Showing posts with label Susan Smith. Show all posts
Showing posts with label Susan Smith. Show all posts

Sunday, December 11, 2016

Susan Smith - Die aarde is 'n eierblou ark (2016)

Susan Smith - Die aarde is 'n eierblou ark. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0716-7

Resensent: Joan Hambidge

Susan Smith se tweede bundel word bemark as eko-poësie, 'n terrein wat sy ook akademies afgebaken het. Die bundel bevat egter ook 'n besinning oor digterskap, en meer spesifiek, vroue-skryfwerk, via die natuur.

Eko-poësie kry tans geweldig aandag, hier te lande en wêreldwyd. Mary Oliver se aangrypende gedigte; in Afrikaans Martjie Bosman, Johann Lodewyk Marais, waar die gedigte eko-polities is. Dan is daar talle natuurdigters in Afrikaans, te veel om op te noem: van Leipoldt tot nou in die digkuns van Marlene van Niekerk en Johann de Lange.

Die eko-politiek met sy vrese van 'n aarde wat mag sterf, is al in bloemlesings opgeneem van Lategan tot Ons klein en silwerige planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent wat in 1997 verskyn het. Bome wat met installasie-kuns bedek word; ons dink aan die kunstenaar Christo Jeanne Claude se pienk seilbedekking rondom ‘n eiland (Christoand Jeanne-Claude | Projects | Surrounded Islands).


Omringde eiland, Biscayne Baai, Groter Miami, Florida, 1980-83 (Foto, Wolfgang Volz)

Dit is 'n soort gedig wat die leser kan benader as natuurgedig, of as 'n vers oor die binneskap van die digter. (Gaan kyk na die vers van Elizabeth M. du Toit in Lategan se ou, bruin bloemlesing en ons weet dit handel oor emosionele onrus.)

Belangrike name in die wetenskap en eko-politiek word betrek: Kepler, Galileo;  Darwin en Hawking.

Die gesprek rondom die Karoo word ook aangespreek.

Walt Whitman se “Leaves of grass” word in ‘n teensang gehuldig:

Jou wilde trope is filamente van herken
In die roekelose baaie
Jou intieme sien (40)

Die opvallende van hierdie bundel is dat die aarde as vroulik voorgestel word. Dit is dus ‘n sterk feministies-gelade teks wat in die taalgebruik na vore kom. Hélène Cixous beklemtoon die belangrikehid van hierdie vervrouliking van taal in Die lag van die Medusa.

Ook die bemoeienis met die digkuns is ‘n opvallende tema in hierdie bundel. Die bundel word dus ‘n dubbelreis vir die leser waarin sowel die aarde as eierblou ark (Noag) en die soeke na die volmaakte gedig onder die loep geneem word.

In “Vangs” (50) resoneer met Opperman se “Man met flits”. Hier word ‘n wip gestel vir die vangs:

in die takwerk sit verskrik
die rooi pels
van ‘n jong gedig

“Saad” (23) ondersoek die geboorte van ‘n digter via die planteryk en die verhouding met die ouers. Hier is daar ‘n aflegging van die moeder (die lykswa het verdwaal in Bloemfontein met die navolgers soos ‘n kronkelende duisendpoot agterna). Sy hoop dat die moeder haar blommetuin nadoods sal raaksien. Hierdie gedig is Smith se Edms. Bpk. Waarin sy poëties en polities haar standpuntname verduidelik. Teenoor die “melkhoutboom uit Dirk se erf” vind ons onder andere bloedrose en plante wat met die grond praat. Die digter as ‘n soort tuinier staan op vertrek, maar die gedig bly agter.

In aansluiting hierby is “Tuin van mondings” (33), opgedra aan Sylvia Plath, ‘n sentrale vers juis ómdat soveel vrouedigters al by hierdie ikoniese digter aansluiting gevind het:

toe die laaste lug aan jou tulpe vashaak
en jy bloedloos die wêreld uit jou oë loslaat

Die verskillende rame waardeur Plath na die wêreld gekyk het, is ook hier tersaaklik.

Jonathan Culler se “framing the sign”: jy kan die bundel eko-polities lees; of die taalgebruik ondersoek of kyk na die uitmondings in memento mori.

Hierdie leser sou meer vormbeheer wou sien, soos byvoorbeeld “Eierblou ark” (12) wat ‘n distigon kon wees?

“Xolobeni Mineral sands, Wildekus” geskryf na ‘n gedig van Derek Walcott, die Prins van Vormbeheer en Implikasie, praat o.a. met “Midsummer, Tobago”:

Broad sun-stoned beaches.

White heat.
A green river.

A bridge,
scorched yellow palms

from the summer-sleeping house
drowsing through August.

Days I have held,
days I have lost,

days that outgrow, like daughters,
my harbouring arms.

Hierdie vergelykingspel met ander digters maak die “plek van klanke” ryker. Soms word die verwysings in die verseboek-ark netjies weggesteek!

‘n Verdere dimensie is spiritualiteit: die vergiffenis en genade waarmee die digter worstel wanneer sy daagliks “silwer woordspane / deur sterstof stuur” (12).

Die digter se solodebuut in 2012 was In die afwesigheid van sin (Protea) en hierdie tweede bundel maak ‘n ryper, sterker indruk.

Eierblou ark
die aarde is ’n eierblou ark
wat deur die melkweg veer

die aarde is ‘n knikkerneut
waarin die groeibegin van woorde sit

‘n tydelike oord
‘n kreunende halfweghuis

waarin ons waterdeurdronge
deur soutreën en sleepmistonge

hiermaals vaar en as bede
om vergiffenis en genade

daagliks silwer woordspane
deur sterstof stuur


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Sunday, January 27, 2013

Susan Smith - In die afwesigheid van sin (2012)



Susan Smith. In die afwesigheid van sin. Protea Boekhuis, 2012.

