Showing posts with label Ronelda S. Kamfer. Show all posts
Showing posts with label Ronelda S. Kamfer. Show all posts

Sunday, December 1, 2019

Resensie | Ronelda S. Kamfer: Chinatown (2019)

Ronelda S. Kamfer – Chinatown. Kwela Boeke, 2019. ISBN 978 0 7957 0950 0

Resensent: Joan Hambidge

Kamfer se debuut, slapende honde (2008), word opgevolg met grond/Santekraam (2011) en Hammie (2016). Haar gedigte is in Nederlands en Italiaans vertaal. 'n Keur uit haar werk verskyn in Frans.

Die titel aktiveer Roman Polanski se briljante film: Chinatown van 1974 wat bloedskande en geweld ondersoek met Faye Dunaway en John Huston. Met Jack Nicholson en Polanski in ‘n kameerol.

‘n Neus word oopgevlek in hierdie dramatiese film oor waterbedrog en moord met die bekende woorde:

Forget it, Jake. It's Chinatown …

Die titel aktiveer dus 'n donker ondergrond. Sy doen met hierdie gegewe wat Quentin Tarantino doen met Polanski en Sharon Tate in Once upon a time in Hollywood ( 2019). Bekende gegewens is net die stellasie waarteen eie ervarings en interpretasies geplaas word.

Kamfer ondersoek die bestaan van die bruin mens en al die ellendes wat dit inhou. Die debuut bevat uitsonderlike hou-in-die-maag-gedigte soos “’n gewone blou Maandagoggend” waar pyn beleef word. Die moeder se weerlose, uitsiglose bestaan is in Hammie onder die loep geneem met sterk, ironiese verse oor die verskille tussen ‘n wit en bruin kind se bestaan.

In die jongste bundel vind ‘n mens ‘n sterker fokus op die vaderfiguur soos in “Chinatown daddy”:

my pa is soos ‘n Roman Polanski
omring met ou mans wat jong bloed ruik
draai ek om en vra et tu Dad?
sy favourite plek om na toe te gaan is Chinatown
want hy relate met die fake wealth die shiny kak
wat jou oë brand en die reuk van uselessness
(11)

Die digter se verse sluit sterk aan by die parlando-tradisie. Dit is hardegat-verse waarin sy sonder skroom haar argwaan jeens wit mense bely. Die praattaal en Kaaps is opvallend nes die gebruik van die vuige woord. Soos in die debuut staan sy-waar-sy-staan.

Die jongste bundel is vol gelaaide ironieë soos “my poems is nie confessions nie” (50) waarin sy duidelik te kenne gee dat sy krities is oor Sylvia Plath se lotgevalle:

ek voel fokkol vir ‘n wit vrou wat mooi gedigte
geskryf het in 1960s America

(Terloops: Plath was – soos Kamfer – vasgevang in ‘n vaderkompleks. Hierom haar voortydige selfdood, maar skitterende verse wat vele vrouedigters die loef afsteek – ook Kamfer, vir die rekord.)

En skryf sy verder dat haar literêre heroes wen nie Generaal Hertzog-pryse nie; tog bedank sy Antjie Krog in haar nawoord? Haar ouma, lees ons, het haar geleer om sorry te vra; nie sorry te sê nie (57).

Miskien wil sy juis nie hê dat die spreker in die gedig net aan haar gelyk gestel moet word nie? Of het die wrewel te make dat sy bekroon en besing word deur wittes – soos Annemarié van Niekerk – en ‘n wit uitgewershuis se uitvoerproduk is en aan feeste in die Nederland deelneem?

Of wil sy hiermee ‘n standpunt inneem dat sy steeds soos ‘n Bart Nel nog altyd sy sal bly?

Kreatiwiteit word gevoed deur paradokse, dié weet ons. Hierom moet die leser onwillig die kritiese kanttekeninge wegskuif en fokus op die gedigte. En dit is goed. Verpak met dinamiet en onrus.

ek soek nie ‘n plek langs die tafel nie

ek soek nie ‘n plek
langs ‘n women’s enfranchisement act table wat
in 1930 geset is vir white women only nie
hou julle tafel
ons maak vuur buitekant
(28)

Die gewone Kamfer-aanslag is hier: woede, woede en nog meer woede; verwysings na ander digters en ook mob-films; die durende pyn van die neerdrukkende jeug; haat teenoor witmense; die kompromislose aanslag oor afwesige vaders.

Kyk watter boeke word weggesmyt.

Die verse ondersoek die inbeweeg in die ongeneeslike wond. ‘n Handvol goeie verse, maar die gevaar van herhaling van dieselfde temas begin nou opval. Maar terselfdertyd: die meeste digters ontgin dieselfde kwessies en keer terug na die psigiese scene of the crime.

