Showing posts with label Jeanne Goosen. Show all posts
Showing posts with label Jeanne Goosen. Show all posts

Sunday, March 8, 2020

Resensie | Jeanne Goosen – Het jy geweet ek kan toor? (2020)

Jeanne Goosen – Het jy geweet ek kan toorHemel & See Boeke, 2020. ISBN 978-1-928283-38-6

Resensent: Joan Hambidge


Ek leef op die kantlyn
grotesk trots op my andersheid

Hierdie bundel moet saam met Goosen se Los gedagtes (aforismes) gelees word. 

Die bun­del beslaan 'n tydperk van meer as vyftig jaar en die broksgewyse, nie‑opeenvolgende gedigte is met sorg uit die verskillende bronne byeengebring, verduidelik die samesteller Petrovna Metelerkamp, wat tans besig is met 'n biografie oor Jeanne Goosen.

Goosen skryf met die hand. Sy hou dagboek en daar is vele notaboeke. Sy is 'n veelkantige figuur: sowel digter as romanskrywer; dramaturg en kabarettis. 

Die letterkunde is vol van werkboeke met onvoltooide werk, verskillende weergawes en nagelate verse. Daar is die Tristia-sketsboek en Helize van Vuuren het al gewys op die verskillende titelvariante en brugtekste in Literator 7, 1986. Daar is Opperman se bundel Sonklong oor Afrika (2000) deur J.C. Kannemeyer versorg. Johann de Lange het 'n keur gemaak uit Wilhelm Knobel se digkuns postuum: As die woorde begin droom (2011).

Hierdie soort teks is 'n argief. Dis 'n navorsingsbron vir die soort leser wat reeds gepubliseerde tekste wil vergelyk met wat in die lou-oond is. Watter motiewe word herhaal? Hoe word beelde gesirkuleer? In die woorde van Marietjie Coetzee, kundige oud-uitgewer: “My gevoel tot dusver is dat jy alles moet insluit omdat sommige versreëls of strofes ook as ‘konsepte’ van latere gedigte beskou kan word. Vir ’n navorser dus belangrik omdat dit iets van die skeppingsproses van die gedigte vergestalt. Daar resoneer selfs versreëls of langer gedeeltes van haar prosawerk in die versameling. Gedeeltes wat dalk nie op peil is nie, openbaar Jeanne as mens, as ‘rare voël’. ”

Die bundeltitel dui op die skryfproses, soos Goosen dit stel:

Ek met taalgebrek
moes swygend losgoed speel
met pyl en boog en rats
my eie wondbaarheid kwes
ek ken nie ek.
Maar uit die koel fontein van jou mond
het ek my dors geles
en my eerste woorde, skugter gesê:
Ek is moeg.  (16)

Goosen het van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans geskryf. Oor die verlange wat haar "dertig en droef" gemaak het.

Hoe moet ek sê hoe ek regtig voel?
Vanoggend het my geliefde
die haard verlaat.
Sy, met haar mooi oë en sagte lyf
het in die wêreld verdwyn. Sy is elders aan diens nou.
Hunkering is ’n wond.
Dit het – soos woede – ’n toekoms.
Hoe – hoe moet ek sê
hoe moet ek sê, hoe ek regtig voel?  (25)

Verskeie kere ondersoek sy die donker kant van haar psige. Hierdie gedig aktiveer die motto uit Om 'n mens na te boots(1975) wat die plesier van malheid ondersoek via Dryden: There is a pleasure sure in being mad which none but madmen know.

Depressie

Dis so afgryslik soos dit nice is ook
die vrees is om in vrees te leef
en ’n vrees vir die verlies daarvan
O, die ekstase van afgryse  (55)

Goosen is bewus van haar dubbel-aard:

Twee diere het ek:
die een is ’n afshow-gat
’n regte clown
dis ek orraait
Die ander optel-gryse
is skugter
Dis ook ek
immer aan ’t
koes koes koes
vir menslike aanraking  (84)

En sinisme oor die mensdom, vind 'n mens ook hier:

Dood is ’n geheime organisasie. Dis ’n party animal. (129)

Die diva Coertse word besing en Goosen het 'n enorme kennis van musiek:

