Showing posts with label Sanctum. Show all posts
Showing posts with label Sanctum. Show all posts

Tuesday, February 7, 2023

Onderhoud | Joan Hambidge - ‘Ek dig nie meer uit die vuis nie’ | 2023

Skryfproses word vir haar soeke na tegniek

 

Die digter Joan Hambidge se jongste bundel Sanctum is midde-in die ontwrigting van die pandemie geskryf. Sy dig oor verliese en verlorenheid en onder meer die verwoestende brand by die Universiteit van Kaapstad waar sy gedoseer het. Sy het per e-pos met Laetitia Pople gesels.

 

Op die voorplat van die digter Joan Hambidge se jongste digbundel, Sanctum, is ’n tekening van haar oop hand met die woorde “’n gedig word voltrek in stille toeval” in haar hand geskryf.


Die kunstenaar Henk Serfontein het die kunswerk geskep in houtskool en gemengde media vir sy Handskrif-reeks waar hy portrette van vrouedigters saam met hul hande, waarop ’n versreël aangebring is, uitgestal het. Dit en die meegaande reël ontleen aan haar gedig “Die intieme aard van digkuns” uit die bundel Lot se vrou trek die leser in dié digter se jongste bundel in.

 

Die bundel, Hambidge se 26ste, is geskep midde-in die inperkingstyd in Suid-Afrika, ’n tydperk van die grootste ontwrigting en verliese in die moderne tyd tot nog toe.

 

Die resensent Nini Bennett beskryf die bundel in haar resensie in Rapport “as die oopskryf van verlies en die heiligmaking van die gebroke menslike toestand”.

 

In die openingsgedig “Sanctum” dig Hambidge:

 

“My moeder, die tuinier-met-groen-vingers

en my vader, die man-van-versekering, leer my

jou huis is tydelik, temporeel, behalwe vir daardie

Huis van die Vader, buite tyd of verdriet.”

 

Hambidge neem in Sanctum afskeid van vriende – ou bekendes soos die uitgewer Danie van Niekerk, die digters Johan van Wyk en Thomas Deacon asook emeritus aartsbiskop Desmond Tutu. Tog sit sy ook die gesprek met tydgenote soos haar mededigters Johann Lodewyk Marais en Johann de Lange voort.

 

“My lykgedigte is ’n portretvers vir my. Jy kan dikwels iemand eers volledig raaksien ná sy of haar vertrek. Dis ’n soort afskeid, maar ook ’n poging om iets van die digter te probeer bewaar.


“Danie van Niekerk was ’n vriend en uitgewer. Belese, briljant en met ’n taalkennis wat by my bewondering afgedwing het. Sy eggenote, Anneke, en hy is egte, regte boereadel. En ons liefde vir reis het die vriendskap gesmee.

 

“My durende gesprek met tydgenote – soos De Lange en Johann Lodewyk – is tersaaklik. Ons het presies op dieselfde tyd begin dig en my waardering vir hul werk is oorbekend.”

 

Sanctum is die slot van ’n drieluik-digbundels en volg op Hambidge se Konfessies, kaarte en konterfeitsels en Nomadiese sterre. Die drie bundels is in gesprek met mekaar, sê sy. “Rondom die dood van my moeder, die semantikus en letterkundige Henning Snyman se dood en ’n soort herkanonisering van die Afrikaanse digkuns. Daarom die gesprekke met ander digters. Soos my erkenning aan Van Wyk Louw.” Sy woorde uit Tristia “Die groot Tempel, die aktiewe woord” is die openingsmotto van Sanctum.

 

As ’n verkennende mens wat graag reis, reeds wyd gereis het en graag ander horisonne vind, is haar beplande sabbatsverlof en verblyftyd in Rusland deur die virus in die wiele gery.

 

“Wel, ek was op pad Rusland toe tydens my sabbatsverlof met die eerste ‘opsluiting’. Ek wou onder meer die digter Anna Akhmatova se huis gaan besoek en beleef hoe Rusland sedert my eerste besoek in 1991 verander het.

 

“Ek het toe maar al die reisboeke en -joernale weer besoek. En in die kelders van onthou afgegaan. Van die reise na buite (die laaste een was na Tunisië en voor dit Suid-Amerika) het ek nou via die digkuns herbesoek.”