Wanneer sy nie haar anger uitstal nie, maar werklike pyn weergee, tref dit:

terrorist attack

in ‘n hotelkamer in Istanbul
gooi ‘n man my op
die vloer
druk my gesig in die mat

en verkrag my

buite op Taksim
gaan ‘n bom af
ek bel my ma
en vertel haar net
van die een aanval

die een wat sy op CNN
kan volg
(26)

Voor die uitgewer se deur: Dostoyefsky moet lees Dostojefski; en die verkeerde gebruik van wie in plaas van wat (p. 45). Wie = Genitief.

'n Mens word bedruk deur die ellende van die bestaan wat verbeeld word. Selfmoord, verkragting en haar kind wat geleer word van die ABC van white supremacy.

safe word

soms kyk ek
in die spieël
dan sien ek myself
daar waar ek vir dood
agtergelaat is
(34)

Hierdie vers is veral vir Ronelda Kamfer-bewonderaars en die Nederlandse applouskomitee.
Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Monday, February 22, 2016

Ronelda S. Kamfer – Hammie (2016)



Ronelda S. Kamfer – Hammie. Kwela, 2016. ISBN 9780795707575

Resensent: Joan Hambidge

Hammie is ’n Kaapse woord vir “ma” of “moeder”. En hierdie bundel aktiveer ­Nancy Friday se My Mother My Self (1977) en hoe die vrou-as-digter (in die besonder) haar self posisioneer teen die moederfiguur.

In Afrikaans het veral Antjie Krog op ’n onrustige wyse hierdie verhouding met haar moeder, Dot Serfontein, gekarteer en ondersoek. Sylvia Plath se Letters Home: Corre­spond­ence 1950-1963 (1975), die verslag van ’n digter se briewe aan haar moeder, word ook in herinnering gebring.

In die gedig “Vetste vlieë” speel Kamfer klaar met die “nuwe breed” van feministe wat volgens haar “amper altyd kak dom” is.

Kom ons praat sommer padlangs. Hierdie bundel is stérk en tref jou tussen die oë: oor die vreeslose ondersoek van familiegeweld, haat (oor apartheid), die ónbereidwilligheid om te vergewe (en vergeet), die uitskryf van maatskaplike ellende, genderpolitiek en geweld op alle vlakke.

Die gedig word selfs ’n ruimte waar die emosionele geweld opstu en jou as leser saamsleep. 

Die gedig word ’n soort “mission impossible”. En tog is daar weerlose verse soos hierdie een op bladsy 41:

Koud
die tweede dag
het ons gesit en wag
my hand op haar hand
alleen in die donker

Kamfer was verpleegster en hierdie werk word ook hier onder die loep geneem.

Die moeder se siekte en besoeke aan die “ICU” word oopgeskryf (“Nathan”) en die moeder se “troupanne” word later verpand vir kos. Wanneer die moeder sterf, hoop sy dat sy nie tot rus kom nie, maar sal bly haat:

Onrus
ek hoop sy rus
nie in vrede nie
ek hoop sy haat
waar sy is

In hierdie bundel word die emosionele reaksie op die moeder se siekte – met skerp aanduidings dat dit deur uitbuiting veroorsaak is – en die uiteindelike besoeke aan die hospitaal ontgin.

Ronelda word vir die ma “Neldie”; en as Allisen, die suster, iets sou oorkom, sal sy haar vrekmaak (“Wees lief vir mekaar, kyk agter haar, Neldie, sy is jou suster . . .”). In “Volkspele” word wit skryftydgenote uitgehaal: hul depressies en wedersydse hatigheid. Altyd die kompromislose, onvergewensgesinde waarnemer; immer woedend en in die gedig “Slapende honde” weier sy volstrek om die Jonker/Krog/Bukowski-rolmodel te wees:

gelukkig het ek
hulle nie geglo nie
omdat ek weet
hoe mense is
hulle is kak
hulle hou van ’n vrou
in pyn
hulle hou van ’n dronk suicidal
teef
met genoeg suicide
vir hulle om op af te jerk
en genoeg teef om te admire

’n Mens kan jou voorstel hoe my resensie eweneens versnipper sal word met ’n hoonlag en ’n gevoel van wat weet jy van my situasie.

Noudat slapende honde (die debuut uit 2011) het juis indertyd getref weens die besegging van al die genoemde ellendes van ’n onregverdige bestel.

Sy spreek benewens die ontslape moederfiguur haar partner Nathan Trantraal aan. ’n Mens lees ook figure soos Krog en Annemarié van Niekerk raak. Trouens, ’n mens sou ’n vergelykende studie kon doen oor hoe haar gedigte met Trantraal in gesprek tree.

Dit is ’n kompromislose bundel en een wat nie doekies omdraai nie. Die bundel verraai diep emosionele wonde. ’n Mens lees met groot pyn die woorde van die moeder: “Ronelda, jy is my kind en jy bly my kind tot die dag wanneer die maan ’n ander naam kry.” – Gertruida Kamfer /Hammie, November 1999, Stratford Green, Eersterivier.

