Showing posts with label Snail Press. Show all posts
Showing posts with label Snail Press. Show all posts

Tuesday, March 5, 2013

Kim McClenaghan - Revisitings (2002)



Kim McClenaghan. Revisitings. UCT younger poets series No 2, Snailpress, 2002. ISBN 1-874923-65-5.

Resensent: Joan Hambidge 

Die landskap van die hart. Dis die beste opsomming vir hierdie gawe debuut van Kim McClenaghan, Revisitings, wat die tweede een is in die UCT younger poets series, uitgegee deur Gus Ferguson. (Time and again van Fiona Zerbst was nommer 1.)

McClenaghan skryf met ‘n selfvertroue en tegniese beheer wat ‘n mens selde by ‘n jong digter vind. Ook die insigte is volwasse.

Die digter skryf ‘n gestroopte, eintlik ragfyne gedig wat hy laai met betekenisse en implikasies.  Dit gaan dikwels oor verlore liefdes, jeugherinneringe en verlies. Die magiese triade van die digterlike bedryf. Maar hierdie jong digter laai dit met nuwe vuur.

In “Heart’s tinder” skryf hy in teen die bekende struktuur van die liefdesvers wanneer hy op ‘n verrassende manier besluit:

I love you no longer –
I never have, nor ever will.

Die openingsvers stel dit duidelik: alle gedigte handel oor eindes (en verliese).  In  bykans alle verse slaan die digterlike bedryf deur as een wat alles bepaal en dikteer. Dit word vir die digter ‘n doelbewuste keuse (“where the poems of life are written”): hierom is daar dikwels ‘n afstandelike blik op mense, situasies. Die digter vra dan ook himself af:  “I write to live,/ or live, to write of life”.

“I, spinnaker” gebruik vernuftig skipbeelde om die liefdesreis te beskryf en die titelgedig is so suiwer en indrukwekkend.  In “Toads” word ‘n jeugherinnering gelyk gestel aan ‘n pynlike ervaring dat sy geliefde hom versaak het. As kind kon hy paddas se koppe vermorsel; nou word die ander man hierdie amfibiese dier wat hy verag.  Ook word die kinderverhaaltjie van die prinses wat die padda moes soen hier geaktiveer.

Begryplik dat die digter ook ‘n liriek vir Leonard Cohen skryf met die ontstellende stelling dat ‘n geliefde jou lewe steel as dit sleg afloop. Ook in “The way of things” word hierdie onbegryplike proses van die liefde verhaal.  In “Poets and lovers” word die verbintenis tussen skryf en liefde (wat is eerste? wat is die belangrikste?) behandel.

Die digter luister ook na sy ‘inner music’. Hierdie verruklike gedig word ook ‘n klein ars poetica wat saamgelees moet word met “All this time” (vir Cavafy). Eweneens behendig is die gedig oor Dylan Thomas waar die digter aan die woord gestel word. Die verse oor (en vir) Guy Butler en Arthur Nortje word eiesoortige lykdigte waarin reëls van die digters aangepas en gebruik word in sy vers. Nou onlangs het Lina Spies in ‘n artikel in Stilet  onsinnighede kwytgeraak oor in welke mate die lykdig van een digter ‘n ander se stellings en tegnieke mag gebruik: hierdie verse wys haar teorie verkeerd.

Daar was ‘n lang tyd toe die Afrikaanse debutante hul Engelse mede-digters ver verbygesteek het. Dit is die afgelope twee jaar of wat nie meer die geval nie. Daar is ‘n handvol sterk en belangrike stemme waarvan kennis geneem moet word. En Kim McClenaghan is só ‘n digter, nes Isobel Dixon, Finuala Dowling, Fiona Zerbst, e.a.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Don Maclennan - The road to Kromdraai (2002)



Don Maclennan. The road to Kromdraai. Snailpress, 2002. ISBN 187492363-9.

Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad is daar ‘n mooi foto van die digter: sy een oog is donker, die ander is helder verlig.  Op die agterblad bely hy dat sy gedigte gaan oor die wete dat daar iets soos diepere insigte bestaan. Hierom is die bundel dan ook een wat handel oor die dood en die wete dat die dood juis paradoksaal die lewe bevestig.  Maclennan is ‘n bekende digter, kortverhaalskrywer en dramaturg. ‘n Ou hand dus.

Veral die tweede gedeelte van hierdie bundel bevat wonderlik ontroerende verse wat as epifanies getipeer kan word. ‘n Klein moment of insident verraai dikwels vir die digter ‘n dieper waarheid . In “East London incident” word ‘n swart vrou waargeneem wat haarself was voor sy werk toe gaan.  Dit word egter meer as ‘n wastoneel: sy adem ook die primordiale krag van die see in.

