Showing posts with label Alice Munro. Show all posts
Showing posts with label Alice Munro. Show all posts

Monday, May 29, 2017

Julieta (Pedro Almodóvar, 2016)

I

In 2016 verskyn die rolprent Julieta van die Spaanse filmmaker Pedro Almodóvar.

Dit is gebaseer op drie verhale ("Chance", "Soon" en "Silence") uit Runaway (2004) van die Kanadees Alice Munro, wat die Nobelprys in 2013 verower het en die gesogte Man Booker in 2009. Sy word op die Nobelprys-lys geloof as die meester van die kontemporêre kortverhaal.

Twee uiteenlopende ruimtes en kulture. Kanada as afstandelik, beheers koud. Spanje as meer emosioneel; minder beheers dus.

Almodóvar transporteer hierdie gegewe na 'n Spaanse landskap, omdat hy glo nie kon identifiseer met die koue, onemosionele Kanada nie. (Woorde Wat Weeg/ Met ’n mond vol films/ PedroAlmodóvar. Besoek 28 Mei 2017).

Ek was nog altyd gaande oor Munro se kortverhale, so veel so dat ek 'n resensie in 'n briefvorm aan haar geskryf het. Dit was oor Too Much Happiness wat in 2009 verskyn het. (Woorde Wat Weeg / Alice Munro - Too much happiness, 2009. Besoek 28 Mei 2017).

II

Die film sny die verhouding tussen 'n moeder en dogter aan. Meer spesifiek, 'n kind wat uit weerwraak haar moeder met stilte straf, omdat sy voel dat die moeder verantwoordelik was vir die dood van haar vader. As dit nie vir hul rusie was nie, sou die vader nie daardie dag die stormagtige waters getrotseer het met sy vissersbootjie nie. Die kind se siening berus op 'n buitestaander se skinderstorie, iemand wat deel was van die familie vir baie jare en waarskynlik uit persoonlike onvervuldheid, stories aandra. Daardie persoon word vertolk deur Rossy de Palma, 'n ikoniese figuur in Almodóvar-films.

Emma Suárez en Adriana Ugarte vertolk die jonger en ouer Julieta.

Die verhaal begin in Madrid. Julieta is vervreem van haar dogter, Antia, en sy en haar vriend, Lorenzo, is op pad na Portugal. Sy wil egter nie meer saamgaan nie nadat sy in Bea vasgeloop het en verneem dat haar dogter in Switserland woon met drie kinders. (Die moeder is onbewus van die ware aard van die verhouding tussen die twee meisies, wat later tot gevolg het dat Bea vlug van Antia. Ten slotte wil Antia weer versoen met haar.)

Na hierdie ontmoeting gaan sy na die woonstelblok – die enigste adres wat Antia besit van haar – waar die jong meisies saam gewoon het.

Hier begin Julieta met 'n joernaal en die kyker van die film sien met terugskote van hoe sy haar man Xoan ontmoet het op 'n trein. Ons sien ook die onverwagse dood van die vreemdeling oorkant haar in die trein.

Toevallige ontmoetings: die man oorkant haar in die trein (wat selfdood pleeg) en die ontmoeting met die visserman Xoan word gesinkopeer met die verdere toevallige ontmoeting met Bea waarmee die film begin.

Xoan se vrou is in 'n koma. Hy nooi Julieta, 'n taalonderwyseres, na sy huis. In die agtergrond is Ava, 'n kunstenares met wie hy 'n verhouding gehad het.

Julieta is swanger met Xoan se kind. Sy trou met hom, besoek haar vader (met haar jong kind) wat op sy beurt 'n verhouding het met sy huishulp, terwyl haar moeder ly aan Alzheimer se siekte.

Sowel Xoan se vrou as Julieta se moeder is disfunksioneel.

Inmiddels gaan Antia op 'n kamp, ontmoet Beatrice. Op 'n subtiele wyse word 'n seksuele verbintenis tussen hulle gesuggereer.

Die twee moeders ontmoet. Xoan sterf op 'n vissersboot tydens 'n storm en Julieta vertel haar dogter hiervan.

