Showing posts with label Damon Galgut. Show all posts
Showing posts with label Damon Galgut. Show all posts

Wednesday, June 2, 2021

Resensie | Damon Galgut – The Promise | 2021

Damon Galgut - The Promise. Umuzi 2021. ISBN 978 1 4152 1058 1

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Edmund White beskou The promise tereg as een van die belangrikste boeke van die afgelope tien jaar. Die boek het alreeds hier te lande en oorsee lof ingeoes en in plaas van 'n konvensionele resensie, wil ek die roman vanuit 'n ander hoek belig.

 

Na 'n onlangse herlees van Roland Barthes se S/Z (1970/1974) waarin die skrywer 'n klassieke teks in lexias opbreek, sou dit 'n leser loon om hierdie roman van Galgut ook téén sy chronologie in te lees: Ma / Pa / Astrid / Anton ...

 

Die verhaal beweeg rondom 'n belofte (promise) gemaak aan die huishulp, Salome, dat sy die grond (en huis) sal erf. Salome wat steeds kaalvoet loop en die stille waarnemer is van al die spanning tussen die mense is soos Amor die een waarop die hele verhaal gebou is.

 

'n Leë, emosionele belofte gemaak tydens die afsterwe van die moeder word dan dit wat alles later bepaal. 

 

Maar dit word soos by William Faulkner se As I lay dying (1930) vele stemme wat praat en kyk in hierdie sirkelgang wat wentel róndom Amor se eerste menstruasie en haar gesprek met Lukas, die swart jeugmaat, wat later 'n woedende teenspeler of antagonis word.

 

Die boek sit vol ironie en die werklike outeur maak ons, die lesers, die verwyt dat ons nie ironie in hierdie land snap nie. Die ouktoriale verteller se stem slaan deur oor die Swart gesin (ironiese naam!) en hoe hulle beweeg van landelike grondbesitters tot in die reënboognasie van vergifnis en WVK. Die werklike outeur, Galgut, gee 'n priemende verslag van "greed and grief". En sy analise van begrafnisse en verassings word skerp ondersoek.

 

Die verskillende hoofstuktitels wys op die ouktoriale verteller wat beheer en orkestreer.

 

Elke vinjet word hier 'n ritueel. Die selfmoord van Anton en sy begrafnisdiens word meedoënloos beskryf. Sy suster Amor is afwesig, maar die huishulp het wel haar selnommer. Sy daag later op en in die skokkende konfrontasie tussen haar en Lukas - weer eens met Salome as toeskouer - wys hoe rasongelykhede mense aantas en vervreem. 

 

Beide Amor en Lukas dra swaar aan die geweld en haatlikheid van hierdie land. Die "beloofde land" aan Salome, mag egter deur ander wat verwyder is, opgeeïs kan word. Lukas ken nie meer Amor se naam nie en selfs 'n herinnering aan hul gedeelde jeug, versag hom nie. Hy dra die uiterlike tekens van die fisiese en emosionele geweld van hierdie land. (Die motorbestuurder se naam is Lexington.)

 

Die manier waarop landskap geskep word, is eweneens relevant.

 

Die aarde maak sy mond oop in gereedheid om die liggaam te ontvang. Reën en droogte word gepersonifieer.

 

"The rain has no prejudice" (241) en wanneer Amor op die dak sit, in die middel van háár storie, is sy ontredder in die verstrooiing van haar broer se asse; hy wat 'n onklaar roman agtergelaat het. Maar ander stories sal oor syne geskryf word, selfs oor hierdie vertelling (243). Die broer AWOL uit die weermag, maar word later 'n held wanneer die politiek verander. 'n Skerp opmerking oor hoe die politieke landskap voortdurend verander. 

 

Die werklike skrywer Galgut maak gebruik van verskillende vertelperspektiewe soos die ouktoriale verteller wat soms tersydes lewer teenoor die binnespraak van Amor (personale tot ek-verteller). (Ook hierdie naam is skerp ironies.) Die slim genderkommentaar waarmee die roman begin word later uitgespeel in haar lewe.

 

Die ruimte is Suid-Afrika. Veral Pretoria. Die Suid-Afrikaanse leser sien politieke rolspelers verander (Verwoerd, Mandela, Mbeki, Zuma). 'n Slangbyt word later 'n woedende kaping. Ons sien 'n hawelose, Bob, wat urineer.

 

Verder word daar verskillende religieuse oortuigings verbeeld: Anton is ateïsties. Daar is Jode, Calviniste en Katolieke en later selfs beskrywing van die mistieke. Desirée wat heul met "ley lines on the top of the koppie" glo haar "spirit-animal" is die feniks (224). New age en joga. Karma. Good vibrations. Hinduïsme. Die sogenaamde "spirit realm" word ironies en satiries beskryf. Nes die weergawe van 'n medium oor Astrid wat rus gevind het.

