Showing posts with label Hemel en See Boeke. Show all posts
Showing posts with label Hemel en See Boeke. Show all posts

Tuesday, October 24, 2023

Resensie | Duisend-en-een-nagte. Gekeur en oorvertel deur Kader Abdolah (vert. uit Ndl deur Wium van Zyl) | Hemel en See Boeke, 2023

Duisend-en-een-nagteGekeur en oorvertel deur Kader Abdolah (vert. uit Ndl deur Wium van Zyl). Vermont: Hemel en See Boeke, 2023. ISBN 

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Die Duisend-en-een-nagte ook die Duisend-en-een-nag is ‘n raamvertelling uit die Midde-Ooste. ‘n Storie-binne-in-‘n-storie-binne-in-‘n-storie. Oor die oorsprong is daar verskillende interpretasies: Persië of ander gedeeltes uit die Midde-Ooste? Dalk Indië? Soos oor alle primordiale kennis en tekste heers daar verskillende sieninge. Oor die tarot is daar eweneens verskillende menings. Is dit uit die Verre Ooste “gesteel”? Of het dit in Italië ontstaan?

 

Wium van Zyl, ‘n puik vertaler uit Nederlands,  gee vir ons nou hierdie vertaling van Kader Abdolah. Die lieflike boek is “gekeur en oorvertel” deur Abdolah. Antoine Galland was indertyd die Franse vertaler en Richard F. Burton die Engelse skribeerder.

 

Van Zyl, ‘n gerekende vertaler, het Afrikaans en Nederlands aan die UWK doseer en Kader Abdolah, oftewel Hossein Sadjadi Ghaemmaghami Farahani, skryf in Nederlands, gebore in Iran. In 1988 kry hy politieke asiel in Nederland weens sy kritiek op die Sjah en die Khomeini-regimes.

 

Sy roman Het huis van de moskee het die Hollandse beste verkoperlys gehaal in 2007.

 

Die Afrikaanse vertaling lees vlot en dit is huis toe gebring in Venuti se terme.

 

II

Ons het as jong kinders die verhale van Aladdin en sy towerlamp gehoor en Ali Baba en die veertig rowers. En die storie van Sinbad.

 

Later jare het die werklike wreedhede van die verhale eers tot ons besef gekom. Koning Sjahriaar wat deur sy vrou bedrieg is met ‘n ander man. Uit weerwraak kies hy elke aand ‘n maagd, trou met haar en laat haar onthoof, die volgende dag. Dan ontmoet hy vir Sjeherazade. Sy fnuik sy planne en op die huweliksnag begin sy met ‘n verhaal wat sy nie voltooi nie. Nuuskierigheid en slinksheid red haar lewe. Sy begin die volgende nag weer met die verhaal, maar dit kom eweneens nie tot sluiting nie. Hy gee haar nog ‘n kans en so het sy dan vir ‘n duisend-en-een-nag aangehou. Uiteindelik het sy kinders by hom gehad en word sy lewensmaat. Waarskynlik weens die kinders? Of het hy dalk wérklik bekoor geraak deur haar?


Sjeherazade se vader is die grootvisier, dus die hoof van die regering in ‘n Oriëntale wêreld. Die verhale skep ‘n spanning tussen die patriargie en die vroulike (skoonheid) wat die manlike orde troef.

 

‘n Verhaal sonder closure of ‘n klassieke verteling wat anti-closure illustreer. Nou onlangs het hierdie leser weer die klassieke verhale gelees vir navorsing oor ‘n roman, saam met Boccacio se Decameron (1620).

 

En nou land hierdie dik uitgawe van Abdolah/Van Zyl by my. Hemel en See is die uitgewer van die pragboek wat elke aand vir hierdie leser genot verskaf. Van Zyl rig die leser oor die aard van hierdie tekste wat as “saggekookte kinderverhale opgedien” is. Abdolah kom ook aan die woord as begeleier (‘n moderne toergids of museumbegeleier) van die verhale. Nou – soos Van Zyl dit stel – lees ons ‘n goedgekruide Midde-Oosterse gereg.

 

Verhale oor lotsbestemming (fata), woestyngeeste (djinns), die verhaal van Aladdin wat nie ‘n Oosterse verhaal is nie, maar eerder aan die Franse behoort. Towery, mense wat uit die dood verwek word en die verband tussen toevallighede. ‘n Boek vol sosiaal-kulturele kennis – soos oor die Kaäba (vir hierdie leser).