Vir Mimi Coertse

21 Februarie 2008

Ek hoor jou stem. Ons praat 
en my niere verdriedubbel
Ek jubel uit twaalf harte 
Hoe lief het ek jou nie
My verdwene verstandtande
gloei in die oorsprong van hulle oerwortels
O my nar
my droewige lemoen
jy sing Stabat Mater
jy die pragtige jy
die onvernietigbare rooi ballon
teen die hemelruim.  (98)

Die bundel is ver van "af" of voltooid, maar die voorwoord waarsku jou dat jy fragmente gaan lees. En selfs in die lopers, is daar verstommende oomblikke wat jou weer terugneem na haar veelkantige oeuvre.

Die boek neem sy plek in neffens die lang galery van onvoltooide tekste. 'n Mens dink aan Truman Capote se Answered Prayers: The Unfinished Novel. Hieroor was die kritici uitermate bitsig, hoewel daar volgens hierdie leser nagelaat is om te kyk hoe dit resoneer met sy ander werk.

Hierdie boek het my weer laat nadink oor die argief as 'n bewaringsplek, stoorplek, maar ook om 'n portret te gee soos Janet Malcolm doen in The Freud Archives (Papermac, 1984).

In die digter se eie woorde:

“Wanneer ek die dag ’n gedig skryf, ís dit vir my ’n ‘noodgeval’. Ek moet dit dán doen, anders word ek siek en onregeerbaar en bakleierig. Skryf laat my beter voel. Vir my is dit iets soos om sekere gevoelswaarhede bokant die intellektuele analise te stel, maar sonder om die rede te verwerp. Surrealisme is ook vir my ’n lekker wegkruipplek.”

Gaan luister hoe Nicole Holm Jeanne se gedigte voorlees (26 Jeanne Goosen gedigte gelees deur Nicole Holm - YouTube).

Ons kan nie soos wees nie Jeanne nie. Jeanne is 'n kreatiewe wonderwerk. Dink net hoeveel keer het mense nie al geuiter "ons is nie almal so nie"!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Saturday, February 15, 2020

Resensie | Jeanne Goosen - Los gedagtes (2020)

Jeanne Goosen - Los gedagtesHemel & See Boeke, 2020. ISBN 978-1-928283-37-9

Resensent: Joan Hambidge

Jeanne Goosen beklee 'n ereplek in die galery van romanskrywers in Afrikaans: ons dink aan Om 'n mens na te boots (1975) met sy surrealistiese aanslag; Ons is nie almal so nie (1990) met sy onskuldige kinderverteller wat leuens aan die kaak stel;  Lou-oond (1987) met haar sterk feministiese onderbou, is bekende en belangrike tekste. As digter is sy eweneens gerekend en lank voor die praatvers mode geword het, is dié vorm ontgin. Dink maar aan 'n Uil vlieg weg van 1971. 

Haar laaste bundel Elders aan diens (2007) is 'n kragtoer. 'n Pawpaw vir my darling (2006) is verfilm, terwyl sy in Plante kan praat (2010) op 'n aweregse manier kyk na plante.

Die kortverhaal "Aan die einde van die reënboog", met 'n singende Anneli van Rooyen,  beloer gendersake eweneens vanuit 'n dwarse perspektief.

Daar is ook dramas en kabarettekste.

Nou verskyn Los gedagtes. Goosen het sowat 'n dekade gelede in By (in Die Burger) weekliks 'n rubriek gehad waarin sy die menslike kondisie beloer het. Menige Saterdag was hierdie leser lam van die lag.

Los gedagtes bevat aforismes wat grappig, absurd en hartseer is. De la Rochefoucauld was 'n beoefenaar van hierdie vorm soos Oscar Wilde wat dikwels 'n dwarsklap kon uitdeel. Hennie Aucamp is eweneens bekend vir sý aforismes soos  Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1983) Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).

In die digkuns word dit die epigram met Van Wyk Louw as die koning van hierdie vorm in Tristia:

Epitaphe pour lui-même

Hy het nooit danig waffer liefde ooit gekry, nè?
Maar watter danige liefliheid was hy?

*

Humor, die oog vir die absurde is volop in Goosen se teks.