 

Selfs N.P. van Wyk Louw word by Anton se begrafnis voorgedra om die stoerheid van alles te bevestig. Skuldgevoelens rondom seks word eweneens ondersoek in die masturbasietoneel van Anton wat homself beskou in die spieël.

 

Terwyl die rook uit die krematorium opwaarts styg, is Desirée, Anton se weduwee, besig om haar ouers huis toe te neem. Haar vader, ‘n voormalige minister,  beleef egter hierdie dag in 'n heuglike herinnering met 'n klomp hoere in 'n helikopter.

 

Hierdie spanning tussen die ellende by die kapel (waar "a dirty tide of organ music" speel) teenoor seksuele herinnering, beklemtoon dat 'n mens die roman ook as 'n satire moet benader. Kyk net wat onthou die krematoriumwerker nie alles nie; van 'n pasaangeër wat ontplof tot vet mense wat stadiger brand. 'n Mens kan nie Dante mislees nie.

 

Die naamgewing is uiteraard Bybels gelaai (Salome, Lukas) en die slang wat die vader pik, aktiveer 'n Bybelse sondeval.

 

II

 

Met ‘n deeglike lees, besef ‘n mens hoe Galgut die roman laai met Bybelse metafore. Dominee Simmers, ‘n lam wat geslag word by die begrafnis, die Pa wat met ‘n Ou-Testamentiese toon praat (73) dwing jou om simbolies te lees. Word Anton “gestraf” vir die dood van die swart vrou, terwyl hy in die weermag was? Die hele roman wentel rondom skuld en boetedoening. 'n Joodse begrafnis word geplaas teenoor 'n Calvinistiese een; 'n Katolieke een vol Latynse verwysings teenoor 'n agnostiese, onspirituele byeenkoms.

 

Is dit toevallig dat Amor begin menstrueer met die tyding van haar moeder se dood? 

 

Die vader word deur ‘n slang gepik (die sondeval) en die hele verwysing na die reptielpark maak van hierdie hele santekraam ‘n soort diaroma van hoé waansinnig die “political unconscious” (Fredric Jameson) van hierdie land was en steeds is.

 

'n Kis wat oopgemaak word by die begrafnis wys op korrupsie en die onvermoë om die dood te aanvaar.

 

III

 

Die volgehoue spel met die leser laat ‘n mens soms verbyster oor hoé vaardig Galgut jou manipuleer en skaterend kan laat lag (ek dink hier aan die verwysing na wie het JR geskiet) wat per ongeluk uitgewis is op die videospeler of Astrid se sekstoneel wat die abjekte laat resoneer met die verwysing na mis. Die twee speurders word satiries beskryf (151) en Clint Eastwood soos Charles Bronson gooi ook 'n draai. En ja, die Rolex en penis van die swart lover is vol in die kol. Good cop, bad cop. Dronkbestuur en omkopery.

 

Ander kere laat dit jou as leser duisel oor die enorme pyn aan ander gedoen.

 

Die motto uit Fellini is tersaaklik. Waarom Federico is daar nie een normale persoon in jou films nie, vra die vrou in die Cadillac. 

 

Inderdaad. Het iemand egter beter begrip hoé die struktuur van families werk en ‘n mens nooit die herinneringe aan jou verlede kan ontsnap nie?

 

Kyk maar hoe keer Federico, die groot filmmaker, telkemale terug na die wêreld van sy jeug. Hy vlug dalk in I Vitelloni(1953), maar in die latere films soos Otto e mezzo (1963) word die familieskap herbesoek in fantasie en droom.

 

 IV

 

Die vyf kodes in S/Z is: hermeneutiese kode; die proairetiese kode; semantiese kode, simboliese en kulturele kode.

 

Galgut maak veral aanspraak op jou kennis van sowel die kulturele kode as die hermeneutiese kode. Hy dwing jou om die roman as woordkuns te lees. Veral die (Suid)-Afrikaanse leser sal vele verwysings beter snap, maar die teoretikus sal die volgehoue spel raaklees oor die struktuur van die roman na die postmodernisme.

 

Om te wissel tussen erns en satire (Father Batty) bewys hoe goed Damon Galgut werklik is. 'n Mens kan waarskynlik nie die Voortrekkermonument of die Uniegebou afskud nie. 

 

Hierdie roman is 'n enorme prestasie.

 

Sunday, June 15, 2014

Damon Galgut - Arctic summer (2014)



Damon Galgut - Arctic summerUmuzi, 2014. ISBN: 9781415206898
Resensent: Joan Hambidge

 E.M. Forster

I Vooraf

In 2003 word E.M. Forster se onvoltooide roman Arctic Summer gepubliseer. Hierdie teks is tussen 1912 en 1913 geskryf. Forster se bekendste romans is Where Angels Fear to Tread (1905), The Longest Journey (1907), A Room with a View (1908), Howard's End (1910), A Passage to India (1924) en Maurice (1971, postuum). As teoretikus het hy bekendheid verwerf met Aspects of the novel, wat in 1927 verskyn het. Sy romans is ook al verfilm. David Lean het A Passage to India epogmakend in 1984 verfilm. James Ivory het op sy beurt A room with a view in 1985, Maurice in 1987 en Howard's End in 1992 verfilm. Daar is ook ander filmmakers.

