Showing posts with label Pablo Neruda. Show all posts
Showing posts with label Pablo Neruda. Show all posts

Monday, August 5, 2019

Resensie | De Waal Venter – Vandag is boordensvol (2019)

De Waal Venter – Vandag is boordensvol. Naledi, 2019. ISBN 9781928426851

Resensent: Joan Hambidge

I

De Waal Venter se vertaling van Pablo Neruda se verse in die versameling Vandag is boordensvol is 'n aangrypende en mooi vertaling. Uys Krige het in Spaanse dans (Human & Rousseau, 1969) Afrikaanse lesers aan die Spaanse digkuns bekend gestel van sowel die Spaanse landskap as digters uit Suid-Amerika.

De Waal Venter neem die projek verder met 'n meer uitgebreide versameling. In 'n onderhoud op die Versindaba (Onderhoud/ Vandag is boordensvol. Pablo Neruda (vert. De Waal Venter). Besoek 21 Julie 2019) erken hy tereg dat van die politieke verse van mindere allooi is. Tog is die beroemde “Alturas de Macchu Picchu”, 'n sterk politieke en historiese gedig, gepubliseer in 1947 en later opgeneem in die Canto general (1950).

Die vertaler interpreteer dan hoe hy elke afdeling sien vir die leser. 

Neruda se politieke posisie – sowel as konsul as aktivis – het hom ongewild gemaak, o.a. by Borges. Borges was meer konserwatief en het probleme gehad met Neruda se politieke standpunte.

Die film Il postino (1994) gee 'n gefiksionaliseerde weergawe van sy lewe: as minnaar, digter en held vir gewone mense. Hierdie film van Michael Radford en Massimo Troisi handel oor die besoek van die groot skrywer aan 'n Italiaanse eiland. Hy moet vlug weens politieke redes en vind asiel op 'n eiland. Hier ontmoet hy 'n posman (wat nie meer 'n visterman wil wees nie) wat verlief raak op 'n meisie en haar oorwin met die digter se verse wat hy “aanpas”. 

Die posman identifiseer met die digter se persona. Hy bewonder sy liefdesverse en sy politieke standpunte.

Ná die jongman met sy skone geliefde trou, word Neruda se ballingskap opgehef.

Mario skryf vir Neruda, maar hy kry geen antwoord nie. Maande later is daar wél ‘n brief met die versoek om al sy besittings terug te stuur na Chili. Die posman wag egter tevergeefs op 'n persoonlike brief van Neruda…

Hy maak egter opnames van die see vir Neruda, en sterf in ‘n kommunistiese opstand. Na sy dood ontmoet Neruda sy vrou en seun.

II

Ek verwys na die film Il postino omdat 'n vertaling, soos 'n film, 'n interpretasie is en op bepaalde keuses berus. Gaan die vorm behou word? Die rympatrone? Kan jy die klanke van een taal na 'n ander oordra?

Daar bestaan geweldig baie vertaalteorie.

Moet daar getrou gebly word aan die oorspronklike of moet jy die teks huis toe bring? Dis Venuti se idee.

Is digters beter vertalers? Waarom kies 'n vertaler 'n bepaalde digter? 

Die leser van 'n gedig wat nie bekend is met die oerbron nie, wil gewoon net voel die gedig dans of sing in die nuwe taal. Dit is dan ook verkieslik om die brontaal op die linkerbladsy te plaas sodat die leser dit kan vergelyk met die vertaalde weergawe.

'n Digter van statuur - soos Neruda - het gedugte vertalers en verskillende weergawes van enkele gedigte bestaan.

Die De Waal-teks kort 'n indeks en die Neruda-leser sou meer wou weet oor die keuses wat hierdie vertaler gemaak het.

Die speurende leser wil vergelyk, want elke vertaling klink immers anders. Geen vertaling is ooit volmaak nie en elke vertaling gee die duimafdruk van die vertalende digter weer.

Wat De Waal Venter wel doen, is 'n heerlike leeservaring.

So begin 'n vers:

Lief, as ek kyk na die vorm
van Amerika op 'n kaart,
is dit vir jou wat ek sien:
die hoë koperkrulle op jou kop,
jou borste, koring en sneeu,
jou slanke middel,
vinnige polsende riviere, pragtige
heuwels en prêries
en in die koue suide eindig jou voete
jou geografie van gedupliseerde goud

(“Pequeňa América” / “Klein Amerika” /, 45)

In die bekende “Ode al libro (I) / Ode aan die Boek (I)” bely Neruda:

Ek sal nie geklee gaan
in volumes nie,
ek kom nie uit versamelde werke nie,
my gedigte
het nie gedigte geëet nie,
hulle verslind
opwindende gebeurtenisse,
hulle verorber
swaar weer,
grawe hulle voedsel
uit die aarde en mense.  (66, 67).

