Showing posts with label Umberto Eco. Show all posts
Showing posts with label Umberto Eco. Show all posts

Saturday, July 14, 2018

Film | The shape of water (2018)

I
Hierdie film word tipeer as 'n romantiese, donker-fantasie-film waarvan Guillermo del Toro die regisseur is. Ondertussen het die film met Sally Hawkins, Michael Shannon, Richard Jenkins, Doug Jones, Michael Stuhlbargen Octavia Spencer, etlike pryse ingeoes.

Dit speel af in 'n Baltimore, Maryland in 1962 in 'n laboratorium waar 'n amfibiese-mensdier in water gehou word. Hiermee beweeg ons in die ruimte van sci-fi.

II
Elisa Esposito, die versaakte, stom meisie, raak verlief op die monster waarop navorsing gedoen word in 'n laboratorium. Sy is die skoonmaker in die laboratorium saam met haar swart vriendin, Zelda wat haar gebare vir almal interpreteer. Die verhaal word vertel vanuit die agterna-perspektief van Giles, 'n gay-man wat onsuksesvolle advertensie biljette maak. (Is ons dalk net in ’n storie wat hy skep, omdat hy onsuksesvol is as advertensie-skepper? Is dit alles sy fantasie?)

Elisa (Sally Hawkins) is doofstom – Sally Hawkins, terloops, in die werklike lewe, is disleksies. 

Vir die storielyn, kyk hier - om 'n spoiler te verhoed: The Shape of Water - Wikipedia. (Besoek 13 Julie 2018).

Hierdie film speel in op Beauty and the Beast, maar met die Koue-Oorlog in die VSA as agtergrond. Die Russe versus die Amerikaners se verbete pogings om eerste op die maan te land. Daar is verwysings na JFK – ons hoor selfs sy stem – en die verhaal word geamplifiseer met etlike verwysings na films uit die laat vyftiger- en sestigerjare wat 'n uiters romantiese beeld van die samelewing gegee het. 

Die musiek in die film dra die storielyn verder. Glenn Miller, Chica Chica Boom Chic (met Carmen Miranda), Andy Williams se A Summer Place en boonop sing Renée Fleming You'll never know.

III
Ofskoon ek hierdie film met groot skepsis benader het, was ek aangenaam verras deur die fyn politieke kommentaar en hoe mens geAnder word: gays, vreemdelinge, swartmense. Kyk o.a. na die rol van die Russiese navorser, Robert Hoffstetler / Dimitri Mosenkov, die Sovjet spioen, wat as navorser werk in die laboratorium. Michael Stuhlbarg is hier uitstekend op sy pos as 'n voormalige akteur vir die Coen-broers.

Boonop is daar baie spanning wanneer die amfibiese-mensdier verwyder word en die aggressiewe Michael Shannon as Richard Strickland hom wreek op diegene wat hom teengaan.

Puik spel en sosiale kommentaar oor welke mans tweekeer hul hande was in 'n toilet – net swakkelinge, aldus hierdie karakter.

Alles werk met binariteite: teenoor keiharde navorsing is daar danstonele en ligsinnige musicals.

Ons beweeg van diners na die laboratorium na die buite-landskap van geboue.

Die film is 'n skerp analise van die American Dream waar die simboliese waarde van motors en wapens geanaliseer word.

IV
Op een laat winternag lees ek weer Umberto Eco se klassieke artikel: “Casablanca: Cult Movies and Intertextual Collage” opgeneem in David Lodge se Modern Criticism and Theory (Longman, 1988).

Twee clichés laat ons lag; 'n honderd clichés raak ons want ons besef dit praat met mekaar en dit herdenk 'n re-unie (Lodge, 453).

En dis die argetipes wat re-unie hou, aldus Eco, wat hy tipeer as intra-filmiese verwysings en toespelings. Boonop het Casablanca 'n Woody Allen-parodie ontlok in 1972 se Play It Again, Sam.
            
So beskou, is The Shape of Water in wese 'n film wat sóveel tekste in sy buik dra. Geen wonder ons sien die twee minnaars in 'n akwarium wat uiteintlik bars nie.

Eco praat van die “symphonic elaboration” van die ongelukkige geliefdes in Casablanca– in The Shape of Water is daar dieselfde interspel. 

Gedoemde liefde. Die een vertrek op 'n vliegtuig; die ander een verdwyn onderwaters.

Daar is soveel intertekste, na films, boeke en musiek dat geen kyker dit op 'n eerste vlak kan uit-kyk nie. 

Hoe daardie Braziliaanse amfibiese dier geanaliseer word, is die punt van die film. En dit lewer eweneens kommentaar op seks: die doofstomme masturbeer in die bad; die aaklige Strickland se seks met sy vrou is grusaam – met bloeiende vingers.