II Gesprekke, nabootsing, palinodes

Damon Galgut

So pas verskyn 'n roman van die gerekende romanskrywer Damon Galgut en dit heet Arctic Summer, wat die subtitel “a novel” dra. Die titel van die onvoltooide fragment deur E.M. Forster word nogmaals as titel gebruik. So 'n paar jaar gelede het verskeie romanskrywers Henry James tot onderwerp verklaar, en die inskryf teen of "voltooiing" van 'n skrywer se werk is algemeen bekend.[1] Julian Barnes se Flaubert's parrot (1984) werk immers met die kodes van Flaubert se teoretiese sieninge van die roman en hoe dit in sy romankuns uitgebeeld word.

Ons dink ook aan JM Coetzee se The Master of Petersburg (1994) en die gesprek met Dostojefski. Galgut tree behendig in gesprek met Forster, 'n skrywer wat bekend was om sy uitbeelding van klasverskille, onbeantwoorde liefde en onderdrukte homoseksualiteit. Sy romans werk ook met simbole wat die onderliggende boodskap konkreet voorstel. Hierdie roman is 'n soort faux-biografie.

Julian Barnes

Om so 'n roman te voltooi of 'n ander skrywer te kan naboots, moet die skrywer uiteraard iets van die tydsgees, styl en lewensuitkyk van die skrywer opvang. Ingrid Winterbach tree onder andere in gesprek met Etienne Leroux in Die boek van toeval en toeverlaat (2006). Galgut laat die dooie terugkeer en gee 'n interpretasie van sy lewe en werk (dit waarna Harold Bloom verwys as die apofrades in A map of misreading, sy studie wat in 1975 gepubliseer is).

Etienne van Heerden

Voltooiing kan ook selfvoltooiing wees. In die jongste roman van Etienne van Heerden, Klimtol, word ’n karakter, Snaartjie Windvogel, gekaap uit Van Heerden se roman In stede van die liefde (2005). Daar is eweneens toespelings op sy debuutroman, Toorberg (1986), met die gedagte van kollektiewe skuld. Hiermee aktiveer Van Heerden nie alleen ’n gesprek met Etienne Leroux nie, maar ook ’n ander lees-modus, te wete, dat hy besig is met die voltooiing van 'n oeuvre en een roman skryf. By Van Heerden is dit spel en hy verwys in sy nawoord na Johan Huizinga se studie Homo ludens (1983) om die spelelement te aktiveer. Die gebruik van die klimtol as metafoor, met elke hoofstuk wat voorafgegaan word deur ’n klimtolspeletjie (“Walking the dog”, “Looping the loop”, en dies meer) dui ook daarop dat ons hier ’n afwesige-aanwesige, ouktoriale vertelinstansie het wat die gegewe orden en manipuleer. Dit sluit weer aan by Barnes se verhouding tot Flaubert. Barnes “orden” en gebruik Flaubertiaanse beginsels – soos die relikwieë van Flaubert – en aktiveer die uitspraak dat die verteller orals aanwesig is, maar nêrens sigbaar is nie, soos God in sy skepping …

Die verwysing na die vlieënde piering in Klimtol aktiveer eweneens 'n vertelinstansie wat manipuleer en die leser bewus maak van 'n konstruksie deur 'n afwesige-aanwesige verteller.

III Ruimte

Syed Ross Masood en E.M. Forster

Die roman speel in eksotiese ruimtes af: Indië en Alexandrië. E.M. Forster se onbeantwoorde liefde vir Syed Ross Masood en sy verhouding met die getroude tremkondukteur, Mohammed el Adl, vorm die basis van hierdie roman. Die besoek aan Indië in 1921, waar hy etlike cruising-ervarings het, word ook openbaar. Hier is hy dan die private sekretaris van die Maharaja van Dewas. Hierdie roman speel in op die roman In a strange room (2010), waarin ene “Damon” in vreemde ruimtes soos Lesotho, Swaziland, Switserland en uiteindelik Indië (met problematiese verhoudings, eintlik nonverhoudings), op ’n hartgrypende wyse beskryf word.

Op ’n manier is hierdie teks ’n voorstudie vir Arctic Summer in sy beskrywing en ontginning van ras, klas, homofobie, vreemde landskappe, reis en innerlike ontwikkeling.[2] Hoe vreemde ruimtes die Engelse verander en aantas, word onder andere op bladsy 102 beskryf. Ook die teleurstelling wat die besoek aan vreemde ruimtes inhou, word weergegee (92). Galgut klim in Forster se kop in en verduidelik hoe 'n roman tot stand kom (146). 'n Skrywer gebruik verskillende skerwe van mense en indrukke om iets weer te gee.