'n Sentrale vers om Neruda se gedigte oor tamaties en uie te verstaan.

By Neruda is die digobsessie altyd aanwesig: die sillabes van water.

In “Ode a Una Castaňa en el Suelo” (“Ode aan die kastaiing op die grond”, 91) lees ons:

Deur daardie opening
het jy die wêreld gesien,
voëls
propvol sillabes,
dou sterskitterend ...

Hierdie vertaler vaar beter wanneer hy eenvoudige odes vertaal. Daar is pragtige vondse soos “En elke wond behou / die vorm van jou wond” (30).  “Ode al traje” (“Ode aan klere”, 74) verklap iets van Neruda se briljante vermoë om uit die gewone poësie binne te gaan, soos die gedig lui.

Die klere word hý:

Julle wapper en tril
in die wind
asof julle my siel is.

Die bekende “Oda ala alcachofa” (“Ode aan die artisjok”) “met sy teer hart / aangetrek soos 'n krygsman”, bly bekoor (77).

Die beroemde “El Cóndor” (“Die kondor”) op bladsy 34 is 'n ars poetica. 

By die sonnette sukkel hy om die strikte vorm van een taal na 'n ander te transporteer.  Kyk byvoorbeeld na hierdie sonnet:


En medio de la tierra apartaré
las esmeraldas para divisarte
y tú estarás copiando las espigas
con una pluma de agua mensajera.
Qué mundo! Qué profundo perejil!
Qué nave navegando en la dulzura!
Y tú tal vez y yo tal vez topacio!
Ya no habrá división en las campanas.
Ya no habrá sino todo el aire libre,
las manzanas llevadas por el viento,
el suculento libro en la enramada,
y allí donde respiran los claveles
fundaremos un traje que resista
la eternidad de un beso victorioso.

By De Waal Venter word die kompaktheid van die vers verontagsaam.

Hy sluit:

en daar waar die angeliere asemhaal
sal ons 'n kledingstuk aanmekaarsit wat die ewigheid
van 'n seëvierende soen sal weerstaan 

(“Sonnet C”, 58).

Weer eens. 'n Vertaler maak sy eie keuses. Bethany and Remy Wilkins vertaal anders as Stephen Tapscott. Of Gustavo Escobedo ...

Ek wil die dors sien
binne die sillabes:
ek wil raak aan die vuur
in die klank:

(“Verbo” / “Werkwoord”, 177).

Soos daardie posman was De Waal Venter ook bekoor deur Neruda en bring hy die gedigte huis toe. In Afrikaans.

III

Om die Canto General te lees terwyl die Urubamba verby vloei, is 'n besonderse ervaring. Ek het Chili een keer en Peru drie keer besoek. As jong digter het ek in 1990 in Verdraaide raaisels geskryf oor Macchu Picchu, en toe kon mens nog tot bo uitklim. “El condor pasa”, so mooi vertolk deur Simon & Garfunkel, het jy orals op panfluite gehoor. Later in Vuurwiel (2009) het ek weer oor hierdie landskap gedig.

Die digter Johann Lodewyk Marais het eweneens my liefde vir Neruda se digkuns aangewakker en in sy debuut Die somer is 'n dag oud skryf hy oor hierdie digter. Hierdie bundel is in 1984 met die Ingrid Jonker-prys bekroon.

In 2015 het ek die verskillende huise van Neruda in Chili besoek en gedigte het in my bundel Indeks (Human & Rousseau, 2016) beslag gekry. Die reis is opgeteken: Woorde wat weeg/ Reisjoernaal/ Chili 2015 (Deel XVIII). Besoek 21 Julie 2019

IV

Die bundel maak ongelukkig moeilik oop in sagteband wat die leesproses bemoeilik.

Naledi moet bedank word vir hierdie projek en Medpharm Publikasies vir hul borgskap.

Thursday, January 7, 2016

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel XVIII)

Boegbeeld in Neruda se huis op Isla Negra

Deel XVIII

Verpakking van ‘n reis het ook te make met uitpak. Wat gepaardgaan met jet lag. Die liggaamlike skommeling om die tydsone van hier met daar te versoen. Middel van die nag wawydwakker. Met drome van wat agter jou lê. Seereise is minder steurend, omdat tyd beter sinchroniseer. Met vlieg is daar tyd wat gewen en verloor word. En ‘n selfoon en liggaam registreer dit.