Hier is dan haar credo wat die teks se rigsnoer is:

Ek verteenwoordig niks. Wat ek besit, is nie ek nie. Niks verteenwoordig my nie. Maatskappy dwing die res op my af. Ek leef in ’n gemeenskap, seker en onderdanig, maar dit is die maklikste manier waarop ek ongesiens verby kan mik. Dis miskien waarom ek soms skryf. Ek wil die absurditeite wat ek om my sien of ervaar, onthou. (56)

Pretensie en vernaamdoenery word telkens aan die kaak gestel:

As iemand praat en jy verstaan niks wat hy sê nie, is hy ’n filosoof.  (12)

En hierdie stelling laat jou weer dink:

Kreatiwiteit is nie verbeelding nie. Dit is onderwerp aan die risiko om aangesig tot
aangesig met die realiteit te kom. (13)

Mal humor klink so:

Durban is warm vandag. Ek voel soos een wat in ’n marathonatleet se sokkie woon. (113)

Moet nooit ’n geskenk aanvaar wat eet nie. (13)

Wrang, wrang uitsprake is daar volop soos:

As jy selfdood wil pleeg, bly leef. Lewe
is op sigselwers een lang selfdood. (14)

Moenie steel nie, die regering hou nie van kompetisie nie. (16)

Trou is ’n begrafnis waar jy jou eie blomme ruik. (17)

Moet nooit mense se intelligensie oorskat nie. (39)

Die boek wil kennelik ook die gek skeer met selfhelpboeke:

’n Kritikus is ’n ou sonder bene wat ander leer hardloop. (69)

Moenie bang wees as jou vyande jou kritiseer nie, vrees hulle as hulle jou prys. (68)

Hou dagboek. En eendag sal dit jóú hou. (69)

Die kuns is om te leer hoe om jou ontevredenheid interessant aan te bied. Jy moet entertain, mense daarmee vermaak. (21)

Ek ken al die antwoorde maar ek verstaan nie die vrae nie. (23)

Vroue voel skuldig oor vet – selluliet heet dit. Dis omdat hulle lywe nie hulle eie is nie, maar aan die gemeenskap behoort. (25)

En die volgende het 'n bulder ontlok:

Daardie oor-bekende skrywer? Sy laat nie een steen ongepubliseerd nie. (47)
En is die volgende nie waar nie?

Jy is wat jy haat. (52)

Mense wat in glashuise woon, moet in die donker uittrek. (53)

Dis nogal lekker, as jy tyd het, om die TV of die radio te surf. Dallas is terug op e-TV en elders red dr. Phil drie huwelike binne 50 minute. Vir mind-boggling is daar Radio Kansel. (63)

114 bladsye van loutere genot. Petrovna Metelerkamp, haar uitgewer, het alles opgeteken wat Goosen in notaboeke gekrabbel het. Goosen skryf dan ook met die hand. Binnekort verskyn daar 'n biografie en nuwe digbundel by hierdie uitgewershuis.

Diegene wat Goosen ken, weet sy is  'n ryk geskakeerde skrywer en persoon. Vol teenstrydighede: enersyds sensitief-weerloos, andersyds satiries-snaaks. Om haar te beleef, is asof 'n mens in 'n teaterstuk beland sonder én soms met improvisasie. Met Jeanne wat die pret dikteer.

Sy is Fellini en Pirandello saam in een mens.

En hierdie gedig is Goosen-vintage:

"My Mamma is bossies" word deur Elize Cawood vertolk (Naomi van Niekerk is die kunstenaar) in Filmverse2, die ATKV-projek saam met Fopspeen Moving Pictures.

My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môre kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies
Ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.

My mamma is bossies 
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sien my 
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Saturday, March 2, 2013

Jeanne Goosen - ‘n Paw-paw vir my darling (2002)



Jeanne Goosen. ‘n Paw-paw vir my darling. Kwela, 2002. ISBN 0 7957 0145 4.

Resensent: Joan  Hambidge

Jeanne Goosen het al by verskeie geleenthede die kontoer van die Afrikaanse vertelkuns verander. Om ‘n mens na te boots is so ‘n roman.  Die pragtige Ons is nie almal so nie met sy kindverteller en die feministiese Lou-oond kan aangestip word as besliste bakenverskuiwings in Afrikaans. Haar jongste en wonderlikste roman heet: ‘n Paw-paw vir my darling.

