Showing posts with label Rachelle Greeff. Show all posts
Showing posts with label Rachelle Greeff. Show all posts

Monday, February 25, 2013

Rachelle Greeff - Palazzo van die laaste dans (2006)



Rachelle Greeff. Palazzo van die laaste dansKwela, 2006. ISBN 0 7957 02361.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Merkwaardige greep op kortkuns. Dit is wat die agterblad opsom oor Rachelle Greef se merkwaardige talent as kortverhaalskrywer. Wanneer ‘n mens onder andere dink aan Die rugkant van die bruid is die helder metaforiese krag van die verhale opvallend. Asof die verteller met een bliksemskig ‘n oomblik opvang. Die vrou – ongelukkig getroud en onrustig oor haar man – wat die rugkant van die bruid sien en besef  wat alles gebeur tussen die huwelikseremonie en die belewing van die eggenoot wat op ontnugtering uitgeloop het.

Die verhale van Greeff ondersoek dikwels die gefnuikte begeerte en hierom is die aanhaling uit Auden se “Death’s Echo” so tersaaklik:

“The desires of the heart are as crooked as corkscrews”.

Haar jongste bundel Palazzo van die laaste dans word gepubliseer deur Kwela en het twee louwarm resensies ontvang: een in Insig wat onbehendig was en een in Rapport wat ten beste as ‘n mislesing beskryf kan word.

In die openingsverhaal “Leo” word ‘n komplekse analise van verlore liefde, versugting, vermeende vaderskap en identiteit. In die tweede verhaal “Blues vir ‘n roosbuurt” word dit waarin Greeff uitmunt, te wete die nostalgie, ontgin wat uitloop in die slot: "En hoe verder jy gaan, hoe nader wentel jy aan – en dis al troos, al magic – die slot wat nie jy nie, maar die storie self skryf" (p. 44). Hiermee aktiveer sy ‘n uitspraak van Van Wyk Louw dat slotte dan ook as sleutels gelees moet word en vele van die verhale se slotte is belangrike sleutels waarmee die verhaal oopgemaak moet word.

J. Hillis Miller het beweer dat ‘n mens kan praat van “Reading as eating” en dat jy ‘n teks moet benader asof jy ‘n uitgebreide spyskaart voor jou het met voorgeregte, hoofgeregte en uiteindelik nageregte om uit te kies. By Rachelle Greeff sou ‘n mens die dans-metafoor kon gebruik. Die tekste dans op ‘n vernuftige manier in op mekaar. Die verwysing na die wêreld van George Balanchine, ballettonele en die eise wat dit stel aan die liggaam en gees word gesinkopeer in die sterk, allamagtige slotverhaal: "Maar net ‘n kat” waarin die Indiese spiritualiteit gebruik word as andersoortige dansmetafoor. Die soeke na stilte en spiritualiteit. 

Die openings- en slotverhale sluit goed om die ander mundane verhale: in die eerste verhaal word daar met die parapsigologiese kontak gemaak, met die besoek van ‘n geliefde uit die dood. In die slotverhaal is daar deur middel van joga en die ontmoeting met ‘n yogi, Jafar, ‘n inbeweeg in die domein van die oer-spirituele. Die verhouding tussen ‘n man en vrou word vernuftig ver-beeld en verkonkretiseer in die verhouding met hul honde en katte. Die uitdrukking soos kat en hond baklei word hier só briljant uitgewerk dat die leser dikwels na die asem snak. Die liefde, eers oorrompelend wat later met regulasies en afstand beheer word en die wete dat geen mens ‘n ander se pyn of stiltes kan begryp nie, word hier verbeeld. Die ou hond se verhouding met háár kleintjies – waarvan sy ‘n paar verslind by geboorte – en ‘n oorlewende reun wat later die kat vermorsel, is hiér metafore vir die psigiese prosesse wat sig in die vrou uitspeel. Haar soeke na stilte en begrip word in jukstaposisie geplaas met die geweld om haar. En die wete dat sy ‘n lewe hier moet uitbeitel.

Greeff is ‘n gerekende rubriekskrywer, onderhoudvoerder en artikelskrywer. Die lot van die skrywer wat om den brode moet skryf word ook aangespreek. Watter invloed het dit nie alles op die kreatiewe gees nie?

Om te skryf vir Visi oor interieur-sake of ‘n onderhoud te doen met ‘n bekende figuur kompromitteer die kreatiewe mens. Tog kan dit nie anders nie. In hierdie populistiese tekste word daar dikwels (ironies genoeg) stof gevind vir verhale (“Magenta, onverwags”) en die skrywer bely dat daardie eerste notasies getrek word vir die “dans van die afloerder, inkyker, aandikker”(p. 140).

Dit is immers wat die skryfproses is: om uit die prekêre en efemere ‘n stuk vertelling te maak wat bó die banale en die alledaagse uitstyg.

Kan die danser van die dans geskei word? om Yeats se vraag te vra.

Die aanhaling uit W.H. Auden en die toepaslike dansende metafore beklemtoon dat die verskillende vroue-vertellers, -waarnemers uit verskillende windrigtings van die self spruit. Vir die feministiese leser sal hier veel te lese wees oor die rol van die moderne vrou en haar agentskap.

“Indifference to everything except your canvas” is ‘n skrywersmanifesto oor die skrywer as gekweste dief wat deur die samelewing as ab-normaal gesien word.

In hierdie verhaal word deur verskillende klankgrense gebreek.

Dit is ‘n versameling verhale waarin moderne kwessies soos die invloed van Prozac, dwelms, ontnugtering en ander grensgebiede van die psige ontgin word.