Iewers lees ons op 'n blog van Hannah Tepoorten:

“The required competence is not only inter-cinematic. It is inter-media, in the sense that the spectator must know not only other movies, but the whole of mass media gossip about the movies.” (“Casablanca”/ Cult Movies and Intertextual Collage. Besoek 14 Julie 2018).

© Joan  Hambidge

Wednesday, February 24, 2016

Umberto Eco (5 Januarie 1932 – 19 Februarie 2016)


Die groot semiotikus is oorlede. Met sy debuutroman Die naam van die roos (1980) het die literatuurwetenskaplike opslae gemaak. Hy het as teoretikus internasionale roem verower as romanskrywer. Hy is vertaal en die film (met Sean Connery) was 'n klaaglike mislukking wat die komplekse tekensisteem van die roman nie kon opvang nie. 


Hierna het ek alles pligsgetrou gelees: Foucault se pendulum, Die eiland van die dag vantevore, Baudolino, Die misterieuse vlam van Koningin Loana, Die Praagse begraafplaas, en nooit eers Nommer zero probeer nie.

Die romans was te veel dinkwerk; te min vuur, vir my gevoel. (Woorde Wat Weeg/ Umberto Eco -The Mysterious Flame of Queen Loana, 2005. Besoek 23.02.2016)

Sy teoretiese studie oor die semiotiek, Die rol van die leser (vertaal as The role of the reader, 1979), het ek stip bestudeer. Eco met sy onderskeiding tussen die "open" en "closed" teks dwing die leser om presiese onderskeidings te maak. Heel plesierig het hy ook James Bond se romanstrukture vir lesers verduidelik. 

In sy beroemde Faith in fakes (1986) analiseer hy die moderne media en die aanslag op ons sinne. Hoe moet ons reageer op dit wat ons daagliks beleef en ons afstomp vir werklike en diepgrondige interpretasie? Hy verwys dan na die sogenaamde "guerrila warfare" as 'n taktiek om dit teen te werk.

Vandag, skryf hy, behoort 'n land aan diegene wat kommunikasie en die pers beheer (135). Massa-media vertolk nie ideologie nie; dit is alreeds ideologies.

Soos hy dit klinkend stel: “When the mass media triumph, the human being dies”.

Hy het hom oor 'n veelheid van onderwerpe uitgelaat soos skoonheid en lelikheid; oor reise in hiperrealiteite, oor probleme róndom vertaling, oor die oneindigheid van lyste.  As gedugte kenner van die Middeleeue had hy waarskynlik nie sy gelyke nie.

Sy besinning oor die skryfproses van Die naam van die roos behoef 'n herlees. Nes sy siening van interpretasie as "inferential walks" wat die leser maak ... Ons is besig om te narkotiseer en weer op te blaas (“blow up”) in die leesproses.

Hierdie roman, wat in 'n klooster in die veertiende eeu afspeel, is 'n speurverhaal vir die literêre leser wat al die toespelings en kodes moet snap. Jy moet die moorde oplos soos die blinne monnik, Jorge of Burgos, wat 'n verwysing is na Borges, die groot skrywer van die labirint en die aweregse speurverhaal. Die film kon nooit die verwysings raakvat nie en dis alom bekend dat Eco nie tevrede was met die film nie.

William of Baskerville is die speurder in Die naam van die roos, ‘n toespeling op Middeleeuse filosowe.

Dertigduisend boeke staan in sy biblioteek.

Hy is ook die skepper van die konsep anti-biblioteek. Hoe meer jy weet en lees, hoe meer boeke sal daar op jou rak staan wat ongelees is en bly. En die uitdaging van die ongelese boek, bly altyd die uitdaging.


En beroemd was hy wel. Vol lewe met sy sigaar in die hand en altyd besig om onderhoude toe te staan die ene sprezzatura (bestudeerde nonchalantheid) soos huldeblyk in The Telegraph dit opsom. (Umberto Eco -Obituary – Telegraph. Besoek 23.02.2016)

Roubeklaers vul die binneplein van Sforza kasteel in Milaan vir die begrafnis van Umberto Eco. Foto: Matteo Bazzi/EPA

Beroemd en skatryk was hy bepaald. Die een nadeel van roem? Jy het nie meer die luukse om nie ‘n mening te hê nie …

Gaan kyk gerus na sy uitsette: indrukwekkend en hierom kon die professor aan Bologne klasgee aan Harvard, Oxford en ander belangrike akademiese ruimtes.