IV Navorsing en verwerking


There was a refuge in writing. On a surface level, he was quite sociable, seeing a great many people and acquitting himself well in company, but an essential part of him had become deeply withdrawn, hardly noticing the outside world. This part, when it wasn't contemplating death, was happy now to retreat to the attic and to work. Alone for hours at a stretch, not even really in the attic any more, sunk into some crevice in his head. (340)

In hierdie gedeelte word die navorsing rondom A passage to India beskryf en Galgut gee 'n briljante weergawe van hoe Forster die grotte besoek het, en ook die belang van die "field glasses" wat in die hofsaak as getuienis gebruik word. (Die skrywer erken ook in sy eindnotas dat hy die grotte besigtig het.) Forster se ervaring van die misterie van Indië en hoe hy dit in sy roman wou verpak, word eweneens beskryf, soos sy verhouding met Leonard Woolf. Forster se harde werk word ook weergegee: "There was only the unruly heap of pages covered with his writing" (354). Eweneens aangrypend is die beskrywing van hoe die resepsie van die roman hom gesteur het. Hoewel die foute in die teks "small and forgivable" was, beklemtoon hierdie gedeelte hoe gevoelig skrywers is vir die kritiese ontvangs van 'n boek (359).

Die skrywer gee vir die leser nuttige bronverwysings: onderhoude met Forster, biografiese studies oor hom, en natuurlik Hermione Lee se kluif oor Virginia Woolf, studies oor Cavafy, Carpenter, Lytton Strachey, Leonard Woolf, die dagboek van Virginia Woolf, studies oor Egipte en die Raj; werke oor Islam, briewe tussen Cavafy en Forster, die vroue van die Raj (Margaret MacMillan word genoteer), en vele ander studies wat die komplekse gang van die roman karteer.

'n Resensent van hierdie roman het opgemerk dat sy nie weet wat aan Galgut behoort en wat aan Forster nie. Wel, doen navorsing. Vir die doeleindes van hierdie resensie het ek weer romans gelees en om iets van die "vertaling" of "transponering" te begryp en na David Lean se A passage to India en die Merchant/Ivory-produksie van Howard's End, Maurice en A room with a view gekyk.

 David Lean

Lean se rolprent is tipies Lean: die gebruik van enkele hoofkarakters om die spanning tussen Britse meerderwaardigheid en die sogenaamde onderdaniges binne die Indiese leefruimte te verduidelik. Ons sien en proe die stof; ons voel die hitte en ons hoor die eggo's in die grotte. Die drama wat gaan afspeel, word voorspel. Wanneer die verkyker deur die dokter opgetel word, weet jy dat dit die bewysstuk sal wees waarom alles gaan wentel. Forster verwys immers na "flat characters" en "round characters" in sy studie oor die roman en 'n mens kan sien hoe Lean dit interpreteer. Adele Quested (vertolk deur Judy Davis) is 'n histeriese figuur en onseker oor haar toekoms geplaas teenoor dokter Aziz Ahmed (Victor Banerjee), die arm wewenaar, wat haar uit die goedheid van sy hart na die grotte neem. Hy betaal duur vir hierdie uitstappie. (En wanneer hy eweneens goedgunstiglik sy dasspeld vir Fielding leen, word hy later gekritiseer omdat sy das skeef sit.) 

Die gawe mevrou Moore (Peggy Ashcroft), wat die regte Indië wil sien, is 'n goedhartige persoon, terwyl haar seun, die neerbuigende magistraat, Ronnie Heaslop (Nigel Havers), Adele se verloofde is. In Forster se terme is hy 'n "flat character". Daar is ook twee ander goeie karakters: die skoolsuperintendent, Richard Fielding (James Fox), en professor Godbole (Alec Guinness), beide "ronde" karakters. Tydens die grotbesoek ervaar Adele iets vreemds en sy beskuldig Aziz van verkragting. Mevrou Moore het die grotte egter weens kloustrofobie nie binnegegaan nie en weier ook om in die opsienbare hofsaak teen Aziz te getuig. Sy verlaat Indië en sterf op die skip aan 'n hartaanval. Lean speel hierdie opposisies dramaties uit, met Adele wat in die hofsaak skielik haar storie verander, en Aziz word vrygespreek. Aziz is 'n held en die skare dra hom op hul skouers. Fielding moet na Adele omsien, omdat sy deur die Britte verwerp word en Aziz ervaar dit as verraad. Adele verlaat Indië, Fielding trou met mevrou Moore se dogter, Stella, en uiteindelik versoen Fielding en Aziz.

Lean sou juis hierdie verhaal verfilm, wat by sy epiese aanslag pas en die opposisies goed uitwerk: klas- en kultuurverskille, verraad, inkeer, versoening in die 1920's.

