Showing posts with label Human & Rousseau. Show all posts
Showing posts with label Human & Rousseau. Show all posts

Wednesday, July 17, 2024

Resensie | Ingrid Winterbach – On rus op Steynshoop | Human & Rousseau, 2024

Ingrid Winterbach - Onrus op SteynshoopHuman & Rousseau, 2024. Sagteband, R 350, 296 bladsye. ISBN 9780798184724

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

So word Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach roman bemark:

Die teenwoordigheid van die Chinese in Steynshoop het die dorp die afgelope paar jaar ingrypend verander.
Benna Potgieter, wonderkind in sy prille jeug, is sedert sy pa se dood 'n haarkapper in sy ma se salon. Sy lewe neem 'n drastiese wending wanneer die skilder Fonny, sy groot verlore liefde, onverwags na die dorp terugkeer. Ook Jonah Voorsanger, met sy af-toon en sy intellectual poster boy-voorkoms, maak weer uit die bloute sy raaiselagtige opwagting.
Benna se kuier by sy vriend Sarel in Ladybrand sorg vir nog 'n onaangename verrassing, en die onverwagse besoek van sy broer, Petie - vol spyt en bitter verwyte - is genoeg om Benna lelik van stryk te bring.
Sy vriendskap met Chaoxing Yang bring Benna weer terug tot sy ander groot liefde, comics.

Snaaks, droewig, wrang en oneerbiedig - 'n opwindende nuwe roman in ware Winterbach-trant.

 

II

 

Winterbach se aweregse humor en die samesnoering van oënskynlik teenstrydige elemente is haar kenteken. Disparate elemente soos ‘n Afrikaanse dorpie waar Chinese die oorhand het, boerename, die gebruik van ou woorde met ‘n vertellerstem, wat tussen parenteses die ironie van alles beklemtoon, is hier van die belangrikste temas én tegnieke van die roman.


Die leser lag en word terselfdertyd bewus van ‘n kil blik op ‘n vreemde en terselfdertyd bekende samelewing. Die ouer garde wat rassistiese, oftewel pejoratiewe terme gebruik, teenoor die jongeres wat wil wegvlug uit verdrukkende ellendes.


Die werklike skrywer gee vir die leser sleutels na bekende skilderye en selfs na Jacques Lacan. Jonah was te jonk om by Lacan te kon aanklop as vertroueling en doodsbegeleier (99). Was hy ‘n doodsdoulah of nie?


Uiteraard tersaaklik: hoe leuens en verdigsels die onderbou is van die teks. 


Hierdie komplekse en aangrypende roman beweeg in ‘n sirkelgang. ‘n Mens kan die roman “oopmaak” op verskillende plekke soos vir hierdie leser. ‘n Soort story board skryf. (Onder die invloed van Hitchcock en Francis Ford Coppola wat verduidelik hoe hy die Godfather-reeks gemaak het na aanleiding van Mario Puzo se roman. Met asteriske waar hy wil verfilm.)


1 ‘n Toon wat verloor is in die dismemberment-ritueel aktiveer die objet petit a ('n konsep wat volgens Lacan onvertaalbaar is) kan as volg geïnterpreteer word: die verwys na die Autre (Ander); die petit a (klein a) differensieer die objek van die groot A. Dit is vir Lacan 'n algebraïese teken.


Le semblable ("counterpart") verwys na die ego se soeke na identiteit buite sigself. In die sogenaamde spieëlfase word hierdie aspek geartikuleer. Désir (begeerte) verwys na méér as begeerte of wensvervulling. Dit is vir Lacan eerder die krag wat alles beheer en reguleer. Oor Jacques Lacan het ek uitgebreid geskryf in my studie oor gender.

(Hambidge, 2000: 214 – 217).

 

‘n Lacaniaanse lesing sou ‘n leser ver neem in hierdie roman: die wet van die Vader (375) en gedurigdeur die kwessie van die patriargie (262). (Vaders wat vermoor is, soos Fonny se pa.)


Benna lees eweneens ‘n biografie oor Lacan.


Benna werk in sy ma se salon. Daardie ruimte van bavardier (tjettereer) en empty speech in Lacan se terme.

Hier is dan parlêtres (pratende objekte) wat telkemale op ‘n eie missie is. Alles word tussen karakters netjies verbind.


2 die hele kwessie van hemel, hel en verlossing loop regdeur die roman. Met ‘n kruid (dwelm) wat bliss teweegbring.  Lacan se jouissance wat sowel pyn as plesier aktiveer.


3 Daar is raspejoratiewe in karakters se mond wat die teks outentiek maak: dis hoe mense in daardie wêreld praat (en dink). 


