Showing posts with label Fiksie. Show all posts
Showing posts with label Fiksie. Show all posts

Tuesday, December 22, 2020

Fiksie | Die geskenk | 2020

No such thing as a free lunch 

My vriendin in 'n kusdorpie is die eienaar van 'n gastehuis. 

"Ek kan al 'n boek skryf oor mense en hul gedragspatrone. Die grypsugtigheid. Die vermetelhede ..." Sy bly stil. Sy laat haar selde emosioneel sterk uit oor mense.

"Die ergste keer was daardie mense wat 'n naweek as geskenk ontvang het. Man en vrou. Skaars gegroet met die aankoms en vertrek sonder om te groet. Die muesli-bak geplunder en al die vrugte in die eetkamer saamgeneem."

 

Wat is die onderliggende en dus onsigbare geskenk tussen gee en ontvang?

Gee sonder om iets terug te verwag?

 

So neem ek jou - as gas - om jou te bedank vir alles na 'n 5-ster-hotel op dieselfde kusdorpie.

 

Van meet af aan was alles verkeerd volgens jou. Die kamer verkeerd gedekoreer. Die vloere ongelyk in die kamer. Die TV-kas vibreer wanneer 'n mens verby stap, mor jy. Ook die kos kritiseer jy. As goeie sjef laat ek jou begaan.

 

Net die wyn was nie gekurk nie. Wel buitensporig duur volgens jou.

 

Die aand is ons bed toe. Jy keer jou rug op my nadat jy Visi gelees het.

 

Die volgende oggend met brekfis knor jy oor die koue harde botter.

 

Toe ek die rekening vereffen, loer jy skelm om te sien wat die geskenk gekos het.  Miskien omdat jy as man voel 'n vrou kan nie vir jou betaal nie?

 

Net ás jy vir terapie betaal, werk dit. 'n Ou standpunt toegedig aan Freud.

 

Dieselfde geld geskenke. Het ek en die eienaar van die gastehuis iets anders verwag?

 

Dalk 'n onsigbare koepon van erkenning? Respek?

 

Tans wemel die stad van haweloses en bedelaars wat iets verwag.

 

"Waar is die skoene?", eis die bedelaar toe 'n vrou vir hom brood gee.

 

Altyd is daar 'n korrektief op 'n aanname. 'n Hawelose het vir hom 'n tentjie langs die park in Tamboerskloof opgeslaan. Reg oorkant my venster waar ek skryf. Bedags slaan hy die tentjie op en plaas dit in rolle teen die draad. Hy het 'n ou fietswieletjie as 'n soort tempeltjie opgerig en smiddae vee hy die straat skoon.

 

Soggens praat hy in tale. Volgens 'n taxi-bestuurder is hy 'n bietjie mallerig.

 

Toe ek hom vra wat hy hier maak, bely hy dat hierdie stad 'n geskenk van God is. 

En dat hy elke oggend tweekeer bid om genade. Dat hy soveel genade beleef ver van die Kongo.

 

En ek dink aan my ou vader wat ook die gewoonte had om tweekeer dankie gesê het in gebed:

 

My pa sluit die deur tweekeer

 

Tweekeer altyd

tjekkereer my pa

die voordeur voor

ons na iewers vertrek.

 

Presies tweekeer:

my pa tjekkereer

die slot van die deur

voor ons uitjek.

 

Geen bose magte betree

ons huis omdat my vader

presies ja presies tweekeer

praat met sy hemelse Vader.

 

So verstaan ek geskenke beter nadat ek hierdie geskenk uit die hawelose se hand ontvang het.