 

En die gewone mens leer om geduldig te wag en geweld af te keur (134).

 

Die verhale wys op verskillende vertelkonvensies en ook oor die verskille tussen Islam en die Christendom.

 

En lewenslesse wat ingebed is in hierdie verhale. Dit was ‘n ander tyd en die konvensies van storievertelling anders. Geskep in die Islamitiese Goue Eeu.

 

Ons verneem van die poësie in die vertellings en die “prikkelende seksuele gedeeltes” van ou vertellings wat Galland geskrap het (349). Hierna het die Arabiere weer die wetsbepalings ingevoeg.

 

Ons kry dan van hierdie gedigte te lese. Die Persiese samesteller, verneem ons verder, en die poësie soos kleurryke mosaïeke in die verhale gemonteer. Rumi is hier, 800 jaar jonger as die storieverteller.

 

Abdolah vertel ook hoe sy oupa en oupagrootjie hul eie gedigte ingesmokkel het in die Duisend-en-een-nagte. Dadelpalms, die reise na Mekka (en die beproewinge) en die karavanserai word eweneens verduidelik. 

 

Die betekenis van heilige plekke en die Profeet Ghezr se rol word toegelig.

 

III

Primordiale tekste verklap alles wat ‘n mens van stories moet én wil weet. Hierom het  gesiene literatore soos Harold Bloom en Frank Kermode insigryk geskryf oor Bybeltekste. Job is waarskynlik een van die Bybeltekste wat die meeste byval vind by literatuuranalises nes die boek Jona.

 

En Bloom het verder indringend oor die Kabbalah geskryf. 

 

Open sesame soos ons weet uit “Ali Baba en die veertig diewe”. Verhale waar mense mekaar uitoorlê is hier belangrik. En resiteurs wat die Koran ritmies sing.

 

Die voorblad verskaf vele kodes vir die leser wat wil dieper kyk in die boek wat as volwasse leesstof bemark word. Die boek het my weer geneem na A.S. Byatt se The Djinn in the Nightingale’s eye (1994) wat inspeel op hierdie klassieke teks.

 

Lees hierdie boek met stories uitstekend vertaal deur Wium van Zyl. Dit is leesgenot uit die allerboonste rakke.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

 

Sunday, March 8, 2020

Resensie | Jeanne Goosen – Het jy geweet ek kan toor? (2020)

Jeanne Goosen – Het jy geweet ek kan toorHemel & See Boeke, 2020. ISBN 978-1-928283-38-6

Resensent: Joan Hambidge


Ek leef op die kantlyn
grotesk trots op my andersheid

Hierdie bundel moet saam met Goosen se Los gedagtes (aforismes) gelees word. 

Die bun­del beslaan 'n tydperk van meer as vyftig jaar en die broksgewyse, nie‑opeenvolgende gedigte is met sorg uit die verskillende bronne byeengebring, verduidelik die samesteller Petrovna Metelerkamp, wat tans besig is met 'n biografie oor Jeanne Goosen.

Goosen skryf met die hand. Sy hou dagboek en daar is vele notaboeke. Sy is 'n veelkantige figuur: sowel digter as romanskrywer; dramaturg en kabarettis. 

Die letterkunde is vol van werkboeke met onvoltooide werk, verskillende weergawes en nagelate verse. Daar is die Tristia-sketsboek en Helize van Vuuren het al gewys op die verskillende titelvariante en brugtekste in Literator 7, 1986. Daar is Opperman se bundel Sonklong oor Afrika (2000) deur J.C. Kannemeyer versorg. Johann de Lange het 'n keur gemaak uit Wilhelm Knobel se digkuns postuum: As die woorde begin droom (2011).

Hierdie soort teks is 'n argief. Dis 'n navorsingsbron vir die soort leser wat reeds gepubliseerde tekste wil vergelyk met wat in die lou-oond is. Watter motiewe word herhaal? Hoe word beelde gesirkuleer? In die woorde van Marietjie Coetzee, kundige oud-uitgewer: “My gevoel tot dusver is dat jy alles moet insluit omdat sommige versreëls of strofes ook as ‘konsepte’ van latere gedigte beskou kan word. Vir ’n navorser dus belangrik omdat dit iets van die skeppingsproses van die gedigte vergestalt. Daar resoneer selfs versreëls of langer gedeeltes van haar prosawerk in die versameling. Gedeeltes wat dalk nie op peil is nie, openbaar Jeanne as mens, as ‘rare voël’. ”

Die bundeltitel dui op die skryfproses, soos Goosen dit stel:

Ek met taalgebrek
moes swygend losgoed speel
met pyl en boog en rats
my eie wondbaarheid kwes
ek ken nie ek.
Maar uit die koel fontein van jou mond
het ek my dors geles
en my eerste woorde, skugter gesê:
Ek is moeg.  (16)

Goosen het van die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans geskryf. Oor die verlange wat haar "dertig en droef" gemaak het.

