Kobus Lombard. Geknipte naelstring. Protea Boekehuis, 2001. ISBN 1 919825 35 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Moenie iemand op sy baadjie takseer nie. Hopelik ook nie
op sy bundel se titel nie, wil 'n mens byvoeg, want hierdie verskriklike titel
kondig wel 'n paar mooi verse aan. Veral wanneer hierdie digter oor sy verlore
jeug dig ('n aangenome kind as die verse 'waar' is) of verlies in die algemeen
aanspreek, sien 'n mens dat hier 'n fyn en sensitiewe blik aanwesig is.
Soos die vers oor die dood van 'n kind:
geen
boom
steek 'n gat
so grou
in die lug
soos 'n
sipres
oor
die
oop
graf
van
'n
kind (p. 62)
Die leser bly deurentyd bewus van 'n mineurstem in
hierdie bundel: 'n soekende mens wat dig oor sy familieverband, die verlange na
'n geliefde of die metafisika. Wanneer
die digter oor die skryfproses hom uitlaat, is die verse minder.
Die vers oor sy ma ("28 Oktober", p. 23) is
skreiend eerlik. Die afgetekende kind se gesprek met die moeder en die
"ongesegde" word hier knap verwoord. En dit is juis 'n gedig soos
"Kinderdae" (p. 8) met sy trefseker woordgebruik wat die leser laat
besef: dis jammer hier is so min verse. Miskien moes die digter langer gewag
het sodat daar 'n lywiger bundel was?
Dis delikate gedigte. Asof 'n mens luister na 'n
kamerorkes. Belofte is hier bepaald.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]