Goosen is bekend om haar sosiale kommentaar en die jongste roman is ‘n bytende satiriese klap in die rigting van die die nuwe Suid-Afrika, die ge-retrenchde Afrikaner wat hom bevind in Damnville. Nie Pretoria se Danville nie, maar Damnville en hierdie klein letter verskuiwings (ook van name) speel ‘n spel van kenbaarheid en herkenbaarheid wat die leser op die beurt laat skater en na die asem snak.

Die sogenaamde ‘vraisemblance’ van die roman word ook op sy kop gekeer: die leser ‘herken’ werklike persone wat dan karikature word in ‘n ‘larger than life’ opstuur van die ruwe Suid-Afrika. Die boek word eenvoudig vertel (die fokalisator is immers ‘n hond!), maar onder draai die duiwels van vernuftige sosiale- en romankommentaar. Dit gooi ‘n ‘paw paw’ in die ‘fan’ van die Afrikaanse roman wat polities-korrek en slim wil wees. Dit kritiseer daardie soort roman wat met sy mitologie ‘n ’aanvaarbare’ werklikheid aan die leser probeer opdring.

Dit probeer nie geleerd-mitologies wees nie; dit is gewoon vlymskerp in die disseksie van morele en sosiale politiek van die post-1994 Suid-Afrika. Alles word daarheen herlei, let die hond tereg op.  En alles en almal wat word aangevat en opgestuur.

Die verhaal word boonop vertel uit die perspektief van die Beeslaers se hond Tsjaka – ‘a free spirit en stud’, in sy eie gedagtes - wat die manewales van Tango du Toit, die Beeslaers, Elvis en Mabeline weergee van agter die wawiel-hek. Verder verdwaal ‘n hondjie uit die Oostelike voorstede van Pretoria, op die koop toe ‘n poedeltjie en so word die wrange klasseverskille uitgewys. Tsjaka se rus word versteur deur Mignon se binnetrede in sy lewe en die wete dat hy net soveel kan vat en nie meer nie…(p. 44).

Rapport se skandaalkultuur en die hele ‘underbelly’ van die kommen Afrikaner word hier raakgesteek met soveel behendigheid en vaart dat dit leser letterlik in een sitting die roman wil deurlees. Dis ‘n ‘no name brand’-roman. Ons leef van Loslyf, Frik du Preez- en Jaap Marais-strate, ‘n Emsie Schoeman-sopkombuis, Lucky Dube, Chicken peri peri, slap tjips en vetkoekstukke, McDonalds, carpet slippers, bunions, taxis,hijackers, Charlise Theron en Felisia Mabusa-Suttle! Ook moesies wat weer ‘n bles laat lewe kry word hier in die mees absurde toneel beskryf. Wat is die naam van die professor wat die poedeltjie kom red? So far and not further!

Natuurlik is een van die pivotale kwessies huismoles en die seun, Elvis se verbintenis met ‘n “Indian cherry”. Daar word ook genderkommentaar gelewer deur Rusty, die middelsuster se gay-verhouding (met ‘n nurse in Vanderbijlpark) en haar buite-egtelike kind wat sy laat afteken het. Die humor hier is uiters wrang: Rusty dra size 13 Grashoppers, ‘n borselkop en werk by Yskor as ‘n hyskraandrywer. As sy ‘n Mini dryf, trap sy aldrie lepels gelyk in!

Dit wil nie akademies wees nie, en die helder, eerlike vertelstyl maak dit eg en suiwer. Daar word baie winde opgebreek oor dié wat dink hulle is “êtie petêtie”; maar ook oor die winde van veranderinge.

My gunstelingkarakter is die skynheilige Soufie wat agteraf ‘n mond vol het oor die ‘darkies’, maar wat hard probeer om aan te pas binne die nuwe Suid-Afrika. Sy probeer almal leer van integrasie en transformasie saam met haar ou man. (En waar gaan sy kerrie kry vir Elvis se meisie as hy haar nie betyds waarsku nie?) ‘n Tweede gil is Girla van Huis Herfsblaar, Soufie se ma. Ook die intrige by die Bles Bridges-konsert rondom die roos, is Goosen-vintage. Die derde gunsteling is ou Huibie Hoëhol!