 

 

© Joan Hambidge

 

Monday, June 10, 2019

Fiksie | Joan Hambidge – Die Dolendes (2019)

I

Dit is al geruime tyd dat sy bewus is van die man en vrou wat snags voor haar woonstelblok slaap. In die nagte hoor sy hoe die man hoes. Dan praat die vrou. Soms wanneer die venster oop is, ruik sy daggarook.
Soggens vroeg is hulle reeds weg.
Hulle beddegoed word in 'n swart sak gehou en in die "boomhalte" geberg.
'n Ander keer sien sy hoe die man die deksel van 'n dreingat oplig en die swart sak daarin plaas.
Waar kom hulle vandaan?
Een nag baklei die twee gewelddadig en sy hoor hoe 'n swart man hulle tot orde roep. In Xhosa. Sy verstaan nie 'n woord van wat hy sê nie, maar uit sy stemtoon kan sy aflei dat hy hulle betig.
"Djou ma se p-.", skreeu die vrou.
Die hele nag lank is daar rusie. 
In die nag hoor sy 'n polisie-sirene. 'n Bottel breek.
Toe verdwyn hulle, die twee dolendes. Naamloos. Huisloos.

II

Na sy tronklewe het die skrywer Jean Genet glo snags na 'n park in Parys gegaan en sy tantième-state uit 'n boom gehaal. Dit was sy adres. Hy wou waarskynlik nie hê mense moet weet waar hy hom bevind nie.
Vir Sartre was hy 'n heilige: Saint Genet. Vir ander 'n blote dief, 'n boef, 'n leuenaar.
Genet se werk fassineer haar geweldig. In die vroeë oggendure sien sy hoe 'n eekhoring by die palmtak opklim tot bo-op die dak. Waarskynlik is dit sý slaapplek onder die warm teëls. 
Sy sit en skryf en kyk uit op Tafelberg en is bewus van die palmboom reg voor haar venster.

III

Die oggend sien sy hoe vuil dit onder die boom is. Papiere, plastieksakke en stukke tou is net so onder die boom gelos voor die woonstelblok. 
Bedags werk die opsigter in die tuin of verwyder vullis. Doen herstel- en verfwerk. Soms sien sy hom in sy buitekamertjie sit. Sy gee gereeld vir hom kos en klere. En sy het gereël dat hy 'n bonus met Kersfees ontvang.
Sy vra vir hom om die gemors op te ruim. Sy beloof vir hom kos vir die taak.
Na twee ure sien sy dit is nog nie skoon nie. Sy bel hom op sy sel.
Hy klink bot. "Ek kan nie daar skoon maak nie," sê hy. Hy verduidelik dat daar menslike uitskot is en dat hy bang is hy word in die verkeer raakgery. En wie sal dan betaal? 
"Ek het nie verwag jy moet dit verniet doen nie; ek het dan vir jou kos gegee ..."
Sy is verbyster toe hy die foon in haar oor neersit.
Toe sy weer bel, is daar geen antwoord nie.
Sy vrou werk in die blok by bure.
"Waar is hy?", vra sy. 
Reeds weg, antwoord sy vriendelik. Die sagte vrou uit Malawi.
Toe sy buite kom, staan die twee bokse oorskietkos voor die deur van die woonstel.
As 'n aanklag, 'n verwyt. 
Sy gee die bokse vir 'n karoppasser. Hy beloof om die vullis te verwyder. In haar truspieëltjie sien sy hoe hy met 'n hark en emmer die nodige doen.

IV

Sy lees in die vroeë oggendure verskeie studies oor ruimte. Lauren Elkin is die skrywer van Flâneuse,gepubliseer deur Chatto. Sy is 'n New Yorker woonagtig in Parys en hierdie boek karteer verskillende stede. 
Iewers het iemand geskryf dat dolendes en haweloses ook 'n ruimte begrens as húlle s'n. Soos dis "Dirk se erf":

Edms. Bpk.

Ek het ’n stukkie grond gekoop
met melkhout op; dit afgekamp
en teen die hek ’n naam geverf
sodat verbygangers besef:
Dis Dirk se erf.

Janfiskaal sit op my melkhoutboom,
sit op ’n kruin, sit op ’n rots,
en proklameer, in sy lied
soggens en saans luidkeels,
“Dis my gebied.”

Bakkapel glip uit my melkhoutbos,
verby die kruin, verby die rots,
en teken op sandkolle waar hy kom
oral in ouderwetse skrif:
“Alles… alles my eiendom.”

