Showing posts with label Tunisië. Show all posts
Showing posts with label Tunisië. Show all posts

Wednesday, July 3, 2019

Reisjoernaal | Tunisië III. Kartago, Nabeul 2019

I Carthago delenda est *

Hoe ironies dat ek Hein Viljoen se digbundel Brisant (Naledi, 2019) ingepak het. 'n Epiese vers en 'n soort moderne Joernaal van Jorik.

So verduidelik die internet die betekenis:
Brisance is the shattering capability of a high explosive, determined mainly by its detonation pressure. The term can be traced from the French verb "briser" ultimately derived from the Celtic word "brissim". 
En daar in die sentrum ontplof 'n bom.

En ek ontvang van Breytenbach uit Parys die volgende skakel na 'n grafiese roman: From After the Spring/ A Tunisian Youth - Words Without Borders. Besoek 3 Julie 2019.

Vandag swem ek in die see en in die swembad by die hotel in Nabeul. Die see is klipperig en nogals onbegaanbaar. Maar ek druk deur. Swem sal ek swem.

Ek tel 'n klip op wat by die versameling klippe tuis sal staan.

Verkyk my aan die Tunisiese vroue wat met klere in die swembad swem.

Ek flonker met 'n speedo en 'n Lacoste-hemp en sonbril.  Twee opposisies van vrouwees: bedek versus onbedek.

Ek probeer hard om die ervaring van terrorisme agter my te sit. Vele vriende skryf e-posse vol bekommernis en die Tunisiërs is skouerophalend: die lewe moet aangaan.

Daarom probeer ek ook maar vergeet van die ellende. Orals is daar mooi katte. Goed versorg en van verskillende kleure…

Ek sien net een hond tydens my reis en dis so 'n Labradoragtige een op die strand in Nabeul. Vir die res is dit katte en nogmaals katte.

Laatmiddag storm daar ongeveer vier skoolspanne met sokkerspelers die hotel binne. Ouderdomme so tussen tien tot twaalf en die lawaaivlakke hoog. Die hotel se klavier word getokkel ten spyte van die onnies se kwaai blikke.

Die swembad word oorgeneem. Met duikslae en gewoel. Teen agtuur die aand breek 'n oorlog uit tussen die jongelinge. Die bestuurder maak hulle stil met 'n basta!

Nie een van hierdie jongelinge sou verewig word in Bloeityd nie.

Ek kyk maar sokker: Kameroen teen Ghana. 'n Spel wat nêrens heen gaan nie.

Ons verlaat die hotel so om tien vir my vlug Tunis-Parys om 2 vm. Dis Saterdagaand en die locals stap buite rond in die dorp.

Die lughawe is afgesper. Orals is daar sekuriteit en net reisigers mag die lughawegebou binnegaan. My gids gooi my af by die vertrek-lokaal.

Jy word driekeer deursoek deur polisie.

Ek tjekkereer in: met net handbagasie en boeke. Die vrou by die toonbank wil eweneens nie praat oor die voorval nie.

"Jy moet weer terugkom, asseblief."

Die rooi-oog-vlug is rapide. Ek drink water en mediteer. Langs my sit 'n ingenieur.

Ek kyk by die venster uit en sien 'n wonderskone beeld: 'n sekelmaan en die rooi lig wat gloei uit die opkomende son. My kamera sal dit ongelukig nie kan opvang nie, maar die beeld is in my geheue ingeprent. 'n Astroloog verduidelik dit is die pre-balsamiese maan: die maan net voordat dit verduister.

Ons land in Parys om vieruur. My vlug vertrek om tien.

Dan tot by zone 2. Trein wat passasiers soos sardiens insluk en weer uitgooi.

Weer deur sekuriteit. Die alarms loei. Ek word deursoek.

"Dis maar my aura wat sulke dinge aanvang," sê ek vir die sekuriteitsbeampte wat dit gelukkig snaaks vind.