Afgerond tot in die vesels is hierdie roman. Die boek is geskryf in samewerking met Deborah Steinmair; ‘n waardevolle erkenning aan ‘n medewerker.

Dit is ‘n roman wat klein en dig in aanbod is. Maar die reikwydte is groot. Dit is soos ‘n handgranaat wat land in ‘n wapenfabriek. In die romankuns doen hierdie roman wat P.G. du Plessis se Siener in die suburbs vir die drama in Afrikaans gedoen het.

Damnville en Inflammasieheuwel sal nooit weer dieselfde wees nie. Ook nie Dorothy Parker se stelling wat Tsjaka oorneem nie:”Daar is niks wat jy liefhet wat nie van jou weggeneem sal word nie.”

En natuurlik het die pawpaw te make met die genesing van hardlywigheid. Wat kan ‘n mens ten slotte sê: Jeanne Goosen jou ou doring?

Dit kan as ‘n antwoord gelees word op Marlene van Niekerk se Triomf.  Daar is ongelooflike momente in Goosen se nuwe roman. Miskien ook omdat sy agter die ligte satiriese hand werklik deernisvolle momente skep: soos die Seuna-toneel, die verdriet rondom Rusty se afgetekende kind, die werklike soeke na erkenning by ‘n Bles Bridges-konsert.

Na my eerse lees, het ek onmiddellik weer begin. Diep onder die indruk van die fyn orkestrasie van elke tema, elke motief.

Jeanne Goosen kan vertel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, February 14, 2013

Jeanne Goosen - Elders aan diens (2007)



Jeanne Goosen. Elders aan diens. Genugtig!, 2007. ISBN 978 0 9802606 6 3.

Resensent: Joan Hambidge

Jeanne Goosen is nie net ‘n groot prosaskrywer nie. Of satirikus nie. Nee, sy is ook ‘n digter wat in die swentigerjare bekendheid verwerf het met bundels soos ‘n Uil vlieg weg (1971) en Orrelpunte (1975). Maar dit was binne ‘n tyd toe die Afrikaanse digkuns geswalk het onder vrye verse en dikwels tuglose, bandelose verse waaraan hierdie leser nie veel erg had nie. Tog kom daar in hierdie tyd Wilma Stockenström, Antjie Krog, Stephan Bouwer, en Goosen na vore.

Goosen wat dig oor waansinnige rugby-wedstryd en die verlange na die geliefde wat net droefheid tot gevolg het.

Die jongste bundel heet Elders aan diens, ‘n treffende titel om die digkuns te reguleer tot iets buite die normale, die grensoorskrydende. Ook om dit te tipeer as iets waarmee jy besig is terwyl jy ‘n ander werk behartig. Bykans soos ‘n persoon wat in ‘n Ongevalle-Afdeling werk. Of vir ‘n nooddiens. Goosen skryf dan dikwels oor die persoon wat buite die normale orde beweeg en as “waansinnig” of “bossies” verklaar word. Die verskoppeling, die afwykende, die verdrukkende, die stemlose, die vernederde – aan hierdie mense gee sy stem. Terselfdertyd verfoei sy valsheid, napratery, die Regering, Onnoselheid. Haar kennis van die wetenskap en musiek is kenmerkend van haar rubrieke.

Dit is gedigte wat jou tref met ‘n reël soos:

wanhoop het feller as die lied van liefde geword

‘n Mens bly deurgaans bewus van die breekbaarheid van alles. “Wat sag is vergaan”, het Goosen op ‘n keer gedig en Johann de Lange het tereg hierdie weergalose reël vir ‘n bundel gebruik.

Die digkuns is vir die meeste mense nutteloos – dit is soos afval in swart vullissakke
“By Copernicus leen ek ‘n slim slypglas” speel in op Wilma Stockenström se onvergeetlike gedig oor die mens as vernaamdoener “Ecce Homo” uit Spieël van water (1973). By Goosen is die verse kennelik bedoel om voorgedra te word. Dit is praatverse, bedoel vir die oor en hierom is daar duidelike truuks soos herhalings en wendings om die gehoor se aandag gevange te hou.