D. J. Opperman
Uit: Edms. Bpk. (1970)

Daardie klein eekhoring sien die dak as sy tuiste. Soos die haweloses die boom as hul slaapplek sien.

V

Hoe voel dit om van een land na 'n ander te migreer?
Verlang jy terug na die land van herkoms?
Na jou taal? Na jou gewoontes? Na jou kos? 
Die nuwe plekke van eensaamheid wat niemand werklik kan beskryf nie
En wat ons almal beleef: ek, jy, sy, die haweloses, die eekhoring, die opsigter ...
Almal dolendes, migrante, reisigers ...
Met taal en gewoonte-misverstande.

Octavio Paz skryf iewers: Tussen gaan en bly weifel die dag, // verlief op sy eie deursigtigheid. 

Tussen gaan en bly

(vertaling van Octavio Paz se “Between Going and Staying”)

Tussen gaan en bly weifel die dag,
verlief op sy eie deursigtigheid.

Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
waar die wêreld in stilte beweeg.

Alles is kenbaar en ontwykend,
alles is naby en onaanraakbaar.

Papier, boek, potlood, glas,
rus in die skadu van hul name.

Tyd wat in my slape klop, herhaal
dieselfde onveranderbare sillabe van bloed.

Die lig verander die ongeërgde muur
in ‘n spookagtige teater van afskynsel.

Ek bevind myself in die middel van ‘n oog,
kykend na myself deur ‘n ondeursigtige staar.

Die oomblik breek. Bewegingloos, 
bly ek en ek gaan: ek is ‘n ruspose.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

Friday, November 9, 2018

Fiksie | Die munt in die vis (2018)

I

Dit het my nog altyd opgeval dat stories na jou toe kom. Optelgoed is vatgoed.

So sit ek en gesels met my buurman, ’n diaken in die kerk, oor die rol van “toeval” in jou lewe. 

Oor hoe boeke (en veral mense) op die regte tyd hul aanmeld. En mirakels.

Dit is op die vooraand van ’n reis na Suid-Amerika. My reisplan is uitgewerk: Bogotá, Villa de Leyva, Medellin, Cartagena, Aracataca (om die geboortehuis van Gabriel García Márquez te besoek) en ten slotte: rustyd op ’n eiland.

En uiteraard besoeke aan kerke in Suid-Amerika. Soos die Zipaquirá Soutkatedraal wat mense besoek vir heling en waar hulle ondergronds aanbid.

Ek lees oor die gru-verhaal van twee Pitbull-honde wat ’n vrou iewers in die Mid-streke van die VSA aangeval het. Haar ribbes is letterlik opgevreet. Haar pa het uiteindelik na vele bespiegeling op Facebook met die storie na vore gekom. Nee, daar was nie vuilspel van ’n eks nie; net twee honde wat haar aggressief aangeval het.

Bevestig deur die polisie.

My buurman dink die twee honde het dalk baklei en die vrou het met haar binnetrede net die een hond meer aggressief gemaak. ’n Beriggie in die dagblad wat ons beide se aandag getrek het. Sy vrou het net die opskrif gelees en gegru vir die wrede storie. 

Hoekom sou hierdie verhaal my opval letterlik twee aande voor my vertrek?

Waarom sou die honde wat haar moes beskerm haar verskeur het?

My buurman is baie belese en ek hou van hoe hy ’n storie wat hy gelees het, óórvertel. Stephen King se “what if”-beginsel begryp hy. En die absurde verhale van John Irving. Sy vertolkings is dikwels sterk op die sub-teks gerig.

Die volgende oggend na ons kuier, vertrek ek na Suid-Amerika.

II

Op pad na Villa de Leyva is daar vele honde langs die pad. Rondloperhonde. ’n Dooie hond herinner aan die wrede verhaal van die Pittbulls in die VSA.

Daar staan vele beeldjies van die Madonna om reisendes te beskerm. En ’n reisiger het bepaald beskerming nodig. My tas kom drie dae laat aan op my reis; my komputerskerm moet ten duurste reggemaak word in Medellin; by my terugkeer het iemand op Oliver Tambo-lughawe my tas probeer oopbreek. Gelukkig sonder om iets te steel.

