Showing posts with label Charl-Pierre Naudé. Show all posts
Showing posts with label Charl-Pierre Naudé. Show all posts

Saturday, December 14, 2019

Resensie | Charl-Pierre Naudé (samest.) – Rooiborsduif: Gedigte oor die liefde (2019)


Charl-Pierre Naudé (samest.) – RooiborsduifGedigte oor die liefde. Human & Rousseau, 2019. ISBN: 978-0-7981-7876-1.

Resensent: Joan Hambidge

I

Van die aangrypendste liefdesgedigte staan opgeteken in Breyten Breytenbach se oeuvre. Vra maar vir Jan en Alleman en hulle ken ‘n vers van Breyten.

In Fanie Olivier se antologie Die mooiste Afrikaans liefdesgedigte haal Breytenbach  loshande die meeste verse naas Krog, Gilbert Gibson, onder andere.

Breytenbach skryf sowel politieke as intieme verse. Verse oor sy jeug, die Zen-Boeddhisme, ekfrastiese (of beeldverse), reisverse, kunsteoretiese besinnings is bekend aan sy verse. Jonger digters reageer ook op sy verse in teenstemme of palinodes. Trouens, wanneer ‘n mens “Allerliefste ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” op google insleutel, volg tallose skakels na BB se gedig onmiddellik:

Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug 
en ek weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so rooi oor jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ‘n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie. 

II

Die samesteller Charl-Pierre Naudé gebruik dan ook tereg ‘n beeld uit hierdie klassieke gedig vir die titel van sy bloemlesing. Op die buiteflap gee hy ‘n kort verduideliking oor hoe hy die digter se liefdesverse sien.

Die bundel word opgedra “aan haar vir wie ek opdragte skryf soos paringsdanse”.

Hy sien Breytenbach as ‘n skakelende deurpos en die gedigte is ‘n intieme voëlvlug.
Hy wys daarop dat voëls ‘n wederkerende beeld in sy poësie is wat vanselfsprekend dan die reismotief aktiveer. As politieke dissident is die gedigte vir die samesteller gestempel met “‘n wondbare dringendheid en ‘n gelate wysheid waarin die geliefde soos ‘n persoonlike redder benader word.”

Naudé wys daarop dat die verhouding met hierdie Viëtnamese vrou tot sy politieke ellende gelei het én dat hy aan die verkeerde kant van die Koue Oorlog geland het.
Die Viëtnam-oorlog was immers ‘n berugte slagveld …

“Die verterende vuur van oorlog word die vertederende alchemie van sy liefdesgedigte”, voer Naudé aan. Hierdie bundel huldig hom as “passaatvoël van die woord.”Die liefdesverse word ‘n openbare liefdesverklaring aan die mensdom – geteken as ‘n vrou.

Hierdie insigryke flapteks moes dalk ook as ‘n voorwoord opgeneem gewees het. Die samesteller orden die verse chronologies.

III

‘n Tematiese keuse gee altyd ‘n nuwe blik op ‘n digter se werk.

Dit is ‘n proses van herkanonisering wat die leser met nuwe oë na bekende gedigte laat kyk en binne ‘n tematiese samestelling kry die verse so ‘n nuwe betekenis. Gedigte lê nou bymekaar.

By Breytenbach word die leser ‘n blik gegee op die gedig as liefdesverklaring en as reddingsboei, terwyl hy in die tronk was.

Die buiteblad som alles netjies op – die geliefde, ‘n slapende Yolande, rus op die digter se skouer in ‘n trein. Die gedigte – omdat dit gepubliseer is – word ook die leser se gedigte en só beskou, word elke liefdesvers in hierdie bundel ‘n liefdesverklaring in en vir  Afrikaans.

Om die mooistes hier uit te sonder is onmoontlik. Met elke lees, kom die leser onder die indruk van die digter se verbluffende beelde en woordspelings.

Wanneer hy direk dig (peester / kont) word dit nie steurend nie, omdat dit netjies begrond word in die gedig met beelde at dit verduidelik (“die eed”, 165).

Vir hierdie leser word die gedigte inderdaad “inlênagte tussen slaap en plesier” (“joernaal”, 164).