Dieselfde hek waar ek laas in 2016 Parys verlaat het. Die son is reeds bloedig en Parys beleef 'n hittegolf.

Slaan 'n dampie, trek vars aan en shoppereer. Ontdek my pilboksie het iewers met al die deursoeke verlore geraak.

Om 9 uur betree ons die vliegtuig waar 'n vrolike span ons inwag met blomme om die nek.

"Is dit dan 'n vlug na Mauritius?"

"Nee, ons vier fees. Ons beste vriendin tree af – dis haar laaste vlug." En ons word bederf in Premier Economic met heerlike wyn, sjokolade, lekkers – en grappies. Nie die gewone irritasie met diens nie.

Die menu is in Engels, Frans en Arabies.

Salmon tartare, chicken in a jus with chopped vegetables
or
Penne pasta with a creamy mushroom sauce
Camembert
Red berry crumble
Coffee and tea

En natuurlik Heineken en rooi wyn of wit wyn.

En films is altyd 'n heerlikte op so 'n vlug.

'n Dokumentêr oor Buster Keaton (Peter Bogdonavich, 2018) met sy uitdrukkinglose, emosielose gesig word eerste gekyk. Hierdie styl word Keatonesque genoem glo.

The Great Buster.

Kommentare van Mel Brooks, Tarantino  en Werner Herzog wys op sy enorme invloed op ander filmmakers. Hy is inderdaad die "deadpan genius" genoem.

Soos die huis wat deur 'n trein omgery word of met verkeerde aanwysings 'n vreemde kontrepsie word. Soos dit met humor gesteld is!

En 'n herbesoek van die meesterlike, nooit oortroffe Priscilla, queen of the desert.

'n Mengsel van hartseer en snaaks. Ek luister ten minste driekeer na "Go West". Die gespottery met ABBA is wonderlik. Die slottoneel waar die twee karakters 'n vertoning gee as die twee ABBA-vroue 'n wenner.

Die dialoog is vlymskerp. Drie drag queens se avonture word heerlik weergegee en daar gedans en ge-mime op musiek.  Terence Stamp (waarskynlik sy beste vertolking ooit) as die weerlose dog skerp Bernadette Bassenger, Hugo Weaving as Anthony "Tick" Belrose / Mitzi Del Bra en Guy Pearce as Adam Whitely/Felicia Jollygoodfellow gee 'n ensemble-vertolking uit die boonste rakke. Die film is in 1994 vrygestel met Stephan Elliot as die regisseur. (Hy is ook te siene in 'n klein kameerol as die deurwag!)

Die musiek is behartig deur Guy Gross.

Die bus heet Priscilla, Queen of the Desert wat op 'n homofobiese dorpie toegetakel word met aaklige slagspreuke en 'n versoek dat hulle die dorp, Coober Pedy,  moet verlaat. Want hulle het sekerlik Vigs.

Die skelwoorde word met pienk verf uitgewis.

By 'n ander staanplek sing die Australiese inboorlinge lekker saam.

Tussen Sydney en Alice Springs word daar beweeg deur die Simpson-woestyn.

En ja, die bus breek en 'n helper, Bob die mekaniek, wat ogies maak vir Bernadette, kom hulle te hulp. Sy bly dan uiteindelik agter saam met Bob…

En daar is 'n geheim.  Tick is getroud en het 'n kind by sy vrou, Marion.

Sy agtjarige kind het egter vrede met sy pa se seksualiteit en reis terug saam met hulle na Sydney.

Die Kings Canyon word uitgeklim in volle drag regalia; 'n droom van die drie karakters word so verwesenlik.

Die kamera fokus op die pragtige, veelkleurige akkedisse wat 'n mens hier aantref. Soos hierdie reptiele oorleef in die woestyn, sal die drie drag queens met hulle uitspattige klere eweneens oorleef.