Maar wag, ek loop die verhaal vooruit.

In Villa de Leya beleef ons ’n primordiale wêreld van ou kerke, ’n sentrum vir UFO's en fossiele in die Centro de Investigaciones Paleontológicas.

Die Ecce Homo-kerk, oftewel die Convento del Santo Ecce Homo, met ammoniete en fossiele in die vloer , is ’n aangrypende ervaring. Dit staan 13 km buite die dorpie.

In 1620 het Dominikaanse priesters dit hier gestig. Daar is ’n lieflike tuin in die binneplaas.

’n Groot serpent (om die bose te vergestalt) teenoor ’n skildery van Christus. Is sy oë oop of toe? Dit is die vraag wat die priester aan jou vra.

Vir my is dit oop.

Die simboliek is fassinerend. Daar is pynappels, arende, die son en maan om die boodskap van Christus vir die inheemse mense toeganklik te maak. Verskillende primordiale verhale kom in hierdie wêreld byeen. Geloof teenoor ongeloof. Besoeke van vreemde vlieënde objekte en ruimtewesens. Erich von Däniken beweer dat Machu Picchu gebou is met die hulp van wesens van ander planete. “Paleo-kontak”, word dit genoem in Chariots of the Gods?

Hierteenoor die paleontologiese museum met die geskiedenis van die wêreld. En dan kerke wat op verskillende maniere Jesus Christus gedenk. 

Ek dink aan die munt in die vis. Die storie van Petrus en Jesus. Opgeteken in Mattheus 17:27.

Van Jesus wat vir Petrus sê hy moet die eerste vis wat hy vang se bek oopmaak en daar sal ’n muntstuk in wees en hiermee moet hy die belasting betaal.

Die vis en die munt is een van Jesus se bekendste mirakels.

In die vis se bek was daar ’n munt. ’n Dragma of shekel – net genoeg om die tempelbelasting te betaal – en hierdie vis is ’n tilapia.

Ek plaas ’n munt in ’n bussie. Vir ’n fonds vir rondloperhonde. Weerlose diere uitgelewer aan mense wat hulle versaak het. 

Die volgende dag besoek ons die beroemde Zipaquirá Soutkatedraal. 

'n Ondergrondse ruimte van aanbidding wat, gekerf uit die sout, die geboorte van Jesus tot en met Sy lydensweg uitbeeld. Daar is uitgekerfde kruise teen die muur. 

Ek sien ’n Ichtus-beeld.

Die Ave Maria speel in die agtergrond. 

’n Vrou stap die hobbelrige pad af na onder met ’n hondjie teen haar bors.

Ek hoor hoe sy bid om genade en heling – vir die hondjie.

Ongeveer drieduisend mense uit verskillende lande en wêrelddele het hierdie Sondag dié katedraal sonder ’n priester besoek.

Op ’n volgende vlug is daar ’n kind met ’n brakkie wat saamvlieg.

III

Wonderwerke, mirakels, toeval?

Daardie verhaal van die munt-in-die-vis beleef ek op ’n nuwe manier op my reis deur Colombië.

Wanneer ’n mens die Bybelverhaal lees, is Petrus onrustig dat hulle nie belasting betaal nie en dus deur die mense (en gemeente) verwerp sal word. Daardie munt het egter sowel sý skuld as Jesus s’n vereffen.

Het ek ’n ook ’n vis oopgesny en ’n juweel daarin gevind? Of was die juwele die verskillende “toevallighede” wat ek beleef het? 

Buite Medellin het ons blomme besigtig en iets probeer begryp van die Feria de las Flores (blommeparade). Deelnemers hieraan heet silleteros.

By ’n beskeie huisie het ’n vrou vir ons tee bedien. Later koffie. Toe ek vir melk gevra het, gaan koop sy dit by die winkeltjie oorkant die pad. Ek gee vir haar 2000 pesos hiervoor. 

