Thursday, March 21, 2013

Roddy Doyle - A star called Henry / Rose Tremain - Music & Silence (1999)



Roddy Doyle. A star called Henry. Random House, 1999. ISBN: 0 224 06019 8.


Rose Tremain. Music & Silence. Random House, 1999. ISBN: 1 86056 027.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie resensie betrek twee jongste Britse romanskrywers se werk. A star called Henry (by Jonathan Cape)is Roddy Doyle, die wenner van die Booker-prys vir Paddy Clark Ha Ha Ha, se “antwoord” op sy mede-Ierse skrywers Frank McCourt se Angela's ashes en Seamus Deane se Reading in the dark, wat Ierse armoede uitbeeld soos wat dit is. Aartappelspruite wat groei uit kinders se klam klere, drankmisbruik, geweld en koue is tematiese kenmerke.

Doyle is waarskynlik bewus van die aandag wat beide skrywers getrek het, veral om  die eerlikheid en die genadelose vertel van hoe dit is. Maar net voordat 'n mens onrustig raak dat hy bloot op 'n literêre “band wagon” gespring het, word jy diep getref deur die verhaal van ene Henry - alreeds vanuit moedersmaag bewus - oor die kondisies in Dublin.

Doyle is meer van 'n literêre skrywer as sy twee landgenote. Die emosies word dus meer getemper en in beheer gehou en die leser is dan ook bewus van die tegniese spel. Maar dis 'n wonderbaarlike roman wat opnuut bewys dat Roddy Doyle op skaars 41 van skryf baie weet. Hy is immers ook 'n skrywer wat dit al kon presteer om 'n hele roman nét met dialoog te vertel, sonder enige ander beskrywings daaromheen.

A star called Henry speel aan die begin van die eeu af en is 'n historiese roman. Henry Smart is 'n soldaat in die Ierse leër. Later word hy deel van die vryheidsbeweging met sy vader se houtbeen as sy wapen. Hy word een van Michael Collins se agente en 'n nasionale held. Die Ierse bloedige geskiedenis word hier gesubverteer en Doyle vertel ook van 'n liefdesverhouding midde van die geweld.

Tog bly die eerste gedeelte van die roman vir my gevoel die sterkste. Daar waar hy as jong kind sy fantasieë uitleef. Die tweede helfte is 'n iets prekerig.

Heeltemal in 'n ander sleutel, ofskoon ook 'n soort historiese roman, is Rose Tremain se Music & Silence wat sopas by die gesogte Chatto & Windus verskyn het. Hoewel sy nog net die kortlys van die Bookerprys gehaal het, kan sy aanspraak maak op die James Tait Memorial Prys en die gesogte Prix Fémina Etranger en 'n handvol ander onbekende toekennings.

Haar jongste is in die tradisie van Restoration en hierdie leser meen dat haar The cupboard 'n goeie boek bly.

Music & Silence speel in 1629 af en Peter Claire, 'n luitspeler, meld hom aan by die hof van Koning Christiaan die Vierde om lid te word van die Koninklike Orkes. Die roman speel duidelik in op bekende psigoanalitiese simboliek. Die orkes speel in die kelder (die onbewuste) en die roman werk dus met sterk simboliese opposisies tussen lig en donker; die goeie en die bose.

En die aksie? Natuurlik die liefde, want as die koninklike engel raak hy verlief op 'n mooie dame wat op die koop toe die vriendin is van die Koningin, 'n rietkooi-nooi. Die konigin Kirsten en dinge is ook nie meer lekker tussen haar en die Koning nie.

Natuurlik is Peter Claire die agent in narratologiese terme wat die hele spul in beweging hou en ook die prys moet betaal vir sy verdeelde lojaliteite. Tereg kan 'n mens die struktuur van die sogenaamde fabel of feëverhaal op hierdie roman van toepassing maak en dit is dan ook relevant om Vladimir Propp se Morphology of the folktale te betrek waar elke karakter in sodanige verhaal 'n spesifieke funksie het. Met die voorspelbare uiteinde vir die een wat optree as die katalisator of beweger tussen twee opponerende magte.

Gaan Peter Claire gered word? Sal hy sy luit verloor soos Rooikappie haar onskuld? Sal daar 'n redder wees?

Alle grappies op 'n stokkie: Ms Tremain skryf vlot en veral vir diegene wat hou van 'n roman met 'n historiese aanslag, sal hierdie roman boeiend vind.

Dit moes ernorme navorsing gekos het om 'n roman in 'n ander situasie te situeer, maar waarskynlik sal ons al hoe meer romans vind hier teen die einde van die millennium wat so terugkyk op die ou wêreld met sy dieper waardes.

Dis net jammer dat albei romans R145 kos - verdomp duur Random House!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]