A passage to India

Om 'n roman te verfilm beteken dat die filmmaker hom sekere vryhede mag veroorloof, en die term adaptation word hiervoor gebruik. Elke filmmaker se interpretasie sal daar anders uitsien, net soos wat elke romanskrywer op 'n ander wyse 'n figuur soos E.M. Forster sal beskryf. Ons weet dit dan uit die verskillende interpretasies van die figuur Henry James: Michiel Heyns, Colm Tóibín, David Lodge, onder andere.

Howard's end

In Howard's end van James Ivory is die gedugte Ruth Prawer Jhabvala die draaiboekskrywer, met puik akteurs soos Anthony Hopkins, Vanessa Redgrave, Emma Thompson en Helena Bonham Carter as die vertolkers van die draaiboek.

Hier handel dit oor liefde en klasverskille. Die minnaar (Paul Wilcox) kan nie met sy geliefde (Helen Schlegel) trou nie, want hy het nie geld nie. Hy moet nog geldmaak in Nigerië, wat nie 'n plek vir 'n wit vrou is nie. So begin die film dan met die rasmeerderwaardigheid en Forster se kritiek op die Britse hoë klas. Die film ondersoek dan Britse snobisme en hoe mense met mag oor inligting beskik wat die werkersklas uitsluit. Hopkins (as Wilcox) waarsku die susters dat Bast – wat toevallig in hul lewe beland het – sy werk by die assuransiemaatskappy mag verloor. Wilcox ontmoet hom toevallig aan hul huis en verwys neerhalend na hom as 'n tipe. Op hul aandrang verlaat Bast dan sy werk.

Ten spyte van mevrou Wilcox se brief in potlood dat Howard's End aan Margaret Schlegel bemaak moet word, ignoreer Wilcox hierdie versoek en verbrand die brief in die vuur. Dit is egter Helen wat die klaskodes deurmekaarkrap wanneer sy Bast en sy vrou na die Wilcox-troue bring, omdat sy voel dat dit Wilcox se skuld is dat Bast sy posisie by sy nuwe werk verloor het. By die troue drink mevrou Bast te veel en ontmasker Henry Wilcox (Hopkins) se verlede, 'n duidelike toespeling op die gay persoon wat ge-out kan word. In hierdie tyd verlei Bast dan ook vir Helen.

Briewe met pynlike inligting word telkens verbrand, net soos ook die briewe tussen Forster en sy moeder verbrand is.

Die wending van die verhaal kom wanneer Helen verdwyn en haar suster dink sy het mal geword. Sy laat haar terugkeer na Howard's End om haar boeke te kom afhaal en hier ontdek sy dat Helen swanger is. Die film ontmasker ook gendervooroordele: Wilcox kan nie Helen se swangerskap hanteer nie, ofskoon sy vrou hom vergeef het vir sy grensoorskrydende gedrag met Bast se vrou. Wanneer Bast wel terugkeer na Howard's End om Helen te sien, word hy deur Charles Wilcox aangeval. Dit lei tot sy dood en 'n hofsaak wat tot tronkstraf lei vir Charles.

Maurice

Filantropie en 'n gebrek aan deernis met die menslike lot is die tema van hierdie verhaal. En Howard's End as die ruimte waarin al die klasverskille en die implikasies daarvan uitgespeel word. Uiteindelik erf Margaret hierdie ruimte soos wat mevrou Wilcox wou gehad het. In Maurice – gebaseer op 'n latere teks – word die homoërotiese tema ontgin. In hierdie verruklike rolprent word die problematiek van die leefwyse in 'n verdrukkende samelewing beskryf en die hofsaak wanneer 'n vriend vir 'n seksuele misstap tronk toe gestuur word, aktiveer die Oscar Wilde-saak. (Galgut verwys ook na Wilde in sy roman.) Die twee minnaars, Maurice (James Wolby) en Clive (Hugh Grant), se lewensgang word beskryf. Clive trou omdat hy nie sy seksuele identiteit kan uitleef nie, terwyl Maurice wel geluk vind by 'n man. A room with a view is tersaaklik vir hierdie bespreking, omdat dit die eksotiese landskap – hier Italië – karteer.