Oorspronklik het die boere stoele op die rug gedra om blomme en vrugte te vervoer. Op hierdie feesdag word die stoel nou gepak met helderkleurige blomme. Jy moet vir ongeveer 3 km stap terwyl die toeskouers jil: “Jy kan, jy kan ...”.

En teen die muur van hierdie eenvoudige huisie is daar ’n houtbord in die vorm van ’n vis waarop staan: Mathías 17:27.

Daardie aand by my terugkeer by die hotel InterContinental, google ek die presiese teksvers op die internet:

En toe hulle in Kapérnaüm kom, het die wat die tempelbelasting ontvang, na Petrus gegaan en gesê: Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie?

Hy antwoord: Ja. En toe hy in die huis inkom, was Jesus hom voor en sê: Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde belasting — van hulle seuns of van die vreemdelinge?

Petrus antwoord Hom: Van die vreemdelinge. Jesus sê vir hom: Dan is die seuns vry.

Maar dat ons hulle geen aanstoot mag gee nie, gaan na die see toe, gooi ’n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom; en as jy sy bek oopmaak, sal jy ’n stater kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.


IV

By my terugkeer loop ek in my buurman vas. Vertel hom van al die wonderbaarlike verhale en ervarings op my reis. Hoe jy agterna beskou ’n draad van ontoevallighede kan saamtrek. 

“Wat as jy nie op hierdie reis gegaan het nie?”, vra hy.

“En wat sou met jou gebeur het as jy nie Cujo van Stephen King gelees het nie?”

“Daardie storie van die dier met hondsdolheid wat mense aanval?”

“Einste.” Hy is op pad kerk toe. ’n Kerk met ’n predikant wat ’n handvol gelowiges in die stadskom bystaan. Mense wat hulle tiendes gee en armes ondersteun.

Ek skeur die aand 'n koevert oop van Momentum wat belastinggeld aan my terugbetaal. Air France betaal geld in op my rekening vir die ongerief van die tas wat my drie dae later bereik het. In my posbus is daar nog ’n betaling vir skryfwerk waarvan ek al lankal vergeet het.

Die volgende dag versend ek geld na die Dierebeskermingsvereniging. Vir al die weggooihonde in ons stad.

Uit my beursie val daar ’n muntjie: 100 pesos.

© Joan Hambidge

Sunday, December 17, 2017

Fiksie | Joan Hambidge - Konterfeitsel (2017)

I

Ek lees vandag in die koerant se In memoriam van jou dood. 'n Foto van 'n veel jonger jy, die effens lonkende blik, die familie se medelye. Sonder die oorsaak van jou dood. Maar tussen die reëls staan dit dáár.

Ek plaas die koerant neer en dink na oor ons verbintenis. Toenadering van jou kant wat deur die jare driftiger en gevaarliker geword het.

Voel ek 'n verlossing? Voel ek aandadigheid? Dit was immers ek wat ...

My sielkundige het versoek dat ek, vir die wis of onwis, 'n verslag moet skryf in geval daar 'n verdere ondersoek plaasvind. In 'n gedistansieerde, sober aanslag. Sonder enige leuens of verdigsels.

II

Goed dan. Ongeveer twintig jaar gelede begin jy (ongevraag) met my te korrespondeer in handgeskrewe briewe. Bykans elke dag is daar 'n brief van jou. Dit word persoonliker. Dit begin my bedreig. Ek versoek jou om nie verder kontak te maak nie.

Ek, die romanskrywer toe woonagtig op 'n afgeleë dorpie, genaamd P.

Jy hou egter aan. Later begin jy my handskrif naboots.

Ek ignoreer jou verdere briewe. Op 'n dag bel my uitgewer my. "Hier is 'n manuskrip van jou. Maar ek kan dit nie publiseer nie. Dis iets wat jy al vantevore beter gedoen het."

Ek verduidelik aan haar van die briewe. Van die man se aanslag op my lewe.

Dit is in die dae voor die hoogbloei van postmodernisme en sy is nie beïndruk met die spel nie.

Sy stuur 'n afskrif van die brief aan die jong man aan my, die ouer vrou.