4 Die landskap wissel tussen Steynshoop (ironies want hier is geen hoop nie), met die loci wat verskuif na Stellenbosch, Bethuli, Ladybrand, Musina, Ficksburg, Clocolan …


5 Dostojefski teenoor Amy Winehouse. Yolandi Visser teenoor die Generaal Piet Joubert-gastehuis.


Behalwe Lacan, lees Benna ook Foucault, Baudrillard, Nietzsche, Levinas …


Soekie verwys o.a. ook na Žižek …


Die skrywer Bolaňo wat te ingewikkeld is vir sy comic strips.


Benna en Sarel kyk na Béla Tarr, die meester van die stadige en werklike verbeelding in films,  se The Turin Horse.


Vlermuise versus bloeiende neuse. Regste en verbeelde reise.


Die mandorla of lig wat om die heiliges hang soos in Christusbeelde maar ook in Boeddhistiese kuns.


6 Die verhaal vertel veral die stryd tussen broers (een dood, een dolend) met Benna wat in sy ma se haarkapper werk. Die skilder Fonny, wat vir verskillende wendinge sorg, is die een aan wie hy sy hart ophang. Sy verhouding met sy moeder en sy wederstrewige broer Petie, word uitstekend beskryf nes die verlies aan die vader en die jong gestorwe broertjie. (En Hantie wat Sarel probeer normaliseer.)


Is dit waar dat trauma ‘n mens se genetiese samestelling verander?


Maar dit is veral die verhouding met Jonah Voorsanger, met sy af toon, wat vir ‘n verdere motoriese moment in die roman sorg. (Insiggewend is sy totemdier!)


En Marietjie se toetredes. Belangrike swart rolspelers soos Tebatso wat verduidelik hoe die Chinese “inkom”. Mevrou Gigaba ‘n trofeevrou. Of die arme Odelia.


Die man met die bioniese hand en uiteindelik in ‘n sampioenbegrafnispak (in die saprofitiese onderwêreld) en sy impak op sowel Fonny as Benna (294). 


Hoe versuurde vriendskappe nooit hul impak verloor nie, word hier ondersoek. Net soos die dooies weens ons skuld of aandadigheid aan hul besluite, steeds ‘n impak het op besluite.


7 Naamgewing is belangrik in hierdie roman: Benna (Benjamin), Petie (Petrus) wat o.a. die Bybel aktiveer (Die boek Elia is hier, 256) teenoor die tarot en verskeie Oosterse sisteme (soos die I Ching) wat die leser weer na ‘n Jungiaanse lesing van die teks kon neem. Ook Jonah wat ons ken as Jona in die walvis, die seun uit Amittai.


Harold Bloom het hierdie Bybelboek as sy gunsteling uitgesonder:

 https://www.nybooks.com/online/2011/07/28/harold-bloom-jonah-my-favorite-book-bible/

Besoek 17 Julie 2024


Jung se alchemistiese studies is hier tersaaklik. (Met die markplein hier as ‘n soort mandala?)


In die hoofstuk "The Philosopher's Stone In Alchemy: The Androgyne Imprisoned in Matter" verwys June Singer veral na Jung se alchemistiese studies. Die alchemisme bring 'n versoening tussen die spirituele en die materiële, dit wil sê, 'n versoening van die moontlike en onmoontlike. Gnostisisme is die mater alchimica

Die nous (spirituele) het afgekom in die vorm van 'n duif of slang en word opgevang in die physis (Singer, 1977: 136).


Want die lewe is net ‘n illusie, ‘n Boeddhistiese siening is ‘n helder ontdekking (265).


Die tarot word eweneens goed ingebed. Daar is ‘n casino in die dorp (die dobbelwiel in die tarot) en in die minor arcana swaarde.


Die sogenaamde minor arcana behels: Swaarde (of die ekwivalent van die sogenaamde Skoppensboer in 'n speelpak); Munte(Diamante); Stokke (klawers) en Koppies (Harte).


8 Humor en ‘n sin vir die absurde vier hoogty. Chakalaka denDie Mielieblaar, en wait for it: Boerebonders. Die stadsruimte heet die Skwêr! Prullaria …


Wat oor vroue wat hulle hare kleur opgemerk word, is eweneens skreeusnaaks.


Die funksie van kuns word gedekonstrueer in waarskynlik een van die snaaksste passasies nog gelees in ‘n Afrikaanse roman wanneer ekskrement in can-fruit-bottels omgebliksem word. En die reuk, nie die polisie nie, veroorsaak dat alles tot stilstand kom tussen die Hells Angels en kunstenaars (221 - 220). Ek wil nie die leeservaring vir die leser bederf nie, maar dit is waarskynlik een van die sterkste oomblik in die roman wat 

kunspretensie uitmekaar uit bliksem.


