Showing posts with label Ingrid Jonker. Show all posts
Showing posts with label Ingrid Jonker. Show all posts

Wednesday, November 16, 2016

Ingrid Jonker - Versamelde gedigte (2016)


Ingrid Jonker - Versamelde gedigte. Human & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 7467 1

Resensent: Joan Hambidge

Ingrid Jonker is ‘n ikoniese digter. Soos Sylvia Plath en Anne Sexton. Nes die Russiese digter, Marina Tsjetajeva. Hulle lewens is verbind aan hul bloedige digterskappe wat in selfdood geëindig het. Lees jy die lewens raak in die gedigte, sien jy die lewe as ‘n litteken. Jy kan nie die verse los van die tragiese eindes lees nie.

Trouens, die teks is die grafskrif met sy geboorte- en sterftedatum soos die digter Johan van Wyk in sy studie aangetoon het. Al vier hierdie digters bly muses veral vir vrouedigters. Hulle bekoor jong lesers. Hulle is soos ‘n Lorelei. Hulle word mites. Oor die impak van Jonker op Johann  de Lange se digkuns het ek al uitgebreid geskryf op my blog. (Woorde wat weeg. Studie/ Die digter as Lorelei: Die fenomeen Ingrid Jonker en haar tweede lewe in enkele verse van Johann de Lange)

Jare terug het hierdie leser 'n kursus aangebied ("Die gedig as wond") waarin Jonker, Sexton en Plath psigoanalities beskou is.

Die Versamelde gedigte is sopas her-uitgegee deur Human & Rousseau met 'n leesverslag van Danie Marais wat argumenteer dat haar gedigte as selfstandige gedigte gelees kan word. Sy het dus beduidende gedigte geskep ten spyte van haar verliese; nie as gevolg daarvan nie. Hy sluit af met die oordeel dat haar gedigte as gedigte bly staan:"anders sou goeie poësie so volop soos trane gewees het". Op die agterblad staan "Ramkietjieliedjie" (89):

Net waar ek gaan
is 'n pad voor my oop
wat skerp uit my oë
soos 'n litteken loop

Hoe dag ook verblou
of rooikam om my
ek volg net my hartseer
en die naambord is jy

Die Amerikaanse digter James Dickey het jare gelede hom sterk uitgespreek teen die ophemeling van Sylvia Plath se verse en dit as "pateties" beskryf. Destyds het ek dit skokkend en gemeen gevind. Lees 'n mens Jonker net as poësie is daar uiteraard 'n handvol sterk, liriese, aangrypende, meesleurende verse. En vele lesers ken van haar gedigte uit hul kop uit. Daar is ook lesers in Afrikaans wat soos Dickey krities staan oor die aanprysings.

Sy is gebloemlees, vertaal deur Antjie Krog en haar voormalige minnaar, André P. Brink (Black butterflies) en vele palinodes, pastiches en teensange is oor haar gedigte geskryf. Sy is eweneens deur dramaturge (o.a. Saartjie Botha en Deborah Steinmair) ontleed en biografiese studies het verskyn deur Louise Viljoen en Petrovna Metelerkamp. Gerrit Komrij het die dokumente gekoop en Portugal toe daarmee gegaan en daar is songs oor Ingrid Jonker o.a. deur Laurika Rauch en Chris Chameleon. 'n Brieweboek, Vlam in die sneeu, het eweneens die komplekse verhouding tussen haar en Brink ontsluit. Daar is films oor haar lewe. "Die kind" is in die parlement voorgelees.

Daar is waarskynlik meer gedigte oor haar lewe en tragiese selfdood geskryf as oor enige ánder figuur in Afrikaans.

Gestel hierdie bloemlesing sou ek kon optel sonder om iets te weet van haar konflik met haar geliefdes en haar vader, en haar selfdood, watter gedigte sou uitstaan?

"Bitterbessie dagbreek", "Korreltjie sand", "Toemaar die donker man" , "Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga", "Moenie slaap nie", "Ek herhaal jou", "Windliedjie", "By die Goodwood-tentoonstelling", "Ontvlugting", "gistraand", "mamma" en "Waterval van mos en son", sou ek as uitsonderlik aanteken.

En hierdie verse is dan ook deur die tyd bewese, klassieke, gekanoniseerde verse. Op haar beste kan sy verdriet en ontgogeling raakvat met min woorde:

die liefde is niks anders
as die verlange

Hierdie bloemlesing is gebaseer op die derde en hersiene weergawe van die Versamelde werke. Daar is 'n handtekening voor in die bundel en 'n pragtige omslagfoto waar sy gelukkig lyk en in die veld lê. Dit praat weer met 'n voorblad waar Krog ook op 'n voorblad in die veld staan.

