Showing posts with label Francois Smith. Show all posts
Showing posts with label Francois Smith. Show all posts

Wednesday, September 8, 2021

Resensie | Francois Smith – Die getuienis | Tafelberg, 2021

Francois Smith – Die getuienis. Tafelberg, 2021. ISBN 978-06240-92360

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Van die eerste oomblik wat hierdie leser begin het om Die getuienis van Francois Smith te lees, was sy onder die indruk van die vaart en drif van hierdie roman. 

 

Dit het die tweede plek in die groot romanwedstryd verower.

 

Dit word bemark as ‘n egpaar se verslag van ‘n reis. ‘n Verslag van drome en visioene, van wonderwerke en vloeke, van bloedverwantskappe en sluimerende woede. Aldus die agterplat.

 

Die motto is ‘n aanwysing: Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.” Génesis 22:2.

 

Rondom geloof en simboliese offergawe – met ‘n uitkoms wat die leser kan voorspel – word twee karakters, Retha en Gerbrand “Valkie” Killian, se binnespraak vir ons weergegee. Hulle geloof en hoe dit alles bepaal is die ondergrond van hierdie pakkende roman.

 

Twee karakters se binnespraak word teenoor mekaar geplaas.

 

Hulle reis na Ventershoop en die teks kan as ‘n peregrinasieverhaal beskou word. Reis beteken immers ‘n verplasing van een ruimte na ‘n volgende een. Hier is dan ‘n terugkeer na die verlede en die ruimte Ventershoop, waar Gerbrand groot geword het, is bepalend. Naboomspruit en Nylstroom is eweneens hier.

 

Twee figure, ‘n man en vrou, se verbintenis word ondersoek. Bedrog van die vrou, maar alles word deur die geloof “reggemaak”. Ons beleef hul bewussynstroom en verskillende interpretasies op ‘n lewensreis. Sy kom uit die Ooste van Pretoria; sy vestig haar saam met die man in Pretoria-Wes, hy werksaam by Makro. Daar is twee seuns. En ‘n vele teenspelers wat hul “happy clappy”-geloof bevestig. Retha se vader was bang dat Gerbrand (“bokka”) ‘n “evil spirit” is. Daar is orals verwysings na die mag van Satan.

 

Haar bedrog en misbruik van sy kredietkaart lei tot ellende. Die balju is voor die deur. 


Op ‘n fassinerende wyse word Bybeltekste vervleg deur hierdie teks (“Nogtans sal ek jubel”, Habakuk 3:18) en ‘n verwysing na Pilatus se vrou se droom wat waarsku oor die verkeerde besluit oor die kruisiging van Jesus.

 

Ruan, die seun sien in ‘n droom ‘n G wat verwys na Gerbrand, gebed en getuienis. Die droom word ‘n vooruitwysing vir die simboliese offergawe. Teenoor die Bybelse verwysings is daar Vicki Leandros se liedjie oor drome (Dreams are good friends - Vicky Leandros - YoutubeBesoek 8 September 2021).

 

Tydens die lees van hierdie teks kyk ek weer na The Exorcist van William Friedkin (1973), daardie film oor demoniese besetting van Regan, die twaalfjaaroue kind. In ‘n analise van die film (‘n ekstra tot die DVD) erken Friedkin die mag van spiritualiteit en dat die Goeie die Bose oorwin in hierdie film.

 

In Katinka Heyns se rolprent Paljas (1997) vertolk Marthinus Basson die rol van die predikant wat die gemeenskap moet beskerm teen die bose. Hoe die kerk teen mense wat anders of buitestaanders is optree word knap weergegee. Met Marius Weyers as die stasiemeester wat beproef word deur sy huislike omstandighede (‘n stom kind en die aankoms van ‘n sirkus). Die paljas en towerkunsies bevry sy kind van stomheid. En die gemeenskap se onvermoë om buite die voorspelbare indoktrinasie te kan dink en optree, word skitterend ontleed.

 

En In Die getuienis word hierdie selfde onkritiese oorname van God se Woord ondersoek. Die dorpie in Paljas is Toorwater; in Die getuienis is dit Ventershoop. 

 

By Friedkin is die demoniese ‘n werklikheid en die priester Lankerster Merrin (Max von Sydow) met sy kennis van die argeologie bevind hom in Hatra (Irak) en sien ‘n beeld wat lyk soos Pazuzu, ‘n demoon. In hierdie ruimte sien hy ‘n beeld wat hom waarsku dat die bose gaan toeslaan. Hy is dan een van die priesters wat die jong kind moet eksorseer in Georgetown, VSA. Met die hulp van Vader Karras (Jason Miller), ‘n priester wat sy geloof verloor het, word die kind van haar demone bevry, ofskoon albei die priesters sterf tydens die proses. Die film analiseer die verskille tussen geloof en sielkunde. Vele besoeke aan dokters en sielkundiges kan helaas nie die kind van demoniese besetting bevry nie. Geloof en rites alleen kry dit reg.