Die film wil uiteindelik 'n boodskap oordra: dat kinders homoseksualiteit verstaan, en dat die eksvrou ook begrip vind. En veral: dat daar iewers vir elke drag queen 'n straight man is. 'n Fantasie word dus so uitgespeel.

Al word jy aangeval op 'n klein dorpie is daar iewers iemand wat liefdevol en begrypend sal optree.

Om presies tienuur terug in my land.  Ek wag rustig eers en kom (woordeloos) tot verhaal. 'n Vriendelike swart paspoortbeampte heet my welkom.

Nou 'n taxi vind in die nag. Dis koud en 'n Kaapse winter op sy felste. My selfoon sê 12 grade.

Livingstone ('n gepaste naam) neem my huis toe.

My aantekeningboekie is vol notas en idees vir gedigte en die bundel Konfessies, kaarte en konterfeitsels begin koers kry.

Carthago delenda est? 

Kartago / Tunis is in 9 VC gestig.

Rome het in 146 VC die stad verwoes (Carthago delenda est) en hierna het 'n Romeins-Kartogeense stad weer uit die ruïnes opgebloei.

Nee, die stad bly staan ten spyte van die aanval.

* Carthage must be destroyed

Saturday, June 29, 2019

Reisjoernaal | Tunisië II. Nabeul, 2019

I

In Colombia het my tas drie dae later by die bestemming opgedaag, omdat die tasse in Parys agtergebly het. Hier sit ek gepantser net met een trollietassie en rugsak. En kredietkaarte.

Met die tweede terugkeer na Chez nous – na 'n taai dag letterlik en figuurlik – van om en by 39 grade Celcius, gebeur die frappante. Dit wat elke reisiger vrees.

Die kredietkaart met betaling aanvaar die pin, maar die transaksie wil nie deurgaan nie. 

Elias meen dis hulle masjientjie; gelukkig het ek kontant by my.

Die heerlike kos word versuur deur die onaangenaamheid; veral toe hy bely dit gebeur elke aand.

Eisj.

'n Tunisiese egpaar skud net die kop. Die restaurant was vir 'n jaar toe en ek dink hulle sukkel om weer op die been te kom.” Sy kla oor die muskiete wat haar byt onder die tafel.

Toe ek uitstap, wil Elias 'n selfie neem van ons twee. Ek laat hom begaan en dis na elf toe ek by die hotel aankom. Ritueel van water drink en sigaret rook. Môre vertrek ek uit Tunis na Nabeul. Ek word elfdertig opgepik vir die reis na 'n ander ruimte.

Die gewone ritueel van inpak, e-posse versend, skryf aan 'n gedig.

Die vers wil net nie vlot nie. Iets steur.

Ek stap na buite om vir oulaas koffie te drink. My tafeltjie wag waar ek elke oggend 'n sigaret rook en koffie drink en gesels met die vriendelike kelners. En roomys eet.

Skielik 'n harde slag. Kruitrook. Mense wat histeries rondhardloop. Ons hotel se sekureiteits-deure sluit. Ek bly buite. Iewers gelees 'n mens moet nie begin hardloop nie – eers wag en kyk. 

ʼn Bom, sê die kelner. 

Ek drink my koffie klaar en wag in my kamer op my gids. Laat weet vir algar ek is veilig.