In die wending vertrek Antia na 'n spirituele retreat (vir drie maande) en wanneer haar moeder met haar kontak probeer maak in die Pirenieë, word sy meegedeel dat sy, Julieta, nie deel is van haar spirituele reis is nie. Op haar 19e, 20e en 21e verjaarsdae ontvang sy verjaarsdagkaarte sonder 'n adres.

Hierdie aspek van die film word pynlik en grafies weergegee: die moeder wat telkens 'n verjaarsdag alleen vier en die verjaarsdagkoeke - in Antia se woonstel - wegsmyt.

Ava, Xoan se minnares, is ondertussen in die hospitaal opgeneem met veelvuldige sklerose en sy onthul aan Julieta dat Antia bewus was van 'n verhouding tussen haar en Xoan – en dat die skinderlistige huishulp verantwoordelik was vir dié onthulling.

By Ava se begrafnis ontmoet sy vir Lorenzo.

En in die hede loop sy vir Bea raak wanneer sy emosioneel uitgemergel na twee jong meisies kyk in 'n balspel. Hier onthul Bea aan Julieta dat sy en Antia geliefdes was – iets wat die kyker reeds weet. Antia se besoek aan die spirituele retreat het haar skaam gemaak vir hierdie aspek van haar lewe.

Hierom moes sy dus vir Bea afsny.

Daar is 'n ongeluk waneer Julieta oor die straat loop en deur 'n motor raakgery word.
Lorenzo ontdek 'n brief van Antia waarin sy bely (met 'n terugkeeradres agter op die koevert) dat sy 'n kind aan die dood afgestaan het en nou besef watter sy leed sy haar moeder aangedoen het met haar stilte.

Die film eindig waar Lorenzo en Julieta na Switserland reis om met Antia te versoen.

Vir die volledige plot besoek Julieta(film) – Wikipedia (Besoek 28 Mei 2017).

III

Hierdie gesprek tussen verhaal en film behoef 'n studie. Dit is sy twintigste film wat hy oorpronklik glo Silencio wou genoem het. Scorcese het egter in 2016 'n film met hierdie titel uitgebring.

Die gegewe word van Vancouver na Spanje verplaas en ondersoek die verhouding tussen vroue.

In Julieta se apartment in Madrid hang 'n Lucian Freud-afdruk. Hiermee word ‘n subtiele melancholiese kode in die filmteks ingedra.

Die film is meer dramaties as die subtiele, gelade kortverhale. Dié filmmaker is immers bekend vir sy hooggestemde films waar emosies en koors hoog loop.

Tog is hierdie film meer spiritueel en minder kamp as sy vorige werk.

Dit is Almodóvar se vertolking of interpretasie van die gegewe. ‘n Mens lees Munro se verhale, geskryf in ‘n ander sleutel, op ‘n ander manier as die film.

Beide is indrukwekkende tekste.

Slavoj Žiżek se bekende uitspraak in The Pervert’s Guide to the Cinema kom weer na vore: begeerte is die wond van realiteit; overgesetsynde: begeerte (desire) bestaan, omdat realiteit onvolledig en gebroke is. En wanneer ons pyn (ellende) ervaar, word die koōrdinate van ons realiteit versteur.

Beide Julieta en haar dogter se lewens is versteur. Die film eindig gelade en jy moet as kyker self besluit of daar wérklik versoening kan wees. Miskien tog wel, maar nie ‘n opheffing van die leed aangedoen nie.


Pedro Almodóvar

Monday, February 4, 2013

Alice Munro - Too much happiness (2009)



Alice Munro. Too much happiness. Random House, 2009. ISBN 978 0 701 183059.

Resensent:  Joan Hambidge


Beste Alice Munro

Geluk met die Man Booker Internasionale prys wat jy ontvang het vir jou werk. ‘n Bekende uitgewer het op ‘n keer die uitspraak gemaak dat dit onsinnig is om boeke te resenseer wat nie deur buitelandse skrywers verstaan kan word nie. Hy het waarskynlik vergeet dat Afrikaanse lesers wél ingelig wil word oor buitelandse publikasies en dat Engelse skrywers al resensies in vertaling gelees het. Die mag van die internet! Jou werk ontlok lof by jou landgenoot, Margaret Atwood en selfs Jonathan Franzen is gaande oor jou jongste teks, Too much happiness. Jy is ‘n belangrike skrywer en op ‘n kort besoek deur Kanada het ek iets ervaar van die landskap wat jy so dwingend en helder beskryf. Dis waarom ek reis: sodat ‘n mens die land of gemeenskap wat beskryf word, kan knoop aan ‘n baken, hoewel die verbeeldingswêreld van die skrywer uiteindelik die deurslag gee aan ‘n geslaagde of goeie teks. As jy skryf oor die wind in Toronto, weet ek presies wat jy bedoel. Dieselfde geld natuurlik jou beskrywing van Vancouver of hoe mense op taalmisverstande reageer.  Ek lees jy woon in Ontario, naby Lake Huron.