V Vertelinstansie

Galgut begin sy roman vanuit die derdepersoonperspektief en die seksuele ambivalensie van die skrywer word onmiddellik aan die orde gestel. Ook die reis na verre, eksotiese ruimtes word opgestel met Morgan se reaksie hierop. Die klas- en kultuurverskille kom aan bod en daar is 'n verwysing na Henry James en 'n ontmoeting met D.H. Lawrence. Lawrence se afwysende opmerkings oor Forster se werk word knap verwoord. Die verbintenis met Cafavy is boeiend en op die man af. (Dit is vir my bykans die sterkste gedeelte van die roman.) Ook die effek van sy eerste suksesse en die reaksie van sy familie op sy boeke word weergegee. Helen Bast se verleiding van Helen Schlegel ontstig sy moeder, wat daarna verwys as onaanvaarbare gedrag van die lae klasse (55). Daar is eweneens 'n "chilliness" by kennisse wat die proewe lees, maar sy eie onsekerhede is eerder esteties as moreel (54). Die ervaring van homoërotiese verhoudings van die tyd is nie gebaseer op "secret codes" nie, maar mans wat nie trou nie, is bloot "bachelors" (47). "Of what earthly use were novels?" (120) is bykans 'n refrein van die spanning tussen lewe en kuns wat die subteks van hierdie roman is. Binne die Indiese ruimte word hy eroties gesteur deur die skoonheid van die mans (99). Pynlike afwysing verhoog ook die eensaamheid van die hoofkarakter: "So in the end one had to make the journey back to one's own bed more alone even than before, the step down between the two rooms like the threshold between two worlds" (84).

Hierom word daar uiting gevind in die skryfproses en erotiese verhale word daarna vernietig.

VI Ten slotte

"This crack, this deep divide, would run through his book" (137).

Uiteraard moet die leser van Galgut se roman haar afvra wát behoort aan Forster en wáár kom Galgut aan die woord. Is dit 'n huldeblyk of debunking van die gegewe? En ja, hoe sou Edward Morgan, oorlede in 1970, gevoel het oor die feit dat 'n twee keer genomineerde vir die Booker-prys uit 'n indertydse kolonie so 'n "passage to canonization" aanbied. Gaan die skrywer uiteindelik – soos die verteller in Barnes se roman – ontdek daar was meer as een papegaai? Ek was nog altyd 'n aanhanger van Damon Galgut, 'n skrywer wat stiltes tussen mense kan verwoord en tonele van eensaamheid beskryf wat jou ewiglik bybly en steur. Wees gerus: dit is nie 'n "where angels fear to tread" hierdie nie. Dit is uit eie reg 'n roman wat 'n mens oorrompel, onthuts, weer laat lees en tot nadenke stem. Die skrywer gee 'n interpretasie van 'n lewe en sy werk. Vir hom lê die voltooiing in die interpretasie van 'n lewe wat in tekste tot uiting gekom het. Lees gerus Hennie Aucamp se bydrae oor die onvoltooide roman, of "abandoned novel", op LitNet.

Hennie Aucamp © Pieter Strauss

Oor die film Maurice skryf hy:

"Die filmweergawe van Maurice kan as 'n aanvulling en 'n strukturele versterking van die oorspronklike roman gesien word."

Ons het Maurice weer eens aan die Merchant Ivory-vennootskap te danke. Anders as met Room with a view (1986) en Howard's End (1992), is die draaiboek nie van die meesterlike draaiboekskrywer Ruth Prawer Jhabvala nie. Sy het nie baie geloof gehad in die literêre gehalte van Maurice nie, maar het gesuggereer dat 'n toneel bygeskryf word waarin Clive se holderstebolder vlug Griekeland toe, weg van sy romantiese gesel Maurice af, gemotiveer word. 'n Universiteitsmaat van Clive en Maurice, ook met politieke aspirasies, soos Clive, word in 'n sekslokval gelei deur 'n soldaat in medewerking met die polisie, en word geboei weggelei van die verleidingstoneel af. Einde van 'n politieke loopbaan; einde, waarskynlik, van enige 'gentleman's vocation'. En dié lot wil die ambisieuse Clive tot elke prys vermy.

Vandag is dit byna onmoontlik om Maurice te lees sonder om Jhabvala se voorgestelde en uiteindelik gerealiseerde toneel in Maurice in te lees."

Veral A passage to India vra om 'n herlees. 'n Biografie het so pas verskyn.[5] Van 'n skrywer wat eers op 37 liggaamlike liefde beleef tot 'n beroemde skrywer wat soveel reaksies en interpretasies op sy werk beleef en in Arctic Summer meesterlik beskryf word. Vir Damon Galgut se enorme navorsing moet 'n mens ook die hoed lig.

Uit die gevormde kuns is daar wél kuns te make.

Eindnotas

1. Henry James en reaksies op sy romans het ek in 'n reeks artikels behandel wat indertyd in BY verskyn het.

Deel I

Deel II

Deel III

Deel IV

2. Ek het indertyd soos volg oor hierdie teks geskryf op my blog Woorde wat weeg:

Geagte Leser

Is u moeg vir boeke wat binne die Suid-Afrikaanse landskap bemark word as goed, uitstaande, die beste en dan lees u dit met ’n gevoel van matelose teleurstelling? Wees gerus: Damon Galgut se In a strange room sal u nie teleurstel nie. Dit word deur Penguin bemark as ’n roman, maar ’n mens sou dit ook as ’n losse versameling tekste kan lees gekonstrueer rondom ’n outobiografiese “ek”, ene Damon/Noel.