Dus in die middel van die nag pak ek uit. Gooi klere in die wasmasjien en dink oor my reis. Hoe goed het alles ingepas in my twee reistasse. My Neruda-boeke, ‘n studie oor Cloete, reisplan (Viajes y Turismo), Storr se studie Solitude, ‘n simboolhandleiding, ‘n tydskrif oor T.T. Cloete, Spaanse grammatikaboek, DVD's (krimmies), paspoort, geelkaart, $'s, twee kredietkaarte, Mirakel en muse, Woord en wonder ...

Ek skryf ‘n rubriek Die Burger (5.1.2016):

Ten huise van die groot Chileense digter Neruda

Die Chilene het respek vir hul skrywers, skryf die digter Joan Hambidge ná haar onlangse besoek aan Chili waar sy die goed bewaarde museumhuise van Gabriela Mistral, Vicente Huidobro en Pablo Neruda besoek het.

Neruda se sitkamer by Isla Negra. In die huis het hy die Canto General 
geskryf – sy digterlike studie oor die Suid-Amerikaanse geskiedenis.

Die groot Chileense digter Pablo Neruda had drie huise: in Isla Negra, Valparaíso en La Chascona in Santiago.

Die huis in Isla Negra suid van die stad Valparaiso is ‘n belewenis en waarskynlik die beste museum. Neruda was ‘n versamelaar van botteltjies, vlinders, skulpe en selfs goggas, omdat hy geglo het dat die digter na die wêreld moet kyk soos ‘n kind: onbevange.

In hierdie huis staan sy studeertafel, wat hy glo saam met sy geliefde Matilde, uit die see gaan haal het toe ‘n skip gesink het. Neruda se liefde vir die see is alombekend en daarom is sy huise dan ook in die vorm van ‘n skip gebou. Die deure is nou; die trappe steil.

In hierdie huis staan ‘n aardbol en in sy studeerkamer foto’s van geliefde skrywers soos Walt Whitman en Baudelaire. Klippe is eweneens belangrik hier; ‘n vriendin, Marie Martner, het die sitkamer met ‘n klipmuur versier.

In die slaapkamer kyk die bed uit oor die see. Die agnostiese Neruda se liefde vir primitiewe objekte is opvallend. Onder ‘n tafel se glasblad sien ek ‘n tarotstel. Hy het telkemale in vreemde lande speelkaarte versamel.

In 1937 het Neruda uit Europa teruggekeer en na ‘n plek gesoek om sy Canto General te skryf, sy digterlike studie oor die geskiedenis van Suid-Amerika (waarvan die eerste publikasie deur Diego Riviera versier is). Die huis in Isla Negra was die ruimte waarin hy hierdie voortreflike werk voltooi het, na my mening een van die grootste prestasies in die wêreldletterkunde.

Die huis in Valparaíso heet La Sebastiana, vernoem na die argitek wat dit ontwerp het. Met klein gangetjies en steil trappe beweeg ‘n mens ook van kamer na kamer. Hoe het Neruda, ‘n groot man, dit bemeester? wonder ek.Hierdie huis staan op die Florida-heuwel en die argitek het nooit die voltooide huis gesien nie. Omdat die huis te groot was vir hom alleen het Neruda dit saam met sy twee vriende, Marie Martner en Francisco Velasco, gekoop.

Die woning is op 18 September 1961 ingehuldig. Die gedig “La Sebastiana” is vir hierdie gedenkwaardige geleentheid geskep.

Ook hier is ‘n kroeg in die huis en Neruda was glo ‘n uitstekende kok en gasheer wat nooit gaste in sy kombuis toegelaat het nie.

Dit is huise vol relieke, houtbeelde (selfs ‘n perd!), antieke boegbeelde, skulpe . . .

La Chascona (“wilde maanhare” – die liefdesnaam vir sy geliefde Matilde met haar boskasie) geleë in die Barrio Bellavista, Santiago, is ‘n museum met afbeeldings van objekte wat in die huis in Isla Negra te sien is.

Die pragtige tuin met die huis wat uit verskillende vlakke bestaan, herinner aan die argitektuur van die ander twee huise. Daar is gesogte kunswerke teen die mure en die liefde vir Chinese kuns is opmerklik.