Resensent: Joan Hambidge


Die digter het reeds in Nuwe stemme 1 gedebuteer en In die afwesigheid van sin is haar solo-debuut. Die bundel ondersoek die verhouding tussen geslagte en meer spesifiek, vroue en hoé tradisies van geslag tot geslag oorgedra word. In die nawoord skryf sy dat die rol van taal van primêre belang is in hierdie oordrag.

Die bundel aktiveer ‘n spesifiek feministiese diskoers, te wete die oordrag van kultuurgoed soos goed verbeeld in “patroon” (38).

Die voorblad staan in die teken van hierdie diskoers (ouma, moeder, dogter, niggie, tantes) en die bloedband wat tussen vroue bestaan. Daar word aangehaal uit Margaret Atwoord, Anne Sexton, Erica Jong, om die ideologiese aspek van die bundel te begelei of omsoon. Aldrie hierdie digters se werk is kragtige kritieke op vrouwees en die vermindering van vrouwees: die intellektuele Atwood, die pynlike verslae van Sexton (en haar uiteindelike selfdood) en dan die ironies-speelse Jong. Nader tuis het ons die feministiese poësie van Krog wat vrouwees in al haar geledinge karteer. Verder terug: Eybers.

Die bundel is met ‘n sterk eenheidsbewustheid gekomponeer, maar te veel verse word emosionele lopers wat die krag van ‘n dwingende gedig mis. ‘n “Slakkepas-sonnet” (93) is nie ‘n sonnet nie en te veel verse speel met woorde wat herinner aan universiteitsblaaie soos “tweesprong” (41):

ek het jou gebaar      jy het my gebaar
jou hare                      my hare
my oë                          jou oë


Vele verse is vir my gevoel sentimenteel en stroperig. Dit mis digterlike tug en die oorheersende indruk wat die bundel laat is dat die besinning oor wat sy wou doen, nie deur die gedigte verbeeld word.

Die tematiese aspek mag sekere lesers meevoer. Dit gaan hier om die vroulike diskoers soos beskryf in “patroon” (38). Reeds die buiteblad wil hierdie oordrag van die grootmoeder-moeder-dogter-band behandel. Hier tree die gedigte in gesprek met Antjie Krog se bloedband-verse.

Die titel aktiveer die soeke na sin en betekenisse in die semiotiese sin van die woord. Die programgedig aktiveer hierdie aspek: metafisies en die bestaan op aarde. Die geweld waarmee ons moet saamleef, is ‘n hipogram in hierdie bundel soos beskryf in “skrik” (21). In die liefdesgedigte is daar reeds onrus ingebed (“hebban olla vogala”, 24) en in die aangrypende “kartografie” (25) is die tekens wat die geliefde agterlaat; dit wat die spreker se lewe rig.

In “my mamma is van meel” (34) word ‘n gesprek tussen twee niggies ook ‘n verslag van hoé kommunikasie verander en versnel het: vertelling, brief, e-pos, sms. En “telefoonboekie” (35) skryf ook ‘n lewe van kontakte op van die moeder. Sy verwittig hulle dan van die moeder se laaste vertrek. Daar is ook die “bewind” van resepte en breipatrone en hoe dit van geslag tot geslag oorgedra word.

‘n Gedig soos “llamada” (46) is sentimenteel-stroperig. ‘n Gedig oor ‘n kind hoef dit nie te wees: ons het immers voorbeelde van Paula Meehan, Sylvia Plath, en vele ander wat dit bewys. Gedigte oor die persoonlike ervarings kom nie altyd die mas op nie soos “bloumaanmaand”(50), wat maar net vir die aangesprokene gegee kon gewees het. Dan maak sy egter weer op met “lewe is steeds ‘n klip” (51) waar die persoonlike vertaal word in digterlike tekens. “Kinderspeletjies” (52) hoort nie in ‘n ernstige bundel nie.

Die spel met bekende intertekste, soos onder andere “Aljander, aljander so deur die bos” en “Siembamba” kom nie verby die blote stelling nie.

“terwyl” (56) is ‘n sterk gedig met sy Auden-interteks (“about suffering they were never wrong…”) met die slot waar “betekenis van dinge / betekenis verloor”. “Imago Dei” (62) spreek die religieuse aan. Die ekologie kom aan bod in “karoo-narratief” (71), ‘n knap reeks.

Dit is ‘n bundel met ‘n handvol sterk verse. Teen die uitstekende debute die afgelope ses jaar, is dit beslis nie die beste wat ek nou onlangs gelees het nie. Dit is asof die digter nie die komposisie van die bundel, naamlik die gesprek met die familie en die semiotiek daaromheen, kon volhou nie. Die leser waardeer die fyn uitgewerkte plan, maar die konkretisering daarvan in verse is nie altyd geslaagd nie. Die gedigte het ‘n sewentiger-aanslag: daardie rammelende verse wat sin en samehang mis.

Emosies moet teruggesnoei word. Om in ‘n debuut ‘n gedig soos “saadskiet” (86) op te neem, maak die sterk verse ongedaan:

(…)
Vroegmôre trek ek skramsweg die dun
Buitelyn van ‘n gedig
Uit die traanstreep oor my wang

In die metaforiek van die bundel: dis ‘n bietjie “knit one”, “purl one”.

[Hierdie resensie word afgedruk met vriendelike vergunning van Fine Music Radio & die resensent.]