9 Alles natuurlik gekomplementeer deur die die obsessie met komiekstrips. Manga. En Bitterkomix.


En komiekstrips word hier weergegee van die kind wat eers “onskuldige” komieks soos Archie en Popeye lees en dan tekste met sterk sosiale kommentaar. Te veel om hier op te noem, o.a. Pat Aulisio se Survive 30 Million:

https://retrofit.storenvy.com/collections/29642-all-products/products/24567888-survive-300-million-1-by-pat-aulisio  17 Julie 2024


Ai Weiwei is ook hier.


In 2009 het Shathley Abrahams ‘n doktorale studie voltooi oor komiekstrips by UCT: Older than language.

Met verdere toespelings op die Baiyue en hul betekenis. Etniese groepe in die Suide van China en Noordelike Viëtnam.  Een eeu voor Christus en een Eeu na Christus. Veral hul tattoes en swaarde is relevant vir hierdie teks.

https://en.wikipedia.org/wiki/Baiyue  17 Julie 2024 

 

Benna is immers bevriend met Chaoxing (‘n naam wat Expecting Fortune beteken) en sy verhouding met sy vader word ‘n navrante spieël van afwesige vaders in alle kulture. En daar is Sarel, die wiskunde whizz-kid, Benna se skoolmaat in Ficksburg (en sy latere waansin) teenoor ene Gertruida, die kenner van die I-Ching. En navorsing oor die Brakpan Strangler. 


Die Spirituele reis van Katerina de Sanguin na Tibet …


Heiliges en hoere. Dieresimbole soos in Suid-Amerika word eweneens geaktiveer. In Peru, byvoorbeeld is slange en voëls heilige simbole in antieke tye. Ook die Vicuňa aldaar as simbool.


Totemdiere. Sjamane. Ayahuasca-seremonies. 


Die betekenis van kos. Soos die sojaboonwrongel.


‘n Insigryke beskrywing van Mao.


En die betekenis van Chinese kuns( 283): o.a. met die landskap van emosie en die veelvuldigheid van die wêreld.


10 Die roman lewer sterk sosiale en politieke kommentaar met die inkommers, die Chinese wat ‘n hele dorp se infrastruktuur verander. Dit veroorsaak uiteraard spanning tussen die Chinese en swart inwoners. Die konflik tussen Oosterse en Westerse kulture word verder gekompliseer met verwysings na swart kulture.

Die sogenaamde “baasskap” van ‘n dorp word op sy kop gekeer met ‘n duidelike aansluiting by die ervaring van hoe alles tans in beweging of flux is, hier en elders.


Ons siele is dalk ingeplug in die media? (77)


Dieselfde geld die leesstrategie vir en tot hierdie roman. Nes jy dink jy het die sleutel gevind, dan word die mat onder jou uitgeruk.


11 Dalk alles te make met die vertellende instansie wat tussen parenteses kommentaar lewer op karakters se denke en optredes.


In Drie-en-vyftig word die ouktoriale verteller Jy.


Is dit die verteller wat intree en beheer erken van alles wat gebeur?


Soos in ‘n droom wat beskryf word. (Een-en-vyftig).


12 En dan die verskillende taalregisters verdien eweneens vermelding. Van Standaard-Afrikaans tot komiektaal wat spaars is. Selfs intermittante kekkels (35) in ‘n filosofiese bydrae: Die kritikale snieker”.

Van blote storievertel tot lesings o.a. oor Lucian Freud en Francis Bacon. Die ekologie van magsverhoudings, lees ons.  


13 En die fungus as metafoor? O.a. Ophio-cordyceps-fungus wat ‘n hele mierkolonie kan laat intuimel, is hier uiters relevant: die sogenaamde zombiemierfungus (288). 


Hierdie insekte wat met hierdie fungi besmet is, word as begraafplase tipeer.


Wat ons dan terugneem na  die teoretikus J. Hillis Miller se seminale teks “The Critic as Host” in Deconstruction & Criticism.


En hier is ‘n toepassing op J.M. Coetzee vanuit hierdie hoek:

https://manifold.umn.edu/read/cc-frame-007-essay-01/section/e724b462-90a8-42cd-9195-0d6cf26131cd  Besoek 14 Julie 2024

 

Ten slotte:

Vir my is die blik (die oog) in hierdie teks relevant. 


Die Lacanian 'gaze', die blik, die oog, kan verder as uitgangspunt geneem word, omdat dit meesterskap / beheersing / oorwinning insluit met verskillende karakters wat buikspreek vir die verteller  wat juis hierdie oorheersing dekonstrueer of bevraagteken.