Dit is bekend dat die politieke situasie ná die coup vir Neruda ‘n groot teleurstelling was. Party meen hy het aan ‘n gebroke hart gesterf. Ander meen hy is vergif; ander sê dit was kanker.

In 1992 is sy oorskot na sy geliefde Isla Negra geneem. Hier rus hy langs sy vrou, Matilda Urrutia, in die Tumba de Pablo y Matilde.

Die klou dui reeds die dier aan. Só verraai ‘n huis eweneens iets van die mens: ‘n Liefde vir die natuur, van klein objekte of kunswerkies op ‘n tarotstel, ‘n donkerpienk skulp, vertel vir ons Neruda kon so goed dig, omdat hy die ding-heid van iets kon raaksien, die konkrete, die kenteken van die groot digter.

En kunswerke uit vreemde omgewings (waar hy as diplomaat diens gedoen het) en ‘n groot aardbol bewys dat hy buite die grense van sy land kon dink en dig.

En die huise verklap dan ook sy liefde vir reis, hetsy na die Ooste of na Spanje of Frankryk. Die toegangsgeld gaan na die Fundación Pablo Neruda, ‘n menseregte-organisasie.

‘Grootste digter in enige taal’

Pablo Neruda was die grootste digter van die 20ste eeu in énige taal, het die Colombiaanse skrywer Gabriel García Márquez een keer gesê.

Die naam Pablo Neruda was die skryfnaam van die Chileense digter, diplomaat en politikus Ricardo Eliécer Neftalí Reyes Basoalto (1904-1973). Twee jaar voor sy dood is hy as die president van die Chileense Kommunistiese Party aangewys.

Hy het egter sy nominasie teruggetrek en is net daarna as diplomaat in Parys aangestel.

Neruda, wat reeds op tienjarige ouderdom begin dig het, is in 1971 met die Nobelprys vir Letterkunde in Parys bekroon.

Sy bekendste werk is Veinte poemas de amor y una canción desesperada wat in Engels as Twenty Love Poems and a Song of Despair in 1924 wêreldwyd verskyn het.

Fernando Alegría skryf só oor Neruda in Modern Poetry Studies: “Wat ek wil benadruk was dat Neruda ‘n digter van die liefde was, en meer as enigeen ‘n kragtige, vreugdevolle oorwinnaar van die dood.”

Neruda het in verskillende style geskryf, van historiese epiese verhale, politieke manifeste, prosa en outobiografieë tot hartstogtelike liefdesgedigte.

*

In my tas is daar ook klippe: van Neruda se huise; Mistral se huis in Vecuňa en twee ronde, platklippe van die Andes ...

Klippe. My hele huis staan vol klippe: Nagasaki, Macchu Picchu, Istanboel ...

Onverganklike objekte. Bakens.

Anders as foto's. Of memento's.


Neruda in ‘n selfgesprek

In elke uithoek van Chili
gedigte soos saad gestrooi:
Oor eensaamheid en die corázon.
‘n Canto general, selfs die opstand
verwoord in Obras completas.
Daar by die vérre Atacama-woestyn
en in al die vulkane hoor ons nog:
poësie is ‘n okkupasie, ‘n hartstog.
Op ‘n jong leeftyd vind dit mý,
hierdie blommende copihues:
hoe kort die lewe; hoe durend
die uiting in só ‘n stil obiter dictum;
‘n rymverdoeseling, woordskuwend.

© Joan Hambidge



Thursday, December 31, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel XII)


Deel XII

Kom ons praat sommer padlangs. Santiago de Chili verskaf beslis nie aan my die frisson van Buenos Aires presies ‘n jaar gelede nie. Dis ‘n meer genadelose stad en een sonder tierlantyntjies. My hotel is in die Lastarria-buurt en met The Singular is daar beslis nie fout te vinde nie.

Stede het persoonlikhede. Soos mense het hulle ‘n aura. Jy kan dit aanvoel in die ongesegde dinge. Die kos is goed. Die wyn fantasties. Die bier yskoud. Maar daar is nie daardie vibe wat jou oorrompel soos in Buenos Aires nie. Miskien gebeur dit nog ...

Ons besoek die museum van herinnering (Museo de la Memoria y los Derechos Humanos), ‘n museum wat alle mensregteskendings veral in Chili aan bod bring. Letterlik op ‘n nugter maag is dit te veel om te aanskou, hierdie politieke verskrikkinge. President Bachelet het die museum geopen in 2010 om die verskrikkinge van die Pinochet-regering tussen 1973 - 1990 aan die kaak te stel. Bachelet het self gely onder die diktatorskap van Pinochet.