Hoe moet ek sê hoe ek regtig voel?
Vanoggend het my geliefde
die haard verlaat.
Sy, met haar mooi oë en sagte lyf
het in die wêreld verdwyn. Sy is elders aan diens nou.
Hunkering is ’n wond.
Dit het – soos woede – ’n toekoms.
Hoe – hoe moet ek sê
hoe moet ek sê, hoe ek regtig voel?  (25)

Verskeie kere ondersoek sy die donker kant van haar psige. Hierdie gedig aktiveer die motto uit Om 'n mens na te boots(1975) wat die plesier van malheid ondersoek via Dryden: There is a pleasure sure in being mad which none but madmen know.

Depressie

Dis so afgryslik soos dit nice is ook
die vrees is om in vrees te leef
en ’n vrees vir die verlies daarvan
O, die ekstase van afgryse  (55)

Goosen is bewus van haar dubbel-aard:

Twee diere het ek:
die een is ’n afshow-gat
’n regte clown
dis ek orraait
Die ander optel-gryse
is skugter
Dis ook ek
immer aan ’t
koes koes koes
vir menslike aanraking  (84)

En sinisme oor die mensdom, vind 'n mens ook hier:

Dood is ’n geheime organisasie. Dis ’n party animal. (129)

Die diva Coertse word besing en Goosen het 'n enorme kennis van musiek:

Vir Mimi Coertse

21 Februarie 2008

Ek hoor jou stem. Ons praat 
en my niere verdriedubbel
Ek jubel uit twaalf harte 
Hoe lief het ek jou nie
My verdwene verstandtande
gloei in die oorsprong van hulle oerwortels
O my nar
my droewige lemoen
jy sing Stabat Mater
jy die pragtige jy
die onvernietigbare rooi ballon
teen die hemelruim.  (98)

Die bundel is ver van "af" of voltooid, maar die voorwoord waarsku jou dat jy fragmente gaan lees. En selfs in die lopers, is daar verstommende oomblikke wat jou weer terugneem na haar veelkantige oeuvre.

Die boek neem sy plek in neffens die lang galery van onvoltooide tekste. 'n Mens dink aan Truman Capote se Answered Prayers: The Unfinished Novel. Hieroor was die kritici uitermate bitsig, hoewel daar volgens hierdie leser nagelaat is om te kyk hoe dit resoneer met sy ander werk.

Hierdie boek het my weer laat nadink oor die argief as 'n bewaringsplek, stoorplek, maar ook om 'n portret te gee soos Janet Malcolm doen in The Freud Archives (Papermac, 1984).

In die digter se eie woorde:

“Wanneer ek die dag ’n gedig skryf, ís dit vir my ’n ‘noodgeval’. Ek moet dit dán doen, anders word ek siek en onregeerbaar en bakleierig. Skryf laat my beter voel. Vir my is dit iets soos om sekere gevoelswaarhede bokant die intellektuele analise te stel, maar sonder om die rede te verwerp. Surrealisme is ook vir my ’n lekker wegkruipplek.”

Gaan luister hoe Nicole Holm Jeanne se gedigte voorlees (26 Jeanne Goosen gedigte gelees deur Nicole Holm - YouTube).

Ons kan nie soos wees nie Jeanne nie. Jeanne is 'n kreatiewe wonderwerk. Dink net hoeveel keer het mense nie al geuiter "ons is nie almal so nie"!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Saturday, February 15, 2020

Resensie | Jeanne Goosen - Los gedagtes (2020)

Jeanne Goosen - Los gedagtesHemel & See Boeke, 2020. ISBN 978-1-928283-37-9

Resensent: Joan Hambidge

Jeanne Goosen beklee 'n ereplek in die galery van romanskrywers in Afrikaans: ons dink aan Om 'n mens na te boots (1975) met sy surrealistiese aanslag; Ons is nie almal so nie (1990) met sy onskuldige kinderverteller wat leuens aan die kaak stel;  Lou-oond (1987) met haar sterk feministiese onderbou, is bekende en belangrike tekste. As digter is sy eweneens gerekend en lank voor die praatvers mode geword het, is dié vorm ontgin. Dink maar aan 'n Uil vlieg weg van 1971. 

