry vir hom 'n laitie “wie gan liewe en doodgan”.

Die gesprek tussen Chinatown en hierdie bundel is opvallend. 

This Is Just To Say van William Carlos Williams (1883 - 1963) word geparodieer in “Die is net om te sê” (34):

Ek hettie laaste
cigarette geroek
wat innie
boksie was

en wat
jy probably 
gehourit 
vi venaan

Vergiewe my
it was delicious
soe bitter
en soe warm

Hier is die Engelse gedig:

I have eaten 
the plums 
that were in 
the icebox
and which 
you were probably 
saving 
for breakfast
Forgive me 
they were delicious 
so sweet 
and so cold

Dis nie 'n bundel vir weekhartiges nie. In “I've seen the future and it's hopeless” (84) word die volledige santekraam in jou gesig gesmyt.

Daar is uitstekende verse in hierdie bundel, maar die aanslag van die eerste bundel is nie getroef nie. Miskien is hier te veel probeer om te skok sodat die die leser toondoof raak?

Dalk het ek nie alles verstaan nie?  Je ne comprend pas soos daar geskryf word ...

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)


Saturday, December 7, 2019

Resensie | Trevor Sacks – Lucky Packet (2019)

Trevor Sacks – Lucky Packet. Kwela, 2019.  ISBN 978 0 7957 0890 9

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie pragdebuut van Trevor Sacks heet Lucky Packet, daardie speelgoedsakkie waar jy nie weet watter speeldingetjie jy gaan uithaal nie. Soms ‘n plastiekhorlosie, ander kere ‘n karretjie, ‘n snor of ‘n brilletjie.

Boonop was daar een vir meisies en een vir seuns.

In hierdie roman word die jeugervarings van Ben Aronbach, ‘n Joodse seun, ondersoek. Sy vader is oorlede. Die lotgevalle van hom, sy twee broers, hulle moeder, en die swart tuinman word in heerlike aardse dialoog weergegee. Hulle is Jode in ‘n aarts-konserwatiewe noordelike dorp. 

Totdat ene Leo Fein, ‘n aartsbedrieër, sy opwagting maak. Hy het sy oë op die moeder se erfporsie en inkomste uit ‘n besigheid wat soms onseker en wankelend is. Hy gee ook voor hy het die oorlede vader geken en wen so die jong karakter se vertroue.

Dit is die apartheidsjare van die 80’s waar daar neergesien word op Jode, Grieke en Moeslems. Witheid – veral Afrikanerskap – is bo alles gestel; die weermag en wat nog, word in ‘n geskakeerde vertelling weergegee.

Ben is die fokalisator so ons sien alles deur sy oë. Of dit wat hy op hoorsê as die waarheid ervaar het.

Die lang galery van jeugvertellers kom aan bod: Harper Lee se To kill a mockingbird (1960), Truman Capote se The grass harp (1951), ook J.D. Salinger se The catcher in the rye (1951) kom aan bod.

Nader tuis is daar JM Coetzee se herinneringe aan sý jeug en Marita van der Vyver se Die dinge van ‘n kind.

Wat hierdie roman besonders maak, is die humor. My eksemplaar sit vol uitroepe en kanttekeninge. Van Leo Fein wat in sy neus krap om ‘n koekeloerder te laat wegkyk tot ‘n broer wat swastikas teken om te treiter, is vinjette wat my altyd sal bybly. Om nie te praat van die diefstal van drank of die "dooie" Fein nie.

‘n Besoek aan Paul Kruger se huis en die kommentaar hierop is gelaai met ironie. En ‘n benoude knyp van die blaas op ‘n skooltoer na Natal is skreeusnaaks.

Met ‘n ligte hand (aanvanklik) word daar gekyk na die impak van die dood op kinders, na diefstal en die kind wat uitgelewer is aan die dwaashede van grootmense. Uiteraard geskryf vanuit ‘n agterna-perspektief, maar deur die oë van die kind, word die absurditeite en ironieë sterk verpak. Skaterlag-momente is daar baie. Wall-to-wall-humor. Soos seuns op 5 wat gefnuik voel na hulle als gewys het, maar die meisietjie nie.

Ben moet Shul toe gaan, maar sy moeder is agnosties. Joodsheid is ‘n kultuur eerder as ‘n godsdiens.