 

Die digkuns werk met die spanning tussen die intieme en die openbare, sê Hambidge. Sy het juis op die onlangse Slow Intimacy-kongres by Stias in Stellenbosch oor “The Intimate Art of Writing Poetry”, met die digter Ottone M. Riccio se gelyknamige handleiding vir jong digters as wegwyser, gepraat.

 

Haar bundel, sê sy, werk met hande – spookbeelde van die uitbeelding van haar hand op die voorplat eggo tussen die afdelings van die bundel.

 

“Diego Maradona en die hand van God; die lewenslyne op ’n hand. Ek het op Harvard Square tydens ’n navorsingsbesoek so ’n handleiding gekoop – oor palms en betekenisse van hande. In die Bybel staan ook opgeteken: ‘Die hand wat gee; die hand wat slaan.’”

 

“Nou is die skryfproses al hoe meer die soeke na tegniek. Ek dig nie meer uit die vuis nie.”

Sy haal aan uit die gedig “Huitain” (die huitain is ’n vers bestaande uit agt reëls).

 

Huitain

 

Ek ruik vanoggend weer harpuis –

jou goedgemikte uitklophou

toe ek papier tref ná jou vuis;

met twee dekades se onthou.

 

Jy’t my in die hoek neergesit;

Liefdesmart word toe skryfgevit:

lees jý by nabaat met berou?

Digters dig nie meer uit die vuis.


Haar werk sluit sterk aan by die Amerikaanse digkuns en in die besonder vind sy aanklank by Wallace Stevens. Sy verduidelik die trekpleister tot die Amerikaners so: “My eerste digbundel Hartskrif het ontstaan in ’n ysige koue in New Haven, Connecticut, toe ek navorsing gedoen het. Ek het seminare bygewoon van Geoffrey H. Hartman, Harold Bloom en Barbara Johnson, en so ’n ander blik op die digkuns gekry. Bloom se werk oor Freud is eweneens boeiend. Wallace Stevens het ek danksy D.J. Opperman ontdek. Hartman was uiters toeganklik en besonder boeiend oor die digter Emily Dickinson. Stevens het my getref met die woorde: ‘Poetry is a violence from within that protects us from a violence from without. It is the imagination pressing back against the pressure of reality.’


“My teoretiese navorsing voed my digterlike werk, en andersom. En klasgee soos die begeleiding van jong digters is eweneens ’n voedende praktyk.”

 

Sy lees daagliks die digkuns van Van Wyk Louw, Opperman wat sy hier noem Dirk-der-Duisende en Elisabeth Eybers. Sy beskryf hulle almal as uitsonderlike digters. “Ek lees hulle vir stylbeheersing en stylveranderinge.”

 

Haar Afrikaanse vertaling van die Amerikaanse digter Sylvia Plath se gedig “Oggendlied” is in die bundel opgeneem.

 

“Plath het my as jong kind bekoor. Haar tegniek, haar taalgebruik – en soos Eybers beweeg sy in ’n soort tussenruimte en ’n ruimte van isolasie.

 

“Die digkuns is soos sang: Daar is baie meer tegniek en beheer as wat die oog of oor besef. Hoe makliker dit lyk of klink, hoe meer werk is ingesit. En die genoemde groot digters het daar-

in presteer.”

 

In Sanctum dig sy oor die 17de eeuse Spaanse skilder Diego Velázquez se skilderye van onder meer “Las Meninas” en ook oor die Nederlandse kunstenaar M.C. Escher se “Waterpoel”.

 

“Ek versamel graag kuns. My vader het aan my ’n skildery van Maggie Laubser gegee. Sy moeder was Laubser se suster, en ek het wonderlike sketse van my vader as jong mens deur Laubser. My oudste suster se seun het dié kunstalent geërf. Ek besoek altyd kunsgalerye; hoe die beeldende kuns aansluit by die digkuns, is vir my belangrik.”

 

Dit is ook bespeur in die keurige uitgawes van haar bundels.

 

Daarby is sy nou betrokke in die analise van rolprente en skryf graag resensies.

