Showing posts with label Die Burger. Show all posts
Showing posts with label Die Burger. Show all posts

Sunday, November 12, 2017

Fiksie | Joan Hambidge - Die brief

Het jy 'n storie om te vertel? Ja, ek het. 'n Storie wat niemand sal glo nie. So reg uit 'n Borges-verhaal. Maar glo my, asseblief. Dit het regtig gebeur.

Op 'n Saterdag-aand neem ek 'n taxi in Kloofstraat net na 7. Na Burgstraat. Haiku, beduie ek.

Ek is pas terug uit Hong Kong waar ek en 'n vriendin 'n skouspelagtige nuwejaarsaand in die stad beleef het. Met vuurwerke.

In 'n restaurant eet ons pekingeend. Kyk uit oor die stad. Agter ons sit 'n man wat ons dophou. Hy lyk nes 'n man wat ek ook in Bangkok opgemerk het in die straat.

Die ou jaar lê in die asblik. Die nuwejaar is nog toegedraai in geskenkpapier.

Ons betaal die rekening en stap tot by 'n meter-taxi. Terug tot by die hotel in die middestad.

Later in die nag sien ek die man in die hotel. Hy sit in die kroeg wat niks meer bedien nie. Ek neem die roltrap verby die ontvangstoonbank van die hotel na buite om 'n sigaret te rook. Die boete om in die hotelkamer te rook is aansienlik. En my reisgenoot is boonop 'n nie-roker.

Die partytjie is verby. Die stad gaan more 'n enorme hang-over tegemoet.

Ek draai om.

"Het jy 'n lighter vir my?", vra die man. Op Afrikaans. Ons flits die gewone waar-kom-jy-vandaan- tot wanneer-keer-jy-terug-dialoog.

Hy woon in Johannesburg. Is hier vir sake.

"Ons reis net. Was in Bangkok vir twee weke." My vriendin aan die skei van haar man en ek besig om afskeid te neem van my maat. So 'n troos-reis met die gebruiklike uitruil van redes oor waarom dit nie meer werk nie. Sy tobbend oor Pieter; ek oor Hermien. Geen sms'e of boodskappe nie. Net stilte.

En die besef dat alles verby is. Die redes vir albei partye verskillend. Vir my die ontdekking dat sy eerder by 'n man wil wees.

Die man gee nie die gebruiklike besigheidskaartjie nie en ek ook nie. Wat sou sy sakereis tog behels? Speurder? Smokkelaar?

Oorkant ons hotel is die nagklub nog oop. Twee vroue steier die nag in. 'n Man agterna.

"Sal jy asseblief hierdie brief vir my pos in Suid-Afrika?"

Ek neem die brief en wonder waarom hy dit nie hier wil pos nie. Wie skryf nog briewe?

Ek druk my sigaret dood, groet en neem die roltrap. Dan die hysbak. My vriendin lê opgekrul in haar driekwart-bed. Die brief is vir 'n persoon in Kaapstad. Ek steek dit weg in my sak. Watter dringende boodskap is hierin opgesluit?

H. de Villiers. Toevallig dieselfde naam as my eks-geliefde?

Ek gaan badkamer toe, skakel die televisie af en slaap onmiddellik.

Dan wakker word. Brekfis. Lughawe.

Die reis is soomloos. Sy klim in Johannesburg af en keer huis toe. En ek reis terug Kaap toe. Met die brief in my sak.

Tot in my woning. Om dan die volgende dag die taxi te neem om 7 na Haiku.

Die tradisionele haiku is 'n gedig wat uit drie reëls bestaan met 17 sillabes. Met 5/7/5 sillabes.

Die vergete brief steeds in my sak. Langs my laptop.

In die donker Haiku onthou ek weer van die brief. Een van daardie briewe toegeplak met 'n gom wat jy kan ooptrek en weer oopmaak. Sonder om die brief te beskadig. So asof die versender sou weet jy gaan dit oopmaak ...

Ek besluit om dit te lees. Oorval deur nuuskierigheid maak ek dit oop.
Beste Hermien Teen die tyd wat jy hierdie brief sal ontvang, sal alles tussen ons verby wees. Eerder 'n brief as 'n sms of e-pos. Net vir jou oë bedoel. Ek gaan nie terugkeer nie. Ek is jammer om dit so oor te dra, maar ek sien nie meer kans vir 'n verhouding met jou nie. Ja, daar is iemand anders. Ek het nie die moed gehad om jou te vertel van haar nie. Sy woon in Johannesburg en reis nou saam met 'n vriendin na Bangkok via Hong Kong. Ek sien haar soms wanneer die vriendin op haar eie reis deur die stad. Sy is besig om te skei van haar man so ons kon nie saamreis nie. Maar ek gaan telkens tuis in dieselfde hotel.
 Ek is so verlief op haar dat ek enigiets sal doen net om by haar te wees. Ten spyte van ons verbintenis, was ek bewus van die vrou in jou lewe. Jy het nooit oop kaarte met my gespeel nie en hierom wil ek dit nou beeïndig. Jy sal altyd terug verlang na haar of na so 'n verbintenis. Die Johannesburgse vrou is waarin ek wil belê ..."
Toe ek opkyk, staan hy daar in die ingang van Haiku. Met my reisgenoot by hom.

In die donker restaurant kan hulle my nie sien nie. Ek maak die brief toe. Plaas dit in my sak.

'n Haiku is te minimalisties om my emosies te verwoord. Ek oorweeg 'n tanka. Die 31 sillabe-vorm geskryf in een reël. Die sogenaamde kort lied op Japannees.

