T.T. Cloete. Die
baie ryk ure. Tafelberg Uitgewers, 2001. ISBN 0624040151.
Resensent: Joan
Hambidge
Ted Hughes het in die tagtigerjare 'n keuse moes maak uit
Emily Dickinson se gedigte en in sy voorwoord het hy 'n paar van die beginsels
neergestip wat elke keurder wat van 'n produktiewe digter 'n seleksie moet
maak, gerus in ag kan neem.
Dit wat klassiek is, m.a.w., dit wat alle lesers van die
digkuns kan onthou of dan ten minste, gedeeltelik kan oproep en ook daardie
gedigte wat die uniekheid van die digter weergee.
T.T. Cloete is 'n uiters produktiewe en belangrike
digter. Nie alleen is hy bekroon met elke belangrike prys nie, maar sy digkuns
- sewe bundels - het die kontoer van die Afrikaanse poësie verander soos wat
Blum en Breytenbach onder meer dit gedoen het.
Ekself, Heilna du Plooy en die digter is deur Tafelberg
Uitgewers gevra om 'n 100 beste gedigte uit te soek. Interessant genoeg het ons
keuses sterk ooreengestem. Eintlik moet 'n mens byvoeg: so sal dit wees as 'n
mens 'n beeld of representasie van 'n oeuvre wil maak.
Die nadeel van 'n seleksie is dat 'n mens dikwels 'n vers
"ontvoer" uit die huis van 'n bundel en hom plaas in die weeshuis van
'n versameling. Binne sy bekende of vertroude aard het 'n gedig 'n familieboom,
'n betekenis binne bundelverband soos die leser weet dat elke vers in
Jukstaposisie of Allotroop inspeel op 'n ander vers.
'n Seleksie wil dus iets anders wees. Dit wil die hoogtepunte
of vermeende hoogtepunte vir die reisiger of leser van "intro"-boeke
vertel wat maak van hierdie digter 'n belangrike digter?
By Cloete is dit dan so gesteld: daar is onmiddellik 'n
handvol verse wat sigself aanbied as klassiek soos die Marilyn Monroe-verse,
die verse oor die heelal (soos "Fyn vrugbare essensie"), die
uitstaande lykdigte (soos "Uitlê van die lyk" en die verbluffende
vers oor Peter Sellers "Alle grappies op 'n stokkie"), die reis- of
landskapverse, die gedigte oor die goddelike dimensie, verse oor beroemde
digters (Leipoldt, Rilke, Totius, Leopold), erotiese gedigte, musiekverse,
beeldende kunsgedigte en ars poetikas.
Skering en inslag, jukstaposisie, dubbelspraak,
palimpses, uit die hoek van my oog sou alles gepaste begrippe wees om hierdie
ryk digterskap mee op te som. Sy tegniese beheer en en vermoë om klank te
ontgin, is al by herhaling aangestip. Cloete is waarskynlik 'n digter vir die
poësie-liefhebber. Soos die digter Henning Pieterse op 'n keer tereg gesê het:
hy skryf "smart poetry". Digters in die besonder bewonder hom vir sy
tegniese beheer en klankontginning.
Die vermoë om
disparate dinge saam te dig (Dante se Beatrice en Marilyn Monroe) en die
sublieme teenoor die banale te plaas, is ook kenmerkend van sy digterskap. Die
voorblad getiteld "Die ryk ure van die hertog van Berry" (1340-1416)
aktiveer Auden se beroemde stelling:"About suffering they were never wrong
the old masters..." uit "Les musée des beaux arts".
En oor die ryk lewe kan net 'n vaste hand so dig. Soos die
digter dit stel in die 101e vers:
my ten volle lewe was uitgeput
maar kompleet
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]