Dis ‘n fassinerende roman wat verskillende disparate modi saamplaas en telkemale die leser verbyster met ‘n nuwe aanslag. Die vrae oor die verteller word “opgelos” in die slot: Benna werk aan ‘n roman in sy swart A-4 hardebandboek.


‘n Roman wat soveel wêrelde saamsnoer en oopbreek. Veral die landskap van die psige word besonder kompleks verbeeld.


Joan Hambidge

Julie 2024

 

Bronne:

 

Abrahams, Shatley. 2009. Older than language: comics as philosophical praxis and heuristic for philosophical canon. UCT, PhD. (Studieleier Joan Hambidge).

Hambidge, Joan. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. UCT, PhD. (Studieleier H.J. Snyman).

Hillis, Miller J. 1980.  Deconstruction & Criticism. Londen: Routledge.

Lacan, Jacques1966/1977. ÉcritsLonden: Tavistock. Vertaal deur Alan Sheridan.

                                     1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Londen: Penguin. Vertaal deur Alan Sheridan.

Leader, Darian. 1996. Why do women write more letters than they post? Londen: Faber and Faber.

Singer, June. 1977. Androgyny - towards a new theory of sexuality. Londen: Routledge & Kegan Paul.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FMR)


 

 

 

Tuesday, July 16, 2024

Resensie | Henda Olivier - Onder water. Human & Rousseau, 2024

Henda Olivier - Onder waterHuman & Rousseau, 2024. ISBN: 9780798184571, Sagteband, 272 bladsye, R 340,00.

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Onder water is die tweede roman geskryf deur Henda Olivier. Die hele problematiek van seksuele identiteit en agentskap word onder die loep geneem. Die slim gekose titel werk met die onbewuste as ‘n bergplek (Freud) wat deur koerantberigte, gesprekke of films ontsluit kan word. Dit vertel die verhaal van Rebekkah Keller wat haar pa aan die dood afstaan as tiener. Dit is eerste die motoriese moment vir die verhaal.

 

Swem word ‘n ontvlugting uit hierdie ellende. Boonop is haar moeder emosioneel onstabiel en ‘n opgaarder. 

 

Die hele kwessie van die plaas en ‘n veiling word ook bekyk. En aanvalle soos op Hannes. Daniël (God is my regter in die Hebreeus) en Rebekkah (om te bind in die Hebreeus) is die twee hoofspelers in ‘n pynlike geding van hoe daar vergeet en verberg word. Ten einde te oorleef.

 

‘n Onderwyser ontferm hom oor Rebekkah en is haar swemafrigter. Twintig jaar later, as geskeide vrou, is sy werksaam by ‘n prokureursfirma. ‘n Vriendin stuur ‘n boodskap aan haar en haar hele verlede “spoel soos ‘n fratsgolf oor haar”. Dit is die tweede motoriese moment.

 

Nou wil hierdie leser nie die leeservaring bederf vir die voornemende leser nie. Dit is pakkend geskryf en jy word ingetrek in die stroom van herinneringe, bedrog, voorgee en jaloesie. ‘n Toe versus ‘n nou. Die huwelik en familieskap as ‘n benoude en gereguleerde ruimte waaruit die hoofkarakter nie kan ontsnap nie. 

 

Op bladsy 49 word die baboesjkapoppies as simbool gebruik. En dis hoe ‘n mens hierdie boek moet ontsluit: die reëls van jag geleer by die vader teenoor die man en seuns wat op Rebekkah jag maak. Briewe teenoor sosiale media en die impak van Facebook. Die liefdeswoord “bokkie” teenoor die natuur waar bokke gejag en geskiet word. Bon Jovi versus boere-idiome. Die invloed van drank op laataandboodskappe.

 

Daar is verwysings na Orkney snork nie en Riaan Cruywagen, onder andere, wat ‘n spesifieke tydvak aandui teenoor name van bekende eet- en drinkplekke in Klaarfontein/Bloemfontein. Vraisemblance dus.

 

Die adder wat kan kamoefleer, is ‘n belangrike simbool. Hy hoef nie te jag nie; sy prooi kon na hom toe (59). Die jagmetafoor is deurgaans aanwesig soos die spitsmuis wat sy prooi vergiftig en aan hom bly vreet, selfs vir vyftien dae lank (159).

 

Die #MeToo-beweging, waar veral vroue opgestaan het teen sosiale misbruik, word hier ingebed. Rebekkah se ellende word word geplaas teenoor Evert, waar sy ouers namens hom by die prokureur ‘n klag wil aanhangig maak. Oor ‘n ouer vrou se ontoepaslike gedrag. Grooming en drowning. (En mag die oppasser kinders kaal bad?, is een van die vrae in die boek.)