 

In hierdie roman moet die leser self besluit of die Goeie die Bose troef. Dwaal ons dalk vra ‘n karakter, omdat ons nie die Skrifte ken nie en die krag van God misken, aldus Matthéüs 22 vers 29? Aldrie hierdie uiteenlopende tekste ondersoek immers dat jy aan die bestaan van Iets moet glo alvorens dit ‘n impak het? Of nie?

 

Regan se hele lyf skud immers weens die poltergeeste wat haar oorgeneem het. By Smith word skisofrenie beskou as een van die ergste en duidelikste tekens van die bestaan van Satan (95). En daardie Satan, meen die naïewe belyer, kan by ‘n klein gaatjie inkom, al is dit so klein soos ‘n koeëlgaatjie.

 

Die otchitka word steeds in die Rooms-Katolieke kerk beoefen. ‘n Gebed deur die priester wat water sprinkel oor die persoon moet die duiwel(s) verdryf. Trouens, die priester verduidelik dit vir die moeder in The Exorcist.

 

Francois Smith teken hierdie tafereel helder.  Hy is nie satiries oor sy karakters nie. Jy is oortuig van sy karakters se lewensfilosofie: van Junior wat uitgelewer is aan ‘n jesebelgees; van gedagtes wat soos vlermuise vlieg; van God se post-traumatiese stres, omdat sy Seun lank voor hom gesterf het … (155).

 

By Smith handel dit oor Bevrydingsgodsdiens en lekeprediker; In Paljas sien ons die NG Kerk in aksie en in The Exorcisten die Rooms-Katolisisme wat demone kan eksorseer.

 

Elke teks reageer uniek op die Bose met die geloof dat die Goeie in die Onsienbare dimensie sal oorwin. (KYK WEER/ Francois Smith gesels oor sy verslag van drome en visioene | Netwerk24Besoek 6 September 2021).

 

Harold Bloom se boek Angels in America (2005) ondersoek eweneens die impak van hierdie soort geloof. Daar is ook The American Religion: The Emergence of the Post-Christian Nation (1992). 

 

‘n Roman wat baie goed werk met implikasie, subteks en verwysings. Hierdie mense bestaan wel. Hulle eet Doredo pizzas, kry aalmoese van ander en jare terug het so ‘n lekeprediker teenoor my opgemerk dat depressies van die duiwel is. As Harold Bloom die impak van hierdie soort geloof op die gemeenskap analiseer, dan weet ons dat ons moet kennis neem.

Saturday, August 2, 2014

Francois Smith – Kamphoer (2014)



Francois Smith – Kamphoer. Tafelberg, 2014. ISBN 978 0 624 06551 7
Resensent: Joan Hambidge

I
Kamphoer is die romandebuut van die redakteur, Francois Smith. Dit vertel die verhaal van Susan Nell, 'n vrou wat wreedaardig verkrag is tydens die Anglo-Boereoorlog en jare later gekonfronteer word met haar boosdoeners. Die eerste ontmoeting vind plaas tydens die Eerste Wêreldoorlog in 'n Britse militêre hospitaal waar sy trauma-begeleiding doen. Die tweede ontmoeting vind plaas ná 'n verhoor van die Tweede Wêreldoorlog.

Dit is bepaald 'n pakkende roman op verskillende vlakke. Dit is egter jammer dat die buiteflap met die volgende taal die boek bemark: "En in die proses word sy teruggestamp in 'n bomkrater wat sy geglo het lank reeds toegegroei het en veilig bedek was". Ons sien verder op dat 'n "warrelwind" deur haar ruk. En die roman hou jou in 'n "yskoue greep".

In die eerste instansie word die gegewe van die ABO-oorlog op 'n nuwe wyse bekyk, en meer spesifiek, deur die oë van 'n vrou as slagoffer aan die hande van die Britse mag. Die hoogs emosionele onderwerp van verkragting word besonder goed hanteer.