Die verskillende afdelings karteer die liefdesreis: die hongerblou gety; wyn in die bloeisels; hart uit die doek; die koue van dousterre; donker beminde; onbegonne tuiskoms ...

“die oenegedig” (uit Katalekte) met sy woordspel is ‘n treffer. Seisoene en soene ...

Maan, perskes, huis, blomme, drome ...

Die mooiste liefdesgedigte is vir Yolande - daardie een wat klein en getrein is.

‘n Gedig heet “nomadismes”  Alles staan in die teken van beweging, en interpretasies is immers ook ‘n nomadiese proses. En ‘n gedig – in navolging van Borges – is die vanselfsprekende antwoord op ‘n vraag wat nie gestel is nie. Gedigte is “kleinodekissies” (180). Die liefling wat wegkruip in die arm word uitgestal (vir die leser) in ‘n “laken piepend van drome” (32). “ein Fichtenbaum steht einsam” (126) is ‘n eenvoudige, dog komplekse juweel van ‘n vers.

‘n pynboom staan eensaam
in die noorde op ‘n kaal hoogte,
slaperig, slap met ‘n wit kombers
omhul van ys en sneeu

hy droom van ‘n palmboom
wat vér in die land van die môre
eensaam en swyend treur
op ‘n brandende rotsmuur

wat ‘n eenvoudige gedig!

IV

Carol Ann Duffy se Rapture (2006) karteer die begin, middel en slot van ‘n verhouding. By Breytenbach word ’n komplekse lewe in die ontwikeling van die liefdesverse afgelees.

Roland Barthes se bekende A lover’s dicourse dra ‘n sub-titel, te wete “fragmente”. Miskien omdat ‘n mens nooit die geliefde in volledigheid kan beskryf of besit nie.

Die “discours amoureux” is in Afrikaans só veelsydig. Barthes beskryf hoé die geliefde jou volledige universum word en dat jy later alles as tekens van die geliefde interpreteer. 

Barthes skryf oor die “angoisse” of agonie wat die geliefde ervaar: die wag op ‘n wederwoord of ‘n verwerking van die afsegging, van die verby-wees oftewel, die “cri de coeur”.

Alles hier te lese in ‘n prag-bloemlesing.

Breytenbach is tereg met sy verjaarsdag op Litnet vereer met analises van sy gedigte.

Bronne:

Barthes, Roland. 1979. A lover’s discourse: Fragments. New York: Hill and Wang.
Barthes, Roland. 1973/1975.  The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Tuesday, December 18, 2018

Repliek | Jean Meiring oor 'Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey' (2018)

By die lees van Jean Meiring se repliek, lees ek Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey en ook resensies oor hierdie roman. Nêrens vermeld Meiring dat dit ’n metaroman is nie en hy gee los verwysings na ander tekste. 

Dit het my eerder terug geneem na Patricia Waugh se Metafiction (2002), Linda Hutcheon se Irony's Edge (Routledge, 1994) en Brian McHale se Postmodernist Fiction (Methuen, 1987) wat toelig hoé die fiksionele wêreld hierdie ontologiese problematiek aanspreek. Die sogenaamde world next door.

Maar hieroor iets later, oor die boek wat hom laat “prewel en kraai” het. Dit is inderdaad ’n uitstekende roman met “luimige slampampery” wat  mens laat wonder of hy weet wat die woord beteken? Uitasem sjoeboekie? Wat vir ’n ding is dit? (Deksels lekker dik debuut! | Netwerk24. Besoek 17 Desember 2018).

Ons verneem Jean Meiring het ’n Honneurs in Latyn. Wel, ek ’n diploma behaal met ’n kookkursus in Thailand – dit maak egter nog lank nie van my ’n sjef nie.

Ek gaan ook nie sommer ’n pop up restaurant begin nie. 

Ek antwoord puntsgewys. (Daar is tweekeer ’n nommer 4 in sy skrywe.)

1. Is jy ’n advokaat of letterkundige? Of sommer beide? Of is hierdie ’n mini-hofsaak?

2. Jou foto subliminaal? Wel, jy is ’n advokaat, nie waar nie?

3. As jy uit die reaksie álle toekomstige resensies as oningelig wil afmaak, kan ek nie help nie. Jy het jou uitgelaat oor Olga Kirsch en die studies eers na die tyd gaan lees. (Ons wag terloops nog steeds op ’n verduideliking vir die beskrywing van jou sekretaresse.)