Ook oor sy liggaamlikheid, al is die liggaam ouer en afgetakel, skryf hy eerlik en ontroerend. Sy begeerte tot vroue (veral ‘n jong vrou) en sy blik op sy vrou is gelaai met soveel selfbewussyn en -kennis. Die metafisika spreek uit die alledaagse: ‘n klip, ‘n blom. Die verganklike word telkens teen die Ewige geplaas, maar met die wete van die Emerson-motto: Other world? There is no other world; here or nowhere is the whole fact.”

En dit is hoe ‘n mens waarskynlik die bundel moet lees: ‘n soort ‘carpe diem’-benadering wat ook deur ‘n Boeddhistiese lewenswyse ondersteun word. “Being alive” kan gelees word as so ‘n wyse bestekopname. In “Originality” ook die wete dat die digterlike proses al beter deur ander verwoord is, maar hierdie leser voel sterk daaroor dat MacLennan ‘n eiesoortige visie het wat kenmerkend is van die suksesvolle digterskap: tegniese beheer en eerlikheid.

Daar is niks ‘phoney’ aan hierdie gedigte nie. Dit is geskryf deur iemand wat presies weet wie hy is, die lewe gesien het, die erotiek nog sterk beleef, vreugde het aan die natuur en omgee vir sy medemens. Dit word alles sonder tierlantyntjies beskryf.  Die slotvers “Kromdraai” is ‘n ars poetiese gedig:

Auden thought art
was our chief means
of breaking bread with the dead.
in his canny way
he knew that rock creates
the only truly human landscape.

“Three skeleton pieces” moet hiermee saamgelees word. ‘n Mens kan nie veel van die digkuns leer nie, meen die digter; tog elders voel hy weer dat die digproses belangriker as brood is. In die lykdig “An epitaph for Guy: 26th April 2001” word die kortstondigheid van die lewe tenoor die durende skryfproses geplaas.

Dis ‘n goed afgeronde bundel. Dikwels lyk gedigte met ‘n eerste lees maklik of toeganklik, maar dit is daardie soort eenvoudigheid wat deur tegniese behendigheid, èn met die ouderdom, tot stand kom.  En daar is ook ‘n respek vir ‘n digterlike tradisie en wysheid van soveel millennia:

I am still groveling
at the roots
of consciousness,
trying to read its scrawl. (“To live”).

“Going to Ithaca” is ‘n lykdig oor die selfmoord van ‘n vriendin; vir hierdie leser ‘n dubbele pynlike ervaring omdat sy toevallig die persoon en omstandighede ook geken het.  Dit het dan ten slotte van hierdie bundel ‘n dieper leeservaring gemaak omdat hierdie gedig ook kon heling bring.

Daar is wel ‘n ander wêreld en dit is die een van die gedig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Fiona Zerbst - Time and again (2003)



Fiona Zerbst. Time and again. UCT Youner Poets Series No 1, Snailpress, 2003. ISBN 187492360-4.

Resensent: Joan Hambidge

In die openingsvers word die leser reeds voorgestel aan die grimmige stilte van die digterskap en die wete dat donkerte, oftewel die melancholie waaroor Julia Kristeva so insigryk skryf, in Time and again aanbod sal kom. Dit is die eerste in die reeks van UCT se jonger digter-reeks wat deur Snailpress gepubliseer word.

‘n Reis in Rusland word ook betrek wat die leser natuurlik ook neem na die gedigte van Anna Akmatova en Marina Tsjetajeva, daardie twee groot beoefenaars van die stilte wat onder situasies en in mense broei. Die rivier in die Ukraiene is hier “siltless and polluted” in “At the dacha”. In “The bear” reageer die digter sterk beeldend op die reuk wat die opgehangde beer laat, ‘n soort gekruisigde Christus.

Ons vind gesprekke met Joseph Brodsky, Derek Walcott, Akmatova, o.a. wat opnuut bewys dat die digter wat haar tradisie ken, juis tegnies beter dig as die een wat ‘spontaan’ reageer.  Die verse oor die jeug, verlore liefdes, vriendskappe, familieverband word alles in beheer gehou deur ‘n tegniese beheer en kennis. Zerbst het ‘n suiwer, melancholiese aanslag wat deur die ysere tegniek in bedwang gehou word.

In “The room, again” word die pynlike afloop van ‘n verhouding beskryf met die wete:

a space I re-embrace,
and everything you are
can sit here in this poem,
a kind of prison, where
I regulate the hours
and the flow of air. 