 

Sy het ’n uitstekende filmoteek met die werke van die meesters Ingmar Bergman, Federico Fellini, Andrei Tarkofski, en sy geniet ook Agatha Christie en James Bond.

 

“ ’n Goeie rolprent soos Triangle of Sadness dwing by my bewondering af. Ek sou graag ’n rolprent wou maak.”

 

Sy werk reeds aan haar volgende bundel, Asindeton, waarin etlike oggend-meditasies opgeneem is, asook ekfrastiese verse en ’n handvol palinodes en parodieë, sê sy.

 

Asindeton handel oor die opruim van my akademiese lewe, ’n nuwe baken in my lewe. Afskeid en vertrek. Asindeton is ’n stylfiguur waar onder meer voegwoorde weggelaat word (ter wille van bondigheid of die rymskema); ook hoe digterlike taal uitspeel en grammatikareëls ontspoor . . .”

 

Oggendmeditasie 7

 

Die meditasies van die hart

‘n spel met prosodie, posodinie

plus ‘n stel notaboeke en verseboeke.

 

Nagteliks besoek jy my in drome

verwonder soggens oor tathata

se onverwoordbaarheid: die skewe hoeke

 

van onthou word voor middernag

‘n kreeftevers: uitgespel en uitgespeel

in ‘n soort retrograde belewenis

 

dat die dag sal breek in voorwete:

onthou duur langer as vergeet,

verdring staan immer tru voor berou. 

 

■  Sanctum het by Protea Boekhuis verskyn.

 

Sunday, September 11, 2022

Bekendstelling | Joan Hambidge – Sanctum | 3 September 2022


My hande
 

My hande word by nabaat

al hoe duideliker omlyn

soos my moeder s’n.

Skerp are, slanke vingers

met artritisknobbels.

 

Hoe verlang ek nie nou na haar

hande, koesterend en troostend,

wat ’n hoofpyn soos ’n kreukel

kon uitstryk of ’n onrustigheid

van die hart kon wegmasseer nie.

 

Die delta-are op my hande

gloei soos hare met daardie laaste

 

handgee met my hart toe op breekpunt:

sy, in ’n lykskleed sonder kreukel of vou.

 

(Konfessies, kaart en konterfeitsels, 2021).

 

 

I

 

Onder die bekwame leiding van die digter en uitgewer Fourie Botha is Sanctum Saterdagoggend bekend gestel by Oude Leeskamer op Stellenbosch naby die Moederkerk en oorkant die Engele Fabriek.

 

22 besoekers, waaronder Ingrid Winterbach, S. J. Naudé, Willem Anker, Alfred Schaffer was daar. My bure aan wie die boek opgedra is en hul kind. Wilhelm Jordaan en professor Andries Visagie het ook  bygewoon. Soos dr Ronel Retief en professor Amanda Gouws. Die digter en uitgewer Michèle Betty en die digter Sally-Ann Murray was ook toehoorders. En die literator Adèle Nel. En Marida Swanepoel indertyd van Kyknet … e.a.

 

Die hand op die voorblad verwys na Henk Serfontein se installasie van vrouedigters se hande in 2018 (Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling, Handskrif: 'n onderhoud | Litnet. Besoek 5 September 2022).

 

Hande fassineer my en ek het geweldig baie boeke bestudeer oor palms en hoe jou palm se lyne verklap wie jy is. In ‘n gedig “Pyn het glo geen vervaldatum” verwys ek dan ook na Job 37: 7:

 

“Die hand van elke mens verseël Hy, sodat alle mense sy handewerk kan leer ken.”

 

Hierdie handleiding (tweedehands, sic!) gekoop op Harvard Square.

 

Hande, vuishoue, die hand van God (Diego Maradona) en die illusie dat die gedig spontaan en dus uit die hand gebeur, word hier ondersoek.

 

 

II

 

Die bekende teoretikus, Frank Lentricchia se opmerking dat sy moeder wat in ‘n fabriek moes werk, sy siening van die letterkunde beïnvloed het. Van die “well-wrought urn” tot ‘n dialektiese proses.

 

Sy had groot manshande en sy het haar afgesloof sodat hy universiteit toe kon gaan.

