Showing posts with label Zandra Bezuidenhout. Show all posts
Showing posts with label Zandra Bezuidenhout. Show all posts

Monday, October 4, 2021

Resensie | Zandra Bezuidenhout - Derde gety | H&R, 2021

Zandra Bezuidenhout – Derde gety. H&R, 2001. ISBN 798 0 7981 8170 9 

Resensent: Joan Hambidge

 

‘n Soeke na die staning in die self

 

Zandra Bezuidenhout het haarself al onderskei as 'n uitnemende vertaler van Alfred Schaffer en Anna Enquist se poësie. Haar jongste bundel heet Derde gety.

 

Bezuidenhout is verteenwoordig in Karen de Wet se Vers & vrou (2020) waarin 258 vrouedigters saam-groepeer word róndom al die aspekte van vrouwees. Ons vind hier haar gedig "Falliese vrou" wat inspeel op Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman wat in 1992 verskyn het. Hierdie Jungiaanse cantadora (oftwel storieverteller) analiseer die krag van die vrygeworde vrou.

 

In De Wet se antologie word die leser deur die verskillende aspekte van vrouwees geneem. Lankal nie meer is sy die "vroulike aanvulling" of die tweede seks nie. Vroue binne die Afrikaanse digkuns het agentskap. The empire writes back. Tegnies bedrewe (soos Elisabeth Eybers) of liries-besinnend (soos Antjie Krog). Trouens, dit sou 'n hele studie kon word om te kyk hoé vrouedigters oor die vaderfiguur skryf: wetend dat hy 'n mens met gebreke was en dikwels nie 'n man van staal nie (Marlise Joubert). Of liefdevol-teer (soos Olga Kirsch). 

 

Vroue moes deur die manlike orde van goedkeuring beweeg en bloemlesings, saamgestel deur vroue, se klem word anders geplaas soos in Lina Spies se Sy sien webbe roer (1999) en die reeds genoemde een van Karen de Wet. Die skokkende of transgressiewe word eweneens verteenwoordig: die vrou as hoer, die one night stand, lesbiese seks, die woman-identified woman, die vrou as Amasone of huisvrou, die verliefde of versaakte vrou; menstruasie en swangerskap.  Die zipless fuck en verslawings. Swangerskap en aborsie.

 

Van Julia Kristeva, Hélène Cixous (White ink, 2008) tot by Luce Iragaray en Elaine Showalter word die vroulike begeerte, fantasie en kreatiwiteit beskryf waarmee die leser hierdie tekste kan oopmaak. Elke gedig skep en vra vir haar eie teoretiese benadering of leesmodel.

 

In die jongste bundel van Bezuidenhout word daar 'n blik gegee op verskillende aspekte van vrouwees: die dogter teenoor die moeder; die kind wat probeer vredemaak met die vader (met die wete dat sy soos hy is); die vrou as moeder verbind aan bloedgenote verbeeld in "Donker raam" (71).

 

By Bezuidenhout is daar 'n meer konvensionele vrou aan die woord en hierom is dit tersaaklik dat sy aanklank vind by Eybers soos in die aangrypende "In memoriam Eybers" (91) waar sy hulde bring aan die "elegante hand" (letterlik en figuurlik) van ons eerste gekanoniseerde vrouedigter. Hier word verwys na  "… die ligval deur haar raam" wat Eybers vir ons in ‘n portret plaas.

 

Stilte in hierdie gedig dui op die dood, maar dit is 'n belangrike kode in vrouepoësie, al word hulle 'n "ongehoorde soort" later. Die mooi voorblad van Andries Gouws heet Stoel in ateljee, Molyvos, Lesbos, Griekeland wat verdere stilte en verlatenheid impliseer.

 

Die eb/vloed van die lewe word in die derde gety ondersoek met 'n verwysing dalk na die derde golf van die feminisme waar vroueregte ook krities ondersoek word en denkfoute uitgewys word?