 In die sesde kamer sien ‘n mens die lyding van die jong kinders en onmiddellik neem hierdie besoek my na die oorlogmuseum in Saigon waar die besoeker bewus gemaak word deur middel van foto's hoe mense ten tyde van oorlog menseregte skend. Daar is ook hier die versugting van: “Never Again” (“Nunca Más”) ...

Die ingangsportaal is ‘n foto-installasie róndom die verskillende lande op aarde waar menseregte geskend is. Die mag van die foto – wat direk en vinnig kommunikeer (aldus Susan Sontag), word in verskeie video's vir die kyker benadruk. Bevryding en onderdrukking. Die kil oë van ‘n soldaat wat ‘n insurgent kwatswink slaan, bly my by. (Museum of Memory and Human Rights - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Desember 2015).

Neruda se huis La Chascona – ter ere van sy geliefde Matilde – bevat vele replikas van die huis uit Isla Negra. Nogtans is dit goed om weer alles te sien. Die huis roep vergelykings op met die twee ander huise wat ek besoek het en vir my gevoel is die een op Isla Negra die primordiale huis, daardie huis met sy studeerkamertafel gevis uit die see!

Ons is vroegoggend daar, maar daar is soveel toeriste dat die tou lank is. My gids hou plek, terwyl ek notas neem. Jy mag helaas geen foto's neem nie, maar ek neem wel, met toestemming van een van die bestuurders, ‘n foto van die binnehof.

Nou is dit lunch in El Galeon. Ons moet deur die vismark stap en die reuk van vars vis is oorrompelend. Heerlike vis (Corvine / seebaars) met aartappels en vars tamatie. ‘n Klein orkessies sing Italiaanse liedjies en loop met ‘n hoed rond vir footjies.

Dit is warm. Buite baai mense in fonteine en drink water selfs uit die spuitende fonteine.

In die laatmiddag is dit wandel in die buurt. En hier val ek in by ‘n klein restaurantjie Les Assassins regoorkant my hotel. Frans. Die eienaar se vader het ‘n duur restaurant gehad waar Neruda graag geëet het.
“Andersoortige Kommunis, daardie man,” meen die eienaar, ”lief vir duur wyne en goeie kos.”
Hy vertel van Allende en die vriendskap met Neruda. En Allende se selfdood. Ek vertel vir hom van die verskillende representasies van Allende se dood; dat sommige meen dit was ‘n sluipmoord.

Vertrek waar die Chileense President Salvador Allende na bewering  selfmoord gepleeg het tydens die 11 September 1973 militêre coup.

“Nee, nee. Hy het hom self geskiet met ‘n geweer wat hy as geskenk gekry het van Fidel Castro. Ek vertel jou: dit ís hoe dit was. Dit was sy einde tydens die coup. Hier in my plek het ‘n Suid-Afrikaner gereeld kom eet. Ek het sy naam vergeet. Hy is ‘n baie ryk man ... sy naam ontgaan my skielik. Miskien as jy weer kom, sal ek dit onthou.”

Ek vertel hom van die verskillende landskappe wat ek meegemaak het. En van die wyne wat ek gedrink het op die verskillende plekke.

“Gelukkig skryf digters gedigte ten spyte van hul ideologie of politieke idees,” sê ek vir hom. Iets wat ek geleer het by my beste digtersvriend.  

Ek drink ‘n glas Montes Alpha Reserva (Cabernet Sauvignon).

More is dit die einde van die jaar.

Ek werk aan my bundel Indeks en sien teen ‘n muur staan: Indexa. 

La Serena

Bykans dieselfde ligtorings
die oseaan se geklots
‘n roepende voël
die natuur se muurpapier
verander niks aan
die binnelandskap
van vertrek of onthou
toe ons saam ‘n ligtoring
kon besoek voor jou weggaan
na ‘n ander oord
- in die volksmond die dood -
en hierom vermy ek
begraafplase of ruimtes
waar die ontslapenes
onder blomme
doodluiters
uitgestrek lê.
Ons hou nog soms
kajuitraad in drome
wanneer jy woordeloos bely,
jy mis my. Maar as daar
geen woorde meer is nie,
hoe weet ek wát jy uiter?
Die ligtoring in die donker nag
sein jou verlange na my uit
wat in die lewe staan.
Maar dit is ek
wat jou mis,
flikkerende
baken in die nag.
Jy is buite woorde, buite tyd.

© Joan Hambidge