Danie Marais se flapteks stip vele aspekte van die kompleksiteite aan van hierdie b(r)oeiende digterskap.

Die lewe en digkuns by Jonker is wat my betref vinkel en koljander.

Koop dit. Amen.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld

Sunday, November 15, 2015

Francis Galloway (red.) – Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker (2015)


Francis Galloway (red.) – Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker. Umuzi, 2015. ISBN 9781415208816. R350

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie briewe is deur die skrywer aangebied vir die uitgewer, Fourie Botha. Dit word gekontekstualiseer deur Willie Burger en geredigeer deur Francis Galloway. Met ’n indeks vir die speurende leser wat kan sien wie Jonker se rival was.

Met die aanbod word die onfatsoenlike voyeurisme opgehef – iets wat werklik problematies was toe Anne Sexton se psigoanalis haar terapie-bande aan die New York Times gelek het en agterna, skouerophalend opgemerk het dat dit tog mos alles in die gedigte staan?

Die Jonker-Brink-verhouding is alreeds in Orgie gefiksionaliseer. En synde self ’n skrywer, weet hierdie leser watter komplekse prosesse tussen lewe en teks lê.

Adrienne Rich het immers gevra: “What kind of beast would turn its life into words?”

En dis hoe ek hierdie liefdesbriewe lees: Nie as ’n skandalige onthulling van ’n privaat-pynlike liefdesverhouding wat in die selfdood van die een party geëindig het nie, maar as ’n openbarende psigoanalitiese verslag van hóé mense wat skryf (en in ’n intieme relasie staan) se skryfwerk beïnvloed en gekalibreer word deur ’n wedersydse skryfverhouding. Wat het in die skrywer-Brink se kop aangegaan toe hy in hierdie verbintenis gestaan het? En in die digter-Jonker se gemoed?

’n Mens lees hierdie briewe met die wete dat jy die slot van hierdie mitiese liefdesverhouding ken.

Die briewe is afwisselend sentimenteel (Brink veral) en intieme seksuele besonderhede word verklap. Onthou, Brink het sy briewe op deurslagpapier geskryf en sodoende kopieë bewaar, juis omdat hierdie briewe nie net ’n verslag van ’n liefdesverhouding was nie, maar ook inspirasie was vir hom. Jonker het soms geskryf, soms haar briewe getik. Sekere briewe ontbreek, soos van dié tydens ’n oorsese reis aan haar versend. Sommige opgeskeurde briewe is in die Gerrit Komrij-argief in Portugal en kon nie opgeneem word nie. Die kundige Francis Galloway, kenner van die sestiger-letterkunde, gee ’n goeie verduideliking vir die chronologie en samestelling van dié papierverhouding. Die titel staan in ’n brief van Ingrid Jonker.

Indien ’n mens ’n boek soos hierdie publiseer, weet jy dit gaan kontensieus wees en juis omdat hierdie twee skrywers teen sensuur gekant was, sou ’n gekuiste uitgawe – soos Ted Hughes se versnippering van die Plath-briewe – nie deug nie.

Hoe benader ’n mens hierdie briewe uiteindelik?

Daar gaan vermoedelik twee tipe lesers wees. Diegene wat dit gaan lees vir die vlymbekkige opmerkings van sowel Brink as Jonker oor medeskrywers, die ingebedde skinderpraatjies (hoe dan anders, dit is immers briewe, oorspronklik private gesprekke), vir die storie-agter-die-storie. Daar gaan ook ander wees wat dit gaan benader as ’n tydsdokument en as ’n fassinerende spel tussen twee skrywers se kommentaar op mekaar se werk en die angstigheid van die een om die proewe te sien van die roman Orgie om haar te beskerm teen moontlike kritiek en aanvalle. (Daar is die pynlike brief van haar vader wat haar politieke standpunte nie aanvaarbaar vind nie.)