Die liefde met haar
‘n Mount Fuji hoog met sneeu
koud, bitter ysig
maar binne waar niemand sien
‘n sluimerende vulkaan

Ek bestel pekingeend. Besluit om vir Hermien te sms:

Geskenk vir jou uit Hong Kong.Vuurwerke. Sien more gewone plek.

Laatnag sketter sy terug:

Hoor niks van hom... verlang na jou. Sien more. Wil alles hoor van die Ooste xxx

Ek is die laaste persoon in die restaurant. Neem 'n taxi terug huis toe. Sal ek vir Hermien die brief gee? Of wag dat sy hierdie storie lees en nadink oor die beginsel van Mark Twain:

“Truth is stranger than fiction, but it is because Fiction is obliged to stick to possibilities; truth isn't.”


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Saturday, September 10, 2016

Onderhoud: 5 vrae aan Joan Hambidge, deur Marchelle van Zyl

Die digter Joan Hambidge vier môre haar 60ste verjaardag en haar nuutste bundel, Indeks, is van vandeesmaand te koop. Marchelle van Zyl het met haar gesels.

Joan Hambidge
Foto: Edrea Cloete

1. As jy oor die ses dekades terugkyk, wat wil jy vier en wat sal jy anders doen?
’n Lewe waarin ek telkens die vermoë gehad het om sowel teenstand as geluk kreatief te verwerk. Hiermee dan iets wat die hier-en-nou en die ek oorstyg, omdat ’n boek ook iets vir iemand anders beteken.

By nabaat sou ek miskien losser wou staan van die Afrikaanse letterkunde met sy spelers en hul agendas. Ek dink ’n skrywer moet haar eie interne GPS vertrou.

Luister na jouself en ten minste een goeie leser (of twee) wat nie oneerlik is nie.


2. As jy ’n resensie van jou lewe moet skryf, wat sal jy sê?
Dit is ’n pikareske roman. Daar is reise en uitdagings, en die aweregse, dwarse hoofkarakter gee stem aan gay vroue, raak betrokke by polemieke en is dikwels betrokke by die taalstryd. Dalk windmeulens.

Te midde van al die polemieke en stryde skryf sy voortdurend gedigte oor stilte. Sy is wars van oneerlike mense en het onlangs ’n joernalis met ’n retrohaarstyl in sy dinges gestuur oor hy ’n leuen versprei het.

’n Lojale, driftige persoonlikheid, wat nie tyd vir dubbelpratery het nie. “Kom tot die punt” is haar motto. Weeg jou woorde. Hierom heet die blog Woorde wat weeg.


3. Wat is die topboeke wat jy glo almal in hul leeftyd moet lees?
Saul Bellow se Herzog. Die versamelde gedigte van Pablo Neruda, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers en N.P. van Wyk Louw. Die laaste romans van Karel Schoeman.

Ek is ’n poësieleser en die werk van Emily Dickinson bly ’n hoogtepunt.


4. Waarna kan ons uitsien in jou nuwe bundel?
Indeks karteer twee landskappe: die Argentynse en Chileense wêreld. Die bundel werk met die Andes as ’n broeiende simbool. Daar is verse oor afskeid, bestekopnames en tergery: Ek speel met die ou weduwee Viljee . . . En daar is ’n reeks oor Neruda.


5. Wat maak jou gelukkig?

Wanneer ek ’n gedig voltooi het en ek voel dat ek iets nuuts kon sê.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Wednesday, June 8, 2016

Joan Hambidge: reaksie op M. C. Botha brief aan Die Burger [Brief]


6 Junie 2016

In sy stuk "O, die ge-oink in die moddertrog", met die sub-titel Comrades van die praatsiekes, gee MC Botha sy mening oor die taalstryd (Die Burger, 4 Junie). 'n Mens sou waarskynlik hierdie gebla-bla om te wha-wha kon ignoreer het as dit nie was dat Botha sélf 'n Afrikaanse skrywer is nie.

'n Mens kyk na die beelde wat hy gebruik: ge-oink in die moddertrog; samboktaal van die vaders; taalbulle; dodelike sweer; utopiese dokument; paranoïes; morbiede Wedloop van die Praatsiekes; meelopers; nepotisme; geween en gekners van tande ...

Boonop beweer hy dat die taal van die koloniseerders van Suid-Afrika was nie Engels nie, maar Nederlands. Watter taal het Milner gepraat?, wonder 'n mens.

Op 'n potsierlike wyse stel hy die huidige stryd gelyk aan die Bittereinders in die ABO.

'n Mens sou vir Botha wou antwoord: geniet die oorlog, want die vrede gaan erger wees; maar dít daargelaat. Sy opmerking dat Afrikaans sy plek in die samelewing sal behou ten spyte van die taalstryders; nie as gevolg van hulle nie, is onbewysbaar. En hy wat so te velde trek teen statistieke (en selfs 'n Unesco-dokument aanhaal om sy argumente te staaf), net dit: as daar nie mense is wat standpunt inneem teen korrupsie en die minagting van reëls en regulasies aan universiteite nie, sou ons net sowel boedel kon oorgee.

Dat hy ewe ernstig vra waar die vroue, die gekleurdes en die jeug in hierdie debat is, dui op verdere onkunde.  Ek wonder wié het standpunt ingeneem teen die minagting van die raadsbesluite aan sowel die US as die UP en hof toe gegaan?

Lees ons 'n stekie na Jan Rabie wanneer MC Botha skryf: "Sonder Afrikaans was apartheid niks ..."?

Ek wonder wie kom hier eintlik in die opstand teen die samboktaal van die vaders? Is hy dan nie familie van die voormalige Minister van "Bantoe-onderwys" nie?

'n Duisend vermorste woorde wat sy eie oedipale stryd openbaar. Miskien moet hy Orwell se Animal farm weer lees.


© Joan Hambidge, Kaapstad