4. Crito is aangehaal: 

Crito het hom reeds hierop gewys: “Wanneer, indien ooit, is toeëiening toelaatbaar en wanneer kom die gebruik van die kultuurgoedere van ’n stilgemaakte volk net op verdere verdelging neer? Ongetwyfeld sal ’n debat hieroor van stapel gaan.” (Tweevuis. Litnet Blogs. Besoek 24 November 2018).

Daar is die aanhalingstekens. Lewensgroot. En almal weet Crito het dit indertyd geskryf . Nou verwys hy na Helize van Vuuren se studie - ’n akademiese een weer eens (Woorde wat Weeg/ Polemies | Jeremiade van ’n buiteleser - RepliekBesoek 17 Desember 2018).

4. Tweede 4

Jean Meiring se styl vind ek narcisties. Jy skryf duidelik om met slim woordpeletjies af te show.

5. Nêrens jou “bot” genoem nie. Jy lê hier woorde in my mond.

Kirsch se eerste vormingstaal was Afrikaans. Gaan lees die gedigte. 

Moedertaal-teoretici beklemtoon by herhaling dat die vormingsjare is die eerste taal en die taal wat in die laerskooljare gepraat is. 

Sy was op ’n Engelse hoërskool en het aan Wits Afrikaans studeer - waarskynlik’n soort verlange na die jeug? Gaan kyk tog wie was haar mentor.

6. Ek herhaal – ek hoef nie my bladsynommers aan jou te vermeld nie. Dis jou werk as resensent. Ons kan nie toelaat dat mense net menings vorm op grond van resensies nie. Die boeke moet eerstens gelees word.

7. Ek sien my as die plaaslike Chomsky? Wat ’n kompliment. Nêrens myself so tipeer nie en jare gelede is ek die Susan Sontag van Afrikaans genoem. Iemand anders het dit geskryf, nie ek nie.

8. Die punt oor simplistiese antwoorde is duidelik in Julia Kristeva en ander begrond. Daar kan nooit oor enige mens se lewe maklike antwoorde wees nie.

Hierom bestaan daar verskillende biografieë oor skrywers.

Hora est.

Hier is dit weer die advokaat wat praat!

9. Die feit dat jy sedert 2002 oor die media skryf is ’n obiter dictum. Ek skryf al sedert 1980 vir die pers resensies en rubrieke.

So?

10. Ek wonder hoé sal Jean Meiring reageer as ’n persoon sonder genoegsame regsopleiding in regstydskrifte begin skryf en oordeel.

Want hy skryf nie net resensies as ’n entoesiastiese leser nie; hy kanoniseer ook sommer op die koop toe. En as hy hierdie opmerking as ’n argumentum ad hominemervaar, het ek nie raad nie.

Om te bulder of nie te bulder nie, dit is nou skynbaar die vraag.

Dankie vir ’n leersame polemiek. Wat veel verraai van projeksie.


© Joan Hambidge

Saturday, September 9, 2017

Resensie | Bibi Slippers & Charl-Pierre Naudé (samest.) - Nuwe stemme 6 (2017)

Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé (samest.) - Nuwe stemme 6. Tafelberg, 2017. ISBN-13: 9780624082644

Resensent: Joan Hambidge

I

Nuwe stemme is alreeds ’n tradisie binne ons letterkunde en nommer 6 het sopas verskyn onder die redakteurskap van Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé. ’n Mens dink hier aan digters uit hierdie reeks wat tot dusver hul debuut gemaak het: Gilbert Gibson, Kirby van der Merwe, Tom Dreyer, Loftus Marais en Ronelda Kamfer - om enkele name te noem. Tom Dreyer is deesdae eerder prosaskrywer as digter.

Dan is daar digters wat hier gedebuteer het - soos Thérèse Bartman of Renée Marais - wat jammer genoeg nooit weer van hulle laat hoor het nie.

Die rooi voorblad verwys na die voriges: deurgetrek (sous rature/ under erasure) in navolging van die filosoof Jacques Derrida, waar die teken of woord behou word, maar ook uitgewis word.