Dit gaan in hierdie bundel om die aweregse blik op die mens en hierom word toonlere agterstevoorom gefluit (“Ek is die voël / wie se knieë / potsierlik / andersom / buig”). Die gedigte het dikwels nie opskrifte nie en stroom as’t ware inmekaar in. Dit maak die leeservaring anders as by gedigte met opskrifte. Dit is asof die digter opsetlik die leser wil meesleur en wegvoer. Die proses van skryf word gelykgestel aan die (banale) beeld van eiers in bokse. Ek het selde ‘n bundel gelees waarin daar soveel reëls is wat ‘n mens wil uithaal, opvou, bêre, aanhaal. 

Dit is elke keer ‘n swenkslag van die waarneming wat jou tref. Dit is dan gedigte wat nie met ‘n intellektuele spel besig is of met intertekste woeker nie. Dit werk met die massiewe surrealistiese verbeelding van die eenmalige Jeanne Goosen. ‘n Mens vind in hierdie gedigte dieselfde kwaliteit as in Om ‘n mens na te boots (1975) waar die grense tussen verbeelding / werklikheid geproblematiseer en opgehef word. ‘n Mens word al lesende deel van die verbeeldingswêreld van die gedigte. Die leser bekend met Goosen se rubrieke in BY sal kodes terugvind in hierdie gedigte. Sy skep dus haar verwysingsraamwerk wat sy kodeer en dan weer ten gronde maak. Sy skep die stuk vervalsing en breek dit terselfdertyd af. Sy wonder oor die mens se onvermoë om net te wees. Sy kla die geliefde aan oor haar onbehendigheid om te kan liefhê. Dit is dan volledig poësie van ontnugtering, met sowel die self as met ander.

Die siel is skyn
die roede ook

Haar teikens is skynheiligheid. Die huwelik, sereremonies – alles wat pronk en praal en prul.

Die leser word gevra om liefs sy / haar bek te hou – want wie is after all die fokken poet hier? (p. 25)

liefde is luukse waansin

Die metarefleksie, bekend aan haar prosawerk, vind ons hier. Die gedig gebeur voor jou oë (p. 27). ‘n Vers soos “Irmgard dans” is Goosen-vintage: humor, musikaliteit en ontnugtering. Ai, Jeanne wie kan dans soos jy?

Die lykdig oor die pa (p. 35) wat ons al jarr lank ken, bly die roerendste aanklag teen God se stilte en die dwingende verlies wat Goosen vir ons karteer:

Maak U Genade aan hom duidelik – en ook U soort apartheid.

Hierdie gedig beweeg in die volledige nihilisme in. Dit is ‘n vers van aanklag en verwonding; opstand en negering.

Ek kan hierdie gedig nie lees sonder om ontroer te word nie. Die gedigte beweeg oor gevaarlike afgronde heen – maar stort nooit na benede nie. Trouens, in die vers opgedra aan Ryk Hattingh, wat tans in Nieu-Seeland woon, sien ‘n mens hoe sy dig. Verlange en verbeelding saamgevoeg. Sy kan volledig een word met iemand anders se eensaamheid en verwonding. Sy dra dan die dubbele las van daardie mens se pyn wat haar eie word.

Maar wat! Daar is ook humor. Nes jy nie meer kan lees nie, omdat jy verblind is deur jou eie trane, duik daar ‘n vers op wat jou laat skaterlag soos oor die oupa wat wyksouderling en ‘n deutrapte rassis is.

Die Bybel dreun dikwels saam. Die religieuse aanhef en die debunking daarvan (“Glo”, p. 47) en die vers “Spesiale Kersaanbod” (p. 50) wat soveel ontsteltenis by lesers van dagblaaie veroorsaak het wat nie die konsep ironie onder die knie het nie.

Geluk is pilvormig.Plesier is chemies.
...
Skryf is ‘n persoonlike gevaar

Welkom terug Jeanne Goosen! Jy is en bly ‘n verstommende kreatiewe energie in ons letterkunde. Dis poësie wat ‘n mens roer, laat lag, laat huil en hoop gee: daar is lewe buite intellektuele spel. Ons het hierdie soort digkuns nodig. Broodnodig!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Leopard’s leap-leesmedalje vir Litnet geplaas.]