Die “naked I” wat ons hier aantref is ’n reisende, verkennende ek wat getransporteer word van een landskap na ’n vreemde een: Griekeland, Afrika, Indië oa. In hierdie beskrywings word die versplintering van die ek aan die leser voorgestel. Die reisende ek is ’n soekende persoon in die eerste vertelling, “The follower”, word die delikate relasie tussen twee mans beskryf. Wat met jou gebeur terwyl jy reis, is die uitgangspunt van hierdie vertellinge: jy is verveeld, jy is bang, jy kan besteel word en by doeanes in Afrika jou vasloop teen offisiere wat rang trek.

Die punt van hierdie vertellinge is nie travelogue nie, maar eerder ’n ragfyne ondersoek van die binnelandskap van die reisende karakter. Hy registreer met ongelooflike waarneming die landskap óm hom en sluit vriendskappe en verbintenisse. Wat dikwels plots tot stilstand kom. Ek ken min boeke waarin die isolasie en vervreemding van ’n reisiger met soveel helderheid vertel word. Die eensaamheid en onvervulling is die goue draad wat deur die teks loop. Jy kyk as’t ware deur sy oë na ’n Afrika-landskap of beleef die absurditeite van reisigers wat nie ’n visum in Afrika kan gebruik nie en telkens by banke voor dooiemansdeur staan.

My eksemplaar is omkring met belangrike uitsprake en oomblikke: die dood van ’n vriendin waarvan die volle impak hom eers veel, veel later tref (179). ’n Sentrale fokuspunt is die volgende stelling: “I am writing about myself alone, it’s all I know, and for this reason I have always failed in every love, which is to say at the very heart of my life” (106).

Natuurlik word die landskap korrek weergegee en hierdie leser het soms binnepret gehad oor die anekdotes, veral in Afrika, wat wáár is.

Die teks gaan waarskynlik al die literêre pryse verower. En dit sal welverdiend wees, want Damon Galgut kan skryf. Hy het gedebuteer op 17 met A sinless season en hierna telkens met groter helderheid én sekerheid goeie romans gepubliseer soos Small circle of being, The beautiful screaming of pigs, The quarry, The impostor en The Good doctor. Hy het al gesogte kortlyste gehaal, soos die Man Booker-prys – en ek voorspel goeie dinge vir hierdie roman. (Een punt van kritiek: die verwysing na William Faulkner is onvolledig.)

Die titel aktiveer die idee van “ostranenie” oftewel vervreemding: dat ’n goeie teks die klip as’t ware klipperiger moet maak (aldus die Russiese Formaliste) of die bekende “strangely familiar”. Deurentyd bly ’n mens bewus van reisiger-as-optekenaar of skrywer. Op die agterplat word die reisiger tipeer as Volger, Geliefde en Beskermheer en daar is subtiele aanwysings in die teks dat ’n mens hierdie lewensreis via die tarot kan volg. Daar gebeur ook wonderwerke: die verlore pille word gevind in Indië en nog ánder oomblikke soos ’n klip wat deur ’n venster trek, wat nie … wag, wag. Lees self. Die slotgedeelte is ’n kragtoer en ’n mens ervaar hoe uitgelewer ’n vreemdeling is aan die Indiese burokrasie en veral oor hoe wette verskil van land tot land. Jy het nie ’n visum vir ’n land in Afrika nie, maar as jy pleit kan jy deurgaan. Moenie net nie omdraai en verwyt as iets verkeerd gaan nie.

As u nie van hierdie boek hou nie, kan u voortaan weet u hoef nie my resensies te lees nie. Wees gewaarsku: wanneer jy begin lees, word jy meegesleur deur ’n teks wat so subtiel saamgestel is. Jy gaan dit dikwels neersit en nadink oor die tekstuur van vertelling en die verhulde pyn in die teks.

Na ’n hele paar mindere romans is Penguin weer tops!

Dit is 180 bladsye van jouissance en ’n verkenning van melankolie en vervreemding. Die beskrywing van die vriendin se diarree en die worsteling met die ellendes rondom haar maniese aanvalle, is grotesk. Die abjekte aldus Kristeva roer hier. Lees dit.

3. Toe ek hierdie teks die eerste keer op my rekenaar bewaar het, noem ek dit "arctic circle", inderdaad 'n sirkelgang, hierdie voltooiing. Op bladsy 352 staan daar: "It occurred to him that writing, in his ease, had never taken on this smooth, spherical quality; the perfect circle eluded him."


... it is impossible to communicate emotion: the soul is obliged to keep her secrets whether she wishes to or not.

You try to touch his depths without using your depths, and it can't be done. One subconsciousness must call to another. Which is a clumsy way of saying that there must be affection."

... an Englishman is assumed to be capable of understanding himself.

Al drie aanhalings kom uit Arctic Summer; die tweede is die regstreekse woorde van Martin Whitby, na aanleiding van Clesant March.