In die tweede instansie het ons 'n manlike skrywer wat hom índink in die ervaringe van 'n vroulike subjek en die verhaal goed vertel. Vir genderteoretici is dit dan 'n belangrike blikhoek en veral Hélène Cixous se bekende essay Sorties (Exits) opgeneem in The newly born woman (1975) is hier relevant oor die konkaaf/konveks-spanninge in skryfwerk. Die feministiese leser sou dus bedag wees op 'n manlike blik of dalk 'n onvermoë om oor intiem-vroulike emosies en liggaamlikheid te skryf. Smith verbeeld die emosionaliteit van die vroulike spreker en háár ervaring van liggaamlikheid op 'n oortuigende wyse. Veral die gevoel dat sy verminder is deur die verkragting, word uiters simpatiek beskryf (64):

"Die swartes sing, maar dit maak niks nie, dit vat niks weg nie. Hulle kan maar met my maak wat hulle wil. Ek is nikswerd. Die Here sal my uit sy mond spoeg. Hoer is my naam! En uit sy mond kom 'n tweesnydende swaard en zijn aangezicht was gelijk de zon schijnt in haar kracht, gelijk de zon schijnt in haar kracht".

In die derde instansie erken die skrywer in 'n nawoord dat die gegewe gebaseer is op die werklikheid. Nico Moolman se The Boer Whore is die interteks wat die outeur Smith herskryf het in 'n fantasieryke verhaal. Die verhaal van Susan Nell, 'n bywonersdogter, wat op 1 Januarie 1902 in die Winburgse konsentrasiekamp deur twee Britse offisiere en 'n joiner verkrag is, kom in hierdie roman aan bod. Sy word gered deur 'n Sotho-man toe sy van die kamp se lykswa afval. In Kaapstad word sy versorg deur mevrou Marie Koopmans-De Wet en gaan uiteindelik na Nederland waar sy in die psigiatrie opgelei word. Francois Smith vertel nie haar volle lewensverhaal nie. Pynlik om te verneem dat haar naam nie vermeld word in die Winburgse konsentrasiekamp nie. Ons weet almal dat vele mense wat gesterf het in hierdie oorlog onbekend gebly het. Die ongemerkte graf in Winburg, langs
haar vriendin Alice Draper, behoort aan haar. En hierdie boek ontruk haar aan die vergetelheid, gee aan daardie graf 'n naam. Die graf dra ook die naam van Ntauleng ...

In die vierde instansie is hierdie teks vir die psigoanalitiese leser 'n belangrike teks. Die spanning tussen ego/alterego (Jung), die verhouding met Tiisetso (en die voorvadergeeste) en die verhouding tussen dood en lewe word vernuftig hier uitgebou. Op bladsy 95 is daar eweneens 'n subtiele toespeling op DJ Opperman se "Sprokie van die spikkelkoei", 'n gedig wat handel (o.a.) oor die spanning tussen fabel en die bo-natuurlike:

"Die spikkelkoei, die een met kolletjies soos 'n tarentaal, die bont ene, dít is die koei".

Die hele teks sit vol kodes vir die leser wat die chora (fuik) van hierdie teks wil opvolg (88), net soos die gebruik van die begrip "deurwurm" (70) waar die indrukke van beelde en herinneringe en die impak op die hoofkarakter se binnespraak beskryf word, dikwels in poëtiese taal. ('n Hoogtepunt is hoofstuk tien.) Sy is immers opgelei as verpleegster in die psigiatrie (69) en in hierdie tyd het Freud al van sy belangrikste werk gelewer oor die onbewuste. Daar is verwysings na Reymaker Psichiatrie. En die semantiese verskille tussen "bomskok" en oorlogskok word eweneens verduidelik. Freud is in die teks. Op bladsy 232 word daar verwys na die belangrike teks: Oor die psigopatologie van die alledaagse lewe.

In die vierde instansie word die verwysings- en beleweniswêreld van Sotho-mense oortuigend verhaal. Die vertelperspektief word afwisselend van buite én binne vertel. Die roman val ook met die deur in die huis met die konfrontasie met 'n boosdoener wanneer sy die merk op sy oor sien (8). 

Dit is jammer van die flapteks - wat die roman te populisties laat klink - en die deurslaan van die implisiete outeur se stem op bladsy 58 waar Susan dink die vrou is 'n parodie van die tipiese streng matrone. Ek is van mening dit sou nie pas in die tyd nie. Hierdie roman is inderdaad 'n tweesnydende swaard. Dit vertel meer as 'n verhaal van konfrontasie met diegene wat jou skade berokken het.  Hurst, ook, word goed geteken. Dit is eweneens 'n analise van die geskiedenis, maar veral 'n komplekse teks waar die duiwels onder draai. Dit neem sy plek in langs tekste oor die boereoorlog en trauma-letterkunde in die algemeen.

Dit is geskryf met 'n onuitwisbare pen. Vir my aangrypend, veral oor die slim hantering van Freud, et al.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)