Daarna publiseer hy wél 'n roman waarin ek sydelings 'n rol vertolk. Die roman word nie deur die kritiek goed ontvang nie. Dis nou tien jaar later. Pastiche, skryf een resensent. Nabootsing, meen 'n ander.

Konterfeitsel, dink ek. 'n Verhaal waarin hy onbewustelik soos ek wil wees en my identiteit probeer kaap.

Ek verlaat die platteland en trek stad toe. Hy woonagtig toe op 'n ander dorpie in die Vrystaat.

My roman Begeerte begin vorm aanneem. Ek skryf 'n roman-binne-in-'n-roman met verwysings na werklike insidente en mense.

Die jong man publiseer 'n tweede boek. Hy dra selfs sy pen dwars in sy hemp soos wat ek graag doen vir vinnige notas of idees. Hy dra 'n Gucci-bril, nes ek. Gerugte doen die rondte dat hy ook dieselfde fabrikaat motor as ek ry.

Dat hy alles van my wil weet ...

III

The 'imitations' of A Sentimental Journey are uniformly disastrous - turgid, farcical and insipid, skryf Iain McGilchrist in Against Criticism (Faber & Faber, 1982, 151) oor Sterne se nabootsings in Tristram Shandy.

In Tennessee Williams se A Streetcar named Desire meen die desperate Blanche Dubois die dood is die teenoorgestelde van begeerte.

Of dalk is dit eerder waansin?

IV

Die ontknoping?

Ek het met hom begin korrespondeer, sy handskrif begin naboots en 'n roman in sy naam ingehandig wat tot 'n uitgerekte lastereis gelei het en hom finansieel geruïneer het.

Maar niemand kon ooit bewys dat ek daarmee iets te make had.

Dis tog alles net 'n spel, nie waar nie?

Opperman se blik-op-blik.

© Joan Hambidge

Sunday, November 12, 2017

Fiksie | Joan Hambidge - Die brief

Het jy 'n storie om te vertel? Ja, ek het. 'n Storie wat niemand sal glo nie. So reg uit 'n Borges-verhaal. Maar glo my, asseblief. Dit het regtig gebeur.

Op 'n Saterdag-aand neem ek 'n taxi in Kloofstraat net na 7. Na Burgstraat. Haiku, beduie ek.

Ek is pas terug uit Hong Kong waar ek en 'n vriendin 'n skouspelagtige nuwejaarsaand in die stad beleef het. Met vuurwerke.

In 'n restaurant eet ons pekingeend. Kyk uit oor die stad. Agter ons sit 'n man wat ons dophou. Hy lyk nes 'n man wat ek ook in Bangkok opgemerk het in die straat.

Die ou jaar lê in die asblik. Die nuwejaar is nog toegedraai in geskenkpapier.

Ons betaal die rekening en stap tot by 'n meter-taxi. Terug tot by die hotel in die middestad.

Later in die nag sien ek die man in die hotel. Hy sit in die kroeg wat niks meer bedien nie. Ek neem die roltrap verby die ontvangstoonbank van die hotel na buite om 'n sigaret te rook. Die boete om in die hotelkamer te rook is aansienlik. En my reisgenoot is boonop 'n nie-roker.

Die partytjie is verby. Die stad gaan more 'n enorme hang-over tegemoet.

Ek draai om.

"Het jy 'n lighter vir my?", vra die man. Op Afrikaans. Ons flits die gewone waar-kom-jy-vandaan- tot wanneer-keer-jy-terug-dialoog.

Hy woon in Johannesburg. Is hier vir sake.

"Ons reis net. Was in Bangkok vir twee weke." My vriendin aan die skei van haar man en ek besig om afskeid te neem van my maat. So 'n troos-reis met die gebruiklike uitruil van redes oor waarom dit nie meer werk nie. Sy tobbend oor Pieter; ek oor Hermien. Geen sms'e of boodskappe nie. Net stilte.

En die besef dat alles verby is. Die redes vir albei partye verskillend. Vir my die ontdekking dat sy eerder by 'n man wil wees.