Haar laaste bundel Elders aan diens (2007) is 'n kragtoer. 'n Pawpaw vir my darling (2006) is verfilm, terwyl sy in Plante kan praat (2010) op 'n aweregse manier kyk na plante.

Die kortverhaal "Aan die einde van die reënboog", met 'n singende Anneli van Rooyen,  beloer gendersake eweneens vanuit 'n dwarse perspektief.

Daar is ook dramas en kabarettekste.

Nou verskyn Los gedagtes. Goosen het sowat 'n dekade gelede in By (in Die Burger) weekliks 'n rubriek gehad waarin sy die menslike kondisie beloer het. Menige Saterdag was hierdie leser lam van die lag.

Los gedagtes bevat aforismes wat grappig, absurd en hartseer is. De la Rochefoucauld was 'n beoefenaar van hierdie vorm soos Oscar Wilde wat dikwels 'n dwarsklap kon uitdeel. Hennie Aucamp is eweneens bekend vir sý aforismes soos  Kommerkrale: ’n AB-jap vir akoliete (1983) Pluk die dag: aforismes en ander puntighede (1994).

In die digkuns word dit die epigram met Van Wyk Louw as die koning van hierdie vorm in Tristia:

Epitaphe pour lui-même

Hy het nooit danig waffer liefde ooit gekry, nè?
Maar watter danige liefliheid was hy?

*

Humor, die oog vir die absurde is volop in Goosen se teks.

Hier is dan haar credo wat die teks se rigsnoer is:

Ek verteenwoordig niks. Wat ek besit, is nie ek nie. Niks verteenwoordig my nie. Maatskappy dwing die res op my af. Ek leef in ’n gemeenskap, seker en onderdanig, maar dit is die maklikste manier waarop ek ongesiens verby kan mik. Dis miskien waarom ek soms skryf. Ek wil die absurditeite wat ek om my sien of ervaar, onthou. (56)

Pretensie en vernaamdoenery word telkens aan die kaak gestel:

As iemand praat en jy verstaan niks wat hy sê nie, is hy ’n filosoof.  (12)

En hierdie stelling laat jou weer dink:

Kreatiwiteit is nie verbeelding nie. Dit is onderwerp aan die risiko om aangesig tot
aangesig met die realiteit te kom. (13)

Mal humor klink so:

Durban is warm vandag. Ek voel soos een wat in ’n marathonatleet se sokkie woon. (113)

Moet nooit ’n geskenk aanvaar wat eet nie. (13)

Wrang, wrang uitsprake is daar volop soos:

As jy selfdood wil pleeg, bly leef. Lewe
is op sigselwers een lang selfdood. (14)

Moenie steel nie, die regering hou nie van kompetisie nie. (16)

Trou is ’n begrafnis waar jy jou eie blomme ruik. (17)

Moet nooit mense se intelligensie oorskat nie. (39)

Die boek wil kennelik ook die gek skeer met selfhelpboeke:

’n Kritikus is ’n ou sonder bene wat ander leer hardloop. (69)

Moenie bang wees as jou vyande jou kritiseer nie, vrees hulle as hulle jou prys. (68)

Hou dagboek. En eendag sal dit jóú hou. (69)

Die kuns is om te leer hoe om jou ontevredenheid interessant aan te bied. Jy moet entertain, mense daarmee vermaak. (21)

Ek ken al die antwoorde maar ek verstaan nie die vrae nie. (23)

Vroue voel skuldig oor vet – selluliet heet dit. Dis omdat hulle lywe nie hulle eie is nie, maar aan die gemeenskap behoort. (25)

En die volgende het 'n bulder ontlok:

Daardie oor-bekende skrywer? Sy laat nie een steen ongepubliseerd nie. (47)
En is die volgende nie waar nie?

Jy is wat jy haat. (52)

Mense wat in glashuise woon, moet in die donker uittrek. (53)

Dis nogal lekker, as jy tyd het, om die TV of die radio te surf. Dallas is terug op e-TV en elders red dr. Phil drie huwelike binne 50 minute. Vir mind-boggling is daar Radio Kansel. (63)

114 bladsye van loutere genot. Petrovna Metelerkamp, haar uitgewer, het alles opgeteken wat Goosen in notaboeke gekrabbel het. Goosen skryf dan ook met die hand. Binnekort verskyn daar 'n biografie en nuwe digbundel by hierdie uitgewershuis.