 

In hierdie bundel word daar besin oor die kwessie van herdoping van name binne die postkoloniale tydvak en in “Perspektief” word daar krities gekyk na die einde van die orde van bevoorregting. Genderissues word betrek en in “Dubbelvisie” gekyk na die “transgender Kaapse suster / is soos die oorstewind ‘n heer” (27) waarin Bezuidenhout tereg begryp dat die begrip transgender dui op die versamelterm van verskillende genderdwarshede; en nie net na geslagsverandering nie.

 

Daar is herinneringsverse, reisgedigte en ‘n beeldvers vir Marlene Dumas wat “Intiem” (45) heet. In hierdie gedig word ‘n hele feministiese diskoers rondom intimiteit (en skaamte) met ‘n ferm digterlike hand oopgemaak en ons lees ook verwysings raak na Antjie Krog.

 

Daar is ars poëtiese besinnings (soos in “Ongenooide gaste”, 82) waar ‘n spel met woorde-as-gaste verbeeld word:

 

Slegs genooides kry toegang

tot die knap woonruimte van ‘n gedig (82).

 

En in “Repliek op kritiek” (83) aktiveer sy Eybers se skerp siening van die dagbladkritikus en hoe modes en smake soos die seisoene wissel. Die ewige onsekerhede waarmee elke digter worstel oor die weegskaal wat implisiet of eksplisiet ter sprake is.

 

Die verskillende afdelings (Kontreie, Sinneryk, Vrou-beeldig, Dinkgoed, Die makers, Lament) gee ‘n aanduiding van die digter se besinning oor die lewe van ‘n woordmaker wat nostalgies terugkyk en die vreugde van digtersfeeste besing.

 

En daardie walvis het baie simboliese lae binne die letterkunde. Die seekalender het sy eie tyd en in hierdie bundel word daar baie keer na tyd gekyk. Letterlike tyd, herinneringstyd en die sterreskrif wat dui op verdwene tyd.

 

 

Met hierdie bundel vind ons ‘n belangrike aansluiting by die groot aantal “vroulike aanvullings” wat oor alle fasette van vrouwees skryf sonder skroom. Nie net oor die potte of panne nie, maar oor die einders en reise, verlos van die wasgoedbalie. Al is dit net tydelik. Die vrou is nie langer voorbeeldig nie, maar vrou-beeldig.

 

Zandra Bezuidenhout


 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld) 

 

 

Monday, October 10, 2016

Anna Enquist - Arsenaal van klank (2016)


Anna Enquist - Arsenaal van klank. (Vertaal deur Zandra Bezuidenhout). Protea Boekhuis, 2016.  ISBN:  978-1-4853-0604-7

Resensent: Joan Hambidge

Ofskoon Nederlands of Vlaams na aan Afrikaans lê, is dit vir die meeste lesers moeilik om te begryp.

In Afrikaans het Daniel Hugo, Lina Spies en Zandra Bezuidenhout, om ’n paar name te noem, geweldig belangrike werk gelewer om tekste in hierdie tale vir die gewone leser oop te maak. En dan is daar Alfred Schaffer wat weer Afrikaans na Nederlands transporteer.

Anna Enquist se Arsenaal van klank, vertaal deur Zandra Bezuidenhout, bevat benewens die Afrikaanse vertaling ook die oorspronklike Nederlands.

Die leser kan dus vergelykend lees of gewoon net die Afrikaanse weergawes ­geniet. Vertaalde gedigte moet immers op hul eie terme getakseer word.

En as dit gewoon as Afrikaanse gedigte getakseer en beoordeel word, is dit ’n wonderlike bundel. Kom ons val met die deur in die huis.

So dig Anna Enquist in “Habanera”:

Die verse is so woes uit die bodem
getrek dat hulle nog lank na-gekraak het.
Toe het die letters soos as in die sneeu ­gelê
en nie meer beweeg nie. As iemand hulle
aanblaas het hulle effens opgevlam: ou vuur.
Daar was ’n kind. Met haar het ek
deur die kamer gedans, ons het van hoek
tot kant galop, ons het luidkeels ’n lied gesing.
Sy het ’n warm gesig gehad. Sy was my dogter.
As ek asemhaal, vonk sy na in die gedig.