 

Die roman ondersoek alles tussen toe en nou en hoe die landskap van die seksuele spel verander het. Camille Paglia het in Vamps & Tramps (1994) haar sterk uitgespreek teen vroue as slagoffers versus moderne feministiese kritici, wat daarop wys hoe Alfred Hitchcock, byvoorbeeld ‘n obsessie gehad het met vroue soos Grace Kelly (Rear Window) en Tippie Hedren (Marnie / The Birds). Tog is dit juis hierdie manlike blik wat sy films so fassinerend maak, aldus Paglia. (Melanie Griffith, Hedren se dogter, het hierdie aspek bevestig.)

 

Groot kuns is helaas selde polities korrek of vind closure of heling. Of maklike oplossings. 

 

Ons dink hier aan Lolita van Vladimir Nabokov in 1955 en aan die verfilming deur Stanley Kubrick in 1962, met die onvolprese James Mason, as Humbert Humbert in sy allesoorheersende verhouding met Dolores Haze, die manipulerende Lolita. Hier is die kind-as-nimfet die een wat beheer. Met Peter Sellers as Quilty. En Shirley Winters as die flirterende ma. 

 

Nou plaas hierdie spannetjie teenoor die karakters in Onder water, dan praat ons weer.

“Sy is gekwes, maar sy lewe” (270) lees ons in Onder water. Goeie letterkunde systap eenvoudige oplossings en is beslis nié sosiale of politieke traktate nie. Hannes in sy Stormerstrui teen die slot en haar huis toe neem. ‘n Goeie slot?

 

Dis werklik jammer om só te skryf oor hierdie roman, want Henda Olivier kán vertel en simbole inryg en met verwysings werk. Tussen toe en nou. Uiteindelik word dit ‘n roman vir lekkerlees. Die verwysing na ‘n kinderboek Otjan Otter is wel tersaaklik.

 

Miskien moes sy klasse gebunk het en eerder by ‘n letterkunde-onderwyser gaan leer het. Of dalk net Francoise Sagan se Bonjour Tristesse (1954) gelees het in die biblioteek saam met Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan (1937) waar vroue ook uitgelewer is aan mans. En begeerte. (In Onder Water is daar ook tydsaanduidings soos by Smit.)

 

Die implisiete verteller moes die sleutel in die metaforiese oseaan gegooi het (97) en die Pandorakis vérder oopgemaak het. Of dalk nie na Lena geluister het nie.

 

Inderdaad: Ain’t no thang but a chicken wang … (124). Die roman word bemark as ‘n nuwe stem wat dit bepaald is binne die romanza-kultus. Binne ‘n letterkunde waar krimi’s ernstig geresenseer word, is ‘n belofteryke debuut of ‘n nuwe stem ‘n swaar verdiende etiket. ‘n Nuwe “gloeiende stem” reserveer hierdie leser vir name soos o.a. Lettie Viljoen (Klaaglied vir Koos), Rachelle Greeff (Die rugkant van die bruid) of Koos Prinsloo (Jonkmanskas). Of Alexander Strachan en later: S.J. Naudé …

 

En wag maar eers met die heiningkwas en laat die boek haar lê kry.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot en Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is digter en romanskrywer.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Wednesday, November 16, 2022

Resensie | Antjie Krog – Plunder | Human & Rousseau, 2022

Antjie Krog – Plunder. Human & Rousseau, 2022. ISBN: 9780798183178. R 260.00, 126pp. 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Antjie Krog se bundel Plunder analiseer en ondersoek al die bekende temas van vrouwees – nou in hierdie jongste bundel met ‘n strenger fokus weens die gepaardgaande tyd van onrus post-Covid. Ons vind ook hier die spanning tussen die wit staar en swart staar wat die politieke dimensie aktiveer. Bekend aan haar digkuns word die magsverhoudinge in die huwelik beskou en van die mooiste en ontroerendste gedigte tref ons hier aan (“dis wanneer ek weg is van jou”, 17; “dis wanneer ek by jou is”, 18). Kleinkinders, die dood van ouers, die wegteken van die familieplaas Middenspruit teen die agtergrond van grondonteiening (“Koopkontrak”, 84), siekte, geheuverlies wat uitloop in die crescendo van hierdie bundel met “o brose aarde …: ‘n misorde vir die nuwe verbond”, 107) .

 

Musikaliteit, verstommende beelde en ‘n meedoënlose selfgesprek met die bevraagtekening van die “ek” is verdere aspekte van hierdie bundel wat ontroer en steur.