Diegene wat Goosen ken, weet sy is  'n ryk geskakeerde skrywer en persoon. Vol teenstrydighede: enersyds sensitief-weerloos, andersyds satiries-snaaks. Om haar te beleef, is asof 'n mens in 'n teaterstuk beland sonder én soms met improvisasie. Met Jeanne wat die pret dikteer.

Sy is Fellini en Pirandello saam in een mens.

En hierdie gedig is Goosen-vintage:

"My Mamma is bossies" word deur Elize Cawood vertolk (Naomi van Niekerk is die kunstenaar) in Filmverse2, die ATKV-projek saam met Fopspeen Moving Pictures.

My mamma is bossies
uit haar een oog huil sy Puccini
uit die ander oog betig sy my
Snags kweel sy: Bedaar, my kind, bedaar
môre kry jy van soetpap en melk

My mamma is bossies
Ia sona molto felice, sing sy
en pak haar kaarte uit
Hoe mooi is sy nie
sy met haar hare soos pruimedante
my bossiesma met haar taai drome
en onverwagte uitgelatenheid.

My mamma is bossies 
Sy is dood nou
ingeweef in die familietapisserie
Sy jaag haar ganse strandlangs
met ’n dun swepie aan
Sy draai om, sien my 
my agterstevoorkind, sê sy
mag dit goed gaan met jou

Uit: Versindaba 2007, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2007

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Thursday, October 17, 2019

Resensie | Gerard Scholtz – Hier gaat ons! Reise en rampe (2019)

Gerard Scholtz – Hier gaat ons! Reise en rampe. Hemel & See Boeke, 2019. ISBN 9781 928 283 249

Resensent: Joan Hambidge

Gerard Scholtz se reisboek is genoeglik en met pragtige foto's en kaarte. Dit is geskryf in die oomblik met outentieke beskrywings van fiets- en motorry deur Europa. Hy hou dagboek en vermaak die leser met presies dít wat reis aan jou doen. Jy verwag iets waarna jy verbete soek soos in die ontglippende Ierland waar die kos onaangenaam is en die kerries tuis lekkerder smaak. Die kaarte (met die hand geteken) vertel vir die leser presies vertel waar hy en sy vrou hulle bevind.

Dit is ‘n reisbeskrywing wat slaap in tente en beskeie herberge goed karteer. Roughing it, dus.

Reis is letterlik ‘n verregaande proses, van ver wees van jou bakens (en na aan jou skade). Scholtz beskryf rampe uitstekend: en die vreugdes van reis wat 'n mens dikwels eers by nabaat kan insien. Anuta se siekte (vergiftigde waatlemoen wat met riool bemes is) kon erger afgeloop het. Ons lees ook hoe hulle mekaar verloor het in Basel. Anuta gee haar weergawe. En Gerard syne. (Wat bewys hoe subjektief mense onthou en vertel).

Siekte, beursies wat verloor word, klein rampe (soos 'n wind wat 'n tent wegblaas), misverstande rondom taal, luide kampeerders, fietse wat breek, 'n battery van 'n motorfiets wat die gees gee, is van die ellendes wat die reisigers moet trotseer.

Daar is ‘n pynlike moment wanneer hulle twee oumense in 2016 (presies twintig jaar later na die ontmoeting) in Bajna gaan opsoek om hulle te bedank vir hulle hulp met Anuta se siekte. Ontnugtering. Die ou mense herken hulle helaas glad nie.

Die reisboek verwys dikwels na engele wat die reisigers bystaan ('n kavalkade van engele) en die geskiedenis word dikwels met 'n tersluikse verwysing bygehaal soos in 'n reis deur Praag (169).
Rusland moet eerder van ver bekyk word. Van naby is daar te veel ellende.

In die Oos-Bloklande is daar dikwels ernstige kwessies wat die reisigers in die gesig staar. Hier kan 'n mens nie help om te dink aan die films van Tarkofski en Béla Tarr (die Hongaarse fillmaker) nie. Of Ingmar Bergman. Die skrywer verwys na films (veral in die Oos-Blok-lande) om ervarings weer te gee. Die stiltes, die donkerte, die wag ...