Hammie is ’n sterk bundel en een wat Kamfer se reputasie gestand doen ná die effense insinking van die tweede. Dit is nie “mooi” verse nie, maar is bloedige, aanvallende verse.

En ons weet mos dat woede ook pyn is, omdat dit ’n groot stuk magteloosheid dra. Die gedig op die agterplat som dit op: Die glasstukkies is onder die vel begrawe.

Wednesday, February 6, 2013

Ronelda S. Kamfer - Noudat slapende honde (2008)



Ronelda S. Kamfer. Noudat slapende honde. Kwela Boeke, 2008. ISBN 978 0 7957 0273 0.

Resensent:  Joan Hambidge         

Toe ek die eerste keer Ronelda S. Kamfer se gedigte gelees het in Nuwe stemme 3 het ek geweet: hier is dit!

‘n Nuwe vrouestem.

Haar gedigte breek deur alle grense. Taal, die kanon, fatsoenlikheid, noem maar op.
Sy spreek alle kwinte en kwale aan: familieskap, gender, ras, politiek, drugs, bloedskande, armoede, verwerping, outsiderskap, jeugervarings in Blackheath…

Elke gedig is ‘n kompromislose segging met hier-is-ek. En ek gee nie ‘n fok om wat jy dink nie. (Ek kan by voorbaat sien hoe sy my resensie aflag. Wat weet jy, ‘n whitey en intellectual van my pyn?)

Dit is iemand wat deur baie pyn beweeg het en alle selfbedrog minag. En paradoksaal is dit juis die weerloosheid wat agter alles skuilhou, wat my aangespreek het.

Sy is al met ‘n jong Antjie Krog vergelyk. En dit is so. Dis praatverse, vrye verse, ‘n ampere traak-my-nie-agtigheid.

Maar om so te kan skryf, moet jy baie gelees het. En geleef het. (Bukowski en Walcott pryk as motto’s.)

Die bundel sal vele slapende honde wakker maak. Hier het jy iemand wat “postcards from the edge” skryf. En sy was amper oor die “edge” weet jy.

Waarvan het ek gehou? Van alles. Van die voorblad van Michiel Botha tot die ontluisterende verse.

ek braak heeltyd vuil woorde
maar dit maak my nie skoon nie 
(“Tweeling”, p. 28) 

kan as ‘n soort ars poetika gelees word.

Ontnugtering en weerloosheid loop soos ‘n swart draad deur hierdie bundel en in die aangrypende “Lolla” (p. 25) word ‘n heldin se sinnelose en geweldadige dood beskryf. Hier vind die leser dan, soos dikwels in die gedigte, ‘n identifikasie met outsiders en verskoppelinge. Maar daar is ook humor en ironie in die verse ingebou sodat die leser die pynlike gegewe kan hanteer, soos “To all the boys I loved before” (p. 26).

Die vader des huises en verskillende soorte pa’s word raak beskryf. Die afwesige pa is egter die een wat die dogter die meeste verwond.

“’n gewone blou Maandagoggend” (p. 15) behandel die skrynende werklikheid van lewe waar selfs geloof nie meer ‘n uitkoms of troos bied nie. Die knap hantering van die enumerasie van die beroemde uitskotwoord, loop uit in die besef dat dit alles deel is van die lewe (“Pasop vir depressie”, p. 44).

‘n Mens vind lewensinsigte wat jou ontstig (p. 45). Die desperate poging om in die nou te leef, word gekelder deur die onmmontlike van vergeet. Die nuwe geslag is in elk geval te jonk om te weet, maar te sinies om te aanvaar dat alles reg is. Oor Afrikaans het sy ‘n mening. Oor die boereooms ook. “vergewe my maar ek is Afrikaans” (p. 32) speel klaar met etlike mites oor aan wie Afrikaans nou eintlik behoort:

ek praat julle taal
ek eet julle kos
ek bly in julle vaderland
ek drink julle wyn
ek sing julle musiek
en liewe ooms, ek, ja ek, ek vry met julle seuns.

Dis ‘n aangrypende debuut. Praatverse. Vry, loslit, keelgrypend. Ek lees hierdie bundel op GRA-dag, 14 Augustus en dink hoe het Afrikaans nie verander en verruim nie.

Waarvoor moet sy oppas? Dat minder getalenteerde woordvrate haar tot ikoon verhef en haar stem so mag stilmaak.

Kwela Boeke moet geluk gewens word met hierdie helder, suiwer debuut. Ek was laas met Jeanne Goosen se Elders aan diens so opgewonde oor ‘n digbundel.

Lyk my die ongekunstelde, uit die hart uit-gedig is aan die terugkeer.

Dis ‘n dun bundeltjie. Maar elke gedig ontplof soos ‘n klapper.

Ja, luister hoe tjank die honde oor die geraas.

Fokkit.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]