 

“die sigbaarmaking van allerlei strooptogte” (38) is ‘n sentrale vers róndom die digter wat haar speels posisioneer as kolonis. Sy gee ruim erkenning agterin van wie en waaruit sy plunder.

 

Female Fear Factory (2021) van Pumla Dineo Gqola is tersaaklik. Die vrou as gevreesde en die een wat vrees word geplaas teenoor die mitologiese Baubo wat haar genitalieë wys. Krog se Plunder is ‘n meedoënlose analise van die wit Afrikaanse vrouedigter. Hoe lank? Wie gaan eendag hierdie opgawes verstaan?

 

Haar pryslied vir Biskop Tutu ruk aan die keel, nes haar digterlike reaksies op weerloses, verskoppelinge, bedelaars. Sy bely sy glo nie in heiligmaking nie (68); tog bly die leser deurgaans bewus van gedigte as gebede – dan weer selfironie en self-ontering.

 

Die bundel is eintlik ‘n opera.

 

Voëls soos die bottergat, sperwer, slanghals, groenvlerkduif is hier aanwesig met die Vrystaatse landskap wat die ondergrond van die bundel vorm.

 

Die bundel beslaan ses afdelings: die 1e een is ars poëties in opset; die 2e begin met ‘n sterk politieke aanslag en meer spesifiek die #FeesMustFall-beweging; die 3e werk met die Bybel en die mitologiese figure soos Baubo, uit die Griekse mitologie wat haar rok lig vir Demeter ná die dood van haar dogter, Persefone; die 4e handel oor familieskap en in die 5e word die wit staar/swart staar-problematiek ondersoek. In die laaste afdeling is die mis (“o brose aarde”) die sluitstuk.

 

II

 

Die titel Plunder word op verskillende vlakke ondersoek. Strooptogte en die politieke werklikheid van grondonteiening soos die kwessie van besitreg. Die Engelse titel heet Pillage en die gedigte is vertaal deur Karen Press.

 

Die hele kwessie van stroop of plundering word ‘n metaforiese werkswyse in hierdie komplekse bundel.

 

‘n Sentrale vers is “die sigbaarmaking van allerlei strooptogte”(38):

 

*

 

as digter is my wese dié van ‘n Kolonis

ek val ander se werk binne

ek ossilleer van ekstase, bewondering

verander, teken op, neem klein aandenkinkies

want die tekste gryp my aan, landskappe tuimel

kom ek af op ‘n beeld, ‘n ongerepte kloof

ontdek ek ‘n verblindende berg

dan omhels ek, verorber, stroop

en stop my kop vol, my onderbewussyn

die oorloop verdwyn in notaboeke

want alles wat gesê word is al gesê

       is al voorheen oor en oor nooit só gesê

ek probeer byhou om bronne en oorsprong op te spoor

maar uiteindelik word die hele kelderkaboedel

                                                          kollektief verslinde buit

 

pluiings vir die verrinneweerde liggaam van latenstyd (39)

 

*

 

Agterin die bundel word bronne vermeld en digters waaruit sy “geskaai” het. Sy verwys ook na haarself en die herbesoek van veral Lady Anne is opvallend in hierdie bundel.

 

“om te roei sonder hawe” (Lady Anne Barnard ontmoet Samuel Johnson), 64 is só ‘n voorbeeld nes die meerstemmige tekste wat terugkeer na o.a. Januarie-suite.

 

Anna Jean Smith se Reading Julia Kristeva: Estrangement and the Female Intellectual (Canterbury Universiteit, 1992) vang hierdie leser se oog: die matrioska, meerstemmigheid, die chora, o.a. word so geaktiveer. Die belangrike bibliografie verskaf kodes vir die oopmaak van hierdie bundel: “skin memories”, erotiek in die Babiloniese tydvak, trauma-narratiewe, ras en representasie, black bodies versus white gazes, die evoluerende heelal, ensomeer.

 

Pyn en vreugde; die banale en die sublieme (“ons binnestes ruk deur die sublieme”, 117).


Die famieskap van die digkuns teenoor die familieskap van die werklike familie.

 

III

 

Hierdie bundel funksioneer soos ‘n opera in verskillende bedrywe.

 

Met verskillende stemme wat die leser terugneem na al haar bundels waar sy eksperimenteer met die voordrag, die pryslied en dus aansluit by die sterk orale Afrika-tradisie. 

 

Terselfdertyd is daar gesprekke met die buiteland (J.M. Coetzee en Remco Campert, o.a.), maar haar ondersoek na die “leegte van stilte” en ‘n teruggryp na haar Vrystaatse jeug (en pragtige erotiek) het hierdie leser mateloos geïmponeer.

