Showing posts with label 2000. Show all posts
Showing posts with label 2000. Show all posts

Thursday, March 28, 2013

Robert Pinsky - Jersey rain (2000)



Robert Pinsky. Jersey rain. Farrar, Straus & Giroux, 2000. ISBN 0 374 17887 9.

Resensent: Joan Hambidge

Hoeveel Amerikaanse digters het nie al die landskap van die Engelse digkuns verander nie? Walt Whitman, Emily Dickinson, Robert Frost, Robert Lowell, Adrienne Rich om enkele name uit te sonder - en in meer moderne tye is die digters Mark Strand, Frank Bidart en Robert Pinsky soos 'n New Yorkse skyline: groot en imposant.

Tans is Robert Pinsky die poet laureate van die VSA. Hy behartig dan ook die sogenaamde Slate-projek waarin almal vir hom gedigte kan stuur. Dit word op die internet geplaas en van Bill Clinton tot 'n trokdrywer se gunstelingvers is hier beskikbaar (kliek op yahoo.com). Hiermee wil Pinsky bewys dat gewone mense ook gedigte lees en waardeer.

Sopas het Pinsky se jongste bundel Jersey rain by die gesogte Farrar, Straus & Giroux verskyn. By die Harvard Square boekefees begin Mei lees hy uit hierdie bundel voor.

Pinsky skryf 'n gestroopte vers en die jongste bundel se temas betrek die god Hermes: god van musiek en vervalsing; die briljante boodskapper van die gode...

Dit is altyd 'n bonus om 'n digter uit eie werk te hoor voorlees. Pinsky lees sy verse met totale gevoel en hy verduidelik ook waar hy vandaan kom. As arm werkersklas kind dog hy hulle behoort tot die rykes, want daar is soveel stories en legendes dat hy dink hierdie familie moet adelstand wees. Dis eers wanneer hy ouer word dat hy begryp: ons bly tussen ander uitgedruktes. Ons is arm. Ook word sy digkuns bepaal deur die dramatiese siekte van sy moeder: sy val en doen harsingskudding op.

Sy hele jeug word bepaal deur hierdie proses: sy moeder kan geen lawaai verduur nie en in die manjifieke gedig “The green piano”(p. 33) word hierdie geskiedenis verhaal. Dit is ook die verhaal van 'n kind se sosiale bewuswording en digterlike waarneming:

Years of the Concussion, and there was a crappy little Baldwin Acrosonic
In your place, gleaming, walnut shell. You were gone, despoiled one -
Pink one, forever-green one, white-and-gold one, comforter, a living soul.

Die openingsgedig van die bundel is die eenvoudige “Samurai song”:

When I had no roof I made
audacity my roof. When I had
no supper my eyes dined...

Die leser is bewus van die digter se volgehoue liriese aanslag en sy woordbeheer. In “Ode to meaning”(p. 5) word die funksie van die digkuns onder die loep geneem. Pinsky gebruik sowel die geleerde of antieke verwysings as 'n populêre sinspeling (soos Bogart wat rook of 'n bofpalspeler) om maksimale effek te bewerkstellig. Sy bundel sit vol wyshede (“Others are not the medicine for loneliness”, p. 8).

Daar is ook gedigte wat skrynende sosiale kommentaar lewer: almal is meneer en mevrou, maar die swart busbestuurder word op sy noemnaam aangespreek.

Dit is gedigte wat dikwels eenvoudig en maklik oorkom, maar met elke lesing word nuwe betekenisse oopgemaak. As jong kind het hy eerder woordeboeke gelees as om huiswerk te doen. In 'n lang gedig “Essay on psychiatrists” (in The figured wheel) word hierdie bedryf aan die kaak gestel. Dit gaan in hierdie digkuns om die “vorm van die hart” en die mens se soeke na geluk, dikwels ontglippend, maar ook soms onverwags te vind in klein epifaniese momente.

Dikwels kan pyn en geluk in herinnering ook nie onderskei word nie:

That they have no earthly measure
is well known - the surprise is
how often it becomes impossible
to tell one from the other in memory;

the sadness of past failures, the strangely
happy - doubtless corrupt - 
fondling of them. Crude, empty
though the terms are, they do.   (p. 227: The figured wheel).

In die prosagedig “An alphabet of my dead” (p. 11) maak die digter 'n bestekopname van almal wat hy al aan die dood moes afstaan. Sy waarneming van Elizabeth Bishop en e.e. cummings is in die kol: hoe Bishop dood is voordat sy 'n gerekende digter geword het en cummings se anti-Semitisme die digterspreker nou afskrik.

Daar is talle verse waarin die digter die funksie van die digkuns analiseer. In die slotvers “Jersey rain”(p. 52) bely hy:

Now near the end of the middle stretch of road
what have I learned? Some arthly wiles. An art.
That often I cannot tell good fortunes from bad,
That once had seemed so easy to tell apart.