So skryf ek aan my vriende: 
Op Donderdagoggend 27 Junie skuins na tien drink ek koffie voor my hotel, die Carlton op Av. Habib-Bourguiba in Tunis. Ek gaan so net na 11.30 vertek na Nabeul om die land verder te bespied. Benewens die hittegolf wat so by 39 grade C draai, is die land se museums (veral die Bardo) 'n belewenis. Die vis is uit die boonste rakke en die mense vriendelik en behulpsaam. 
Meteens 'n donderslag. 'n Skerp reuk. Mense wat gil en histeries raak. Hulle hardloop my hotel binne. Die sekuriteitsdeure sluit. Ek bly sit om nie deur die mal skare meegesleur te raak nie. 
Party staan op die balkon en toekyk. Hierdie gebeure speel af in toeristesentrum en letterlik die sentrum van die stad. 'n Vuige terroristiese daad wat op sowel inwoners as besoekers se lewens 'n impak het. 
Ek vra vir die kelner of hy ook dink dis 'n bomaanval. "Ja," sê hy. Dit blyk later 'n selfmoordbommer te wees wat op die Franse Ambassade toegeslaan het. Een polisieman is oorlede. 
  My reisagent het my gewaarsku om nie Algeriëte besoek nie. Om elf dertig verlaat ek Tunis (Kartago) met hoë adrenalienvlakke. En dan dink ons net Suid-Afrika is onveilig? 
 Die gids daag op en ons sukkel om uit die stad te kom. Van Wyk Louw se bekende reëls draai in my kop:  
Niemand tref dit móói met die heelal nie;
eintlik moet ons leer ironies lewe:
eintlik moet ons leer ironies lewe:
én: binne ironie nog liefde hou
Suikerwater vir skok, het my moeder altyd gesê. Ek plaas twee suikers in my waterbottel en ons ry. Die landskap is droog. Die gids wys vir my waar die wonderlike Magon-wynstreek lê.

Ons eet lunch in Hammamet 'n dorpie voor Nabeul. Dis altyd goed om in 'n eetplek van die locals te eet. Want local is mos lekker. Ek laat die gids bestel. Vir my lam met couscous, die bestuurder vra vir lewer met rys en die gids eet skaapkop. Hy suig aan die kop met uitermate geesdrif.

Julia Kristeva en die abjekte help my deur die ervaring. Gelukkig suig hy nie aan die oog nie.

My lam is net-net eetbaar; die lewer is rubbertaai. Die slaai (tamatie met uie) is wel heerlik.

Ek betaal die 50 dinars vir die lekker ete en om my gids te bedank vir die veilige reis.

Die see is helderblou. Ons kom by die hotel aan. Hotel Byzance. Op die Boulevard de la Corniche.

Op sy dag waarskynlik 'n spogggggeggige vyfster. Nou 'n driester met 'n bewende hysbak. Amper soos 'n eertydse skoonheidskoningin met 'n mislukte facelift.

Mooi van ver (op die website), maar ver van mooi (in die werklikheid).

My kamer kyk uit op die see en na die dag se stres, sak ek neer op die bed. 

Na 'n uur se rus is dit sokker – Algerië teen Somalië – wat die aandag tydelik aflei. Dis 'n verwoede, in-your-face-stryd.

Die volgende oggend swem ek in die blou-blou see en swembad en kyk weer na my vers wat gister onderbreek is.

My moeder praat met haarself

My ma had die gewoonte om kajuitraad
te hou met haarself in die kombuis:
hoor haar nog praat oor die vrank vrugte
wat Oupa Jan nie eens vir sy varke sou voer
nie en die vleis wat al hoe swakker word
en die Buy Aid-koepons vir ons skoolklere
en Sondag dan hoender én skaapboud.

Soms was daar lysies op die yskasdeur,
maar meestal was dit net 'n selfgesprek
gerig tot 'n Iemand-wat-sal-verstaan.
Wat is hierdie selfpraat of soeke tog
vir 'n Ideale-leser-of-toehoorder?
Waarom lysies, kaarte, konterfeitsels,
konfessies as 'n selfmoordbommer
'n intieme binnespraak omverwerp?

Tunis 28 Junie 2019

Reisjoernaal | Tunisië I. Kartago / Tunis 2019

I

ʼn Reis na Tunisië met Air France begin om middernag. Weens ʼn vorige kondemsie met tasse (en Air Chance) neem ek net een tas met wieletjies en ʼn rugsak met die skootrekenaar.

En ʼn streepsak met boeke. Ek lees weer Bloeityd: Verse oor kinders (Tafelberg, 1993) – saamgestel deur Johann Johl en Rika Cilliers – ʼn bloemlesing met verse oor kinders. 