 

Dit val nie te betwyfel nie dat hierdie bundel een van die hoogtepunte van die jaar is. Die saamdig van verskillende dimensies waar die private en die politiese saamgesnoer word.


 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Friday, July 8, 2022

Resensie | Louis Krüger – Die verleiding van Eva de Winter | Human & Rousseau, 2022

Louis Krüger – Die verleiding van Eva de WinterHuman & Rousseau, 2022. ISBN: 9780798182720. R 310.00, 192pp

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Hierdie roman, uitgegee deur Human & Rosseau, word soos volg bemark:

 

Wanneer Josua een middag vir Eva de Winter in ’n Rotterdamse koffiewinkel ontmoet, voel dit vir hom onwerklik dat ’n begaafde regsgeleerde soos sy in ’n verhouding sou belangstel. Maar sy getuienis vroeër in ’n hofsitting interesseer haar – dit lei tot verdere afsprake, en algaande word hulle vriende. Dis eers ná hul huwelik voltrek is dat Josua begin begryp daar is iets onpeilbaars aan Eva. Hoeveel raaisels het sy van hom weerhou, en wat hy slegs d.m.v. obskure soekenjins oor haar kon naspeur?

 

Louis Krüger is ‘n Afrikaanse skrywer woonagtig in Holland. Hy is die skrywer van Gevaarlike land (1990), Herinnering aan Agnes (1995) en Wederkoms: Die lewe en geskiedenis van Jannes Hoop (2009). Met sy jongste roman het hy hierdie leser bekoor. 

 

‘n Beeldskone regsgeleerde, Eva, en Josua, ‘n rekenaarkenner, wat getuienis lewer in ‘n hofsitting oor selfone, is die twee rolspelers. Protagonis en antagonis. Met motto’s uit T.S. Eliot se Four Quartets wat die verskillende afdelings raam. Belangrik die uitspraak dat die mens nie te veel realiteit kan verduur nie, soos Eliot beweer. Beide karakters probeer ontsnap van hul verledes; beide karakters word gekonfronteer met enorme psigiese probleme.

 

Die voorblad (dalk opsetlik?) is van ‘n uitlokkende, beeldskone vrou (ons sien terloops nie haar oë nie) soos ons in liefdesromans vind. Dus ‘n opsetlik verkeerde kode. Die boek is ‘n aweregse liefdesverhaal, met gekneusde, beseerde rolspelers. Josua herstel van ‘n traumatiese ervaring (hierdie leser wil nie ‘n spoiler gee nie) en Eva is ‘n geheimsinnige vrou. Met ‘n vreemde man in die agtergrond.

 

Liefdesverhoudings, trauma, die straf van die gemeenskap, die dood van ‘n kind én ‘n man met die naam Peter Laksman word saamgevoeg. Elemente dus van die spanningsverhaal met skuld en boetedoening. En verder: hoe farmaseutiese maatskappye indiwidue se lewens manipuleer en moontlik siektes skep sodat daar geld gemaak kan word?

 

Die name is gelaai met simboliese betekenisse: Eva, Josua, Laksman, Bert Hartemink, onder andere. 

Josua beteken God is my redding. Hier word die naam dan ironies gebruik.

 

Onder draai die duiwels rond in hierdie uitermate goed geskrewe spanningsverhaal met verwysings na Simon en Garfunkel se The Sound of Silence: “Hello darkness, my old Friend, I’ve come to talk with you again …, 153.

 

Death of a Salesman is eweneens ‘n interteks met die soeke na betekenis.

 

Die roman maak eweneens slim genderanalises oor geslagsloosheid en dalk ‘n gendervrye toekoms. Proefbuisbabas. Die oortolligheid van die huwelik. Evolusie is ‘n verdere tema (147).

 

En moderne identiteitsdiefstalle. En optredes op sosiale media wat die einde van die individu aankondig. 

 

Ook Harari gooi hier ‘n draai.

 

Die outeur ondersoek ook die impak van buite-egtelike verhoudings: “die berou en die lewe in leuens is die grootste wroeging van die owerspelers.” 

 

Die impak van verkragting op ‘n vrou se lewe word ook ondersoek. En die troebel arena van hacking waar ander se geheime ontbloot word, kom ook aan bod.

 

Opwinding, verleiding (op verskillende vlakke) word in hierdie uiters subtiele roman ondersoek.

 

Niks is soos wat dit lyk of voorkom nie. 

 

Die gebruik van kodes uit die liefdesroman vermeng met die spannings- en traumaroman maak van hierdie roman ‘n besondere teks. Dit is uiters subtiel geskryf met rigtingwysers vir verdere speurwerk.