Die emosies en herinneringe is netjies verpak. Daar word nie afgereken met mense of vooroordele nie, maar eerder ironies-gedistansieerd gewys op hoé hierdie aannames werk. (Ben smul byvoorbeeld aan spek ...)

Hier is geen verbittering of weerwraak nie. Dit is ‘n roman van die drumpel ("threshold"), omdat jong kinders dinge helder sien. Soos dit is.

‘n Mens dink hier aan die antropoloog Arnold van Gennep se sieninge van liminaliteite. Hierom die verwysing na die "rites of passage", hiér die bar mitzvah. In Rites of Passage (1909) is daar drie fases: pre-liminaliteit, liminaliteit en post-liminaliteit. Die jong standerd vyf kind behoort tot die eerste fase; die ontmoeting met Fein vverbeeld die fase van liminaliteit. Die ouer skrywer – wat terugkyk na sy vermoedelik outobiografiese jeug – behoort dan tot die fase van post-liminaliteit. 

En humor? Dit word ‘n wapen om distansie te bewerkstellig, omdat jy jou opponent verminder of verklein deur hom as ‘n grap voor te stel, aldus Freud.

Die tweede gedeelte van die roman heet “1992”. Hier het ons nou ‘n oorgang waar die impak van die jonge Ben se dwase optrede op sy gesin geregistreer word. Die politieke realiteit word erger. Oproepe na die army en die threshold-gedagte word geaktiveer op bladsy 193.

Die roman word in ‘n herkenbare Pietersburg (Polokwane) geplaas met straatname en verwysings na restaurante wat die politieke dimensie sterker na vore bring. Die verhouding van Shadrack met die moeder word besonder goed weergegee.

Die AWB, die Kappiekommando, die nee-stem in Pietersburg en boere se optrede is goed beskryf. Hier word die humor swart. Marieke en haar pa kan jy sien. 

Nes besoeke aan die tattersalls. En wat behels skatafatsa nie? 

Sy siening van Leo Fein is teen die einde anders. Dit het sy jeug verdonker; hoeveel van hierdie man is hý?

Lucky Packet, Liquorice allsorts, Neopolitan roomys, Dinky Toys – alles kragtige simbole uit ons jeug.

Maar die verrassingspakkie – dis waaroor hierdie uitsonderlike debuut, ‘n Bildungsroman, handel.

Rahla Xenopoulos noem dit ‘an exquisite read’ en Imraan Coovadia loof dit as een van die beste en mees leesbare romans van die afgelope tyd. Hierdie leser gaan akkoord.

Sunday, December 1, 2019

Resensie | Ronelda S. Kamfer: Chinatown (2019)

Ronelda S. Kamfer – Chinatown. Kwela Boeke, 2019. ISBN 978 0 7957 0950 0

Resensent: Joan Hambidge

Kamfer se debuut, slapende honde (2008), word opgevolg met grond/Santekraam (2011) en Hammie (2016). Haar gedigte is in Nederlands en Italiaans vertaal. 'n Keur uit haar werk verskyn in Frans.

Die titel aktiveer Roman Polanski se briljante film: Chinatown van 1974 wat bloedskande en geweld ondersoek met Faye Dunaway en John Huston. Met Jack Nicholson en Polanski in ‘n kameerol.

‘n Neus word oopgevlek in hierdie dramatiese film oor waterbedrog en moord met die bekende woorde:

Forget it, Jake. It's Chinatown …

Die titel aktiveer dus 'n donker ondergrond. Sy doen met hierdie gegewe wat Quentin Tarantino doen met Polanski en Sharon Tate in Once upon a time in Hollywood ( 2019). Bekende gegewens is net die stellasie waarteen eie ervarings en interpretasies geplaas word.

Kamfer ondersoek die bestaan van die bruin mens en al die ellendes wat dit inhou. Die debuut bevat uitsonderlike hou-in-die-maag-gedigte soos “’n gewone blou Maandagoggend” waar pyn beleef word. Die moeder se weerlose, uitsiglose bestaan is in Hammie onder die loep geneem met sterk, ironiese verse oor die verskille tussen ‘n wit en bruin kind se bestaan.