In die puik “Rings” word die buurvrou se lewe ‘n replika van haar eie: hoe ‘n mens se lewe moet voortgaan ten spyte van privaat ellende en pyn. Hoe sekere indrukke en ervarings nooit verbygaan nie.  Die TV-nuus vertel van die wêreld wat voortgaan daarbuite…

”I’ve had my fill / of words that grieve and weep”, bely die spreker in die wete dat ‘n verhouding so vinnig, so finaal kan eindig. Tog vergeet ‘n mens die ervaring selde. Dit word deel van hoe jy alles hierna ervaar.

Ook wanneer sy oor die skilderkuns dig, is dit met vaardigheid en insig soos in “The lamentation”(Giotto di Bondone, c. 1277 – 1337). “Poem after Pierre Bonnard” verdien eweneens vermedling as uitstaande. Dit is ‘n suiwer debuut wat getuig van vakmanskap en beheer. En die digter het baie wysheid wat sy met haar leser deel. Tereg bedank sy twee voorste digters: Douglas Reid Skinner en Stephen Watson vir hul insette.

Die jong Engels Suid-Afrikaanse digters is tans die moeite werd om te lees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, March 4, 2013

Sarah Johnson - Personae (2004)



Sarah Johnson. Personae. UCT Younger Poets Series no. 3. Snailpress, 2004. ISBN 1-874923-68-X.

Resensent: Joan Hambidge

In hierdie suiwer debuut van Sarah Johnson, ‘n digter wat veel beloof, word die leser reeds deur die titel Personae gelei na die ars poetica van die digter. ‘n Veelheid van stemme word gehoor en die digter speel buikspreker en nabootser. Hiermee sluit sy aan by ‘n lang poëtiese tradisie van Yeats, Eliot en Wallace Stevens waarin die ‘ek’ verhul word en deur ‘n personasie praat. Ook die aanskoulike omslag van Gretchen van der Byl wys op hierdie verwringings- of verdraaiingsproses: blomme in blompot word deur ‘n venster of patryspoort of dalk sleutelgat beloer. Of  selfs ‘n camera obscura. Die leser se verbeelding word wakker gemaak en die verskillende assosiasies wat gevorm word, speel ook in op die gedigte wat van oortuiging en volwassenheid getuig.

In die programvers “Ham” word daar ook uiting gegee aan ‘n religieuse belewenis van die werklikheid. Wanneer sy praat deur “Ham”, die seun van Noag, neem sy konkreet en beeldend waar. Sterk beeldend word die ervaring van die eerste vloed gegee. O.a. lees ons: “the sky is bright / like an eye before it weeps”. Dit is egter nie net ‘n gedig oor die Genesis-verhaal nie, maar dit word ook ‘n gedig oor die primordiale en hierom dan ‘n belewenis van die digterlike onbewuste. Ook die ervaring van die liefde word sensueel beskryf met die liggaam van die vrou wat ‘n ark word. Daar word dus weggeskryf van die self en ‘n komplekse gedig word ‘n ars poetica, ‘n gender-analise en ‘n beskrywing van liefdesobsessie. In “Theomachy” word twee ‘godsdienste’ teen mekaar geplaas: die religieuse belewenis in ‘n kerk en die digkuns wat die spreker oorval. Ook word beleef hoe die hemelruim eintlik alreeds ‘n teks is. Die digter tree ook in gesprek met ander digters soos in “Quotidian” met die verslag van alledaagse aftakeling wat siekte inhou en hoé uitgelewer ‘n mens is aan simpatie en begrip. Dit is ‘n uiters volwasse vers vir ‘n jong digter. In die die aangrypende “Writer’s block” illustreer die digter nogmaals haar vaardigheid. Sy stel ‘n man aan die woord en sy vrees dat hy nie meer sal kan uiting gee in woorde nie, word in terme van ‘n litanie, mantra en gebed beskryf.

“Potiphar’s wife” word sensueel in haar ónvervuldheid beskryf, terwyl “Lunching” ‘n intieme vriendskap buite die seksuele domein beskryf en wys op die belangrikheid van verstandhoudings waarin begrip hoër as romantiek geag word. Hierteenoor staan “Delilah” wat inspeel op verleiding en die effek daarvan op die psige. Waarskynlik vind ons al die digter se poëtiese talente die duidelikste na vore kom in die voortreflike “Bathsheba” waarin sy haar vereenselwig met die lot van hierdie Bybelse figuur.