Vir my persoonlik was die eerste storie en die slotverhaal twee uitstaande stukke kortkuns. ‘n Resensie kan nie reg geskied aan al die ingebedde intertekste in hierdie verhale nie. ‘n Mens sou onder andere nog meer wou skryf oor die verwysing na Jane Campion, die filmmaker van The Piano, waarin die stomheid van Ada – vertolk deur Holly Hunter -  in jukstaposisie geplaas word met die musiek wat sy maak. Op dieselfde wyse ontstaan die skryfproses uit die psige se chaos, pyn, onvermoëns om direk te kan artikuleer wat ons voel, dink, droom.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Wednesday, February 6, 2013

Twee rubriekskrywers - Jaco Kirsten & Rachelle Greeff (2008)


Jaco Kirsten. Mý kant van die saakTafelberg Uitgewers, . ISBN 9780624 046394



Rachelle Greeff. Alles behalwe die geheim van my whiskiesHuman en Rousseau, . ISBN 978 0 7981 4937 2

Resensent:  Joan Hambidge

Twee onderhoudende rubriekskrywers binne die Afrikaanse dagbladpers is Rachelle Greeff en Jaco Kirsten. Kirsten se loopbaan het ek begin volg toe hy as motorrubriekskrywer week na week in Die Burger op ‘n Donderdag my aandag kon hou. Rachelle Greeff skryf deesdae insigryke letterkundige rubrieke, soos in Rapport. Nou onlangs het sy nie geskroom om Imraam Coovadia aan te vat oor sy enigsins bitsige en oningelige resensie oor ‘n Breyenbach prosateks nie.

‘n Mens koop ‘n koerant om ‘n rubriekskrywer te lees. Hoeveel rubriekskrywers kry dit reg om ‘n leser te wen vir sy / haar saak?

En hoeveel rubriekskrywers se tekste kan die toets van die tyd deurstaan? Ek dink een so ‘n tydlose, belangrike rubriekskrywer is Audrey Blignault. Haar essay oor die rooi rok of die vertelling van die tante wat geva het dat sy een dag onderstebo begrawe moet word sodat sy die ou mal, deurmekaar wêreld kan verstaan, is so ‘n een. Op sy dag het André P. Brink sout en peper gesprinkel en vele mense die harnas ingejaag.

Hier te lande is David Bullard se satire in die Sunday Times misgelees en sy mond gesnoer. Elke week gaap daar ‘n afwesige grafsteen waar Bullard moes staan en ons lees mindere talente se politiek korrekte menings.

‘n Goeie rubriekskrywer moet wel, goed kan skryf.

Beide Kirsten en Greeff kan dit doen.

Dit sit nie in almal se rubriekbroek om week na week kopie te lewer wat die toets van die tyd sal deurstaan nie òf ‘n leser sal boei nie. Op die Jaco Kirsten voorblad staan daar ‘n Elvis Presley-kloon wat ‘n voorstelling is van ‘n ander rubriekskrywer, Emile Joubert, wat klappe kan uitdeel, maar hulle nie kan vat nie.

‘n Goeie rubriekskrywer het ‘n mening. Al is dit dwars, aweregs, selfbehep, stroom-op, ikonklasties soos Koos Kombuis).

Maar dit mag nie niksseggend wees nie.

Kirsten is deur Tafelberg gepubliseer en Greeff deur Human & Rousseau.

Kirsten is pittig. Sy CV verraai ‘n loopbaan van wydlopende ervarings van brandweerman tot veiligheidswag; reklameman tot kopieskrywer en joernalis.

Greeff is ‘n kortverhaalskrywer en romansier.

Marita van der Vyver beskryf die Greeff-versameling as sjokolade wat jy as ‘n lekseltjie op ‘n slag kan benader. Maar as jy alles op een slag verorber, maak dit nie vet of veroorsaak skuldgevoelens nie.

Kirsten se tekste kan waarskynlik met ‘n bier-beeld verduidelik word as ‘n mens die kroeg-buiteblad in ag neem.

Met ‘n rubriekskrywer is dit soos met ‘n digter of ‘n sanger. Jy moet van die stem hou en dan kan daar maar enigiets uitgepak of opgedis word.

Natuurlik is hier ‘n gender-konstruksie ter sprake: waarskynlik sal die manne eerder Kirsten aanskaf.

‘n Letterkunde het sy rubriekskrywers nodig, veral diegene wat dwars, aweregs of stroomop is.

Vanselfsprekend is die bestes in so ‘n versameling die tekste wat verby die onmiddellike of partikuliere indruk / belewenis /insident handel. Greeff se “Wie wil anyway piepie soos Parker Bowles?” gee ‘n verslag van toilette, en die verskille tussen Afrika en Londen. Nou weet elke leser dat ‘n koerant / tydskrif ‘n maksimum van 800, dalk ‘n 1000 woorde duld. Die rubriek moet dus binne die kort bestek sy draai gooi en sy punt maak.

Soms sou ‘n mens meer wou hoor…

Kirsten se “Twee wêrelde langs mekaar” lewer verslag van hoe min ons weet van mekaar in hierdie land. Dit sou uiteindelik eendag as ‘n tydsdokument gelees kan word van verblyf in Londen, terugkeer na Afrika en ons skisofreniese land.

“So gemaak of so gebore?” sal waarskynlik in ‘n eksamenvraestel vir jong skoliere land. Greeff skryf hier as ma: sarkasme is uit, humor is in.

Jaco Kirsten se humor het my nogal gekielie.

Hy is onpretensieus, op die man af en macho.

By Greeff is daar weer ‘n feministiese / vroulike blik.

‘n Goeie rubriekskrywer skep sy / haar lesers.

En dit is die getroue lesers wat hierdie boeke gaan aanskaf.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]