[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Tuesday, January 29, 2013

Damon Galgut - In a strange room (2010)



Damon Galgut. In a strange room. Penguin, 2010. ISBN 978 0 143 0627 3.

Resensent: Joan Hambidge


Geagte Leser

Is u moeg vir boeke wat binne die Suid-Afrikaanse landskap bemark word as goed, uitstaande, die beste en dan lees u dit met ‘n gevoel van matelose teleurstelling? Wees gerus: Damon Galgut se In a strange room sal u nie teleur stel nie. Dit word deur Penguin bemark as ‘n roman, maar ‘n mens sou dit ook as ‘n losse versameling tekste kan lees gekonstrueer rondom ‘n outobiografiese ‘ek’, ene Damon / Noel.

Die ‘naked I’ wat ons hier aantref is ‘n reisende, verkennende ek wat getransporteer word van een landskap na ‘n vreemde een: Griekeland, Afrika, Indië o.a. In hierdie beskrywings word die versplintering van die ek aan die leser voorgestel. Die reisende ek is ‘n soekende persoon in die eerste vertelling, “The follower”, word die delikate relasie tussen twee mans beskryf. Wat met jou gebeur terwyl jy reis, is die uitgangspunt van hierdie vertellinge: jy is verveeld, jy is bang, jy kan besteel word en by doeanes in Afrika jou vasloop teen offisiere wat rang trek. 

Die punt van hierdie vertellinge is nie travelogue nie, maar eerder ‘n ragfyne ondersoek van die binnelandskap van die reisende karakter. Hy registreer met ongelooflike waarneming die landskap óm hom en sluit vriendskappe en verbintenisse. Wat dikwels plots tot stilstand kom. Ek ken min boeke waarin die isolasie en vervreemding van ‘n reisiger met soveel helderheid vertel word. Die eensaamheid en onvervulling is die goue draad wat deur die teks loop. Jy kyk as’t ware deur sy oë na ‘n Afrika-landskap of beleef die absurditeite van reisigers wat nie ‘n visum in Afrika kan gebruik nie en telkens by banke voor dooiemansdeur staan.

My eksemplaar is omkring met belangrike uitsprake en oomblikke: die dood van ‘n vriendin waarvan die volle impak hom eers veel, veel later tref (179). ‘n Sentrale fokuspunt is die volgende stelling: “I am writing about myself alone, it’s all I know, and for this reason I have always failed in every love, which is to say at the very heart of my life” (106).
Natuurlik word die landskap korrek weergegee en hierdie leser het soms binnepret gehad oor die anekdotes, veral in Afrika, wat wáár is.

Die teks gaan waarskynlik al die literêre pryse verower. En dit sal welverdiend wees, want Damon Galgut kan skryf. Hy het gedebuteer op 17 met A sinless season en hierna telkens met groter helderheid én sekerheid goeie romans gepubliseer soos Small circle of being, The beautiful screaming of pigs, The quarry, The impostor en The Good doctor. Hy het al gesogte kortlyste gehaal, soos die Man Booker-prys – en ek voorspel goeie dinge vir hierdie roman. (Een punt van kritiek: die verwysing na William Faulkner is onvolledig.)

Die titel aktiveer die idee van “ostranenie” oftewel vervreemding: dat ‘n goeie teks die klip as’t ware klipperiger moet maak (aldus die Russiese Formaliste) of die bekende “strangely familiar”. Deurentyd bly ‘n mens bewus van reisiger-as-optekenaar of skrywer. Op die agterplat word die reisiger tipeer as Volger, Geliefde en Beskermheer en daar is subtiele aanwysings in die teks dat ‘n mens hierdie lewensreis via die tarot kan volg. Daar gebeur ook wonderwerke: die verlore pille word gevind in Indië en nog ánder oomblikke soos ‘n klip wat deur ‘n venster trek, wat nie…wag, wag. Lees self. Die slotgedeelte is ‘n kragtoer en ‘n mens ervaar hoe uitgelewer ‘n vreemdeling is aan die Indiese burokrasie en veral oor hoe wette verskil van land tot land. Jy het nie ‘n visum vir ‘n land in Afrika nie, maar as jy pleit kan jy deurgaan. Moenie net nie omdraai en verwyt as iets verkeerd gaan nie.

As u nie van hierdie boek hou nie, kan u voortaan weet u hoef nie my resensies te lees nie. Wees gewaarsku: wanneer jy begin lees, word jy meegesleur deur ‘n teks wat so subtiel saamgestel is. Jy gaan dit dikwels neersit en nadink oor die tekstuur van vertelling en die verhulde pyn in die teks.

Na ‘n hele paar mindere romans is Penguin weer tops!

Dit is 180 bladsye van jouissance en ‘n verkenning van melankolie en vervreemding. Die beskrywing van die vriendin se diarree en die worsteling met die ellendes rondom haar maniese aanvalle, is grotesk. Die abjekte aldus Kristeva roer hier. Lees dit. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]