Ek hou van jou kortverhale. Hulle is nie verliteratuurd of vol foefies nie. Jy skryf oor die menslike kondisie op ‘n unieke en aangrypende wyse. Jy kan  by uitstek die dubbelspel tussen mense vasvang soos in “Free radicals” waar ‘n ou vrou gekonfronteer word met ‘n moordenaar; of in “Face” waar die wreedhede van kinders intens beskryf word en die een kind as’t ware die ander een se ellende oorneem deur self-mutilasie. En die pyn van die man in “Wood” is outentiek. 

In jou titelverhaal verwys jy na die mag van fantasie in wiskunde via Sophia Kovaleski.
Jou karakterisering en vermoë om die spreekwoordelike “mense van papier” lewendig te maak, is opvallend. ‘n Mens kan die vet Rus hier sien. En jy klim onder die vel in van ‘n werklike figuur, sowel romanskrywer as wiskundige.  Jy bely hoe jy toevallig op haar lewensverhaal afgekom het toe jy na ander inligting gesoek het! Hierdie stukkie sinkronisiteit – dalk toeval? – bewys weer dat ‘n verhaal op die regte tyd na ‘n skrywer toe kom. Jy beskryf immers die verhouding tussen die twee mense met soveel insig. Dis net ‘n vroueskrywer wat daarop sal wys dat ‘n vet man in die bed ligvoets sal wees, nie waar nie?
Ek skryf hierdie brief net nadat bekend geword het dat ‘n onbekende skrywer bekroon is met die Nobelprys vir letterkunde. Wat maak jy hiervan?

En ja! Jou manier waarop jy kommentaar lewer namens ‘n karakter wat gekonfronteer word met domheid het my laat glimlag: “Her ignorance woke a pleasure that melted on his tongue, like a lick of toffee.''

Glo jy regtig dat letterkunde die lewe beter maak soos sommige van jou karakters glo? Of dat romans vir vrouelesers bedoel is?

Jy laat ‘n karakter Heine lees om iets beter te begryp. Op ‘n ander plek vertroos ‘n verdrietige gedig.

Jy maak ook ‘n opmerking oor die waarde van die kortverhaal, ‘n genre wat vele lesers dikwels as minderwaardig beskou, terwyl groot skrywers juis in hierdie kortkuns al by uitnemendheid groot werk gelewer het. Jou kortverhale, soos die genoemde slotverhaal, is eintlik meer as kortverhale. Dit is amper novelles.

Ek het jou die eerste keer in die New Yorker ontdek waar jy beskou word as die Kanadese Tsjekof. Nogal ‘n kompliment: want dit is immers hy wat die bewussynstroom-tegniek begin het en atmosfeer kon skep in sy verhale.

Dit presteer jy ook. In “Deep-holes” analiseer jy spanninge in ‘n gesin en die afbraak van ‘n persoonlikheid. Wanneer hierdie seun toevallig deur sy suster op TV raakgesien word en die moeder weer vir Kent ontmoet, lewer subtiele kommentaar op hoe mense dikwels iets anders wil wees as wat die ouers van hul verwag. Jy laat aan die leser oor om te besluit: was hierdie optrede aanvaarbaar? En so sny jy op jou leser se eie familiegeskiedenis en – herinneringe in.

Daar is immers al tien uitgebreide studies oor jou gedoen én ‘n kritikus het van jou geskryf dat jy soos ‘n goeie adres is; niemand wonder meer oor jou nie.

Jy werk puik met die geheim, of dit wat die vertelling veral in vrouefiksie voortstu. ‘n Mens kan nie help om te wonder wáárom die kamerbediende nie met mense wil praat nie!

Groete,

Joan Hambidge


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]