 

II

 

Die inspeel op ander tekste is belangrik met die verwysing na die filmweergawe van Death of a Salesman. Met Dustin Hoffman en John Malkovich.

 

Gemaak in 1985 met niemand minder as Schlöndorff as regisseur nie, van Arthur Miller se drama uit 1949.

 

‘n Teks oor selfverloëning en illusies …

 

Wanneer tekste inspeel op ánder tekste, soos die film Gemma Bovery (2014) van Anne Fontaine, roep dit vergelykings op met die oerteks.

 

Flaubert se Madame Bovary skuil in die agtergrond. Die film het ‘n bakker, ene Martin, as ‘n soort regisseur wat kommentaar lewer op liefdesverhoudings. Die verskille tussen moderne en klassieke verhoudings word uitgewerk in hierdie speelse film wat in Normandië afspeel. Rodolphe word Hervé, ‘n jong student wat Gemma verlei, terwyl haar man, ‘n Brit, meubels restoureer.

 

Die verteller waarsku teen die gevare van gif.

 

Die kyker weet wat het met Emma Bovary gebeur.

 

Die verteller meng in stuur ‘n brief aan Gemma en maak asof hy Hermé is. 

 

Lewe boots kuns na en mense is blote argetipes, aldus die bakker as gedistansieerde, ironiese verteller.

 

Die klein vriendekring (die bure een Brit, een Frans) soos, Gemma en haar man, se lewe word verder versteur wanneer Patrick, ‘n eks opdaag. Ook is daar ‘n intrige met ‘n duur beeldjie wat breek en wat Gemma se man moet restoureer. Met die jong lover wie se moeder lont ruik.

 

Die slot: Gemma sterf nie ‘n gifdood nie. Nee, sy stik aan die brood van die bakker en Patrick probeer haar red en helaas kom haar man onverwags daar aan en bliksem hom.

 

So wie was verantwoordelik vir haar dood? 

 

Almal? Of niemand nie?

 

Die bakker het haar gewaarsku teen gif strooi, maar hy het die brood gebak wat haar dood veroorsaak het. Is dit toevallig dat die voormalige geliefde ‘n koskritikus is?

 

Is verveling die rede vir ‘n verhouding? Die verteller meen dat begeerte en dood verbind is.

 

Alles speel af in 'n fiktiewe Normandiese village. Die oorspronklike teks is in Rouen. In die Flaubert-teks trou Charles met Emma ná die dood van sy vrou. In die moderne film was Charlie voorheen getroud en Gemma se voormalige geliefde ontrou aan haar. Hy keer natuurlik later terug as trooster. Hy heet Patrick en is natuurlik Léon, die geliefde na wie Emma terugkeer wanneer Rodolphe haar verlaat.

 

6 maande later is daar ‘n nuwe buurvrou. Glo ene Anna Karenina en die kyker weet wat gaan gebeur.

 

Pastiche of palinode? Parodie? Alles toespelings op die klassieke roman van 1856.

 

III

 

Emma is verlief op Rodolphe, haar tweede minnaar, en skryf indiskrete briewe aan hom. Hy beëindig die verhouding met 'n brief wat hy in 'n appelkoosmandjie laat. 

 

Gemma hou 'n dagboek waarin sy haar emosies uitstort. Die bakker lees hieruit voor ná haar dood.

 

Beide vroue is in die knyp met geldelike skuld. Emma se aankoop van luukses is 'n poging om te herstel van liefdesverraad en ongelukkigheid. Wanneer die skuldeisers kom, is beide minnaars onbetrokke, maar haar eggenoot help haar uit die verknorsing. Gemma is ook in die skuld wanneer Charlie vertrek. 

 

Charles in Madame Bovary sterf aan 'n gebroke hart, maar Charlie keer terug na Gemma.

 

En daar is natuurlik ook die besoek aan die opera in Madame Bovary. En opera, weet ons, simboliseer hewige emosies en drama. 

 

Vir ‘n meer volledige analise: ‘n Moderne Madame Bovary.

 

IV

 

Die film Gemma Bovery parodieer met ‘n ironiese aanslag en lewer kommentaar op moderne liefdesverhoudings. Die roman Die verleiding van Eva de Winter, steek die intertekste weg en met ‘n tweede lees kom die leser af op vele leidrade.

 

En hoekom Eliot, Arthur Miller en Simon and Garfunkel?

 

Illusies, verpletterde drome en daardie opmerking van die bakker-as-verteller: begeerte en dood is immer verbind.

 

Louis Krüger lewer ook kommentaar op moderne lesers se obsessie met krimies en waar lesers tans moet glo dat dit belangrike letterkunde is.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)