Onmiddellik is die leser binne die ruimte van die gedig wat verlies navigeer.

Die dood van haar dogter in ’n motorongeluk is algemeen bekend, ofskoon die gedigte uiteraard ook ander verliese aanroer.

Anna Enquist is die skrywersnaam van die Nederlandse digter en prosaskrywer Christa Widlund-Broer, opgelei in sowel die psigoanalise as die musiek.

Haar gedigte het ’n nugterheid wat herinner aan die gedigte van Elisabeth Eybers.

Wanneer die leser begin torring aan spesifieke woorde in die gedigte en sinonieme of antonieme soek, word die gedig met nuwe betekenisse gelaai.

So klink die eerste strofe van “Smaak”:

Die gedig wat spreek van goeie smaak
kies woorde met ’n dubbele bodem,
beskeie binnerym, beeldspraak
binne perke. Maak hom groot
op ’n regime van stylfiguur
en stukrag, dan groei hy
met oorleg, slank van bestek.
Dan skryf sy verder:
My gedig vreet hom vol
aan rommel. Moenie, sê ek,
daardie bitter oorskiet, daardie armsalige
rantsoen verorber nie. Maar die vers
bars uit die stywe gordel
van die reëls en smyt hom
op die bladsy, voor my oë.

Hierdie ironiese spel met die reëls van die digkuns maak die verse besonder interessant vir hierdie leser. Die digter dekonstrueer daardie voorskrifte en die regime van stylvoorskrifte, maar uiteraard is haar verse nooit onbehendig of bereik dit rommelstatus nie. Inteendeel.

Alles word netjies saamgevoeg en bymekaargehou, soos dit van hierdie dubbelspel vereis word.

En daar is inderdaad ’n “arsenaal van klanke” wat die vertaler goed oordig na Afrikaans.

En hierdie “dubbelspel” is so bekend in Eybers. En die stiltemotief loop soos ’n swart draad deur veral vrouedigters se werk: ’n Mens dink aan Heilna du Plooy wat probeer om daardie stilte op te skort.

Klank en stilte. ’n Mens kan deurgaans hierdie opposisie raaksien in hierdie bundel wat met ’n besondere balans tussen emosie en suggestie voor jou op die bladspieël afspeel.

Die digter is ’n fyn waarnemer van die huwelik, van vrouwees en skete.

Soms is sy ’n pretbederwer soos sy in “Sprokie” dig:

Ek, pretbederwer, pessimis, vreemdeling,
skryf snags met my geheime ink:
storms dryf my voort, die pad loop dood.

Ook gendersake en die spanninge tussen man/vrouwees, word uitstekend verwoord.

Boonop is daar lieflike beelde in hierdie bundel (“Mis vly neer soos ’n laken / die frambose is so groot soos kabouterkoppies”).

’n Arsenaal – soos ’n wapenopslagplek – word hier gebruik op ’n interessante manier. Taal en klank as iets waarmee jy jou verset, stelling- of standpuntinname teen pyn, desillusie, veroudering . . .

In “Julie” word hierdie subtiele spel met o- en y-klanke uitgespeel; met die spreker wat in ’n ysvlakte vasgevang is.

Dank aan Protea wat telkens ’n belang­rike vertaling aan die Afrikaanse leser ­bekendstel.


Dit is ’n bundel wat op elke digkunsliefhebber se rak hoort.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Friday, February 22, 2013

Zandra Bezuidenhout - Aardling (2006)



Zandra Bezuidenhout. Aardling. Protea Boekehuis, 2006. ISBN 1 86919 128 5.

Resensent: Joan Hambidge

Daar is verskillende maniere van poësie beleef en skryf. Om te dink dat alle digters op presies dieselfde wyse funksioneer, is ‘n dwaalleer. ‘n Mens hou dikwels van ‘n digter se “stem”, of jy kan  dit nie verduur nie. Antjie Krog se Verweerskrif, om ‘n bundel uit te sonder, bewys hoe lesers dink dat die digkuns bedoel is om oor die “skone” te handel, die “mooie”...