Ek is gaande oor debuutbundels. Daardie wonderbaarlike “eerste” geluid wat later verder ontwikkel, of dalk nie. Gert Vlok Nel het nooit verder beweeg nie en ’n mens kan in Afrikaans al ’n lang lys maak van o-wat-het-geword-van-daardie-digter.

Nuwe stemme skep ’n geleentheid vir die jong digter wat nog nie genoeg verse het vir ’n solo-bundel nie. Dit mag ook so wees dat die digter se aanslag of styl afwyk of nuut/anders is. Lesers raak dan met Nuwe stemme gewoond aan die styl. Dink maar net hoe vreemd of “anders” was Hilda Smits se eerste gedigte in Nuwe stemme 5.

Maar nuut moet ook nie te maklik verwar word met vernuwend nie. Baie min digters kan werklik die kanon op sy kop keer. Ons dink hier aan die skerp resensie van H.J. Snyman oor hierdie reeks, ’n paar jaar gelede, toe hy krities was oor die ooraanbod van die term “nuutheid”. Jong digters dink dikwels hul truuks is nuut - dan is dit reeds gedoen.


II

As dosent in kreatiewe skryfwerk is dit altyd verblydend om nóg nuwe stemme te ontdek. Nuut dan as nog nooit voorheen gehoor of gelees nie. Van hierdie bundel herken ek byvoorbeeld Marthé McLoud, Anton Döckel en Franco Colin se name.

Watter tendense en temas tref ’n mens in hierdie bundel aan?

Verlange en stilte:

Tematies is daar verlange na die heimat, aangrypend vertolk deur Donnay Torr (“Verlange het nie ’n GPS nie ...”, 46) waar sy vanuit Sydney as vryskut werk. Haar gedigte is vars, omdat sy in die bevryde Australiese wêreld kan terugkyk op Afrikaans. Haar gedig oor die klitoris “’n Halfduim ekstra”, 44) is heerlik speels en lekker. Die klitoris is nie meer 'n klein penis nie, maar eerder ’n omgekeerde V-formasie met twee “arms”. ’n Digter met ’n melancholiese aanslag en skerp beelde.

Marthé McLoud

Die liggaam as teks: betreding

Lyflikheid, liggaamlikheid, betreding kom aan bod in Marthé Mc Loud se pynlik herinneringsverse wat ’n mens juis tref in die onderstelling eerder as te veel uitsegging. In “Biologieklas” (130) word seksuele ontwaking subtiel beskryf met die breek van ’n fles met flitsende tong van ’n slang ...

“Terugblik” (134) waar die moeder haarself as “geknoeide breiwerk sonder ’n patroon” sien bly lank in die gemoed draal.  

Elodi Troskie

Elodi Troskie is net negentien jaar oud, maar sy skryf met ’n vaste hand:

dis 2017 en almal dra chokers 

daar is meisies in my klas wat nog
nooit iemand gesoen het nie en daar is
meisies wat al kinders het en ek ken ouens
met sleeve tattoos en ander ouens wat te bang is
om gaatjies in hul ore te skiet en voor my sit
’n kringleier van die kerk en agter my
sit iemand wat haarself naweke ’n paaldanser
noem (omdat sy wil of omdat
sy moet – dit betaal darem haar huur)
en sy lyk altyd so gelukkig want dis 2017 en
almal dra chokers
alles is okay solank jy dit kan regkry om kuns te maak
uit ’n droë maandagoggend dis 2017
en as iemand oor ’n honderd jaar ’n foto
van ons moet sien sal hulle geen
idee hê waarmee ons besig is nie
en ek wonder of hulle my instagram-foto
van ’n filterkoffie so romanties sal vind soos ek
oor ’n verbleikte foto uit die 1950’s voel
en of hulle net sal weet dat als okay is
want dis maandag en ek dra
my nuwe choker en sit langs
die ou met die spul tattoos en my oor brand want
ek het nog ’n gaatjie laat inskiet

Sy registreer in haar gedigte pyn, verlange en onvervuldheid. Sy is die waarnemer van haar ouers se verhouding met die wete dat die pa wat geld tel, die een is wie se voorletters sy vind in Groot Verseboek, eerder as die kunssinnige moeder.

Wanneer ’n mens hierdie bloemlesing lees, raak ’n mens bewus van ontnugtering op soveel vlakke, van die gesin wat gebroke is, van drome wat aan skerwe lê. Onvervulling/teleurstelling is immers die digkuns se sterkste dryfvere.