In die jongste bundel vind ‘n mens ‘n sterker fokus op die vaderfiguur soos in “Chinatown daddy”:

my pa is soos ‘n Roman Polanski
omring met ou mans wat jong bloed ruik
draai ek om en vra et tu Dad?
sy favourite plek om na toe te gaan is Chinatown
want hy relate met die fake wealth die shiny kak
wat jou oë brand en die reuk van uselessness
(11)

Die digter se verse sluit sterk aan by die parlando-tradisie. Dit is hardegat-verse waarin sy sonder skroom haar argwaan jeens wit mense bely. Die praattaal en Kaaps is opvallend nes die gebruik van die vuige woord. Soos in die debuut staan sy-waar-sy-staan.

Die jongste bundel is vol gelaaide ironieë soos “my poems is nie confessions nie” (50) waarin sy duidelik te kenne gee dat sy krities is oor Sylvia Plath se lotgevalle:

ek voel fokkol vir ‘n wit vrou wat mooi gedigte
geskryf het in 1960s America

(Terloops: Plath was – soos Kamfer – vasgevang in ‘n vaderkompleks. Hierom haar voortydige selfdood, maar skitterende verse wat vele vrouedigters die loef afsteek – ook Kamfer, vir die rekord.)

En skryf sy verder dat haar literêre heroes wen nie Generaal Hertzog-pryse nie; tog bedank sy Antjie Krog in haar nawoord? Haar ouma, lees ons, het haar geleer om sorry te vra; nie sorry te sê nie (57).

Miskien wil sy juis nie hê dat die spreker in die gedig net aan haar gelyk gestel moet word nie? Of het die wrewel te make dat sy bekroon en besing word deur wittes – soos Annemarié van Niekerk – en ‘n wit uitgewershuis se uitvoerproduk is en aan feeste in die Nederland deelneem?

Of wil sy hiermee ‘n standpunt inneem dat sy steeds soos ‘n Bart Nel nog altyd sy sal bly?

Kreatiwiteit word gevoed deur paradokse, dié weet ons. Hierom moet die leser onwillig die kritiese kanttekeninge wegskuif en fokus op die gedigte. En dit is goed. Verpak met dinamiet en onrus.

ek soek nie ‘n plek langs die tafel nie

ek soek nie ‘n plek
langs ‘n women’s enfranchisement act table wat
in 1930 geset is vir white women only nie
hou julle tafel
ons maak vuur buitekant
(28)

Die gewone Kamfer-aanslag is hier: woede, woede en nog meer woede; verwysings na ander digters en ook mob-films; die durende pyn van die neerdrukkende jeug; haat teenoor witmense; die kompromislose aanslag oor afwesige vaders.

Kyk watter boeke word weggesmyt.

Die verse ondersoek die inbeweeg in die ongeneeslike wond. ‘n Handvol goeie verse, maar die gevaar van herhaling van dieselfde temas begin nou opval. Maar terselfdertyd: die meeste digters ontgin dieselfde kwessies en keer terug na die psigiese scene of the crime.

Wanneer sy nie haar anger uitstal nie, maar werklike pyn weergee, tref dit:

terrorist attack

in ‘n hotelkamer in Istanbul
gooi ‘n man my op
die vloer
druk my gesig in die mat

en verkrag my

buite op Taksim
gaan ‘n bom af
ek bel my ma
en vertel haar net
van die een aanval

die een wat sy op CNN
kan volg
(26)

Voor die uitgewer se deur: Dostoyefsky moet lees Dostojefski; en die verkeerde gebruik van wie in plaas van wat (p. 45). Wie = Genitief.

'n Mens word bedruk deur die ellende van die bestaan wat verbeeld word. Selfmoord, verkragting en haar kind wat geleer word van die ABC van white supremacy.

safe word

soms kyk ek
in die spieël
dan sien ek myself
daar waar ek vir dood
agtergelaat is
(34)

Hierdie vers is veral vir Ronelda Kamfer-bewonderaars en die Nederlandse applouskomitee.
Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Monday, June 10, 2019

Resensie | Zelda Bezuidenhout - Die dekonstruksie van Retta Blom (2019)

Zelda Bezuidenhout - Die dekonstruksie van Retta Blom. Kwela Boeke, 2019. ISBN: 978 0795708992

Resensent: Joan Hambidge

Kom ons val sommer met die deur in die huis. Zelda Bezuidenhout se roman Die dekonstruksie van Retta Blom het ʼn vinnige pas en is goed geskryf. Marita van der Vyver, die koningin van hierdie soort verhaal, prys dit aan as “lekker sappige goedvoel-storie, met heelwat onder die oppervlak”.