Terwyl ek die verse lees, is daar gedurig herinneringe oor en ervarings met kinders wat opduik. En langs sit my ʼn gesinnetjie met vyf kinders. Die jongste is vyf maande en stroopsoet.

Sy sussie van 14 hou hom vas met soveel liefde.

Ek lees Ina Rousseau oor ʼn kind wat teken en donker kleure vermy.

So lui die slot van "Die beginner":

Dié sal hy eers later wil hanteer
wanneer die lewe, doelgerig en stip,
hom onderrig het in haar skaduleer.

Beide Johann en Rika is oorlede en in die voorwoord word erkenning gegee aan my mentor wyle Henning Snyman.

En ʼn film meld sig aan.

Dis Capernaum van Nadine LabakiEk volg die Franse onderskrifte. Die filmtaal is egter so hewig dat ʼn mens in stilte alles sou kon begryp. Altyd die bewys dat ʼn film geslaagd is.

Dit heet ook Cafarnaúm of Capharnaüm.

ʼn Aangrypende Lebanese rolprent oor ʼn kind. Zain El Hajj, twaalfjaar oud van die Beiroet slams, wat vyfjaarlank tronk toe gestuur word omdat hy iemand met ʼn mes gesteek het. Zain word voor die hof gedaag en besluit om sy ouers, Souad en Selim, te dagvaar omdat hy gebore is.

Nóg hy nóg sy ouers weet wanneer hy gebore is; daar was nooit ʼn geboortesertifikaat nie.

Ek wil nie die storielyn verklap nie, maar hier sien jy die ellende wat só ʼn jong kind moet deurgaan om te oorleef. Hy steel, lieg en bedrieg. Wanneer sy sussie begin menstrueer, steel hy doekies vir haar en vrees dat die ouers haar gaan verkwansel as bruid. Hy ontdek egter dit het reeds gebeur.

En dit is dan die motoriese moment.

Medikasie word wederregtelik in apteke gekoop en fyngemaal en in water opgelos. Klere word dan daarin geweek voordat die moeder dit aan mense in tronke verkoop.

Die lot van migrante en onwettige inwoners word bekyk. Daar is ʼn wonderskone filmskoot van dralende voëls oor die stad.

En ʼn kind in ʼn mallemeule.

Wat probeer wegvlug; in dieper ellende in.

Die storie word vanuit ʼn agterna-perspektief vertel.

En die regisseur het die volgende oor haar film te sê:
At the end of the day, ... children are really paying a very high price for our conflicts, and our wars, and our systems, and our stupid decisions, and governments. I felt the need to talk about the problem, and I was thinking, if those children could talk, or could express themselves, what would they say? What would they tell us, this society that ignores them. (Capernaum (film) - WikipediaBesoek 24 Junie 2019)
Die vlug is lank, en ek moet vinnig afspring op die Paryse lughawe om die sneltrein te neem na K31 vir die vlug na Tunis. Die een na Kartago, Tunis word helaas met twee ure vertraag.

Ek lees Breytenbach se The 81 ways of letting go of a late self (Stevenson katalogus) en die verruklike skildery van Blum en Marais tref my. En hoe hy Said sien. En Hannah Arendt word as ʼn harregat ou tante beskryf wat skoorsoek – iets wat hy bewonder.

In plaas van tien voor vier is ons eers na ses weg. Op die vliegtuig verloor ek dadelik my bewussyn. Van uitputting.

Kartago. Waar Flaubert Salammbô geskryf en waar Edward Said vele idees vir sy boek Orientalism van 1978 gekry het, en kon skryf hoe Westerlinge die ruimte as eksoties ervaar. Die siening van Westerse meerderwaardigheid, maar terselfdertyd die beklemtoning van die eksotiese, lê aan die basis hiervan.