Intertekste:
Vele van hierdie digters tree met die kanon in gesprek. Digters soos George Weideman en Riël Franzsen (Narokkong) word by die naam genoem.

Groot Verseboek staan opgeskryf in hierdie antologie.

Trudie Coetzee

Trudie Coetzee se “Ek is” (161)  wals met Antjie Krog en Loftus Marais se woede-verse.

Franco Colin se vers handel oor Jean-Michel Basquiat se Untitled (Skull) van 1981. Amerikaanse punk of anti-kultuur, is deur hierdie graffiti kunstenaar verhef tot ’n erkende kunsvorm. Die hype rondom sy werk het waarskynlik gelei tot sy dwelmoordosis in 1988. In “Kopkring” word die gesprek met Picasso uitgewys en word hy inderdaad gesien as ’n “gekreoliseerde verbeelding”. Die gedig eindig met ’n sterk slot:

Kykleser: hier moet jy kophou
in die oogpoëtiek se kopkring (82).

’n Skildery van hierdie kunstenaar het vir meer as $110 miljoen verkoop.

Die besondere gedig analiseer die harlaboerla of rumoer rondom kuns (van die Venus van Villendorf tot by Picasso en Warhol) wat dikwels niks met die werklikheid te make het nie.

Gedigte en skilderye ontspruit uit ’n “skepkring” van ander kunstenaars en tradisies en die leser moet al hierdie gesprekke raaklees.

Erentia Bedeker

Erentia Bedeker woeker slim met intertekste in die gedig “Hart van Orkenise” (75) waar sy in gesprek tree met Apollinaire. Landskap word oopgemaak om die “fantoompyne van begeerte” aan die leser oor te dra.

Sy skryf:

Vanaand sal ek die aandster
teen my mond smoor
en die tuin alleen natlei (78)

Anton Döckel speel in op Van Wyk Louw se “Ars poetica” in ’n pragvers oor sy ma se vingers (“Ma se vingers”, 30). Inderdaad, van watter Louws was hy, artikuleer die ma se onbegrip oor wat die digter impliseer.

Annami Mailovich

“skaamparadys” (25) van Annami Mailovich aktiveer en ironiseer Jan Rabie se kaalkoppe in ’n aweregse liefdesgedig.

Ekfrastiese verse:
Jaco van der Merwe skryf verse wat inspeel op foto’s (geneem deur Wikus de Wet). Onthutsende gedigte waar die foto ’n disjunksie vorm tussen die praatvers met sy assosiasies van brannas tot ref. En ’n analise van die “sterflikheidsvibe” (107). Van Facebook tot die werklikheid tot die foto en terug. Verse wat vrae vra oor politiek en representasie. Ironies. Snaaks. Vervreemdend. Van oog vir oog tot noot vir noot; ink vir jok, lees ons.

Remona Voges

Remona Voges tree in gesprek met Frida Kahlo wat nuwe wendings gee aan hierdie kunstenaar se werk.

Standaard-Afrikaans en talle ander vorme van Afrikaans soos Kaaps of die insmokkel van Engelse woorde:
Churchill Naudé se “onse vaders” (38) ondermyn standaard-Afrikaans:

onse vaders wat soe syp
oppie hoekkie wat soe syp
oppie boekkie wat wil man raak ...

Churchill Naudé

Die digter is ’n kletsrymer van die Kaapse vlakte en sy debuutalbum heet Kroeskop vol geraas. Hy het ook saam met Anton Goosen ’n nuwe weergawe gemaak van “Boy van die suburbs”.

Die gedigte lewer sosiale kommentaar.

Vrye verse en praatverse:
Ons vind hier ’n aansluiting by die loslitvers, die praatvers, die assosiatiewe vers eerder as die vormvaste gedig. Elmarie Viljoen-Massyn skryf wel haikoes, ofskoon dit nie rasegte Japannese haikoes is nie.

Ryan Pedro se “as kanye ’n digter was” (159) is ’n vers vir die verhoog. Die digter wonder:

die kanon
en waarom die swart afrikaanse digter dit steeds met ’n valhelm moet betree;

Die gedig vra inderdaad vrae oor Kaaps wat “mainstream” geraak het. Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, e.a. het die kanon betree en vir ewig verander.