Daar is 'n verwysing na Schindler's List en die plek waar dit geskiet is (188).

Die beskrywing van die Joodse ghetto in Krakow sal hierdie leser altyd bybly. Die impak van die oorlog wat mense nooit sal verlaat nie, is so. Die weergawes van Istanboel het my terug laat verlang na die ou gedeelte van die stad. Begraafplase verklap eweneens iets van 'n stad se binnespraak. Nes kerke en katedrale.

Humor is daar ook. Vodka wat soos mampoer proe. Of die kaal Fransman met ‘n baguette onder sy arm op ‘n fiets.

In meeste van hierdie streke het ek beweeg - maar per trein, bus of vliegtuig en nie soos Scholtz en sy reisgenoot 'n outentieke ervaring gehad nie. Die stamina moet beslis bewonder word. 

Elke mens reis op sy eie manier. Hierdie reisigers reis ín die land in. Hierom is daar opdraandes. Letterlik en figuurlik. Soms wonder die leser: waarom dit tog aandurf as jy weet die toilette gaan vuil wees en die kampe onherbergsaam? Waarskynlik omdat die begeerte om 'n vreemde plek te ervaar allesoorheersend is en dalk is hierdie ellendes wat oorwin word uiteindelik die lekkerste verhale om agterna te vertel. (Soos die uwe wat altyd die jong man sal onthou op ‘n trein langs die fjords in Noorweë wat ‘n kombers vir my geleen het of ‘n jongeling op ‘n stasie in Rome wat ‘n bier gegee het vir die dorstige reisiger.)

Dit is 'n boek oor onvoltooide reise en hiermee word daar kommentaar gelewer op die lewe as 'n reis. In die afdeling “Moet nooit omkyk nie” word besoek afgelê by Alma in die Waterberg. Die nostalgiese verlange word egter ‘n ontnugtering. 'n Mens moet helaas nooit terugkyk nie (soos Lot se vrou) want die idille word beter bewaar in die gemoed.

Turkye, die Oosblok, Egipte, Frankryk, Ierland, Rusland, Wallis is van die plekke wat besoek is. Elkeen se aard word kort en bondig opgesom met historiese en geografiese verwysings.

Hierdie leser verkies 'n luukser reis met hotelle (nie herberge nie) en georganiseerde bustoere eerder as 'n sulke pelgrimstogte. Roughing it, is vir my kamerdiens. Die wins is egter die mooie boek wat sy plek inneem langs gesoute reisskrywers in Afrikaans soos Uys Krige, André P. Brink, Hennie Aucamp, Marié Heese, André Pretorius, Erns Grundling ...

Dit is 'n boek vol serpentinas.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, July 11, 2013

Hennie Aucamp - Mits dese wil ek vir jou sê (2013)



Hennie Aucamp. Mits dese wil ek vir jou sê: Briewe van Hennie Aucamp, saamgestel deur Petrovna Metelerkamp. Hemel en see boeke, 2013. ISBN 9780992174347.

Resensent: Joan Hambidge

In ’n brief aan Johann de Lange (20 November 1996) skryf Aucamp dat briewe, nes dagboeke, nie net ’n lewensgang bring nie, maar ’n groot stuk sosioliterêre en sosiokulturele geskiedenis weergee.

En dis hoe ek hierdie versameling briewe lees. Enersyds ’n lewensverslag, ’n leesverslag, ’n ego-dokument, maar andersyds ’n analise van die subgenre: die brief. Briewe – met ’n stempel daarop – en briefskrywers behoort al bykans tot ’n vervloë tyd. In Laclos se beroemde roman Gevaarlike verbintenisse word briewe wapens teen mense. Volgens Aucamp maak briewe altyd van jou die eerste ontvanger. Ontvanger en redigeerder (bl. 102) teenoor eposse (wat hy nie vermeld nie) wat vinnig en dikwels ongeredigeer versend word. Aucamp bely ook hoe hy briewe oor en oor lees voordat hy dit pos.

Aucamp praat met vele mense en hierdie boek moet saamgelees word met sy dagboeke. Hoe die brief en die dagboek mekaar voed, op mekaar inspeel, is tersaaklik vir die Aucamp-leser. Aucamp is altyd in sy wese aforis en opvoedkundige. Hy leer mense hoe om te skryf, onder meer, hoe die slot van ’n verhaal daar moet uitsien en die briewe aan M.C. Botha is hiervan ’n bewys. Aucamp se Die blote storie is waarskynlik een van die beste skryfhandleidings. Dit wys ook vir die jong en voornemende skrywer hoe belangrik dit is om te lees. Jy kan net goed skryf as jy gelees het.