Die manjifieke “Symposium” analiseer begeerte in al sy vorme: opwinding, verkilling, gewoonte en ‘n nuwe persoon wat dit aanwakker. In hierdie gedig word ‘n mens bewus van die digter se fyn waarnemingsvermoë en hantering van sub-teks. “At the crib”, met sy gelade einde, aktiveer die moedergedigte van Sylvia Plath en Antjie Krog en gee ‘n unieke perspektief op die kind wat buite die ouer bestaan en ‘n lewe gaan hê. “Found photograph”, waarskynlik uit die perspektief van ‘n kind wat ‘n foto ontdek, lewer kragtige kommentaar op voyeurisme en hoé foto’s onbedoeld meer kan oordra aan die kyker. Ook “After Bonnard” verdien vermelding: die digter vang die erotiese oomblik in helder, konkrete beelde vas asof háár belewenis van erotiek gelyk gestel kan word aan die objek s’n.

“Peter’s dream” aktiveer die verraad teen Jesus en die onmoontlikheid van selfvergifnis. In “Immaculate” word die heilige bevrugting gelyk gestel aan die digterlike proses. Soos in “Sighting” waar die digter intree en uit ‘n transgressiewe daad iets digterliks maak.

Die digter se vermoë om die paradoks te hanteer en gedistansieerd, dus buite die self, waar te neem, maak van hierdie debuut ‘n genoeglike en belangrike een. Sy dig dikwels oor iets grensoorskrydends, magies, insestueeus, maar altyd aangrypend. Digterlike taal beweeg in die 'chora' die baarmoederlike terrein soos Kristeva aangetoon het. Hierom gee al die gedigte 'n beeld van skadukant, die inbeweeg teen die aanvaarbare en ook in haar taalgebruik manifesteer hierdie reis na die pre-simboliese.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, February 28, 2013

Arthur Attwell - Killing Time (2005)



Arthur Attwell. Killing Time. UCT Writers Series No. 4: Snailpress, 2005. ISBN 1 874923 69 8.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Debuut is altyd ‘n heerlikheid om te beleef as die digter ‘n mens oortuig dat hy iets te sê het en dit veral treffend verwoord. Vanaf die omslag met ‘n ongeveer sewejaar oud seuntjie (waarskynlik outobiografies) wat hande in die sakke staan en teen ‘n growwe muur aanlê tot die laaste gedig, is ‘n mens bewus van ‘n keurige versorging van die gedigte.

‘n Voorblad van ‘n bundel praat altyd saam met die verse: dink byvoorbeeld aan Gilbert Gibson se Boomplaats (Tafelberg) waar die guillotine al ‘n kode aanstip; of Nuwe stemme 3 (Tafelberg) waar ‘n beeld van Claudette Schreuders iets van die toonaard verduidelik; hier het ons ‘n jong kind en in die gedigte die ouer persoon wat terugkyk na die eerste, sublieme ervarings van die lewe. Iets wat in die digkuns bekend staan as die nostalgie, maar dikwels tot gevolg het dat die volwassene wil terugkeer na die ongeskonde, paradyslike bestaan. Hierin het Pablo Neruda voortreflik uitgemunt: om te vertel hoe die eerste gedigte na hom gekom het uit en deur die natuur en in die fiksionele film, Il postino, word hierdie krag goed verbeeld.

Killing time. Om verveeld te wees. Om te wag op iets. Om ‘n naweekdigter te wees (dalk) soos Wallace Stevens. Dit was ‘n leuen, weet ons, want digters skryf juis wanneer hulle nie skryf nie. Dan neem hulle waar, herbesoek inhoude, herinneringe en die pragtige, ontroerende “Killing time” waarin ‘n vlermuis doodgemaak word, sien ons hoe die digter die onsêbare verwoord:

Just after dusk, our parent sin the church,
we gathered outside on the patio
killing time. What brought us, then, the gift
of a bat in flight? ...

Die opposisie tussen die kerk (orde) en die kinders se ontmoeting met die vlermuis (simbool van die onsienlike, bose, buitenissige..) word in opposisie geplaas. Die kinderlike vernielsug word dan gekoppel aan iets groters; die soeke na die onsienlike. Die terugkeer na hierdie oomblik (‘n belangrike vers in die bundel) is ‘n primordiale ervaring vir die jong digter wat gekonfronteer word met magte groter as hy...

Die digter dra die bundel op aan sy ouers en vele verse beleef hy die jeugjare en die onvermydelike verwonding wat dit inhou. Die openingsvers, “My father’s churchyard” aktiveer ‘n delikate verhouding tussen kind en ouer. Die tuin wat so raak beskryf word aktiveer ‘n hele Engelse landskaptradisie en natuurlik die digter Robert Frost praat ook (subtiel) hier saam.