Dit is egter nie ʼn homogene wêreld nie; net so min as wat Afrika dit ooit kan wees. Tog word die Oriënt (d.w.s Midde-Ooste) as swak en vroulik uitgebeeld in die fantasiewêreld van Westerse skrywers. Die nosie van die Ander en die gekoloniseerde word later deur ander teoretici ondersoek soos Spivak en Homi Bhabba.

Die paspoort-tou is ʼn ewigheid en ʼn week lank. 

Ek gesels met ʼn lughawe-man wat moet toekyk dat ons in rye staan. Ek verduidelik ek is al amper ʼn daglank aan die reis. Hy kry my jammer en neem my subiet na die glashokkie vir konsuls en ambassadeurs.

Ek is immers die Ambassadeur van Reis na Verre Plekke. En ek twiet nooit lelike goed oor die land van herkoms of aankoms nie.

Die lughaweman word beloon met ʼn pakkie Camel filters wat hy met blydskap aanvaar. 

Vinnig geld omruil. Hier sien ʼn mens die locals in aksie waar hulle indruk in die ry, totdat ʼn man uit die VSA met ʼn Basta! sy plek inneem. Ek self berispe ʼn jongeling wat wil inskuur.

Die gids wat my kom afgehaal, praat my ore van kop af. Ek verduidelik ons sal later gesels – ek wil graag die stad se binnekoms in stilte ervaar. Ek sal later hoor van sy reis na Japan en sy half-Japannese kind. En dat hy ʼn poliglot is.

Stede het persoonlikhede. En Kartago, Tunis is teen vroegaand mooi. Bedags is die stad skerp en meedoënloos. Ek skakel my binne-GPS aan en kyk na al die mense wat laataand beweeg. Die Al Kasbah-moskee wag…

Boulevard, rue, tot by die Av. H. Bourguiba.

Die reuk van ʼn vreemde stad tref my altyd. En die gesprekke van mense. Daardie mélange van iets wat onbekend is. Dit is warm – al is dit lank na agtuur. Ons ry tot in die midde-stad na die Carlton-hotel. Netjiese driester, maar helaas is die bestuur onbehulpsaam toe my verskillende muurproppe vir my skootrekenaar nie een by die muur wil inklok nie.

Kom more terug, word daar afstandelik beveel.

En die oggend is hulle steeds skouerophalend. Al die winkels vir komputers is gesluit op ʼn Sondag. Die vyfster-hotel oorkant is eweneens traak-my-nie-agtig.

Ek haal diep asem. Ek weet die man lieg dat hy nie ʼn ekstra een het wat hy kan verkwansel nie.

Die Excel hotel, langs die Carlton, is egter dadelik bereid om te help. Op 35 Habib Bourguiba. Hulle stuur selfs iemand om na die winkel te gaan en te kyk. Maar helaas, hy keer onverrigter sake terug. Ek gee ʼn footjie en vra vir water. 

39 grade. Ver in die ou Kalahari, daar sweet die Boere só!

Ek begin gesels met die bestuurder Fariq en langs my sit ʼn Italiaanse man wat in die filmbedryf werk. Ons gesels oor Bernardo Bertolucci se The sheltering sky. En hoe hy onlangs met Claudia Cardinale saamgewerk het. Hy is Jimmy Ortelli, die bekende filmprodusent.

Hy gee vir my ʼn vinnige aftelrympie oor wat ek behoort te sien in Tunis. Die Bardo is ʼn moet. En die ruïnes.

Ek stap na buite en besluit more is nog ʼn dag.

Skryf maar met die hand.

Toe ek weer by die hotelletjie verbystap, roep Fariq na my.

Hy het goeie nuus. Hy het ʼn prop ontdek wat mag werk.

En voilà! Die tweepunter is padvinder.

Omdat ek weet daar is ʼn nuwe kind op pad, vergoed ek hom ruim.

Dan is dit weer wandel af in die Sondagmiddag se hitte. Orals koffie en water. 