En wyshede is daar ook vele van. ’n Klassieke werk, aldus Con de Villiers, is nooit deur ’n spesifieke mens gemaak nie. Die spesifieke mens was net die kanaal waardeur dinge van Elders tot ons gekom het.

Vir my is die briewe aan Eybers – wat hy as Liesbet aanspreek – eenvoudig wonderlik oor hoe een kreatiewe mens op ’n ander reageer. Oor Tydverdryf / Passtime skryf hy tereg dat daar reëls in hierdie bundel staan wat voel asof hulle altyd daar was (bl. 138). In ’n mens se verbeelding kan jy Eybers se ironiese, gedistansieerde reaksie sien.

Briewe aan Elize Botha en Audrey Blignault is eweneens boeiend. “Ontydige pryse,” meen hy in ’n brief aan Botha, bl. 49, “is soos buitenseisoense ryp – dit kan die plantjie tot op die grond toe verskroei”. En “Energy is our capital”, haal hy vir Doris Lessing aan (bl. 54). In 1986 beskou hy die literêre kritiek as ’n bedryf van inteelt, naamsmousery, laster, respekloosheid (bl. 61).

Op ’n ander plek vind hy min kreatiewe rolmodelle; eerder te veel opportuniste.

Soms lewer hy skerp kommentaar op ’n medeskrywer se manier van doen (bl. 68). Hy kritiseer die skynwysheid wat die tekste bederf.

Maar dit is veral die analise van die brief se invloed op sowel leser as skrywer wat hierdie bundel so belangrik maak: “Kry ek toevallig ’n brief uit ’n vroeër periode in my lewe te lees, vervul dit my met ’n soort bevreemding: Wie is die mens wat dié brief geskryf het? Hoekom so intens? Hoekom so meedoënloos? Hoekom so weerloos? Die soektog na briewe is nie net ’n soektog na verlore tyd nie, dis ook ’n soektog na ’n verlore self. ’n Self met dowwer kontoere – of ander kontoere – as die huidige” (bl. 152). En een van die winste van die brief, meen Aucamp, is dat jy via ’n ander in dialoog met jouself betrokke raak (bl. 156).

Hy gee wenke en bly bewus van mense se belangstellings, byvoorbeeld in die Boesman-kultuur (hy verseg om die woord San te gebruik) in briewe aan Helize van Vuuren, ’n kenner in dié vakgebied.

Die verskille tussen die dagboek en brief lê vir Aucamp in publiekgerigtheid en tydshantering.

Die briefskrywer stem hom in op die temperament en belangstellings van die ontvanger van sy brief.

Die dagboek is onmiddellik; die brief lewer verslag oor ’n langer stuk verlede tyd. Hierom dan is die brief vir Aucamp ’n “surrogaat”- dagboek.

Dit is die reaksie van ’n gevoelige mens op ’n kultuurlewe en vanselfsprekend gaan ’n mens nie oral akkoord nie, soos die sieninge oor postmodernistiese ooreisings in die moderne digkuns of die kritiek op Arrie Rossouw, voormalige redakteur van Die Burger, se “sensurering” van ’n literator se ingesonde stukke (bl. 338). Dit is immers die verantwoordelikheid van ’n redakteur om toe te sien dat die letterkundige gesprek beskaafd en regverdig bly; dit is sy werk.

Dis ’n pragboek en juis hierom is dit jammer dat Ernst Lindenberg se naam verkeerd gespel word op bl. 124. Wilna (in plaas van) Wilma Stockenström (bl. 73). Annelien Kriel in plaas van Anneline Kriel (bl. 78)!

Mimi Coertze in plaas van Coertse (bl. 161).

Ge-zelle in plaas van Gezelle (bl. 286). Die dubbelpunt kort ’n spasie op bl. 165.
Ordentlikhied (bl. 292).

(Bogenoemde is vir die redigeerder se rekening.)

Dit is ’n belangrike tydsdokument: briewe van ’n intelligente, sensitiewe persoon wat Afrikaans kan beheer soos min ander.