’n Mens kry inderdaad ’n blik op die hardwerkende Brink, immer aan die vertaal om ekstra geld te maak wat hy ook aan haar versend; sy betrokkenheid by sy seuntjie Anton; sy eensaamheid; sy verskeurdheid tussen sy huwelik (en werk) en die veeleisende verhouding met ’n ingewikkelde vrou. Sy brei vir hom ’n trui en is bekommerd oor haar kind se welstand; hy op sý beurt is besorg oor Si­mone en verlang na ’n dogtertjie van sy eie. Hy is dosent. sy is onder meer proefleser, werk in kantore en stuur selfs vir hom geld as ’n geskenk. Haar geestesgesondheid is broos.

Uiteindelik is die briewe tussen André P. Brink en Ingrid Jonker iets wat ’n mens eenvoudig meesleur.

Tristia is ’n fassinerende interteks en ’n mens besef hoe produktief en gedrewe Brink was. Sy dinkwerk rondom Elders mooi weer en warm het hierdie leser gefassineer. Haar kommentaar op Die ambassadeur is op sy beurt insigryk.

Dit het alles verskriklik skeef geloop. ’n Mens raak bewus van sy ambivalensie en uiteindelik sy distansie. Maar jy weet ook dat sy hom frustreer met haar verbintenisse met ander mans (o.a. Jack Cope). Sy droom hy gaan haar los en hierdie droom is ’n pynlike prospeksie van wat gebeur en die slotbrief tref jou tussen die oë . . .

’n Mens sou opmerkings oor medeskrywers (of hul vroue) kon aanhaal. Hierdie skrywers moet eerder self die uitsprake lees en dit probeer kontekstualiseer: Dit is geskryf deur twee jong mense in ’n stormagtige tyd. Die eerste brief begin op Sondag 21 April 1963; die slotbrief is geskryf op Dinsdagaand 27 April 1965.

Op 4 Desember 1963 pos hy vir haar ’n doring wat in sy toon was en uitgesweer het ná ’n Gordonsbaai besoek. Simbolies van hoe ’n mens hierdie boek moet benader? Hy noem haar selfs Doringrosie op ’n keer . . .

’n Mens bly deurgaans bewus van die “hoë emosionele tempo” van die briefwisseling; die kommentaar van ander; Jonker se vriendskap met Chris Lombard, iemand wat haar ondersteun; en die moeilike verbintenis met Freda Linde.

Hoe die lewendes hierop gaan reageer, is nie my besigheid nie. Selfs ná sy dood gaan André P. Brink, soos in sy gevegte teen sensuur, in sy skerpsinnige resensies en laaste roman en memoir, ’n Vurk in die pad, steeds vir polemiek sorg. Net soos sy korrespondent wat stééds met haar gedigte kommentaar ontlok in flieks, gedigte oor haar, studies oor haar werk, ’n prys met haar naam, en bespiegelinge, ook nie tot rus kan kom nie. Dit is die soort gegewe waaroor Janet Malcolm waarskynlik ’n studie sou kon skryf.

Dit is ’n boek wat ’n mens eenvoudig meesleur. En ’n mens kan die teks nie “skoon” of onbevange lees nie. Daar is telkens iets wat jy invul tússen die briewe.

Ingrid Jonker & Jack Cope


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Thursday, February 14, 2013

Ingrid Jonker - Black Butterflies. Selected Poems (2007)



Ingrid Jonker. Black Butterflies. Selected Poems. (Translated by André Brink & Antjie Krog). Human & Rousseau, 2007. ISBN 978 0 7961 48924.

Resensent: Joan Hambidge

Jare gelede lees ek ‘n onderhoud met die begaamde digter, James Dickey wat kort en klaar bely: hy vind die gedigte van Sylvia Plath pateties. Verontwaardig was ek toé. Hoe durf hy!
Elke jong leser, en veral digter, kom onder die indruk van die Lorelei-Jonker. Sy het onder andere ‘n groot invloed op Johann de Lange se Waterwoestyn gehad en vir vele jong digters is sy ‘n ikoon. 

Vir jare het ek ‘n kursus, “Die gedig as wond” aangebied oor Jonker en Plath. Met Johan van Wyk se siening in die agterkop dat die teks-Jonker die geboorte- en sterfdatum is. Met die jare het sy goddelike status in Afrikaans verwerf nadat Mandela “Die kind” voorgelees het. En Jonker is verewig in dokumentêre, onder andere waar Krog haar gedigte voorlees: gevoelig en pragtig.

Ek is nou waar Dickey met Plath was in die tagtigerjare. Ek kan nie meer nie. Die laaste verhandeling oor die argetipes by Jonker, Plath en Anne Sexton is sopas deur my begelei. Wat is Jonker? Wat is mite? Waar, verdomp, is die teks?