As digter het hy maar eers in 1975 op die toneel verskyn met Sadness and happiness, die gedig vir sy dogter: An explanation of America (1979), History of my heart (1984) en The want bone (1990). Hy is ook die skrywer van vele essays oor die funksie van die digkuns.

Pinsky is ook 'n begenadigde vertaler van Dante (The inferno of Dante, 1994) en sy versameling The figured wheel (1996) is gewoon imposant. In die VSA bewys hy ook, eiehandig, dat gewone mense gedigte lees en nodig het. Hierdie leser is lanklaas so bekoor deur 'n digter se oeuvre.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Michael Ondaatje - Anil's ghost (2000)



Michael Ondaatje. Anil's ghost. Knopf, 2000. ISBN 037540538.

Resensent: Joan Hambidge

Die romankuns het sedert Henry James se verskyning op die toneel al hoe meer gerig geraak op die sogenaamde binnespraak of sogenaamde sream of consciousness-tegniek. By die Kanadese skrywer, Michael Ondaatje – gebore in Sri Lanka – word hierdie tegniek bykans iets poëties.

Die leser betree die landskap van digterlike taal en verskillende vinjette word saamgebind om 'n uitsonderlike verhaal te skep. Reeds met The English patient – waarvoor hy tereg met die gesogte Booker-prys bekroon is – het Ondaatje hom bewys as 'n eiesoortige storieverteller. Sy romans beweeg in konsentriese sirkels en is assosiatief saamgesnoer eerder as liniêr. Dit het te make met die feit dat hy – in sy eie woorde - eerder beeldend werk en 'n roman met 'n assosiasie begin.

Anil's ghost is die digter en romanskrywer se vierde roman. Dit speel af in Sri Lanka, voorheen Ceylon (aan die suidpunt van Indië) tydens die burgeroorlog. 'n Jong vrou, Anil Tissera (gebore hier), maar in die VSA en in Engeland opgelei as forensiese antropoloog, verteenwoordig 'n internasionale menseregte groep ten einde geweld en moord te ondersoek. Dit geskied alles vrywiilig.

Die roman maak definitief 'n kniebuiging na moderne vroulike speurverhale, soos die van Patricia Cornwall waarin dr Kay Scarpetta die manlike domein van die forensiese antropologie/geneeskunde betree. Ondaatje gee ook aandag aan die identiteit van sy vroulike hoofkarakter wat haar naam van haar broer oorgeneem het. (Wou die skrywer dalk hiermee kommentaar lewer op moderne feminismes se obsessie met naamgewing en vroulike identiteit?) 

Die roman word meer as 'n speurverhaal. Dit is ook 'n verhulde liefdesverhaal. Sarath, haar teëspeler, was nog altyd op haar verlief, ofskoon sy behoort het aan sy broer. Hulle ontmoeting by 'n party in Colombo is ryk vertel, vol innuendo's. Ook wanneer hy haar finaal groet, word oortuigend verbeeld. Ou liefde roes bepaald nooit(p. 211).

Die geweld is egter die deurlopende motief wat die leser telkens na die asem laat snak. Dit is die onderstroom van die roman wat 'n aura skep van 'n vreemde, onheilspellende droom vol tekens en simbole.

Bekende en alledaagse uitsprake, wyshede en liedjies word ook hier kreatief aangewend.

Dit is 'n roman geskryf deur 'n ervare storieverteller en 'n bedrewe digtershand. Dit was ook 'n voorreg om die skrywer te hoor voorlees by die sesde Harvard Square Boekefees in die VSA.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

R.K. Belcher - Van Heidebos en klip (2000)



R.K.Belcher. Van Heidebos en klip. Suider Kollege Uitgewers, 2000. ISBN 0 620 25635.

Resensent: Joan Hambidge

Daar is niemand wat so lekker kan voorlees as Ronnie Belcher nie en kwatryn-skepper het hy beslis nie gelyke in Afrikaans nie! Gaan kyk maar net na die talle bundels en die talent is daar. Ook by die Woordfees op Stellenbosh het hy telkens die gehoor aan sy voete gehad.

Belcher het ook 'n akademiese en ernstige sy. Sy doktorale proefskrif (Grondslae van die sonnetvorm, 1969) handel oor die sonnet, waarskynlik die moeilikste eis vir 'n digter. Sy debuut was in 1956 met Mens en skepper;hierna volg onder andere Ver land (1961). Vir my is die hoogtepunt egter sy latere bundels soos So is die lewe vir een pond sewe (1979) en 'n Ding om te skil in die maand April (1980) en die kinderverse verdien ook vermelding.

As die beoefenaar van die guitige vers is hy 'n moderne A.G. Visser. Ook by die onlangse Bekgeveg kon hy 'n  gehoor laat gil met sy gawe om die onderstel met die bostel te laat versoen.