Nou onlangs het ek ook Saul Bellow se briewe gelees en ’n groot skrywer huisves immers altyd meer as een persoon.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, March 4, 2013

Winnie Rust - Martha. ‘n Verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford (2004)



Winnie Rust. Martha. ‘n Verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford. Hemel & see boeke, 2004. ISBN: 0 620 32476 7.

Resensent: Joan Hambidge

Martha is ‘n verhaal enig in sy soort: die eerste (en waarskynlik enigste) bruin vrou met ‘n Britse adeltitel: the Honourable Lady Martha Solomons, Countess of Stamford. Die ‘buzz’-woorde van ons tyd word dus deur hierdie roman geaktiveer: ras, klas, identiteit en die koloniale diskoers.

Nou is dit so wanneer ‘n mens inbeweeg in die domein van die Kaapse leefwyse aan die einde van die negentiende eeu, skryf jy teen die grote Karel Schoeman in, by name. En die leser van die historiese roman is ook ‘n punteneurige aasdier wat enersyds ‘n feitelik-korrekte verslag verwag en andersyds ‘n storie, dus ‘n ‘onwaarheid’ of fabrikasie van die gegewe wil lees. En wanneer daar afgewyk word van die feite, moet die verhaal sterk genoeg wees om die leser te oortuig. Ons dink hier aan beoefenaars van die genre soos J.M. Coetzee, Dan Sleigh, Dalene Matthee, en andere. Jeanette Ferreira, self ‘n bekwame romanskrywer, beweer dat hierdie roman ‘n trotse plek in die galery van historiese romans kan verower. Nogal groot woorde, sou u meen.

Vanaf die eerste woorde (wat terloops in die roman die belangrikste woorde behoort te wees) weet die leser instinkmatig dat hierdie roman nog ‘n herskrywing benodig het.

Die prosa is vaal en die poging van die skrywer om te verduidelik dat sy in die taal van die fokalisator weergeem is waarskynlik binne die opset van die episodiese roman oortuigend en aanvaarbaar. Dit is immers dan ook een van die kenmerke van hierdie soort roman waarin ‘n ouktoriale verteller die gegewe struktureer (hier met hoofstukindelings) en dan ‘n verteller aanstel om die storie te vertel. Miskien sou ‘n duideliker afwisseling tussen ‘n meer beheerste stem en die naïewe verteller dit opgelos het. ‘n Mens dink hier aan Tom Jones, aan die romans van Dickens. 

Met groot vrug het Erica Jong hierdie tegniek gebruik in Fanny waar hoofstukindelings die storie stuur. Daar is bepaald aangrypende passasies in Martha, maar die storie is dikwels te tydskrifagtig na my sin. Dit bewys weer dat die stem van die verteller van uiterse belang is en waarskynlik het die leser die gevoel dat die implisiete outeur en die karakters se stemme nie genoegsaam geskei is nie. Of dat ‘n stem outentiek moet klink. Ook word belangrike insidente te kursories vertel.

In die nawoord gee die outeur duidelike riglyne in welke mate sy gefiksionaliseer het. Wat bygesit is en wat weggeneem is. Soos dat sy Anib geskep het. Hierdie dinge wat vertel het, is die waarheid, verneem ons op bladsy 186 en dat dit vertel moet word in die taal van Martha Solomons se mense.  Die stem oortuig nie en is op die duur vervelend. Vir die kenner van die historiografie is dit bronne van uiterse belang om die letterkundige en historiese speurtog te onderneem. 

Hierdie vertelling staan waarskynlik nog te na aan die skrywer en haar navorsing en omdat sy die bronne goed ken, het sy dit nog nie genoegsaam in vertelling omgesit nie. Dit word inderdaad ‘n verhaal ‘oor’ iemand, in plaas van ‘n verhaal uit iemand uit. 

Waarskynlik is die grootste leesversperring dat die skrywer nie seker was waar om die verhaal te plaas nie: is dit populisties of is dit ernstige literatuur? As ‘n hoes vergelyk word met naels wat teen ‘n ruit krap (p. 188) wil dit waarskynlik eersgenoemde wees. Of die sielige tussenwerpsels soos “Harry, ai dié Harry” (p. 188).

Daar het die afgelope tyd soveel pakkende romans binne die Afrikaanse letterkunde verskyn (soos Agaat, Roepman, Voor ek vergeet) en dit is jammer om ‘n teks van hierdie ambisieuse opset te sien misluk. Die roman sou ook baat gevind het by ‘n strenger redakteurshand van ‘n Hettie Scholtz of Charles Fryer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]