Die simboliese lading van die verse word stiekem hanteer. In “Finding crabs” word dit méér as die vangs. Dit word ‘n onthutsende ervaring van die krap wat geboorte gee aan “sowing crabs” en kinders wat wegswenk van die brose “unguarded belly”. Freud en Melanie Klein het diepgaande geskryf oor die impak wat só ‘n geboorteproses op die jong kind se psige het. In die veelvuldige studies oor melancholie deur Freudiane kan hierdie dwingende proses ‘n geweldige merk laat op die gemoed van die gevoelige persoon – iets waarop die digter en kreatiewe persoon altyd teer, soos Freud dan uitwys in sy studie oor Leonardo da Vinci. Die enigmatiese glimlag van die Mona Lisa het Freud ondersoek en belangrike uitsprake gemaak oor verlies en sublimasie na aanleiding van ‘n oorrompelende ervaring wat die jong kunstenaar gehad het (“Leonardo da Vinci and the memory of his childhood”. 1910). Maar was dit waar? En presies wát het die kind gesien? ‘n Klein voetnoot: ‘n vertaalfout het ingesluip en ons is steeds vandag nie seker of Leonardo ‘n arend gesien het of nie...

In ‘n onderhoud op Litnet bely die digter ‘n kennis van Ovidius en “Frog” aktiveer iets van ‘n transformasie-proses waaroor hierdie digter so uitvoerig geskryf het. In “Eohippus” is daar ‘n spel rondom die betekenis van die argetipiese perd. Die digter aktiveer ‘n hele intellektuele betekenisveld wat hy slim aktiveer sodat die leser ook Pegasus hier inlees. 

Tekstuele verwysings is bykans in elke vers onder die oppervlak aanwesig: menige leser sal sug en meen dis waarskynlik toe te skryf aan die feit dat die digter hierdie manuskrip in MA-Kreatiewe Kursus voltooi het. Die digkuns helaas werk altyd ten beste wanneer ‘n tradisie erken en slim ondermyn word. Juis hierom sou ‘n mens wou weet presies wat Lina Spies bedoel wanneer sy van ware poësie praat en dat hedendaagse bundels haar nie juis behaag nie. Is daar enigsins nie plek vir verskillende soorte diskoerse nie? (“Bloemlesing van ware poësie”, Die Burger 17 Oktober 2005).

Die verwysing na Wallace Stevens se beroemde uitspraak dat alles in ‘n mens se jeug fisies is en later as psigies ervaar word (“Adagia”), loop soos ‘n fynskrif deur hierdie bundel en “Before thirteen” is so skerp, so helder verwoord:

A teacher will carelessly stop your heart
like a wrench on a tap.

En tog oorleef ‘n mens al hierdie verliese, net as jy dit kies.

In “My first England” imponeer die fyn metaforiek (die verwysings na Turner en (S)wift veral!), die ware digter se handtekening. Tot sover die eerste afdeling.

In die tweede afdeling betrek hy die skryfproses openlik in “Postcard”. Die gedig-as-poskaart is nie ‘n nuwe gedagte nie; trouens, in Afrikaans het ons ‘n hele bloemlesing wat Poskaarte heet. Tog speel hy interessant met die betredende posisie van die leser wat ‘n gedig lees. Daar is hier ‘n groter betrokkenheid met die grootmenselewe (“Root canal”).

In die derde afdeling skryf hy oor die Karoo-landskap, oor “Officer’s log, the wrecked Cabalva, July 1818”), oor “Ghost lakes”, “Robber’s Grave”, langer, uitgesponne verse. As ek dit mag noem: hierdie digter is beter in die korter vers, vir my smaak altans. Die log-boek gedig aktiveer ‘n herinnering na die Titanic-logboek wat ek by Halifax gesien het en die assosiasies wat dit by die kyker meemaak oor presies wat alles by hierdie skriba moes plaasvind...

Daar is ook endnotas en ‘n intertekstuele verwysing na Kim McClenaghan se Revisitings (Snailpress/UCT, 2002), self ‘n opwindende digter.

Om af te sluit: ‘n bundel waarin die digter ortuig dat hy vakman is en iets het om te sê. Dit is ‘n debuut waaroor ‘n mens uiters dankbaar kan wees en een wat gerus gelees kan word deur diegene wat ‘n onbehae voel met die hedendaagse digkuns. Carthago delendum est.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet Seminaarkamer geplaas.]