Ene Lauretta Blom, oënskynlik minsame huisvrou en eggenoot van Tobias Blom, ʼn ryk sakeman wat pendel tussen Johannesburg en Kaapstad, is ʼn soort moderne Emma Bovary. Sy is ʼn beheermaniak en voel vasgevang in haar sekuriteitslandgoedhuis in Johannesburg en ly aan leë nes-sindroom al besoek een seun haar en Skype sy met ʼn ander. Ses-en-twintig jaar al vasgevang in ʼn roetine van Mevrou-wees. ʼn Foonoproep van ene Kob(r)a is die motoriese moment. Alles verander dramaties in haar Visi-bestaan. Sy het immers gesien hoe ʼn tassie ingepak word ...

En ontspan: ek verklap nie die verhaal nie. Daar is altyd ʼn liefdesdriehoek in hierdie soort prosa, maar hier gelaai met siekte, dood en selfdood wat dit iets meer maak as bloot populisties.

Sy rig haar lewe volgens Spreuke en sy weet wie Marilyn French is. En daar is verwysings na Cheating husbands and the women who love them. 

ʼn Roadtrip Kaap toe (met eggo's uit Thelma en Louise) met Leigh, ʼn kunstenaarsvriendin en die hond, Charlie, gee aan haar agentskap. Buite Bethulie word Lauretta dan Retta wanneer sy Adam ontmoet.

Die boek is vaartbelyn geskryf met sekstonele wat eg aandoen. Lauretta bely haar frigiditeit op ʼn plek en luister na raad. Diëte, Skype, sms'e, WhatsApps, realiteits-TV, The road less travelled, You've got mail (en natuurlik: Lucy Jordan!) met musiek vertel die verhaal van transformasie. Geen wonder Retta voel soos ʼn toeskouer in haar eie lewe nie met ʼn jong kind wat tekenmannetjies in ʼn boekie het. Is sy nie ook maar net ʼn tekenprent nie?

Die rol van die trofeevrou of vrou-as-verlengstuk van die manlike orde, kom hier aan bod. En hoe sy dan wegbreek en haar ware self vind. Selfdood en moord van die nuwe man se vorige geliefde bevestig ʼn somberder lewe onder die oënskynlike idilliese bestaan. Twee verhale en lewens word verweef met ʼn onverwagse wending in die verhaal. En hierdie soort fiksie verraai altoos wat in die vroulike onbewuste geberg word.

Woody Allen het in sy film Deconstructing Harry (1997) alreeds hierdie geleerde term mak gemaak waar ʼn romanskrywer put uit sy lewe, en almal rondom hom vervreem. (Ook in die film is daar ʼn reis met terugflitse uit die verlede met metgeselle as toehoorders vir die babbelende Allen.)

Dit is populêre fiksie met ʼn byt. Dalk ʼn moderne Griet skryf ʼn sprokie?

Daar is humor (ʼn man is ʼn los wors) en daar word verwys na ʼn intellektuele orgasme! Epilepsie van ʼn kind met twee lewens van ʼn karakter wat verskillende kulture ondersoek. Clichés word afgestof (rou het nie ʼn rakleeftyd nie).

Dalk kon die skrywer die orde van liefdesfiksie skerper gesatiriseer het, maar dis ʼn genoeglike roman (315 bladsye) wat hierdie leser eenvoudig nie kon neersit nie. Dit is immers die grote Nabokof wat opgemerk het in sy Cornell-lesings dat sowel Emma Bovary as Anna Karenin se lot bepaal is deur wát hulle gelees het.

En kyk wat lees Retta nie alles nie. En kyk wat skeur sy op in ʼn gefnuikte wraakpoging. Dit wat afwesig is, blyk ook aanwesig te wees in dekonstruksie-terme. En is “under erasure”.

ʼn Kwirkie-boek vir nadink en weer besoek.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)