Die man gee nie die gebruiklike besigheidskaartjie nie en ek ook nie. Wat sou sy sakereis tog behels? Speurder? Smokkelaar?

Oorkant ons hotel is die nagklub nog oop. Twee vroue steier die nag in. 'n Man agterna.

"Sal jy asseblief hierdie brief vir my pos in Suid-Afrika?"

Ek neem die brief en wonder waarom hy dit nie hier wil pos nie. Wie skryf nog briewe?

Ek druk my sigaret dood, groet en neem die roltrap. Dan die hysbak. My vriendin lê opgekrul in haar driekwart-bed. Die brief is vir 'n persoon in Kaapstad. Ek steek dit weg in my sak. Watter dringende boodskap is hierin opgesluit?

H. de Villiers. Toevallig dieselfde naam as my eks-geliefde?

Ek gaan badkamer toe, skakel die televisie af en slaap onmiddellik.

Dan wakker word. Brekfis. Lughawe.

Die reis is soomloos. Sy klim in Johannesburg af en keer huis toe. En ek reis terug Kaap toe. Met die brief in my sak.

Tot in my woning. Om dan die volgende dag die taxi te neem om 7 na Haiku.

Die tradisionele haiku is 'n gedig wat uit drie reëls bestaan met 17 sillabes. Met 5/7/5 sillabes.

Die vergete brief steeds in my sak. Langs my laptop.

In die donker Haiku onthou ek weer van die brief. Een van daardie briewe toegeplak met 'n gom wat jy kan ooptrek en weer oopmaak. Sonder om die brief te beskadig. So asof die versender sou weet jy gaan dit oopmaak ...

Ek besluit om dit te lees. Oorval deur nuuskierigheid maak ek dit oop.
Beste Hermien Teen die tyd wat jy hierdie brief sal ontvang, sal alles tussen ons verby wees. Eerder 'n brief as 'n sms of e-pos. Net vir jou oë bedoel. Ek gaan nie terugkeer nie. Ek is jammer om dit so oor te dra, maar ek sien nie meer kans vir 'n verhouding met jou nie. Ja, daar is iemand anders. Ek het nie die moed gehad om jou te vertel van haar nie. Sy woon in Johannesburg en reis nou saam met 'n vriendin na Bangkok via Hong Kong. Ek sien haar soms wanneer die vriendin op haar eie reis deur die stad. Sy is besig om te skei van haar man so ons kon nie saamreis nie. Maar ek gaan telkens tuis in dieselfde hotel.
 Ek is so verlief op haar dat ek enigiets sal doen net om by haar te wees. Ten spyte van ons verbintenis, was ek bewus van die vrou in jou lewe. Jy het nooit oop kaarte met my gespeel nie en hierom wil ek dit nou beeïndig. Jy sal altyd terug verlang na haar of na so 'n verbintenis. Die Johannesburgse vrou is waarin ek wil belê ..."
Toe ek opkyk, staan hy daar in die ingang van Haiku. Met my reisgenoot by hom.

In die donker restaurant kan hulle my nie sien nie. Ek maak die brief toe. Plaas dit in my sak.

'n Haiku is te minimalisties om my emosies te verwoord. Ek oorweeg 'n tanka. Die 31 sillabe-vorm geskryf in een reël. Die sogenaamde kort lied op Japannees.

Die liefde met haar
‘n Mount Fuji hoog met sneeu
koud, bitter ysig
maar binne waar niemand sien
‘n sluimerende vulkaan

Ek bestel pekingeend. Besluit om vir Hermien te sms:

Geskenk vir jou uit Hong Kong.Vuurwerke. Sien more gewone plek.

Laatnag sketter sy terug:

Hoor niks van hom... verlang na jou. Sien more. Wil alles hoor van die Ooste xxx

Ek is die laaste persoon in die restaurant. Neem 'n taxi terug huis toe. Sal ek vir Hermien die brief gee? Of wag dat sy hierdie storie lees en nadink oor die beginsel van Mark Twain:

“Truth is stranger than fiction, but it is because Fiction is obliged to stick to possibilities; truth isn't.”


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)