Ryan Pedro spot egter met die idee dat die “bad boy” deel word van die “VIP-section” en so ware impak verloor.

Sosiale media:
Facebook, Instagram en wat nog het deel geword van die digterlike onbewuste. Die “prisonhouse of language” (Fredric Jameson) word oopgeskarnier deur sosiale media.

“Inbraak” (123) van Marcel Spaumer word op ’n ironiese manier ook ’n kommentaar op die taalinbraak. Ingrid Penzhorn bekyk dit in “Antropomorfiseer” (101).

Annie Gallagher se “vlerksleep 2.0” (15) wys hoe emoji’s ons digkuns binnegedring het. Dus begeer ons al hoe meer grafies!

Marcel Spaumer

Politieke kommentaar:
Plaasmoorde en terrorisme aanvalle word gebruik as beelde van die Unheimlichkeit wat die jong mens beleef soos in Marcel Spaumer se “’n nag ontwrig” (121).

’n nag ontwrig

gisteraand sewe gelyktydige
aanvalle noord van my oos van my jy
het my eerste gesoen

vyftien minute se doodskote

omdat ek jou die minste verwag het
die knal: jou hand in myne
jou oë jaag my lyf se inwoners na skuilplek-soek.

’n noodtoestand deur die kop gewek hier teen my
bors ’n handgranaat hartklop
in die donker my ribbes tralie
oop toe oop.

la ville de l’amour is jy nie.
lyfskoot kopskoot doodskoot
oral bloeiselreën skrapnel

die Eiffel staan.

Binne / buite:
Die tradisoneel stemlose het stemhebbend geraak. Yabadaka Shamah skryf vanuit Mamelodi as digter en musikant in ’n amper outydse Afrikaans!

Naudé Kritzinger is ’n predikant, in Pretoria, en hy skryf met ’n “hakkeltong” oor ongeregtighede.

So gelees, is beide hierdie digters outsiders, wat kommentaar lewer op ’n sisteem van onreg.

Johan Jack Smith

Nostalgie en verloopte drome:
Daar is al dikwels opgemerk dat die letterkunde iets van ’n tydsgees verraai, omdat gedigte meer vertolk as wat ons as lesers besef.

Johan Jack Smith kyk helder terug in “Intermission” (114) na die karwrakke vol geeste.

Ingrid Penzhorn se onthutsende “Kougom gekou” (99) vang iets van hierdie displacement op.
Hannes Visser © Marlene Malan

Hannes Visser se gedigte ruk aan die keel. Jeugherinneringe - in ’n soort dagboekvorm aangebied - neem die leser deur die onthou-tog van ’n pynlike jeug; helder vertel in digvorm met die emosies in beheer. Die sirkelgang illustreer die beheer wat die spreker het oor sy jeug: eers kap pa ’n bordjie in; dan ma. Min woorde - trefkrag.

Elna van Niekerk se verse artikuleer eweneens verwonding. Stilte. Ellende.

Die pragtige Sisiphus-vers dra die splinters in die handpalm ... (“klip, 64).

“Melk” (54) van Elmarie Viljoen-Massyn is gelaai met sub-teks. Daar is ’n slim toespeling op die ontvoerde kinders wat Joey Haarhoff en Gert van Rooyen in 1988 ontvoer en vermoor het. Daardie oom wat soos ’n ouderling lyk ...

III

Foute:
Riel (Franzen) word egter sonder die umlaut geskryf in hierdie bundel. En die lettertipe verander skielik op bladsy 156 - 159. Was die gedig te lank? Op bladsy 174 staan Bloemfoentein in plaas van Bloemfontein.

IV

’n Mens sou nou al ’n studie kon onderneem oor die verskillende edisies van Nuwe stemme. Kyk byvoorbeeld na nommer 2 met Petra Müller en Nèlleke de Jager - dan sien ons hoe die tyd verander het.

Hier staan ’n hele paar digters opgeneem met belofte. Maar net die tyd sal leer wie ’n solo-bundel sal publiseer.

Nuwe stemme 6 ontgin tendense en temas verder wat reeds bekend is in Afrikaans.

Daar staan ’n hele paar gedigte wat werklik besonders is.