Romans:
Il nome della rosa (1980; English translation: The Name of the Rose, 1983)
Il pendolo di Foucault (1988; English translation: Foucault's Pendulum, 1989)
L'isola del giorno prima (1994; English translation: The Island of the Day Before, 1995)
Baudolino (2000; English translation: Baudolino, 2001)
La misteriosa fiamma della regina Loana (2004; English translation: The Mysterious Flame of Queen Loana, 2005)
Il cimitero di Praga (2010; English translation: The Prague Cemetery, 2011)
Numero zero (2015; English translation: Numero Zero, 2015)


Thursday, February 28, 2013

Umberto Eco - The Mysterious Flame of Queen Loana (2005)



Umberto Eco. The Mysterious Flame of Queen Loana. An Illustrated Novel. Secker & Warburg, 2005. ISBN 0 436 20 589 0.

Resensent: Joan Hambidge

Waarskynlik het Umberto Eco nog nooit weer die impak van The name of the rose geëwenaar nie. Dit was ‘n roman wat die voorste semiotikus in Bologne oornag verander het in ‘n internasionale naam. ‘n Skrywer van letterkundige essays oor die tekensisteem en hoé alles begryp kan word in terme van komplekse tekens, skryf ‘n speurverhaal. Die roman is ook verfilm, minder suksesvol, en hierna het etlike ander romans gevolg, soos onder andere Foucault’s pendulum en Baudolino. En onlangs was daar die essays On Beauty.

As teoretikus het Eco die gesaghebbende The role of the reader gepubliseer en sy aanwysings oor “closed” en “open” tekste kan toegepas word op sy jongste briljante teks: The Mysterious Flame of Queen Loana wat hy beskryf as ‘n “illustrated novel”. Dit is vertaal deur Geoffrey Brock. 

Ene Yambo, ‘n sestigjarige antikwariese boekhandelaar in Milaan verloor sy geheue. Hy kan nie sy eie naam onthou nie, hy weet nie eers hoe dit voel om seks te hê nie en soos ‘n kind, staan hy verwonderd voor etlike menslike vervarings soos toilet toe gaan, die eet van perskes, die evaring van die natuur. Sy kinders se name is eweneens aan hom onbekend en ten einde sy verlede te probeer rekonstrueer, vertrek hy na ‘n familiehuis tussen Milaan en Turyn.

In die ou huis ontdek hy natuurlik boeke en die hele roman is ‘n “paper chase” deur bekende tekste soos Proust se Remembrance of things past, Tennessee Williams se A streetcar named desire, en vele ander boeke wat gelukkig vir die leser in ‘n uitgebreide bronnelys vermeld word. Daar is gedigte en afskrifte uit komiekstrokies. ‘n Pragtige teks is dan Mickey Muis wat met laterale denke oor ‘n boom  se leeftyd kan uitwerk ten einde ‘n skat op te spoor (p. 71). Dit is ‘n sentrale metafoor in hierdie roman wat handel oor rekonstruksie, afleiding, jukstaposisie en natuurlik: die soektog.

Letterkunde het dikwels te make met ‘n soektog, werklik of verbeeld, en in hierdie teks (waar Sherlock Holmes ook ‘n  buiging maak) is die soektog na die graal, ‘n desperate reis na die oorspronlike, eerste, onaantasbare liefde.  Dit is waarvoor “Queen Loana” staan. Deur die leeservaring word ‘n gelukkige jeug gerekonstrueer, boek wat stukkend gelees en weer aanmekaar-geplak is.

Die roman onthul veral hoé seksuele fantasie werk: Josephine Baker en die Koningin word in sy gemoed een. Eco skryf helder oor Mussolini, die oorlog en ‘n kind se sieninge van die implikasies van Fascisme. Daar is jeuggedigte van die verteller wat afgewissel word met gedigte van groot digters. Die verhaal van die Koningin Loana word beskryf as ‘n “ramshackle” verhaal (p. 251). Populistiese fiksie met sy maklike wendings oor die liefde en die Koningin wat in staat is om deur haar towerkragte haar dooie geliefde te kan terugbring, wil egter eerder met een van die moderne besoekers ‘n verhouding begin. Die vlam helaas word uitgewis en die leser, soos Eco ons leer in The role of the reader, moet dan ekstrapoleer oor die implikasies hiervan. Die verteller merk op: You read any old story as a child, and you cultivate it in your memory, transform it, exalt it, sometimes elevating the blandest thing to the status of myth”. Dit is die sentrale  punt waarom hierdie hele roman wentel.

Dit is ‘n uiters erudiete teks, soos die leser kan aflei, en een wat gemaklik en vlot lees, maar onder draai die duiwels rond. Sommige lesers mag voel dat dit verliteratuurd is en dat die leser letterlik van die een aanhaling of vinjet na die volgende beweeg. Vir die leser wat egter geduld aan die dag lê en bereid is om die speurwerk saam met die hoofkarakter te maak, is dit ‘n fassinerende en opwindende leeservaring. Dit is vir die teoretikus ‘n lonende ervaring om te sien hoé die skrywer en narratoloog-cum-semiotikus se sieninge bots èn aansluiting vind.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]