Nêrens bier nie. Dis immers ʼn Moeslem-land.

Totdat Mohammed van die kafeetjie neffens die hotel my te hulp snel en flink neem na ʼn kroegie waar ek ʼn Tunisiese bier drink. ʼn Celtia.

Al wat help in hierdie hitte.

Hier is daar ʼn mamma-kat met babatjies. Later gewaar ek ʼn pragtige swart kat wat met ʼn mot speel. Ek probeer ʼn foto neem van hom vir Johann de Lange, maar hy pypkan my. Hy herinner my aan Johann se Yoshi, wat eweneens vertrek het ...

Yoshi
† 25 Desember 2002 – 12 April 2011

Lenig, met voor- & agterpote,
die ribbekas, skouerblaaie,
& jou darteldraf ligvoets
stertorent – áls is van die fyn
rugstring
gesuspendeer,
terwyl jy vórentoe luister, ore gespits,
jou blou oë luisterstil
wat na die muisvoëls luister,
fyn neusvleuels wat tril-
lend die buurtnuus uitsnuffel.
In jou keel klop ʼn slag-
aar ritmies, so delikaat gekalibreer
ek kan die bloed van hart-
kamer na hartkamer volg.

Nou is dit Sondagaand. Aande wat ek verpes. Ek voel aljimmers soos ʼn kind wat nie huiswerk gedoen het nie en more moet koshuis toe gaan. Die concierge beveel die L'Orient-restaurant aan. 300 meter af en 120 meter slapregs.

Dis ʼn swoel aand en die locals sit almal buite en koffie drink met water. Die jong kinders jil en hardloop uitgelate rond. Die mans rook. 

Die restaurant het beter dae gesien, maar die kos is heerlik. Orals is daar sigaretmerke op die meubels – omdat mense hier rook.

Die diens flink met ʼn waiter wat my al om die hawerklap op die wang knyp om te hoor of ek lekker eet aan die lamsbredie. Ek aanvaar dit gelate as ʼn inkommer. ʼn Mens soek nie skoor op vreemde grond nie. Hier is vroue – soos ek – mense wat moet tuisbly.

Ek kyk sokker – die groot skerm word ʼn ontvlugting saam met die locals wat sit en hul span aanhits. Ons gesels alte lekker. Oor Messi, ʼn gedugte opponent, en die spelers. Hulle ken die name.

Ek word goed ingelig oor al die verskillende toernooie wat nou afspeel. En hoe goed spanne vaar uit die Midde-Ooste. Panem et Circenses.

Brood en spel. Orals dieselfde. Die TV verklap dit ook: krimies, kos, reis, nuus ...

Voor my sit ʼn man – rug teen die muur – en skryf. Ek verbeel my dis hoe Flaubert ook saans sit en skryf het aan sy groot roman. Salammbô (1862), wat afspeel in drie eeue VC in Kartago.

Dit verbeeld pre-Romeinse konflik met Noord-Afrika uit en bly steeds ʼn klassieke roman. In sy tyd was lesers geskok deur die roman se oordadigheid. Matho wat die Zaïmph steel met Salammbô wat dit moet terugwen. Die sluier bedek die godin Tanit en die een wat dit aanraak, sal sterf, omdat die sluier die stad beskerm. Dit speel alles af na die eerste Puniese oorlog. Daar is al veel geskryf oor die verskille tussen Madame Bovary en Salammbô, die verskille in daadkragtigheid en waarom Flaubert hulle so verskillend teken.

Flaubert het dit glo in die Tunisia Palace geskrywe. Vandag ʼn vyfster gedoente waarin ek beslis nie wil oornag nie. Te veel fluweel en opulensie. Richesse se Moses.

Laataand drink ek water. Kyk na my hande. Die are lyk soos ʼn delta van ʼn rivier ...