Daar is ook ‘n verskeidenheid van vrouestemme in Afrikaans aan die werk, tans.
In Aardling word verskillende fasette van vrouwees ondersoek. Hierom is die gedig “Falliese vrou” ‘n sentrale vers in die bundel. Dit betrek Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves, ‘n Jungiaanse studie van 1992, waarin verskillende argetipes van vrou-wees, beskou word. Hier is dit veral die aardling, die digter wat praat in konkrete terme oor die lewe in sy sinrykheid en teenstrydighede. By Pinkola Estés is daar die cantadora of storieverteller aanwesig: hier is die vertellinge oor die jeug, die moeder, grootmoeder, die dood, seksuele ontwaking en digterskap.

Daar is vier afdelings: In stof; Deurreis; Tot Stof; Gees wat die Pinkola Estés-dimensie verder ondersteun.

Die gesprek met die moeder – in Kristeva se terme aktiveer die baarmoederlike digterlike taal – en die erkenning van ‘n geslag singende vroue, word hier in die gedig gestulp. “Voetbaldans, Somerset-Wes” beklemtoon eweneens die sterk identifikasie met die vroulike, soos eweneens in ‘n gesprek met Judith Herzberg. En in “Gedagtig aan Praag”:

In kafees speel viole mazurkas en tzardas,
gedagtig aan vroue: glansendes, dansendes,
wat glim soos die koepels van Praag (p. 37).

Daar is deurgaans ‘n spel met die invloed van die digkuns, soos in “Deurreis” wat gelees kan word as ‘n ars poetica; so ook “Aragnoïde”, kommentaar op die postmodernistiese netwerke waarvan geen digter kan ontsnap nie. So moet “Woordende woord” saamgelees word met Van Wyk Louw en Johann de Lange, se “Wordende naak”, waarvan eersgenoemde twee sterker staan, veral met die fletse slot (opdrifsels).

Woordgevoeligheid en –spel lei dan ook tot ‘n twakkerige slot soos:

Die insig en die sin begin
waar ons sin
onsin word (“Brief aan die Korinthiërs”, p. 69).

Of in “Wisseling” word die voor-die-hand-liggende spel met lig en skaduwee uitgewerk, sonder ‘n verrassende nuwe insig vir die leser. In “Voor-lente” lees die psigoanalitiese leser ‘n onbedoelde glip van die tong tussen “ongepoets” en “draadprieel”, veral omdat die gedig tot (oor)barstens toe gevul is met implikasie. En wat is die punt van “Moderne Psalm”? Vergelyk dit met Totius of T.T. Cloete en die leser wag op die dénouement.

In “Misa Tango” lees ons:

Deur die dans, my God,
hoor U die voetval van die aarde.
As ons u ritmies nader,
kom deur die klop
‘n skare in beroering.
In so ‘n mis se drif
gryp ons U polse was, wieg
tot U gedagtenis.      (p. 59)

Hierdie soort dansmusieke bly by die eerste impuls en word nie iets meer nie.
Wanneer daar vanuit die konkrete beweeg word, is die verse sterk, oortuigend. Die metafisiese verse is egter nie intellektueel oortuigend nie; dit kom dikwels nie verby die betogende of prekerige nie. Die ingeligte leser is in iedere geval dikwels bekend met die groter prentjie.

Vir ‘n tweede bundel is daar waarskynlik ook te veel lopers en verse waarin die digter selfingenome is met ‘n taalspel en nie die gedig vir sigself laat praat nie, maar ‘n handvol gedigte is ontroerend en goed. Veral jeugseksualiteit – waar onthou en ervaring één word – en die speelse “Teksture van hier”, staan beslis uit.

As tweede bundel breek dit nog nie heeltemal die glasplafon nie. Tog is daar waardering vir die ongeskonde jeugstem. Die digter is met haar debuut met die Ingrid Jonker-prys bekroon in ‘n tyd toe die poësie-oes uiters skraal was.

En die voorblad is beslis nie Protea Boekehuis se beste nie. Ek hou meer van die Hollandse voorkoms as die “sewenties”-aanslag.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]