Dus het ek uiters langtand begin lees aan hierdie versameling, maar dit is so oorrompelend goed gedoen deur Brink, ‘n romanskrywer wat op sy dag ‘n paar verse gepleeg het, en Krog, ‘n voorste digter. Op die agterblad word Mandela se woorde aangehaal dat Jonker sowel digter as Suid-Afrikaner was; kunstenaar en mens. Te midde van wanhoop, het sy hoop en vooruitsig gevier.

Daar is min digters wat kan vertaal. Johann de Lange is ‘n skitter-vertaler: dit het die onlangse Wilma Stockenström-bundel bewys.

“I shall tell him that you have not died” (p. 86) gee aan Jonker ‘n volgende lewe in ‘n nuwe vertaling deur twee sensitiewe lesers. Een wat haar persoonlik goed geken het; die ander een wat haar invloed (h)erken.

Soos te verwagte kan ‘n mens nie die eg-Afrikaanse aard van Jonker vertaal nie. Hierom sal daar dan “code switching” plaasvind soos in die volgende gedig wat sowel Engels as Afrikaans in sy pensie dra:

Two hearts

Two hearts I have
the one pumps blood
and the other really looks like
an appelliefiekosie
or a paddatjie   (p. 111).

Die sterk seksuele innuendo sou dus met ‘frog’ verlore geraak het en daar is sekere woorde en begrippe wat on-vertaalbaar is.

En paddatjie is nie, terloops, die word vir ‘n dogtertjie se geheimenis nie; dis parratjie, as ek reg onthou.

Sekere Jonker-verse is makliker vertaalbaar; ander, veral wanneer sy oor die liefde of die dood dig, beweeg in ‘n donker onbewustelike ruimte in wat nie sommer maklik onder die vertaalde woord wil val nie.

Die versameling bevat ‘n uiters openbarende en sensitiewe essay van Brink oor hul stormagtige verhouding en Jonker se jeug. Hierdie gedoemde verhouding het wel tot een van die mees kreatiewe verbintenisse in Afrikaans gely, ofskoon die persoonlike ellendes – veral vir Brink – uiteraard nog nooit volledig gekwantifiseer is nie. 

Ted Hughes kon eers al die tonge stilkry na Birthday letters toe sý kant van die saak gestel is. Plath is nie meer die engel nie; Janet Malcolm het immers gewys in The silent woman dat daar nie een Plath is nie, maar verskillende weergawes, poppies in die matrioska.
Brink vertel hier dan sy weergawe van Jonker se verbintenisse met Jack Cope, Uys Krige, e.a. Hy vertel van die aborsie wat haar lewenslank sou bybly, veral gesien teen die agtergrond van háár lewenslange gevoel van verwerping en verlating. Is daar ‘n woord wat “abandonment” goed genoeg opsom?

Hoe ironies dat sy dig “To stow myself away like a secret / in a sleep of lambs and of cuttings” (“L’art poetique”, p. 94), terwyl sy juis uit die slaap gehou word met al die interpretasies / films / vertalings / analises wat steeds bly duur. Dieselfde lot as James Dean, Marilyn Monroe en lady Di het haar getref: mense bly projekteer en verhef hul tot simbole.

“Kantelson” word “Tilting Sun” (mooi!) en daar is etlike vondse vir die liefhebber van die digkuns. ‘n Mens sou egter ‘n Afrikaanse gedig en Engelse vertaling verwag het, sodat jy kan vergelyk. (Uiteraard is die bundel in die eerste instansie vir ‘n buitelandse gehoor bedoel.)

Die bundel is uitstekend vertaal. Die voorwoord is oorrompelend eerlik geskryf en al my weerstande en sugte is met hierdie bydrae van Brink afgebreek. Ek kyk met nuwe oë na haar. Die inleiding wys op haar obsessie met spiels, na skryf as herbevestiging – trouens, ‘n mens sou bundel net kon aanskaf vir hierdie insigryke essay. (In minder vleinde terme sou ek aan haar kon dink as ‘n “border-line disorder”-persoonlikheidstipe.) Tereg wys Brink op die gebreke in die Plomer- en Cope-vertalings. Brink en Krog kon ook hier staatmaak op Ingrid de Kok, die Engelse digter, se raad.