Sy jongste Van Heidebos & klip is deur die digter self uitgegee; die redes hiervoor is dat die digkuns met suinige uitgewershand beheer word. Nou sit dit nie in  algar se broek om 'n sonnet soos Petrarca of Shakespeare van ouds te maak nie. Hierom waarskynlik die groot aantal gebreekte sonnette in die werk van jonger digters.

Ook wys die sonnet 'n fout uit nes 'n “home perm” of 'n selfaangeboude huis. Een rymfout en die sonnet draai skeef . Dis die gedwonge rymterminale, versvullings en sware gang waarteen veral gewaak moet word. Die openingsgedig stamel alreeds 'n bietjie, want die leser kan nie help om in “Kuslyn” Antjie Krog se Paternoster gedig te hoor nie. Haar stem oorskadu dus syne.

Die gedigte dreun (om die woorde van die digter aan te pas) apokalipties soos 'n basuin(p. 2) en dis asof die boodskap dikwels net te swaar vir die gedig is. 'n Aangeboude huis met net te veel aangelapte kamers, by wyse van spreke. 'n Stywe “home perm” op 'n krulledos, ja.

Dit gaan in die lees van poësie om die “voice”, oftewel die stem van die digter soos Helen Gardner dit noem. Iets in hierdie stem is te pedanties, te prekerig, selfs vermanend. Die vormbeheer is dikwels gedwonge.

Heuglike momente is daar in “Suidwesters” (p. 4), “Boeke” (p. 14), “Rasoel Moegammat” (p. 15), “Poësie-aand” (p. 21) en “Sandy Bay” (p. 38) om 'n handvol knappes uit te sonder.

Die verse is nie altyd polities-korrek nie en die digter het ook die gawe om mense se aard vas te vang. Baie gedigte bly lank daarna nog in 'n mens se gemoed draai.

Maar mag ek dit skryf: Ronnie Belcher se métier is die speelse vers. Daardie stuitige gedigte van 'n ouwaas wat al loer vir die ander boud by die ou vrou se begrafnis of die Kaapstadse moffies wat so lustig eet aan tjoklits en toffies. Soos hy self besef in 'n vers:

......

Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak
oor snaakse goed wat ander siele raak

......

Maar smokkel met my siel se brood-en-jêm
voor al dié vreemde wesens? Not-a-dêm!

Bestel direk van: Suider Kollege Uitgewers, Postnet X5061, Suite 252, Stellenbosch, 7599.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Tuesday, March 26, 2013

Pamela Jooste - Like water in wild places (2000)



Pamela Jooste. Like water in wild places. Random House, 2000. ISBN 0 385 60133 6.

Resensent: Joan Hambidge

Wanneer 'n mens Kaapstad Internasionale lughawe verlaat, is daar 'n kuriosum winkel met proteas, rooi wyn en biltong. Ook ander tipies Suid-Afrikaanse simbole wat jy vir 'n buitelander kan saamneem om te verduidelik: made in South Africa.

Dit is die oorweldigende gevoel wat by hierdie leser opgekom het by die lees van Pamela Jooste se jongste roman Like water in wild places. 'n Bietjie Boesman-folklore, gemeng met Afrikaanse patriargie. 'n Opstandige seun, 'n onderdanige vrou. Alles in 'n potjiekos van tipies (Suid)-Afrikaanse clichés, en siedaar! Nog 'n roman uit die pen van Pamela Jooste.

Die prosa is vlot. Seepglad soos die toneel wat sy beskrywe waar die kinders bad en die vader die kind optel en ja, aanrand. Maar dit is juis die probleem met hierdie roman: dit lees sonder enige weerstand sodat die vlotheid juis die grootste belemmering word, ironies genoeg.

Daar is een oomblik wanneer 'n mens glo aan Pamela Jooste se onbetwiste talent en dit is by die dood van die moeder. Die res is voorspelbaar, patroonmatig soos die beskrywing van die ou  boer, sy jong vrou en die donkie wat doodgeskiet word (p. 200). Is dit 'n weergawe van egte folklore?

Of is die leser die buitelandse een wat die grappe en verwysings nie ken nie? Die binnelandse leser helaas, is onbeindruk deur hierdie truuks.

Is daar nog 'n land op aarde waar soveel romans aan ons opgedoek word as “groot” en “belangrik” wat niks meer as populisties is nie? Ons staan nog te na aan die vergrype van die vorige regime om 'n roman van diepte op te lewer. Iets soos The reader kan nou eers die volledige impak van die WO II registreer.

Maar nou ja. Die buitelanders wil dikwels 'n “maklike” weergawe lees van 'n komplekse samelewing. Dit sal Pamela Jooste baat om 'n bietjie asem te skep. Frieda and Min was alreeds 'n dawerende mislukking. En dit is nodig dat sy haar talent koester.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]