 

“You must go to university no matter what … Look at these hands: they’re a man’s hands.”

 

Sy ouers was tweede-generasie Italianers uit die Suide waar mense deur die sisteem uitgebuit is. In die VSA werk sy moeder vir General Electric.

 

En hierom, beweer Frank Lentricchia, kan hy nie Wallace Stevens lees soos Kenneth Burke of Harold Bloom of Derrida nie. Hy kan nooit sy werkersklasagtergrond verraai nie.

 

Hy skryf dan ook oor die ellips as die sogenaamde “poetry of silence”.

 

Dit is alles te lese in die onderhoud met Imre Salusinszky se Criticism in Society (Methuen, 1987: 203). 

 

Huitain

 

Ek ruik vanoggend weer harpuis –

jou goedgemikte uitklophou

toe ek papier tref ná jou vuis;

met twee dekades se onthou.

 

Jy’t my in die hoek neergesit;

liefdesmart word toe skryfgevit:

lees jý by nabaat met berou?

Digters dig nie meer uit die vuis.

 

 

III

 

Die bundel het tydens die eerste inperking onstaan toe my reis na die buiteland gefnuik is. Fourie het hierop gefokus en die reis na die buiteland het toe ‘n binnereis geword.

 

“Die groot Tempel, die aktiewe Woord” uit Tristia het die rigtingwyser geword met erkenning ook aan Opperman, Eybers, Boerneef, Olga Kirsch – en verder terug in die tyd: Leipoldt en I.D. du Plessis.

 

In hierdie bundel word nuwe vorme ondersoek soos die Stichos, Redondila, Kautata, en dies meer.

 

Temas is dieselfde: familieskap (veral die verhouding met die ouers), die familieskap van die digkuns, lykdigte, die liefde, die dood (hierom ‘n handvol lykdigte oor figure wat onlangs vertrek het) en ekfrastiese verse (Velázquez). En vertalings van Sylvia Plath en Kavafy.

 

Dit was dan Fourie Botha wat sy hand netjies oor alles gehou het en ten slotte was Alfred Schaffer se vraag insigryk: waarom bly jy dig? Waarom nie opgehou by bundel drie of vier nie?

 

Waarskynlik omdat die uwe met elke bundel nuwe tegnieke ontdek en dieselfde kwessies vanuit ‘n ander hoek beskou? Omdat ek by Henning Snyman en Ina Gräbe veel bly leer oor hoe jy digterlike taal moet benader. Soos by Cuddon in sy woordeboek van literêre terme en teorie.

 

Ek was bevoorreg om klas te kry by die taalkundige en digter Annette Snyman wat vir ons as jong studente in Afrikaans en Nederlands (circa 1976) Boerneef oopgemaak het. Digter van die bundel Klein rondreis wat in 1981 verskyn het, eggenoot van Henning Snyman.

 

Op die dag wat ek ‘n brief ontvang het van haar in St. Petersburg-sonder-sneeu, was haar dood in die pers aangemeld. My eerste pos in die literatuurwetenskap en Annette wat my sterkte toewens.

 

Dalk om meer te wete te kom van die metaforiese transaksie van die digkuns of die “beproefde patologie van die poësie” soos Eybers dit tipeer?

 

Nou skryf ek aan Asindeton.

 

En goddank het die uwe al die biljette oor tempels en kerke en katedrale uit vreemde lande bewaar.

 

 

IV 

 

Opruiming 20

 

Soos Auden leer

ontstaan ‘n gedig

op ‘n óntoepaslike tyd

geen spesiale uur

vir dié stil bedryf.

 

Terwyl die potlood

draal oor papier

soos beelde stadig,

onseker ingebreek word:

 

twee nessies bou ‘n vink

een leeg, een beset

sketter ‘n boodskap

oor ‘n inbraak

 

onder in die gebou

terwyl sirenes loei,

vlieg die vinke weg

in Frank Lentricchia se

a poetry of silence.

 

Ellipties hierdie naakte

konfrontasie, ‘n anagogie?

Kermode of onse Frank,

weet dit is ‘n anti-tese:

een leeg, een beset …

 

 


© Joan Hambidge