Bitter-berry daybreak

Bitter-berry daybreak
bitter-berry sun
a mirror has broken
between me and him…

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Wednesday, February 6, 2013

Louise Viljoen - Ingrid Jonker (2012)



Louise Viljoen. Ingrid Jonker. Jacana, 2012. ISBN

Resensent: Joan Hambidge

Sopas het daar ‘n studie oor Ingrid Jonker by Jacana verskyn in ‘n reeks waarin kenners oor ‘n bepaalde persoon of denkrigting skryf.

Een van die mees mitologiese digters in Afrikaans is waarskynlik Ingrid Jonker. Sylvia Plath en Anne Sexton se lewens (en digkuns) skep eweneens dieselfde probleme. Hoe lees jy die gedigte los van die digter se lewe? Ons ken Alvarez se The savage god en Janet Malcolm se studie oor Plath: The silent woman: Sylvia Plath and Ted Hughes wat in 1995 verskyn het. Verskeie digters het in Afrikaans met Jonker in gesprek getree: “Ontvlugting”, “Bitterbessie dagbreek” en “Die kind” het reaksies ontlok van digters soos Antjie Krog, Johann de Lange, Joan Hambidge, Fanie Olivier, Lina Spies en Daniel Hugo. Fanie Olivier en Clinton V. du Plessis het “Die kind” ‘n nuwe stem gegee en die gesprek tussen Jonker, Plath, Tsjvetajeva vind ons in die digkuns van Lina Spies en Petra Müller, o.a.

Laurika Rauch, Ddisselblom en Chris Chameleon het musiekmakers aangespoor. 

Dramaturge het eweneens oor haar tragiese lewe geskryf. ‘n Mens dink hier aan Ingrid Jonker: Opdrag deur Jana Cilliers en Ryk Hattingh in 1997 en Altyd Jonker deur Saartjie Botha in 2006. Daar is ook ‘n film in 2011 Black Butterflies deur Paula van der Oest met Carice van Houten as Ingrid Jonker, dokumentêre en inderdaad: ‘n Jonker-industrie. ‘n Kultusfiguur.

Die troebel lewe word in oënskou geneem en die turbulente en pynlike verhoudings met mans soos Jack Cope en André P. Brink word hier ter boek geplaas. Die komplekse en jaloerse verhouding met die suster, Anna, word gekarteer soos die impak van die gedig “Die kind”. Die verhouding met die ouers, veral die vaderfiguur, wat haar in die openbaar verwerp het, is al deeglik onder die loep geneem deur die digter Johan van Wyk in sy doktorale proefskrif. Dit was Van Wyk wat ons daarop attent gemaak het dat die “teks”-Jonker op die grafsteen staan: dit is alles wat tussen geboorte en dood gebeur het. Soos met Plath en Sexton kan ons die gedigte nie los lees van die lewe nie. Die lewe het die skryfproses en die siening van die digkuns bepaal: vir aldrie hierdie digters was dit ‘n ruimte van verlossing, ‘n plek van ontvlugting.

Daar word verwys na Norman N. Holland se seminale essay oor selfmoord en dat die suicidair agentskap het en ‘n bepaalde besluit geneem het: Literary Suicide: A Question of Style.

“Perhaps we can change our style and accept the fact that suicide, even literary suicide, for all that we can invest in it of the sacred, is still a human act. It embodies a choice among alternatives made through the same principles of human motivation as other choices, even though this is a choice to end choice itself,” beweer Holland (133, 134).

Lees hierdie boek. So lyk die inhoudsopgawe:

1. Writing Ingrid Jonker
2. Childhood and youth, 1933–1951
3. Early adulthood, marriage and motherhood, 1952–1958
4. Separation, divorce and a new relationship, 1959–1962
5. Prize-winning poet, 1963–1964
6. Last days, 1965
7. Afterlife

Dit gee ‘n goeie opsomming van waarom hierdie digter ons almal aanspreek:

Korreltjie sand

Korreltjie korreltjie sand
klippie gerol in my hand
klippie gesteek in my sak
word korreltjie klein en plat

Sonnetjie groot in die blou
ek maak net ’n ogie van jou
blink in my korreltjie klippie
dit is genoeg vir die rukkie

Kindjie wat skreeu uit die skoot
niks in die wêreld is groot
stilletjies lag nou en praat
stilte in Doodloopstraat

Wêreldjie rond en aardblou
korreltjie maak ek van jou
huisie met deur en twee skrefies
tuintjie met blou madeliefies

Pyltjie geveer in verskiet
liefde verklein in die niet
Timmerman bou aan ’n kis
Ek maak my gereed vir die Niks

Korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]