Ek begin aan ʼn gedig. Immers hier om my bundel Konfessies, kaarte en konterfeitsels af te werk. ʼn Proses wat in die vreemde beter gebeur ...

My hande

My hande word by nabaat
al hoe duideliker omlyn
soos my moeder sʼn.
Skerp are, slanke vingers
met artritis knobbels.
                                                                              
Hoe verlang ek nie nou na haar
hande koesterend en troostend
wat ʼn hoofpyn soos ʼn kreukel
kon uitstryk of ʼn onrustigheid
van die hart kon wegmasseer nie.

Die delta-are op my hande
gloei soos hare met daardie laaste

handgee met my hart toe op breekpunt:
sy, in ʼn lykskleed sonder kreukel of vou.


Die volgende dag is die Bardo-museum ʼn besoekpunt.

Een van die grootste bakens in hierdie wêreld waar ʼn hele paleis gerekonstrueer is. 

Nou begin die tog op ʼn dag wat 39 grade wink. Taxibestuurders vra ʼn boel geld. Ek gaan terug na die hotel en vra die concierge om as bemiddelaar op te tree en ene Antonio word my redder. 

In elke vreemde land meld so ʼn gids hom aan. Hy vra 50 Dinars en sal bereid wees om vir my te wag. En weer veilig terug te besorg.

ʼn Groot aanbod in hierdie land. Op pad na die museum lewer hy lopende kommentaar. Dis die regering se vastrapplek, daar die radiostasie, ja hier is die hospitaal.

O gedorie. Ek moet kontant betaal in die museum en my laaste $20 noot wil hulle nie aanvaar weens ʼn snytjie aan die rand nie. 

Antonio is weer eens op sy pos. Ons ry na ʼn ATM waar ek flink my geld uit die muur tap.

Ek neem soos gewoonlik foto's van deure. Die ongelooflike rekonstruksie van die paleis uit die 19e-eeu is indrukwekkend. Daar is tans groot restourasie aan die gebeur en helaas geen lugverkoeling nie. Die mosaïekparone is aanskoulik.

Die reuk van verf hang in die lug.


Vyftig kamers met relieke wat in opgrawings hier staangemaak is. Die Puniese periode, Romeinse en vroeë Christelike periodes tot die Bisantynse tyd en die Islamgeskie-denis van nou. Hier sien ons ook Vergilius, en die besoeker is oorweldig deur die groot geskiedenis wat ágter ons staan. 

Laas in Turkye was ek so onder die indruk van hoe daar ʼn stuk geskiedenis is waarvan ons bittermin weet en maar net kursories van kennis geneem het. Een van die indrukwekkendste museums in my ervaringswêreld was die museum van wapens in Antalye.


In die Bardo is die hermaion oftewel ʼn altaar van 40 000 jaar gelede uit die Mousteriaanse periode. Dalk die eerste voorbeeld van menslike aanbidding en spiritualiteit? 4000 stukkies bene, klip en ou steen.

Munte, beelde, ou deure, relieke vang ʼn hele geskiedenis op.

Die aand eet ek by Chez nous waar ene Elias die bestuurder is. ʼn Sagte Dorado-vis met chili's en Magon rooiwyn (2016) is ʼn wenner. ʼn Syrah/Merlot-versnit.

Poenankies-banana!

Die sjef is uit Toronto. Die musiek klassiek en heerlike uitgelate.

"I will follow him", dreunsing Whoopi Goldberg.

I will follow him (follow him), follow him wherever he may go
There isn't an ocean too deep
A mountain so high it can keep, keep me away
Away from my love (I love him, I love him, I love him)…

Ek en Elias geniet die musiek. Langs my sit ʼn suurknol uit Frankryk wat tweekeer sy kos terugstuur en ʼn motortydskrif verorber. Hy is bepaald nie gesjarmeer deur die kos of die ambience nie.

Onplesierige knorpot. Ou bulgar.

Ek belowe Elias ek sal terugkom. Moet eers môre bietjie wals met die muses!